MIKROFOON-MOLESTE

Seremoniemesters as spesie is nie op hul mond geval nie. Party maak soms hul naam krater en sit hul voet in die mond.

Name, name, name … met name moet ‘n mens tog so allerversigtig wees. Dit het ek as koerantman as’t ware aan moedersknie geleer. As jy nie is nie, kan jy iets allervserskrikliks kleitrap, boeta.

Soos die seremoniemeester (‘n voorste vrou in die gemeenskap) by die huweliksonthaal vir hul gemeente van ‘n leraar wat ‘n nuwe liefde gevind het ná ‘n pynlike egskeding vroeër.

Noem die leraar ds. Faan. Hy was voorheen getroud met Elise. Sy nuwe liefde se naam is Susan.

Toe verwar die seremoniemeester die name met rampspoedige gevolge.

Ds. Faan en Elise – die eks – word ‘n gelukkige en geseënde huwelikslewe toegewens pleks van ds. Faan en Susan, die blosende bruid aan die herder se sy.

Dit gebeur  nie net een keer nie. Elke keer snak die gemeente na hul asem maar mevrou die seremoniemeester stoom, onbewus van haar flater,  welsprekend voort.

Toe sy later ingelig word van haar ligte mistykie was die gil deurborend, verneem die uwe.

Dan was daar die baie spesiale okkasie so 25 jaar gelede aan die voet van Tafelberg.  Deftige dinee in ‘n ornate balsaal met ‘n dik rooi mat waarop elke gas met aankoms moet aantree.

Die tromme roffel en die seremoniemeester (goeie vriend en kollega en so professioneel-korrek soos kan kom) kondig dan dramaties die name aan.

“Hennie en Tokkie van Deventer”,  “Jan en Sannie Groenewald” en so aan voort.

In die geval van ‘n Kaapse kollega (aan my as Bloemfonteiner nie so goed bekend nie) was ‘n langdurige kantoorromanse glo die swaks bewaarde geheim duskant die Hexrivierberge.

Die aand betree hy die rooi mat met, stigtelik soos dit hoort, sy eggenote en moeder van sy kinders aan sy sy. Tromme roffel. Seremomiemeester maak hom gereed om die name van die nuwe aankomelinge uit te roep. Toe wankel sy konsentrasie.

Pleks van mevrou se naam noem die stomme vent toe die naam van die skelmpie.

Deur daardie balsaal het meer as net ‘n snak van  die vergaderde asems getrek. Noem dit eerder ‘n dreuning van ongeloof en skok.

Of die veronregte vrou ooit agtergekom het waarom die seremoniemester haar naam verkeerd had, weet ek nie.  Dan sal dit drie mense maak wat daardie oomblik nooit sal vergeet nie.  Die ander twee is natuurlik die rondloper-eggenoot – die bokker – en die seremoniemeester self.  Laasgenoemde word steeds bloedrooi soos ‘n kalkoen as jy van daardie aand begin praat.

Nie net seremoniemeesters maak blapse met name nie. Was ‘n keer in Bloemfontein by die begrafnisdiens van ‘n gerekende vader van die volk. In die voorste ry voor die preekstoel was sy seun – ‘n edele regter. Noem hom Adriaan

Die leraar begin sommer vroeg in sy rede die afgestorwene en die seun se name omruil.  Getuig met bewoentheid hoe ‘n prysenswaardige man oorlede Adriaan dan was.

Laasgenoemde kyk wanhopig om hom rond maar hulp daag nie op nie.

Uiteindelik was die kluitklap as’t ware op die verkeerde kis … of ten minste op die verkeerde tak van die stamboom.

Verleenthede vir mense met ‘n mikrofoon kom in vele fasette en vorme.  Ook omroepers kan struikel en doen dit meermale. ‘n Vroulike nuusleser was in die dag se hoofbulletin aan’t rapportere van die Rooi Gety aan die Weskus.

‘n Rooi Gety, deel sy toe die luisteraars mee, is ‘n dodelike orgasme in die water!

Die verskil tussen ‘n orgasme en ‘n organisme het haar vir ‘n pynlike oomblik ontgaan.

