KANNIEDOOD-KOERANTMAN

Laatoes_high resHierdie Hennie van Deventer-ou moes beslis ‘n koerantman gewees het” – kollega Sarel Venter se kommentaar ná ‘n vinnige koekeloer na die omslag van “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”.

Sarel is in die omgewing van die kol, maar nie presies daar nie.  Vervang asseblief die “moes gewees het” met “moet wees”.  Die boodskap van die boek is juis dit: ná 20 jaar van aftrede bly hierdie kanniedood steeds in hart en niere joernalis.    Het nou nie meer ‘n koerant om sy “passievolle drif”  (kollegas se formulering) uit te woed nie; woed hom dus maar uit in koerante en  tydskrifte, op webblaaie en in blogs (en boeke!).

In die 55 hoofstukke en die 275 bladsye van “Laatoes” is ‘n seleksie uit gepleegde joernalistiek sedert einde 1997 –nogal ‘n aansienlike massa materiaal.

Hope kykies word in talle hoofstukke gebied in my loopbaan van 36 jaar by koerante – van my kennismaking met “Die Volksblad”  as kleuter aan Oupa Visser se voete tot my eerste besoek, nou anderdag eers, aan die imposante Mediasentrum in Johannesburg, waarvoor ek dekades gelede die grond uitgesoek het.

 

Die boek is egter geen biografie nie. Verre daarvandaan.  Dis eweseer ‘n boek oor mense as ‘n boek oor die perswese en koerante. In minstens 20 van die 55 hoofstukke word op mense gefokus: van die grootste van groot kokkedore tot kollegas met wie ek by koerante en later in die hoofkantoor van die Pers skouer  aan skouer gewerk het.

Louis Esterhuizen stel dit in sy voorwoord (‘n voorwoord “om van te droom”) vir my mooi: “In Hennie van Deventer se loopbaan en lewe het dit hom geluk om paaie te kruis met talle indrukwekkende persoonlikhede binne ons kultuur-historiese landskap. Hulle het hy oor jare heen as vriend, kollega of vertroueling leer ken; iemand wat nou oor hulle en hul wedervaringe kan skryf as ’n ouer, waarderende skrywer wat sterk onder die indruk staan van die verbygaande aard van dinge.”

Uit Pers-geledere sluit dit persoonlikhede in soos Piet Cillié, Ton Vosloo, Eric Wiese – pas so redeloos in sy eie huis in Kaapstad vermoor – Johannes  Grosskopf, Alf Ries, Johan van Wyk, Jan Scholtz, Ben van Rensburg, Fred Schnetler, Pirow Bekker en heelparty andere.  Allerlei geheimpies word verklap.

Op die lys van “buitemense” is onder andere Pik Botha (hier in die ongewone rol van kortverhaalskrywer, smeulend van passie); ds. Okkie Raubenheimer (Afrikaanse Paulus);  Gustav Hoexter (gulste gasheer in Sabiepark); Wynand Mouton (ware aristokraat);  Barnie Human (motormagnaat), John Murray (halsstarrige Suid-Afrikaner op wie die hertogdom van Atholl geval het) en  W.D. Kotzé (aardse skrywer uit die Kalahari).

Dit het my nie net geluk om in my loopbaan met sulke indrukwekkende mense paaie te kruis nie, maar om by van die grootste koerantstories van die era ten nouste  betrokke te wees. In “Laatoes” is ‘n hoofstuk oor die skokkende  moord op dr. HF Verwoerd en die asemrowende eerste hartoorplanting deur prof. Chris Barnard. Besoek saam die boeiende Hartmuseum.

Sabiepark, my geliefde bostoevlug, en die Krugerwildtuin lewer ook heelwat stof. Ek skryf oor luiperds, ratels, gevegte met leeus, natuurboeke van groot waarde en betekenis …. En van bosmense van hoë stoffasie.

Die kerk en kerkmense , die geskiedenis en die politiek word aangeroer. Ek skryf oor ‘n kerkbasaar wat met ‘n “skiet-gebed” geopen word en van “boerematriek” by ds. Beyers Naudè in 1957.

