RAAISEL VAN ONS HUWELIK

31 Desember 1966.

31 Desember 1966.

Presies 50 jaar gelede, op ‘n snikhete Oujaarsdag, 31 Desember 1966, is Jakob Hendrik van Deventer (25) en Gesina Susara van Wyk (20) op haar tuisdorp Bultfontein in die huwelik bevestig. In die NG kerk neffens die ou begraafplaas op Bultfontein, met rye grafstene as dekor op verskeie van ons troufoto’s.

‘n Mens se troudag onthou jy, selfs al is dit in bitterheid. Myne kan ek om verskeie redes – maar gelukkigheid nie uit bitterheid nie! – nooit vergeet nie.

‘n Oorheersende herinnering is die jong bruid aan my sy. Vir my was sy te mooi vir woorde! In haar bruidsglorie het my Volksblad-kollega Kas Dreyer, ‘n knap fotograaf, haar gelukkig op pakke pragfoto’s verewig. Het pas weer met behae die spierwit trou-album uit sy boks gehaal. Die foto’s lyk so vars of dit gister geneem is.

‘n Tweede herinnering is die oorweldigende vreugde in die hart, ‘n vreugde wat voortduur omdat die verbintenis wat aangegaan is, ondanks periodieke hobbels op die pad, die beste ding bly wat my in my 75  – amper 76 – jaar op aarde oorgekom het.

Die derde is die onbeskryflike Desemberhitte wat veral die blomme – ‘n trougeskenk van Frank Budd, die atleet Zola se vermoorde pa – en die arme bruidegom in sy gitswart wolpak behoorlik opgedreun het. Dan het die teenwoordige koshuismaats van Tukkies se Kollegetehuis die bruidegom boonop so deeglik geborsel dat sy boude brand – nie die laaste keer dat hy dit in die huwelik hotagter gekry het nie!

Op die foto kan ek elkeen van daardie skenders van my liggaamlike integriteit identifiseer: Manie Steyn, Pierre le Roux, Piet Theron, Jan-Jakob de Jager, wyle Piet Lategan en wyle Fanie van Huysteen.  Maar toemaar, vrinne, ek gaan nie hof toe hardloop nie.

Bruidegom se boude brand.

Bruidegom se boude brand.

Die vierde is ‘n stuk sabotasie, waarvan die oorsprong en motief tot vandag toe ‘n raaisel is. Die ontdekking daarvan, slegs ure voor die koster, Oom Willie Botes, die huweliksklokke oor die dorp sou laat jubel,  was soos ‘n dolksteek in die hart.

Al die dokumente vir die huwelik – so sorgvuldig in ‘n hoekie van my koffer versteek – het  spoorloos verdwyn! Onthou, die bruid was minderjarig. En dit was die dae van gebooie en ‘n gebooiebrief, waarsonder ‘n huwelik nie wettig voltrek kon word nie.

Gelukkig is ons deur my neef Bertus du Plessis in die eg verbind – ‘n goeie man wat later ‘n leraar van die APK (Afrikaanse Protestantse Kerk) geword het en van wie tot my spyt ‘n politieke vervreemding was. Bertus was bereid om op grond van sy neef se geloofwaardigheid met die plegtigheid voort te gaan.  Krisis afgeweer!

Net ná 15:30 het Gesina (my Tokkie) stralend aan die arm van haar weduweema, Marietjie, die kerk binnegekom. Lenie Mostert kon die orrel ooptrek met Felix Mendelssohn se Troumars. Bertus kon sy spreke plegtig spreek.  Margot Luyt, stemkunstenaar, ‘n mede-Bultfonteiner, het in haar volryp stem vir die bruidspaar Psalm 121 (ou vertaling) voorgedra: “Ek slaan my oë op na die berge. Waar sal my hulp vandaan kom….”  Ons het mekaar die regterhand gegee. Ek het die bruid liggies gesoen.

