‘N BOKKIE SE LEED

1-IMG_5854

Diere in veelvoud het gister gesorg vir ‘n vrugbare eerste skof van ons kort vyf-dae-wildtuinuitstappie, die skof van Sabiepark tot in Olifants.

Twee leeumannetjies, vyf hiënas, vyf  njalabulle en  vier koedoebulle het om die beurt  so saam-saam langs die pad opgeduik. Ons is ook by substansiële troppe olifante, buffels, seekoeie, sebras (baie, baie sebras), wildebeeste, waterbokke en impalas verby. En by enkele volstruise en vlakvarke.

Hoe dan dat twee impalatjies nommer een op ons lys van die dag se besigtigings was?

Toe ons die bokkies sien, vlakby Satara se hek, sê-vra Tokkie: Is daardie enetjie nie dood nie?

1-IMG_5850Hy lê potsierlik, kop en pote onder hom ingevou asof hy een oomblik nog op sy bene was en die volgende oomblik in sy spore neergesyg het.

Dood moet minute tevore ingetree het. Sy maat staan verbysterd, in totale ongeloof. Kom dan versigtig nader, snuif aan die gevalle makker, lek liefderik teen sy nek en tree terug om te kyk of iets nie tog wil gebeur nie.

Hy herhaal die hartverskeurende proses  en stap toe ‘n entjie weg. Toe loop hy die lewelose ligggaampie storm, ‘n verwilderde trek in die bok-oë,  Hy spring op sy maat met sy voorbene uitgestrek.

Ook hierdie proses word wanhopig herhaal.

Toe ons ry, het die oorlewende net na die dooie bokkie op die grond staan en kyk, en kyk.  Dit was of die skokkende werklikheid eenvoudig nie wou insink nie.

By voëls het ons al daardie soort rou emosie gesien: een keer waar ‘n troupant doodgery is en ‘n ander keer ‘n Bosveld-fisantjie. In albei gevalle was die maats ontroosbaar. Die fisantjie se poging tot noodhulp was baie soos die bokkie s’n. Het met klein sprongetjies probeer reaksie uitlok. Toe alles misluk, het hy haar met sy snawel  voor die aankomnde verkeer probeer wegstoot.

Hierdie was egter ons heel eerste ervaring van ‘n bokkie se leed.

Daardie intieme toneeltjie was ook in die opsig anders dat dit tussen twee rammetjies agespeel het – ‘n Dawid en Jonathan van die diereryk dus.

Vandag, 24 uur later, nog sien ek dit oor en oor voor my geestesoog gebeur.  Deernis vir die bokkie wel opnuut in my op. Wens ek kon vir die enetjie wat die klaarblyklik sware verlies gely het, met ‘n handdruk en ‘n trooswoordjie probeer opbeur.

Maar so magteloos soos ‘n mens maar altyd by die sterfte van’n naaste se geliefde  voel,  des te magteloser voel jy as jy uit jou motor die toevallige  toeskouer van so ‘n stukkie hartseer is by diere waarmee jy nie kan kommunikeer nie.

Dan ry jy weg, kyk dadelik weer rond vir iets anders.    Die lewe gaan voort.

DRIE DROOMKAMPE

Boulderskamp tussen die rotse.

Boulderskamp tussen die rotse.

Die drie wildtuinkampe wat van almal dalk die heel diepste in my hart gekruip het, is die natuurskone Olifants, sy buur-boskampie aan die Olifantsrivier, Balule, en die knusse private kampie Boulders, versteek tusen rotskoppies, naby Mopanie.

Om die drie spesiale liefdes in een kort wildtuinkuiertjie in te pas, klink amper te goed om waar te wees. Dit is presies die droom wat einde aanstaande week vir die VanD’s bewaarheid word.

Ons slaap Donderdagaand in Olifants, nogal in ‘n hut met daardie hemelse arendsnes-vallei-uitsig wat net hierdie kamp aan sy uitverkorenes bied, dan twee aande in Boulders en twee in Balule. Hoogtepunt op hoogtepunt, soos sappige vlesies aan ‘n sosatiestokkie ingeryg.

