BRULLENDE KLIMAKS

Einde van 'n era. Die laaste Balule-spanfoto: Pierre en Esther le Roux, Proppie en Lettie Goosen, Piet en Moraig Henning, Cas en Nella Jacobs, Vos en Magdaleen Grey, Hennie en Tokkie van Deventer.

Einde van ‘n era. Die laaste Balule-spanfoto: Pierre en Esther le Roux, Proppie en Lettie Goosen, Piet en Moraig Henning, Cas en Nella Jacobs, Vos en Magdaleen Grey, Hennie en Tokkie van Deventer.

Met soveel oorgawe het ek leeus nog nie hoor brul nie. Dit was asof die maanhare van die kontrei op Balule toesak vir ‘n magtige klimaks.

Dit was Woensdagaand 24 Augustus 2013.  Balule V – ‘n okkasie vir groot ure om groot vure; van herinneringe opdiep, stories vertel, koningskos maak en hiënas-uit-die-bos kuier – het gekom en gegaan.  Dit was ook die einde van ‘n era.

Sedert 2012 het ‘n sesstuks Kollegemanne van die die 58’s en 59’s elke winter vir drie nagte Balule toe gekom. In 2017 verskuif ons na ‘n plek met elektrisiteit en onderdak as ‘n skielike storm ons weer sou tref. Die donker het vir party eenvoudig te donker geword, en die sandstorm die eerste aand van die 2016-saamtrek het meer as net die aandete verinneweer.

Die Engelse praat van ‘n “sense of occasion”. Daardie finale van die konings van die bos het presies so ‘n “sense of occasion” openbaar. Wat ‘n gewigtige geleentheid was dit nie. Ironies genoeg, het hiënas ons eerste nag in Julie 2012 op hul beurt ‘n dawerende voorspel opgelewer, wat nie maklik geëwenaar sal word nie.

Tussen die hiënas se welluidende verwelkoming en die leeus se nog welluidender groet is herinneringe versamel wat hierdie sentimentele ou gryskop met hope heimwee vervul.

Magtige kampvure was een van Balule se handelsmerke. Piet Henning het met bakkievragte sekelbos uit die Soutpansberg gekom.  Ek het die Honda se sitplekke platgeslaan en uit Sabiepark hardehoutstompe aangery: rooibos, knoppiesdoring en nog wat.

Langs die vure is die keurigste kos berei, soos Cas en Nella Jacobs  se tradisionele fillet en sampioensous. Koningskos is ook in potjies berei. Potbrood is gebak soos net ‘n boervrou soos Magdaleen Grey kan. Vanjaar is Magdaleen se brood selfs “op reis” geneem. Die klimaatskontrole in Vos se Isuzu is aangeskakel en op die regte temperatuur gestel om die deeg perfek te laat rys.

Uit Balule se rudimentêre kombuisie (‘n paar gasplate en ‘n ketel) het aand vir aand die heerlikste geure gesweef. Kerse is later uitgepak en kleurryke tafeldoeke oopgevou vir die een na die ander onvergeetlike dis, met goeie wyn uit goeie glase – dit spreek mos vanself.   Ons kon telkens by ‘n prentjie van elegansie aansit – dankie, dames.

Nog ‘n handelmerk was die stories, slimmighede,  anekdotes en kwinksklae uit ons studentejare van amper ses dekades gelede. Ons bure anderkant die draad – kampeerders en wilde diere – moet seker baie gewonder het wat die kieriekommando soveel plesier gee. Veral  Pierre le Roux vergeet nie ‘n goeie storie nie, en vertel dit elke jaar met nuwe entoesiasme!

‘n Persoonlike herinnering is hoe ek en Tokkie die eerste jare in Skukuza gaan tou staan het om Balule se ses rondawels vir die saamtrekke te bekom.  Ons moes in die nagtelike ure opstaan in Sabiepark, by die Krugerhek in ‘n tou agter ses taxi’s wag dat die horlosie sesuur slaan, en in Skukuza geduldig in ‘n tweede tou gaan wag op 07:30. Besprekingskantore landwyd open dan op die minuut. Talryke rekenaars begin gelyk namens angstige Wildtuinliefhebbers meeding om hul gunstelingplekke vir die wintervakansie voor ander op te raap.

Dalk die spesiaalste enkele okkasie was in 2015 – die jaar van ons geliefde koshuis se eeufees. Die seekoeie het hul trombone ‘n wyle gebêre en die kikvorse het ophou kik. Dit was vir die Kollegelied wat welluidend onder die Laeveldse naghemel opklink.

