KOPKRAP OOR KOPPE

Die kuns van die kopskrywer (skrywer van opskrifte) is selfs groter as wat dit dalk lyk.  Die uitdaging is nie net om ‘n treffende opskrif te skryf nie.  Nee, dit moet, kom wat wil,  in ‘n bepaalde ruimte inpas.

Sonder om te tegnies te raak: Des te groter die lettertipe en des te minder die kolomme, des te moeiliker word jou taak om in al hoe minder woorde die essensie raak te vat.   Dit is die eis wat die bladplanner aan jou stel, en jy moet eenvoudig sien en kom klaar. Dis al.

My briljante oud-kollega Ollie Olwagen herinner n.a.v. my storie in Die Burger en ‘n vorige blog oor gevatte koppe aan ‘n stoepie (berig onder op die blad was ‘n stoepie genoem, nogal verbeeldingryk, dink ek) jare gelede op Die Volksblad se voorblad toe daar absoluut slegs plek was vir ‘n kort eenreëlkop vir prima ballerina Margot Fonteyn, wat ná ‘n opvoering totaal toegegooi was onder die blomme:

Dit was ” ‘n Blom-Fonteyn”.

My vermoede is dat dit ‘n Ollie-kop was. Niemand kon vir hom kers vashou nie. Hy is later by Huisgenoot vereer met die Piet Cillié-prys vir kreatiwiteit – dalk die enigste bekroning in sy soort.

Sou graag ‘n hele lys Ollie-koppe hier wou plaas. Hy is egter maar ‘n beskeie man.  Kollega André Brink onthou darem vinnig uit die vuis uit twee:

Ene L. Otto wen die Lotto. Ollie se kop: “Van K…erkmuis tot L…otto”.

Moshe Dayan, bekende Israelse politikus met ‘n oogklap, was lief vir oudhede. Bo ‘n artikel oor daardie voorliefde was Ollie se kop: “Moshe het ‘n oog vir oudhede”.

Ollie was inderdaad iemand met ‘n kop vir koppe … of, soos ‘n ander kollega dit gestel het, iemand wat sonder veel kopkrap goeie koppe kon skryf.

Lesers het lekker saam gesels oor die opskrifte-storie.  Isabel Cilliers – oud-joernalis wat ‘n biblioteek-professor geword het – het Saterdag die ene op die voorblad van Die Burger raakgesien:  “Swart Vrydag: kopers van hul trollie af”.  Ja, dit was netjies, Isabel.

In die tyd dat Doom in Suid-Afrika so in die nuus is, herinner oud-kollega Tom Ferreira my aan die opskrif in ‘n koerant in Engeland nadat ‘n verveelde hondjie in die afwesigheid van die huismense aan Kersgeskenke begin kou het.  Een van die geskenke was ‘n spuitkan met ‘n reukweerder.  Die einde van die avontuurtjie was ‘n paar vensters wat uitgeblaas is en ‘n bank in vlamme. Die hondjie was ongedeerd.

Die opskrif: “Scooby Doom.”

In die vorige blog gemeld hoe die Engelse taal hom leen tot skitterende opskrifte, soos hierbo. Sonder om ‘n te lang relaas te lewer, gee ek net nog drie voorbeelde van uitmuntendheid.

Toe Michael Foot leier van die Britse Arbeidersparty was, is hy aangewys as voorsitter van ‘n komitee wat oor kernontwapening moes beraadslaag.  The Times (‘n ernstige koerant wat nie tyd het vir speletjies nie) kom toe met die onvergeetlike opskrif vorendag:  “Foot head arms body”.

Dan was daar ook in die VK die geval waar ‘n aangehoudende in ‘n asiel ‘n skropvrou verkrag en daarna gevlug het. Die pittige (stouterige, as u so verkies)  opskrif in die koerant was “Nuts screw washers and bolts.”

Die agterblad behoort tradisioneel aan Sport. Kom ons eindig met ‘n sportkop, met die komplimente van Johannes Wessels, outeur van die berugte “Moedertie Rusland wydsbeen oor die Horing van Afrika”.  Hy vertel die dag nadat die All Black Jonah Lomu die drieë teen Wallis ingeryg het, was die opskrif van ‘n Walliese koerant bo sy rugbyverslag: “Jonah devours Wales”.