Olifants het ‘n amper mistieke magnetisme – iets in die lug wat jou opkikker, ‘n atmosfeer, ‘n gevoel van tuiskoms wat jou oorweldig die oomblik as jy deur die hek met die kenmerkende reuse-olifanttande aan weerskante ry.

Die uitsig op die Olifantsriviervallei is skouspelagtig, die panorama so groots dat die tydskrif “Weg” se spesiale Krugerpark-gids dit waag om doodernstig te sê-vra: “Dit is immers hoekom jy hierheen (Olifants toe) kom, of hoe?”

Maar daardie aanspraak is darem nie honderd persent juis nie. Die plantegroei (kenmerkende mopanies en nabome by die hope), die rotsagtige Lebombo-wêreld en die uitleg van die kampterrein met sy norring inheemse bome dra ook hul deel by om verslaafdes telkens terug te lok.

Die Olifantsrivier se water is soet. Daaroor is ons dit met die olifante eens. Albei keer maar altyd terug – ons na die kamp doer bo op ‘n steil heuwel om sielsaligheid te vind, en die grootvoete na die vlak, breë waters van die mooi rivier, ver benede die kamp, om te drink, te bad en te speel.

Uitsig op die Olifantsrivier.

Uitsig op die Olifantsrivier.

Boulders waarheen ons op dag twee op pad is, is nog sowat 75 km noordwaarts, dieper mopanieveld in.

Boulders se naam is presies in die kol. Die onomheinde kamp (vyf uiters ruim dubbelkamers met private badkamers en ‘n enorme kuierplek) is omring deur skilderagtige rotskoppies.  Die bekroonde kamp op pale het waarlik ‘n eie karakter. Ek gee hom sommer ses sterre.

Die braaiplek teen ‘n natuurlike muur van ruwe rotse, die bedrywige watergat en die meesleurende stilte (vir sommige dalk ook die lang kroegtoonbank) ding hier sterk mee om die hoogste louere, sou ek reken.

Die massiewe klipstapels sorg vir ‘n ervaring op sy eie. Met ons kennismaking in 2015 was vier klipspringers deurgaans in die klippe aan’t klouter. Die lewendige voëllewe sluit kleurryke dassievoëls en blou sysies in.  In skeure in die rotse gaan muskejaatkatjies tuis.

Drie groepe olifante het minstens vyf keer die watergat kom beset; een keer ‘n troppie van agt. ‘n Grote het soos ‘n verwoede stormram onder twee wildehonde ingevlieg wat ‘n kleintjie kom steur het.

Maar die buffelfees! Die swaar gestaltes met hul indrukwekkende horings het vir die onvergeetlikste hoogtepunt gesorg. ‘n Trop van minstens 80 het rustig uit die bosse gekom en later tot amper teenaan die kamp gewei. Toe skrik hulle eensklaps en storm oor die klippe. Dit het gedruis.  Twee uur later was hulle terug, weer op volle vaart in die teenoorgestelde rigting.

In die lig van die amperse volmaan het ek en Tokkie op ons stoepie gestaan en wonder oor die veiligheid van die Honda wat tussen die pilare onder die struktuur geparkeer was.

Boulders se bosveld-vreedsaamheid  is amper oorweldigend. Des te meer wanneer die vlamme van die kampvuur die lug begin inklim en ‘n ronde rooi maan tussen die bome verskyn. Onbeskryflik.

Kuier by Balule. Nommer ses is in die agtergrond.

Kuier by Balule. Nommer ses is in die agtergrond.

Met Balule, die oorspronklike Olifantskamp by die laagwaterbrug oor die Olifantsrivier, het ons in 2011 kennis gemaak. Daardie nag het ek en Tokkie in rondawel nommer vyf (van net ses) in die klein ruskampie, 11 kilometer van Olifantskamp, oornag – ‘n lank gekoesterde wens.

Balule, ‘n verkorting van Rimbeluli, die Tsonganaam vir die Olifantsrivier, is ‘n uiters basiese, amper primitiewe plek. Hierdie outydse kampie, soos ‘n reliek in ‘n museum, is ook intiem, knus, gesellig en strelend op die oog, veral in die silwer maanlig.