SPRINGBOKGLORIE

Ek was 10 jaar oud93318 en in standerd vier (graad ses) aan Port Natal in Durban toe ‘n vlammetjie in my aangesteek is wat ses en ‘n half dekades lustig gebrand het. Daardie vlammetjie begin nou flou raak. Uitbrand is sy voorland, vrees ek.

Ek praat van rugby.

In Julie 1951 is die Springboekproewe op Nuweland gehou vir die kies van ‘n toerspan na Groot-Brittanje en Frankryk.  Uit die bloute het ek die berigte in die Natal Daily News begin lees, en meegevoer geraak.

Teen die tyd dat die span aangekondig is, was ek ‘n entoesias. Maak my nou nog in die nag wakker, en ek sal daardie span van Basil Kenyon (later die span van Hennie Muller weens Kenyon se ernstige oogbesering) van die heelagters. Johnny Buchler en Jakkals Keevey, tot by die agtstemanne,  Muller en Kenyon, aframmel.

Ek kan geen ander span sedertdien so opnoem nie.

Die toer van vier maande het ek getrou gevolg, in die Daily News se kolomme, maar ook oor die radio in ons sitkamer in Botanic Grove in Berea.  Elke wedstryd was ek voor die radio vasgenael. Toe my helde in die tiende wedstryd op toer teen die Londense Graafskappe vasval, was ek in trane.

Terwyl die minute aftik en die Graafskapspan hardnekkig aan sy voorsprong van 11-9 vasklou, het ek angsbevange al rondom die huis gehardloop. Na elke rondte het ek net gou kom luister. Dan kry ek weer koers.   Die verlies van die simboliese Bok-kop wat destyds tradsioneel aan die eerste wenspan oorhandig is, was hartverskeurend.

Van ’51/’52 se toerspan onthou ek nie net die span se name nie.  Ek onthou ook die uitmuntende prestasielys: 32 wedstryde gespeel, 30 gewen, een verloor. Punte vir 562. Punte teen: 162. Ek onthou veral ook die uitmuntende sege van 44-0 oor Skotland op Murrayfield.

Dit was die grootste toetsoorwinning tot op datum.  Die onstuitbare Bokke het nie minder nie as nege keer gaan druk.  Onthou, ‘n drie was toe inderdaad net ‘n drie; nie ‘n vyf soos nou nie.

Een van die mooi stories wat agterna oor die roemryke sege  vertel is, was die een van ‘n Skotse ondersteuner met ‘n yslike roset voor die bors.  ‘n  Verbygaande tremdrywer sou aan hom gevra het: “Wat was die telling?”

“Ons het met 44 – 0 verloor en ons was vervlaks gelukkig om nul te kry,” was sy spitsvondige antwoord.

Uit daardie toer spruit my lewenslange helderevereing vir Hennie Muller – Hendrik Scholtz Vosloo Muller, die “Windhond”.  Was daar al ooit weer ‘n vernietigende agtsteman soos hy?

Nie net Hennie Muller nie, maar elkeen van daardie Bokke het die rugbyvlammetjie in my aangesteek.  Self was ek maar ‘n middelmatige speler – derde liga in Pretoria was vir die vinnige maar skytbang vleueltjie die hoogste sport –  maar as ondersteuner was ek in die eerste liga.

Agter toetse aan is ek derduisende kilometer per motor of trein. Ek het snags tougestaan vir kaartjies by Loftus en Ellispark.  Van die gedenkwaardigste oomblikke in Bok-rugby op SA velde het voor my oë afgespeel.  Mannetjies se drie op die Vrystaatstadion – natuurlik het ek dit gesien. Frik se glorieryke oomblikke op Loftus –  natuurlik was ek op die paviljoen.  Toe Francois Pienaar die Wêreldbeker lig – natuurlik, was ek een van die voetstampende juigendes op Ellispark.

Op hoërskool al was ek so ‘n rugby-verslaafde dat ek in matriek daaroor slae gekry het. Ek en matriekmaat Willie Hartzenberg (later regter Hartzenberg) het uit die koshuis geglip en van Potchefstroom na Klerksdorp geryloop om die eerste span teen Klerksdorp Hoër te gaan ondersteun.  Terug, het ons gesukkel om ‘n geleentheid te kry. Johan Claassen, groot Springbokslot, was die onderwyser aan diens in Jack Pauw-koshuis by Volkies.  Hy het my en Hartzenberg gelooi.

