SO IS DIT NOU

Johan van Wyk by sy geliefde ou Gold Wing. HY ry nou 'n Triumph.

Johan van Wyk by sy geliefde ou Gold Wing. HY ry nou ‘n Triumph.

In kollega en vriend Johan van Wyk se eerste boek, So was dit, het hy ‘n buiging na die uwe gemaak vir my rol om hom te bly druk om ‘n boek van sy kostelike (en kosbare) skryfsels op die rak te kry.

Ek het inderdaad al van die 1980’s af met hom daaroor gespook. Ek was toe redakteur van Die Volksblad en hy skrywer van die uiters gewilde rubriek Stop van Myne.

Vir my aanmoediging om ‘n nommer twee te lewer, kan ek seker ook ‘n klein bietjie eer opeis.

IN elk geval. In September gebeur dit. Dan kom Johan van Wyk se opvolgbundel op die rak: So is dit nou.

Op Litnet het ek oor die kleurryke karakter Johan van Wyk allerlei anekdotes opgediep. OOr hoe lekker hy en Anneline Kriel gedans het en so.

Ek vertel ook van die dominee wat langs die oop graf staan toe die grond onder sy voete verkrummel. Hy raap hom op en spring sierlik bo-oor die oop graf na terra firma. Dis wat Johan se skryfwerk vir ons oumense is, bevind ek: ‘n stukkie vaste aarde om na te spring as dit voel of die wereld, in sy woorde, elke oggend met ons gatoorkop slaan.

Die skakel ba die Litnetstorie is: http://www.litnet.co.za/so-is-dit-nou-deur-johan-van-wyk-is-op-pad/

Daaroor skryf Litnet se inhoudsredakteur Naomi Meyer: “Terwyl ek dit geplaas het, het ek besef hoeveel emosie agter hierdie skrywe lê en van watter waarde Johan van Wyk se boek en sy volgende boek sal wees.”

 

 

ONDER EEN DAK

Diagonalstraat 10. Ek speel met my Dinky Toykarretjies op die trappies van die voorstoepie.

Diagonalstraat 10. Ek speel met my Dinky Toykarretjies op die trappies van die voorstoepie.

Kort nadat ek in 1980 van Beeld af Die Volksblad in Bloemfontein  toe is, het ek my ou tuisstad Kimberley besoek. Ek het Tokkie Diagonaalstraat 10 gaan wys waar ek van 1944 tot 1950 gewoon het, waar my pa in 1946 oorlede is en waaruit ek in 1947 by die Laerskool Diamantveld begin skoolgaan het.

Natuurlik het ek gewonder: wie sou nou in daardie huisie woon?

Wel, 35 jaar later, weet ek. Dit was ‘n jong paartjie met die van Malan – interessant genoeg  ook die nuwe van my ma, Baby, nadat sy in 1951 met Tony Malan van Durban getroud is. Hy het my Pa Malan geword en ons verhouding was so goed soos dit tussen ‘n stiefpa en ‘n seun kon wees.  Dink dikwels met deernis aan hom.

Hannes Malan het uit Boskburg ‘n e-pos gestuur nadat hy in By van die Van Deventers se  Kimberleyjare gelees het in my Vadersdagartikel oor Pa Seun – die pa wat ek nie geken het nie weens sy te vroeë dood.

Hannes skryf:

“Ek het jou artikel in die By van 18 Junie met belangstelling gelees.

“Jou onthou het ook my en my vrou se onthou geword. Die skakelhuisie in Diagonalstraat 10 was ons eerste huisie nadat ons getroud is.

“Ons was die eienaars vanaf 1977 tot 1982.Jou artikel het goeie herinneringe terug gebring.Om een of ander rede het die huisie my altyd laat dink as dit kon praat, watter stories als daar sou kon uitkom. Wel hier is een.

“Ek kom nog van tyd tot tyd in Kimberley en sal graag vir jou n foto van die huisie stuur indien jy sou belangstel.”

Natuurlik het ek geesdriftig die aanbod aanvaar.

Eers die briefie van Trienette de Beer wat in Diagonaalstraat 5 gewoon het en toe die briefie van Hannes. Ons was as’t ware onder een dak – al was dit dekades uitmekaar.  Ek kon my oe nie glo nie.  Wonder of die sinkpplaatheining in 1977 nog daar was  – en die peperboom  in die agterplaas waaronder die kleinhuisie met sy lang houtbank en emmer was.

