SPEKE SING VIR BOEKE

 hvd1hvd2

My fiets het die pad van die huis na die biblioteek so goed geken dat dit amper nie nodig was om te stuur nie.  So dink ek baie jare terug –  na my standerd vyf-jaar (graad 7-jaar) in 1951 op Potchefstroom – in ‘n gesprek met die Oos-Vrystaatse digitale nuusportaal LENS na aanleiding  van Nasionale Boekeweek.

LENS het my en paar ander mense uitgevra oor die waarde van lees.  Op sy Fb-blad berig LENS soos volg oor ons gesprek:

DIT IS SUID-AFRIKA SE NASIONALE BOEKEWEEK

Die Suid-Afrikaanse Boekontwikkelingsraad in vennootskap met die departement van kuns en kultuur het in 2010 Nasionale Boekeweek gesamentlik geïnisieer. Hierdie veldtog om ’n bewustheid en liefde vir lees te kweek, het gekom nadat ’n studie gevind het dat slegs 14% van Suid-Afrikaners boeke lees en meer as die helfte van die Suid-Afrikaanse huishoudings (51%) het nie ’n enkele boek in hul huis nie.

LENS het met ‘n paar mense gesels wat al diep spore in die Afrikaanse taal getrap het en hulle uitgevra oor die waarde van lees.

LENS skop af met Hennie van Deventer wat 35 jaar lank in die koerantwese spore gelaat het: 12 jaar as dagbladredakteur (van onder meer Vrystaters se geliefde Die Volksblad) en ses jaar as hoof van Naspers se koerante. In 1997 het sy werkgewer sy hoogste eerbewys aan hom toegeken – die Phil Webermedalje vir volgehoue prestasie. Van Deventer het talle publikasies die lig laat sien en is ‘n gewilde blogger en skrywer.

VRAE AAN HENNIE

Waar het jou liefde vir lees begin en wie of wat het dit geïnspireer?

Die Potchefstroom-biblioteek staan soos ‘n baken in die leesgeskiedenis van die jeugdige Hennie van Deventer. Moenie vra hoe nie, maar in standerd vyf (graad sewe) het ek op ‘n manier sy rakke vol boeke ontdek: Topsy Smith, Casper H. Marais, Edgar Rice Burroughs (vertaal) en daardie klas lekkerleesgoed. My fiets het die pad van die huis af biblioteek toe so goed leer ken dat dit amper nie nodig was om te stuur nie. In matriek was Paul Gallico se “The Snow Goose” ‘n voorgeskrewe werk. Dit was n inspirasie; ek het selfs ‘n gedig oor die hartroerende boekie geskryf. In die eindeksamen kon ek my gedig neerpen in antwoord op die vraag: ‘Tell the story of The snow goose in your own words.’ Nogal goeie punte gekry.

Waarom is dit belangrik vir mense en veral kinders om te lees?

Iemand wat nie lees nie, kom voor ‘n toe poort te staan sover dit van die belangrikste elemente van die beskawing betref. Boeke gee vleuels aan die verbeelding, stimuleer denke en verskaf allenoodsaaklike toerusting om ten volle as mens in die samelewing te funksioneer. Dit kweek ‘n liefde vir woorde en verfynde taalgebruik. Dit bevorder ordening van gedagtes en leer jou sinryke kommunikasie. Dit open nuwe horisonte en verryk die gees. (Dit bevorder ook begrip en help selfs met spelling!)

Wat ouers kan doen om kinders in n tyd waar rekenaars, televisie, selfone en ander tegnologie oorheers lief te maak vir lees?

Die e-gogga bied vir almal uitdagings. Vir ouers is die groot uitdaging om kinders die waarde van lees – en die vreugde daarvan – met kreatiewe stimulasie self te leer ontdek. ‘n Groot fout is om ‘n kind te dwing om te lees, of om lees as straf te beskou. “As jy nie nou die TV afsit nie, stuur ek jou kamer toe met ‘n boek!” Ek sou reken ‘n goeie begin is om self te lees en gesien te word dat jy lees. Kry gereeld die koerant, koop boeke en goeie tydskrifte. Praat in die huis oor interessate berigte en artikels.  ‘n Pa en ma wat beurte maak met sekere seksies van die koerant het ‘n beter kans om ‘n lesertjie groot te maak as ‘n pa en ma wie se eie vingers op die sleutels van hul slimfone boer.

Is biblioteke nog relevant?

Is dit nog relevant om die beskawing in stand te hou, aan die mensekultuur te bou en die fyner dinge van die gees teen die aanslae van die materialisme te beskut? Hoe sinies moet ‘n mens nie wees nie as jy op hierdie vrae skouerophalend sou antwoord. Biblioteke is al een van die vername pilare van die beskawing genoem. Solank die beskawing relevant is, kan daardie vername stut nooit sy relevansie verloor nie.

Drie gunstelingskrywers?

Deon Meyer, Chris Karsten, Rudie van Rensburg, Johan van Wyk …. Met soveel voorste skrywers uit die Volksblad-stal sal dit ietwat dislojaal wees as ek gunstelingskrywers buite die kring noem. Ek hou van ouer digters en verlustig my aan DJ Opperman se Afrikaanse bloemlesings. Gedigte het my respek laat ontwikkel vir ’n raak woord wat tintel van sêkrag. As joernalis moet ek dit van die bors kry: Ek kan nie sien dat iemand wat nie poësie liefhet, treffende koerantopskrifte kan skryf nie.

Watter boeke lê tans op jou bedkassie?

Ongelukkig lees ek nie boeke in ‘n bondel nie. Op my bedkassie is die Bybel en nooit meer as een sekulere boek nie. Op die oomblik lees ek pligshalwe ‘n polemiese godsdienstige boek deur ‘n halfbroer, Christo Malan. wat al dekades uit Suid-Afrika weg is. Die titel is “Fact Based Faith: No speculation, emotion or tradition. Just fact.” Sodra oud-kollega Johan van Wyk se nuwe boek, “So is dit nou – nog stories van vandag en gister”, op die rak kom, sal dit die boek op my bedkassie word – nie pligshalwe nie maar vir persoonlike plesier.