DS. HENNIE SE LEEU

1-1-IMG_0001Nogal ‘n openbaring as jy begin sommetjies maak hoeveel keer diere in die Bybel opduik:  van die skeppingsgeskiedenis in Genesis af tot in die eindtye, soos in Openbaring aan ons voorgehou.

Diere en voëls kom in verskillende gedaantes in die Bybel voor.  Hulle was, soos vandag, deel van die alledaagse lewe van die mense in die Bybelse tye. Hulle speel ‘n rol in gelykenisse en wysheidspreuke. Hulle dien dikwels as simbole.

Iemand wat werklik die moeite gedoen het om ‘n optelsom te maak, deel mee dat nie minder nie as 55 diere in die Bybel voorkom; van die bedrywige miertjie af (wat vir die luiaard as voorbeeld moet dien) tot die magtige leeu (gedenk die Leeu van Juda) waarvan die krag, moed en onverskrokkenheid  in 69 verse vermeld word.

Melkbos gemeente moet einde Maart een van sy leraars, dr. Hennie Swanepoel, ná 11 jaar en nege maande groet weens geldnood. Ek sal die rustige, wellewende leraar onder meer onthou oor die enorme rol van diere in sy eie spirituele belewing, soos hy dit telkens laat deurskemer het.

Van die gekoer van ‘n tortelduif op ‘n strategiese oomblik, tot die seemeeue wat so sierlik op hul maaltye neerswiep, tot die dramatiese  verskyning van ‘n reuse-walvis agter die branders het ‘n diep indruk op hom gemaak. Van die kansel af het hy graag hierdie belewenisse en sy  toepassings met die gemeente gedeel.

‘n Volgende stap is om dan self ‘n bietjie te begin naslaan, en met vreugde te ontdek hoe seer diere vir Here saak maak, soos Stephan Joubert onlangs in ‘n treffende onlangse skrywe beklemtoon het.

Deuteronomium 22:6-7 bied ’n verrassende kyk op God se hart, het hy geskryf. Hier word vir die Israeliete gesê dat hulle nie voëlneste mag plunder terwyl ’n ma op haar eiers sit nie. Die boodskap is duidelik: dat dit  ons roeping is om God se hele skepping te help oppas. “Ons kan nie wegkyk as selfs die kleinste diertjies verwaarloos word nie.”

Verskeie voorskrifte om diere te beskerm kom ook in Eksodus 23 voor en die wyse Salomo vermaan in Spreuke: “Die regverdige sorg goed vir sy diere, maar die goddeloses is wreed.” (Spr.  12:10).

Op die kuspad tusen Melkbos en Blouberg is verskeie  bekoorlike baaitjies:  Holbaai, Kreefbaai, Eerstesteen …. Plekke om rustig te sit en droom terwyl die branders aanrol. Hennie was lief om  by een van hulle ‘n stil plekkie te gaan soek waar hy oor sy preek kan nadink.

Links van hom was Tafelberg en doer oor die waters Robbeneiland.  In die branders duik gewoonlik ‘n klomp seemeeue.  Soms sien jy ‘n walvis in die koue waters van die Atlantiese Oseaan spuit of spring.

Een keer het Hennie die gemeente vertel hoe walvisse hul verskyning agter die branders gemaak het presies terwyl hy Genesis 1 sit en lees: “God het die groot seediere geskep en al die ander lewende wesens waarvan die waters krioel, almal na hulle aard; ook al die voëls na hulle aard. En God het gesien dit is goed.” (Gen. 1:21.)

‘n Treffende Hennie Swanepoel-storie was oor ‘n naguiltijie – die eerste keer dat hy en sy vrou, Amanda, een in die Kaap hoor roep het. Dit was in 2014 op die duin agter hul huis.

Hy het ‘n paar jaar gelede ‘n naguiltjie-luintoon vir sy selfoon by sy broer Gustav gekry – ‘n herinnering aan Sleepy Hollows, die plek waarvoor hy so lief was. Die Swanepoels het ‘n paar nagte daar vertoef en die naguiltjies het die besoekers heeltyd vermaak.

