SAAM IN ‘N BUS

In langer as sewe uur saamgebondel in ‘n bussie kry die passasiers kans om hul medereisigers goed vir koddige gewoontes, geite en giere deur te kyk.

Op ‘n rit van Kaapstad na George Vrydag het verskeie van die insittendes ‘n mens nogal geboei.  Veral drie het ‘n onuitwisbare indruk gemaak: die prima donna met die slimfoon, die tante met die potplant en “Madam Matie”.

Duidelike wenner vir die boeiendste vertoning was die prima donna: ‘n  blonde jong ouma wie se vingers net stil raak  wanneer sy vir kort rukkies indut met haar gepelsde baadjie as kussing. Haar boodskap-bombardement op die seepgladde slimfoon was omvangryk.

Wat eerste van die nuwe passasier getref het, was die dralende, tranerige afskeid van haar dogter en twee opgeskote kleinkinders buite Somerset-Wes waar sy opgeklim het.  Eers later sou dit blyk dat heelwat emosie ook opgekrop het oor die bus wat laat was. Sy was ontstoke dat sy “saam met haar kinders in die son” moes staan en wag.

Die bussie het die oggend op die heenreis weens swaar reën en opdammende verkeer al ‘n uur verloor.  Daardie verlore uur was rampspoedig. Om in die Stellenbosse spitsverkeer op ‘n Vrydagmiddag verstrik te raak, is nie ‘n wandeling in die park nie. Het seker al 90 minute laat op Somerset-Wes stilgehou.

Jong ouma was net op die bus toe die vingers begin woel. Oor die kwelgeestige inhoud van haar kommunikasies is ek later deur ‘n medepassasier ingelig. Die instrument is naamlik teen so ‘n hoek gehou dat dit as’t ware teen my bron se neus druk.

‘n “Brander”-  so het sy dit in opvolgboodskappe genoem – is eers na die eienaar van die busdiens afgeblits om hom in te lig wat sy van die “treurige diens” dink.  Die “brander” is daarna ruimskoots met opgewonde vriendinne gedeel. “Reg so”, “vat hulle”, het die vriendinne se goedkeuring teruggestroom.

‘n Vriendin wat nie dadelik geantwoord het nie, is ongeduldig gekonfronteer: “Hoekom is jy so stil? Met wie praat jy so lank?”  Ons ouma is duidelik nie ‘n meisie wat ingaan vir pyn nie.

Sommer by Riviersonderend al word ‘n nuwe rede tot ontsteltenis ontdek. Ons hou stil vir verversings en so.  Van die toilette af terug bussie toe sien iemand met ‘n skerp oog net een van die kopligte brand. “Seker maar die oggend in die kwaai reën die gees gegee,” gooi die bestuurder wal. “Gelukkig darem net as die lig gedoof word.”

Weer ‘n “brander”.  Weer opgevolg met ‘n koor van ondersteuning van welmenende vriendinne.  Maar hierdie keer ook ‘n opdrag aan haar man op George: “Kom haal my op Mosselbaai, ek ry nie ‘n tree verder op hierdie bus nie.” Wat hy toe wel gedoen het – weet seker wat goed vir hom is en wat nie.

Jong ouma is in gietende reën met ‘n sierlike sprong na buite.  Die res van die reis George toe minus haar was eintlik vervelig – een lig en al.

Maar nie voor nog  ‘n stukkie drama kon sy haar ontvlugting-sprong spring nie.  Net buite Swellendam keer ‘n grimmige verkeersman die bus voor. “Jou lig is dood”.  Wonder bo wonder aanvaar hy die stamelende verduideliking.

Agterna is bespiegel dis die ouma met die slimfoon wat die bestuurder verkla het.  As ons afgetrek is, was ons natuurlik vir die nag langs die pad in die reën vasgekeer, sonder iets vir die dors of ‘n plek om te piepie.  ‘n Siddergedagte oor wat onbesonnenheid jou in die sak kan bring.

Ook vir onbedagsaamheid wil ek ‘n prys toeken. Hier was dit ‘n kop-aan-kop wedloop tussen die tante met die potplant en Madam Matie.

