KANNIEDOOD VOORWAAR!

Smaak my die oud-koerantman Hennie van Deventer ervaar die verlede en hede soms in een teug. Afgetree is hy wel reeds twee dekades, maar sy skryfstem weet nie van swyg nie. So skryf die joernalis AJ Opperman in ‘n resensie van Laatoes – Kykweer  van ‘n kanniedood-koerantman op Litnet.

 

In Laatoes spring hy tussen hede en verlede, gebeure en ontmoetings wat hy ervaar het, wat waarskynlik ’n indruk op enigiemand sou gemaak het. Dit klink eintlik so lekker, want hy kyk terug met genoegdoening – natuurlik kom groet heimwee en nostalgie ook – maar terselfdertyd bly hy nuwe goed ervaar. En hy het steeds die lewenslus en belangstelling.

Van Deventer ken baie mense en onderneem nog gereeld reise – alles kry oplaas uiting in sy skryfwerk, hetsy op sy blog of enige ander skryfsel met sy naam op.Die woorde “kanniedood-koerantman” is nogal gepas, want die opteken van gebeure en ervarings doen hy slaafs. Met baie omsigtigheid op die koop toe. Onder die titel van elke hoofstuk verskyn ook dikwels ’n datum.

Hy en sy vrou, Tokkie, woon op Melkbosstrand, maar hulle klink nie soos kluisenaars nie.

Van Deventer sit die werk voort wat hy in sy vorige boek Kroniek van ’n koerantman begin het.

In Laatoes vertel hy van afsterwes, maar ook ontmoetings, nuusgebeure lank gelede en meer onlangs. Jy kom inligting teë wat jy nie verwag het nie, daar is net soveel interessante goed wat opduik.

Synde self ’n joernalis, het ek aanklank gevind by baie van sy media-stories en hoogtepunte uit sy loopbaan. Hy skryf onder meer oor die geskiedenis en ontstaan van die einste gebou waarin ek vandag werk, Media Park, in Auckland Park, Johannesburg. Hy was een van die rolspelers destyds met die Nasionale Pers se se soektog na ’n nuwe perseel in Johannesburg.

Selfs al werk jy glad nie in die mediabedryf werk nie, sal jy ook iets uit hierdie vertellings kry.

Jy sal vir seker begin dink aan ’n besoek of herbesoek aan die Krugerwildtuin – daar is nou vir jou inligting en staaltjies. Gepraat daarvan, soveel nuwe inligting oor dié nasionale park sal jy ook hier kry, maar in ’n baie lekker verteltrant. Trouens, jy bekom baie inligting oor gebeure of mense wat jy glad nie verwag het jy sou nie.

Hoe klink die bywoning van ’n geleentheid met Suid-Afrika se voormalige Eerste Minister dr HF Verwoerd of sy kuier by die bokser Gerrie Coetzee in 1978 en die moontlikheid van ’n boksgeveg tussen Kallie Knoetze en die Amerikaner Joe Frazier?

Sy dae by Die Volksblad (vandag Volksblad), sy kollegas, die bekendstelling van Johan van Wyk se bundel koerantrubrieke, Só is dit nou, die dood van sy goeie vriend Jan Scholtz. Dit is steeds ’n vol lewe.

Die kerkie in die Krugerwildtuin, ’n besoek aan die kamp Orpen in die Krugerwildtuin, begrafnisse en verjaardae. Van Deventer leef die afgetrede lewe wat enige afgetrede joernalis stellig wil ervaar – om steeds aan te (kan) hou skryf. En natuurlik legio avonture, hoe gering ook al, en dies meer te ervaar wat juis stof vir nuwe skrywes skep.

Jy hoef natuurlik nie afgetree te wees om hierdie soort goed te kan doen nie, maar dit is lekker om daaraan herinner te word dat inspirasie jou wragtig enige dag of uur kan beetpak.