My sportskrywervriende sal dalk skeef opkyk, maar ek takel sport: rugby en boks – Hennie Muller (my rugbyheld), Gerrie Coetzee en Kallie Knoetze (die twee Boerseun-swaargewigte).

My liefde vir motors kom in meer as een hoofstuk na vore. Hoekom is my registrasienommer TY 24 WP, al is ek ‘n Bul?

Op persoonlike vlak, is hoofstukke oor spesiale mense na aan my, salige vakansies (Buffelsbaai en die Queen Mary2), Kollegetehuis op Tukkies en  Harvard waar ek die voorreg gehad het om 40 jaar gelede Nieman Fellow te wees.  Ek verplaas ons matriekklas van 1957 op Potch-Volkies in die moderne tyd en bespiegel, tong in die kies, oor hoe ons klomp by ‘n “Plett Rage” sou rinkink het. Wie sou dalk ‘n T-hempie laat waai het?

Van die hoofstuk-titels in die boek is: LIEWE BLIKSEMS (oor ratels), OTJIE MET ’N CV, DIE SOOL EN DIE KOUS (oor lekker koerantopskrifte), ELKE OGGEND GATOORKOP (Johan van Wyk), KAALBAS EN STRIKDAS, VYFTIEN BOTTELS BRANDEWYN, VERMOMDE ENGELTJIE (Piet Cillié) en PROFEET IN ROOI PAJAMAS Alf Ries).

Dit verklap hopelik dat hierdie “lewensverslag” (Louis E se woord) geen stroewe, formele boek is nie – nee, sterk informeel, hoor,  met ‘n goeie skeut humor en selfs stoutigheidjies plek-plek.

Hoop maar die resep werk vir die leser. Laat weet gerus.

 

  • “Laatoes” is binnekort by boekwinkels op die rakke. Kan nou reeds bestel word by Naledi: http://naledi.online/

 

ORGAN SE FOTO

1-P1490942[1]Mense wat Sabiepark se piekniekplek ken, sal seker nie verbaas wees nie dat daardie seer geliefde stukkie grond aan die Sabierivier in my oë die heerlikste werkplek in die land is.

Die man wat daar die septer swaai, Organ Ongeni, se dagtaak kan insluit ‘n leeuvangs vlak voor sy oë, ‘n trop olifante wat met ‘n gedruis die water inplons of honderde buffels wat die riete skielik swart spikkel. Soms kom soek ‘n luiperd sonnetjie of maak dorstige renosters ‘n draai.

Met ‘n kamera wat hy present gekry het, het Organ al ‘n indrukwekkende fotoportefeulje opgebou. Hy het hom in die neem van natuurfoto’s begin verdiep, en verras vriend en vyand met die voortreflike foto’s wat hy so tussen sy ander werksaamhede deur by die piekniekplek neem. Sabiepark se eienaars kan nie genoeg van sy spogfoto’s op hul Sabiepark-webblad kry nie.

As kind het hy een oog in ‘n spelery met maats verloor.  So met die een oog, is hy egter vinnig om elke teken van lewe waar te neem, op ‘n goeie fotohoek te besluit en met ‘n ferm hand te fokus. Daardie ferm hand bied hy vriendelik aan as jou eie hand met die skielike aanblik van ‘n luiperd of ‘n leeu te veel bewe om ‘n goeie foto te neem!

Organ Ongeni.

Organ Ongeni.

Gister verras Organ my met twee pragtige foto’s op sy kamera: ek en gade Tokkie wat op ‘n gunstelingbankie sit en kyk hoe ‘n stewige teeltrop olifante in en langs die Sabierivier paradeer.

In amper 20 jaar het die Van Deventers kosbare Sabieparkfoto’s versamel. Hierdie is egter een van die kosbaarste. Die twee oues op die bankie wat die grootvoete dophou, is treffend simbolies van die oneindige plesier wat die plek ons gee. Die foto – amper se ek ikoniese foto – gaan beslis ‘n ereplek teen die muur van ons woonkamer by Wildevy 154 vind.  Dankie hiervoor, Organ – ek skuld jou, my vriend.

