OLIFANTE OM JOU STOEP

Tokkie by die stukkende vaalrosyntjie.

Tokkie by die stukkende vaalrosyntjie.

Nie op ons stoep nie – genadetjie tog – maar by ons stoep, langs om stoep, teenaan ons stoep – daar het die jongste “anderster stoepstorie”  hom verlede nag by Tarlehoet ontvou.

In die vorige blog vertel ek van die hiëna wat enkele dae gelede so skielik langs ons etenstafel opgeduik het. Toe teruggekeer het vir ‘n toegif. In Maart 2015 was dit ‘n luiperd se beurt op die stoep. Bobbejane neem ongemaklik dikwels die stoep op horings. Vlakvarke het ook al kom inloer.

Verlede nag was dit die ou grotes se beurt vir ’n inval. Tekens van die olifante se nagtelike strooptog is vandag oral: gebreekte bome en struike,   bolle mis, spore in die sagte sand.

‘n Frisserige teeltrop het Sabiepark gister binnegedring – ook kleintjies. Hoeveel by Tarlehoet was, weet ek nie. Die verspreide skade en verspreide bolle verklap dit was meer as een. Die variasies in grootte van die mis getuig dit was grotes en kleintjies.

Eerste leidrade was ‘n aanhoudende nagtelike geritsel – as dit die regte woord is vir sulke groot lywe wat om jou huis beweeg. Ek het regop gesit op die bed. Later is ek, gewapen met die sakflitsliggie, skuifdeur toe om te probeer identifiseer wat ek hoor.

Maar die maan trek by laaste kwartier, onthou. Donkermaan is op die drumpel. En daardie flitsliggie moenie met ‘n soeklig verwar word nie. Sonder antwoord of vermoede is ek weer bedwaarts.

Bolle by die watergat.

Bolle by die watergat.

Vanoggend toe ons kerk toe ry, lê ‘n lang tak oor ons motorpad. Tokkie moet uitklim om dit te gaan skuif.  (Wonder terloops  hoeveel mense in Suid-Afrika – die wêreld trouens – moes vanoggend olifante se gemors uit die weg ruim op pad kerk toe!)

Toe bemerk sy die verflenterde vaalrosyntjie by die ingang – skaars twee meter van die stoep en net vyf meter van die skuifdeur van die gastekamer wat op die stoep uitloop. Die Honda se ligte val ook op vars bolle ‘n hanetreetjie weg.

Eers na kerk kon ons ‘n opname doen. Veral rosyntjiebosse het dit ontgeld. Reg rondom die huis is gebreekte bleekgeel takke wat van hul sappige bas gestroop is.  Naby die vooringang is ‘n witrosyntjie uit die grond gepluk en ‘n klein dammetjie uitgedolwe Tarlehoet se Olifantsdam? In die water is die tak van ‘n reuserosyntjie.

Die raasblare wat ‘n vorige keer deurgeloop het, is deur Tokkie en die arbeider Patson weer fatsoen gegee. Olifant se kind het daardie fatsoen doeltreffend verniel.

Olifantsdam.

Olifantsdam.

Agter die huis word ‘n klein appelblaartjie vertroetel wat deur die kinders met ‘n groot lepel daar geplant is. Die opgskote boompie word met ‘n ringmuurtjie van klippe beskerm.  ‘n Groot poot is daarop neergesit.

Langs die swembad en by die watergatjie is klaarblyklik deeglik gekuier. Lyk ietwat na ‘n slagveld net twee meter weg van die muurtjie.

In Wildevylaan lê die bolle dik  – ons straat lyk omtrent soos Pall Mall in Londen  na een van die Engelse se  periodieke seremoniële perdeparades.

Altyd rede om dankbaar te wees. Die “French drain” (wat is dit tog nou weer in Afrikaans?), watergat, Tokkie se aalwyne, die lapa’s (voor en agter) se paaltjieheinings en die kinders se dammetjie (met ‘n groot plastiekskottel uitgevoer) is ongedeerd.

Gelukkig ook die duur nuwe swembadseil.