ONS EIE MOSTERDSAADJIE

Sarel en Liesbeth Venter

Sarel en Liesbeth Venter

Die lang tafel

Die lang tafel

Die sitkamer

Die sitkamer

In die Evangelies van Mattheus, Markus en Lukas lees ons van die wonderbaarlike mosterdsaadjie.  Nietige saadjie soos dit is, word dit ‘n boom met takke waarin die voëls van die hemel kom nes maak.

Komweer

Komweer

Van so ‘n mosterdsaadjie wil ek vandag vertel. Dit is die een waaruit die Volksblad-saamtrek van veterane van twee weke gelede gegroei het.  Uit elke windrigting het hulle as ‘t ware in die takke van die boom in Bloemfontein kom nes maak.

Die saadjie was die verskyning op my skerm van ‘n foto wat nie vir my bedoel was nie. Sarel Venter, kollega en vriend van baie jare, het dit en ‘n paar ander in hul huis in Fichardtpark, Bloemfontein, geneem om hul verre kinders in Adelaide, Australië, aan hul ouerhuis te herinner.

Toe hy die knoppie druk, beland dit onverklaarbaar, op digitale kronkelweë wat vir ons generasie se mense vreemd en onverklaarbaar is, ook in die uwe se in-mandjie.

Ek maak ‘n foto oop, herken die omgewing dadelik, en laat weet vir Sarel: “Ek ken daardie plek.” Sy e-pos kom terug: ja, dit is die Venters se sitkamer; “Kom kuier”. Ek, nie links nie: “Wat van ‘n saamtrekkie in Bloemfontein?  Ek sal ry.”

Toe ek weer sien, begin die e-posse heen en weer vlieg.

Uiteindelik is 60 plekke op Saterdag 11 November in die Santa Ferestaurant by die Oorlogmuseum gedek. Die Vrydag het ons al begin kuier met ‘n tee (en ‘n glasie vonkelwyn) by Volksblad.  Die oudste onder ons was Oom Gert Terblanche (95). Daar was ook kollegas van in die 80.  Ons “jongklomp” van in die 70 was volop.

Die Van Deventers was so bevoorreg  dat ons nie net weer met die gasvrye Venters se sitkamer kennis gemaak het nie.  Ons was soos konings in die hoof-suite van hul gesellige en gewilde gastehuis in De Jagerstraat,  Komweer.  Ons het aangesit aan hul gulle tafel.   Sarel, Liesbeth en hul jongste dogter Mart-Marie het ons van ‘n kant af bederf.

Die Vrydagaand het die hoofredaksie van my tyd (en ook in die termyn  van my opvolger, Johan de Wet), saam in die tuin en om die lang tafel op een van die stoepe van Komweer gekuier.

Toe ek die eerste keer vir Sarel laat weet “ek sal ry”, het ek klein gedink: net in terme van so ‘n intieme saamtrekkie soos dié van die Vrydagaand.  Maar Sarel het “skouers oopgemaak” (my uitdrukking van destyds om oor te dra dat ons op die voorblad van ons koerant ‘n groot storie moet hard slaan.)

Ongelukkig het ek vergeet met hoeveel veterane Sarel kontak gehad het. Dit was baie.  ‘n Klomp sou wat wou gee om ook daar te wees.  Afstand, omstandighede, ander verpligtinge en – helaas – ook ouderdom het hulle gestuit.

Maar die mosterdsaadjie het inderdaad geil gegroei.  Om in sy takke te vertoef en twee dae in sy koelte deur te bring, was verkwiklik.  Dankie, Sarel en Liesbeth.

(Kontakbesonderhede:  051 522 3778, selfoon 083 7090 684, faks: 0866708251 of e-pos: ventersg@mweb.co.za)

WAAR DIE KOPER BLINK

Juweel van die Groot Karoo.

Juweel van die Groot Karoo.

