‘N HUISIE VIR ‘N STORIE

IMG_5157As ek ‘n skrywer van storieboeke was, sou ons oornagtuiste in die golwende groen heuwels van Mpumalanga op Machadodorp – deesdae bekend as eNtokozweni –  gewis iewers in ‘n storie opduik.

Die huisie is ‘n doodgewone  plattelandse  plekkie met ‘n beskeie, amper armoedige, voorkoms agter ‘n ruwe sementmuur, maar so tipies van ‘n era dat jou kameravinger in elke kamer jeuk.

Van die sierlike plafon tot die breë vloerplanke, vloerlyste en vensterrame van duursame hout – Oregon-den, raai ek – was vanmelewe hoogmode.  Die ornate kaggels en ‘n Persiese mat in die sitkamer verleen ‘n waardigheid van weleer.

Van die meubels behoort ‘n kenner in oudhede sy hande te laat vryf. My keuse val op die outydse badkamerkassie, kompleet met wasskottel en lampetbeker.  ‘n Riempiesbank en die soliede bedkopstukke van toentertyd behoort ook goeie pryse te haal.

IMG_5138Die eenvoudige voortuin adem dalk selfs des te meer ‘n plattelandse geur, met sy prominente suurlemoenboom, perskebome, druiweprieëltjie en beddings met afrikaners en kappertjies.

Op die stoep het ons forelpastei saam met ‘n wyntjie weggesluk terwyl die volmaan voor ons verrys.  Die forelpastei het ons by Milly’s se padstal ‘n entjie voor die dorp gekoop. Moet dit nie mis nie. Wees by die padstal ook op die uitkyk vir Schoemans se growwe mieliemeel uit Delmas.

Die slagspreuk op die sakkie lui: So goed as die beste, beter as  die meeste. Met die aanspraak kan ek nie fout vind nie. Dis mos pap!

Die huisie staan langs die Old Mill-hotel. Sy ligging  verklaar  waarskynlik  sy ietwat pretensieuse naam, Moulin Manor. Die struktuur, toerusting  en dekor van die “manor” sal nie in elke kieskeurige  se smaak val nie. Maar daar is drie slaapkamers – ‘n dubbelbed in een en ses enkelbeddens in die ander twee –  en die beddegoed is eersteklas.

Vir my en Tokkie had die Moulin Manor by die aantreklikheid van die tarief boonop ‘n aansteeklike sjarme, al slaap ‘n mens weens die krakende plankvloere en die afwesigheid van ‘n alarm bra lig.

Die lemmetjiedraad op van die tuinmure verraai die behoefte aan sekuriteit en die polsende sjebeenmusiek twee strate hoër dra nie by tot ‘n ontspanne gemoed nie.

Die dorpie met die Portugese naam – genoem na ‘n ingenieur wat met die bou van die spoorlyn na Mosambiek gemoeid was – vertoon  maar  ‘n neerdrukkende  beeld van verwaarlosing.  Dat al die strate eens geteer was, getuig van beter dae.  Nou maak die slaggate hulle amper onbegaanbaar.  Maar o, daardie wit NG moederkerk wat vorstelik oor die dorp troon, is steeds ‘n sieraad.

IMG_5132 Die Elandsrivier vloei deur die dorp en daar is glo ‘n minerale fontein met buitengewoon helende kragte. Ek het dit nie opgesoek nie.  Kan dus niks daaroor rapporteer nie.

Hoekom juis op Machadodorp gaan oorslaap? Moeilike vraag, want ons kon gemaklik verder gery het.

Dalk lok die fontein besoekers. Die natuurskoon met heuwels, damme en wuiwende gras veral na die heerlike reën tot dusver hierdie somer kan ‘n lokmiddel vir ander wees. So ook die lewendige forelbedryf van die kontrei.

Dat die vlugtende Transvaalse volksraad in die Anglo-Boere-oorlog  in treinwaens daar ‘n tydelike vesting gevind het, verleen aan die dorp ten minste ‘n historiese karakter.

Maar uiteindeklik was die deurslaggewende rede vir  oorslaap op Machadodorp  waarskynlik eenvoudig net die ongewoonheid daarvan.  Ek wou dit nog altyd doen. Nou het ek.

Nog iets om af te tik op my lysie van slaapplekke met ‘n vreemde, nie-alledaagse  bekoring.   

“KOOS SE GEBOU”

Barnard Beukman, Johanna van Eeden, Herman le Roux en die uwe by "Koos se gebou".