Ook uit die stad Deventer in die provinsie Overijssel in Nederland – die stad van my vadere –  het ek – al is dit onregstreeks – gehoor.

Jaap van Lille {weet ni van waar nie) het laat weet:

“My skoonsuster (my vrou se suster) woon al ‘n hele klompie jare in Nederland en ons het al ‘n hele paar kere vir hulle gaan kuier. Hulle was eers in Brummen, het toe vir ‘n paar jaar in Groningen gewoon en is nou weer terug in Zevenaar wat digby Arnhem is. Toe hulle in Brummen was, het ons gereeld Deventer besoek, want dit is die grootste plek daar naby en het ook die Lebuïnuskerk besoek.

“Jou artikel gaan oor ons wortels en dit was vir my so wonderlik om daar in die Lebuïnuskerk teen die mure in oud- Nederlands (wat verstommend naby aan ons eie taal Afrikaans is) tekste uit die Bybel en die Apostoliese Geloofsbelydenis te kon lees.

“Een jaar met ‘n winterreis na Nederland, het ons ‘n uitvoering van Kersliedere deur ‘n koor in die Lebuïnuskerk bygewoon wat ‘n blywende indruk op my gemaak het. Dit is indrukke soos hierdie wat vir ons, wat die gene van die Europeërs in ons dra, maar in Afrika woon, herinner waar ons vandaan kom en waarom dit vir ons moeilik is om die kulture van Afrika te aanvaar.

“My eie stamvader, Jakob van Lill(e), het in 1803 per skip van Rotterdam aan die Kaap geland, eintlik op pad na Batavia, maar op versoek in die Kaap gebly. Dit is heelwat later as jou stamvader.” (My stamvader, Gerrit Jansz het in 1687  na die Kaap gekom.)

Waarlik, hoe klein is die ou wêreld nie!

KOUE VOETE

Sinkheining in Diagonalstraat. Hennie met 'n verslete buiteband.

Sinkheining in Diagonalstraat. Hennie met ‘n verslete buiteband.

Oorstelpende reaksie gekry op my stuk oor Pa Seun (vorige blog), veral nadat dit ook in By, naweekbylae tot Die Burger, en op Netwerk24 gepubliseer is.  Wonderlik dat my herineringe ook ander mense  se herinneringe geword het.  Hieronder volg ‘n briefie van ‘n buurmeisie as’t ware.

Darem nie heeltemal nie.  Hoewel Trienette Muller (nou De Beer)  in Diagonalstraat 5, Kimberley, grootgeword het, was dit jare na my.  Toe sy in 1954 in sub A by die Laerskool Diamantveld kom, was die uwe al in st. 7 aan Volkies op Potchefstroom.

Van haar wonderlike herinneringe aan die Avbob-oom en sy lykwa weet ek niks!

Weet wel van die “creamery” en onthou die geratel van die treintrokke. Het elke dag daar verbygestap skool toe en graag die steil afdraande aangedurf met my fietsie. Het ook self gereeld ‘n pennie se “drop” (lang swart likories) by die winkeltjie/kafee op die hoek gekoop. By ‘n losieshuis verbygestap waar ‘n asemrowende 1948 Chev Fleetline met witwalbande geparkeer was.

Trienette skryf:

“Jou artikel, In Pa seun se voetspore, in By van 18 Junie het my totaal nostalgies gehad! Sien ek het my laerskooljare op Diamantveld  deurgebring. Ons het in Diagonalstraat 5 gewoon. Die skoolhoof was eers mnr Roux met sy glasoog en toe mnr MWH Smit met sy wye broeke met turn ups, sy baie groot Amerikaanse motor en sy mooi vrou.

“Ek was in sub A in 1954. (Die uwe is sewe jaar tevore in 1947 al skool toe.)

“My pa was die sendeling  eerw Piet Müller. Ek onthou nog duidelik die geratel van die treintrokke en stoomloko wat by die ’çreamery’ gestop het.

“As jong dogtertjie onthou ek die volgende mense van die straat:

“Die Van der Merwes drie huise van die spoor af – die AVBOB-oom wat dikwels met sy lykswa met lyk en al kom middagete eet het  nadat  hy ‘n lyk ver moes gaan haal. Ons kinders het grootoog deur die ruit geloer het na die voete wat uitsteek! En dan weggehardloop het dat die vonke spat vir die spook! Hul dogter was Sibel. (Sou ongetwyfeld self ook koue voete gekry het vir die koue voete!);

“Die Louwgesin met hul nege kinders regoor ons;

“In een van die die skakelhuise waarvan jy praat, het Binghams gewoon wat met so ‘n outydse regop-motortjie gery het. Die kinders het altyd hul neuse teen die agterruit gedruk wanneer hulle wegtrek.

