Ook nie almal wat deur die poorte kom, kom net kyk, geniet en gee weer pad nie. Bevolkingstatistieke ken net een rigting. Dis boontoe. Huiskopers uit ander provinsies trap eiendomsagente se drumpels deur. Informele nedersettings spring op soos padddastoele. Skole bars uit hul nate. Nuwe skole, vervangende skole, ekstra klaskamers en mobiele klaskamers word aangekondig. Nog 15 nuwe skole word in die volgende drie jaar beloof.

Terselfdertyd daal damvlakke onheilspellend. Waterteikens word, helaas, nie gehaal nie. En die arme belastingbetalers? Hulle is die sondebokke. Op openbare TV word hulle gekastei weens hul “gebrek aan samewerking”, gedreig met hoër boetes en aangemoedig om op bure te spioeneer.

Dit is mos nie billik nie. Is hulle dan die enigste verbruikers? Hoeveel toeriste gebruik herwinde badwater om hul toilette te spoel? Hoeveel tel ooit ‘n emmer op, klim saam in die bad of gebruik ‘n handdoek maar ‘n week lank om water te spaar?

Ek soek nie ‘n lang lesing oor die ekonomiese voordele wat toerisme vir die stad inhou nie. Niemand is immers so dwaas nie om te pleit: Hou asseblief tog die toeriste en die nuwe intrekkers weg.

Maar almal weet mos Kaapstad is wat vars water betref, ‘n brandarmstad. Die Moederstad kan nie sy brood aan albei kante gebotter wil he nie. Hy kan nie joelende wereldstad wees, die tienduisende besoekers juigend om die hals val, en dan oor hul waterbehoefte soos ‘n volstruis kop in die sand druk nie. Hy kan nie kop bo water probeer hou deur maar net die inwoners se krane stywer toe te draai nie. Stadsvaders kan nie maar net bly hoop dat die liewe Vader tog sal voorsien nie.

Ontwikkeling van bykomende varswaterbronne was lankal meer as noodsaaklik. Hoe langer hierdie dringende prioriteit uitgestel word, des te groter die onreg wat teenoor belastingbetalers gepleeg word, en potensieel afgrysliker die dreigende waterkrisis wat Kaapstad onverbiddelik vierkant in in die oë staar.