SCOOPS – EN ‘N SKANDE

Susters berig oor Die Volksblad se scoop.

Susters berig oor Die Volksblad se scoop.

Niks is lekkerder vir ‘n koerant as ‘n ordentlike scoop nie. Ai, die louter genot om mededingers met ‘n groot storie die loef af te steek dat hulle hik! Een van die groot scoops van my loopbaan was op 15 Februarie 1990 – onder die opskrif: “Foto’s waarvan wêreld nie geweet het nie”.

Die Volksblad was daardie dag die eerste en enigste ter wêreld (werklik) met ‘n foto van Nelson Mandela en PW Botha se historiese eerste ontmoeting in Tuynhuys op 5 Julie 1989 – die eerste fomele stap in die ontspanningspolitiek wat later tot FW de Klerk se dramatiese besluit sou lei om Mandela vry uit die tronk te laat stap.

Mnr. Mandela is die aand van 5 Julie 1989 in groot geheimhouding na die kantoor gebring waar hy, ironies, later agter die lessenaar sou sit. Die foto’s is op die ingewing van die oomblik met die instemming van albei diehooffigure deur kapt. Ters Ehlers, private sekretaris van die staatspresident, met ‘n gewone mik-en-drukkie geneem.

Die geheimpie dat sulke wêreldskuddende foto’s bestaan, is deur Niel Barnard, nasionale intelligensiehoof, in my oor gefluister. Die nuusman was dadelik op sy tone. Pres. Botha is gepols maar het gehuiwer. Mandela se toestemming sou volgens hom ook nodig wees. Daaroor gaan ek toe by Kobie Coetsee, minister van justisie – een van die ander teenwoordiges – mooipraat. Tot sy ewige krediet willig die Vrystater in om bemiddelaar te speel.

Ek wag in Bloemfontein op hete kole, maar dit duur maande voordat die groen lig uit Tuynhuys en die Victor Verster-gevangenis kom. Ek kon nie vinnig genoeg ‘n verslaggewer in die pad kry Pretoria toe nie om die waardevolle pakkie te gaan haal.

‘n Foto van my met daardie spesiale koerant in my hande sou sou ‘n gesogte besitting wees. Maar het ons foto’s geneem toe die koerant vuurwarm van die pers kom? Kan dit kwalik glo, maar die antwoord is nee. Helaas. Die vloot-offisier Ters Ehlers het die aand in Tuynhuys groter nuus-instink geopenbaar as die uwe en sy redaksiespan op 15 Februarie 1990.

Die waardevolle uitgawe is natuurlik darem nie verlore nie. Dit is in argiewe en by Ineg in Bloemfontein beskikbaar – ook in my eie dokumenteversameling daar. Terwyl ek foto’s uit 1990 uit my albums haal vir die Facebookblad “Volksbladfoto’s” ontdek ek egter al wat ek in my eie albums van daardie heuglike dag het, is knipsels uit ons susterskoerante, Beeld en Die Burger, die volgende dag oor ons scoops der scoops van daardie jaar.

Skande,  Piketberg!

"Scoop"wat toe nie 'n scoop was nie.

Scoop” wat toe nie ‘n scoop was nie.

Van ‘n ander “wêreldscoop” het ek wel ‘n foto. Dit was oor Zola Budd daardie skraal, stil, kaalvoet-Vrystatertjie, wat van haar skoolmeisiedae kon hôl soos g’n ander nie. Ek en Naas du Preez (nuusredakteur) is tot barstens toe trots by die rolpers afgeneem met ons “eksklusiewe” Zola-koerant. Opskrif: “Ek bly, sê Zola.”

Die “scoop” het sy oorsprong by ‘n Britse konneksie weens haar oupa aan vaderskant. Dit het haar ‘n kandidaat vir Britse burgerskap gemaak. In ‘n stadium is sy toe ook vort Engeland toe waar sy internasionaal kon meeding terwyl Suid-Afrika hom in die woestyn van politieke isolasie bevind. Sy sou selfs onder ‘n nuwe vlag aan die Olimpiade kon deelneem. “God save the queen” en so aan.

Terwyl almal bespiegel oor die vraag: bly sy of gly sy (dalk permanent), het Zol in haar eie handskrif Die Volksblad meegedeel dat sy Suid-Afrika kies. Groot nuus! Nie lank na ons “scoop” nie (let op die aanhalingstekens deurgaans in hierdie geval), gly Zola egter. Voordat jy kon sê mes was sy weer as aangenome Brit in Brittanje op die baan.