Maar so spesiaal soos die foto vir ons is, is dit nie die enigste rede vir verskuldigde dank aan die piekniekplek se nederige, wellewende en altyd hulpvaardige baas van die plaas nie. Skoondogter, Mariza, het al daaroor geskryf, maar ek wil dit ook graag hier te boek stel dat Organ so goed is vir ons outistiese kleinseun, Migael (10), met sy sware vrag mediese probleme.

Die kombinasie van die rustige Sabieirivier (plus groot grasperk asook gedugte bome)  en die meelewende Organ, self die vader van twee, het klaarblyklik ‘’n kalmerende invloed op die hiper-aktiewe seun. Hy sal doodgelukkig ure om saam met Organ blare ophark en ander takies verrig, terwyl sy pa, Johan, vir hom eiervrug braai.  Vleis is een van die vele kosse wat, helaas, nie vir ou Migael beskore is nie.

In hul omstandighede is Sabiepark vir die gesin uit George ‘n ware toevlug as hulle in die somervakansie  ‘n week of twee ‘n wegbreekkans kry.  Gereelde uitstappies piekniekplek toe is hoog op Migael se voorkeurlys.

“Oorgan is ‘n nederige man met ‘n sagte hart. Migael sien altyd uit om hom te sien. Hy maak altyd tyd vir Migael al is hy daarop gesteld om hard te werk om die piekniekplek so netjies en aantreklik as moontlik te hou,” het Mariza op ‘n vorige Outismedag aan Die Laevelder vertel.

Organ se buitengewone noemnaam kom van sy moeder se liefde vir musiek.  Dalk is dit die rede dat hy foto’s neem wat soms ‘n Mozart-kwaliteit het – en dis ‘n pluimpie wat ek werklik bedoel.

 

KLINK ‘N OTTERMAKLOTTERTJIE!

Lorinda Steenkamp se otters.

Lorinda Steenkamp se otters.

 Die Krugerwildtuin bestaan natuurlik uit veel-veel meer as net die Vyf Grotes, algemeen bekend as die Groot Vyf. In van jou beste wildtuin-ervarings figureer soms nie eens een van die grotes nie.  Meermale sommer doodgewone ou diertjies soos otters.

In die amper 20 jaar dat ek en Tokkie al Sabiepark toe kom – ons trek nou seker by ons 50ste vakansie hier – het ek al iets soos 15 albums vol foto’s van dieretonele, kuiertjies by kampvure en dies meer. ‘n Foto van otters ontbreek.

Ek sal spreekwoordelik my voortande gee vir ‘n vrolike otterfoto soos die een hierby. Lorinda Steenkamp, amperse buurvrou in Wildevylaan, het die foto Saterdag by die piekniekplek geneem.

Ek sal, terloops, my voortande plus die een of ander premie gee vir ‘n foto van ‘n ietermagog. Anders as otters het ek daardie gedierte nog net in museums gesien. Otters het ek wel al by die piekniekplek gesien, die eerste keer in 2001.

In my Sabiepark-verslagboek nommer drie (nie te verwar met ‘n foto-album nie) het ek op 2 Augustus 2001 die volgende neergepen: “By ons piekniekplek het ons ‘n otter met ‘n vis in sy bek vinnig stroom-af sien swem. ‘n Seekoei se gramskap is duidelik gewek deur die lastige rusverstoorder.”

Niggie Susanet Smith wat by was, het in haar stukkie in dieselfde boek die volgende kwytgeraak wat my laat wonder presies wat sy bedoel het: “Ek hoop net die vis in die otter se bek neem nie later nog onbekende afmetings aan nie.” Ek raai ons vis het, soos die vis in baie vistermanstories, ook al hoe groter geword soos ons vir mense daarvan vertel het.