Van die “gelukwensing in die saal” onthou ek, benewens die onwaardige borselry, nie veel nie. Hoop my toespraak was nie te langdradig nie.  Was toe al soms soos ‘n Boeing wat nie kan land nie as ek op dreef kom.  Wel onthou ek dat wyle swaer Fanie aan die einde ‘n welkome  bottel vonkelwyn opgediep het.  In die kerksaal is net vrugtesap voorgesit.  Maar danksy Fanie se kado’tjie kon ons toe darem ‘n private heildronkie drink voordat die egpaar Van Deventer in hul wit Toyota Corona vort is Winburg toe vir die eerste huweliksnag.

Terwyl ons op ons wittebroodsvakansie in Durban was, het snippertjies herkenbare papier van nêrens in ‘n buurvrou se agterplaas teen die grensdraad vasgewaai. Die allerbelangrike dokumente wat onverklaarbaar voete gekry het, het in gehawende vorm asof uit die niet hul herverskyning gemaak.

Nou die dag vra ek Tokkie weer of sy ná al die jare kan raai wie die sondaar was.  Sy skud die kop.  In die distrik was egter boerseuns wat ook in Hertzogstraat flikkers gegooi het. Dalk wou ‘n jaloerse vryer ‘n stokkie voor die troue steek.  In die gemeenskap was ook goeie, besitlike siele wat hierdie geliefde dogter uit eie bodem dalk wou beskerm teen die wêreldwyse koerantman wat anderster waardes kon hê.

Ná 50 jaar sê ek vir hulle almal (diegene wat nog in die lewe is, altans): pê!

BUILOFSLIED VIR 50 GOUE JARE

1-img_4934Hoe nader Saterdag 31 Desember kom, des te sentimenteler raak hierdie bruidegom van 50 jaar gelede oor sy bruid, Tokkie. Delf genoeg stof uit die “argiewe” om ‘n hele paar blogs te vul.

Hierbo is die tuisblad van ‘n spesiale Tokkie60-webwerf wat vriend Ollie Olwagen help skep het vir haar 60ste verjaardag op 15 Maart 2006. Die werf self is, helaas – ander as die onderwerp! – nie meer aktief nie.

Die beste ding wat my nog op aarde oorgekom het – so beskryf ek my Gesina Susara in my boek In Kamera (Protea Boekhuis 2003) in ’n spesiale hoofstuk. Die hele hoofstuk word op die webwerf herhaal.

Almal wat haar ken, weet hoe lief sy vir rooi is. Daaroor verskyn ‘n versie:

Kersie, granaat, ryp waatlemoen;

Rooi is ‘n kleur wat iets aan jou doen.

Tooi jou in rooi, my rooibloedvrou,

Om my vir altyd aan jou voete te hou.

Ontmoet op die werf die Tokkie van Tokkielaan in Pres Swartpark, Bloemfontein, en ontdek ’n paar dingetjies waaroor Tokkie uit pure beskeidenheid nie loop en dreunbors maak nie.

Ek verklap ook ’n paar huishoudelike geheimpies – soos die een keer toe sy baie kwaad was en ek moes koes vir ‘n “vlieënde piering” (met ‘n koppie tee boonop daarin)!

Die laaste paar dae het ek al ‘n hele paar keer met hartlike instemming na Burl Ives se “True love goes on and on” geluister. Klik op: https://www.youtube.com/watch?v=3C1Drpz216A ……. en luister gerus saam na ons mooi  “bruilofslied”.

So lui die lirieke:

True love goes on and on

My darling, I’ll always love you

The white snow of Christmas will melt away

The darkness of evening will end the day

And time will wither the strongest tree

But nothing will change you and me

[Koor:]

For true love goes on and on

Our love will be ever new

True love goes on and on

My darling, I’ll always love you

The mightiest mountain may tumble down

The world may even stop spinning round

A star may fall to the deep blue sea

But nothing will change you and me

[Herhaal koor]

Some days the sun will forget to shine

In autumn, the leaves will desert the vine

An ocean may someday a desert be

But nothing will change you and me

[Herhaal koor]

Liedjieskrywers: RICHARD ADLER, JERRY ROSS

OP VER PAAIE WOORD GEBRING

Gereed vir "huisbesoek" in Europa.

Gereed vir “huisbesoek” in Europa.

Ds. Ockie Raubenheimer (92) se plek in die kerk is nou finaal leeg. Ook in die NGK Melkbosstrand.  Vyf jaar lank was hy elke Sondagoggend van vroeg hier fier en regop op sy pos in die gangetjie by die hoofdeur. Kennisse is met ‘n breë glimlag en ferme handdruk gegroet.