Barnard Beukman, Johanna van Eeden, Herman le Roux en die uwe by “Koos se gebou”.

By my afskeid van Naspers amper 20 jaar gelede het Ton Vosloo, uitvoerende voorsitter, “opdrag gegee” dat ek na die inwyding van die Perssentrum/Mediasentrum in Aucklandpark genooi moet word. Niemand het dit genotuleer nie, en ek is nie genooi nie.

Die laaste twee dekades brand ek van nuuskierigheid oor daardie gebou  – is ten minste in ‘n sekere sin die vader daarvan. Ek het immers die grond uitgekies – dis “my plek”.  As Naspers se hoof van koerante was ek ten nouste betrokke by die projek, aan die begin in elk geval.

Die opdrag het in 1997 van Ton gekom: soek vir ons grond vir ‘n nuwe gebou in Johannesburg. Ek het Jan Malherbe, noordelike hoofbestuurder, ingekatrol.

Die middag toe hy en Johan Vosloo, bestuurder van Beeld, vir my die perseel wys (die ou Johannesburgse buiteklub) was ek in die wolke. My woorde was: As ek nou ‘n tjekboek en ‘n mandaat van die Pers gehad het, het ek die grond net hier gekoop.

Nogtans moes ek in ‘n stadium sterk walgooi.  In ‘n stadium wou die nog jeugdige Koos Bekker, nuwe besturende direkteur van die Pers, sommer daardie wonderlikse stuk grond verkoop. Sy ideaal was dat die redaksie en die rolpers van Beeld in dieselfde gebou moet wees (soos by Die Volksblad) – waarmee ek in beginsel dit van harte eens was. In die praktyk sou dit egter beteken dat die redaksie en  advertensie-afdeling ook iewers in ‘n semi-nywerheidsgebied sou beland, wat ver van ideaal is.  Gelukkig het van die verkopery toe niks gekom nie.

Eerste besoek.

Eerste besoek.

Ook die gebou self het ‘n hele geskiedenis wat min sal ken en onthou. ‘n Komitee is saamgestel om met planne te kom. Ek was die voorsitter.  Die kontrak is aan die voorste Randse argiteksfirma Boogertman, Krige toegeken.

By ‘n voorlegging in die Kaap deur Annemarie Krige van B.K. se finale ontwerp het die nimlike Koos haar prontuit meegedeel dat dit vir hom ‘n “aaklige” gebou is. Die gedugte dame was betraand. Die uwe was ongelukkig omdat ek voorsitter van die komitee was wat vir die ontwerp moes pa staan.  Die volgende dag het ek vir my nuwe baas gaan sê ek dink sy kommentaar was rof en an die verkeerde adres gerig.

Sy antwoord was dat hy begin agterkom by die Pers praat ons nie so openhartig met mekaar soos by M-Net die geval was nie. Selfs ‘n sekretaresse sou haar daar oor die gebou kon uitspreek.

Die ontwerp van die gebou is teen groot koste ingrypend verander. Senior direkteur van Naspers Boetie van Zyl se woorde aan my was: ons kan og nie ‘n gebou opig waarvan die nuwe besturende direkteur niks hou nie.

Einde 1997 het ek my kantoordeur finaal agter my toegetrek.

Oor hoe Koos se gebou lyk, het ek baie gewonder. Niemand het die afgetredene ooit genooi om te kom kyk nie.

Na amper 20 jaar het ek iets aan die saak gedoen. Ek het vir Barnard Beukman, redakteur van Beeld, laat weet ek is ‘n paar dae in Johannesburg en sal dan graag inloer. Buiten vir my nuuskierigheid oor die gebou was ek darem self ook ‘n Beeldman.

By Beeld was  ek van 1974 tot 1977 die eerste nuusredakteur, en daarna assistent- en senior assistent-redakteur. In 1980 het ek redakteur van Die Volksblad geword. Albei die koetante is na aan my hart.

Kan dankbaar rapporteer dat ‘n uitnodiging vinnig op pad was. Op Donderdag 9 Maart het die eerste keer by die voordeur van daardie imposante gebou ingestap.  Barnard het omtrent ‘n rooi tapyt vir my en kollega Herman le Roux uitgerol. Johanna van Eeden, hoofredakteur van Media24 se koerante, en Marga Ley, ‘n senior redaksielid van Netwerk24 (voorheen van Beeld), het hulle by ons aangesluit vir ‘n besigtigingstoer en ‘n gesellige middagete. Oral is foto’s geneem.