Die ses rondawels staan in ‘n kring om ‘n grasperk waar reuse-essenhoute en worsbome (met ‘n yslike kremetart in die een hoek) vroeg reeds lang skadu’s begin gooi. Huilboerbone, jakkalsbessies, wildevye, koorsbome en wildedadelpalms dra by tot ‘n blaredak.

Teenaan die kamp druis die rivier en raas die seekoeie onophoudelik. Visarende roep. Saans patrolleer hiënas kwylend die grensdraad met sy vanmelewe se “bekslaner”-hek. Leeus brul genoeglik by hul prooi. Die sterre skitter soos diamante. Die maan skep ‘n sprokiesland saam met die vuurtjies, lanterns en gaslampe van die ontspanne groepies wat buite kos maak en kuier. ‘n Swart vrou daag om 17:30 op met ‘n tros lanterns in die hand.

Die rondawel, net muur, dak en vloer en taamlik karig gemeubileer, kan dien as illustrasie vir ‘n hartbeeshuisie. Vensters ontbreek. ‘n Korterige mens moet buk by die deur wat skewerig in sy raam hang. Ventilasie is deur ‘n strook sifdraad direk onder die lae grasdak. Jou “en-suite” bestaan uit ‘n waskom op ‘n driepoot-metaalstaander en, ewe bedagsaam, ook ‘n outydse “koos”.

Elke winter  het ‘n sesstuks studentemaats van Tukkies se Kollegetehuis  daarna op my inisiatief  vyf jaar lank– en een keer ook ses ou Volksbladkollegas  –  na Balule opgeruk om ou bande te verstewig.

Elkeen van die vyf Kollegesaamtrekke was die okkasie vir drie dae se groot ure om yslike vure; van herinneringe opdiep, slimstories vertel en koningskos geniet. Tussen die braai van die wors en die tjops die laaste aand  is die glasies gelig en die Kollegelied tradisioneel uit volle bors om die gloeiende kole in die braaidrom aangehef. “Aan het oewers van de Schelftzee, tussen Delft en Rotterdam…”

Vanjaar het die Kollegespan om logistiese redes  na Orpen verskuif – self ‘n eersteklas-kamp wat dadelik ‘n houvas op ‘n mens kry. Maar die Baluleherinneringe is heilig. Oor ‘n week sit ek daar by my vuurtjie met my wyntjie en diep hulle weer een vir een op. Dink net.

 

TYD VAN KOM EN TYD VAN GAAN

Braai vir oulaas.

Braai vir oulaas.

Wederom, wederom -so groet ons vrolik by die tyd van kom; maar dan kom weer die tyd van gaan, blink in die oog ‘n hartseeertraan; ja, kom en gaan en kom en gaan, so rol ‘n mense se lewe aan …

 

Die Claassense is vanoggend om 06:OO hier weg na ‘n heuglike twee weke. Gisteraand is vir oulaas by Tarlehoet groot vuurgemaak vir ‘n goed gesinchroniseerde driestasie-braai: Jacob by die tjops. Thomas by die brood en Christopher by die wors.

Afskeid beteken ook tyd vir die “amptelike foto” by Tarlehoet se naambord, vars vernis deur die vlytige seuns. Om te dink toe hulle die eerste keer in Sabiepark gekom het (in doeke nog) het die naambord hulle verdwerg. Nou is Thomas langer as ouma!

1-IMG_5792

By die vuur wou Marisa by elkeen weet: Wat was die aller-hoogtepunt en die een ding van die vakansie wat jy nooit weer wil beleef nie.

 

Die gesellig saamkuier om ‘n kampvuur het in die eerste kategorie  sterk steun geniet – ook Brent se eerste blik op swartwitpense in die wildtuin, die besoek van ‘n leeu in Sabiepark en die herbesoek aan Napi, danksy die Presslys van Skukuza.

 

Wat nie so lekker was nie, was die groot skrik met die opwagting van ‘n Mosambioekse spoegkobta by die vuur ‘n paar aande tevore.  Liewer nie weer nie!