Dit was maar ‘n bitter pil. Suiker was daar darem soos dat Die Volksblad die dag ná haar oorhaastige aankondiging in The Citizen se hoofberig iets soos tien keer genoem is — ‘n joernalistieke rariteit.

‘n Ware scoopmasjien was die kranige politieke beriggewer Alf Ries. Vir Die Volksblad – waar sy loopbaan in 1953 begin het – het hy in my redakteurstyd veral vir een gedenkwaardige scoop gesorg. Die koerant (wat toe nog ‘n middagkoerant was) het selde beter reg laat geskied aan die motto “vandag se nuus vandag” as met die verkiesing van FW de Klerk as nuwe hoofleier van die NP in die plek van PW Botha daardie oggend – alles danksy Ries se “politieke neus”.

Die onverwagte verkiesing het in groot geheimhouding plaasgevind. Ries het snuf in die neus gekry dat iets betekenisvols aan die gang is. Hy het die berig losgewikkel en daardie middag was dit ons voorblad vol. Toe die Vrystaatse LV Piet Steyn ‘n Bloemfonteinse vriend, prof. Kallie Strydom, bel om hom “vertroulik” in te lig, kon hy op sy rug val toe hy hoor: “Hier staan dit alles in Die Volksblad!”

Met die vliegongeluk van Samora Machel was dit weer die nimlike Ries wat sy mededingers getroef het; weer was Die Volksblad dieselfde dag losvoor met ‘n scoop. Alf en Pik Botha was maats wat saam in ‘n tent was op hul militêre diens. Sulke kontakte help nogal!

 

MOENIE SO MORS NIE!

17103458_381271232255848_987705452282677797_n

Kinders, moenie in die water mors nie, die ou mense wil dit drink.  So het ons in die dae van my jonkheid gesing.  Party het ondeund bygevoeg: Die oumense gooi dit by (in hul brandewyn of hul whiskey).

Die woorde van die tradisionele volkswysie (verwerk deur die Bloemfonteiner M. Casaleggio) is op die oomblik buitengewoon relevant.  In die Wes-Kaap behoort elke radiostasie dit elke dag uit te blaker: ‘n Wakkerskud-klingel as’t ware.

Dis natuurlik nie net kinders wat nie in die water moet mors nie.  Jongmense, grootmense, oumense eweneens.  Die ondenkbare is by ons aan’t gebeur: as dit nie binne 60 dae goed reën nie, gaan ons krane net ‘n laaste drup en ‘n laaste ruk gee …  dan kurkdroog staan.

Watertenks sal dan vir ons moet water aanry, word gesê. Van waar af? Niemand weet eintlik nie.  Seker maar al die private boorgate annekseer, meen ‘n vriend.  Ek weet darem nie of boorgate die katjies deur die water gaan kry nie. Ons eie is ook maar boomskraap.

By “Piet le Roux se plaas” (waarvan ons ook in daardie liedjie sing)?  Ai. waar’s daai plaas met die baie reserwes!

Ons moet almal in Vadersnaam ophou om water te mors.  Maar my betoog is eintlik oor kinders.

Twee opgeskote meisiekinders speel nou die aand in die Birkenhead-winkelkompleks op Melkbos se badkamer.  Hulle draai die krane oop, tap die wasbakke vol en pluk dan weer die proppe uit dat die kosbare water gor-gor in die pyp verdwyn.

Mev. Van D spreek hulle skerp aan. Die twee laat spaander by die deur uit. Later sien ons hulle buite in die gang doelloos ronddwaal. Geen ouer in sig nie. ‘n Gryse moedeloosheid dreig om jou te oorval.

Ek plaas ‘n stukkie op Facebook en Evelyn Visagie  reageer dadelik met ‘n skok-mededeling.  Daai’s nog niks, sê sy.  Weet jy wat by skole aangaan?  Kinders druk proppe van toiletpapier in elke wasbak en draai dan die krane groot oop. In die oggend is die skool omtrent onder water.

Dalk is hul houding ook maar soos dié van ‘n lummel wat oorkant ‘n vriendin hier op Melkbos woon.  Hy steur hom skynbaar aan geen waterbeperking nie.  Die vriendin vat hom aan. Uit die hoogte moet sy hoor: “My pa het geld. Hy kan betaal”!

Dis nou èèrs om van moedeloos te raak.

Laas het ek gewaag dat kinders sommer al in die laerskool meer van seks en kondome leer as van die verantwoordelike benutting van skaars en waardevolle hulpbronne. Nie almal het gedink my opmerking is heeltemal geregverdig nie.

