AFRIKAANSE PAULUS

Artikel oor ds. Ockie in vanoggend se Rapport-Weekliks.

Artikel oor ds. Ockie in vanoggend se Rapport-Weekliks.

Soos die apostel Paulus gereis en geskryf het, het ds. Ockie Raubenheimer in die vreemde gereis en gepreek.. Sy eie en sy 47 nasate se voetspore lê in ‘n verstommende 272 lande. Die patriarg se bydrae is verreweg die grootste.

Die wellewende veteraan-leraar, nou ‘n rype 92, se baanbreker-loopbaan strek, in sy eie woorde, “letterlik van die sone van die middernagson in die noordelike halfrond tot waar die son agter Marion-eiland in die suidelike halfrond ondergaan.”

By die Suid-Afrikaanse weerstasie op Marioneiland is reeds in 1955 as’t ware die eerste sooi vir sy buitelandse bediening gespit. Van 1971 was hy vier jaar lank weermagkapelaan in Parys.  Een Sondag per maand het hy oor die kanaal Londen toe gezirts vir ‘n diens. Dit was die voorloper tot die dinamiese Londense gemeente wat in ‘n stadium 8 000 tot 9 000 lidmate sterk was.

Uit Parys het hy Suid-Afrikaners in 17 lande van Europa, asook vyf lande in Suid-Amerika, in Noord-Amerika, Kanada, die Midde-Ooste en Japan bearbei.

By sy aanstelling het hy mnr. P.W. Botha, destydse minister van verdediging, ietwat oorbluf gevra:” “Wat verwag u van my?”  Botha het geantwoord: “Jy is ‘n predikant. Gaan doen die werk van ‘n predikant onder heiden, Jood en Mohammedaan.”  Ds. Ockie was ‘n pligsgetroue burger.  Hy het sy opdrag met entoesiasme en toewyding gepak.

By alle Suid-Afrikaanse buitelandse missies het ds. Ockie gou ‘n bekende en geliefde figuur geword.  Afrikaans of Engels het geen verskil gemaak nie. Elkeen wat wou, kon met vrymoedigheid aanklop. Dan was hy vinnig Finland toe vir ‘n buitengewone doop; dan was hy voorsanger by ‘n vreemde diens in die suide van Argentinië; dan weer was hy by die Suid-Afrikaanse skooltjie in Toulon met die indiensstelling van Suid-Afrika se eerste drie duikbote.  Sy herinneringe kan ‘n lywige boek vul.

Vroeër is sy vrou Veda, wat hom nege jaar gelede ná ‘n huwelik van 57 jaar ontval het en hul sewe kinders in hul Volkswagen-Kombi saam op vele toere in Afrika.  Die Kombi is die “Rooi Posbus” gedoop weens die negestuks wat so styf ingeprop moes sit.  Snags het hulle, elk in sy eie slaapsak, soos tipiese posstukke in drie lae moes slaap.

‘n Rak onder die dak het bedags as pakplek vir beddegoed en oortollige klere gedien en snags as krip vir die jongste.  Hul Erka-sleepwaentjie was onmisbaar as spens en kombuis.

Kamp opslaan was nie vir hom vreemd nie. Afrika is ook platgery op verskeie vrugbare sendingtoere met studente – tot selfs in Ethiopie en die grense van die Soedan.

Die syfer 272 word nie uit die lug gegryp nie. Met sy 90ste verjaardag op 13 April 2014 het die Raubenheimers feesgevier by Hemel en Aarde, Hermanus  – nogal ‘n toepaslike naam, meen hy.  Van sy 47 nasate was 42 teenwoordig. By die fees het die gedagte ontstaan: Kom ons stip in boekvorm aan waar ons klomp oral gewerk en vakansie gehou het. Hulle begin toe tel en tel. Somtotaal:  272.

Een van sy eerste doopdienste was in Helsinki. Finland. Die dopeling was ‘n spraaksame meisietjie van drie. Toe sy verveeld raak, het sy – moontlik uit nood – die kamer onder luide protes verlaat.  Die ma, ‘n boorling van Malmesbury wat tikster by die missie was, is agterna.  Al wat van die  gemeente oorgebly het, was die pa en ‘n getuie.