Die ou gebou in Millerstraat, Doornfontein, waar Beeld in September 1974 die eerste lewenslig gesien het, was ver van deftig. Hierdie nuweling is in ‘n ander klas – ‘n indrukwekkende plek met elke moderne gerief.

Dit tref net dat die plek so stil en leeg is. Koerante moet deesdae met dramaties minder mense oor die weg kom as in ons “goue era”. Jy mis die geroesemoes en beleef die gebou, ondanks al die natuurlike lig, as byna somber.

Hierdie gryse veteraan is nietemin sy noppies dat hy uiteindelik die knop  deurgehak het om weer ‘n voet op daardie boomryke stuk aarde te sit wat in 1998op sy aanbeveling van die Johannesburgse Buiteklub aangeskaf is.

“Hennie se grond” was ‘n goeie koop.

 

VOLBLOED-VOLKIE VIR ALTYD

Formeel, voor Volkies.

Formeel, voor Volkies (plus drie “jong” onnies uit ons era).

As ek die Volkiematrieks van 60 jaar gelede moes evalueer vir ‘n rapport, sou ek oor die simbool vir beweeglikheid (noem dit ons “ars mobilitas”) twyfel. Party is verrassend hups. Ander kamoefleer dit doelgerig, maar loop bra moeisaam.

Gelukkig vir laasgenoemde was ons 60-fees op Saterdag 11 Maart 2017 by ons alma mater op Potchefstroom oorwegend op plat aarde. Met te veel trappe klim, sou dit kon lol. Kollektiewe prestasie? Tog wel ‘n soliede slaagsyfer.

Die prestasiekurwe beur opwaarts wanneer dit by hartsake kom. Van al die soete herinneringe was dit veral daardie met ‘n romantiese inslag wat selfs die verlepste oë vrolik laat vonkel het (noem dit die “ars romantica”). In die algemeen word ‘n “cum laude” hier toegeken.

In een geval is ‘n “summa cum laude” aangewese. Johan (Blommetjie) Viljoen het vir Wena (Louw) de Kock met wie hy in standerds sewe, agt en nege gekys was, ‘n pakkie kaartjies en briefies saamgebring waarin sy in die dae van hul jonkheid haar hart uitgestort het.  Johan se jong vrou, Erika, is gelukkig ‘n geduldige eggenote met ‘n goeie humorsin.

Informeel, voor Jack Pauw.

Informeel, voor Jack Pauw.

Piet en Hettie (du Toit) Otto het ‘n matriekliefde verteenwoordig wat tot ‘n huwelik geblom het – trouens tot sommer twee huwelike! Die twee was geskei. Toe mis hulle mekaar te veel en trou weer. ‘n Tweede skoolkys wat ‘n huwelik geword het, was diê van Koos en Ina (van der Westhuizen) van Niekerk. Hul name pryk op die muur van herinnering wat helaas al op 25 (uit 81) staan.    Dit moet waarskynlik meer name bevat. ‘n Klomp matriekmaats is onopspoorbaar.

Twee flinke vryersklonge van weleer, Anton Lombard en die uwe, het voor flitsende kameras hul gades, Leonie en Tokkie, terstond omhels agter ‘n pilaar by Oom Frans de Klerk se biologielaboratorium,  nou die personeelkamer. Destyds moes ons Blommetjie en Wol Steyn betaal om foto’s van ons soenery te neem.  Ses dekades later het dit ons niks gekos nie.

En, boeta, toe die klomp die skoolsaal instap, moes jy die feesgangers soos bye sien afpyl op die hoekies onder die galery waar amoreuses in 1957 fliekaande handjies vasgehou het en so aan. Gaudeamus igitur ….

Hoekom al die Latyn hierbo: die “ars mobilitas” (kuns van beweeglikheid), “ars romantica” (kuns van die romantiek), “cum laude” (met lof) en “summa cum laude” (met die hoogste lof)?  Om ‘n uitstekende rede. Die skrywer hiervan is naamlik een van ‘n vyftal wat van 1954 saam in die Latynklas gesit het. Soos by vorige reűnies was die vyf weer voltallig teenwoordig. Die ander vier is Willem Hartzenberg (duxleerling), Ferdinand Preller, Koot Bosman en Giel de Swardt.

Sestien klasmaats het opgedaag (party was te broos om te kom – of te kort getroud met ‘n nuwe lewensmaat, soos Santjie Conradie!) Dat die Latynklas vir amper 33.3 % van die opkoms gesorg het, verdien dus gewis ‘n lourierkransie en ‘n “Laureatus”-balkie om te dra onder die lapelknopie wat ons elkeen ontvang het: 100% Volbloed-Volkie. Dit verdien ook  vermelding in hierdie blog.

