FANUS DIE KERSBABA

‘n Kersdagstorie van Fanus Rautenbach wat dalk nie so bekend is nie, uit die mond van Danie Botha wat as boekeredakteur saamgewerk het aan Tien uit Tien, ‘n keur uit Fanus se humorstories saam met ‘n paar verse en spitsvondighede:

“Tot kort voor sy dood op 29 Januarie 2011 het Fanus nog grappies gemaak oor sy geboortedatum. Algemeen word aanvaar en kan ook bewys word dat hy op 23 September 1928 op Lichtenburg gebore is.

” Nee, Fanus skud kop. Hy verjaar nie op 23 September nie, hy verjaar op 25 Desember. Hy verjaar op Kersdag.

” Nou hoe kan dat nou, soos die Nederlanders sê. Hy verduidelik dit met ‘n versie oor Kersfees 1927:

” Daardie jaar

Het Kersvader haar weer geflous;

Hy sit toe net sy liefde

In haar Kersfeeskous.

“Die bedoeling: Ons moet almal minstens nege maande van ons sg. verjaardag af terugtel tot by die oomblik van ons ontvangenis.”

Na aanleiding van sy “geboortedag”op 25 Desember het Fanus ‘n hele storie vertel oor almanakke in sy kinderdae.Ek stel weer vir Danie aan die woord:

“Heel nostalgies wei hy uit oor hoe vroeg in Desember die almanakke vir die volgende jaar al opgehang is: Daar was drie: Hugo en van der Merwe die kruideniers s’n hang in die kombuis met ‘n prent van Tafelberg daarop;

“Die tweede een is Ingram se apteek met ‘n ag-hoe-teer, ag-hoe-fraai prentjie van moeder en baba, ‘n advertensie vir Johnsons se babapoeier. Dit was in Mammie-hulle se kamer,

“Die derde hang agter die toiletdeur – die kerkalmanak.

“Fanus glo ‘n kerkalmanak hoort agter ‘n toiletdeur. Daar neem die hele gesin rustig kennis van alles wat gaan gebeur. ‘n Sedige kerkalmanak laat ook nie jou gedagtes dwaal nie. Na die sewende maand ken jy darem al die telefoonnommers van die dominee, die koster en die orreliste uit jou kop.

“Die drukkoste is gewooonlik gedra deur die begrafnisondernemer, gewoonlik AVBOB (Almal Vrek Behalwe Ons Boere). Die kerkalmanak het sy Mammie gebruik om almal se verjaardae op aan te teken.: 4 Januarie Susie; 14 Februarie Kalie; 25 Junie Pappie; 2 Julie Mammie; 23 September Fanie en 11 November Gerrit. Niks by 25 Desember nie.

“Fanus vertel: Toe gaan skryf ek by 25 Desember: Liewe Jesus.”

ONS BAKENJAAR 2016

1-vir31desDie Jaar van die Drie Bakens. Só sal 2016 in die Van Deventer-annale opgeteken wees.  Baken een was HvD se 75. Baken twee Tokkie se 70. Baken drie is amper hier: ons goue bruilof op Oujaarsdag!

Aan die vooraand van die groot dag vloei die gedagtes onwillekeurig terug na daardie snikhete Saterdagmiddag op Bultfontein op 31 Desember 1966; die bruidegom, swetend in sy swart wolpak met die fyn strepies, die bruid stralend in haar sagte wit trougewaad met ‘n krisanteruiker, geskenk van Frank Budd, in die hand, gereed om ‘n nuwe toekoms saam in te stap.

Nou stap ons daardie pad al 50 jaar. Hobbels het nie ontbreek nie. Tog  het ons heerlike herinneringe aan goeie, geseënde en gelukkige lewens saam. By die 50-bakens is ons diep dankbare mense, ook oor kosbare verbintenisse wat elke dag ons aardse bestaan verryk.

Ons is woordeloos oor milde genadegawes – total onverdiend.  In ons gemoedere is vrede, nostalgie en ‘n tikkie bewoëndeid.

