VYFTIEN BOTTELS BRANDEWYN

Die yslike koek. Die meisietjies is Mariëtte Brummer (4) en Elindi van Rensburg (5), bure van ons se dogters.

Die yslike koek. Die meisietjies is Mariëtte Brummer (4) en Elindi van Rensburg (5), bure van ons se dogters.

Gesondheid! So kon jy iemand toeroep wat dertig jaar gelede, op 2 Mei 1987, by “die grootste verjaarsdagparty wat Bloemfontein nog gesien het” ‘n stukkie vrugtekoek in die mond gesit het. In daardie koek was 15 bottels brandewyn (geen tikfout nie!).

Die brandewyn-volume klink dalk ietwat ruim. Onthou, dit was nie sommer ‘n doodgewone koek nie. (Die) Volksblad se Kunsmark in Koningspark langs Loch Logan het sy vyfde verjaardag gevier. Dit moes behoorlik gedoen word.

Die mark was immers ‘n hoogtepunt op die Rosestad se sosiale kalender: ‘n geleentheid vir oud en jonk, kunstenaar en kunsliefhebber, ‘n dag elke maand wat deur niemand gemis word nie.

Op Kunsmark-Saterdag het gereeld meer besoekers na Koningpark gestroom as smiddae na die rugby in die Vrystaat-stadion. Besoekers het per bussie van die platteland gekom, Verkeersknope was algemeen. ‘n Gratis pendeldiens is deur die Bloemfonteinse munisipaliteit verskaf.

Die fees van 2 Mei 1987 was nogal iets om oor huis toe te skryf.

Vrolike musiek is verskaf deur die Sukovs-orkes (die Radeszky-mars, Du kannst nich treu sein, Don’t cry for me Argentina en ‘n hand vol ou treffers) en die sangpaar deur Philip en Ella Kotzé. n Sjarmante teetuin is met die hulp van Tafelronde en die O.V.V. onder die groot koeltebome vir eregaste aangebied.

Duiwe is losgelaat. Die feesrede is gelewer deur die Administrateur, Louis Botha, wat sommer sy kunstalent ook uitgeleef het op ‘n reusedoek wat deur die Vrystaatse Technikon vir alle aspirant-kunstenaars opgerig is.

‘n Span matriekmeisies van die Sentrale Hoërskool het mandjies vol koek aan elke besoeker bedien. ‘n Jonger span het met lekkergoed vir die kinders rondgeloop. Almal kon proe. Duime het na bo geskiet. Dankie, het die dankbare ontvangers beduie, dit smaak vorentoe!

Om van so ‘n koek te droom, is natuurlik een ding; om die droom te verwesenlik iets anders. Op my vrou, Tokkie, organiseerder, en haar gedugte Kunsmark-span, Marietjie Gericke, Henriette Anderson (nou Loubser, redakteur van Huisgenoot) en wyle Jan le Roux, het allerlei uitdagings gewag.

Die eerste vraag was: Waar kry ons ‘n resep? Christel Erasmus van die SA Droëvrugteraad (nou van die Paarl) het geesdriftig sommetjies begin maak. Hier is haar volledige resep: 70 kg koekmengsel, 30 kg meelblom, 15 kg suiker, 60 dosyn eiers, 15 bottels brandewyn, 18 kilogram botter, 15 kilogram kersies, 9 kilogram neuter.

Vraag twee: Waar sou groot genoeg panne vandaan kom? Gelukkig was Tempe by Bloemfontein destyds ‘n reuse-basis vir dienspligtiges. Ja-nee, hulle sou hul panne graag vir ons leen.

Wie sou bak en waar? Die Pick ’n Pay–hipermark was bekend om sy fyngebak. Sy bakker, Peter Steinberg, was dadelik vuur en vlam. Hy sou dit deurnag doen in die winkel se reuse-oonde. Twaalf koeke is gebak.