Ek herhaal dit vandag hier met klem en beklemming.  Ons waardes, mense.  Ons waardes ….

“FELISITASIES”

Kleurryke koor.

Kleurryke koor.

Jannie Zaaiman, sy vrou, Marina en twee van hul kinders was vroeg in die nuwe millennium in ‘n kapingsdrama.  Hulle het wonder bo wonder skotvry daarvan afgekom.  Die egpaar doen toe ‘n lofwaardige ding – verhard nie hul harte in veroordeling nie, maar besluit om iets vir die gemeenskap te doen. Hul ideaal word om jongmense van die strate af te hou sodat hulle nie in misdaad verval nie.

Op 24 Julie 2003 stig hulle ‘n koor, die Mzansi-jeugkoor; en veertien jaar later kry daardie koor –  ná ‘n triomfantlike Britse toer begin April vanjaar in Londen by die gehoor van 3 500 in die beroemde Royal Albert Hall ‘n spontane staande ovasie.

Dit is ‘n riem-onder-die-hart-storie wat in enige omstandighede ‘n mens se aandag sou trek.  Vir my is daar ‘n bykomende faktor: die van Zaaiman. Jannie Zaaiman is die seun van mnr. Stephanus Fortunatus (Bart) Zaaiman wat aan die begin van my joernalistieke loopbaan by Die Volksblad in die jare 60 ‘n mentor was.

Die latere redakteur was daardie tyd assistent-redakteur en het ‘n sleutelrol ook in nuushantering gespeel.  Met sy gevreesde rooi pen kon hy vrot skryfsels behoorlik aan flarde skeur.  Van hom het ek enkele “bloutjies” van minder voortreflike berigte teruggekry wat soos klein Bloedriviertjies gelyk het. Het dan maar oes gevoel. (Al ons berigte is op deurslagpapier getik.  Die een kopie is na die nuusredakteur en die ander na die strenge assistent met die hoë standaarde.)

Enige goedkeuring uit sy kantoor was, daarenteen, salf vir die gemoed.  Een pluimpie wat ek tot vandag onthou was vir ‘n berig – sterk op die voorblad aangebied – van die eerste dag van die skooljaar in 1963 of 1964.  Ek loop my daardie oggend vas in ‘n sub-A’tjie wat skool net een kyk gegee en besluit het: dit is nie vir my nie, dankie.  Sy boetie in standerd een, met die opdrag uit die ouerhuis om ‘n wakende oog oor die jongste te hou, wou sy vlugtende broer in alleryl agternasit.  Toe keer ‘n onderwyser hom by die hek voor. Snot en trane.

Oom Bart se “bloutjie” is deur ‘n bode op my tikmasjien neergesit. “Felisitasies – uitstekende storie”, was in mnr. Z se kenmerkende handskrif met sy rooi pen bo-aan geskryf.

Jannie was daardie tyd in die hoërskool. Ek het hom en die ander Zaaimankinders nie juis goed leer ken nie. Weet net dat hy as student ‘n stapper van faam was op die atletiekbaan en ‘n akademiese loopbaan gevolg het wat tot ‘n vise-rektorskap by die Universiteit van Venda gevorder het. Groot lof is aan hom toegeswaai toe hy onlangs aftree.  Sy pa sou trots gewees het op so ‘n voortreflike loopbaan van Zaaiman junior.

Vandag se “felisitasies” uit Melkbos het niks met sy atletiekprestasies of akademiese loopbaan te doen nie; alles met die formidabele voetspoor van die Mzansi-koor, danksy die Zaaimans se se idealisme en toewyding.

Die beginjare was ontsettend moeilik, vertel Jannie. Hulle moes kinders tot drie-uur in die oggend by hul huise in Soweto en elders gaan aflaai – soms in die pikdonker (weens beurtkrag) en in gietende reën.  Jannie se motor was soos ‘n voorloper van die hedendaagse taxi – meermale propvol gelaai met tot nege pssasiers op ‘n slag!

Heerlike vrugte op hul arbeid het nie uitgebly nie – soos die bruisende hoogtepunt in die Royal Albert Hall-konsert en die optrede einde verlede jaar in Moskou en St Petersburg –   maar ook in die welslae van hul opheffingswerk in vele individuele gevalle.