 

Wat vir Oupa ‘n gedenkwaardigheid van die vakansie was, was om die seuns se groei in kundigheid, vernuf en selfvertroue waar te neem: hoe hulle die voortou neem met die vuurmakery (die hout vlieg nogal!), braaiery, ens.  Elkeen het sy eie verantwoordelikhede. Jacob hanteer bv. die nagkamera.  Daarop was party oggende niks.  Twee keer is wel hiënas gekiek en ‘n paar keer dors bokkies wat nader staan watergat toe. Jacob adviseer Oupa ook oor tegnologie.

 

Ook  lekker gewees om te sien hoe heg die bosbroederskap met Sabiepark se personeel voortleef. Patson Nommer Een (Christopher) en Patson Nommer Twee (die regte Patson) bly ‘n gedugte span. Christopher is slegs oortuig dat dit beter is om huis toe te gaan as om in Sabiepark agter te bly en vir almal takies te help  verrig met die argument dat hy dan graad twee sal moet herhaal.

Wat in die Amarok saam Kaap toe is, is lang stapstokke wat glad geskuur, kreatief uitgekerf en met toue versier is. Natuurlik ook die herinnering aan sowat die 20ste besoek van die13-jarige tweeling (volgens Thomas se sorgsame  rekords) en die dosyn of wat van Christopher(8).

Onthou om die krane in die Kaap toe  te hou, julle!

DROEWIGE STORIE

Valentine Weigl.

Valentine Weigl.

Van al die droewige stories van ontreddering en verlies in die onlangse Knysnabrande  is die verhaal van Sabieparker Hans Weigl seker een van die aangrypendste.

Sy huis is in vlamme op met al sy besittings  (ook dokumente) terwyl hy in Mosselbaai in die hospitaal was ná ‘n drieledige hartvatomleidingsoperasie. Daardie terugslag moes hy stoksielalleen verwerk. Sy jong vrou, Valentine, is in Oktober verlede jaar skielik in raaiselagtige omstandighede oorlede.

Die leed lê vlak in Hans se oë toe ek hom in Sabiepark  raakloop, en –onbewus van Valentine se dood – oor haar welstand navraag doen.

“I am alone now,” antwoord hy stukkend.

“And she was only 47.”  Asof hy dit self nie kan glo nie, herhaal hy die woorde saggies: “She was only 47”.

Die opvallende paartjie was jare lank bekendes in Sabiepark:  hy, die vriendelike Duitser, sy die vrolike jong Swazivrou aan sy sy.     Die twee was lief om te stap, sulke ver ente in die ongerepte  boswêreld  van die private natuurreservaat aan die Sabierivier,  met die ryke norring bosveldbome, knoppiesdorings,maroelas, jakkalsbessies, blinkblaar-wag-‘n-bietjies, rooiboswilge, haak-en-steke  en andere, en ‘n periodieke luiperd-kuiergas uit die Krugerwildtuin of die Sabi-Sand.

Hulle het die begin van elke Julie die algemene jaarvergadering in ‘n groot markeetent by die piekniekplek bygewoon, al kon hulle seker nie veel verstaan van die Afrikaans wat meesal daar gebesig word nie. Agterna het hulle saamgekuier rondom die groot potte stywe pap en sheba (‘n geurige tamatiesmoor).

Na die jaarvergadering, het ons geweet, het altyd ‘n besoek aan Swaziland gevolg waar stewige bande met Valentine se familie gehou is.

Geen wonder nie dat die nuus van haar dood en Hans se daaropvolgende brandskade met soveel skok in Sabiepark begroet is –  by die kantoor  waar hulle gereeld ‘n welwillendheidsbesoekie gebring het, asook by eienaars wat altyd graag met hulle ‘n woordjie gewissel het, hetsy op een van hul staptogte, by die TV-kamer of elders.

Ek onthou hoe sprankelend en gesond Valentine in Julie 2016 nog was, en betuig saam met my medelye ook my verbystering teenoor Hans oor haar onverwagte heengaan.   Die oorsaak was algemene orgaanversaking, deel hy mee; ‘n vreemde, vinnige agteruitgang ná ‘n ongesteldheid wat uit die bloute toegeslaan het, en waaroor hy ook maar net kan wonder en bespiegel. “Strange things happen in Africa, you know…”

Die brand en verlies van alles wat in sy huis was, bring opnuut troebelheid in sy oë as hy daarvan vertel – dit terwyl hy nog besig was om in die hospitaal op die nabygeleë  Mosselbaai aan te sterk ná die hartoperasie.