In Pretoria was ek (Kollege se huisvoorsitter) en wyle Willem van Niekerk (Sonop s’n) van die weinige Tukkies wat weekdae agter Tukkies se tweede span aangery het. Albei van ons was ietwat luidrugtig en vrypostig met ons kommentare. Een middag op die Polisieveld moes dieners ons tussen moerige kollegas deur na veiligheid begelei.

Nodig om nog te vertel?  Ek glo nie. Dalk is die punt eerder bereik om ‘n belydenis te maak.  ‘n Sware belydenis dat rugby besig is om hierdie entoesias te verloor. Helaas. Die vorige Saterdag toe Adriaan Strauss se span teen die Wallababies vasgeval het, was ek in die Weskuspark om blommetjies te kyk.  Net met ‘n halwe oor oor die radio geluister.

Gister, met die slagting van Christchurch, was ek wel voor die kassie. Maar toe die All Blacks die krane begin oopdraai en die Bokke al hoe meer begin steier en vervaard rondtas, het ‘n onbeskryflike afsydigheid my beetgepak.  Ek kon nie meer “worry” nie.  Trouens – ondenkbaar soos dit klink –  wou-wou ek  soms iets soos lekkerky,  ‘n vreemde soort “schadenfreude”,  belewe.

Die vlammetjie wat in 1951 aan die brand gesteek is, flikker waaragtig gevaarlik laag. Die Bokke van ’51/’52 het in my lewe ‘n dimensie gebring wat vir dekades groot vreugde en opwinding gesorg het. Die Bokke van die laaste jaar of drie het daardie ou vlammetjie tot skaars nog ‘n gloeiende kooltjie gereduseer. Die Bokke van 2016 dreig om dit heeltemal te verdoof.

Dis eintlik ‘n verskrilike hartseerding wat besig is om hierdie ou oor te kom.  Maar soos hulle op zign goeie Latyn seg: Sic gloria transit mundi.  Die ou glorie glip verby. Ek sien dit voor my oë gebeur. Dis pynlik. Maar ek is ook dankbaar ek kon Springbokglorie beleef soos ek wel het.

SPEKE SING VIR BOEKE

 hvd1hvd2

My fiets het die pad van die huis na die biblioteek so goed geken dat dit amper nie nodig was om te stuur nie.  So dink ek baie jare terug –  na my standerd vyf-jaar (graad 7-jaar) in 1951 op Potchefstroom – in ‘n gesprek met die Oos-Vrystaatse digitale nuusportaal LENS na aanleiding  van Nasionale Boekeweek.

LENS het my en paar ander mense uitgevra oor die waarde van lees.  Op sy Fb-blad berig LENS soos volg oor ons gesprek:

DIT IS SUID-AFRIKA SE NASIONALE BOEKEWEEK

Die Suid-Afrikaanse Boekontwikkelingsraad in vennootskap met die departement van kuns en kultuur het in 2010 Nasionale Boekeweek gesamentlik geïnisieer. Hierdie veldtog om ’n bewustheid en liefde vir lees te kweek, het gekom nadat ’n studie gevind het dat slegs 14% van Suid-Afrikaners boeke lees en meer as die helfte van die Suid-Afrikaanse huishoudings (51%) het nie ’n enkele boek in hul huis nie.

LENS het met ‘n paar mense gesels wat al diep spore in die Afrikaanse taal getrap het en hulle uitgevra oor die waarde van lees.

LENS skop af met Hennie van Deventer wat 35 jaar lank in die koerantwese spore gelaat het: 12 jaar as dagbladredakteur (van onder meer Vrystaters se geliefde Die Volksblad) en ses jaar as hoof van Naspers se koerante. In 1997 het sy werkgewer sy hoogste eerbewys aan hom toegeken – die Phil Webermedalje vir volgehoue prestasie. Van Deventer het talle publikasies die lig laat sien en is ‘n gewilde blogger en skrywer.

VRAE AAN HENNIE

Waar het jou liefde vir lees begin en wie of wat het dit geïnspireer?