Die laaste jaar of twee het ds. Ockie se bywoning minder gereeld geword. Die gesondheid het begin lol. Daar was ‘n terugslag, en nog een, en nog een. Onlangs was hy geruime tyd in die hospitaal.  Daarna is sy motortjie na die kleinkinders. Dit was die einde van die Sondaguitstappies uit Parklands.

In sy lewe het die wellewende veteraanleraar – soos Paulus, gereis en geskryf het – die wêreld vol gereis en gepreek: “letterlik,”  in sy eie woorde, “van die sone van die middernagson in die Noordelike Halfrond tot waar die son agter Marioneiland in die Suidelike Halfrond ondergaan”

Op 24 Desember, op die vooraand van Kersfees 2016, het sy eie son ook ondergegaan. ‘n Lang, lang seisoen van ver paaie loop het tot ’n einde gekom.

Ds. Ockie het sy verswakkende gesondheid lank dapper probeer wegsteek. Hy was eenvoudig te beskeie om die aandag op hom te wil fokus. Dit was egter nie altyd moontlik nie. In Maart 2012 sou hy ons Melkbosse gryskoppe by ons kerkvereniging Silwerkrag toespreek oor sy bediening in die buiteland”. Die oggend daag hy toe op met ’n kierie. Dit het ek nog nie voorheen raakgesien nie.

Die voorsitter, Elna Smit, werp egter lig. Sy kondig aan dat sy hom nie aan die woord gaan stel nie – hy voel “ ’n bietjie olik”. Dit blyk die man, bejaard soos hy is, het uit sy hospitaalbed opgestaan, sy dokter se besware vriendelik maar ferm van die hand gewys, hom – soos altyd – spiekeries uitgevat en siek-siek sy afspraak kom nakom. Met sy kenmerkende glimlag stap die kloeke ds. Ockie daarop self waardig na die kateder, betuig sy spyt dat hy nie die toespraak kan lewer nie, groet vriendelik en keer terug hospitaal toe waar hy vir ’n ernstige bloedprobleem behandel word.

Die Sondag daarop het ds. Ockie die gemeente verras deur, stralend soos altyd, die erediens by te woon, terwyl sy naam nog lewensgroot as hospitaalpasiënt in die nuusbrief staan! Hy was fluks aan’t herstel ná die groot terugslag.

In sy herfsjare kon hy terugkyk op ‘n vol en vrugbare lewe.

Sy buitelandse bediening het 60 jaar gelede begin: by die Suid-Afrikaanse weerstasie op Marioneiland in 1955. Die ruggraat daarvan was van 1971 tot 1975 as weermagkapelaan in Parys, Frankryk. Een Sondag per maand het hy ‘n diens in Londen gaan hou. Dit was die voorloper tot die Londense gemeente, waar sy seun, ds. Ockie junior, ook later was. Die gemeente was in ’n stadium 8 000 tot 9 000 lidmate sterk.

Uit Parys het hy Suid-Afrikaners in 17 lande van Europa, asook vyf lande in Suid-Amerika, in Noord-Amerika, Kanada, die Midde-Ooste en Japan bearbei. Hy was 25 dae elke maand op die pad en net vyf dae tuis by sy gesin.  By alle Suid-Afrikaanse buitelandse sendings het ds. Ockie gou ’n bekende en geliefde figuur geword.

Afrikaans of Engels het vir hom geen verskil gemaak nie. Elkeen wat wou, kon met vrymoedigheid aanklop. Dan was hy vinnig Finland toe vir ’n buitengewone doop; dan was hy voorsanger by ’n vreemde diens in die suide van Argentinië; dan weer was hy by die Suid-Afrikaanse skooltjie in Toulon, in die suide van Frankryk, met die indiensstelling van Suid-Afrika se eerste drie duikbote.

Vroeër is sy vrou, Veda, wat hom nege jaar gelede ná ’n huwelik van 57 jaar ontval het, en hul sewe kinders in hul Volkswagen Kombi saam op vele toere in Afrika. Die Kombi is die “rooi posbus” gedoop weens die negestuks wat so styf ingeprop moes sit.