Die plek waar die koper altyd blink. So het ek die Krugerwildtuin leer ken. Vandag is dit – na my kennis – eintlik net die Nasionale Karoopark, 12 kilometer van Beaufort-Wes in die hartjie van die Groot Karoo, wat die tradisie voortsit.

Die Karoopark is ‘n juweel in vele opsigte; die harde, ruwe landskap wat prentjiemooi in sagte pastelkleure oorgaan in die laat namiddag; die karaktervolle gewelhuisies; die fassinerende diversiteit van wildlewe, vriendelike personeel wat so mooi Afrikaans praat, die heerlike ontbyte in ‘n deftige eetkamer wat by die tarief ingsluit is.  Noem maar op.

Wat waarlik tref, is hoe die krane, ook die brandkrane, in die sonlig skitter. Ook nêrens anders het ek al ‘n gedenkplaat gesien wat so van gereelde versorging getuig nie. Die oomblik as jy by die hoofgebou stilhou, sien jy die glinsterende koperplaat wat op 12 September 1979 deur pres. P.W. Botha onthul is, en ‘n ewe eksieperfeksie brandkraan met  een oogoplag.

Aan die feit dat die enorme park die romantiese wegloperleeu Sylvester se tuiste was, word die besoeker op vele maniere herinner.  Maar Sylvester behoort tot die verlede tyd; die blink koper – ook die ornamente in die sitkamer – is nog altyd deel van die park se allure.  Mag dit altyd ‘n kenmerk bly.

Op ‘n reis na Bloemfontein het ons in die Karoopark oornag; ‘n bietjie te naby aan Kaapstad, ongelukkig, en nog ‘n bietjie te ver van Bloemfontein.  Daardie ekstra uurtjie of twee wat jy aan die einde van jou eerste dag op die pad oor het, is egter oor en oor die moeite werd; veral die genotvolle ritte  deur die wildryke Lammertjiesleegte (gemsbokke gesien!) en die indrukwekkende Klipspringerspas.    Ook die rondkyk in die fossielpark.

Buitendien: hier in die Karoopark wil ‘n mens vroeg jou vuurtjie aansteek. Salig om op jou stoep met ‘n glasie koue wit die sonnetjie op sy geleidelike afwaartse koers te volg en die donker die Nuweveldberge te sien bekruip. Die verskuiwing van die buite-braairoosters stoep toe was ‘n blink ingewing, mense!

Skone Hexriviervallei.

Skone Hexriviervallei.

Vroeër die dag was die Hexriviervallei ‘n fees vir die oog.  Ry hom in die herfstyd, hoor jy dikwels. Kan my die kleureskouspel indink. Maar ry hom ook in die helder sonskyn op ‘n Novemberdag as die skilderagtige lappe, lappe wingerd tot doer teen die berge in hul malse jong groen skitter. Jammer oor die informele nedersettings wat weliswaar die prentjie iets bederf, maar daaraan moet ‘n mens maar gewoond raak.  Ook jammer dat aftrekplekkies so skaars is.  Om elke draai wag ‘n nuwe stukkie skoonheid wat jou na jou kamera wil laat gryp.

 

Suid-Vrystaat, naby Bethulie (Foto: Francois Lotter)

Suid-Vrystaat, naby Bethulie (Foto: Francois Lotter)

Op dag twee van die reis is dit die geel grasvlaktes tussen die donker koppies oral langs die pad tussen Richmond en Colesberg wat die reisiger bekoor. Dan steek jy Colesberg verby. Die laaste skof van 235 kilometer na Bloemfontein breek aan: jou heimat vir twee skofte van 12 jaar elk. Aan die een kant raak jy al hoe haastiger om by jou bestemming te kom; aan die ander wil jy stadig ry en die eiesoortige, oop Suid-Vrystaatse landskap indrink.