Wat gaan die hoop bestanddele kos? Die hande het oopgegaan. SA Sugar Corporation het die 15 kilogram suiker gegee. Banana Distributors het die 60 dosyn eiers bygedra. Van Sacca het die 18 kilogram botter gekom en van Star Foods die 9 kg neute. Dalk was daar meer skenkers. Onthou, dit was 30 jaar gelede.

Skilderye langs die visdam.

Skilderye langs die visdam.

Vervoer kon ‘n turksvy wees. Geen probleem nie, het Oranje Toyota dadelik laat hoor. ‘n Hi-Ace se sitplekke is uitgehaal om vir die twaalf koeke ruimte maak. Die koeke was so onhanteerbaar groot dat dit in twee gesny moes word om te vervoer.

Selfs Sarie was daar.

Selfs Sarie was daar.

In ons kombuis in Genl Van Schoorstraat het Tokkie, Rina le Roux, Annette van Rensburg en Alida Fourie porsies gesny totdat hul vingers kramp. Twee oumas, ons eie Ouma Marietjie van Wyk en Annette se Ouma Henna Nel, asook die huishulp Miriam Maarman is ingespan om die koeke uit die eetkamer aan te dra – hulle was die “runners”, vertel Tokkie.

“Fantasties! Pragtig! Wonderlik!” het Günther Brozel, wynmaker van Nederburg, die Saterdag ekstaties uitgeroep. Selfs die vrouetydskrif Sarie het uit die Kaap kom kyk en entoesiasties berig oor die “belewenis” van daardie laatsomeroggend in Koningspark.

* In Tokkie se besit is nog kaartjies wat sy in die 80’s by een van die kraampies gekoop het. Bedink die verrassing wat dit vir Michelle le Roux (nou mev. Marais) was om op haar 50ste in 2015 ‘n gelukwensing te ontvang op ‘n kaartjie wat sy dertig jaar gelede op die Kunsmark aan “Tannie Tokkie” verkoop het!

TWEE TAMAAIES IN TANDEM

Vorstelik in Tafelbaai.

Vorstelik in Tafelbaai.

‘n Bruidegom loer nie met ‘n begeerlike oog vir ‘n ander meisie nie.

Jy voel half skuldig, of jy so ‘n nare, ontroue vent is, as jy van die dek van die sierlike vakansieskip die MSC Sinfonia aaneen foto’s van ‘n ander skip neem.

Maar as daardie ander skip nou die Queen Elizabeth is …

Dit was inderdaad: die nimlike nuweling in die Cunard-stal, twaalf dekke hoog en stralend van dieselfde klas en styl as Cunard se vlagskip die Queen Mary. Die Sinfonia en die Queen het op Donderdag 20 April feitlik in tandem na Walvis gevaar.

Ek en Tokkie wou nog altyd met die “nuwe” Sinfonia gaan kennis maak nadat ‘n nuwe middelstuk twee jaar gelede ingevoeg is: meer kajuite, groter speelplek, uitgebreide kuier-ruimtes. Verlede naweek het ons kans gekom.

Uit Bloemfontein het kollega Sarel Venter, ‘n skeepsentoesias soos min, laat weet dat die weelderige Queen Elizabeth, saam in die Kaapse hawe sal wees.

Al van die M1-snelweg af het ons die twee reuse van die oseaan agter mekaar in die hawe sien lê: die wit Sinfonia voor en die donkerblou Queen agter – saam amper 600 meter magistrale skip wat hoog bo die res uittroon. Eersgenoemde is een dek hoër en dra 500 meer passasiers. Laasgenoemde is egter ‘n groter, langer, ruimer en luukser skip.  Op sy dekke is die balkonkajuite ingeryg (die Queen het ook ‘n groter bemanning).

Die ideaal sou wees om die twee tamaaie skepe saam op ‘n foto te kry – ‘n geleentheid wat hom seker min voordoen. So ‘n treffer-foto sou egter net uit ‘n hoë gebou of van die seekant moontlik wees. Ek het nêrens een gesien nie.

Toe ons die middag vaar, het die son mooi op die stuurboordkant van die Queen geval. Van Deventer se kamera het bly klik.