Nog iets waaroor ek gewonder het, is of Lorinda se otter dalk ‘n kleinding (agter-kleinding?) van ons otter met die vis in sy bek kan wees.

In Riëtte Conradie se heerlike diereboek “Aardwolf tot Ystervark” lees ek ‘n aanhaling wat skynbaar korte mette van daardie teorie maak. “The otters, as a family, are gregarious, affectionate, inquisitive, happy-go-lucky, cheerful, easy-going clowns; roving gypsies of the wild”, skryf Bruce Kinloch.

Swerwer-sigeuners? As mnr. Kinloch se beskrywing in die kol is, is dit seker onwaarskynlik dat een familie 16 jaar lank – die hele leeftyd van die patriarg of matriarg –  in dieselfde omgewing sal vertoef.

Maar dan:  die Sabierivier soos dit hier voor Sabiepark verbykabbel Mosambiek toe, is nie sommer enige omgewing nie. As ek ‘n otter was, sou ek dit waarskynlik ‘n absolute voorreg geag het om my kinders nêrens anders nie as juis in hierdie idilliese dierehemel groot te maak.

Dis vir my ‘n romantiese ding om te glo die otters wat Lorinda Saterdag afgeneem het,  en die otter wat ek in Augustus 2001 voor my sien verbyswem het, dieselfde stamboom het.

Ek drink laat vanmiddag by die piekniekplek een of twee ottermaklottertjies op die gesondheid van ons ottertjies (noem hulle die mustelidae sabiparki). Mag hulle en hul nageslagte nog lank en gelukkig hier in onse waters kerjakker.

Van die Vyf Grotes gepraat:

My en Tokkie se jongste ervaring met die vyf is nogal vermeldenwaardig, meen ek: het al vyf die laaste week by Sabiepark se piekniekplek gesien. In net vier besoeke.

Op 8 Augustus. so teen 13:30, drie van die Grotes gelyktydig  gesien: leeu, olifant en buffel. Op 12 Augustus die legendariese luiperd van die kontrei, Vin Diesel, met sy nek soos ‘n vaskopstut, en ‘n dag later, op 13 Augustus, ‘n renoster, sy maag swart van die modder.

Ons het al voorheen die vyf daar gesien, maar in so ;n kort tydsbestek? En in net vier besoeke? Nie eens naastenby nie.

Net die olifant het werklik naby gekom. Een het hom boeglam geskrik toe hy die mense so naby sien. Die ou het verontwaardig, trompetterend en met wapperende ore onder die bruggie waarop ons gestaan het, deurgestorm.

Twee dinge gehad om die aand te vier: die proewe van my boek Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman het  vroeer die dag opgedaag.

ROTS-BALLERINAS

1-IMG_5989Die klein klipspringer is nie om dowe neute nie as die ballerina van die rotse bekend. Die bokkie klouter op die punte van sy hoewe se kloutjies rats tussen die klippers rond. Hou dus gerus maar  by ‘n rotsagtige heuweltjie stil. Bekyk die wereld rustig deur ‘n verkyker. Iewers sien jy dalk die profiel van die elegante bokkie met sy growwe, swart gespikkelde, bruingrys pels.

Het wel self al in die Krugerwildtuin een gesien wat stil soos ‘n standbeeld op ‘n padpredikant langs die besige H4-1-teerpad tussen Skukuza en Onder-Sabie staan, asook  tweetjies in die middel van die H-10 tussen Onder-Sabie en Tshokwane, naby die Nkumbe-uitkykpunt, waar die uitsig van 180 grade ‘n kameelperd onder op die vlaktes van die Laeveld tot ‘n blote stippeltjie reduseer.

By die seldsame “standbeeldjie” naby Onder-Sabie het ek die oggend my voertuig heen en weer gemaneuvreer om die beste hoek vir ‘n foto te kry. Nie verbasend nie, het algou ‘n ander ryding propvol Wildtuinbesoekers langs my ingetrek. Die bestuurder het sy venster laat sak en hoopvol navraag gedoen: “Wat sien jy?”