Die padborde kom en gaan: die Gariepdam; die dorpe Philippolis, Trompsburgen  Edenburg; Tierpoort (die nuwe politiek korrekte naam) vir kollega Johan van Wyk se ou “Republiek”…  elkeen ken ek op ‘n manier, elkeen dra ‘n herinnering, kleiner of groter.

Toe die tuiskoms! Oor die verrukliklike naweek in Bloemfontein het ek voorheen hier verslag gedoen.

Nostalgiese kuier gewees. Al wat oorgebly het, was die 1 010 kilometer teerpad terug Melkbos toe.  Dit ek en ek en Tokkie Maandagoggend om 04:10 aangedurf.  Ons het min gestop en ook net vir kort rukkies. Ons het ‘n konstante snelheid gehandhaaf, net duskant die snelperk.   Om 14:20 het ons voor Penguin Place 11 se motohuis stilgehou na 10 uur en 10 minute op die pad. Goed gery, het ons vir mekaar gese.

Hoe bly is ek nie ons het nie die onpersoonlike vliegtuig-opsie gekies nie.

OP TOKKIE SE SPORE

 

Hertzogstraat 5.

Amper so warm soos op 31 Desember 1966, ons troudag. So het Bultfontein Sondag 12 November vir ons gevoel. Ons het op Tokkie se spore gaan loop.

Eerste stop op die dorp was dan ook Hertzogstraat 5, jarelange tuiste oorkant die kerk van Tokkie, haar ouer broer, Fanie, en hul legendariese weduwee-ma vir wie almal lief was, “Tannie Marietjie”. In daardie huisie het Tokkie by lamplig of ‘n kers in ‘n emaljeblaker geleer vir matriek in 1963. Die voorhuisie is oorheers deur haar klavier: ‘n Zimmerman. Daarop was sy ‘n klein virtuoos.

By die draad-voorhekkie van die huisie wat intussen taamlik verslete geraak het, het ek Tokkie afgeneem. Dis die hekkie waardeur sy, ‘n brose 20 jaar oud, op haar troudag na die troukar, ‘n boer se Mercedes, gestap het – trourok versigtig opgelig dat die wit soom nie in die rooi Vrystaatse stof sleep nie. Die voordeur van die huis is intussen verskuif.

In die agterplaas, naby die agterdeur, staan ‘n sering wat ek goed onthou. Onder die boom, wat in die vyf dekades sedertdien mooi lyf gekry het, het ons op die voooraand van die bevestiging in die eg braaivleis en waatlemoen geëet. Fanie was die voorslag-braaier. Ná ete het ons vroeg gaan inkruip – ek in die spaarkamer van die buurtannie.

Kerktrappies.

Ons tweede besoekpunt was die kerk oorkant die straat waar die band 51 jaar gelede deur my neef, ds. Bertus du Plessis, gesmee is. Hy is later APK toe. Dis ‘n tipiese plattelandse NG kerk, ‘n stewige siersteengebou met ‘n hoë toring. As aflos-orrelis was Tokkie dikwels in daardie kerk agter die orrel, wat deur ‘n petrolenjin aangedryf is. Ek het my vrou afgeneem by die breë stel trappe by die kerk se voordeur waar die trougaste met hul hande vol konfetti op die verskyning van die bruidspaar gewag het.

Op die parkeerterrein was Sondag teen 12:00 net soveel, dalk selfs meer, motors as op daardie snikhete oujaarsdag by die troue van die Bloemfonteinse koerantman met een van Bultfontein se geliefde dogters. Die rede vir die baie motors het ons verneem by ‘n lidmaat wat in sy bakkie iets kom haal het. Dit was die gereelde gemeente-ete. Op die spyskaart was vis. Die Bultfonteiner – wat vir “Tannie Marietjie”onthou – het net geglimlag toe die Kapenaar met die CA-nommer hom vra hoekom dan nie liewer skaapvleis as vis nie.

Pa se graf.