Kort na die Sinfonia het die Queen ook hard gefluit en die waters begin klief  –  dieselfde bestemming: Walvis.  Teen nege-uur die Vrydagoggend het Tokkie op dek 8 aan die agterstewe geroep: Hier’s die Queen!  Newelagtig het die pragskip aan bakboord begin nader kom.   Van Deventer se kamera het weer geklik.

Queen kom verby.

Queen kom verby.

Van nege tot een het die twee skepe teen sowat 30 knope feitlik in tandem gevaar. Die Queen het bly inhaal – treetjie vir treetjie, het dit gelyk.  Teen eenuur is die pragskip by die Sinfonia se boeg verby.  Die kamera het  bly klik.

Met ons aankoms in Walvisbaai was die Queen reeds vasgemeer: ‘n vorstelike prentjie in die helder Namibiaanse oggendlug.  Namate die Sinfonia haar by haar staanplek inwoel, het van haar agterstewe ‘n al hoe groter stuk van die Queen sigbaar geword.  Die kamera is in die kajuit gaan haal.

Hoe Walvisbaai (en Swakopmund) se infrastruktuur die invloei van amper 5 000 passasiers – 2 600 van die Sinfonia en 2 000 van die Queen  – sou hanteer, was ‘n vraag.  In die Kaap het die swaar oggendverkeer op die M1 twee dae tevore sleg vasgeval. Maar hoede af vir die Namibiërs. Die tandem-besoek van die twee groot skepe is hanteer of dit die normaalste ding is.

Weer sou ‘n foto van die twee saam die eerste prys wees, maar weer het so ‘n kans hom nie aangebied nie.  Nie van naderby nie, in elk geval. Die Queen was om die draai van die Sinfonia as’t ware.  Eers van die strandmeer se kant af, met flaminke in die voorgrond, kon jy die twee saam inkry … amper onherkenbare stippeltjies op die horison, helaas.

Walvisbaai.

Walvisbaai.

Maar laat Saterdagmiddag is die Sinfonia eerste weg, verby die Queen in al haar glorie. In die wit kielsog van ons uitvarende skip het die Queen weer ‘n stippeltjie geword, al hoe kleiner en kleiner.  Die Queen sou kort daarna vertrek op haar volgende skof van 4 000 km na Mindelo (São Vicente).

Toe die beeld van die Queen te klein word, het ek my Canon in sy sak teruggesit.  Die onverwagte bonus van die spesiale foto-ekspedisie was verby. Die tyd het aangebreek om die aansienlike bekoorlikhede van die Sinfonia onbelemmerd te geniet.

DRIE MAAL IS “SKEEPSREG”!

IMG_5477Drie maal is skeepsreg. So lui die spreekwoord. Wel,  ek en Tokkie het nou drie maal goue bruilof gevier.

Wat die “skeepsreg” in die spreekwoord ookal beduie; ons kan gewis nou daarop aanspraak maak, glo ek.

Die eerste viering was ietwat prematuur. Op 26 Maart 2016 al het ons tent opgeslaan op die gras voor ons huis hier in Melkbos.

Ons goue bruilof op 31 Desember was een van die drie bakens in 2016 wat daardie dag  gevier is. (Die ander was my 75ste op 3 Januarie en Tokkie se 70ste op 15 Maart).

Die “tent van samekoms”, het Johan van Wyk ons tent genoem.

Op die groot dag self, oujaarsdag, het ons ‘n speenvarkie op die tafel gehad. Die Claassensgesin was hier vir die ongewone ete. ‘n Gedenkwaardige oomblik was toe Chistopher (7) se oog die eerste keer op die brosgebraaide varkie val. “‘n Wolf!” het hy dit uitgekreet.

Maar fees nommer drie – die “skeepsreg”-ene.

Wel, dit was ten minste op ‘n skip: te wete op die MSC Sinfonia op pad na Walvisbaai. Op Vrydag 21 April – 13 maande ná ons drie-baken-fees in die tent van samekoms.