Ses Kollegemanne van weleer – party bles, party grys, party al ietwat skeef en krom, maar almal met harte wat nog warm klop vir Kollege – het met ‘n glasie goed verouderde rooi hul liefde vir hul koshuis op die Tukkie-proefplaas betuig.

Op die “Republiek van Kollegetehuis” is ‘n heildronk gedrink uit ‘n botteltjie feeswyn van 1990 toe Kollege feestelik sy 75ste verjaardag gevier het.Die “medisyne” is deur Proppie Goosen met sy ou kamermaat Pierre le Roux uit George saamgestuur. Die ondeunde Proppie kon nie self kom nie. Vanjaar was hy op sy pos.

Om die feeswyn uit die boks te haal, te ontkurk en te skink was ‘n hele ritueel. Die vername taak is aan Vos Grey opgedra. Hy was in 1961 en weer in 1963 huisvoorsitter, die oudste lewende lid van daardie spesie. (HvD, 1962, is die naasoudste. Rowwe gedagte!)

In 2017 is ons bestemming Orpen. Natuurlik sal “Aan het oewer van de Schelftzee ” opklink. Glo ons sal ook ander rituele inbou om daar Balule I tot V te gedenk. Trouens, ek dink ‘n blink idee begin so stadigaan ontkiem…

BOSHUIS SE MURE

Muur in die woonkamer.

Muur in die woonkamer.

Teen die mure van ons boshuis, Tarlehoet, hang 504 foto’s. Die feit word vermeld met die komplimente van kleinseun Thomas Claassens (12), ‘n ontluikende statistikus van formaat.

Thomas het van vertrek tot vertrek geloop en elke liewe foto opgeskryf.  Ook die op die stoep. Groot werk gewees: Oral, in elke denbare vertrek, is rame, en in een raam is nie minder nie as 75 klein foto’tjies.

In ‘n boshuis verwag ‘n mens dierefoto’s.  Natuurlik. Diere is hier inderdaad die oorheersende tema. Van die VanD’s se gedenkwaardigste  oomblikke in ons 17 jaar in Sabiepark is op een van my drie opeenvolgende Canons verewig.  Veral foto’s van luiperds en olifante wemel.  Leeus en buffels is ook taamlik getalryk.

Een foto pryk op twee plekke. Die onbeskroomde luiperd wat Caroline Pols op ons stoep afgeneem het, hang op die stoep self  – dis dan haar boudoir! – en as deel van ‘n collage in die woonkamer.  ‘n Luiperd op jou stoep! Wie in die wye wêreld het nog so ‘n foto?

My eie luiperd in Apiesdoringlaan is dalk minder eksklusief; nie minder elegant en indrukwekkend nie. Studentemaat Piet Henning van Louis Trichardt het dit beskryf as “dalk jou mooiste dierefoto”. Die luiperd met haar vlakvarkprooi in ‘n jong jakkalsbessie in Maroelastraat is self nie te versmaai nie.

Op ‘n reeks foto’s het dogter Marisa op haar verjaardag op 5 Julie 2005 ‘n leeuvangs by die piekniekplek grafies afgeneem – kort voor die begin van Sabiepark se jaarvergadering. Jy sien net stof, lywe  (leeus en rooibokkies) en bloedbekke (leeus).

Olifante sorg gereeld vir opwinding. Vanselfsprekend ook vir vele foto’s.  Om op 22 Augustus 2008 op Sabiepark se “brug” te wees toe troppe olifante en buffels saam die Sabie oorsteek, was baie spesiaal.  Het wonderlike foto’s van  waar die voorpunt van die olifante en die agterhoede van die buffels oorvleuel. ‘n Buffelstormloop deur die Sabie was ook voortreflike fotomateriaal.

Talle foto’s  is van en rondom Tarlehoet se stoep geneem:  Koedoes wat die voëls se pitjies steel;  sebras, wildbeeste en vlakvarke by die watergat; hiënas wat rondsluip; nagapies wat kom piesangskyfies inprop; ’n kameelperd-kopulasie; Witnek, die duiker wat net gryser en gryser geword het; ‘n bosnagaap wat haar kleintjie kom wys; ‘n slang wat ‘n akkedissie verorber…

Skoonseun Brent se uitsonderlike foto’s van ‘n kameelperdgeboorte hang teen dieselfde muur.

‘n Wildtuinfoto’s van ‘n klompie leeus op die teerpad net binne die Krugerhek is ‘n aangename herinnering aan ‘n goeie ou Sabieparkmaat, wyle Dawie Strydom. Dawie en Annatjie was op pad na ‘n  dokter toe hulle op die leeus afkom. Minute na hul SMS was ons op die toneel.