Oorkant die kerk is die ou begraafplaas. Die plek is pas geskoffel maar lyk nogtans taamlik verwaarloos. Van die grafstene het omgeval. Party grafte het sleg ingesak. Sonder te veel moeite spoor Tokkie haar vroeg gestorwe pa, Kotie, se graf op. Dis hy wat haar die bynaam Tokkelossie gegee het, omdat sy so ‘n kortetjie was. Die granietsteen staan genadiglik nog stewig. Op die graf het ‘n jarelange vriendin, eintlik ‘n soort semi-sussie, Pepsie Maritz, ‘n mooi steentjie na die dood van “Tannie Marietjie” op die verre Melkbos op ‘n bed van wit klippies laat aanbring. Pepsie (of Drienie) se ouers was boere, en sy het maar so saam met Tokkie in Hertzogstraat 5 grootgeword. Die steentjie is ‘n replika van die een op die nissie by die NG kerk Melkbos.

Ek neem Tokkie by die graf af sodat ‘n mens op albei stene die name kan lees. Daarna gaan soek ons na haar oupa en ouma Van Wyk se grafte. Van haar ouma Van Wyk het sy die naam Susara gekry: Gesina (wat van die Roux’s af kom) Susara. Ouma Roux is begrawe in die “nuwe” begraafplaas aan die Bloemfonteinpad. Om langs daardie besige pad te gaan rus, was ‘n gedagte wat skoonma niks aangestaan het nie!

Die skool.

Tokkie word voorts afgeneem by die groot naambord van die Hoërskool Bultfontein, wat in 1881 gestig is. So lees ek op die bord. In haar tyd was die skool ‘n klipgebou. Van die klipmure steek net hier en daar ‘n stukkie uit tussen die siersteenstrukture wat later bygevoeg is. In die saal, waar Tokkie ‘n geesdriftige volkspeler was – veral versot op die “galop”- het destyds kosbare skilderye gehang, o.m. van Pierneef en Maggie Laubser. Die saal se deur het sommer dag en nag oopgestaan. Ander tye gewees!

Wat opval, is die netjiese skool- en sportterrein. Ek sien nie die plate duwweltjies wat, volgens oorlewering, daarvoor verantwoordelik was dat Fanie so vinnig kon hardloop nie. Hy was die SA onder-19-kampioen in die 440. Die dorp het dalk aan ander fronte agteruitgegaan – van die state is die ene liederlike slaggate – maar die skool bly ‘n sieraad waarop die gemeenskap trots is. Die boere steek hand uit die mou en hand in die beursie om dit so te hou.

Saam met Pepsie (Drienie).

Ons laaste besoek van die kort kuiertjie is by Pepsie se huis in Stofbergstraat teenaan die Ooskerk. Die dorp het minstens drie groot kerke: twee NG en een Gereformeerd. Pepsi het pas afskeid geneem van matriekmaats wat 50 jaar gelede saam met haar in matriek was. Dit was hul reünienaweek. ‘n Bonus van die reünie vir ons is die bordjie heerlike eetgoed wat saam met die koffie voorgesit word.

Die vrou is op haar stukke. Die kwinkslae rol oor haar lippe en haar gul lag weerklink kort-kort. Danksy haar stories – o.m. oor hoe haar tone in ‘n Duitse jacuzzi aan ‘n Duitser se broek gehaak het – groet ons Bultfontein op ‘n vrolike noot; dalk vir oulaas.

LIEWE GEMEENTE

 

 Wandeling op die strand. Tienie Zeeman en HvD .

Vreemd om ná 25 jaar jou ou gemeente Berg-en-Dal in Bloemfontein te besoek en, ná ‘n gesukkel om tussen al die motors ‘n parkeerplekkie te kry, sommer by die deur in die glimlaggende gesigte van vriende vas te loop: Morné Pretorius van die SAUK en sy mooi vrou, Nicolene.