Jare gelede was in Sabiepark ‘n dispuut oor ‘n heining tussen die park en die wildtuin of nie. Ek was pro-heining. Die parkhoof David Zeller was in die ander kamp.  Dink net hoe lekker dit sal wees om uit die swembad vir ‘n olifante te sit en kyk, wou hy my oortuig.

Vanoggend het die gedagte by my opgekom hoe onlekker dit sou wees as die olifant in die swembad sou wees en jou met sy klein ogies vanuit jou eie speelplekkie begluur!

 

ANDER SOORT STOEPSTORIE

VuurvreterOns eet by die ronde tafel op die donker voorstoep. Die muurliggie se gloeilampie het die gees gegee en die enigste lig kom van twee outydse lanterns. Tokkie hoor ‘n geritsel en gryp haar flitsie.

Toe sy die lig na regs swaai, sien ons gelyk die ongenooide gas op die stoep. Net vyf meter van ons voor ons slaapkamervenster.

Ons krete stuit hom gelukkig. Hy steek in sy spore vas en swaai druipstert om.

Tokkie staan op en gaan span die ketting by die trappies langs die swembadjie. Dit was meneer se diskrete roete.

Skaars 45 minute is ons op pad bedwaarts. Dieselfde intimiderende figuur verskyn skielik voor die slaapkamer se skuifdeur – en die staan boonop halfpad oop vir vars lug.  Weer galm skrikmaak-krete uit twee kele.  Weer blaas ons gas  sondermeer die aftog.

Kort daarna klink ‘n jammerlike protes uit die omgewing van die watergat op. Lank en aanhoudend. Toe die flitslig op hom val, duik die hiëna agter die takke in en sluip weg.

Al weer Tarlehoet se stoep. Vyftien maande gelede het ‘n luiperd daar kom intrek.  Gelukkig in ons afwesigheid. Voorheen het ‘n hiëna al ‘n plassie daar gelos, ‘n kussing geskaai en vroegoggend voor die slaapkamer se skuifdeur kom grynslag terwyl ek op my oggendkoffie wag.

Twee besoeke in 45 minute is egter ook nou weer ‘n ander soort stoepstorie.

Altyd gedink die ketting is voldoende beskerming teen ongewenste indringers. Nou besef ek hoe verkeerd ek was. Hiëna se kind het net sy krom rug nog krommer getrek en hom onder deur gewurm.

Wat nou? Tokkie dink ‘n klokkie aan die ketting is die antwoord. Die vreemde geluid behoort gewis twyfel in ‘n normale hiëna se gemoed te saai. En die stoepsitters betyds te waarsku.

‘n Klokkie by jou voordeur – dit is in elk geval tog maar die beskaafde wyse vir gaste om hulle aan te meld, of hoe?

(Buiten vir die vorige stoep-insidente hier in Sabiepark  het ‘n vuurvreter al aan ons braaivuurtjie kom ruik, het vier van die dierasies in ons watergat rondgeplas blykbaar agter kos aan wat hulle daar kom berg het, en het ‘n ou met ‘n sterk kakebeen in ‘n wilde stoeigeveg met ons asblik gate in die metaal geskeur.)

BOBAAS-BOULDERS

Kamp omring deur rotskoppies.

Kamp omring deur rotskoppies.

Ons het skaars begin om die heerlike geriewe en merkwaardige uitsigte op die  eksklusiewe watergat van die boskamp Boulders  te ontdek, toe twee verwelkomingskomitees opdaag. By die watergat het twee olifante kom drink. Oor die rotse by die braaiplek het die vriendelike gesigte verskyn van Johnson en Marvin,  Boulders se “butlers”.

Van olifante en die twee “butlers” sou ons albei heelwat sien in die volgende 48 uur. Drie groepe olifante het minstens vyf keer die watergat kom beset; een keer ‘n troppie van agt of so. In die geledere was ‘n enorme bul en ‘n piepklein baba. Die grote het soos ‘n verwoede stormram onder twee wildehonde ingevlieg wat die kleintjie kom steur het.