IMG_5454Om 10:00 was daar ‘n kloppie aan die deur van kajuit 8152 op dek 8, die Bach-dek. ‘n Kelner in ‘n wit baadjie. Op die silwer skinkbord in sy hand was ‘n bottel Moët et Chandon, twee sjampanjeglase (vergeet van vonkelwyn!), twee glase met vars lemoensap en ‘n bordjie met ‘n croissante-keur.

Dis MSC se geskenk aan mense wat binne ses maande van hul vaart af goue bruilof gevier het. Nogal nie ‘n geskenk om te versmaai nie. Op die skip se wynlys in sy verskeidenheid sitkamers en kroegies is Moët et Chandon die duurste artikel: 70 dollar ‘n bottel!

Nietemin, ek en Tokkie het die lemoensap en die elegante croissante in die kajuit in ons alleenheid geniet. Die middag is ons met die ysemmer en ons kosbare feesbotteltjie na die Manhattankroeg op dek 5, die Beethovendek.

Die een glasie na die ander word geteug, en dit raak heeltemal ‘n okkasie toe Hermie Zietsman van die Oos-Kaap en sy vriend Charl Joubert langs ons op die bank inskuif terwyl die son begin water trek en twee nooientjies op die verhoog al hoe dromeriger sing.

Die romantiese geleentheid gaan nie ongedokumenteer verby nie. Die mooi foto hierbo van my en Tokkie met ons geskenkglasies vol Moët voor die patryspoort is deur Hermie. Sy aanspraak dat hy ‘n student in die fotografie was, word daarmee bevestig, meen ek.

Later is ons met die laaste bietjie in die bottel eetsaal toe, die Ile Galeone, ook op dek 5.

Die voggies het tot die eerste gereg gehou. Ook maar net. Maar wat ‘n spesiale aand was dit nie vir ons twee nie. Dat ons 50 jaar getroud is, sal ons ná dese nimmer kan vergeet nie.

As iemand ‘n definisie soek vir “skeepsreg” – ‘n botteltjie yskoue “Moët” skemeraand in die Manhattankroeg van die Sinfonia; dis die Van D’s se voorstel met algemene akklamasie uit Penguin Place 11.

Iets WAT-wonders

Die drie Claassens-boeties danig in hul skik met hul sertifikate.

Die drie Claassens-boeties danig in hul skik met hul sertifikate.

Die Afrikaanse woordeskat bestaan uit een miljoen woorde waarvan die meerderheid uiteindelik in die omvangryke  Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) te boek gestel sal wees.

Dis maar net ‘n baie klein-klein druppeltjie aan ‘n enorme emmer, maar my genoegdoening dat ek twee uit ‘n miljoen woorde borg, steek ek nie onder ‘n maatemmer weg nie.  Dit staan tot in my CV.

Danksy ‘n stukke flinkdink van Tokkie, my vrou, is die vier kleinkinders ook nou saam in die WAT-bootjie. Elkeen borg ‘n word op haar voorstel. Soos oupa waarde heg aan sy borgsertifikaat, het hulle ook trots hulle s’n in ontvangs geneem.

Jacob en Thomas, die tweeling, borg onderskeidelik “blinkblaar-wag-‘n-bietjie” en “jakkalbessie”, kleinboet Christopher borg “wildevy” en nefie Migael van Deventer borg die woord “spesiaal”.  Sal aanstons elkeen se storie vertel.

Oupa se woorde – indien iemand dalk nie weet nie – is “koerant” en “joernalis”.  Eersgenoemde borg ek ekslusief. Dis my woord. Myne alleen.   Vir die woord “joernalis” kan daar meer borge wees. My borgskap daarvan is nie eksklusief nie. Die woord lê my nietemin na aan die hart. As iemand my vra wat my nering was, twyfel ek nooit vir een oomblik aan my antwoord nie. Ek was ‘n “joernalis”.  Kort en klaar.

Die wete dat my verrbintenis van 36 jaar met Naspers se koerante ook in hierdie opsig simbolies verseël is, is ‘n heuglike een.