Een koorlid, ‘n weeskind, sing bv. nou heeltyds in Duitsland.  Hy het met ‘n musiekbeurs aan die Noordwes-Universiteit musiek studeer. Daarna is ‘n beurs aan hom toegeken vir twee jaar se opera-studie in Duitsland. ‘n Mens kan dink watter emosionele reünie dit was toe hy en die koor ‘n keer saam by die RMB Starlights Classics op de Vergelegen-wynlandgoed opgetree het.

Van die koorlede kom uit die haglikste omstandighede, soos Annie Lishaba, oorspronklik van Limpopo,  wat in die uiterste armoede saam met haar broer in ‘n plakkershut in Soweto gewoon het ná haar moeder se dood.  Geld vir kos – of selfs vir ‘n kers om by te studeer – was daar kwalik.  Haar skoolwerk het daaronder gely.

Jannie en Marina het haar belofte raakgesien, vir haar beter huisvesting bekom en daarvoor betaal. Hulle het kos op die tafel gesit en haar later ook gehelp om ‘n rybewys te kry. Skielik het haar punte ‘n opwaartse kurwe getoon. Deure het begin oopgaan.  Sy het ‘n diploma in sakebestuur verwerf en begin droom van ‘n graad.

April 1980 - HvD neem by Oom Bart Zaaiman oor.

April 1980 – HvD neem by Oom Bart Zaaiman oor.

Hul reusebydrae om deur hul koor jongmense so te besiel en die beste uit hulle te haal, gaan meesal onbesonge verby. Jannie en Marina soek ook nie lof of publisiteit nie, droom net hul drome om ‘n musieksentrum in Soweto te bou. ‘n Argiteksfirma is besig om vir hulle planne op risiko op te trek en dan gaan hulle wêreldwyd begin geld soek.Saam met Jannie wonder ek tong in die kies: Sal ‘n Naspers-musieksentrum nie goed lyk in Soweto nie!

(Mnr. Zaaiman – Oom Bart, soos ons hom op ‘n bynaam genoem het – was redakteur van Die Volksblad van 1970 tot 1980.  My voorreg gewees om hom op te volg en van 1980 tot 1992 in dieselfde stoel te sit waaraan hy in die vorige dekade soveel waardigheid en gesag verleen het.)

OUPA SE AS

 Alle as is níé altyd net verbrande hout nie. Een soort word by krematoriums uit van die goedkoper soorte doodskiste plus hul inhoud herwin, en as laaste wens, by ‘n hartsplek van die bron van die verbrande materiaal gestrooi. Langs die kus, op ’n berg, in die bos, in die woestyn, op ver paaie – solank aan die bestemming vir die oorledene salige herinneringe gekleef het.

Onder die ongewone wense wat ek al gehoor het, is die wens ‘n gewese offisier in die SA weermag nogal van die ongewoonste. In sy hart het hy die pantserman gebly wat hy in sy uniformdae was. Geen begrafnis vir hom nie, was sy wens. Hy wil dat sy as uit ‘n tenk gestrooi word by die Pantserskool op Tempe, Bloemfontein.  In daardie aarde waarvoor hy so lief was, moet die ander tenks wat heen en weer dreun sy oorskot nog fyner maal en diep-diep in die Vrystaatse stof weg trap.

Sommige voorkeurbestemmings is nie net eksoties nie, maar ook avontuur­lik. ‘n Motorfiets-entoesias, begeer niks anders vir sy as nie as dat dit uit ’n valhelm in die Karoo geskud word terwyl die Harley-David­sons, BMW’s en Gold Wings volspoed bly voortdreun, en Nat King Cole sing “There goes my everything”.

’n Aardse wens van ’n Vrystaatse boer was dat sy as in sy beeskraal gestrooi word. Hy was vir sy Afrikanerbeeste liewer as vir enigiets anders. ’n Kaapse oubaas wou doodgewoon van sy voorstoep na sy ag­terplaas verskuif word, tussen die beendere van sy honde, wat ten minste lojaal aan hom was.

Die  Kruger-wildtuin is ‘n prima-bestemming.  So gewild soos die wildtuin as winter-vakansiebestemmking is, so gewild is dit blykbaar as laaste rusplek. By Lake Panic, gewilde voëlskuiling naby Skukuza, het iemand enkele jare gelede op die houtblad uitgekerf: “What I saw here you could not even imagine.” In daardie selfde hoekie het ek en my vrou, Tokkie, nogal ‘n vreemde verrassing beleef.  Noem dit ‘n “verrassing ná die verassing”.