Dalk ook nie so vreemd nie – van daardie gemeente het ek in die gedenkblad by sy halfeeufees in 2006 geskryf: “Eredienste was soos ‘n byeenkoms van vriende. Jy kon toe oë beduie wie sit waar.” Die formidabele gedenkboek van 300 groot bladsye plus staan op ‘n ereplek in my boekrak. Eer aan die redakteur, ds. Jan Lubbe, vir ‘n magnum opus soos min.

En waaragtig, daar sit ‘n ouer prof. Johan Celliers toe ewe breed in die ouderlingsbank, en buurman Louis Lategan in die diakensbank. Albei banke steeds in die dwarste, soos ons dit leer ken het. Elders in die vol kerk herken ons ook bekendes, soos mev. Kleintjie Richards, weduwee van die gedugte prof. Willem Richards.

In die kerk se nuusblad “Fokus” pryk bekende name uit ons era in die kolom “Siekes tuis of in die hospitaal”: “Oom” Josias Swanepoel (oud-skriba), “oom” Dries van Coller, “oom” Victor Reitz en “oom” Krynauw Cilliers. Geeneen was nog ‘n “oom” in ons tyd nie!

Later lig ds. Johan Marais – deftig getoga soos vanouds – die gemeente van die kansel af in: “Oom” Dries van Coller is oorlede. Hy betuig meegevoel met “tannie” Hedwig. Dries van Coller was ‘n regter. Hedwig (Roets) was ‘n tydgenoot op Tukkies.

Berg-en-dal se kerk.

‘n Vreugde vir Tokkie is Johan Cromhout agter die orrel. Hy is al sedert 2005 orrelis en “laat hom praat”, verklaar sy ingenome. Voor hom het manne soos Chris Heyns en Izak Grové ook murg in die pype van daardie orrel gesit. Selfs die uwe, vals soos ‘n stuk geroeste blik, het hartlik saamgesing (of ten minste probeer). Van die gemeente se leraars het die Van Deventers hope heerlike herinneringe:

Van ds. Tienie Zeeman, wat, volgens statistieke in die gedenkboek, een jaar amper sy honderdtal met preke behaal het – 98 of so iets. Hy was ‘n ware steunpilaar toe ons seun, Johan, op ses maande in die hospitaal beland het met diabetes mellitus; later ‘n vriend wat in 2000 saam met sy sagte vrou, Marie, op Melkbos kom kuier het, en by wie ons altyd op Witbank aangery het op pad wildtuin toe. In ons gasteboek het hy geskryf: ” ‘n Dag om vir altyd te onthou.”

Van die onpretensieuse ds. Gert Terblanche wat altyd met sy fiets by Ouma Marietjie kom inloer en sommer om die kombuistafel ‘n koppie tee saam geniet het. Lekker gewees om hom, nou afgetree, en sy vrou, Retha, Vrydagmiddag oor ‘n koppie koffie te sien – darem nie om ‘n kombuistafel nie!

Ook van die besadigde ds. Jan Slabbert, verstrooid se moses, maar ‘n man sonder fieterjasies en eweneens ‘n soliede skouer in uitdagende tye. Soos ds. Tienie en mev. Marie is ook ds. Jan al heen. Sy weduwee, Ciela, woon op- Stellenbosch.

Van Berg-en-Dal het ek in die gedenkboek ook geskryf: “Ons verknogtheid aan hierdie gemeente skryf ek toe aan die volgehoue vreugde om te behoort en om tuis te wees in ‘n kerk waarin daar lig en warmte is, ‘n gemeente waarin Sy Lig helder skyn.”

Die waarheid van daardie woorde tref my opnuut terwyl ons die erediens beleef: van die gelukwensing en blomme vir mev. Helena Samuel (vrou van Dave wat ‘n gereelde briefskrywer in Die Volksblad was) op haar verjaardag, deur die preek uit Ester 2 (om met moed te leef in uitdagende tye) en die voorstelling van ‘n formidabele ry nuwe kerkraadslede.