Tot almal se blydskap het die dopeling teruggekeer. Gelukkig vir hom, ‘n groentjie in die pos, was Helsinki buite bereik van die Suid-Afrikaanse media. Hy stel hom die reaksie voor op ‘n opskrif soos: “Helfte van kerkgangers stap uit diens van nuwe kapelaan”, laat val ds. Ockie ondeund.

Hy kan dalk ook ‘n nogal ongereformeerde optrede ten laste gelê word, meen die leraar. ‘n Diens in die suide van Argentinie kon hom dalkies selfs onder kerklike tug laat beland het.  Ná die diens is van die ambassadeur afskeid geneem.  “Sing asseblief vir ons van ons ou bekende Afrikaanse volksliedere,” kom die versoek toe tot die besoekende leraar.  Maar skaars  het hy weggeval, of die kitaar en konsertina kom uit – en daar dans die klomp vir ‘n vale.  Moontlike koerantopskrif:  “Kapelaan voorsanger op dansvloer”!

Ds. Ockie se lang-lang pad het uiters nederig begin. Hy was een van vier kinders uit ‘n arm huis. Sy pa het ná ‘n vyfjaar-lange droogte in Calvinia se Karoo uitgeboer. In 1927 het die gesin na Randfontein getrek om vir ‘n Jood op ‘n groenteplaas vir dertien pond per maand te boer.

Ná drie maande in die Engelse “beskawing” van die Rand kon klein Ockie darem al ‘n paar Engelse woorde bemeester. Toe die seun van die Karoo die eerste keer met reën kennis maak, wou hy by sy ma weet:  “Waar maak hulle hierdie ‘tap’ oop?”

In die nuwe omgewing het dit nie ook nie alte maklik gegaan nie.  Elke liewe dag, ses jaar lank, moes hy vyf myl heen en weer na die Engelse Laerskool op Randfontein pendel, eers te perd en later op ‘n fiets met ‘n jonger sustertjie agterop. Die Afrikaanse Laerskool was nog twee myl verder, boonop anderkant die hooflyntreinspoor sonder ‘n oorbrug.

Met die droogte in Calvinia, die verhuising na Randfontein en die skoolgaan in ‘n Engelse skool moes hy leer om, soos die Engelse dit verwoord: “Each man holds his own.” So het die Here, volgens hom,  begin vorm gee aan Sy plan met hom. Op universiteit, eers Potchefstroom toe Stellenbosch, en later as predikant in die Wes-Kaap en Transvaal is daardie plan reg getimmer en -skaaf.

Alles was voorbereiding en toerusting vir sy uiteindelike roeping, meen ds. Ockie – nie as ‘n skaapboer tussen die Karoobossies nie, maar ‘n skaapwagter van Sy taamlik verspreide en diverse kudde anderkant die waters.

Terug in Suid-Afrika, was hy weer in die bediening op Stellenbosch voordat hy in die Strand en later in Parklands – ‘n hanetree van Melkbos – tot ruste gekom het. So het hy op Melkbos begin kerk toe kom – elke Sondagoggend fier en regop op sy pos in die gangetjie by die hoofdeur.

In Maart 2012 sou hy ons Melkbosse gryskoppe by ons kerkvereniging Silwerkrag toespreek oor “Suid-Afrikaanse getuienis in die buiteland”. Die oggend daag hy toe op met ‘n kierie. Dit het ek nog nie voorheen raakgesien nie. Die voorsitster, Elna Smit, werp egter lig.

Sy kondig aan dat sy hom nie aan die woord gaan stel nie – hy voel “‘n bietjie olik”. Dit blyk die man, bejaard soos hy is,  het uit sy hospitaalbed opgestaan, sy dokter se besware vriendelik maar ferm van die hand gewys, hom –  soos altyd – spiekeries uitgevat en siek-siek sy afspraak kom nakom.

Met sy kenmerkende glimlag stap die kloeke ds. Ockie daarop self waardig na die kateder, betuig sy spyt dat hy nie die toespraak kan lewer nie, groet vriendelik en keer terug hospitaal toe waar hy vir ‘n vry-ernstige bloedprobleem behandel word. So lyk  gedrewenheid.