Toe ek na die beweginglose klipspringertjie op die padpredikantjie beduie, het die man verontwaardig gesnork. Met ‘n “net nog ‘n blerrie bok” deur stywe lippe gepers, is hy haastig weer vort. Aan daardie insident het die boskamp Boulders se klipspringers my pas op ‘n baie spesiale manier herinner.

Boulders is, soos die naam aandui, tussen koppies met stapels rotse gebou. Sy skouspelagtige braaiplek is trouens teenaan ‘n steil rotswand. Klipspringers doen gereeld daarlangs hul rotsballet. Telkens kom die opgewonde uitroep uit daardie koers: “Klipspringer”. Dan gryp jy jou kamera en laat vat braaiplek se kant toe.

Op my eerste besoek het ek tussen die takke van die seringe deur ‘n paar foto’s van klipspingers gekry, en nou weer op die tweede ook, al is die bokkies taamlik skugter en kies hulle vinnig die hasepad as hulle onraad vermoed.

1-IMG_5984 Laatmiddag op ons laaste dag in die salige kamp gebeur egter ‘n verrassende ding.  Drie bokkies verlaat hul skuilplek tussen die rotse en kom in ‘n bospaadjie aangestap in die rigting van die dek waarop almal vergader is om ‘n ogie op die bedrywige watergat te hou.

Woerts, spring hulle op ‘n groterige alleenrots waar almal hulle mooi kan sien. Hulle staan in ‘n netjiese formasie met hul koppies na ons kant toe gedraai, amper asof hulle vir ‘n spanfoto poseer.

1-IMG_5995 Toe gee die voorste enetjie, ‘n rammetjie met fyn horinkies, ‘n frisserige sprong. Dit word dadelik duidelik wat sy bestemming is: die natuurlike klip-voëlbadjie teenaan die die gebou, waar die kleurryke dassievoëls en ‘n nimmereindigende stroom blousysies hul dors kom les, saam met die bloustert-akkedissies en ander resident-gediertetjies.

Klipspringers is nie vreeslik afhanklik van water nie, het ek iewers gelees. Hulle sal wel drink as dit beskikbaar is, soos in rotspoeletjies ná reën.  In die nomale gang van sake kom hulle egter goed oor die weg met die vog wat hulle uit hul vegetariese dieet van blare, blomme en vrugte verkry. Maar hier het hulle doelbewus kom drink. Geen twyfel daaroor nie.

Moet darem dan dadelik byvoeg: ek verstaan dit nogal as daardie pikante klip-voëlbadjie by Boulders vir ‘n klipspringer lyk soos ‘n rotspoeletjie ná goeie reën. ‘n Verbeeldingryke hand sit agter die ontwerp.

In elk geval, toe ons oë uitvee, is die eerste enetjie by die water, knak die rug en begin met diep teue die helder water geniet. Die ander twee het stragiese posisies op omringende klippe ingeneem, kompleet soos brandwagte.  So kry elkeen ‘n beurt.

Toe die drie rustig in gelid wegstap, dag ek by myself: wat ‘n magiese oomblik! Ons begin dadelik bespiegel hoeveel mense al bevoorreg was om so ‘n intieme kykie in die wêreld van die ingogo (Zoeloe) of ngululu (Tsonga) te kry.

Die wellewende Johnson, veteraan-opsigter by die kamp, sê hy is bewus van die periodieke besoekies van klipspringers by die voëlblad. Klaarblyklik gebeur dit egter nie elke dag nie.  Ons belewenis was onteenseglik baie besonders en ‘n yslike voorreg.

Op daardie oomblik beleef ek toe weer die insident op die H4-1 by die “standbeeldjie”  helder voor my geestesoog.  Ek hoor die gepynigde uitroep van “net weer ‘n blerrie bok”; die klank van frustrasie in daardie ongeduldig kêrel se stem.