Vir die verbintenis met die blinkblaar-wag-‘n-bietjie hoef nie ver gesoek te word nie. Op ons boshuis, Tarlehoet, se werf in Sabiepark staan ‘n hele paar wag-‘n-bietjies. By die straatingang staan ‘n opgeskote een. Toe die kinders kleiner was, het Ouma Tokkie hulle altyd deur die skerp dorings laat “vang” wanneer ons verbystap piekniekplek toe.

Dan sê sy vermanend vir die boom: “Nee, boom, ons kan nie nou wag nie; ons gaan nou piekniekplek toe”. Eindelose pret is aan al die kinders verskaf, maar veral aan Jacob. Hy het gekraai van plesier en wou elke keer dat die boom hom eerste “vang”.

Op ons werf is ook mooi jong jakkalsbessies.  En by die Proteahotel by die Krugerhek waar ons altyd “roomys in die boomhuis” gaan eet, is ‘n reuse-meneer.  Die rede vir Thomas se borgskap is egter te vinde in ‘n preek van ds. Nelus Niemandt, oud-NG-moderator, in ons Skukuza-gemeentetjie se karaktervolle kerk in die personeeldorp, waar hy op besoek was.

Christopher by Wildevylaan se naambord.

Christopher by Wildevylaan se naambord.

Die leraar preek daardie Sondag boeiend oor bome en vra vir die lidmate wat hul gunstelingbome is. Thomas se hand is oudergewoonte eerste in die lug: “jakkalsbessie”.  (Sy vrymoedigheid en kennis het al R50 vir homself verdien deur in ‘n diens in die NG gemeente Welgemoed blitsvinnig ‘n ralreier as ‘n reier te eien.)

Wildevy is die naam van die straat voor ons huis waar die seuns so graag kuier. Teen die kombuismuur hang ‘n yslike kaart van Sabiepark. Toe Christopher kleiner was, moes Ouma hom telkens op die kombuiskas tel en op die kaart wys waar is Wildevylaan. As hy dit eers op sy radar het, kry hy vinnig-vinnig 154.

Migael het na my wete nie so ‘n konneksie met ‘n spesifieke boomnaam nie. Vir kinders met spesiale uitdagings speel bome en hul name nie juis ‘n groot rol in hul lewens nie. Ek vra toe vir sy ma, Mariza, om ‘n woord te kies. Sy het nie lank geaarsel nie.

Migael - borg van "spesiaal"

Migael – borg van “spesiaal”

Haar voorstel is natuurlik nie om dowe neute nie. Dit is nie net geïnspireer deur haar seun se spesiale uitdagings nie, maar ook deur Migael self en haar belewenis van hom.   Een van sy eerste boekies was deur Max Lucado met die titel “Jy is spesiaal”.

Op daardie noot: hoe spesiaal is dit nie vir hierdie oupa nie dat sy vier kleinseuns ook nou elk ‘n word in die WAT borg. Die WAT is ‘n bewonderenswaardige onderneming en hul bydrae is in hul oupa se oë nogal iets WAT-wonders.

Vier van ons spannetjie se woorde – “blinkblaar-wag-‘n-bietjie, “jakkalsbessie”, “joernalis en “koerant” – is reeds gepubliseer in die eerste veertien dele wat alfabeties van A tot Skooier strek. “Spesiaal” kom binnekort aan die beurt. Heelwat later eers “wildevy”.  Maar nou-ja, Christopher is die jongste. Hy moet maar sy beurt afwag.

WEDEROM, PROF. CHRIS!

Christopher, Thomas en Jacob in prof. Chris se kantoor. Links is die uithaler-gids, Trace Damon.

Christopher, Thomas en Jacob in prof. Chris se kantoor. Links is die uithaler-gids, Trace Adamo. 

Geen Standard & Poor kan hierdie “status” van Suid-Afrika afgradeer nie en geen All Black- rugbystewel kan hierdie stukkie nasionale trots vertrap nie. Op ekonomiese gebied moet Suid-Afrika koes vir al die “rommel”. Op die rugbyveld word die Bokke maar sleg opgefrommel. Maar op mediese gebied kan ons steeds die bors ver uitstoot.