Ons kyk vorentoe in biddende afhanklikheid.

teken1 Ons het op 26 Maart by ons tentfees op ons gras langs die weskus dankie gese vir die 100 gaste wat hier kon wees vir die waarde wat elkeen op ons pad van Bultfontein tot Melkbos – oor Bloemfontein, Randburg en Welgemoed – toegevoeg het. Ons herhaal graag daardie dankie ook in hierduie ruimte, en gooi die net natuurlik graag wyer om almal in te sluit wat nie hier kon wees nie.

 

Wat nog in 2016?

Ons tradisionele bootvaart het gesneuwel weens geweldige storms wat die MSC Sinfonia toegetakel het. ‘n Plaasvervangende een (weer na Walvisbaai) is geskeduleer vir April 2017, kort ná die viering van matriek-plus-60 op Potchefstroom en ‘n somerbesoek aan Sabiepark.

Die joernalistieke vuurtjie brand nog hoog. Verskeie artikels uit die HvD-pen is in die dagblaaie, By en Rapport gepubliseer.  Een – oor ds. Ockie Raubenheimer (92), die “Afrikaanse Palus”  –  het selfs gelei tot die vleiende uitnodiging van ‘n voorste uitgewery om weer ‘n boek aan te durf.  Die summiere antwoord: nee dankie vir sulke harde werk op gevorderde jare.

Die spannetjie Kollegemanne was vir oulaas op Balule. Wat Balule 6 sou wees, word nou Orpen 1 in Augustus 2017.  Nuwe gesigte kom by. Ons het in die wintervakansie ook die Wildtuin se salige Boulderskamp ontdek, met komplimente van broerskind Marcus Malan. Dié skilderagtige kamp tussen die rotskoppies is weer op die 2017-skedule.

Ons hartsplek in die bos, Sabiepark, het ná ‘n wrede droogte uiteindelik in November reën begin kry. Behoort in Maart pragtig geil en groen te wees.

Tokkie se geliefde broer, Fanie van Wyk, se stem het stil geraak. Ook die stem van Hannetjie Smith, vrou van neef Ben.  Saam met Fanie en saam met Hannetjie is spesiale tye deurgebring. Hulle laat groot leemtes.

In die Probusklub was die Byl intens bedrywig. Vier lede en een oud-lid is oorlede. Verskeie ernstige siektes in die vriendekring weerspieël eweneens die toenemende broosheid wat saam met die opstapelende jare vir ons almal op die loer lê.

Die gesin Claassens het na die Kaap teruggekeer ná twee jaar in Hilton, KZN – heuglike nuus vir oupa en ouma.  Brent is die nuwe Kaapse streekbestuurder van CJP Chemicals. Die gesin het huis gekoop in Chavonnestraat.  Jacob en Thomas keervir graad 7  terug na Welgemoed Laer.   Christopher pak graad 2.

Op George is die groot nuus die stigting van Johan en Mariza se skooltjie vir kinders met spesiale uitdagings, soos Migael. Die skool is in ‘n netjiese huis met vele geriewe, gras, genoeg speelplek en selfs ‘n groetentuin. Die twee kinders stort hul hart in die projek met groot idealisme en toewyding. Die skool gaan van krag tot krag.

Die Van Deventers van George gaan Kersfees, Nuwejaar en pa en ma se goue bruilof in Sabiepark vier. Die liggies van die oumense se Kersboompie brand vanjaar op Melkbos.

Seënwense vir al die bloglesers vir Kersfees en die nuwe jaar.

ENGELTJIE OP DIE DUIN

1219988821512034089little%20angel4_svg_medVIR KERSFEES 2016 – Piet Cillië se mooi Kersverhaal: Die engeltjie wat agtergebly het (met erkenning aan die outeur en onbekende verwerker).  

Daar was eendag twee meisietjies  wat elke jaar saam met hul ouers by Willie-se-Baai vakansie gaan hou het.  Hulle name was Anna en Susanna.  Op ‘n dag speel die twee op die hoogste duin.  ‘n Seuntjie kom nader en vra of hy mag saamspeel.