Saterdag kon dit gewees het: Wales devour frail antelopes!

GESOEK: ‘N BAAS

‘n Towerformule sal dit nie wees nie, ook nie wondermedisyne wat Bokrugby oornag sal regruk nie, maar dit sal ten minste ‘n goeie begin wees: soek ‘n BAAS.

Dan praat ek nie van die moderne soort “baas” wat in die handboeke tipeer word as die sagte, beskeie en gemoedelike spanman wat so onopsigtelik as moontlik op die agtergrond maar net ‘n paar toutjies probeer vashou nie.

Ek soek ‘n goeie ouderwetse BAAS. Iemand wat die leisels vasvat. Iemand wat die sweep kan laat klap. Iemand wat gerespekteer word vir sy bewese vermoëns maar ook ‘n bietjie gevrees word omdat hy nie treurigheid duld nie.

Vergeet van die onsin van inkoop in planne. Die BAAS se plan is die enigste plan en basta. Geen keuse van inkoop of nie inkoop nie. Jy vat dit of jy loop. Die BAAS neem ‘n span saam slagveld toe met wie hy kans sien om in die loopgrawe te gaan le; lojale medestryders wat hom vertrou, sal volg en alles sal inwerp om aan sy hoë standaarde te voldoen. Hulle sal nie mor as hulle slae kry wat hulle verdien het nie.

In my lewe het ek ‘n paar sulke BASE geken. Ek eer hulle. HUlle was die uitstygers; die top-presteerders wat die resultate gelewer het; die leiers wat steeds groter bewondering, respek en lojaliteit afgdewing het en lewenslank bly afdwing- mense vir wie jy deur ‘n vuur loop.

Dis die vakature in SA rugby. Wie is die kandidate?

SLIMKOPPE SE SLIM KOPPE

the_sun_gotchaDit was die week waarin die Doom-doom-inie (Doom-profeet) van Limpopo mense laat proes, die Bokke se vertoning in Florence – Mamma (Bleddie) Mia!*- mense laat stik en die kwessie of Toetie moet tata of nie mense laat gons het.

Die slim koppe (koerantopskrifte) van die slimkop-subredakteurs het self nuus gemaak, is met behae op sosiale media versprei en het herinneringe van koerant-ringkoppe uitgelok oor gedenkwaardige opskrifte deur die jare.

In die laaste kategorie is vreugde o.m. veroorsaak deur ‘n opskrif nadat Gladys Steyn, laaste Sap-kandidaat in die Vrystaat, in ‘n verkiesing uitgeval het. By die koerant sit ‘n subredakteur met diaboliese dubbelsinnigheid die volgende opskrif op die berig: Gladys sit pot mis; hele Vrystaat Nat.

Dubbelsinnigheid – dit is een van die skerpste wapens in die vernuftige kopskrywer se arsenaal.

‘n Konserwatiewe redakteur het spreekwoordelik in sy graankos gestik toe hy in groot swart letters bo ‘n ontleding van Rusland se uitbreidende invloed op die vasteland in sy koerant moet lees:  Moedertjie Rusland staan wydsbeen oor die horing van Afrika.

‘n Voorbladopskrif in The Sowetan het gelui:  Man found with genitals.  Dit het ‘n rubriekskrywer in die Sunday Times laat opmerk: “Om te dink van julle dames het gemeen die spesie het uitgesterf.”

Van genitalië gepraat. wat maak jy van: Kondome vir tronkvoëls?

Oor die menslike anatomie was koerante van ‘n vorige generasie nogal beskroomd. Bedink hoe wenkbroue gewip het oor selfs ‘n taamlike mak  voorbladopskrif soos: Ouderling in gat beseer deur latrine. Die besering het werklik gebeur – in ‘n gat. ‘n Ouderling van Lutzville was binne die gat wat hy aan’t grawe was vir ‘n nuwe latrine toe ‘n rukwind die sink-kontrepsie op hom omwaai. Sy ribbes was o.m. gebreek.