Toe sterf Gustav een middag in ‘n motorfietsongeluk, en daardie nag roep die naguiltjie op die duin.

‘n Ander diere-vermelding in ‘n preek was later in ons gemeenteblad, Die Visnet (nou saliger), onder die opskrif: “Gebed vir ‘n maanhaar”.  Dit handel oor ‘n wildtuinbesoek van die Swanepoels in die winter van 2014.  Nadat hulle op Onder-Sabie gebraai het, het hy ‘n lied op sy selfoon gespeel wat die hele dag in sy kop gemaal het: “Who is worthy to open the scroll, only you Lion of Judah ….”

In sy hart was die gebed: “Ag Here, ek wil so graag ‘n leeu sien. Maar nie ‘n leeu waar ‘n klomp karre ophoop nie, want ek sien hulle nie lekker as hulle so ver is nie.”

By die Nyamundam het Hennie en Amanda ‘n halfuur sit en wag vir ‘n visarend om te roep. Hulle het deur die dag 19 ander visarende gehoor en nommer 20 sou dit mooi afrond. Maar hulle sê vir hulleself: “As hy nie op die kop vyfuur geroep het nie, ry ons.”  En hulle voeg toe die daad by die woord.

Op die laaste kort skof van die dam na die hek, toe Hennie al begin hoop opgee het oor ‘n leeu, breek eindelik die groot oomblik aan. “Leeu”, sê Amanda  saggies.  Daar kom meneer toe grasieus aangestap: ‘n groot maanhaar.  Hy stap voor hulle oor die pad.  Niemand anders is in sig nie.

Wat ‘n bevestiging, sê ‘n dankbare Hennie.   As hulle ‘n minuut voor vyf of ná vyf van die visarend weggery het, het hulle die leeu nooit gesien nie. “So werk die Here.  Hy gee dinge soos en wanneer Hy wil.”

Naskrif: Die foto is van ‘n veel jonger Hennie Swanepoel, soos hy verskyn het op die omslag van sy CD “Anderkant”. Dit bevat ‘n dosynstuks gospel-liedere met woorde en musiek deur die sanger self.  Soos ek Hennie sal onthou vir sy dierestories, sal ander gemeentelede hom dalk onthou vir sy kitaar en rustige tenoorstem of as lid van ons gemeente se eie “drie tenore” saam met sy mede-leraars Marius Falck en Kenny Pritchardt.

DIE PRYS VAN ‘NAAM

Ons name het ons gister geld gekos: R120 vir my en R120 vir Tokkie. By ons kerk, die NG kerk Melkbossstrand, was dit “naam-Sondag”. Vir elke letter in jou naam moes jy R10 of R20 opdok, mits jy natuurlik wou saamspeel.

Die Van Deventers het gekies om vir die goedkoper opsie,  Hennie en Tokkie,  te gaan,   nie vir vir die duurder Jakob Hendrik en Gesina Susara nie!

Het in die kerk sit en wonder wie in ons gemeente die langste naam het. Gerhardusse, Wilhelminas en so aan wemel waarskynlik onder die ouer geslag.  By die nuwe generasie kom waarskynlik weer meer byderwetse dubbelloop-name as kandidate na vore. Ek ken ‘n Cathy-Claire en ‘n Maria-Anne.

Ek glo daar is langer enkelname en langer dubbelname as die paar wat nou by my opkom?  Wat sou die langste naam in Afrikaans wees?

Die bring my by die onderwerp van naam-modes. Die tyd vir geleentheidsname soos die 1936-model Ossewania Kakebenia is lankal verby.  Ook die mode om dogters blomname te gee, soos Rosa of Petunia,  behoort tot die verlede, hoor ek.

Wonder of familiename nie ook maar een voet in die graf en die ander op ‘n piesangskil staan nie.  Ek het darem, nog ‘n kleinseun, Jacob Henry, wat so amper-amper na oupa heet. Vir Tokkie is geen Gesina Susara egter in die nageslag nie.