Laasgenoemde is een van die nuwe generasie Maties wat nie Afrikaans wil praat nie.  Selfs Mosselbaai uitgespreek as “Mosselbaai” geval haar nie.  “Mozzle Bay”, korruseer sy uit die hoogte.

Die bestuurder van die bussie het haar aangespreek as “young lady”. Dit verklap ‘n verstaanbare element van irritasie, meen ek.  Ek sou haar graag as “madam” wou aanspreek. Verbeel haar sy is ene. Het ons waaragtig op Stellenbosch tien minute op haar laat wag. Eers hoeveel selfoonoproepe later, kom sy rustig aan, klim in sonder om boe of ba te sê  (wat nog van “ekskuus”!) en strek haar slanke bene met die riempiesandale voor haar uit vir ‘n gemaksugtige res van die reis.

Sy wen die prys in my boekie. Die tante met die potplant is darem net-net geklop.  Toe sy in Bellville inklim, korrel sy vinnig waar die beste TWEE sitplekke is: die een vir haar, die ander vir haar potplant.  Eers toe sy op Swellendam afklim, kon die uwe en Tokkie gretig van die agterste bankie vorentoe skuif.  Toe was hierdie ou man se boude darem al deurgesit op daardie agterwiel, hoor.

Ek kan darem ook ‘n positiewe rapport aan ‘n mede-passasier gee. Dit gaan aan die jong man  van Hartenbos wat besef het die uitputting haal ons bestuurder in.  Hy was immers al van 06:15 op die pad en moes reën, vragmotors, dooie lig en lastige passsiers trotseer, stomme man.

Toe hy later so aan sy kop begin vat-vat, kon ‘n mens agterkom die moegheid wil-wil hom oorval.  Gelukkig sien die Hartenbosser langs hom ook die gevaartekens.  Hy trek skielik los en babbel sonder ophou.  Knap gedaan, jongeheer.

Ook punte aan die moederlike mevrou in die stoel net agter die bestuurder se stoel.  Toe die Hartenbosser op Mosselbaai afklim, grawe sy ‘n bruin kardoesie biltong of iets uit haar handsak en tik die bestuurder op die skouer: “Sit die tussen jou bene neer.”  Hy kon kou tot by George waar ons om 10: 30 aangekom het.

Vir die bestuurder was dit nog het einde niet. Hy moes nog terug Mosselbaai toe. Was seker teen middernag eers in die bed. Dan vertel hy hoe geseënd hy nou is ná vorige verblywe in die Vaaldriehoek (“kan nie jou kinders daar grootmaak nie”), Kimberley (“darem te warm”) en Bloemhof (“geen ekonomie”.)

Wonder of hy nie ná ‘n uitmergelende 16/17 uur agter die stuurwiel op die Tuinroete na die rustigheid van Bloemhof verlang nie, gebrek aan “ekonomie” of te nie!

ON-VERGEETLIKE FANIE

1-IMG_0002My swaer Fanie van Wyk wat vandag ‘n jaar dood is, het ek by sy gedenkdiens tipeer as:

Vinnige Fanie: In matriek op Bultfontein in die laat 50’s was swaer Fanie van Wyk junior SA kampioen in die 440.

Vergooi Fanie:  ‘n Keer het hy die spies so ver geslinger dat dit tussen die gewigstoters doer ver beland het. Die gewigstoot moes gestaak word totdat  Fanie klaar was.

Versamel-Fanie:   Fanie was versot op sy boeke, veral oor die Anglo-Boere-oorlog, sy bonsais, sy  skilderye, sy seëls, sy wyn, sy plate, sy knipsels oor vele onderwerpe. Hy het selfs ‘n klomp outydse penpunte (daardie wat jy in die botteltjie ink gedoop het) in sy laai gehad. Trouens, wat het hy nie versamel nie?

Vrolike Fanie –  Sy opgeruimdheid, luimigheid, spitsvondigheid, sêgoed en stories kon sekerlik nie anders nie as om die mense rondom hom op te beur.