‘n Leeufoto van ‘n mamma op die rivierpad (S3) met ‘n klein-klein welpie in haar bek en tweetjies wat klaend agterna tou, was op Facebook nogal ‘n sensasie. ‘n Ander Facebook-gunsteling was my olifant by die welkombord by Krugerhek. (Het ook een van ‘n renoster saam met Oom Paul se beeld.)

In die dieregalery is vier kunswerke deur glasblaser Petro Swart van Melkbos: luiperd, renoster, sebra en rooibok, tesame met hul, spore kunstig en met liefde in die glas verewig.  (Die werke het voorheen in die Swarts se eie huis op hul wildplaas by Vaalwater gehang).  Het ook ‘n seilafdruk van wildehonde deur Mare Bruwer van Melkbos en ‘n nagapie in die pendoring langs ons stoep deur Johan Coetzer van Oudtshoorn. Onder die almanak-afdrukke wat rame toe is, is vier Zakkie Eloffs.

Die omslae van al my bosboeke – Buurman van die Wildtuin, Spore in die Bos, Duisend Dae langs die Sabie en Mayafudi – is geraam vir Tarlehoet, asook ‘n paar ander, soos Halfpad Hemel Toe (‘n gedenkboek vir my 60ste) en Sabiepark se Foto-album (waarvan ek samesteller was).

‘n Paar ou KWV-advertensies met dieretemas – o.m. sebras wat bondel by ‘n watergat; byskrif: When friends get together for a drink) – hang sy aan sy met my eie foto’s, asook groot kaarte van die Wildtuin en Sabiepark, en humoristiese resepte vir krokodilkerrie en olifantbredie (in die kombuis). Was daar toe ons die huis gekoop het – nes die antieke Coca  Cola-skinkbord.

Onder die gevogeltes is die bloukuifloerie, wat ‘n gereelde besoeker aan die rosyntjieboom by ons watergat is, ‘n saalbekooievaar saam met ‘n buffel, ‘n berghaan en ‘n goudsnip met sy weerkaatsing in die water so helder dat die ramer dit aanvanklik onderstebo geraam het.

Mensefoto’s is eweneens talryk. Dit dek nogal ‘n wye spektrum.  In die slaapkamer hang tot troufoto’s van my en Tokkie op ‘n nerf na 50 jaar gelede; ook troufoto’s van ons kinders, Johan (met Mariza) en Marisa (met Brent). Daar is gesinsfoto’s uit verskeie eras. Kleinkinders se besoeke deur die jare  is deur Oupa ruim verewig. Die spesiale bosdimensie van hul grootword word stap vir stap uitgebeeld.

Tussen die foto’s hang ‘n potloodskets van die uwe deur Sabiepark se resident-wildkunstenaar Abbey, een van die driehekwagte, foto’s van familie en vriende, allerlei Tukkie- en Volksblad-memorabilia, Melkbosfoto’s (dat ons nie vergeet nie!) en enkele sertifikate, soos lidmaatskap van die Klub vir Oud-Bloemfonteiners.

Op ‘n kennisgewingbord is hope foto’s met duimdrukkers vasgepen – selfs van ons kinders in die sneeu in Amerika (1976/77) en op Buffelsbaai se strand. Ook een van Johan op ‘n jagtog saam met P.W. Botha in die 80’s.

Onder die trofees is ‘n sierlike koedoekop. Dit het behoort aan die laaste koedoebul wat swaer Neels Nothnagel geskiet het. Trane het ook oor Neels se wange gerol, – soos oor die wange van die koedoe – toe Neels hom voorgeneem het: “Nooit weer nie.” ‘n Stel bosbokhorings herinner hoe geniepsig daardie “sagte” bokkie jou kan seermaak.  Velle teen mure sluit in twee sebras en twee rooikatte.

‘n Pyle en boog bo die voordeur wek nogal belangstelling. Wel, dis nie sommer so ‘n pyl en boog nie.  Kom uit die rolprent The Gods Must be Crazy. Het aan die Boesman Tau (dit was sy naam, meen ek) behoort wat die hoofkarakter was. Rolprentmaker Boet Troskie het dit vir my en Tokkie present gegee.

Wonder wat die jagter Tau se kommentaar sou wees as hy kon sien waar sy pyl en boog nou hang.  Al die bok-koppe, velle, dierefoto’s en dies meer sou sy vinger waarskynlik onbedaarlik laat jeuk het.

KEES-KOEKEDORE

As jy kan lag met ‘n traan, is die omgekeerde seker ook moontlik – jy kan grens met ‘n grininik.

Laasgenoemde verskynsel is nogal eie aan Sabiepark. Eienaars sal wurgend vertel van hul jongste onplesierigheid met bobbejane. Net as jy voel om saam in trane uit te bars, breek die slagoffer se humorsin deur.