Natuurlik laat die dogtertjies hom saamspeel.  Hulle het hom nog nooit gesien nie en vra wie hy is en waar hy vandaan kom.  Die seuntjie sê hy is ‘n engeltjie.  Die meisietjies lag, en sê hy bedoel sekerlik hy is figuurlik gesproke ‘n engeltjie.  Nee, sê die seuntjie, en lig sy hempie op om sy goue vlerkies te wys.

Wat maak hy dan op Willie-se-Baai?  Wel, hy het eeue gelede saam met ‘n groot koor hier aangeland.  Hy was een van die beste seun-soprane.

Nou hoekom het hy nie saam met die engelekoor teruggegaan nie? Die seuntjie vertel hy het die aarde liefgekry en van die mense begin hou.  Ja, hy verlang soms terug, maar hulle moenie bekommerd wees nie want dis nie so ver na sy blyplek as wat mense dink nie.  As die mense net kon weet hoe naby dit alles is.

Anna wil weet of hy dan verlof gekry het om op die aarde te bly.  Ja, solank hy net nie sing nie.  Dit is streng verbode.  Sodra hy sing, moet hy dadelik terug.   Dis baie swaar om nie te sing nie, want hy doen dit graag.

Susanna het dadelik ‘n plan.  Hulle hou die volgende aand ‘n Kersboom in die saaltjie by Willie-se-Baai.  Daar sal ‘n kinderkoortjie liedere sing.  Die engeltjie moet kom saamsing.  Sy stem sal meng met die stemme van ander, en sy hemelse mense sal nie eens weet hy sing nie.

Die engelseuntjie twyfel eers, maar die meisietjies praat hom om.  Hy het in elk geval baie lus vir sing, veral Kersliedere.

Die volgende aand staan hy tussen die kinders by die Kersboom op Willie-se-Baai.  Hulle sing die mooiste Kersliedere.  Meteens styg ‘n goue kinderstem bo al die ander uit in ‘n onbekende lied, so mooi soos nog nooit op aarde gehoor is nie (behalwe een keer by ’n krip).  Die kinderkoor raak stom van verbasing en almal sien dit is die vreemde seuntjie wat alleen sing.

Anna fluister vir Susanna die seuntjie sal nou moet teruggaan.  Maar die engeltjie sing voort, vir die eerste keer in tweeduisend jaar.

Skielik word oor Willie-se-Baai die geruis gehoor van ‘n magtige koor wat niemand kan sien nie.  Hulle val in by die pragtige stem van die engeltjie en hulle sing ‘n lofsang asof die hemel oopgegaan het.  Hulle sing: Eer aan God in die hoogste hemele!

Die stemme sterf weg en stilte kom oor die strand.  Die engeltjie is nie meer tussen die kinders nie. ….

Daarmee: ‘n geseënde Kersfees vir almal.

(Na ‘n taamlik soektog op die internet het ek hierdie verwerkte weergawe van die koerantman Piet Cillië se Willie-se-Baai-Kersverhaal raakgeloop in ‘n Kerspeek van die NG gemeente Somerstrand in Port Elizabeth.  Merwe Scholtz het dit, so ver ek weet , opgeneem in Vertellers 2.  Rykie van Reenen wat gewaag het om hom as “’n grommende ou MGM-leeu” te beskryf, het na aanleiding van die verhaal opgemerk: P.J.C. is eintlik self “’n agtergeblewe engeltjie – toegegee, swaar vermom, die klei maaifoerie”.)

STOUTE MATRIEKS

Halfkroon se foto.

Halfkroon se foto.

Veronderstel in 1957 toe ons klas in matriek was, het sulke dinge soos matriekvakansies, en “Plett Rages” al bestaan.  Hoe rof sou ons rinkink het?

Die vraag boei my nou al dae lank. Vir ‘n antwoord het ek die 81 gesiggies op die amptelike klasfoto van die Hoër Volkskool Potchefstroom se matrieks van daardie jaar opnuut bestudeer.  Wie sou die kandidate wees vir ‘n nat-T-hemp-kompetisie?