“Ek onthou jou nie. Maar lei af dat jy ouer is as ek. Ek is 68. (Natuurlik sou sy my onthou het, maar ek is 75 en ons is weg uit Kimberley in 1950,  toe ek nege was!)

“Dan op die hoek van die straat waar mens afgedraai het na ou Valla se winkel verderaan  waar mens die wit Hillstoffies kon koop, die Engelse  met die seuns wat baie grend was met hulle resiesfietse!

“Dan het Ockert Fourie en sy sussie Diana- hulle net om die draai van die ander straat gewoon (agter die van der Merwe- lykbesorger). Dis die straat wat deurgeloop het na Transvaalweg. Het die naam vergeet. (My Oom Willie en tant Minnie Smith het in Transvaalweg 1 gewoon.)

“Ek onthou die warm somers toe my pa ons almal se matrasse in die voortuin gesleep het sodat ons buite kon slaap om af te koel; die donderweer met blitse;  die sinkplate wat die huise se tuine afgewerk het as heinings;  die rooi sinkdakke wat trom geslaan het as dit reën. Ek is vandag nog dol oor sinkargitektuur!

“Mense met wie ek nog kontak het: Claudette Ferreira, Lydia de Waal, Fonnie du Plooy (was in my klas), Johan van Huyssteen – ouer as ek.

“‘n Paar jaar gelede was ons in Kimberley want ek wou weer in daardie straat kom, maar helaas dis weg en die omgewing totaal verander. Net herinneringe bly.

“Hennie dankie vir jou lekker artikel  Wou net sê dit met my so laat verlang na die tyd toe ons kinders saans tot laat buite gespeel het, sonder gevaar wat dreig en sonder diefwering teen die vensters.

“Diagonalstraat- groete

Sinkheining in Diagonalstraat. Hennie met 'n verslete buiteband.

Sinkheining in Diagonalstraat. Hennie met ‘n verslete buiteband.

“Trienette de Beer (gebore Müller)”.

VADERHART VOL LIEFDE

Aan herdenkingsdae soos Vadersdag en Moedersdag het ek min erg gehad. Te kommersiëel. Vadersdag 2016 tref my anders. Ek het ontdek dat Vadersdag vanjaar plus-minus met die 70ste herdenking van Pa Seun se dood saamval.  Vadersdag is Sondag 19 Junie. Pa het op 21 Junie 1946 aan ‘n hartaanval gesterf. Op 35.

Pa Seun en sy seuntjie (4 maande en ses maande)

Pa Seun en sy seuntjie (4 maande en ses maande)

Pa sou ‘n nagskof werk by De Beers se diamantmyn in Kimbeley. In die sekuriteitshokkie het hy begin sleg voel. Hy het vroeg huis toe gekom, sy klere netjies gebêre, soos sy gewoonte was, en in die bed geklim.  ‘n Uur of twee later het hy gesterf.

Hy is in die begraafplaas naby die Groot Gat ter ruste gelê, ver van sy  wortels in die groen lande van Noord-Natal waarvandaan hy twee jare tevore sy gesinnetjie gebring het om, ironies, sy seuntjie, Hennie, se lewe te red.  Vir dié se chroniese kroepborsie was die nat, mistige Natalse weer dodelik.

Hoe enorm groot daardie opoffering moet gewees het, het jare later eers deurgedring.  Op Vadersdag 2016, 70 jaar ná sy dood, eer ek my pa opnuut vir die geweldige liefdesdaad.

Pa wat net ‘n boer was, moes werk soek. Dié kry hy toe met behulp van my diamantspeuerder-oom Willie Smith in De Beers se sekuriteitsafdeling. Die nuwe Van Deventerwoning was ‘n nederige ongepleisterde skakelhuisie in Diagonalstraat – naby die stasie, met ‘n sinkplaatheining en ‘n kleinhuisie met ‘n emmer onder ‘n peperboom in die agterplaas. In daardie stowwerige agterplaas het ek met duiwe en skilpaaie geboer en verlangend met my “vetdiere” (blikbeeste, -perde, -varke en -skape) plaas-plaas gespeel.

Die opstal van die plaas Middelin aan die voet van die berg Spes.