Stand-Vastige Fanie: Sy geloof was rotsvas.  Sy kernbegrip van die evangelie was eenvouidg: Jesus het MY lief; Jesus het vir MY sondes aan die kruis gesterf; Jesus kom weer om MY te kom haal. In sy Bybelstudiekring, vir familie en vriende en vir vele ander was sy verduideliking van hierdie waarheid rigtinggewend en inspirerend.

Voorslag-Fanie:  Ná sy pa, Kotie, se vroeë dood was Fanie in Hertzogstraat, Bultfontein, die man in die weduwee Marietjie van Wyk  se huis.  Haar regterhand.  Een van sy rits take was om elke dag die koei in die meent te gaan haal en te melk.

Versigtige Fanie: Hy  het  hoogtes en allerlei ander gevare liefs vermy.  Sy hande was sopnat gesweet op ‘n rit om Chapmanspiek. ‘

Gevatte Fanie:  Sy kinders het bv. gekla hul pa gaan haal altyd die bobbejaan agter die berg. Daarop was sy raak antwoord:  As hy die bobbejaan hoor boggem, weet hy mos hy’s daar.  Wie kan stry?

Vindingryke Fanie. Op ‘n dag moes hy ‘n span “bandiete” (gevangenes) op sy dak oppas terwyl hulle verf.  Toe raak die verf op. Fanie het eenvoudig die leer verwyder en met ‘n geruste hart winkel toe gery.

Vurige Fanie:  Een nuk was dat hy nogal uitermate opgewonde kon raak. As daardie opgewondenheid uitbars, moes jy koes.  Vra maar die tuinman, arme drommel, wat op ‘n Saterdagmiddag sy besproeiing stukkend gespit het.

Vlymskerp Fanie:  Toe ek op sy sterbed praat van groet, was sy lakonieke kommentaar: “Groet? Waar gaan julle dan heen?”

Na ‘n jaar: Hoe mis ons nie al hierdie Fanies nie.

Hy was in terugskoue die On-Vergeetlike Fanie.

KONING CAMRY

1995-96_Toyota_CamryDie Camry kom terug! Baie Camry-eienaars sal vir jou sê: maar die Camry was mos nooit weg nie. Dis net dat nuwe modelle nie die laaste jare bygekom het nie.

Sou graag wil weet hoeveel Camrys is nog in Suid-Afrika op ons paaie. ‘n Mens sien amper elke dag een – almal met honderde duisende kilometers agter die blad. Wyle swaer Fanie het ook een gery. Was ‘n bielie van ‘n kar.

Het een keer gehoor ‘n Camry van die sakeman Whitey Basson – sy motor in die Baai – het al drie miljoen kilo’s gedraf. Kan nie instaan vir die storie nie.   Een veteraan met 1,3 miljoen kilometers op die klok ken ek egter goed. Was trouens al self agter sy stuur tussen Sabiepark en Skukuza-lughawe. Voel of jy ‘n skip stuur.

Die bloubloed-motor – toevallig ook blou geverf – is die boskar van oud-kollega Philip van Rensburg van Sunset Beach, Kaapstad.  Die wildtuin se omgewing is nie vir die “koning Camry” vreemd nie. Voor sy permanente verskuiwing daarheen het Philip-hulle minstens 26 keer met hom pad gevat wildtuin toe.

Die blou Camry is  ‘n 1995-model. Dit Philip se werkmotor van 1995 tot 2012. Hy het toe vir hom ‘n Lexus gekoop. In Junie 20012 het hy die Camry van Kaapstad na Sabiepark verskuif.  Sonder enige probleem hoegenaamd die 2 000 km gery.  In Sabiepark werk die ou nou vakansietye kliphard. Philip en Nance is elke dag in die wildtuin met hul reuse-lense.

Sedert 2005 het die Camry nege keer tussen Kaapstad en Sabiepark gehardloop – ‘n paar keer danksy die Nationwidedebakel.  Onthou julle nog?  Die bokkers skuld my ook nog my geld vier vier kaartjies Nelspruit toe, boonop retoer.