Moet sê, in ons klas, was meisies met gesonde torso’s wat ‘n nat T-hempie sou eer aandoen. By ‘n oefening vir die koorsang by ons matriekafskeid het die sangonderwysers die meisies aangemoedig om die volume aan te draai.  Willem Hartzenberg het spitsvondig teruggekap: Hulle kan nie harder sing nie;  hul borsies is te klein.  Die hoonlag wat op daardie ongegronde uitspraak gevolg het, bevestig my waarde-oordeel oor die belofte in ons klas vir opwindende nat T-hemde, dink ek.

Maar sou ons klasmaats so astrant paradeer? Sou hulle, nog erger, die nat hempies in ‘n stadium laat waai en – hoe later hoe kwater – perdalks ook ander onnnoembare kledingstukkies?  Sou ene vir 50 pond wat toe baie geld was  – of selfs vir ‘n ongelooflike 500 pond – die laaste skansie tussen kaal en poedelkaal onbeskroomd uitskop?

As ek gedwing sou word om ‘n moontlike laat-waaier onder 1957 se matriekmeisies te identifiseer, het ek ‘n naam in die agterkop. Sy is ‘n groot genoeg sport om gul daaroor te lag. Maar in matriek al? Ek twyfel tog.

Liefklike kort rompies maar lang swart kouse.

Lieflke kort rompies .. maar swart lang kouse tot doer.

Nou moet ek dadelik bely dat ek as die jongste in die klas – ‘n brose 16 – van die matriekmeisies se dinge bloedmin geweet het. Het hulle maar net in hul kuise skooldrag geken.  In die winter was sekere swart rompies wel lieflik  kort, maar is die beentjies bedek met dik lang kouse wat tot doer by die onbekende strek.

Vry het in my boekie beteken om handjies te hou en later mekaar te druk en te soen. Daarvoor is redelik algemeen ‘n geneentheid openbaar wat nie al die onderwysers – hardvogtige bokkers – aangestaan het nie.  ‘n Reuse-spreilig is as monument vir ons matriek-libido’s buite die skool op die plek opgerig waar die kalwerliefde tradisioneel die sterkste gedy het.  Ook die uwe, hoe onskuldig ook al, het dit soms nodig geag om donkerder hoekies te gaan opsoek.

In my plakboek is ‘n foto wat ons matriek-paparazzi, Johann Viljoen en Wol Steyn, vir ‘n halfkroon vir my geneem het van ‘n omhelsing met ‘n meisiekind  in haar volkspelerok. Sy was in standerd agt.

Maar die spreilig: ons het dit ‘n anti-vrylig genoem.  Ons had in ons matriekjaar ‘n eie “mielieblaarklub” a la die gewilde radioprogram van destyds  (wyle Koos van Niekerk, wyle Carel Weeber, Hartzenberg en die uwe) wat op debatsaande filosofies besin het oor sake wat die gemoed van die leerlingkorps (ons was nog nie leerders nie) beroer. Daardie afkeurenswaardige lig was meermale in ons mielieblaar-manne se visier.

Dans? O aarde nee, my eerste wankelende walsie was op Tukkies.  Op skool het ons tiekie gedraai, met galante buiginkies en guitige glimlaggies oor en weer.  “Ek soek na my Dina, my Dina , my Dina …..” of “Kompatertjie buig jou stywe dop en volg jou nonnatjie in die kring …”

Kompatertjie buig ...

Kompatertjie buig …

Op ons matriekafskeid het ons in rye in ‘n helder verligte skoolsaal gesit.  Ons en ons ouers.  Die matrieks het vir hul trotse mammies en pappies gesing. Ons is een op die verhoog geroep om fier ons sertifikaatjies te ontvang dat ons voorbeeldige Volkies was.  ‘n Toespraak of twee is afgesteek met ernstige vermaninge oor die veeleisende grootmenselewe wat wag. Toe’s ons huis oe, elkeen na sy eie bedjie (na my wete).

Op 20 September 1957 het Blackie Swart, Engels-onderwyser,  die hele klas vir ‘n uitstappie met ‘n bus Pretoria toe gebring het (net na die rekordeksamen). Almal was ewe netjies uitgedos, die  seuns in gestreepte kleurbaadjies (swart met fyn rooi en geel strepies) en grys langbroeke. Wat die uitstappie vir veral ‘n paar dorps-ouens glo buitengewoon gedenkwaardig gemaak het, was dat hulle die aand voor die groot uittog in ‘n buitekamer by een se ouerhuis “gekuier” het tot laat in die nag. Die uitstappie die volgende dag was babelaasgewys vir hulle glad nie ‘n aangename ervaring nie, het een van hulle later laat glip.