Diep sugte van pyn word dan opgevolg deur ‘n skouerophaling van gelatenheid en dalk ‘n spitsvondige kommentaartjie van berusting.

Nie alle lede van die spesie “homo sapiens” is ewe lankmoedig en genaakbaar nie. Dit verg ‘n pakket van deugde om byvoorbeeld nog ‘n lughartigheidjie te kan pleeg as die sekelsterte jou domein binnedring, al jou breekgoed (plus nog ‘n paar onbreekbaarhede op die koop toe) breek, jou wit leersitkamerstel met rooiwyn vlek, jou biltong uit jou bakkie skaai, ‘n gat deur jou grasdak  dolwe, onder jou duvet inkruip en jou bed omskep in ‘n ablusieblok (‘n vorige blog) of in bloedige somerweer in jou swembadjie kom afkoel – ‘n morsigheid as jy ooit een gesien het.

Die uwe moet bely hy sukkel om in sulke tergende situasies selfbeheersing te behou. Hy bewonder vriende soos Kapous Mouton van “Vreklekker” hier hoër op in Wildevystraat wat in die beproewendste omstandighede met ‘n berustende “ag nou-ja”  kan reageer.

Kapous se peperduur nuwe bril is vir ‘n wyle onbewaak op die stoep gelaat. Dit was die laaste sien. Luide “boggems” van oral om die huis het die geheim verklap.

“Ag nou ja”, was Kapous se lakonieke kommentaar – hy hoop darem die bril sal sy nuwe eienaar help om sy “Beeld” beter te lees.

Skaars twee maande later was Kapous en Leonora die slagoffers van ‘n klassieke bobbejaan-inval op soek na kos. Elke kas word dan oopgeruk. Agterna is die vloere besaai met stukkende eiers, pap papaja, meel, suiker, koekies, kookolie,verskeurde  plastiek en wat nog – natuurlik gemeng met die eie uitwerpsels wat blykbaar deur die stimulasie van sulke vandalisme tienvoudig geaktiveer word.

Net een blik beskuit is die Moutons gespaar. Die deksel was toegeplak. Dit was vyf uur lank se rugbreektaak om orde te skep.

In die Sabiepark-Nuusbrief het Kapous in kleur en geur van die wedervaring vertel . Veral twee opmerkings was vir hierdie leser nogal verrassend.

Vir eers vertel die ou vriend hoe hy in sy geestesoog kon sien hoe ‘n jong knaap ‘n sakkie met mielies gryp. Dan word hy deur ‘n ander gejaag om ook te deel in die fees. Mielies spat in elke rigting.

Maar dan die kersie op die koek: “Ons het die dag maar beskou as ‘n  welwillendheidsdag, en uitgereik na ons bosbure wat seker die eerste reg het op die bos. “Lank lewe die bobbejane!”

“Lank lewe die bobbejane” – verbeel jou!  Ek gryp liewer die naaste skietding.

Nog iemand met Kapous-inklinasies (grens met ‘n grinnik) is klaarblyklik ds.Theo Danzfuss van Muduni Lodge. Hy vertel op Sabiepark se Facebookblad van ‘n kese-Koekedoor met ‘n kinkel:

“So ‘n tydjie gelede was daar ongeveer 21 bobbejane gelyktydig (yslike groot mannetjies ingesluit) binne in ons huis se woonkamer-kombui. Daar was nie ‘n enkele eier, vrug, koekie, beskuit, ens wat hulle nie verslind het nie.

“Het probeer koek bak deur twee dosyn eiers met 5kg sakkie meel plus ‘n pak suiker gegeur met vars pap slap bobbejaanmis te meng. Voordat hulle die mengsel in die oond kon sit, het ek die vertrek binnegekom. Toe ek die kamer binnestorm en met my plakkies op mekaar slaan, het hulle so geskrik dat elkeen ‘n yslike hoop mis agterlaat (bo en behalwe dit wat reeds in hulle koekmengsel was) net waar hy gesit het.

“Onnodig om te sê dit het ons drie dae geneem om huis weer skoon te kry. Moes al die meubels uitdra, en alles met seep en Dettolwater was. Reuk was vir week lank nog in die huis.”

En die liewe dominee maak nog grappies oor ‘n koekresep van meel en bobbejaanmis!

Hy sluit darem af: “Gelukkig het ons skuifdeure voor en agter sodat hulle vinnig agter kon uitgaan toe ek voor inkom, want so klomp bobbejane wat vasgekeer is, is lewensgevaarlik.”

Op die waarskuwing seg ek sela.