Ander statistieke: dertien van die 16 teenwoordiges was seuns (amper ‘n rugbyspan), twee van die drie meisies weduwees, Wena en Bettie (Kilian) Fourie), een ‘n oupagrootjie, David (Dok) Malan en drie Oud-Wilgenhoffers uit Matieland, die here Hartzenberg, Preller en Van Aardt du Preez. Almal het die wonderlikste kleinkinders – natuurlik!

Die ou bande is vinnig heg gesmee. ‘n Toer deur die skool en koshuise het plek-plek sleg vasgeval. Die arme gidse moes meeding met die lus vir gesels. Tot hul eer was hulle tot die einde prysenswaardig lankmoedig – so ook die spyseniers wat die (heerlike) kos moes warm hou.

Wat almal verheug het, is hoe goed “ons skool” opgepas is. Nuwighede val op soos ‘n gedenktuin vir ontslape onderwysers, ‘n ouditorium waar Oom Stompie Steyn se wetenskaplaboratorium was, en heinings waar voorheen nie heinings was nie; een tot om die onderste slaapkamervensters by die meisieskoshuis Ons Hoop waar by geleentheid nagtelike drukkies gaan uitdeel is.

Maar selfs na 60 jaar (60 jaar!) voel jy dadelik weer tuis in die vertroude omgewing. Jy beleef ‘n skielike terugkeer van bruisende energie. Die lus pak jou amper om uitgelate saam op te draf op die netjiese sportvelde waar juis ‘n groot skoletoernooi aan die gang was.

Middagete was in Jack Pauw se eetsaal. Die vertrek lyk deftiger as die een waar ek en mnr. Jack Slabbert mekaar sleg misverstaan het. Kon hom nie oortuig nie van my standpunt dat ‘n krawat mos ewe goed is as ‘n das (wat aandetes verpligtend was).

Wat baie spesiaal was, is om te kon aansit op dieselfde plek waar ek in 1957 tafelhoof was – en ‘n gewilde een nogal omdat ek my porsie botter om die beurt met die ander tafelgenote gedeel het. Het toe al my brood droog verkies. Ja, botter was destyds ‘n kosbaarheid en die spyskaart heelwat minder aptytlik as vir hierdie spesiale ete.

Jy roep die bakke stampmielies en hopies geel pampoen in herinnering terwyl die kelners tussen die opgetofte tafels beweeg met die wittetjies en die rooi. Jy onthou ook die konstante aanbod van “mystery balls” (ons naam vir frikadelle uit die Jack Pauw-kombuis).

Oor wat alles uit daardie kombuis opgedis is, het ons een aand oproerig geraak en op die B-veld gestaak. ‘n Ander keer was daar konsternasie oor ‘n minder verhewe tafelgebed van ‘n onnutsige Jack Pauwer: “Here, vergewe die hande wat die kos voorberei het.” Toe Koot so mooi vir ons bid, kon ek ‘n glimlag oor oor daardie koswessies nie verhelp nie.

Regtig buitengewoon deftig is die nuwe koshuisbadkamers. In ons tyd was dit Spartaans. Nou is dit net teëls, glas en spieëls waar jy kyk. Als skitterblink. Veral die herboude Blok A (nou Blok C) lyk ná twee jaar gelede se brand plek-plek soos ‘n hotel.  Die slaapkamertjies het gedoriewaar deure (pleks van gordyntjies wat enige oomblik oopgepluk kon word), en die matrasse is drie keer so dik soos ons klapperhaar-modelle van weleer.

Ek gaan soek die kamer wat ek en Wiekie Moolman in matriek gedeel het, en raak weemoedig. Ons vriendskap kon selfs ons verliefdheid op  een  meisie verduur. Nou is my ou maat een van die afwesiges weens ouderdomsverwante gesondheidsredes.

Die Sondag ry ek verby die statige NG Moederkerk naby die stasie, waar ek in my matriekjaar ook die “Boerematriek” afgelê het (ek was toe 16). Ons leraar was ds. Bey Naude, later so ‘n bekende nasionale figuur.  Ek ry verby ‘n “rank” van Girls High-meisies op pad na die Engelse kerk, en onthou toe die Volkiemeisies netso in uniforme gelid op pad kerk toe, ry op ry in hul wit rokkies en met wit hoede op hul koppe.