Johnson en Marvin was  soos skimme teenwoordig: dek tafel, was skottelgoed, maak die beddens op en dies meer terwyl jy op sagte rusbanke aan jou jenewer of wyntjie teug.  Wyle oom Barnie Human van Bloemfontein – bekend om sy rykdom en sy humor – het gemeen ‘n mens hoef nie ryk te wees nie; jy moet net ryk maniere he. Sulke ryk maniere leer Boulders jou vinnig.

Wildehonde by ons watergat.

Wildehonde by ons watergat.

Die twee wildehonde het net voor skemer die eerste aand uit die mopanies verskyn om hul dors te les. ‘n Derde het later opgedaag en sy makkers se  spoor gevat. Ook ‘n hiëna en verskeie vlakvarke het kom drink.

Maar die buffels! Die swaar gestaltes met hul indrukwekkende horings het vir die eintlike fees gesorg. Eers rustig uit die bosse gekom. ‘n Trop van minstens 80. Jy het net oë gesien in die donkerte wat intussen toegesak het. Later tot amper teenaan die kamp gewei. Ek en Tokkie het in die lig van die amperse volmaan op ons stoepie gestaan en wonder oor die veiligheid van die Honda wat tussen die pilare onder die gebou geparkeer was.

Uit die bloute jaag iets egter die trop die skrik op die lyf. Toe hulle omspring en oor die klippe storm, het dit gedruis.  Twee uur later keer hulle terug, weer op volle vaart in die teenoorgestelde rigting. Twee stormlope in twee uur – min het ons geweet die volgende oggend sou die aarde weer bewe in stormloop nommer drie. Oor wat die rede (redes?) vir die sonderlinge gedrag was, kon ons net raai.

Buffelskouspel.

Buffelskouspel.

Buffels was nie al wat vir ‘n skouspel gesorg het nie. Wie sal ooit die vertoning van die vlermuise kan vergeet?  Met die westerkim in goud gebaai, het die vreemde diertjies skielik in hul honderde die lug geklief en in ‘n swart wolk koers gekies. By die watergat was sononder weer die teken vir ‘n enorme toesakking van allerlei voels.

Boulders se naam is presies in die kol. Die onomheinde kamp (ses uiters ruim dubbelkamers met private badkamers en die enorme kuierplek) is omring deur skilderagtige rotskoppies.  Die massiewe klipstapels sorg vir ‘n ervaring op sy eie.

Vier klipspringers was deurgaans aan’t klouter in die klippe om die kamp. Die lewendige voëllewe het verskeie besoeke van kleurryke dassievoëls ingesluit. In skeure in die rotse gaan ‘n paar muskejaatkatjies tuis. Veral een is buitengewoon vrymoedig.

Die natuurlike klip-voelbadjie het nie net die dassievoels gelok nie, maar ook vir ‘n gedurige toestroming van blou sysies gesorg. Eekhorings en akkedisse het boon op hul dors kom les.

In die seldsame stiller tydjies het ‘n fiere patrysmamma en haar span kuikentjies – so groot soos hoendereiers, meen Tokkie – vir heelwat plesier gesorg. Die oggend toe ons padgee, het ‘n steenbokkie kom inloer.

Boulders is ‘n taamlike ent van Sabiepark – iets soos 225 km. Jy moet roer om in ‘n dag  van A tot by B te kom as jy darem ook langs die pad wil bene rek en vir “spesiale” diere wil stilhou, wat ons wel meermale moes doen. Op die reis was o.m. ‘n luiperd of twee, leeus wat rooi van die bloed ‘n buffelkarkas aandurf, sierlike swartwitpense, njalas en dies meer.

Die tog word egter dubbel en dwars beloon. Boulders is een van die Kruger-wildtuin se skitterendste juwele. In sekere opsigte selfs beter as die peperduur private reservate aan die wildtuin se grense. Om ware vrede te vind of vir ‘n spesiale bederf van ‘n geliefde, kan jy kwalik beter vaar.

Braaiplek tussen die klippe.

Braaiplek tussen die klippe.

Mopanieveld is nie my persoonlike gunsteling nie. Maar die bekroonde kamp  tussen die mopanies met sy kenmerkende koppies het waarlik karakter. Ek gee die plek sonder huiwering ses sterre. Vir die uitsonderlike braaiplek teen ‘n  natuurlike muur van ruwe rotse gee ek sommer sewe. Die braaiplek, die watergat en die stilte (vir sommige dalk ook die lang kroegtoonbank) ding sterk mee om die hoogste louere, sou ek reken.