Die Potchefstroom-biblioteek staan soos ‘n baken in die leesgeskiedenis van die jeugdige Hennie van Deventer. Moenie vra hoe nie, maar in standerd vyf (graad sewe) het ek op ‘n manier sy rakke vol boeke ontdek: Topsy Smith, Casper H. Marais, Edgar Rice Burroughs (vertaal) en daardie klas lekkerleesgoed. My fiets het die pad van die huis af biblioteek toe so goed leer ken dat dit amper nie nodig was om te stuur nie. In matriek was Paul Gallico se “The Snow Goose” ‘n voorgeskrewe werk. Dit was n inspirasie; ek het selfs ‘n gedig oor die hartroerende boekie geskryf. In die eindeksamen kon ek my gedig neerpen in antwoord op die vraag: ‘Tell the story of The snow goose in your own words.’ Nogal goeie punte gekry.

Waarom is dit belangrik vir mense en veral kinders om te lees?

Iemand wat nie lees nie, kom voor ‘n toe poort te staan sover dit van die belangrikste elemente van die beskawing betref. Boeke gee vleuels aan die verbeelding, stimuleer denke en verskaf allenoodsaaklike toerusting om ten volle as mens in die samelewing te funksioneer. Dit kweek ‘n liefde vir woorde en verfynde taalgebruik. Dit bevorder ordening van gedagtes en leer jou sinryke kommunikasie. Dit open nuwe horisonte en verryk die gees. (Dit bevorder ook begrip en help selfs met spelling!)

Wat ouers kan doen om kinders in n tyd waar rekenaars, televisie, selfone en ander tegnologie oorheers lief te maak vir lees?

Die e-gogga bied vir almal uitdagings. Vir ouers is die groot uitdaging om kinders die waarde van lees – en die vreugde daarvan – met kreatiewe stimulasie self te leer ontdek. ‘n Groot fout is om ‘n kind te dwing om te lees, of om lees as straf te beskou. “As jy nie nou die TV afsit nie, stuur ek jou kamer toe met ‘n boek!” Ek sou reken ‘n goeie begin is om self te lees en gesien te word dat jy lees. Kry gereeld die koerant, koop boeke en goeie tydskrifte. Praat in die huis oor interessate berigte en artikels.  ‘n Pa en ma wat beurte maak met sekere seksies van die koerant het ‘n beter kans om ‘n lesertjie groot te maak as ‘n pa en ma wie se eie vingers op die sleutels van hul slimfone boer.

Is biblioteke nog relevant?

Is dit nog relevant om die beskawing in stand te hou, aan die mensekultuur te bou en die fyner dinge van die gees teen die aanslae van die materialisme te beskut? Hoe sinies moet ‘n mens nie wees nie as jy op hierdie vrae skouerophalend sou antwoord. Biblioteke is al een van die vername pilare van die beskawing genoem. Solank die beskawing relevant is, kan daardie vername stut nooit sy relevansie verloor nie.

Drie gunstelingskrywers?

Deon Meyer, Chris Karsten, Rudie van Rensburg, Johan van Wyk …. Met soveel voorste skrywers uit die Volksblad-stal sal dit ietwat dislojaal wees as ek gunstelingskrywers buite die kring noem. Ek hou van ouer digters en verlustig my aan DJ Opperman se Afrikaanse bloemlesings. Gedigte het my respek laat ontwikkel vir ’n raak woord wat tintel van sêkrag. As joernalis moet ek dit van die bors kry: Ek kan nie sien dat iemand wat nie poësie liefhet, treffende koerantopskrifte kan skryf nie.

Watter boeke lê tans op jou bedkassie?

Ongelukkig lees ek nie boeke in ‘n bondel nie. Op my bedkassie is die Bybel en nooit meer as een sekulere boek nie. Op die oomblik lees ek pligshalwe ‘n polemiese godsdienstige boek deur ‘n halfbroer, Christo Malan. wat al dekades uit Suid-Afrika weg is. Die titel is “Fact Based Faith: No speculation, emotion or tradition. Just fact.” Sodra oud-kollega Johan van Wyk se nuwe boek, “So is dit nou – nog stories van vandag en gister”, op die rak kom, sal dit die boek op my bedkassie word – nie pligshalwe nie maar vir persoonlike plesier.