Met prof. Chris Barnard se historiese eerste hartoorplanting amper 50 jaar gelede het hierdie ou landjie die ganse wêreld getroef. Daardie mirakel bly ‘n skynende lig vir Suid-Afrika, sy medici en sy voortreflike gesondheidsdienste.

‘n Besoek aan die “Hart-van-Kaapstad-museum” in die sierlike Groote Schuurhospitaal met sy swaar houtdeure en deftige koloniale ontwerp laat die hoogdrama van die nag van 2/3 Desember 1967 herleef.

Die toer van twee uur begin in die kamer waarheen die noodlottig beseerde Denise Darvall gebring is nadat sy saam met haar moeder naby die hospitaal in die straat omgery is. Dit eindig in die twee buur-teaters waar dr. Marius Barnard, jonger broer van prof. Chris, haar hart met haarfyne sinchronisasie verwyder het, en die beroemde hartdokter self die hart onmiddellik in Louis Washkansky se borskas oorgeplant het.

In die teater.

In die teater.

Om die operasietafels staan die teaterspanne in hul uniforms om die bed of gebukkend voor delikate toerusting soos daardie tyd se hartlongmasjien, ‘n geskenk van die Amerikaanse universiteit waar Barnard st Ph.D in twee jaar verwerf het pleks van die gewone ses. Die ontvanger van die hart se naam en besonderhede staan groot op ‘n swartbord geskryf – nes daardie epogmakende nag. Alles lyk spookagtig werklik.

Die horlosie teen die muur in die Charles Saint-teater staan op twee minute voor ses die Sondagoggend. Dit is die oomblik toe Washkansky se nuwe hart ná ‘n derde skok vanself begin klop het. Vir ‘n oomblik was almal stomgeslaan, vertel die uithaler-gids, Trace Adamo. Die volgende oomblik het Christiaan Neetling Barnard, sendelingseun van Beaufort-Wes, die verwondering van almal verwoord: “God, dit gaan werk!”

Die geleide toer sluit in ‘n treffende huldeblyk aan die Darvalls in die herskepte slaapkamer van Denise met die outydse meubels, asook haar geliefkoosde langspeelplate op een bed uitgestal – sy was lief vir operamusiek – en ‘n gunstelingpop uit haar kinderdae op die ander. In die herstelproses het ‘n poppemaker glo groot geskrik toe twee swart inktrane onverwags uit daardie pop se glasoë biggel. Maar ek gaan nie daardie storie verklap nie …

In ‘n “laboratorium”, wat besoek word, lê die model van ‘n hond met ‘n oop borskas op die operasietafel oopgespalk. Hier is die ingewikkelde tegnieke oor jare op 50 honde verfyn.

In prof. Barnard se kantoor sit ‘n beeld van die beroemde man in die snyerspak agter die lessenaar, telefoon in die hand – so uitgeknip hy dat jy jou moet keer om nie hoflik vir hom  “goeie dag” te sê nie

In die kamer waar die 54-jarige Washkansky 18 dae geleef het voordat hy aan longontstekening gesterf het, loer sy een voet onder die laken uit. ‘n Slapband van Louis Lamour  lê oop op die beddeken. Tipiese hospitaaltoneeltjie. Die skenkerhart in sy borskas het tot op die laaste sterk bly klop.

By Die Burger se voorblad.

By Die Burger se voorblad van daardie dag. .

lDie museum se mure is versier met honderde foto’s, geraamde koerantvoorblaaie en briewe van lof en kritiek, ook van kinders. ‘n Mens mis die mure vol internasionale eerbewyse wat te sien is in die Chris Barnardmuseum op sy geboortedorp Beaufort-Wes (waar hy ook begrawe is). Al oplossing is om albei te besoek!

Omtrent geen aspek van die eerste hartoorplanting word nie aangeraak nie. Trace, die gids, praat ingelig en gesaghebbend oor die morele en etiese aspekte, Chris Barnard wat hom so laat meesleur het deur die genot van sy nuwe roem, sy liefde vir mooi vroue en sy eensame dood in Ciprus, Griekeland, op 2 September 2001 weens ‘n akute asma-aanval.