Die Sondag daarop het ds. Ockie die gemeente verras deur, stralend, soos altyd, die erediens by te woon – terwyl sy naam nog lewensgroot as hospitaalpasiënt in die Nuusbrief staan! Hy was fluks aan’t herstel ná die groot terugslag.

Maar die jare eis hul tol. Daar was weer ‘n terugslag, en nog een, en nog een.  Onlangs was hy geruime tyd in die hospitaal. Toe ek hom bel en die wens uitspreek om hom binnekort weer in die kerk te sien, antwoord hy lakoniek: “Nee, ou Hennie. My rondlopery is nou verby. My karretjie behoort nou aan my kleinkinders.”

‘n Lang, lang seisoen van ver paaie loop het tot ‘n einde gekom.  Al wat oorbly, is Jan Tuisbly se karretjie – darem ene met ‘n groot kattebak,  kant en wal gelaai van die mooiste herinneringe

EIE BLOEDFAMILIE

14479771_1242718322446294_7274609475859366385_nNooit gedink as ek kaartjies vir ‘n familiebyeenkoms begin pos dat een gerig sal wees aan Rolene Strauss (Roelien, soos ek haar geken het) nie.  Natuurlik sal ouma Elsie van Bloemfontein ook genooi word.  Oupa Johann is ongelukkig al geruime tyd langboompies toe.

Die verrassende nuus van bloedverwantskap met die pragtige jong vrou kom uit die deskundigste bron moontlik:  die staamboom-towenaar Theo Verwey wat lyne kan trek doer uit Koning Dawid se dae uit (ja waarlik, dis waarheen my eie paadjie terugloop).  . Daar is nie ‘n Springbokrugbyspeler nie, of Theo kan vir jou sy stamboom woerts-warts op die tafel sit.

Gereeld kom daar sulke verrassings van Theo. Soos gister se nuus oor die familieband met die vorige Mej. Wêreld.  Pa Hennie het as’t ware voor ons grootgeword in Bloemfontein, want sy ouers, Johann en Elsie, was jarelange bure oorkant die straat. Ons het oor en weer gekuier, onbewus van die raakpunte in ons onderskeie stambome. Dalk ook maar goed so.

Wat my beter laat voel dat Johann ‘n verre neef is, is ‘n toneeltjie wat hom op ‘n keer in ons kombuis in Genl. Van Schoorstraat afgespeel het. Johann het nie ‘n geleentheid laat verbygaan nie om my in kleur en geur daarvan te vertel.

Tokkie het flou voor die stoof neergesyg.  Die verskrikte kinders het gan hulp soek.  Naaste voordeur was die van die Strausse, en Johann – ‘n akademikus – was gelukkig tuis. Hy het, soos dit ‘n goeie buurman. betaam, geen oomblik geaarsel nie.  Toe Tokkie se oë oopfladder, was dit in buurman Johann se arms.

Gister se geselse rondom die Rolene-konneskei het ook ander familie aan die lig gebring vir wie ek graag kaartjies sal pos: die voorste skrywer Etienne van Heerden, gerekende jonger koerantekollega Tim du Plessis, asook  die Springbokslot Moaner van Heerden en sy seun, Wickus, ook ‘n rugbyspeler van formaat.

Wonder, nes Tim, waar die gemeenskaplike geen vandaan kom wat ons twee plus-minus op dieselfde paadjie by die koerante laat beland het.

In my geval moet ons die liefde vir skryf dalk by A.G. Visser gaan soek. ‘n Spesiale dankie, Theo, vir die onthulling van daardie verwantskap. Via oupa Hercules Visser en ma, Maria Petronella (Baby) Visser het hopelik iets van die “Sanger van die Suikerbosrand” se liefde vir woorde aan my afgesmeer.

Oor dié verbintenis loop die uwe buitengewoon breëbors. Op skool het hy hom verbeel hy is ‘n A.G. Visser Merk II.  Hope gediggies oor die liefde, die natuur en so het uit my skoolpen gevloei.  Die jaarblad was vol daarvan.

Een begin so: Vanaand is ‘n aand van verlange /  dit spreek uit die andwind se lied / dit spreek uit ‘n wolklose hemel / waar ‘n eensame ster nog verskiet ….

Vir die res, is ek bevrees, sal julle tantieme moet betaal!