Koerante kan self in ‘n gat trap. Die Cape Times wou met die koniklike besoek van 1947 ‘n bietjie plaaslike kleur in sy verslag bring. Op sy voorblad staan die opskrif die goeie mense van Beaufort-Wes het Koning George op hul dorp verwelkom met die kreet:  “Hoere, hoere, hoere vir die koning.”  Die ontbrekende kappie op die “e” het die stomme Engelse subredakteur sy naam krater laat maak.

Woordspelings is ‘n gewilde tegniek. Idiome word bv. verbeeldingryk omvorm. ‘n Klassieke kop in daardie trant was bo ‘n berig oor die bedenklike kwaliteit van Russiese weermagstewels: Die sool is die kous nie werd nie.  Die outeur Eddie du Plessis (lankal saliger) verdien vermelding.

In dieselfde kader (bo ‘n storie oor ‘n dronk treindrywer): Trein ry op twee rye spore na stasie.

‘n Rare pleknaam leen hom tot ‘n lekker opskrif vir ‘n berig oor ‘n kwaai buffel se verwoestingstog op ‘n Suid-Vrystaatse jagplaas:  Tweebakkiesdeureenbuffelflentersgestampfontein.

Die bekende WP-kreet Pro-o-o-o-vince! kan, tong in die kies, netjies tot  Pro-o-o-o-o-blems! omvorm word.

Bekendes se name kan sorg vir treffers soos: Dis my doedie Di.

Dan moet die drukkersduiwel net nie met die naam kom lol nie. In die dae van warmlood in koerantsetterye is opskrifte in spesiale vormpies uitgepak.  Soms is dit verkeerd-om gedoen. Wat op aarde beteken: Erg skitter Dick Brob?  Ruil die twee stukke lood om. A-a-a, Dicky Broberg (bekende atleet) skitter!

Engels leen hom nogal tot besonderse opskrifte, soos die enkeles hierbo genoem.  ‘n Verrassende een uit die New York Post word ook gereeld aangehaal:  Headless body in topless bar.

In Engeland was ‘n beroemde (berugte?) redakteur Kelvin McKenzie.  Hy was persoonlik verantwoordelik vir waarskynlik een van die mees omstrede koerantopskrifte van alle tye. In die Falklandoorlog in 1982 het die Britse vloot die Argentynse kruiser Genl. Belgrano tot sink gebring met reuse-lewensverlies.  McKenzie se koerant, The Sun, had ‘n enorme opskrif wat net uit een word bestaan het: Gotcha.

Die redakteur het later sy opskrif so verdedig teen kritici wat gemeen het dat hy op onmenslike wyse lewensverlies verheerlik het: “‘Gotcha’ was mine, which I’m very proud about. The fact that the enemy were killed to my mind was a bloody good thing and I’ve never had a moment’s loss of sleep over it.”

Ja, elke kant het twee sake – ook koerantopskrifte. Die een se “sensasie” bly maar die ander se leesgenot.

(* In die dae voordat politieke korrektheid so dwingend was soos vandag, het ‘n waarnemende redakteur van die nimlike Sondagblad – dit was Rapport – tog wel sensitiewe oë laat rek met die een-woord-banieropskrif op die voorblad waarmee ‘n slegte loesing vir die Springbokke opgesom is: K…..pak!  Daardie waarnemende redakteur was die gedugte Rykie van Reenen.)

 

 

WEDSTRYDPLAN VIR SATERDAG

So speel ‘n span teen Wallis:
Jy’s altyd waar die bal is,
Jy verdedig soos Jacques Kallis
En jy val aan as aan te val is.

OU “ONE LIGHT”

Bultfontein se eerste straatligte het in 1963 hul buiging gemaak in die straat waar ou “One Light” gewoon het. Hy was die “misipaal” se elektrisiën-cum-honde-inspekteur, en sy bevoorregting met die beligting is seker nie onverklaarbaar nie.

By sommige het die indruk in daardie konteks ontstaan dat die naam “One Light” en koms van straatligte na die Vrystaatse dorp verwant is.  Hoegenaamd nie.  Ou “One Light” is so genoem weens sy glasoog.  Die naam kom van lank voor die ligte-era.

Ouma Marietjie van Wyk, Tokkie se weduweema, het in die 50’s al op ’n dag van ou “One Light” korte mette gemaak toe hy kom hondelisensie soek. “Hier blaf ek sommer self,” het sy hom in sy peetjie gestuur.