Trouens, ons eie dogter, Marisa, was al ‘n wegbeweeg van Maria Petronella (een ouma) en Maria Magdalena (ander ouma).

Om ou familiename teë te kom, wek nogal ‘n gevoel van nostalgie by ‘n ouer mens. Herinner jou aan iemand wat jy ken het. Vir die nuwe generasie lyk dit soms ouderwets en koddig.

Moderne name weerspieël na my waarneming meer wat ek die drie k’s wil noem: kort, kragtig, kreatief.  Mense skep graag name soos Len (weet van ‘n Len Nel) of Ros (Ros Rossouw).

Wens iemand wil laat weet wat die heersende naammode is. Is ‘n Tradisionele MANSNAAM vir meisietjies wat nou gebore word, werklik ‘n inding, soos ek hoor?

Wat is in ‘n naam, word gevra.  “A rose by any other name smells just as sweet,” sê die Engelse.  Waaraan ek ‘n hekel het, is mense wat agter sulke gesegdes skuil om slordig met name om te gaan.

Ek kom uit uit ‘n koeranteskool vir wie name heilig was. As ‘n vrou haar naam as Anna aangee, het jy haar gevra: Anna met twee n’e of Ana met een n?  Deesdae lyk dit of mense maar arrie-warre met jou naam is.  Ek is J.H. maar kry hope en hope pos vir H.J.  ‘n Vriend met die van Duvenage (sonder die h) word konstant Duvenhage (met ‘n h).

Nog iets wat my aan die goeie ou dae laat verlang.

SOOS GRAS IS ONS DAE

1-IMG1-1450032_233702740135026_871429343_n1-IMG

Toy, Naas, Jammie  – drie bure in twee maande oorlede.

‘n Sonderlinge verhaal van drie bure:

Op 24 Desember 2016 is Toy Vermeulen op Melkbos (92) oorlede. Ons was in die jare 80 bure in Bloemfontein;

Op Sondag 12 Februarie is Jammie Olivier (57) op Melkbos oorlede. Sy was 20 jaar lank ons buurvrou in die huis langsaan in Penguin Place;

Op Maandag 13 Februarie is prof. Naas Viljoen (80) op Hermanus oorlede (foto). Hy was in die jare 70 ons buurman in Bloemfontein.

Van Toy het ons by ‘n gedenkdiens op 5 Januarie in die NGK Melkbos afskeid geneem.  Hy is begrawe as politikus wat in die Vrystaat diep spore getrap het, ook as kultuurmens by uitstek.

Sy studeerkamer was sy koninkryk. In die kulturele skatkamer het ek hom besoek enkele ure voordat hy oorlede is. Hy was ‘n klassieke bibliofiel wie se boekrakke gekreun het onder sy monumentale ABO-versameling en ander Africana.  Sy kwaliteitswyne het getuig van liefde en kennis.  Sy seëlversameling was op sy dag in filateliekringe hoog aangeskrewe

Al hierdie waardevolle eiendom is geberg in kaste van glimmende dolfhout. Ook mooi hout was vir Toy onweerstaanbaar. Op sy lys van liefhebberye sou ‘n mens munte en vetplante kon voeg. Dan is dit nog onvolledig.

Onvergeetlik uit ‘n persoonlike hoek was sy buurmanskap in Dan Pienaar, Bloemfontein, in die jare ’80.  Hy was ‘n buurman wat in droogtes selfs sy boorgat “uitgeleen” het (met die tuinslang snags oor Kmdt. Senekalstraat gespan) en boonop altyd ‘n noodpakkie Rembrandt Van Rijns in sy boonste laai gereed gehou het vir ‘n skelm dampie.

Buurvrou Jammie, vrou van Kosie, se gedenkdiens was  vandag om 12:00 uit ‘n stampvol NGK Melkbosstrand. Soveel motors het ek lanklaas, indien ooit, op die kerkterrein gesien. Haar dood op 57 was ‘n reuseskok vir die gemeenskap. Ook vir haar bejaarde buurman.