Die opstal van die plaas Middelin aan die voet van die berg Spes.

Van my kennismaking met die skoolbanke in 1947 by die Laerskool Diamantveld en my heel flukse vordering het Pa helaas niks meegemaak nie. Hy is na sy graf met ‘n sekere ontsteltenis dat sy seuntjie telkens die syfer 7 vergeet het as hy tot 10 moet tel.  So het ma Baby my later meegedeel.

Die gebruikte blou Hillman Minx met die swart modderskerms wat pas die onekonomiese ou Plymouth as gesinsmotor vervang het, moes ná Pa se dood dadelik verkoop word. Ma kon nie bestuur nie en wou ook nie leer nie. Sy het ‘n fiets bekom en voor die skakelbord in Kimberley se telefoonsentrale die rol van broodwinner oorgeneem.

Watter enorme waterskeiding Pa se dood in werklikheid was, sou ek eers as volwassene besef toe ek, op soek na my wortels, op ‘n pelgrimstog terug is Babanango toe. Later is ek na Deventer in die provinsie Over-Ijssel in Nederland waarvandaan Gerrit Jansz van Deventer in 1687, 35 jaar ná Jan van Riebeeck, na die Kaap gekom het.

Iewers, iewers, het ek gehoop, sou ek die Van Deventer-drade kon optel. Albei die soektogte het onuitwisbare indrukke gelaat.

Pa Seun, Ma Baby en Hennie op die stoep van Kiberley se huisie.

Pa Seun, Ma Baby en Hennie op die stoep van Kimberley se huisie.

Dit was gewyde oomblikke om in die lang gras op die oorspronklike familieplaas Rondspring by die grafte van Oupa en Ouma van Deventer te staan: Jacob Hendrik (8 Oktober 1871 – 10 Mei 1933) en Maria Catharina (gebore Van den Berg, 5 November 1872 –7  November 1930). Die stad van my vadere het my eweneens geroer. Stap jy in Deventer se Bergkwartier of op die stadsplein, die Brink; hoor jy die suiwer klank van die 47 klokke van die indrukwekkende Lebuïnuskerk – die oudste in Nederland – en die geloei van die koeie oorkant die Ijssel in die aandstilte, beleef jy op ‘n baie pertinente manier ‘n onsigbare band met die verre verlede.

Dit het ‘n speletjie geword om na die jaartalle op die gewels te kyk en te wonder: Het Gerrit Jansz dalk op hierdie einste hobbelrige keisteentjies gestap om afskeid te neem?

Teleurstellings het ook gewag , by Babanango en in Deventer.

Die opstal van ons plaas Middelin, buurplaas van Rondsprong, die familieplaas, was nie eens meer ‘n murasie nie. Niks het oorgebly nie. Silutshana wat die vername poskantoor van ‘n welvarende distrik was, het verval tot ‘n uiters basiese plaaswinkeltjie. In Deventer, weer, soek jy vergeefs na ‘n Van Deventer – hulle is die verlore geslag Deventenaars wat  lank-lank gelede groener weivelde in Suid-Afrika, die Verenigde State en elders gaan soek het.

Jou herinneringe, het jy ontdek, is gewortel in iets heeltemal anders, iets unieks. In ‘n paar kiekies wat met ‘n “bokskamera” geneem is, een vergrotinkie teen die muur, ‘n rooi graniet-grafsteen in Kimberley, ‘n ou notebeursie, ‘n salariskoevertjie wat met sy dood nog onoopgemaak was en sy laaste kort briefie aan sy vrou.

Nie sonder ‘n tikkie jaloesie nie, het ek deur die jare gehoor hoe vriende en familie in gesprekke met bejaarde vaders die verlede opdiep.  Ure is omgesels oor die wie, wat, waar en waarom van lank gelede. Bandmasjientjies is aangeskakel om ‘n geliefde stem te verewig.

Dan het ek my verwyt dat ek nie meer uitgevra het toe ek nog kon nie – ‘n fout wat te veel mense maak, en te laat agterkom.  Nou het ek van Seun van Deventer, benewens die bogenoemde besittinkies, maar bloedmin oor. Geen herinnering aan ‘n stem nie (was dit fors of nie?); aan hande (was dit gebrei soos dié van ‘n boer?) of aan ‘n aanraking nie.

Oupa en ouma se grafte in die veld op Rondspring.

Oupa en ouma se grafte in die veld op Rondspring.