Die watergat se pomp word deur sonkrag aangedryf, soos, trouens, al die kamp se ligte en toestelle.  Daardie pompie het dapper probeer maar was, helaas, nie teen soveel buffel- en olifantbesoeke bestand nie. In ‘n stadium moes ‘n kragopwekker ingespan word om die watervoorraad ‘n hupstoot te gee. Vir ‘n rukkie het dit die stilte versteur. Maar toe die kragopwekker afgeskakel word, was die bosveld-vreedsaamheid amper des te meer oorweldigend. Juis op daardie oomblik klim die vlamme van die kampvuur die lug in en verskyn ‘n ronde rooi maan tussen die bome. Hemels.

 

 

 

OP DIEREPAAIE

SONY DSC

Kinders se leeus,

Luiperd by die piekniekplek. Die nuus trek soos ‘n veldbrand deur Sabiepark. Skielik wemel dit van eienaars en gaste met kameras en verkykers.

Tot op datum het ons hierdie vakansie drie keer luiperds in die omgewing van ons eie “Leopard Rock” by die piekniekplek gesien. Opwinding nommer een aan die dierefront in die kinders se vakansie was (moontlik) die verskyning van sommere twee luiperds op een slag daar langs die Sabierivier.

By piekniekplek.

By piekniekplek.

Die twee het ‘n ver ent grasieus voor ons verbygestap. Rooibokkies wat op pad was rivier toe, het haastig laat spaander. Soos ‘n rooi gordyn, aldus Tokkie. Die foto van die groot mannetjie op my kamera is danksy Jacob se fermer hand en skerper oog as sy oupa s’n. Die wyfie het deurgaans op die agtergrond gebly. Ons het haar egter ook mooi gesien. Die seuns was in vervoering.

Die eerste een het die dag van die algemene jaarvergadering in die tradisionele markiestent van die oorkant van die rivier in die yl sonnetjie die petalje lê en dophou. Dalk het die reuk van die tradisionele braaivleis, pap en sjeba die ou se aptyt aangewakker.

Die woord “moontlik” tussen hakies voor die nommer-een-etiket is omdat daardie eer dalk in die seuns se boekie aan hul 20 leeus by die N’waswitshaka-watergat behoort. Pragtige foto’s opgelewer: leeus wat in ‘n ry hul dors les.

Dit was die eerste naweek van hul vakansie met hul pa, Brent, hier op ‘n verrassingsbesoek. Oupa en ouma is die oggend nie saam wildtuin toe nie.  Toe mis ons ‘n leeu-waarneming van die eerste water.  Later, nadat die Claassense reeds weg was, was daar glo ‘n dosyn of wat leeus by en naby die piekniekplek.  Die Van Deventers was weer nie op die regte tyd op die regte plek nie.

In die bittere-bittere droogte ry ‘n mens ver ente sonder om veel te sien.  Oor olifante,  renosters en buffels kan ons egter nie kla nie.  Die ou grotes was volop. Naby Afsaal het ons ‘n keer nege renosters by ‘n watergat raakgeloop – die meeste in al die jare. Op pad na die Phabeni was die veld een oggend skielik swart van die buffels – ‘n trop van honderde der honderde.

Die lelikste gesig van die droogte is ongetwyfeld aasvoëls wat mekaar verdring op ‘n kaal karkas. Sulke neerdrukkende toneeltjies is ongelukkig taamlik algemeen op ‘n reis deur die sentrale Krugerwildtuin. Die wit skelette van diere wat dit nie gemaak het nie, le versprei tussen die yl bossies op die kaalgevrete veld.

Renosters bondel by die water.

Renosters bondel by die water.

Veral die arme seekoeie leef swaar. ‘n Mens se hart gaan uit na die ou grotes as julle hang-skouer ver van hul waterwoning sien ronddwaal op soek na ‘n grassie.