‘n Familie (drie geslagte) het Oupa se assies op die waters kom strooi. Aandoenlike toneeltjie, al was die kindertjies allermins bedeesd by die gewyde plegtigheid. Darem ook ongemaklik intiem vir onvrywillige teenwoordiges! Later het ek gaan loer waar die kissie leeggemaak is. Die riete se blare was wit van die as.

‘n Ander bos-entoesias se laaste wens was glo om in die vlamme van ‘n vleisbraaivuurtjie in die boskampie Balule, langs die Olifantsrivier, naby Olifantskamp, op te gaan.  Sy mense het dit gerade geag om daardie aand liefs ‘n potjie te maak as om die gewone tjoppie en wors op die kole te gooi.

Die strooi van die as is nie altyd sonder insident of komplikasie nie. Die volgende het regtig met ’n oud-kollega gebeur: Oupa se as moet op Blouberg­strand in die branders gestrooi word. Al die familie is daar, in hul kerkklere. Die kerkklere blyk ’n lastigheid te wees, want dit is juis op daardie tyd hoogwater. Selfs met opgerolde broekspype kom jy dan nie ver nie.

Twee, drie proeflopies word gehou. Die langste naasbestaande kry daarop die sombere taak. Maar hy trap op ’n stuk seebamboes, struikel en verloor sy ewewig. Daar trek Oupa se laaste oorblyfsels met ’n slap bogie tot net voor sy tone.

’n Brander vat dit en begin dit uitstoot strand se kant toe, waar die verga­derde roubeklaers in stilte die seremonie sien skeefloop. Toe kies ’n meisietjie met twee bokstertjies en ’n wit rokkie met bytjies en blommetjies op die voor­pant plassend die hasepad.

“Tjips,” skree sy, “Oupa is op ons!”

O TOG, ‘N HOELA-HEUP!

Pas op vir daai heupies, Shakira!

Pas op vir daai heupies, Shakira!

Vanoggend in my eie bed op Melkbos wakker geword. Tokkie het vir my koffie en Die Burger gebring.

Niks ongewoon aan die roetine nie. Buiten dat ek oorgehaal was om in ‘n waaksaal in die Panorama Medi-Clinic wakker te word (kateter en al) ná ‘n tweede heupvervanging (hierdie keer my linkerheup). Hoe ek die mes vrygespring het, is ‘n lang en waarskynlik vervelige storie. Laat my net vlugtig verduidelik:

Om voor te begin: die pyn in die bobeen was regtig akuut. My eie diagnose was sonder ‘n sweempie twyfel: heup is kapoet.  Toe boelie ek die ortopeed se dames in sy afwesigheid om alles gereed te kry vir ‘n vinnige operasie: magtigingsnommer, X-strale, plek op die teaterlys, die lot.

Toe hy die plate Maandag deurkyk, bemerk ek in sy oë die boodskap. My diagnose was dalk nie so suiwer nie.  Toe hy die seer been die kant toe begin druk en daardie kant begin toe stoot, breek op die strenge arts se gelaat ‘n glimlag deur.  Die mes is nie nodig nie!

Sy eie diagnose klink ook maar rof:  “bursitis trochanterica”. Agter die groot woord verskuil, is egter goeie nuus. Die heupgewrig is nie verweer soos die regter-een voorheen nie. Dis ‘n kussinkie wat verskriklik ontsteek is. ‘n Redelik algemene toestand. Die behandeling behels pilletjies en dalk later ‘n kortisoon-inspuiting.

Natuurlik is ek ietwat verleë oor my oorhaastige leke-diagnose en premature voorspooksels.  Maar die koffie uit ons eie kombuis het darem vanoggend vorentoe gesmaak, hoor!

Ewenwel. In dr. Jan van Elfen se naslaanboek “Dokter in die Huis”  het ek toe oor bursitis gaan nalees . Kom in die skitterende mediese boek nogal heelwat te wete wat my gebrekkige kennis oor skete en kwale verryk.

Ek lees bursitis van die skouer word soms “gooiskouer” genoem. Hoekom? Dit kom  algemeen by spies- en diskusgooiers voor. (Genadiglik was gewigstoot op skool my enigste veldnommer).

Bursitis oor die patella (die knieskyf)  word “huishulpsknie” genoem.  Oorspronklike naam maar oeps!  Kom seker uit die dae van vloerpolitoer in ronde blikke.Ek onthou hoe huishulpe die blokkies in ons huis op Klerksdorp nog op die knieë spieëlblink moes vryf. Sou daardie konnotasie in die moderne tyd aanvaarbvaar wees? Of bespeur ek dalk ‘n rassistiese geurtjie?