O-ja, darem die briefie. Dit het hy, in ‘n netjiese handskrif met ‘n vulpen, ‘n week voor sy dood aan sy vrou, Baby, gerig. Die onderwerp was juis die Hillman wat pas in die motorhuis aan die treinspoorkant van Diagonalstraat ingetrek was. “Liefste Baby,” het hy met ‘n ferme hand geskryf, “ek het vandag uitgevind dat ons kar net half met olie was toe ons haar gekry het. Jy moet dus probeer om vir ons drie pinte olie te kry. Kry by Willie (eggenoot van haar suster Minnie) ‘n skoon blik en laat dit maar daar staan.  Dan sal ek dit daar gaan ingooi. Groete. Seun.”

“Liefste Baby”. Dit in ‘n briefie oor drie pinte olie! Die aanspreekvorm  verklap iets van die Pa wat ek skaars geken het, en maak my op ‘n vreemde manier intens trots om Johannes Cornelius (Seun) van Deventer vir vyf kortstondige jare as vader te kon hê.  Pa Seun was duidelik ‘n man met baie liefde in sy hart. Aan Vadersdag 2016 gee die skielike warm gevoel om myne  ‘n spesiale betekenis.

KERK-INNI-BOS

Bokkies wei onder die reuse-koorsboom onder die kerk.

Bokkies wei onder die reuse-koorsboom onder die kerk.

Kerk in dreigende reën op ‘n verlate koppie op die oop vlakte; piekniek knus in die kerk tussen die kerkbanke. Waar gebeur iets so raar? Hier’s leidrade: in dieselfde kerk is al ‘n vlakvarksog en ses kleintjies per ongeluk toegesluit, het ‘n dronkgeslaande hiëna by die konsistorie se deur ingeloer terwyl die kerkraad vergader, en moet kruiwavragte olifantmis van tyd tot tyd op die grasperk opgetel word.

Waar anders as in die Krugerwildtuin? Om meer presies te wees: waar anders as in die unieke NG gemeente Krugerpark in Skukuza, wat pas sy 30ste verjaardag gevier het. Dit is Van Deventers se bosgemeente wanneer ons in Sabiepark kuier, en ons is verkleef aan ons kerkie.

Die atmosfeer binne is behaaglik intiem, en die boskarakter is treffend. Die kerk spog met die enigste pastorie in die wêreld wat in ʼn wildtuin is. Skukuza se kerkklok is een van min – dalk die enigste – wat aan ‘n stuk hardekoolstam hang. Die doopvont is in ‘n hardekoolstomp.  Die hout, soos die van die preekstoel, kom alles uit die Krugerpark.

Om te aanbid terwyl vlakvarke die grasperk omdolwe (voordat die onthutste kerkraad dié plek van aanbidding laat omhein het), rooibokkies by die voordeur wei, of voëls hul eie koorsang aanhef in die reuse-koorsboom by die kerktrappies kan nie anders nie as om jou opnuut van die wonder van die Skepping bewus te maak.  (Daardie monumentale boom maak op sigself ‘n ritjie die personeeldorp in die moeite werd).

Indrukwekkende hout-preekstoel.

Indrukwekkende hout-preekstoel.

Dienste word meermale in die natuur gehou: op die die indrukwekkende Mathekenyane-granokoppie tussen Skukuza en Pretoriuskop, langs die H1-1 suide toe, op die wal van Lake Panic en op die gholfbaan.

Paasdienste op die koppie is werklik uniek.  Treffend is dit om op kampstoeltjies hoog bokant die veld te sit terwyl die nag stadig toesak, en om die Paasverhaal in lied (met kitaarbegeleiding), poësie, Skriflesing en gebed te herdenk.

Op Sondagaand 16 Maart 2008 het oud-kollega Herman le Roux en sy vrou, Rina, van Randburg op die granokoppie die viering van Palmsondag saam met ons meegemaak – ‘n spesiale geleentheid vir die Van Deventers persoonlik, vir omdat ons met vreugde en dankbaarheid kon terugdink aan ‘n verbintenis van tien jaar met Sabiepark.

In die Wildtuin en omstreke daal die kwik daardie Sondagmiddag skielik dramaties. Teen 17:00 kan jy die reën in loodgrys vlae uit die verte sien aankom. Die skraal windjie begin aan die sambrele ruk. Maar die Gideonsbendetjie op die koppie druk dapper deur. Met palmtakke in die hand word entjies-entjies teen die steilerige koppie opbeweeg om die gebeure van die Paastyd treffend met woord en lied in herinnering te roep.