As ‘n mens 76 is, word die gereelde begrafniskennisgewings, gedenkdienste, teraardebestellings van vriende en kennisse ‘n ongemaklike werkllikheid. Jy ontwikkel ‘n sekere gehardheid wat jou in staat stel om dit filosofies te aanvaar en te verwerk.

Maar dan sterf iemand soos Jammie heel onverwags: sprankelend, lewenslustig, energiek, aktief. Een wat gereeld heen en weer by jou verbygewip het in haar silwerskoon wit Mercedes. Of so dikwels voor jou verby strand toe gestap het op ‘n pas wat atlete sal bleek maak. Wat meermale saans met haar breistem gebel het om te waarsku: jy het al weer jou motorhuis se deur oop vergeet!

Jy sit skielik penorent. Jy was immers loshande die “ou man” in die buurt. Die een in die “vertreksaal”. Niks berei jou voor vir ‘n scenario dat jy nie die eerste is wat uit die klein bossie gekap gaan raak nie. Niks kan jou meer aan jou eie verganklikheid herinner as juis iets so totaal onverwags nie.

Naas was ‘n uroloog en, soos heelparty van sy mediese kollegas, lief vir skryf. Oor ‘n lang tyd het seker dosyne briewe uit sy pen in Die Burger verskyn.  Onthou hom as ‘n uiters beskaafde, belese en fyn mens. Was uiters hulpvaardig toe sy jonger buurman eendag sy voorkop teen die half-oop motorhuisdeur oopkloof.

Nogal ‘n vreemde sameloop van omstandighede, die drie sterfgevalle binne twee maande. Sommer ‘n driedubbele vermaning vir die uwe dat ons dae soos gras is …

GOODBYE, JOOST!

‘n Lewendige gesprek is op my Facebookblad aan die gang oor die bloedmin Afrikaans by Joost van der Westhuizen se begrafnisdiens – of liewer “memorial ceremony” –  op Loftus.

Die aanleiding was die opmerking:  “Miskien is dit net nodig om party mense daaraan te herinner dat Joost Afrikaans was, en – wil ek waag om te beweer – waarskynlik ook 75% of meer van die mense wat na Loftus gekom het om die laaste eer te bewys.”  ‘n Deelnemer aan die gesprek het my beskuldig: “Jy is nou net onnodig moeilik”. ‘n (Jonger) vriend van my het hom dadelik daarby geskaar: “Wragtag, ek  kon dit nie beter gestel het nie.”

Albei daardie saamgeselsers is, terloops, Van Rensburgs!  My antwoord was: “Oor my taal is ek onbeskaamd moeilik.”

Heelwat steun is darem ook uitgespreek vir die waarneming dat  Afrikaans afgeskeep is,  tot uit Hong Kong deur ‘n Suid-Afrikaner wat al jare daar woon en met ‘n Chinese vrou getroud is.  Die verdelingslyne tussen ondersteuners en kritici loop plek-plek nogal vreemd.

Vir die doeleindes van die blog bepaal ek my hier net by die kritiek.  Die kern van die standpunte/ verskonings van die kritici is die volgende:

  • Joost was ‘n “internasionale legende” met bewonderaars oral in die wêreld;
  • Britse en Australiese gaste was op Loftus teenwoordig;
  • Dit was ook ‘n “amptelike staatsbyeenkoms” met “amptelike eerbewys”;
  • Dit was ‘n “amptelike provinsiale huldeblyk” – die vriende en familie het reeds ‘n eie troosdiens gehou;
  • Die meeste van die mense wat aan hom hulde gebring het, was nie Afrikaans nie;
  • Die familie se eie pastoor was ene Neville wat ook maar net in Engels gepraat het;
  • Dis seker die TV regte wat so bepaal het vir internasionale uitsendings;
  • Suid-Afrika is ‘n “inklusiewe land”;
  • Joost het die wêreld vol gereis en sy steun is nie tot Pretoria-Wes of Orania beperk nie.