Mev. Samuel en die nuwe kerkraad is apart toegesing: “Laat Heer u seën op haar/hul daal.” Verskeie ander geliefde liedere (almal uit die Liedboek!) is aangehef. Dit alles in 70 minute!

Terloops, hier sing elkeen nog uit sy eie Liedboek, die kosbare kultuurskat van die kerk waarin T.T. Cloete soveel liefde gestort het. Gewese buurvrou Elsie Strauss (ouma van Rolene) het vir ons met ‘n breë glimlag een kom aanbied wat sy op ‘n tafel in die voorportaal gaan haal het. Die gemeente opereer sonder liedbord. Sien ook geen teken van enige ander instrument as die orrel nie.

Ná die diens dink ek aan my tye, eers in die diakenbank, later in die ouderlingebank. Onthou met ‘n glimlag: In Randburg (gemeente Fontainebleau) was ek in 1975 dadelik ouderling. Maar in Berg-en-Dal is ek in 1980 eers weer diaken. Moes eers “harde baard” kry; my “vakleerlingskap” deurgaan as redakteur van die gemeenteblad “Die Fontein”. Tokkie was al wyksleidster, toe gaan ek nog op my rondes met die kollekteboekie, o.a. na Monis Flemming, latere regter-president, en na Dawfré Roode, latere adjunk-rektor.

Sou darem graag gister (15 November) in Bloemfontein wou wees vir die seniors se “braaivleis-ete met slaai en al wat lekker is … ook musiek.”

‘N NAWEEK IN BLOEMFONTEIN

Tokkie en Oom Gert (Foto Herman le Roux)

Tokkie en Oom Gert (Foto Herman le Roux)

Toe ons ons geliefde ou stad Bloemfontein op die N1 nader, sak my moed in my skoene. Die vullishoop langs die pad stort soos ‘n klein Vesuvius oor sy rande en die rommel-lawa stoot tot diep in die begraafplaas langsaan. Plastieksakke kleef aan grafstene. Lyk bra troosteloos.

Later sien ek heelwat wat opbeurend is, al is Bloemfonteiners in die algemeen taamlik bedruk oor agteruitgang in hul stad.  Ons sien o.m. steeds netjiese, boomryke woonbuurte, ‘n “nuwe”, uitgestrekte Langenhovenpark, deftige nuwe geboue (veral motorhandelaars, kantore en restaurante) en ‘n eersteklas opset op Naval Hill met die reuse-Mandelabeeld en die uitsig-restaurant wat teen die noordelike hang gebou is.

Ja maar, sê die gasvrye Volksblad-vriende by wie ons tuisgaan, Sarel en Liesbeth Venter, praat van ‘n wit olifant! Oor wie die restaurant moet bedryf, is ‘n hele toutrekkery aan die gang. Geen lig in daardie tonnel nie. Intussen staan die plek maar maar leeg – ‘n monument vir lompe wanbestuur.

By Volksblad, die koerant waar ek oor drie dekades twee vervullende skofte van 12 jaar elk agter die rug het, word die veterane wat kom reünie hou, gul ontvang.  Teen die mure hang foto’s uit ons almal se eras. Ons klink ‘n glasie vonkelwyn onder o.m. ‘n foto van die voorblad op 6 September 1966, die dag toe dr. HF Verwoerd in die Volksraad vermoor is.  Ek was toe die (jong) hoofsubredakteur. Die voorblad was my werk. Die opwinding van koerant-maak bruis sommer weer in die verkalkte are.

Ek en Marlene by "Jan se boom".

Ek en Marlene by “Jan se boom”.

‘n Mens voel jy het tuisgekom in die koerantgebou met al sy herinneringe, al het die tegnologie ook hoe vernuwe en die kantooropset daarmee saam redelik ingrypend verander.  Die statige redakteurskantoor met sy donker houtpanele en duursame meubels is ‘n gelukkige uitsondering. Lyk of ek gister daar uitgestap het, al was daar al ses opvolgers sedert ek in 1992 die deur agter my toegetrek het.

