WENNERS EN VERLOORDERS

En die wenner is …..?

Deesdae gebeur dit nogal dikwels in allerlei kompetisies dat die ware wenner op verdienste nie wen nie. Dalk is die wenner selfs die een wat heel laaste moes gekom het.

En wie moet ons blameer? Nie so maklik om altyd agter die kap van die byl te kom nie. Soos in Springbokrugby is hier ‘n komplekse spul verskuilde faktore in die spel.

Begin by ambisie – veral oumas en oupas, mammas en pappas en verwende bloedjies vir wie wen die alfa en die omega is. “By hook or by crook,”soos die Engelse sê.

Dan kom die stelsel. Mense stem per selfoon. Soveel per SMS.  Stuur soveel as jy wil. En die wenner is die een vir wie die meeste SMSé inkom.

Ten derde die era. Die selfoon is koning. Dis SMS en whatsapp van oggend tot aand. Vinnige vingers wat net woes knoppies druk.   Almal praat saam, speel saam, klik saam. Koste is bysaak.

Waaroor skryf ek? Oor die Kwêlakompetisie vir die beste videos wat mense instuur. Veral oor die kategorie vir sogenaamde “funnys”.  Vanjaar wen ‘n jong egpaartjie van Patensie ‘n vakansie in Mauritius.  Die wenvideo is van hul dogtertjie. Sy gooi ‘n vloermoer wat skrik vir niks omdat sy op die trekkertjie wil ry wat reeds ferm deur haar nefie beset word.

Helaas, iets skort klaarblyklik met hierdie ou oom se humorsin. Absoluut niks vermaaklik vir hom aan ‘n vloermoer nie.

Kan ‘n stoute meisiekindjie wat buite haarself skreeu en skop regtig die oulikste, beste, snaakste “wen-funny” wees wat ingeskryf is?  Sal nie weet nie want ek het die ander kandidate nie gesien nie. Dalk was hulle nog des te meer nikswerd.

Maar ek kan dit kwalik glo, al is dit natuurlik nie onmoontlik nie dat die sogenaamede “populere stem” inderdaad vir die video uit Patensie uitgebring is.  Moderne smake is soms verrassend, en dalk is stout vir moderne ouers die nuwe vorm van oulik.  Hoe stouter des te ouliker!

Kom ons los die bespiegelinge. Wat by Kwêla gebeur het, weet ek nie. Wat ek wel weet, is dat mense wild en wakker “organiseer” om pryse te wen. Hulle stuur self soveel SMSé as wat hulle veroorloof is of kan bekostig. Verder werf hulle stemme vir ‘n vale.

‘n Rugbyspeler se vrou wat ‘n keer ‘n motor gewen het, het dit rondborstig in die koerant uitgeblaker: sy het net die beste “georganiseer”.

Die uwe is self ook al geteiken wanneer stemvee gewerf word.  Op Facebook. Per SMS. Tydens kuiertjies. Selfs al by die Bybelstudie.  “Man, my kleindogter speel mos so oulik klavier. Sy is nou ‘n finalis vir ‘n groot prys.  Doen my nou ‘n guns en stuur tog net net ‘n SMS met haar naam.  Wag, hier het ek vir jou die nommer …”

Het nou nie rekord gehou van al dusdanige toenaderings nie. Verbeel my egter daar was selfs al ‘n versoek om vir ‘n meisie wat ek nog nooit gesien het – en wat dalk ‘n potjierol en taamlik onaansienlik is – vir ‘n skoonheidskompetisie te stem.  As jy weier, is jy ongewild.

Die werf van stemme geld natuurlik nie net vir individue nie.  Hoe ‘n sekere simpel ou dorpie bekroon kan word as “Dorp van die Jaar” is dikwels vir almal wat al daar was, ‘n reuse-verrassing, selfs –skok. Maar dan is dit ‘n gemeenskappie wat kan woel wat agter die hele ding sit. Elkeen wat leef en beef word gemonster om te stem, vroeg te stem, reg te stem en dikwels te stem, soos in die ou dae se politiek gespot is.

Wat vir hierdie waarnemer vreemd is, is dat koerante, tydskrifte, radio en TV nog nie self agtergekom het hul kompetisies word deur oorgretige deelnemers beknoei en die uitslag het met meriete niks uit te waai nie.  Of gee hulle eenvoudig geen snars om nie?  Geloofwaardigheid, wat is dit nou? Laat die mense maar maak soos hulle lus is solank hulle net syfers help opjaag om die borge te plesier.