Snags moes hulle, elk in sy eie slaapsak, soos tipiese posstukke in drie lae slaap. ’n Rak onder die dak het bedags as pakplek vir beddegoed en oortollige klere ge­dien en snags as krip vir die jongste. Hul Erka-sleepwaentjie was onmisbaar as spens en kombuis.

Met sy 90ste verjaardag op 13 April 2014 het die Raubenheimers feesgevier by Hemel en Aarde, Hermanus. Van sy 47 nasate was 42 teenwoordig. By die fees het die gedagte ontstaan: Kom ons stip in boekvorm aan waar ons klomp oral gewerk en vakansie gehou het. Hulle begin toe tel en tel. Die slotsom was asemrowend. – sy eie en sy nasate se voetspore lê in 272 buitelandse plekke.   Die patriarg se bydrae was vanselfsprekend verreweg die grootste.

Een van sy sak vol anekdotes was oor ’n diens in die suide van Argentinië. Ná die diens is van die ambassadeur afskeid geneem. “Sing asseblief vir ons van ons ou bekende Afrikaanse volksliedere,” kom die versoek toe tot die besoekende leraar. Maar skaars het hy weggeval, of die kitaar en konsertina kom uit – en daar dans die klomp vir ’n vale. Moontlike koerantopskrif wat hy later self in ‘n geselsie aan die hand gedoen het: “Kapelaan voorsanger op dansvloer”!

Ds. Ockie was een van vier kinders uit ’n arm huis. Sy pa het ná ’n vyf jaar lange droogte in Calvinia se Karoo uitgeboer. In 1927 het die gesin na Randfontein getrek om vir ’n Jood op ’n groenteplaas vir £13 per maand te boer. Ses jaar lank moes hy vyf myl heen en weer na ‘n laerskool op Randfontein pendel, eers te perd en later op ’n fiets met ’n jonger sussie agterop.

Universiteit was eers op Potchefstroom, toe Stellenbosch. Later as predikant in die Wes-Kaap en Transvaal is hy verder toegerus vir vir sy uiteindelike roeping: nie as ’n skaapboer tussen die Karoobossies nie, maar ’n skaapwagter van Sy diverse en verspreide kudde anderkant die waters, soos hy dit gestel het.

‘n Lywige boek kan oor Ockie Raubenheimer se lewe geskryf word. Hopelik durf iemand die ambisieuse taak aan. So ‘n boek sal ná sy dood ‘n ewe groot inspirasie kan wees as wat die wellewende veteraan in sy lewe vir sovele was.

BOBAAS-BUURMAN

Ou kamerade. Toy groet sy Bloemfonteinse vriend Kiepie Herholdt op sy 90ste verjaardag.

Ou kamerade. Toy groet sy Bloemfonteinse vriend Kiepie Herholdt op sy 90ste verjaardag.

Die spore van J.A.J. Toy Vermeulen (92) wat Saterdag sag heen is, lê veral die Vrystaat vol . Op vele terreine was hierdie seun van De Aar ‘n staatmaker. Hy kon dankbaar terugkyk op ‘n vol en vrugbare lewe.

In die dekades 70 en 80 van die vorige eeu was hy ‘n sleutelman in die Vrystaatse Nasionale Party, eers as amptenaar in die Goudveld en Bloemfontein, later as benoemde LV en senator. Hy was voorsitter van die Verdedigingsgroep in die Parlement, ‘n regterhand van minister Magnus Malan.

Hy KON kollekteer. Die Griekse gemeenskap was sy “sagte teiken”. Ek wonder hoeveel derduisende rande die Vrystaat se Grieke uit hul sakke geskud het as Toy namens die NP kom aanklop.

In hoeveel rade en komitees hy gedien het – kerk, skole, kultuur, plaaslike bestuur en wat nog – kan ek nie raai nie. Waar sy foto’s oral hang, sou hy dalk self nie weet nie. Een onverwagse plek vir my was die klubhuis van die Koeberg-rolbalklub op Melkbos. Daarvan was ‘n jonger, fikser en ratser Toy op sy dag president.