En ek verwonder my opnuut aan die garde – nogal aansienlik in volume – vir wie selfs net die piets van ‘n leeustert in die verte groter wildtuin-satisfaksie bring as ‘n unieke ervaring met ‘n lieflike diertjie soos ‘n klipspringer.  Ohopoho, soos kollega Johan van Wyk, se kommentaar sou wees.

 

 

 

JUWEEL VAN DIE WILDTUIN

1-IMG_5940Ek wil Boulders ‘n fluweeltoga om die skouers hang en n opgerolde perkamentrol in die hand stop met ‘n akkolade van die hoogste orde: Juweel van die Krugerwildtuin honoris causa.

Pas terug van ‘n tweede besoek, is ek nog te meer in vervoering met die unieke boskamp naby Mopanie as met die ontdekking daarvan verlede jaar. Die aktiwiteit by “bobaas-Boulders” se watergat is weergaloos, glo ek. In die rotse klouter klipspringers.  In skeure in die rotse gaan ‘n paar muskejaatkatjies tuis.  Die lewendige voëllewe behels gereelde  besoeke van kleurryke dassievoëls ‘n gedurige toestroming van blou sysies. Eekhorings en akkedisse kom les hul dors.

1-IMG_5950Op ‘n manier wil ek my bekoring prakties vergestalt. Skielik kry ek ‘n idee.  Teen die muur by die trappies in ons Sabieparkhuis hang ‘n raam met nege foto’s van 20 jaar gelede. Hulle sal moet plek maak. Die raam word nou my Boulder-raam.

Buffelfoto’s sal noodwendig oorheers. Reuse-troppe van 200 of meer het vanjaar weer dorstig om die watergat kom saamdrom: ‘n swart massa.  Soos ‘n skildery lyk die aantog uit die bosse in ‘n stofwolk.

Dan die klipspringers. Drie was gereeld in die rotse om die kamp. Die laaste dag betrap ons hulle by die voëlbadjie uit natuurlike rots. Twee staan kiertsregop wag terwyl die derde die ruggie knak om te drink. Die kameras klik aanhoudend,

1-IMG_5985Tokkie se rugsak met haar voëlboeke en verkyker het onder ‘n muskeljaatkat se skerp tande deurgeloop. Maar die ou het darem rustig vir ‘n foto poseer.

Verlede jaar was die olifante meer en het ook wildehonde kom drink. Daardie foto’s  sal uit die argief gaan haal word vir die raam.  Vanjaar was die hiënas egter volopper (een was selfs binne die braai-area!), en het ook ‘n mooi troppie koedoes, rooibokkies en vlakvarke die watergat opgesoek. Die foto-aanbod vir my nuwe Bouldersraam word al hoe ruimer en die seleksie al hoe moeiliker!

Boulders se eksklusiewe watergat, die skilderagtige rotskoppies om die kamp en die braaiplek teen ‘n steil rotswand  is alles baie, baie spesiaal. Dit bied ‘n natuurervaring uit die boonste rakke. ‘n Bonus is die twee “butlers”, Johnson en Freddie, wat soos skimme teenwoordig is: hulle dek tafel, was skottelgoed, maak die beddens op en dies meer terwyl jy op sagte rusbanke aan jou jenewer of wyntjie teug.

1-IMG_5926Oor die kamp se naam wil ek ‘n waarneming van verlede jaar herhaal: dit is presies in die kol. Die onomheinde struktuur (ses uiters ruim dubbelkamers met private badkamers en uitsigstoepe, asook die enorme kuierplek) is omring deur massiewe klipstapels met kremetarte en seringe wat met die ru-heid kontrasteer.

Boulders is ‘n taamlike ent van Sabiepark – iets soos 225 km. Die tog word egter dubbel en dwars beloon. Soek jy nog altyd na dié blinkste juweel van die wildtuin?  Jy hoef werklik nie verder as Boulders te soek nie. Ek beveel die plek sonder huiwering by enigiemand aan. Huur die kamp vir ‘n dag of twee. Gaan bederf jouself daar in stilte, vrede en skoonheid soos min.