Ook vir voëls is die kos minnerig. Ons het ‘n familiegroepie bromvoëls raakgeloop wat met buitengewone verbetenheid ‘n boomstam takel. Iets  het klaarblyklik daarin geskuil wat ‘n lekker middaghappie kon word: ‘n sappige slangetjie of ander reptiel, vingerlek-lekker kuikens of voëleietjies, ‘n kolonie goggas of selfs ‘n klein soogdiertjie. Hulle wou daardie begeerlikheid met alle geweld uitkry – eers deur hul snawels diep in die gat af te boor, en toe dit nie werk nie die stam met hul snawels aan te val dat jy net been teen hout hoor klap so tussen die luidrugtige ge-oemf, -oemf deur.

Laat dit maar hoe droog wees – en ek oordryf nie hoe erg dit is nie –  maar ‘n wandeling in Sabiepark is nog altyd sielsverkwikkend, al is dit net vir daardie sierlike patrone wat die takke van die bome aan weerskante teen die blou-blou hemel afets. Die piekniekplek is ondanks alles steeds ‘n lushof. Dit word deur Organ voortreflik versorg. Al is die rivier ver van bruisend bly elke besoek ‘n plesier.

Ek is spyt ons het nie meer kere met die kinders daarheen gestap nie. Vasberade om dit vorentoe gereelder te doen!

Tarlehoet se watergatjie het tot op datum, vreemd genoeg, nie veel aftrek gekry nie. Die sebras en wildebeeste – gewoonlik gretige besoekers – slof verby na die voerplekke toe. Hulle drink seker elders. Bobbejane en gebande muishondjies kom wel Tarlehoet se water geniet.

Die nagapies het nie teleur gestel nie.  Hoe kon hulle as die seuns soveel moeite doen om die piesang so netjies in kreatiewe patrone vir hulle uit te pak?

‘n Geheiminnige besoeker is die kalant wat Saterdag sy vel van sowat een meter tussen die klinkerbakstene van Tarlehoet se buitemuur by die woonkamer gelaat het – stertjie wapperende in die ligte windjie.  Seuns sou sekerlik opgewonde gereageer het.

Bo skryf ek van die seuns se boekie. Thomas het werklik ‘n boekie waarin hy waarnemings getrou opteken. Hy spog al met jare se statistieke en kan in ‘n japtrap vir jou vertel hoeveel diere jy op watter dag op watter roete gesien het.

Christopher het hom ontpop as geesdriftige fotograaf. Boetie Jacob se kamera is na hom aangegee. Hy neem BAIE foto’s en is gedurig besig mt kyk weers. Sy grootste probleem was batterye. Wens ek het statistieke gehou van hoeveel keer op sy kamera se skerm die boodskap geflits is: Change the batteries.

DIS MOS KOS UIT DIE BOS!

"Kers-aand"

“Kers-aand”

Al gehoor van ‘n “kers-aand” in Julie? Wel, kyk na die treffende foto hierbo. Kleinseun Jacob (12) het met ‘n versameling kerse uit Ouma se voorraad die gewone ronde tafeltjie op Tarlehoet se stoep in ‘n feestelikheid omgetower; ‘n eer vir die aand se spyse van die rooster en uit die kombuis – goedkoop papierservetjies ten spyt.

‘n Feestelike verjaardagtafel uit die hart van die bos is op sy beurt deur tweelingbroer, Thomas, vir sy mamma, Marisa, voorberei. Blare van ‘n huilboom, appelblaar, haak en steek en varings; sade van die kierieklapper en sekelbos, rooigras, asook blommetjies van die koraalboom (‘n oulap se rooi), syselbos en die varkoorplakkie is o.m. toegewyd versamel om die regte atmosfeer te skep (Foto 2).

Kyk hoe vrolik brand die feeslanterns op die agtergrond.  Die lampolieverbruik – soos die houtverbruik – vir die amper drie weke se boskuier is nie deur oupa bereken nie.

Uit die hart van die bos.

Uit die hart van die bos.

Elke aand se ete was omtrent ‘n ritueel. Met elke aspek het elke seun kranig bygedra – vuurtjie pak, vuurtjie aansteek, tafel dek, slaai maak, vleis braai en ‘n nagereg voortbring. Die mededinging was geweldig. Die selfstandigheid het getref maar het, helaas, ook ‘n negatiewe boodskap uitgedra. Jy het teruggedink aan die eerste vakansies saam in die bos met die seuntjies nog in doeke  – en skielik stokoud gevoel.