Ek wonder of ‘n ander motor nog op die pad is wat meer kere oor ‘n langer tydperk die Krugerpark besoek het. Sy eerste besoek was in September 1995. Daarna  tot in 2002 minstens een keer per jaar. Tussen 2002 en 2005 het Philip-hulle nie die park met die Camry besoek nie, maar weer van 2007 af – rofweg geskat sowat 26 besoeke.

Philip het vanselfsprekend ‘n baie sagte plekkie vir daai flukse staatmaker van hom.

Sal lekker wees as iemand vir ons Camrystories wil opteken. Ek dink daar is genoeg vir ‘n bundeltjie. Het een keer bv. in Weg gelees van ‘n ou wat sy aandete – die een of ander hoendergereg – onder sy enjinkap gaargemaak het terwyl hy bedags in die wildtuin wild soek.

WIE MORS WATER?

Van die arme belastingbetalers word sondebokke gemaak in Kaapstad se waterkrisis, skryf ek vandag in ‘n brief aan Die Burger.
Die volledige brief:
Tien miljoen passasiers stroom in 2016 deur Kaapstad Internasionaal se hekke, en die betrokke Wes-Kaapse minister jubel saam dat die lughawe Kaapstad “een van die mees verwelkomende bestemmings in die wereld maak”  (DB, 12 Januarie).  Toeriste sak ook Desember/Januarie op die stad toe per skip, trein en motor. Spesiale promosies word van stapel laat loop om die stad aan toeriste te “verkoop”. Konferensiegangers word kliphard wereldwyd gewerf.
Ook nie almal wat deur die poorte kom, kom net kyk, geniet en gee weer pad nie.   Bevolkingstatistieke  ken net een rigting. Dis boontoe.  Huiskopers uit ander provinsies trap eiendomsagente se drumpels deur. Informele nedersettings spring op soos padddastoele.  Skole bars uit hul nate.  Nuwe  skole, vervangende skole, ekstra klaskamers en mobiele klaskamers word aangekondig. Nog 15 nuwe skole word in die volgende drie jaar beloof.
Terselfdertyd daal damvlakke onheilspellend.  Waterteikens word, helaas, nie gehaal nie. En die arme belastingbetalers? Hulle is die sondebokke.  Op openbare TV word hulle gekastei weens hul “gebrek aan samewerking”, gedreig met hoër boetes en aangemoedig om op bure te spioeneer.
Dit is mos nie billik nie.  Is hulle dan die enigste verbruikers? Hoeveel toeriste gebruik herwinde badwater om hul toilette te spoel?  Hoeveel tel ooit ‘n emmer op, klim saam in die bad of gebruik ‘n handdoek maar ‘n week lank om water te spaar?
Ek soek nie ‘n lang lesing oor die ekonomiese voordele wat toerisme vir die stad inhou nie. Niemand is immers so dwaas nie om te pleit: Hou asseblief tog die toeriste en die nuwe intrekkers weg.
Maar almal weet mos Kaapstad is wat vars water betref, ‘n brandarmstad.  Die Moederstad kan nie sy brood aan albei kante gebotter wil he nie. Hy kan nie joelende wereldstad wees, die tienduisende besoekers juigend om die hals val, en dan oor hul waterbehoefte soos ‘n volstruis kop in die sand druk nie. Hy kan nie kop bo water probeer hou deur maar net die inwoners se krane stywer toe te draai nie.  Stadsvaders kan nie maar net bly hoop dat die liewe Vader tog sal voorsien nie.
Ontwikkeling van bykomende varswaterbronne was lankal meer as noodsaaklik. Hoe langer hierdie dringende prioriteit uitgestel word, des te groter die onreg wat teenoor belastingbetalers gepleeg word, en potensieel afgrysliker die dreigende waterkrisis wat Kaapstad onverbiddelik vierkant in in die oë staar.

‘N SIERAAD VAN ‘N MAN

Treffende voorblad van die program vir ds. Ockie Raubenheimer se gedenkdiens vandag op Melkbos. Indrukwekkende diens gewees met Raubenheimerlote oor die aardbol teenwoordig.