Maar ek was ‘n Jack Pauwer. Ons koshuiskinders is sterker in die teuels gery.  Een insident onthou ek. Ongelukkig is ‘n ontslape koshuismaat nie meer beskikbaar om by hom lig op te steek oor daardie aand toe hy sy prefekbalkie op die spel geplaas het nie.  As ek reg onthou, was dit weens ‘n wegglippery uit die koshuis saam met ‘n dorpsmatriek in sy pa se motor en ‘n bottel of wat uit sy pa se drankkabinet.  Ook rondom die rekordeksamen uitgehaak.

Ekself het een Saterdagmiddag in die sitkamer van die Royal grootmeneer-avontuurlik aan ‘n Cola-Tonic geteug, en dit was dit wat drank aanbetref. (Het wel later volstoom ingehaal!)

Babelaas na Pretoria.

Nog babelaas in Pretoria.

Nee, waarlik, as die potensiaal van in 1957 dan wel al daar daar was om inhibisies, klere en wat nog so argeloos soos nou, sestig jaar later, te laat waai, het ons dit die latente vermoë maar baie effentjies ontgin. Sekere ontdekkings van die intiemer soort het van ons tot ‘n dekade of wat later uitgestel. Huweliksklokkies moes eers lui.

Sê nou daar was wel destyds al matriekvakansies. Dan sou ons waarskynlik sommer in die skoolbus na Parys oorgery het vir ‘n piekniek op die walle van die Vaal.  Mekaar met waatlemoenskille gesmeer het en so. ‘n Vooruitstrewende klub soos Plet se Zanzibar sou gewis uiters prematuur gewees het.

Ek is op 3 Januarie 76 en ek was nou nog nie in ene nie – al klink die doen en late van die jongklomp vir die ouman nogal interessant.

(Ons klas – diegene wat oor is – hou op 11 Maart 2017 groot makietie om matriek-plus-60 te vier.  Sal die ander dan hieroor vra. En laat weet, as julle wil.)

PROFEET IN ROOI PAJAMAS

1-imgMy vriend en kollega Alf Ries, prins van politieke beriggewers, is al 10 jaar langboompies toe. ‘n Hele dekade – ‘n kwart van die skof wat hy as doyen in die persgalery van die parlement die septer geswaai het.

In die tien jaar het ek van tyd tot tyd van Alf se seun, Hartman, gehoor, ‘n mannetjie wat ek in 1964 in Tamboerskloof opgepas het as pa en ma die aand uitgaan. (Natuurlik dan ook vir kleinsus Marianne.)

Alf Ries braai ‘n vissie vir kollegas op Franskraal. 

Ek het Hartman sedert die gedenkdiens by Naspers aan die Heerengracht nooit weer gesien nie. Tot so twee weke gelede.  Toe kom drink hy en Ronel op Melkbos ‘n teetjie. Heerlike herinneringe aan spesiale oomblikke onder die melkhoutbome op Franskraal het herleef. Dit is waar Alf uitgespan, krewe uitgehaal, vis gebraai, rooiwyn gedrink en vriende onthaal het.

Ons het lekker gesels oor gemeenskaplike vriende. Ook baie van pa Alf se insigte oor die politiek is weer opgehaal. Met die meeste daarvan kon ek my nogal gemaklik vereenselwig. Die besef het opnuut deurgedring: Alf Ries was werklik ‘n joernalis en vriend klas goud.

Verlede week het ek en Chris Moolman, oud-redakteur van Rapport, ‘n stukkie forel saam geniet. Die periodieke etes is ‘n voortsetting van ‘n tradisie wat saam met Alf begin is. Ook Molie, soos ek my kollega nog al die jare van ons Volksblad-dae af noem, was verras om te hoor dat tien jaar al verstryk het.