‘n Verlangende hartseer-gevoel wou-wou weer my hart binnekruip. Maar oorheeresend was die gevoel van dankbaarheid. Oor die voorreg om juis in daardie tyd ‘n “volbloed-Volkie” te kon wees, met daardie maats, daardie onderwysers … ja, selfs daardie Jack Pauw-kos.

Die woorde van die skoollied het ek op pad na Johannesburg saggies bly prewel: “En hier het ons ‘n skool gebou, die Volkskool by die Mooirivier. Al swerf ons ook die lewe in, ‘n brokkie van ons hart bly hier!”

EREWAG VAN MOEDER NATUUR

IMG_5162Ons ry onder blareboë deur verby ‘n erewag van bome wat fier in gelid staan in hul seremoniële groen uniforms, kraakvars en blink gepoets, asof ‘n hoë indoena op besoek kom.

Ons plus-minus 50ste besoek aan Sabiepark begin op ‘n heuglike noot. Waar in Augustus 2016 niks was nie, staan wuiwende grasvelde.  Waar woestyn was, bewe wit pluime in die wind.

Die groen is amper oorweldigend – en opnuut die klinkklare bewys van die wondermag van reën.  Die droogte van 2016 is stadig gebreek, met 5mm in Oktober en 67 in November. In Desember is 80 mm ontvang, in Januarie ‘n heerlike 203 en in Februarie 102. Vir Maart staan ons op 30mm.

Die dankbare veld het dramaties gereageer.   Op die syfer-riool, gewoonlik maar kaal en dor,  raak die klein diertjies weg in die welige gras. In die digte struike skuil die bosbokkies byna onsigbaar, tensy ‘n oortjie roer.

IMG_5166Van die winter se olifantskade, neweproduk van die droogte, is feitlik niks meer te sien nie.  Die wonde is deur blareverbande bedek. Die raasblare wat op Tarlehoet se werf omgestoot is op soek na kos, bereik al weer ‘n skotige hoogte, hoewel in hul nuwe gedaante meer digte bos as boom.

Van die watergatjie steek net ‘n stukkie uit. Dis boordensvol – nie nodig om die kraan oop te draai nie. Die blou swembadseil hang uier as of dit wil skeur onder die gewig van die water. Die kinders se dammetjie verdwyn in die lang gras.

Die impalalalies teenaan die stoepie spog met groter, blinker blare as ooit, die aangeplante aartappelbosie wat nog altyd maar sukkel, lyk goed op koers en die strategiese aalwyne met hul stekelrige, vlesige blare beur soos klein monumentjies bo die gras uit.

Sit op die stoep en jy hoef nie eens die ore te spits nie; van die Sabierivier se kant kom ‘n ononderbroke behoorlike gedruis van sterk waters.

Die eerste nag gewaar ons in die maanlig in die veld deur die kamervenster ‘n spierwit kol, soos sneeu.  Vroegoggend is Tokkie uit om te gaan ondersoek instel.  Dis ‘n digte stuk gras met ‘n witter saad as die res. Ook in die skemer staan dit sterk uit.

In Maart 1998 het ons Sabieparkers geword.  Op 15 Maart daardie jaar het Tokkie haar 52ste verjaardag hier gevier. Vriend en kollega Herman le Roux het in ons gasteboek geskryf:  Die bobbejane het in die sitkamer baljaar en Tokkie het met volmaan verjaar.

IMG_5175Gelukkig was op 15 Maart 2017, haar 71ste, geen bobbejane in sig nie.  Die volmaan was nie meer heeltemal vol nie. Maar ‘n fees was dit weer eens met eers ‘n ontbyt saam met vriende by die Skukuza-gholfbaan en die aand die onoorteflike wors van Boet en Jan van Witrivier op die kole, growwe mielielmeelpap uit Delmas, ‘n koue wyntjie uit die Kaap en ‘n heerlike geplas in die swembadjie onder die Melkweg en omring deur die bos.

Vir wie moet ons bedank vir die skitterskoon water in  die swembadjie ? In hierdie geval nie moeder natuur nie maar moeder Tokkie. My vrou ken die kuns met chloor.

Oor Tokkie se “verjaardaggeskenk” praat ons liewer nie. Dis ‘n dure. Ná 19 jaar het ons sonkragstelsel die gees gegee. ‘n Nuwe reguleerder en nuwe batterynes was nodig.