Om sy annus horribilis te kroon, moes hy doktersopdragte in die wind slaan en die lang pad Johannesburg toe per motor aandurf om nuwe ID-dokumente te bekom, vertel Hans.

“What could I do? I am alone now.”

KOMMOSIE BY DIE KAMPVUUR

 

Die leeu in Sabiepark (Foto: Sabiepark-blad)

Die leeu in Sabiepark (Foto: Sabiepark-blad)

Kommosie by die kampvuur! “Slang!” kreet kleinseun Thomas en spring soos ‘n veer uit sy stoel.  “Waar, waar?” wil almal weet.

Die storie ontvou. Thomas het agter hom ‘n geritsel gehoor. Toe hy omkyk, sien hy die adder se kop. Ta was skynbaar op pad uit die veld in die rigting van die skuifdeur op die agterstoep waar ons almal om die vuurtjie versamel was.

In die konsternasie swaai hy egter om. Met ons almal agterna, seil hy vir die naaste skuiling: die afvoerpyp van die gasteslaapkamer se wasbak.  Daar krul die kwaai kerel hom op.

Hy word ‘n gevangene. Die sementblok op die gat word versigtig deur skoonseun Brent en Tokkie met kieries in posisie gedruk en met Sondag se Rapport gefortifiseeer sodat hy nie kan ontsnap nie.

Ons sien genoeg van die bruin lyf vir ‘n akkurate identifikasie uit Johan Marais se slangboek, “Slange van Suid-Afrika”.  Mosambiekse spoegkobra, is die algemene bevinding, hoewel swart mamba ook ‘n paar stemme kry.

Vanoggend het Bennie Groenewald en Elvis Khoza van die kantoor gekom om die slang uit te haal.  Ons identifikasie word bevestig. Dis ‘n Mosambiekse spoegkobra, sowat een meter lank en uiters gevaarlik.  Spoeg kan hy inderdaad spoeg, Spoeg tot twee meter ver en het ‘n skynbaar onuitputlike voorraad gif.  Tref die gif jou in die oog is daar perde,

Nou-ja, gelukkig geen skade berokken hierdie keer nie.  Nes met ‘n vorige besoek (dalk van ‘n oupa of ouma) twee jaar gelede. Toe het Alfred Mathabula die ongewensde indringer onder ‘n ou vrieskas uitgewoel. Die flenterkas staan in ‘n hoekie buite om allerlei in te berg.

‘n Mens moet maar wakker loop in die bos, Dis die boodskap wat opnuut onderstreep word. Wie die deur ooplos, moet die slang uit die huis verwyder, So het wyle Fickie Visagie altyd vermaan,

Veldlikkewane moes ook al voorheen uit ons huis gehaal word. Een het nogal skade aangerig tydens ‘n langerige verblyf. Gordyne geskeur, glasware gebreek en fotorame van die muur geruk.  Onder meer.

Enkele dae gelede is ‘n leeu in Sabiepark teengekom op pad van die piekniekplek af huis toe. Weer was Thomas die wakker een.

Tweelingbroer ,Jacob , het vanoggend blitsig  ‘n video  geneem.  Ons enigste fotografiese getuienis van die slangepisode. Hy het op sy beurt verlede week groot geskrik vir ‘n slang in die veld by ons  voëlbadjie. Die het vinnig in  ‘n ou pendoringboom verdwyn.

 

 

 

 

 

b

 

KOEK, KOEK EN … KOEK

Eerste simboliese sny.

Eerste simboliese sny. Vos Grey en HvD.

.Die tradisionele troukoek maak toenemend plek vir allerlei fênsie konstruksies met kolwyntjies, roompoffertjies, sjokoladebolletjies en selfs droëwors ‘n keer in die Bosveld, hoor ek.

Vir die ouer garde is die troukoek egter ‘n ernstige saak.  Van die sny daarvan word ‘n seremonie gemaak. ‘n Mens is as ‘t ware nie behoorlik getroud as die koek nie gesny is nie.