Die geldigheid van verskeie van die opmerkings kan nie ontken word nie.  Dit sou mos gek gewees het om te verwag mnr. Billy Beaumont moet sy hulde deels in Afrikaans betuig!

My opinie is elk geval nie dat die “amptelikheid” van die geleentheid, die omvang van die heldeverering vir Joost of die teenwoordigheid van internasionale gaste in die wind geslaan moes gewees het nie.  Maar werklik so oorheersend Engels?

‘n Mens kan maar net hardop wonder wat die geval sou wees as Joost ‘n Fransman sou gewees het en die “amptelike” diens in Parys in die Stadion d’ France gehou is. Sou al die Franse ter wille van die gaste net Engels gepraat het? Nie soos ek hulle ken nie.

Kan ons nie dit liewer ons uitgangspunt maak om hoflik en bedagsaam teenoor ons gaste en buitelandse bewonderaars te wees maar terselfdertyd ook die behoeftes en verwagtinge van die plaaslike (Afrikaanse) ondersteunersbasis in aanmerking te neem nie?

In die Afrikaanse pers word berig ‘n gejuig het van die paviljoen opgegaan toe Francois Pienaar in Afrikaans verklaar het: “Joost was ‘n Bul, ‘n onverskrokke Blou Bul.” Sou die spontane gejuig dieselfde gewees het as hy in Engels sou gese het: “Joost was a Bull, a fearless Blue Bull”?  Dalk wel. Ek twyfel.  Na my oordeel was in die toejuiging ook ‘n duidelike taalboodskap.

Op die argument dat dit ‘n “amptelike staatsgeleentheid” en “amptelike provinsiale huldeblyk” was,  is die weervraag: Is die staat en die provinsie Gauteng dan eentalig Engels?

Wat die buitelandse gaste betref: sou hulle nie volledig begryp het as aan hulle verduidelik is dat ‘n deel van die diens ter wille van sy herkoms en die karakter van Blou Bul-land in Afrikaans behoort te wees nie?  Of sou die trots op en sensitiwiteit teenoor die eie hulle aanstoot gegee het?  Dit sou my verbaas het.

As die opdrag van Supersport2 of wie ook al dan was dat alles moet Engels wees, waarom het Francois Pienaar (en glo ook Amor Vittone)  kans gesien om ook Afrikaans te praat?  Natuurlik omdat die behoefte in hul eie hart was en hulle (korrek) die behoefte in ander harte raakgesien het, glo ek.

Windskewe argumente wat ‘n mens die meeste laat rooi sien, is  oor  Suid-Afrika as “ïnklusiewe land”, asook “Pretoria-Wes en Orania”.

Volgens die sensus van 2011 is isiZulu die moedertaal van 22.7% van SA se bevolking, gevolg deur isiXhosa op 16%, Afrikaans op 13.5%, Engels op 9,6%, Setswana op 8% en Sesotho op 7.6%.

Op grond waarvan beteken “ïnklusief” in daardie heer se oë dan die uitsluiting van Afrikaans? Hoe “inklusief” is die land  dan?

Ten slotte: die verwysing na Pretoria-Wes en Orania is in dieselfde klas die etikettering van Afrikaans voorheen as “kombuistaal”.  Dis beledigend en weerspieëlend van ‘n taalsnobisme wat, helaas, lewendiger is as wat baie mense dink.  Jammer, ek vir een weier botweg om voor sulke “superieure” Engels-aanbidders kniebuigings te doen.

Diesulkes verdien nie eens die hoflikheid en bedagsaamheid wat ek op Facebook en hierbo teenoor gaste en ‘n internasionale gehoor bepleit het nie.

MELKBOS SE EIE DICK

Ons bord is op - 15 Maart 1998.

Ons bord is op – 15 Maart 1998.