Veral by die vuurmaak het Christopher (6), die jongste, tot sy reg gekom.  Dit was ‘n takie wat hy – tot die irritasie van sy ouer broers –  hard probeer het om vir hom af te baken.  Rede? “Want.” Vir Christopher spreek daardie een woordjie boekdele.  Nie nodig om iets by te voeg nie. Dit is wat hy wil doen en basta.

Agterna is lank gestry oor die verdienste van elke vuur. Hoe hoog die vlamme gelek het, was die deurslaggewende norm vir prestasie!

Vlamme lek hoog.

Vlamme lek hoog.

Die aand van sy ma se verjaardag het Jacob sy slag met sommer drie roosters op ‘n slag op die halwe drom gewys. Die worsie, vark-“rashers” en skaap-“motsjantos”   het perfek van die kole gekom.  Later het Thomas self ook vleisies op die kole gaargemaak wat niks afsteek nie.

Die verjaardagmeisie het die trappies na Thomase tafel bestyg deur ‘n erewag van kersies wat hy daar geplaas het. Die drie Claassensboeties het waarlik alle stoppe uitgetrek vir hul ma se verjaardag in die bos

Een aand het Jimmy en Lida Pressly uit Skukuza oorgekom vir ete. Die seuns was die sjefs. ‘n Spsiale slaai met appel, bloukaas en okkerneute (Thomas se spesialiteit)  en ‘n peperment-nagereg (Jacob se keuse) is o.m. berei.

Oom Jimmy had vir hul kos op Facebook die hoogste lof: “Gordon Ramsey, Marco-Piere White, Nigella en Jamie Oliver staan terug!”

Met die komplimente van die gasvrye Jimmy en Lida het die Van Deventers en Claassense vervolgens ‘n proeseltjie gehad van die voetslaan-vreugdes wat die Wildtuin bied. Ons is nou vuur en vlam vir nog.

Darem nie self met dapper en stapper op die diere se spore gaan loop nie. Wel ‘n salige nag diep in die hart van die bos deurgebring in die Napikamp vir voetslaners naby Pretoriuskop. Lieflike uitsigte op die Byamitirivier, gerieflike tente, bedrywige wildlewe, sterre so naby dat jy hulle kan vat, opwindende naggeluide en, natuurlik, ‘n kampvuur om oor huis toe te skryf (waarby Thomas sterk betrokke was). Jimmy is ‘n kampioenbraaier.

Lida het ons met die intrap bederf met wortelkoek en Jimmy se melktert. Oorgenoeg het oorgebly vir ‘n ontbyt duisend vir die seuns – soveel sagter op die verhemelte as die gewone muesli en jogurt.

Die drie seuns by Jacob se rooster.

Die drie seuns by Jacob se rooster.

Die kinders was in hul element. Jacob en Thomas voel sommer grootmeneer na hul eerste nag alleen in ‘n eie tent in die bos. Jimmy en Lida Pressly het ons waarlik alte verskriklik bederf met hierdie manjifieke bosbelewenis. Weet nie hoekom ons so bevoorreg is nie..

Praat van grootmeneer voel.  By Sabiepark se jaarvergadering vroeër het ‘n snerpende windjie ons met ons pap en wors (en natuurlik Sabiepark se eie voortreflike sjeba-smoor) onder die laat skuiling soek. Die kinders het beurte gemaak in die voorsitter se stoel.  Toe stap die regte voorsitter in. Thomas, wat op daardie oomblik in die stoel was, deel mee hy het hom “boeglam geskrik”.

‘n Eete wat veral Christopher ook nie lig sal vergeet nie was ‘n buffet-brekfis by Cattle Barons op Skukuza. Glo nie ek dik aan nie as ek meen hy was sewe keer terug om ‘n plaatkoekie met goue stroop te gaan haal.

Die hele vakansie het die skaal beskuldigend ongebruik in die hoek van die slaapkamer bly staan.