Sy ken haar storie en kan op haar voete dink. In ons groep is bv. ‘n Poolse egpaar. Vir hulle het sy die storie van die narkotiseur dr. J. Ozinsky, ‘n landgenoot. Wanneer prof. Chris se berugte humeur uitbars, het Ozinsky eenvoudig gemaak of hy hom nie verstaan nie. Die twee het uitstekend klaargekom.

Die kleinkinders was geboei deur haar aanbieding van stof wat hulle basies reeds op skool geleer het, maar sonder die emosie, Trace se entoesiasme en haar onverbloemde trots as mede-Suid-Afrikaner van die hart-pionier. Ek ag haar hoog, in dieselfde klas as top-gidse wat ek op internasionale reise teëgekom het – o.m. op die eiland Malta.

Aan die stukkie mediese geskiedenis het ek my eie herinnering. Op Maandag 4 Desember 1967 was ek in die hoofsubredakteurstoel van Die Volksblad in Bloemfontein toe die byna ongelooflike storie hom begin ontvou in kopie deur hoofverslaggewer Harry Shaw wat van ons susterskoerant Die Burger bly instroom het. ‘n Geraamde voorblad van Die Burger van daardie dag hang teen die muur.

Ek dink ons het self ‘n skitterende voorblad gehad in die verre Bloemfontein. Sou dit sonder skroom vir die museum aangebied het. Wat ek liewer nie sal aanbied nie, is ‘n kort grafskriffie vir prof. Chris Barnard in my boekie met hekelversies, Polisie, polisie, ons reënboog is geroof, wat in 2003 verskyn het.

Die versie lui eenvoudig:

Ook maar mens, ook maar lus,
Met dié kort grafskrif,
Sê ons: tot siens, prof. Chris!

ALTYD IETS NUUTS UIT DIE BOS

'n Stukkie kameelperd vir 'n peuselhappie.

‘n Stukkie kameelperd vir ‘n peuselhappie.

Ons luiperds het nou name: Mandleve en Shlarulini. Mandleve is ‘n dominante mannetjie in die Sabi-Sand en Shlarulini is sy wyfie. Die twee het Sabiepark ge-annekseer as deel van hul gebied en kom nou enige tyd van die dag of nag op inspeksie in hul “kolonie”.

Groter versigtigheid is deesdae die wagwoord, veral as jy gaan stap. Selfs Tokkie het haar laat oortuig om sekere roetes liefs te vermy en my Jan Scholtz-kierie op haar alleenwandelinge saam te vat.

Drie vlakvark-wesies is altyd op ‘n bondeltjie naby die kantoor. Dat hulle so moederloos groot word, herinner jou telkens aan die konstante luiperd-gevaar vir mens en dier.

Enigste eie roofdier-ervaring van die somervakansietjie in Sabiepark was egter met ‘n “roofdier” van ‘n heel ander aard: gelukkig net met een van die sogenaamde “Vyf Kleintjies”: die mierleeu.

Mierleeu in 'n ander gedaante.

Mierleeu in ‘n ander gedaante.

Voorheen het ek die mierleeu net as die larwe geken wat met sy plat, vet lyf in sy tregtervormige putjie in die sand skuil, ander insekte met sy twee lang kake gryp en blitsvinnig die grond intrek. Nou het ek ook met die volwasse lepelvlerkie-mierleeu kennis gemaak.

Elke aand het ‘n paar by die stoeplig kom rondfladder. Die volwasse knaap lyk soos ‘n naaldekoker of waterjuffer met ‘n lang, skraal lyf en vier lang rafgfyne netvlerke. Hy is maar lomp en vlieg baie swak en rukkerig. Die deurskynende vlerke met jul kolpatrone verleen egter aan die insek ‘n sekere elegansie.