Jare lank het jy van die straat af vir Dick Turpin in sy motorhuis op die hoek van Pelican Parade en Seagullstraat, Melkbos, dag in en dag uit sien houtwerk doen. Dit was sy fabriek waar hy sy aftreebesigheid, “Knock on wood”, bedryf het. Dit was ook sy heiligdom.  Hier kon die wellewende man met die string skulpies om sy nek en ‘n welige snor sy onblusbare passie vir mooi hout uitleef.

Dick is sewe dae gelede op 3 Februarie, ‘n maand voor sy 80ste verjaardag, aan ‘n slepende longkwaal oorlede. Gister is in die NG kerk Melkbosstrand in Engels en Afrikaans van hom afskeid geneem.  Glimlagte by ‘n gedenkdiens is deesdae nie vreemd nie. Om sommer met die intrapslag in die kerk breed te glimlag, het ek by die diens egter die eerste keer ervaar.

Yslik groot tussen die blomme voor die kansel – waar ‘n geraamde foto van die oorledene gewoonlik pryk – het ‘n groot TEREGSTELLINGSKENNISGEWING van Dick Turpin gestaan. Darem nie onse Dick (gedoop Desmond nie), die berugte Richard (Dick) Turpin – die sogenaamde Highwayman – wat op 7 April 1739 in York, Engeland, aan die galg gesterf het weens ‘n misdaadrekord wat wetsgehoorsames na die asem laat snak.

Een storie is dat die ter dood voordeelde, o.m. weens perdediefstal en die moord op ‘n makker, voor sy teregstelling op ‘n oop perdewa deur die trate van York gery en sy bewonderaars gesalueer het. Ná die demonstrasie het hy ‘n uur op die galg verwyl terwyl hy met die laksmanne en toeskouers oor koeitjies en kalfies gesels (nie oor perde nie!).  Skielik het hy orent gekom en homself van die leer af gewerp. Binne vyf minute was hy dood.

Dick se Britse genant het ‘n legende geword. Sy lewe is geromantiseer op die silwerdoek, TV-skerm, in gedigte en liedjies. Baie van my generasie sal Alfred Noyes se die lang, epiese gedig “The Highwayman” onthou, met die herhalende refrein:  “A  highwayman comes riding—  Riding—riding—  A highwayman comes riding, up to the old inn-door”. Hollywood het in 1951 ‘n gelyknamige rolprent daarvan gemaak.  Jimmy Webb se liedjie “The Highwayman” is ook ná n droom oor Turpin en sy makkers gebore.

Onse Dick was ‘n Melkbos-legende uit eie reg. Nie oor pad-rooftogte op niksvermoedende reisigers nie, maar oor sy skitterende vakmanskap en sy passie vir hout. Sou graag wou weet in hoeveel huise erfstukke staan wat met liefde van Dick se draaibank in sy motorhuis-werkwinkel  kom. En vir hoeveel glad nie of te min betaal is omdat Dick so ‘n groot hart gehad het.

Die bou van die Koeberg-kernkragsentrale het die knap instrumentmaker (tool and die maker) uit Natal Melkbos gelok. Van die delikaatste masjienwerk by Koeberg was syne. Omdat sy gesin nie dadelik uit Pietermaritzburg kon saamkom nie, het sy een seun, Kelly, by sy vertrek ‘n stringetjie seeskulpies gegee.  Kelly het later in ‘n motorfietsongeluk gesterf.  Daardie stringetjie skulpe het daarna nooit van Dick se nek gekom nie.

Die man se hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Hy het eiehandig vir hom, Gloria, en die seuns ‘n huis gebou.  Dit was ‘n liefdestaak waarin hy ses jaar lank sy hart gestort het.  Sy inheemse veldtuin was beroemd en sy plate, plate vygies in blom op die sypaadjie altyd ‘n fees vir die oog. Sy motorhuis het hy ingerig as werkwinkel.  Daarin het die geur van vars hout altyd gehang. Dick was versot daarop.