Sy versameldrif – die woordeboek praat ook van versamelwoede – het geen weerga geken nie.     Elkeen wat al ‘n voet in Toy se studeerkamer gesit – in Bloemfontein, Blouberg en selfs in sy herfsjare in die gholflandgoed Atlantic Beach op Melkbos – kon dadelik sien: Soos bye heuning vergaar, vergaar hierdie man dinge van waarde.

Sy studeerkamer was ‘n kulturele skatkamer. Hy was ‘n klassieke bibliofiel wie se boekrakke gekreun het onder sy monumentale ABO-versameling en ander Africana. Sy kwaliteitswyne het getuig van liefde en kennis.   Al hierdie waardevolle eiendom is geberg in kaste van glimmende dolfhout. Ook mooi hout was vir Toy onweerstaanbaar.

In hierdie “klein koninkryk”, omring deur sy waardevolle boeke, historiese foto’s en ander gedenkwaardighede, het hy tot enkele ure voor sy dood agter sy lessenaar gesit, ‘n man wat vreugde vind in sy identiteit.

Sy unieke seëlversameling was ook op sy dag in filateliekringe hoog aangeskrewe. Op sy lys van liefhebberye sou ‘n mens munte en vetplante kon voeg. Dan is dit nog ver van volledig.

Ek het oorweeg om Toy ‘n “koorsagtige” versamelaar te noem. Dit sou nie deug nie. “Koorsagtig” beskryf nie die stiptelikheid waarmee hy sy goeters georden het nie.   Hy het geweet waar om elke ding raak te vat, ook elke koerantuitknipsel van betekenis. Hy het eie gedagtes in sy netjiese fyn handskrif opgeteken.

Soos kampioenkolwer Jacques Kallis in sy loopbaan lopies geakkumuleer het, het Toy vriende versamel.   In Bloemfontein is gespot die ruimhartige Toy ry altyd met ‘n kis goeie rooi wyn in sy kattebak. Waar hy ‘n vriend teëkom, delf hy gou ‘n geskenkie uit. Dat gee vir hom ‘n lekkerte is, was tot die einde duidelik. Jy het nie uit sy huis gestap sonder ‘n bottel top-port uit Calitzdorp se geweste in die hand nie. My laaste het ek die dag voor sy dood ontvang.

Onvergeetlik uit ‘n persoonlike hoek was sy uitnemende buurmanskap in Dan Pienaar, Bloemfontein. Hy was ‘n bobaas-buurman wat in droogtes selfs sy boorgat “uitgeleen” het (met die tuinslang snags oor Kmdt. Senekalstraat gespan) en boonop altyd ‘n noodpakkie Rembrandt Van Rijns in sy boonste laai gereed gehou het vir ‘n skelm dampie.

Kenmerkend van Toy was dat hy nie hier vat en daar los nie.  As hy sy lojaliteit gegee het, was dit vir altyd. Soos aan die Nasionale Party en Afrikaner-instellings, bv. die Afrikaner-Broederbond. Ook aan volkspele. Dekades nadat hy en die sprankelende Joha in Europa gaan tiekiedraai het, het hy van daardie span baanbreker-Volkspelers die spilpunt gebly.   Al kon hy nie meer tiekiedraai nie (Joha sou wel kon!), het sy hart steeds op die maat van “Afrikaners is plesierig” en “Jan Pierewiet” vrolik bly klop.

Wat presies die betekenis is van “kompatertjie buig jou stywe dop” weet ek, ‘n  volkspele-analfabeet, ongelukkig nie. Dit klink egter vir my reg om te sê: Hierdie “kompatertjie” buig graag vir die ontslape kameraad in eerbied sy “stywe dop” – met ‘n “stywe dop” Boplaas op die koop toe!

GESEËNDE KERSFEES

christmas-greetings-2016By die Kerswense in vele tale op hierdie “internasionale” kaartjie uit Spanje van ons Nieman-vriende José Antonio Martínez Soler en Anna, sy vrou uit New Hampshire, voeg ek graag in Afrikaans by: Geseënde Kersfees. Sal graag José se kommentaar wil hoor as hy sou weet in hoeveel SA huise sy kaartjie op hierdie manier kom. Felices Fiestas, amigo!