‘n Nuwe voëlgeroep (vir my altans, nie vir Tokkie nie) het die bekende eentonige doe-doe-doe-deuntjie van die groenvlerkduifie onderbreek. Dit is die harde, helder gefluit van die baardwipstert.

Die baardwipstert se roep bestaan uit ‘n reeks strelende frases wat elk drie of vier keer herhaal word, met heelwat variasie. Sommige frases styg in ‘n crescendo. Newman beskryf dit in Tokkie se veel gebruikte voëlboek meesterlik soos volg: “piee piee terr triee .. tsjieroee tsjieroee tsjieroee …. wietsjoee wietsjoee wietsjoee … tirroee tirroee tirroee … piee piee piee piee … tsjoe-iet tsjoe-iet tsjoe-iet.”

‘n Aand of twee voordat ons weg is, het ons die bekende duet van gevlekte ooruile duidelik in die nagstilte gehoor. Die mannetjie se diep “whoeee” word deur die wyfie se sagter “hoe” beantwoord (met of sonder vraagteken – ek weet nie. )

Naguiltjies se pragtige sang het amper elke nag opgeklink; uiters welkom nadat hulle ‘n ruk lank doodstil was.

Op die werf, tussen die aalwyne by die seuns se badjie, staan nou ‘n klein paddaboompie. Dis ‘n geskenk van broer Cules-hulle. Hoop die boompie oorleef en begin kort voor lank die groterige leeragtige vrugte lewer waar die ryp geel pulp deur mense, ape, bobbejane, renosters, neushoringvoëls en witoorhoutkappers geëet word. Laat ons ook hoop die vrugte lok eerder voeëls as ape en bobbejane!

Kyk daardie tande!

Kyk daardie tande!

Hoeveel rosyntjiebosse – reuserosyntjie, vaalrosyntjie, witrosyntjie en ritse ander gwerias van onbekende identiteit – op Tarlehoet voorkom, is onbekend. Dit sou ‘n reusetaak wees om te tel. Een ding weet ek: ná goeie reën in Januarie tot Maart is daar hope meer as voorheen. Oral beur ‘n nuwe rosyntjiebos of kruisbos boontoe.

Nog ‘n nuwigheid is natuurlik die stories wat na vore begin kom oor al die beroemde besoekers wat die Williams-Jonese na 250 saamgebring het: J.K. Rowling, Roger Moore en selfs dalk prinses Diana (vorige blog).

Wat elke keer ‘n somerbesoek kroon, is natuurlik die swembadjie. In daardie verfrissende water het ek en Tokkie die drie weke geboer, sonder wroeging oor die waterskaarste in die Kaap. Jy hoor dan die Sabie in jou ore druis!

Die geswem eerste ding elke oggend en laaste ding elke aand – so saam-saam met twee waterskilpadjies in die watergat – het ons selfs die pyn van die eerste dag se batterykrisis laat vergeet. Die ses nuwes en die nuwe reguleerdertjie werk in elk geval kookwater. Moet ook teen daardie koste (amper R15 000)!

Ompad na Tshokwane.

Ompad na Tshokwane.

Wat die Wildtuin betref, was dit ‘n openbaring om van die ompaadjie af die enorme skeur in die aarde gade te slaan weens die Mantimahledam wat weggespoel het halfpad tussen Skukuza en Tshokwane. Naby die Skukuza-gholfklub het leeus ‘n groot kameelperd platgetrek. Ons het hulle nie daar betrap nie. Vier hiënas het egter behoedsaam uit die bos gekom op soek na ‘n laaste peuselhappie. Een oggend het ‘n troppie wildehonde ons by die Paul Krugerhek ingewag.

Tussen die ruie gras en bosse was dit egter nie die maklikste ding om diere raak te sien nie. Maar wie gee oor diere om as die bos so sprankel en die manjifieke veld self die oog so mildelik  streel?

(Hierbo verwys ek na die Jan Scholtz-kierie. Dis ‘n pragstuk van kiaat met ‘n swierige vlakvarktand. By Tarlehoet was die vakansie ‘n beer met selfs nog indrukwekkender tande. Jan se hande sou gejeuk het!)