In 1997 het Dick Turpin se voorreflike vakmanskap deel van ons lewe geword. Die verbintenis het begin toe ‘n droom vir my en Tokkie ná my aftrede bewaarheid is: ‘n eie plekkkie in die bos, langs die Sabierivier en teenaan die Krugerhek van die wildtuin. Ons het Ukuthula in Wildevylaan, Sabiepark, met sy gedugte knoppiesdorings, maroelas en norring ander Bosveldbome einde 1997 ontdek en dadelik daarop verlief geraak.  In Maart 1998 het ons ingetrek.

Ukuthula –  vrede van binne – was vir ons ‘n mooi naam maar na ons smaak ietwat “uitheems”. Andermansgoed.  Ons wou ons plek ‘n eie stempel gee. Die naam Tarlehoet het spontaan opgekom.  Dit was die naam wat die eerste eienaar van ons huis in Dan Pienaar, Bloemfontein, die letterskilder Bontie Bonthuys, aan sy plek gegee het.  Hy was ‘n noodwester wat versot was op Elisabeth Vermeulen se verhale uit sy kontrei.  Tarlehoet was ‘n Boesmankaraktertjie in een van haar boeke.

Die Boesmantjie, knielend met pyl en boog in die hand, is verewig in ‘n gebrandskilderde tekening op ‘n glas-voordeurpaneel, asook op ‘n stuk leiklip by die posbus.  Die vreemde naam was op ‘n koperplaatjie bo die voordeur. Bontie wou dit verwyder.  Ons wou nie; dit was die huis se naam en klaar.

1-1-IMGBegin 1998 het by ons Dick gaan aanklop om vir ons ‘n naambord te maak vir die nuwe “tuiste” wat ons instinktief geweet het so diep in ons harte gaan kruip soos die Bloemfonteinse waar ons twaalf jaar lank en gelukkig gewoon het, van ons terugkeer uit Johannesburg in 1980 tot ons verhuising in 1992 Kaap toe. Só gelukkig dat Tarlehoet gou nie meer vir ons ‘n wildvreemde Boesmantjie was nie. Dit het ‘n spesiale eie betekenis gekry: “Gelukkige tuiste”.

Dit moes ‘n mooi houtbord wees met die naam Tarlehoet, ook die adres: Wildevy 154, en die eienaars: die Van Deventers.  Dick het dadelik gesnap wat ons soek en ‘n stuk swarthout iewers in sy oorlaaide fabriek uitgetower.

Dit was ‘n aristokratiese bord wat sy plek 17 jaar lank trots volgestaan het. Die bos-elemente eis egter hul tol.  Die son bak ongenadig in daardie geweste. Ondanks gereelde opknapwerk met ‘n kwassie en dies meer het vervanging op die duur onvermydelik geword. Die huidige naambord is ‘n stoere stuk hardekool wat aan twee hardekoolstompe hang.  Dankie, Lukas van der Merwe. Dis nie so opvallend nie.  Behoort my (dalk selfs ook vir Tokkie) egter gemaklik te oorleef.

Gelukkig kon ‘n stewige stuk van die oorspronklike bord se basishout herwin word.  Dit hang nou bo die braai op Tarlehoet se stoep – plus-minus op die plek waar ‘n luiperd Caroline Pols van Nederland twee jaar gelede helder oordag verras het.

Moet bely dat my gedagtes in die kerk ietwat begin begin dwaal het. Na  Sabiepark in die verre Mpumalanga; ook na verskeie ander Dick Turpin-skeppings in ons Melkboshuis.  In ons woonkamer is drie soliede sier-rakke teen die mure: embuia, swarthout, geelhout.  Ons het ook ‘n besonderse juwelekissie in die vorm van ‘n boek van Dick se werkbank op die koffietafel in die sitkamer. Die omslag is kiaat en die bladsye jakaranda.

Dick is die man wat my statige studeerkamerstoel – geskenk by my afskeid van Die Volksblad – herstel het toe ander nie raad wis nie.  Hy het kroegstoeltjies se pote vir ons korter gemaak. Hy het houtblokkies gesaag as opvoedkundige speelgoed vir kleinseun Migael van Deventer, wat spesiale uitdagings te bowe moet kom.