Nie vreemd nie in hierdie omstandighede is dat eggenote Tokkie. ‘n Bultfonteiner in murg en been, haar man onvleiend ou “One Light” genoem het terwyl hy met ‘n klappie op die oog moes loop nadat sy katarakke verwyder en nuwe lense ingeplant is.

Wel nogal vreemd is dat onvleiende byname destyds sonder skroom aan fisieke faktore soos ‘n glasoog gekoppel is –  veral in die lig van deesdae se sensitiwiteite oor bv. die naam Amakroko vir SA se Paralimpiërs.  In die ou Parlement was in die 60’s ook ‘n Volksraadslid “Botteloog”.

Vir glasoë bestaan nie net byname nie. Heelparty grappe het daarin hul oorsprong. ‘n Bekende is van die streng bankbestuurder met een glasoog.  ‘n Kliënt gaan klop aan om ‘n lening, en word agterna gevra of hy agtergekom het van die baas se  glasoog. Inderdaad, hy het. Hoe so?  “Dis die enigste oog met ‘n bietjie menslikheid in.”

Nie ‘n grap nie, maar ‘n feit is die boer wat sy glasoog uitgehaal en op ‘n paal gesit het om sy werkers in sy afwesigheid  “dop te hou”.  Hulle het dit nie gewaag om lyf weg te steek nie.

Nie ‘n grap nie, maar amper ‘n ramp was toe ‘n studentemaat – deesdae ‘n mega-boer uit eie reg – se glasoog in die badkamer van ‘n ruskamp in die Wildtuin wegraak.  Hy kon sweer hy het hom net daar in die hoekie neergesit.  Later kom rapporteer hy verleë.  Die oog was toe al die tyd in sy broeksak.

Jy kry selfs skuinserige oog-grappies. Met my tweede karatakverwydering en lensinplanting geslaagd agter die rug, sal ek seker een of twee skuinseriges veroorloof word.

By vriend Cas Jacobs, ‘n Karooseun van Carnarvon, het ek die storie gehoor van die ou wat in die Katkisasieklas maar gesukkel het.  Op ‘n keer moet hy uit die Bybel ‘n stuk voorlees waarin die woord “sinagoge” voorkom.  “Siena-siena-gogga,” kom dit hortend.

Nou watse sort gogga sou dit nou wees? terg die leraar.

“Wee –nie, dominie, klink of dit van die gearendheid van ‘n oogpister kan wees.”

Ouerig, maar deur swaer Fanie altyd so met entoesiasme vertel dat dit splinternuut klink, is die storie van die oom wat hospitaal toe is vir ‘n oogoperasie. Hy lê n sy kooi, gereed om teater toe gestoot te word, toe die jong verpleegstertjie opdaag, kwas en ‘n skeermes in die hand.

“Nee, nee,” protester hy en keer vir ‘n vale.  “”Ek is hier vir ‘n oogoperasie”.

Sy bekyk fronsend die papiere en kom dreigend nader, skeermes oorgehaal vir aksie. “Oom, hier staan dit tog duidelik. Oom is hier vir ‘n horingvliesoperasie.”

Gelukkig in die Kaapse Ooghospitaal daardie klas misverstandjie vrygespring!

(Oor die naam “katarak” het ek in ‘n vorige blog geskryf.  Daarop die volgende kommentaar van die oogarts ontvang: “Die naam ‘katarak’ kom inderdaad van die Grieks wat ‘n waterval of stroomversnelling beteken. In die antieke tyd was daar nie die toerusting om die oorsaak van swak visie te bepaal nie. Eers as die katarak so ver gevorderd het dat die pupil wit geword het en die voorkoms van ‘n stroomversnelling gekry het, is dit dan ‘n katarak genoem. Sulke gevorderde katarakte word deesdae nie meer dikwels gesien nie. Dit kom meestal in afgelee gebiede voor waar mediese hulp nie geredelik beskikbaar is nie.  Siende dat Suid-Afrika ‘n droë land is met min watervalle, het die ou mense hier dit dan so ‘n gevorderde katarak wat wit vertoon het in die pupil, ‘n pêrel genoem.”)