Die sny van enige koek – op Engels “cutting of the cake” – bly vir hierdie ou ‘n oomblik van betekenis. By Orpen – by die saamtrek van gryse oud-Kollegemanne –  is die koek nie minder nie as drie keer gesny.

Op die koek, ‘n gewone wit vanieljekoek, was die beeltenis van Sarge Bourke, gelukbringer van Tukkies se Kollegetehuis waar ons span van agt in die jare 1958/1959 ingeval het, in A4-formaat. Die koek kom uit baasbakster Kristie Thompson van Skukuza se oond, soos sovele vorige dekoratiewe koeke. Die planne is in Maart al gesmee.

Die eerste, simboliese sny is met grasie behartig deur Vos Grey, wat in die tweede helfte van 1960, in 1961 en weer in 1963 huisvoorsitter wasEerste seremonie. Hy is die oudste lewende oud-voorsitter van Kollege.  Die uwe, voorsitter in 1962, het Vos tersyde gestaan. Die oudste en die naasoudste voorsitters so saam by die koek is uit alle hoeke gefotografeer.

Die Kollegekoek was op ‘n wit tafeldoek op ‘n tafel op Orpen se grasperk. Ons koshuismaats en hul gades was vir die plegtige okkasie in ‘n eerbiedige halfmaan op allerlei kampstoele versamel. Vos het ‘n gevleuelde woord gespreek. Orpen 1 het amptelik afgeskop. (Die vorige vyf jaar se saamtrekke was by Balule aan die Olifantsrivier.)

Die koek is nie geproe nie al was die versoeking groot. Uit die kombuisie van huisie nommer vier het immers al die heerlike geure van die aand se skaapskenkel-potjie begin kom. Ons ken die kosmaakvermoëns van Cas en Nella Jacobs!

Tweede sny- eerste proe.

Tweede sny- eerste proe.

Die volgende oggend is van simboliese sny tot die volgende stap oorgegaan: Cas het op huisie nommer agt, tuiste van die Van Deventers, met ‘n broodmes (vermoed ek) en sy legendariese sin vir presisie stewige stukke koek vir die teenwoordiges gesny. Weer het kameras geflits. Daarna is geproe en saamgestem: die koek was so lekker soos dit mooi was.

Wat van die lekker koek oorgebly het, is die volgende oggend saam via die boomryke S39 (Timbavatipad) al langs die Timbavatirivier af na die Timbavati-piekniekplek.  Daar is op gasbraaiers wors gebraai, spek gebak, eiers geroer en die laaste krummeltjies van Kristie se Kollegekoek geniet. Ek het doelgerig gesorg dat die “K”  van Kollege na my kant toe kom. Die koek was immers Tokkie se idee.

By die amptelike AJV (algemene jaarvergadering) die laaste middag langs ‘n lekker vuurtjie was almal dit roerend eens dat in die winter van 2018 ‘n Orpen 2 moet plaasvind.Die bekikbaarheid van huisvesting en die beweeglikheid van die span pioniers is al moontlike struikelblokke.

Piekniek by Timbavati

Piekniek by Timbavati

Ons gemiddelde ouderdom is 75 plus. ‘n Mislukte droom is egter verkieslik bo geen droom nie, soos Tokkie tereg herinner.

Vanselfsprekend sal daar weer die een of ander verrassing en simboliese inwyding van ons oues se saamkuier moet wees. Daarvoor, oor na mev. Van Deventer.

(Naskrif: Die teenwoordiges was, in huisievolgorde: (1) Proppie en Lettie Goosen van George, (2) Pierre en Esther le Roux van Mosselbaai,  (3) Manie Steyn van Krugersdorp, (4) Cas en Nella Jacobs van Centurion,  (5) Vos en Magdaleen Grey van Ermelo, (6) Johan en Antoinette Bekker van Jacobsdal, (7) Willie en Joan Paulsen van Bloemfontein en (8) Hennie en Tokkie van Deventer van Melkbostrand.  Vir die Bekkers en die Paulsens was dit ‘n heuglike kennismaking met die mooi tradisie van Kollege-“bosberade”.)