Die huidige generasie beur swaar teen die winde van ‘n digitale uitdaging wat in my tyd nie bestaan het nie.  Maar die huidige redakteur, Gert Coetzee, en sy span is vol moed en dryfkrag.  Jou eie vrese lyk sommer ietwat oordrewe in die lig van soveel positiewe energie.

Die Saterdag hou ons reünie-ete in die Santa Fe-restaurant by die Oorlogmuseum. Die oudste onder die oudstes is die 95-jarige Gert Terblanche. Hy was nuusredakteur toe ek as student in 1958 by die koerant instap.  Toe ek en Tokkie in 1966 verloof raak, skryf hy op haar verlowingsfoto in die koerant: “Geluk! Goeie smaak!” Hy stuur die skeurblad met ‘n bode na my in die hoofsubstoel.   Kollega Herman le Roux neem Saterdag ‘n pragtige foto van hom en Tokkie (selwers al 71).  Pleks dat ek hom gaan vra het of hy nog dink my keuse was in die kol!

Ai, was dit heerlik om soveel ou kollegas weer van aangesig tot aangesig gesien – die meeste spierwit grys, party met kieries maar almal stralend van vreugde oor die weersiens van tydgenote wat saam in die juk getrek het.

Op ‘n strategiese kolletjie naby die museum staan ‘n fiere jong vaderlandswilg.  Dit is “Jan se boom” – daar geplant ter ere van Jan Scholtz, kleurryke Boesmanlander, wat twee jaar gelede oorlede is.  Die naald van die Vrouemonument toring ‘n entjie agter toe die blou lug in. Vir my ‘n aandoenlike oomblik toe ek by “Jan se boom” ‘n arm om Marlene kan slaan.

Darem nie net Volksblad-mense gesien in die Volksblad-naweek nie.  Die Vrydagmiddag het so twee dosyn ander ou vriende saam met my en Tokkie ‘n koppie koffie geniet: bure, politici, regslui, weduwees, ‘n oud-leraar, die stigter van verskeie goeie Bloemfontein-goeters soos die Friday Club …  Party van hulle sien mekaar net as ons kom kuier, hoor ek tot my verbasing.  Maar, natuurlik, ons raak almal ouer.

Tokkie en Meshack.

Tokkie en Meshack.

Ons gaan groet ook tuinman Meshack by die Universiteit vir Tegnologie waar hy nou werksaam is: ‘n vreugdevolle herontmoeting.    Die dekade van 80 was onder meer vir die Van Deventers die dekade van Meshack. Hy was ‘n ware karakter wat nie net in ons lewe kleur gebring het met sy arbeid in onse blombeddings in Van Schoorstraat, Bloemfontein, nie, maar ook as mens vol lewenvreugde en vrolike humor.

Hy en Tokkie (wat mekaar altyd met ‘n kenmerkende “joe-hoe” geroep het)  wil die een breër glimlag as die ander glimlag toe ek hulle laat regstaan vir ‘n foto.

“Ons tuin”, lyk nie goed, waarsku  Meshack kopskuddend. En waarlik, die verwaarlosing is nogal ‘n skok – soos daardie “klein Vesuvius” langs die N1, die hartverskeurende swart verbrande historiese stadsaal, en die gemors soos molshope oral in Koningspark, waar die Kunsmark in die 80’s onder Tokkie se hand tot so ‘n sieraad vir die stad gegroei het.  Dese en gene hou nou op ‘n Sondagmiddag daar piekniek. Vullisdromme ontbreek blykbaar of word nie juis benut nie.

Gelukkig is die erediens in ons ou gemeente Berg-en-Dal die Sondagoggend ‘n sielsverkwikkende ervaring. Daaroor skryf ek later ‘n aparte blog.