Treffende voorblad van die program vir ds. Ockie Raubenheimer se gedenkdiens vandag op Melkbos. Indrukwekkende diens gewees met Raubenheimerlote oor die aardbol teenwoordig.

Hoe lyk die profiel van iemand wat ‘n sieraad van ‘n mens is?

Paulus – die oorpronklike een – gee vir ons kosbare rigsnoere in sy brief aan die Galasiërs.  Sy lys kerndeugde is formidabel: liefde, vreugde, vrede, geduld vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

So ‘n klassieke bloudruk van voortreflikheid klink haas onbereikbaar. Watter gewone sterfling het al daardie eienskappe?

My kandidaat is ds. Ockie – juis die man wat 2 000 jaar later self die eretitel van Afrikaanse Paulus sou verwerf op grond van sy baanbrekersreise om die Woord  te verkondig. In niemand was Paulus se “vrugte van die gees” vir my sigbaarder nie

Twee kantaantekeninge:

  1. Ds. Ockie kon in die openbare domein met gesag oor ‘n verskeidenheid aktuele onderwerpe saamgesels.

In Kerkbode en koerante het gereeld waardevolle briewe uit sy produktiewe pen verskyn. Altyd was sy insette ‘n model van fatsoenlike debatvoering.

Een onderwerp waaroor hy hom nie onbetuig gelaat het nie, is die onheuglike sinodesitting van die Wêreldraad van Gereformeerde Kerke in Ottawa in 1982. Hy was ampshalwe teenwoordig, en het die skuldigbevinding van die NG kerk aan sogenaamde “kettery” eerstehands pynlik ervaar.

Daardie geskiedenis en die huidige uitloopsels daarvan word nie deur almal in die Kerk eenders beleef nie. Diepe dispuut en driftige debat vlam van tyd tot tyd op.

Ds. Ockie het sy eie insigte oor die meriete van die saak en oor die betrokkenheid van sekere rolspelers kristalhelder geformuleer; altyd in ‘n beskaafde,  konstruktiewe, christelike trant. Sy teenstanders is met respek behandel; hul standpunte is met oorwoë argumente begroet.  Nooit het iemand in die ander kamp dadelik verwoed op sy perdjie wou spring nie.

Veronderstel Paulus – wat self heelwat vir publikasie geskryf het – kon soos in wetenskapfiksie in die verre toekoms sien. Hy sou waarskynlik dan ook oor hierdie deug in Galasiërs 5 ‘n woordjie wou spreek.

2. Veronderstel Paulus sou selfs net vaagweg die buitelyne kon waarneem van die minsame ds. Ockie wat ons in sy herfsjare hier op Melkbos leer ken het. Dan sou hy aan die Galasiërs waarskynlik ook die een en ander oor wellewendheid wou meedeel.

Altyd vriendelik, altyd hoflik, altyd nederig, altyd meelewend, altyd met deernis,  altyd met ‘n woordjie van opbeuring, altyd met ‘n glimlag, altyd oop vir ‘n stukkie humor wat ‘n vonkel in sy eie en ander se oë bring – so het ons Melkbossers ds. Ockie leer ken en lief kry.

In Maart 2012 sou hy ons gryskoppe by ons kerkvereniging Silwerkrag toespreek.  Hy daag toe op met ’n kierie – ‘n vreemde gesig.

Dit blyk die man, bejaard soos hy is, het sy dokter se besware vriendelik maar ferm van die hand gewys, uit sy hospitaalbed opgestaan, hom – soos altyd – spiekeries uitgevat en siek-siek kom oë wys. Só lyk gedrewenheid.

Nou het ’n lang, lang seisoen van ver paaie loop, tot ’n einde gekom. Ons groet in dankbaarheid hierdie onberispelike heer en aristokraat van die kerk.  Ds. Ockie Raubenheimer, kind van die Karoo, was Galasiërs 5:22  in die praktyk – met hierdie paar kort kantaantekeninge op die koop toe.

Hy was ‘n sieraad.

(Huldeblyk by die gedenkdiens van ds. Ockie Raubenheimer in die NG kerk, Melkbosstrand, Woensdag 11 Januarie.)