BOBAAS-BOULDERS

Kamp omring deur rotskoppies.

Kamp omring deur rotskoppies.

Ons het skaars begin om die heerlike geriewe en merkwaardige uitsigte op die  eksklusiewe watergat van die boskamp Boulders  te ontdek, toe twee verwelkomingskomitees opdaag. By die watergat het twee olifante kom drink. Oor die rotse by die braaiplek het die vriendelike gesigte verskyn van Johnson en Marvin,  Boulders se “butlers”.

Van olifante en die twee “butlers” sou ons albei heelwat sien in die volgende 48 uur. Drie groepe olifante het minstens vyf keer die watergat kom beset; een keer ‘n troppie van agt of so. In die geledere was ‘n enorme bul en ‘n piepklein baba. Die grote het soos ‘n verwoede stormram onder twee wildehonde ingevlieg wat die kleintjie kom steur het.

Johnson en Marvin was  soos skimme teenwoordig: dek tafel, was skottelgoed, maak die beddens op en dies meer terwyl jy op sagte rusbanke aan jou jenewer of wyntjie teug.  Wyle oom Barnie Human van Bloemfontein – bekend om sy rykdom en sy humor – het gemeen ‘n mens hoef nie ryk te wees nie; jy moet net ryk maniere he. Sulke ryk maniere leer Boulders jou vinnig.

Wildehonde by ons watergat.

Wildehonde by ons watergat.

Die twee wildehonde het net voor skemer die eerste aand uit die mopanies verskyn om hul dors te les. ‘n Derde het later opgedaag en sy makkers se  spoor gevat. Ook ‘n hiëna en verskeie vlakvarke het kom drink.

Maar die buffels! Die swaar gestaltes met hul indrukwekkende horings het vir die eintlike fees gesorg. Eers rustig uit die bosse gekom. ‘n Trop van minstens 80. Jy het net oë gesien in die donkerte wat intussen toegesak het. Later tot amper teenaan die kamp gewei. Ek en Tokkie het in die lig van die amperse volmaan op ons stoepie gestaan en wonder oor die veiligheid van die Honda wat tussen die pilare onder die gebou geparkeer was.

Uit die bloute jaag iets egter die trop die skrik op die lyf. Toe hulle omspring en oor die klippe storm, het dit gedruis.  Twee uur later keer hulle terug, weer op volle vaart in die teenoorgestelde rigting. Twee stormlope in twee uur – min het ons geweet die volgende oggend sou die aarde weer bewe in stormloop nommer drie. Oor wat die rede (redes?) vir die sonderlinge gedrag was, kon ons net raai.

Buffelskouspel.

Buffelskouspel.

Buffels was nie al wat vir ‘n skouspel gesorg het nie. Wie sal ooit die vertoning van die vlermuise kan vergeet?  Met die westerkim in goud gebaai, het die vreemde diertjies skielik in hul honderde die lug geklief en in ‘n swart wolk koers gekies. By die watergat was sononder weer die teken vir ‘n enorme toesakking van allerlei voels.

Boulders se naam is presies in die kol. Die onomheinde kamp (ses uiters ruim dubbelkamers met private badkamers en die enorme kuierplek) is omring deur skilderagtige rotskoppies.  Die massiewe klipstapels sorg vir ‘n ervaring op sy eie.

Vier klipspringers was deurgaans aan’t klouter in die klippe om die kamp. Die lewendige voëllewe het verskeie besoeke van kleurryke dassievoëls ingesluit. In skeure in die rotse gaan ‘n paar muskejaatkatjies tuis. Veral een is buitengewoon vrymoedig.

Die natuurlike klip-voelbadjie het nie net die dassievoels gelok nie, maar ook vir ‘n gedurige toestroming van blou sysies gesorg. Eekhorings en akkedisse het boon op hul dors kom les.

In die seldsame stiller tydjies het ‘n fiere patrysmamma en haar span kuikentjies – so groot soos hoendereiers, meen Tokkie – vir heelwat plesier gesorg. Die oggend toe ons padgee, het ‘n steenbokkie kom inloer.

Boulders is ‘n taamlike ent van Sabiepark – iets soos 225 km. Jy moet roer om in ‘n dag  van A tot by B te kom as jy darem ook langs die pad wil bene rek en vir “spesiale” diere wil stilhou, wat ons wel meermale moes doen. Op die reis was o.m. ‘n luiperd of twee, leeus wat rooi van die bloed ‘n buffelkarkas aandurf, sierlike swartwitpense, njalas en dies meer.

Die tog word egter dubbel en dwars beloon. Boulders is een van die Kruger-wildtuin se skitterendste juwele. In sekere opsigte selfs beter as die peperduur private reservate aan die wildtuin se grense. Om ware vrede te vind of vir ‘n spesiale bederf van ‘n geliefde, kan jy kwalik beter vaar.

Braaiplek tussen die klippe.

Braaiplek tussen die klippe.

Mopanieveld is nie my persoonlike gunsteling nie. Maar die bekroonde kamp  tussen die mopanies met sy kenmerkende koppies het waarlik karakter. Ek gee die plek sonder huiwering ses sterre. Vir die uitsonderlike braaiplek teen ‘n  natuurlike muur van ruwe rotse gee ek sommer sewe. Die braaiplek, die watergat en die stilte (vir sommige dalk ook die lang kroegtoonbank) ding sterk mee om die hoogste louere, sou ek reken.

Die watergat se pomp word deur sonkrag aangedryf, soos, trouens, al die kamp se ligte en toestelle.  Daardie pompie het dapper probeer maar was, helaas, nie teen soveel buffel- en olifantbesoeke bestand nie. In ‘n stadium moes ‘n kragopwekker ingespan word om die watervoorraad ‘n hupstoot te gee. Vir ‘n rukkie het dit die stilte versteur. Maar toe die kragopwekker afgeskakel word, was die bosveld-vreedsaamheid amper des te meer oorweldigend. Juis op daardie oomblik klim die vlamme van die kampvuur die lug in en verskyn ‘n ronde rooi maan tussen die bome. Hemels.