“Tokkie se batterye”, noem ons die nuwes. Mag dit vir my vrou van 50 jaar nog veel lig gee.

TOE SOEN EK DAAI SKYFIE

‘n Klassieke geval van die derde probeerslag gelukkig; tegelyk ‘n neerdrukkende ervaring van die abortiewe eerste twee kere se groot gesukkel. Ter sprake is die geskiedenis van my lisensieskyfie vir my bosmotor, die 1999-Honda CR-V, wat uit sentiment steeds die registrasienommer CY 7755 dra.

Kom ons begin by die gelukkige einde – toe die vriendelike dame agter die glasafskorting in Atlantis die nuwe skyfie met ‘n breë glimlag orent hou.  Vasbyt is uiteindelik bekroon. Eureka!

Dit was op Maandag 27 Januarie, ‘n volle twee en ‘n half maande nadat ‘n tjek van R543,00 op 16 Desember 2016 hoopvol aan die Stad Kaapstad se Voertuig-afdeling gepos is. Waar daardie tjek ‘n laaste rusplek gevind het, weet niemand.  Al wat ek weet is dat dit die Stad Kaapstad nie bereik het nie of in ‘n snippermandjie beland het.

Nietemin, toe dit begin Februarie word sonder boe of ba uit daardie oord begin ek ongemaklik raak. ‘n Oproep na 086 010 3089 bevestig my vrese: die tjek is spoorloos.

Omdat CY 7755 van 8 Maart in Gauteng, Noordwes en Mpumalanga gaan rondry – waar die metro-valke ‘n reputasie vir buitengewone onverbiddelikheid het – kies ek die “vinnige” aanlyn-opsie.  Op 10 Februarie word ontvangs van die betaling per e-pos erken. Als mooi op spoor.

Die voortgeskrewe tydperk van agt dae verloop – niks.  Nege dae verloop – niks. Na 10 dae skakel ek weer 086 010 3089.  Hou bitter lank aan.  ‘n Meisie deel die slegte nuus mee: my geld is daar maar die lisensie is nog nie uitgereik nie.  Het ek al die e-pos ontvang wat die fica-dokumente aanvra?

My moed sak in my skoene. Nog geen e-pos in dier voege ontvang nie, moet ek rapporteer.  Ek verduidelik my penarie met die besoek aan Gauteng wat steeds nader kruip en my ongeneentheid vir die las van ‘n boetekaartjie op my voorruit om elke hoek en draai.  Sy belowe om met ‘n opsigter te praat.

Toe ek die sesde keer skakel, lig ‘n hulpvaardige jong man my in:  die agterstand met die verwerking van aanlynaansoeke is geweldig.  Hulle trek nog by Januarie. Al wat hy kan adviseer: gaan staan maar in die tou by ‘n lisensiekantoor.

Wag nog twee dae – dalk beskaam die hoop tog nie – maar elke 24 uur tik ‘n dag op die kalender verby.  Besluit op Maandag 20 Februarie: doen wat jy moet doen.  Milnerton is berug vir lang toue.  Maar wat anders?

Nog ‘n ontnugtering: die plek is oorstroom, nie deur mense nie maar deur water. ‘n Waterpyp het gebars.  Kantoor is onbepaald gesluit. Ek doen elke dag navraag: Dinsdag, Woensdag. Donderdag, Vrydag.  Selle storie.

Op Maandag 27 Februarie bel ek taamlik desperaat. Nee, Milnerton is nog toe. Hulle werk daaraan.  Watter alternatiewe doen hy aan die hand?  Somerset-Wes, kom dit ná ‘n rukkie se oorweging.

Somerset-Wes, grote Griet!  Dis 100 kilometer van hier.  Twee uur se ry in kwaai verkeer. Kry ‘n kaart, sis ek deur dun lippe.

Hy kry die kaart. Brackenfell, waag hy hoopvol. Nee. Bellville? Nee. Durbanville? Nee.  Al wat dan oorbly, is Atlantis.  Ek hoor die man se geduld is so op soos myne.

Om 11:45 stap ek by die geboutjie in Atlantis in met my lang storie en dik spul dokumente.  Die ontvangs is vriendelik en die diens flink. Gaan nie se hoe lank dit gevat het nie, want netnou word Atlantis deur Kapenaars van oral en elke windrigting oorval.  Sal darem verklap: was betyds by die huis vir middagete.

Verstaan julle nou dat ek daardie skyfie gesoen het met die drif van ‘n skoolseun wat pas die plesier van daardie romantiese aktiwiteit ontdek het?!