Dick Turpin se nalatenskap by die Van Deventers is omvangryk en so duursaam soos sy produkte. Die kwaliteit is onbesproke. Van alles is daardie eerste naambord waarskynlik die naaste aan ons hart. Dit is op dosyne foto’s verewig. Op elke besoek is die kleinkinders by die Dick se “Tarlehoet” afgeneem – vandat hulle in doeke was.

Op 15 Maart 2017, Tokkie se verjaardag, sal ons weer in Sabiepark wees soos op 15 Maart 1998 toe ons van Ukuthula besit geneem het. Ou Bloemfonteinse vriende Herman en Rina le Roux, nou van Johannesburg, was ons eerste gaste.  Tokkie het my en Hernan gedruk: Ukuthula moet af. Dick se Tarlehoet moet op.

Die firma Van Deventer en Le Roux is die een só onhandig soos die ander, maar met ‘n hamer, skroewedraaiers en ‘n handboortjie durf ons toe groot projek aan. Om Ukuthula af te kry, is klaar ‘n gesukkel. Toe dit boortyd word, met net die ongerieflike handboortjie tot ons beskikking, wil-wil die twee “skrynwerkers” met die vyf duime aan elke hand net tou opgooi.

Rina probeer simpatiek raad gee. Herman kap egter teë: “Rina, ek doen hierdie werk al die afgelope … halfuur!” En die twee druk dapper deur. Uiteindelik is Dick se Tarlehoet op, vas aan die twee houtpale wat voorheen jare lank vir Ukuthula ‘n vaste anker was.  Ons poseer by die nuwe naam vir foto’s: ek en Herman, ek en Tokkie, Rina en Tokkie.  Met die draf ‘n vlakvark verby. Rina vat korrel en skiet – ‘n gawe soewenier van ‘n gedenkwaardige dag.

Van Deventer en Le Roux is nie min in ons noppies nie oor ‘n uitdagende taak wat bekwaam uitgevoer is. Die vierstuks kuier die aand in die swembadjie met bier en koffie. “Tokkie het verjaar en ons het in die maanskyn in die swembad baljaar.” So het Herman die geleentheid in ons gasteboek opgesom.

Sentimentele siel wat ek is, ry ek met die Ukuthula-bord  in die kattebak die 2 000 kilometer Kaap toe. Ek bel vir die vorige eienaar, die weduwee Jean Smythe, op Vishoek en sê geheimsinnig: “Ek het vir jou iets van Sabiepark saam gebring.”  “O Hennie, how nice! Come and have tea.”

‘n Gulle verwelkoming val ons te beurt. Opgewonde wil Jean weet: “What did you bring for me?” Ek haal die swaar stuk hout te voorskyn – en sien ontnugter hoe haar gesig val. “Old Mike (haar oorlede man) isn’t with us anymore,” sê sy. “Use it for firewood.”

Ons het Ukuthula toe nie opgebrand nie, wel die stuk ruwe kiaat mooi laat poleer. Dit is nou ‘n deftige klerehaak in my dogter Marisa-hulle se voorportaal – ook Dick Turpin se handewerk. Vir Tokkie het ek later net gesê: “Ek kom spook by jou as jy dit ooit met Tarlehoet doen. Maak jy dan liewer maar self die vuur!”

(Naskrif: Wat beteken Tarlehoet (Tarlehoek, of selfs Tarentaal, volgens onverskilliges wat nie twee keer kyk nie) nou eintlik?  Dit is ongetwyfeld die vraag wat ek in Sabiepark in die 19 jaar van ons verbintenis die meeste moes beantwoord.  Toemaar, tot 1980 het ons ook nie geweet nie.  Tot enkele jare gelede het ek nog nie eens geweet in watter boek hy figureer nie.   Toe hoor ek op Facebook: dis die boek “Towergoud”. Volgende gee Anschen Conradie van Grahamstad my gedorie ‘n eksemplaar present. “Towergoud” staan in my boekrak in Sabiepark. Kom lees van Tarlehoet by Tarlehoet!)