VERWOERD: 50 JAAR GELEDE

WAARMEE assosieer jy die naam Hendrik Frensch Verwoerd? Nege uit die tien keer sal die antwoord waarskynlik dadelik kom: apartheid. Hy was immers bekend as die Meneer Graniet van apartheid, wat nêrens wou skietgee nie. Ek assosieer die naam ook met iets anders: klipharde werk.

Die deurlugtige Premier is in Afrikaanse koerante in die jare 60 amper woordeliks gerapporteer. Spanne van minstens twee verslaggewers is vir elke toespraak ingespan. Jy het geskryf dat jou arm lam word terwyl hy in sy hoë stem praat en praat.

Op ’n keer is ek, ’n groentjie-verslaggewer, saam met Johannes Grosskopf vir ’n Verwoerd-geleentheid Vryburg toe. Die aand tevore is ’n ete aangebied, waar die Premier ook ’n toespraak sou lewer. Grosskopf besluit om vroeg te gaan slaap en die jong kollega met die ete-toespraak te vertrou.

Maar toe Verwoerd gaan sit, sit dié met nog ’n skoon notaboekie voor hom, en met niks om te rapporteer nie. Grosskopf kon die volgende oggend op sy rug val. “Jy is ’n dapper jong man,” het hy sarkasties opgemerk – dit was nie as ’n kompliment bedoel nie.

Tot vandag toe weet ek nie of ek daardie aand aan die slaap, arrogant, onnosel of dalk net ’n goeie joernalis was nie.

Om die grootste storie van my loopbaan uit te sonder, is nie moeilik nie. Op die middag van 6 September 1966, more presies 50 jaar gelede, het Die Volksblad se banieropskrif dit in groot, swarthout-letters – letters wat gewoonlik vir ’n oorlog gereserveer word – aangekondig: “Dr. Verwoerd vermoor – Bode steek hom met dolk – Aangrypende tonele in Volksraad”.

Alle emosie is uit my getap terwyl ek, self lamgeslaan van skok, die gewone laat uitgawe in krisisomstandighede ingrypend moes oormaak om die ontsettende nuus onder banieropskrifte die wêreld in te stuur. Onmiddellik daarna is begin om ’n spesiale uitgawe uit te bring.

Sal ek ooit vergeet hoe koorsagtig aan daardie spesiale uitgawe gewerk is terwyl ek en my kollegas aan die subtafel self letterlik van emosie bewe? Toe ons uitstap, was Voortrekkerstraat (nou Nelson Mandelarylaan) ’n miernes. In hul droefheid en verslaenheid het Bloemfonteiners in hul duisende na die koerantgebou gestroom vir die jongste nuus. Ons spannetjie wat die spesiale koerant uitgegee het, was fisiek en emosioneel totaal uitgemergel.

Ek was tot die vorige jaar, 1965, nog parlementêre verslaggewer. Verwoerd was vir die jong Volksblad-man ver verwyder en verhewe. ’n Vriendelike navraag oor my welstand toe ek een middag by die Volksraad onverwags in hom vasloop, het my tot jellie gereduseer. “Meneer Van Deventer!” Het die intellektuele reus my, nederige verslaggewertjie, werklik “Meneer Van Deventer” genoem? Dit was soos ’n eerbetoning.

Vir Dmitrio Tsafendas het ek ook geken. Hy was ’n ruk lank as bode in die persgalery werksaam, waar een van sy pligte was om vir honger of dors persmense iets te ete of te drinke in die kombuis te gaan haal. Die hand wat die dolk in Verwoerd se hart gedruk het, het vir my geroosterde eiertoebroodjies gebring!
NASKRIF: Toe die flitsberig die middag net ná 14:05 kom dat dr. Verwoerd aangeval is, was dit die half-blinde Bennie Lean wat sy kop deur die luik tussen die telekskantoor en die subkantoor gesteek het, met ’n hees: “Kyk hier!” Bennie was die man wat die dramatiese kopie velletjie vir velletjie van die teleksmasjien geskeur en aan my, die hoofsubredakteur, besorg het. Bennie was toe 34, ek agt jaar jonger. Nou is Bennie ook al weg. Hy is op 26/1/2008 op 76 oorlede. Ek word 76 op 3 Januarie 2017.