Boonop is daar die diensverskaffers. Vir die meeste van hierdie soort SMSé word ‘n premie gevra – elke SMS kos ‘n rand of wat.  Lekker vet winste vloei in sekere sakke.

Almal is uiteindelik gelukkig, net nie die arme drommel wat werklik verdien het om te wen nie, maar in die SMS-wedloop op allerlei bekookte maniere uitoorlê is. Foei.

RYK EN LEKKER

1-imgGevatte koerantopskrifte en pittige byskrifte by advertensies is naaste bloedfamilie.

Dankie aan almal wat op my webblad, op Litnet, op Facebook, op Netwerk24 en in Die Burger land en sand saam gesels – en saam geproes – het oor “Opskrifte wat jou laat proes” (om nou maar Die Burger se opskrif bo my Saterdagstorie te leen).

Een van die saamgeselsers is die bekende Gustaf Pienaar.  Juis hy wat die verband tussen opskrifte (koppe) advertensies en getrek het.

Gustaf skryf: ” My ma was ‘n gereelde leser van die ‘Illustrated London News’. Op ‘n keer was daar ‘n Rolls-Royce-advertensie – iets wat selde gebeur het. Die advertensie het gelui dat RR as maatstaf van gehalte gebruik word:

“‘Dis die Rolls-Royce van penne’ sal iemand van ‘n Parker sê. Of  ‘Dis die RR van horlosies’ sal van Rolex gesê word. Die advertensie lui dat RR hul ingenieurs gevra het wat hul van dié soort vergelykings dink. Dis vleiend, was die antwoord, maar in werklikheid kan g’n Parker of Rolex ooit RR se gehalte-standaarde ewenaar nie, was die slotsom.

“Onderaan die advertensie was daar ‘n afbeelding van die ikoniese RR-verkoelerrooster met, daaronder: ‘The Rolls-Royce of motor cars'”.1-img

Pikant, nie waar nie? vra Gustaf. Stem hartlik saam.

Pittige byskrifte of advertensieslagspreuke van vroeër wat ek dadelik onthou, is Kit-Kat se “Neem ‘n blaaskans … neem ‘n Kit-Kat”, Cadbury se “glas en ‘n half melk” en Vyf Rose-tee se “Die vyfde roos is vir jou, my skat.”

Vyf Rose het nogal ‘n romantiese snaar geraak. Joko het dalk effens oorgehel na outydse chauvinisme met sy: “Ek hou van ‘n vrou wat die ketel aan die kook hou vir ‘n koppie Joko-tee.”

Die sonbrandmiddel Coppertone had in die 60’s die slagspreuk “Bak brandvry bruin met Coppertone”.  Kan nie presies my vinger daarop lê hoekom ek dit nou juis onthou nie: die hondjie of die halsbandjie.  Die illustrasie was egter ‘n treffer:  ‘n hondjie wat ‘n fraaie vlegselmeisietjie se swembroekie beetkry en haar spierwitte boudjies ontbloot.

Lexington het beloof: “Na aksie ….satisfaksie.” Rembrandt van Rijn, my persoonlike gunstelinghandelsmerk in die sigaretmark, het op sy beurt trots verkondig: “Elke sigaret ‘n meesterstuk.” Ongelukkig het poetsbakkers dit later verdraai tot “Elke hoes ‘n meesterstuk.”

In die ’80’s het David Kramer met sy rooi velskoene en kitaar “gesing soos hy ry” vir Volkswagen Kombi. ‘n Swart belt (in judo) het sy rieme styfgeloop teen die swart kat van Black Cat-grondboontjiebotter:  “Swart belt? Nee, swart kat!”

In Engels was daar die meesleurende Firestone-klingel “Dem stones, dem stones, dem Firestones” wat my bybly.

Dan natuurlik Cremora se “It’s not inside, it’s on top” – sy vrou se verrassing vir die ou wat in sy japon kombuis toe sluip vir ‘n middernaghappie.

Dat ‘n pittige advertensie ‘n gevatte koerantopskrif kan word, het die Sondagblad City Press op ‘n keer bewys.  ‘n Bekende het agter die tralies beland.  City Press het Cremora se boodskap net mooi omgekeer: “He’s inside, not on top.”

Slim subredakteurs en slim kopieskrywers: ek haal my hoed vir julle af.  Julle is “tops” soos Cremora.  “Ryk en lekker” in Jan Spies se bekende woorde oor sy koffie met Cremora in, wat in die spreektaal ingeburger is.