Wel, dit het. Alf het op 26/10/2006 op 74 sy lang stryd teen kanker verloor.  Twee dae later het ek in hierdie kolom van hom afskeid geneem.

Ek het vertel van een van ons laaste telefoongesprekke toe hy reeds uiters verswak by Hartman aan die Rand aan die bed gekluister was. Hy wou weet wat het Naspers se aandeleprys die dag gedoen. Ek het nie geweet nie. Hy was vies en gefrustreerd. Hy was by al sy politieke ysters in die vuur ook ‘n Beurs-entoesias (en suksesvolle belegger).

Na tien jaar is sy rol in die politiek in ‘n skof van veertig jaar sekerlik die faset wat uitstaan. Ek bring hulde aan ‘n lewende legende onder politici en koerantmense. ‘n “Scoop”-masjien wie se stroom trefferberigte mededingers telkens radeloos gelaat het.

Alf het die voorwoord geskryf vir my boek Kroniek van 'n koerantman.

Alf het die voorwoord geskryf vir my boek Kroniek van ‘n koerantman.

Die omwentelings in die land het hy van binne die politieke enjinkamer waargeneem – en daaroor verslag gedoen. Met Hendrik Verwoerd se “Nuwe Visie” in 1959 – onafhanklike swart state – was hy ‘n grootoog-groentjie in die persgalery. Toe apartheid in die jare negentig deur F.W. de Klerk finaal op die ashoop gegooi is, was hy ‘n gesoute veteraan.

Met sy integriteit, respek vir feite, lojaliteit en geloofwaardige beriggewing het hy generasies politieke leiers oor die hele spektrum se agting gewen. Vir John Vorster was hy ‘n vertroueling. Staatsgeheime is met hom gedeel. Vir kollegas was hy die koerantman se koerantman: nooit flambojant nie, maar bo alles standvastig, gesaghebbend en betroubaar.

Vir Die Volksblad – waar sy loopbaan in 1953 begin het – het hy in my redakteurstyd veral vir een gedenkwaardige “scoop” gesorg. Die koerant het toe nog smiddae verskyn. Die middag-Volksblad het selde beter reg laat geskied aan die motto “vandag se nuus vandag” as met die verkiesing van De Klerk as nuwe hoofleier van die NP in die plek van P.W. Botha daardie dag  – alles danksy Ries se “politieke neus”.

Die onverwagte verkiesing het die oggend in groot geheimhouding by die Volksraad plaasgevind. Ries het snuf in die neus gekry dat iets betekenisvols aan die gang is. Hy het die berig losgewikkel en daardie middag was dit Die Volksblad se voorblad vol.

Toe die Vrystaatse LV Piet Steyn ‘n Bloemfonteinse vriend, prof. Kallie Strydom, bel om hom “vertroulik” in te lig, kon hy op sy rug val toe hy hoor: “Hier staan dit alles in Die Volksblad!”

Met die vliegongeluk van Samora Machel was dit weer die nimlike Ries wat sy mededingers getroef het; weer was Die Volksblad dieselfde dag losvoor met ‘n “scoop”.

‘n Onvergeetlike beeld van Alf Ries wat in my geheue vassteek, is in rooi pajamas op die televisie besig om kabinetskuiwe te voorspel. Ries was met ’n gebreekte enkel in die hospitaal nadat hy op Nuweland geval het – as toeskouer, darem nie as speler nie!

Die oud-persman Freek Swart was daardie tyd ‘n TV-joernalis en welbekend met Ries se legendariese vermoë as profeet. Hy bring sy kameras toe hospitaal toe en vra Ries wat hy verwag van skuiwe deur pres. Botha wat enige dag aangekondig kon word.

Ook hierdie keer het Ries se grondige kennis oor wat in die politieke binnekringe gebeur, hom nie in die steek gelaat nie. Hy het net met twee voorspellings misgetas.

Botha was glo erg verontwaardig. “Verbeel jou, ‘n man in rooi pajamas kondig jou kabinet uit ‘n hospitaalbed aan,” het hy teenoor kollegas gesnork. Hulle het nie durf waag om geamuseerd te lyk nie!