“Ons Koning kom!” (‘n lied uit die Moreleta-sangbundel op die wysie van “Ons roem u Naam”) – hoe verheffend sulke kerkliedere met kitaarbegeleiding in die naderende aand in die bos klink, terwyl die eerste druppels jou hare nat spat, is moeilik om te beskryf. Dis ‘n sielservaring.

Ons boskerk in Skukuza.

Ons boskerk in Skukuza.

Die koue en reën slaan hul kake egter in. “Kerk toe,” gebied ds. Carl, en daar trek ons toe met ons stoele, mandjies en wat nog. Piekniek in ‘n kerk? Dit is vir die uwe ‘n eerste. As daardie kerkbanke maar kon praat, sou hulle nogal smaaklike stories kan opdis, ook van ander vreemdhede. Net twee weke vantevore was byvoorbeeld die vlakvark-insident.

Die agtelosige moeder en haar kroos is deur ‘n skoonmaker binne toegesluit. Die besorgde ma begin toe benoud teen die deure stamp. Skukuza se leraar, ds. Carl Louwrens, word ontbied om die onverklaarbare gestommel te kom identifiseer. Toe hy oopsluit, sien hy net krom tande. Die verligte vlakvarke draf ná die herderlike ontsetting stertjie-orent op ‘n verontwaardigde drafstappie die personeeldorp in.

Besoeke van ander diere sdoos olifante en hiënas eindig darem altyd buite die kerk en nie binne nie – net een keer het ‘n hiëna by ‘n kerkraadsvergadering om die deur geloer. ‘n Olifant het al sy bolle kom los direk onder die kerkklok.

Ds. Carl is ‘n man vir simboliek. Toe ons op 14 Maart 2004 ons eerste Paas-sangdiens bywoon, word brood gebreek wat deur sy vrou, Sarah, gebak is. Spykers word ook uitgedeel om ons aan Golgota te herinner. Elkeen ontvang ‘n kruis wat kunstig uit palmtakke gevleg is. Toe Paaseiers een jaar uitgeruil moet word, dam Tokkie, by gebrek aan die ware Jakob, twee gekookte hoendereiers met ‘n viltpen by. Sy verfraai die doppe met sirkels en bind strikkies om.  Die ontvangers “oe” en “aa”, al was dit dalk net uit hoflikheid.

Kitaarbegeleiding  op Granokoppie op Palmsondag. Links is ds. Carl Louwrens.

Kitaarbegeleiding op Granokoppie op Palmsondag. Links is ds. Carl Louwrens.

Aand-geleenthede op die granokoppie eindig tradisioneel met ‘n piekniek-ete onder die sterre. Die gemeente bring opvoustoele, mandjies kos, en ietsie vir die keel. Dan word ‘n hond uit ‘n bos gekuier. Enkele jare gelede, toe skoonseun Brent Claassens (wat vinnig ingespan is om die rol van ‘n Romeinse soldaat te vertolk) en dogter Marisa teenwoordig is, daal duisende stinkbesies teen die einde op die gemeentelede neer. Hulle moet vinnig die aftog blaas en in Skukuza verder gaan kuier.

‘n Kers-sangdiens eindig ook altyd met ‘n tradisionele agterna-kuier om die kospotte.

Ds. Carl is ‘n man met ‘n fyn humorsin. In ‘n gemeente-nuusbrief vertel hy van ‘n dooie leeu wat hy teengekom het, op pad terug na Skukuza van ‘n sendingaksie aan die oosgrens af. Toeriste het hom beduie waar dié karkas lê. Dié leeu is oënskynlik deur buffels doodgemaak, wat nogal meer gebeur as wat baie mense besef. Ds. Carl vertel:

“Soos dit ‘n verantwoordelike burger betaam, kontak ek een van ons gemeentelede die oomblik toe ek ‘n sein op die selfoon kry. Ná ‘n paar minute se verduideliking van die presiese plek is ek tevrede en gaan voort met my lewe. Die inligting word verwys na die staatsdiereartse. Later vind ek uit dat die man van veeartsenydienste wat die leeu gaan soek het, redelik gesukkel het om op grond van my aanduidings die plek te identifiseer. Ná ‘n groot gesoek is die leeu toe opgespoor en bevestig dat buffels hom doodgemaak het.

“Droogweg merk ons veeartseny-kollega na bewering toe op:  ‘As dít is hoe die dominee die pad aanwys, is ek baie bekommerd oor sy gemeente!’”