Terug na Van Elfen. Bursitis oor die uitsteeksel van die tibia (skeenbeen)  word “predikantsknie” genoem en die oor die elmboog “kroeg-elmboog” of “studente-elmboog”, lees ek.   Eersgenoemde is klaarblyklik ‘n stigteliker vorm van die aandoening; een wat selfs as aanbeveling vir die lyer kan dien. Laasgenoemde kan jou op sy beurt in bepaalde omstandighede nogal in die verleentheid stel.

Haas my dus om te meld dat, ondanks heelwat oefening,  my elmboog nog een honderd persent funksioneer.

Heeltyd wonder ek: wat sou ‘n mens my soort  “bursitis”  noem – die “bursitis trocanterica” of,  pleinweg,  sommer bursitis van die heup?   Die vergange era van die hoela-hoep kom by my op.  Dalk ‘n “hoela-heup”?  Hou nogal van die alliterasie.

‘n Byderwetser naam sou seker te vinde wees in die buikdansgier wat die wêreld so beet het. Lees bv. op ‘n Nederlandse Googleblad: “Hierdie liefhebberij van sterren is een internationale hype geworden. En waarom ook niet? Buikdansen is geweldige lichaamsbeweging en is een kunst die iedereen kan beoefenen en zelfs, als je tijd en geduld hebt, perfectioneren.”

‘n “Shakira-heup” dalk, n.a.v.die groot eksponent van hierdie vreemde aktiwiteit?

Een kyk na ‘n Shakira-video is genoeg om ‘n mens te oortuig van die toepaslikheid van die naam.  Hoe hou jou trochanterica dit as jy jou heupies so woel, wikkel en skarnier?  Nee, Shakira en haar dansgenote moet ongetwyfeld die laaste een bursitis-kandidate wees.

Daar en dan besluit: geen buikdans vir my nie. Een “hoela-heup” in ‘n leeftyd is vir Van Deventer meer as genoeg. Sien nie kans vir ‘n “Shakiraheup” boonop nie!

 

 

KOERANT-KAPELAAN

18222418_10155979649230190_1898419083077702068_nDie kapelaan van die Volksblad – so het ek in die jare 80 die wellewende leraar met die permanente glimlag, die flink humorsin en die mooi gemoduleerde stem gedoop.

Die foto van ds. Johan Lombaard is by my 50ste verjaardag by ons huis in Van Schoorstraat, Bloemfontein, geneem. In die glasies is …. water!

Ds. Johan Lombaard wat Donderdagnag in die geseënde ouderdom van 89 oorlede is, was ‘n man van wie jy dadelik gehou het. Hy het onmiddellik jou respek afgedwing.  Hy was ‘n jare lange medewerker van Die Volksblad, eers as skrywer van Saterdag-hoofartikels en later na prof. Pieter Potgieter, moderator van die algemene sinode van die NG kerk, as skrywer van die oordenking, die Stille Uur. 

Sy  “kapelaan”-status  het hy ook om ‘n ander rede verwerf,.  Hy was vir hierdie redakteur ‘n altyd beskikbare bron van wysheid oor ingewikkelde eties-morele of kerkkwessies, en altyd gewillig om in huweliksintriges van jonger kollegas konstruktief in te gryp.

Dit was ‘n voorreg om hom en Estelle as vriende te kon reken en tradisioneel op 26 Desember, op haar verjaardag, onder die groot boom in hul tuin saam te kuier. Hy het die Van Deventers die spesiale guns gedoen om ons dogter, Marisa, en Brent Claassens by Oude Libertas in die Kaap in die huwelik kom bevestig, en ons Kaapse vriende kon nie uitgepraat raak oor die innemende dominee uit Bloemfontein nie.

Ds. Johan was moderator van die Vrystaatse sinode van die NG kerk. Na sy aftrede was hy, soos verskeie ander dominees, ‘n suksesvolle eiendomsagent. 

* Die beroep van eiendomsagent moet die een of ander bekoring vir afgetredenes inhou. Drie vriende uit die jare 80 in Bloemfontein het na lang loopbane in ander beroepe as eiendomagente presteer. Twee was predikante, nogal moderators: prof. Pieter en ds. Johan.  Die derde was Andre Ebersohn, onderwysleier en Sukovs-baas. Bekendes se vroue wat as eiendomsagente gaan werk het, sluit in Ema Strydom (Steve Strydom se vrou) en Sanmarie Cronje (Hansie se ma).