BRIEFIE UIT ASTERHOF

1-1-IMG_0001

Nagtelike nagtegale. Asterhof sing by Kollege. Dirigent is Denga van der Merwe. Reg voor haar staan Rina Thom.

Middag uit Melkbos

In 1960 kry ek ná klas onder die ruitveër van my blou Peugeot 203 onder ‘n jakarandaboom in Burnettstraat, Hatfield, ‘n klein pastelkleurige koevertjie met my naam op. Die koevertjie blyk die draer te wees van ‘n welriekende boodskap: Hennie, Kom saam met my na Asterhof se “social”, asseblief. Ek was dae op wolkies, want dit was nou vir jou ‘n bekoorlike astertjie daardie.

Van die aand se verrigtinge is my herinneringe ná 56 jaar maar vaag. Ek onthou wel die kussings rondgestrooi op komberse vir leker langbeen sit. ‘n Glasie sjerrie. Dalk twee. Romantiese musiek. Helder laggies. ‘n Oorrompelende gevoel van weldadigheid en knusheid.

Knusheid – dit is waarskynlik die woord wat die verhouding tussen Kollege en Asterhof daardie jare die beste weerspieël.

In my ienkjaar in Kollege, 1958, was een van die eerste aktiwiteite ‘n inter-kerk-sleep. Ons en Asterhof se mooie eerstejaartjies is ‘n Sondagaand in gelid na die Pretroria-Oos-kerk oorkant Loftus (Universiteitsoord het nog nie bestaan nie.) Ons met ons geel knopies op die lapelle van ons splinternuwe kerkpakke en hulle met hulle s’n op hul wit kerkrokke. Op ons s’n was K vir Kollege. Op hulle s’n was A vir Asterhof.

Dit het nogal vir ‘n komieklike situasie gesorg: die Kollege- en die Asterhof-ienks so man-meisie-man-meisie langs mekaar: “K, A, K, A, K, A …!”

Daar was nie net interslepe en “socials” nie. Selfs ‘n kollektiewe ontgroening-seremonie op die grasperk voor die Ou Lettere, langs die ou Kollegetehuis waar ek bevoorreg was om in sy laaste twee jaar as volwaardige koshuis my slegte koshuiskoffie te drink. Die eerstejaars is in twee kolonne opgestel. ‘n Haredekwas tweedejaar in sy nuwe kleurbaadjie het dan met ‘n sterk stem gebulder: Haaitjiekelorrum …. Haasbepaktrollum … maak gereed om te storm…. Regs vorm …. As ons die bevel kry “storm”, moes ons stomme groentjies soos mieliepitte in alle rigtings laat spat, terwyl die seniors hulle dubbel vou.

Dat Kollege en Asterhof gekliek het, was in omstandighede eintlik ‘n logistiese noodwendigheid van die kampus-situasie van destyds.

Net twee koshuise vir vroulike studente het bestaan: die sierlike nuwe Asterhof met, na ons oordeel, die ouliker meisies met die korter, vroliker geblomde rokkies, en die stugger Damestehuis (die Fant). Klaradyn het in my derde jaar bygekom. Vir die mans was daar net Kollege, Sonop (tokkelokkerig en doer ver) en Voortrekker (bra stroewerig). Die fondasies vir die nuwe Kollege op die proefplaas was nog nie eens begin grawe nie. Dat ‘n Taaibos en ander later sou kom, kon niemand raai nie.

Kollegemanne en Asterhoffers was as ‘t ware gedurig in mekaar se gesigte, soos die rugby-uitdrukking lui. As dit tyd was om te serenade was Asterhof ons voorkeurbestemming, en andersom. Ons het saam piekniek gehou en sierwaens gebou. Die manne het vir laasgenoemde ridderlik met hamers en spykers die stellasies getimmer. Die asters het die derduisende kreukelpapier-blommetjies gevou.

As ons op rugbytoere gaan, het die asters ons nommers op ons rugbytruie met naald en garing vasgewerk. Op Lentedag het ons mekaar ondersteun. Sal ek die jaar vergeet – 1961, dink ek – toe Asterhof se asters hulle in periodedrag geklee het en die hoof-item ‘n wedloop teen die koshuis se steil strappe was. Op en af. Kollegemanne was daar in hul menigte. In elkeen se hart die brandende ambisie om te wen. Maar toe hardloop ‘n Dagstudent ons almal stof in ons oë. Nie vreemd nie. Sy naam was Sep Serfontein, een van SA se top-naellopers.

1-IMG

Sep Serfontein wen Asterhof se trappe-wedloop.

Een grou Sondagmiddag het ek en my dik vriend Cas Jacobs van Carnarvon – waar die mense nog van van “putse” en “badskamers” gepraat het – buitengewoon verlate en mistroostig gevoel. Ons het ’n yslike bord met die woorde “Hoekie vir eensames” teen die Peugeot – die Santa Maria was sy naam – se voorruit opgeplak en die kar gaan trek op die beste plek waaraan ons kon dink – reg voor Asterhof.

Van die asters wat kom en gaan, het opgeruimd kom dagsê. Toe dit donker word, was ons egter steeds eensaam! Sou ons strategie verkeerd gewees het?

Net een keer wat ek kan onthou, was daar ongemaklikheid tussen Kollege en Asterhof. Van die manne het een laataand lus gekry om die asters se beddens te gaan dop. Op ‘n manier is onwettige toegang verkry. Hulle het die gange ingevaar. Weldra het gilletjies van oral opgeklink. Een Asterhoffer was in trane oor haar koek. Sy sou die volgende dag mondig word. Haar verjaardagkoek het blik en al op die grond beland en die strooptog nie heelhuids oorleef nie. Twee Kollege-HK-lede is weens hul onverantwoordelike betrokkenheid van hul ampte onthef. Spanning was in die lug.

Maar wat, kort daarna kuier die HK’s toe weer, soos altyd, saam by Hatfield se Japies, ‘n lekker kafee op die hoek met heerlike bruismelk en pasteie.

Waarom die herinneringe op ‘n sonnige Sondagmiddag op Melkbos opdiep? Laat ek die geheimpie verklap. Gister weer ‘n briefie uit Asterhof gekry. Op dié gryse ouderdom, ja. Nie ín ‘n koevert of in fyn handskriffie nie. Nie welriekend nie. Saaklike e-pos, soos in die onromantiese era waarin ons nou lewe, die gebruik is.

‘n Asterhoffer, tweede jaar, vra, soos sy dit stel, ‘n GROOT GUNS (net so in hoofletters). Sy skryf o.m.:
“Ek sien oom se post op facebook van oom-hulle se jonger dae en hoe Asterhof Kollege serenade het. Kan oom asb iets op Kollege-tehuis se facebook page skryf van die “verhouding” en die ou tradisies of enigiets wat verband hou met die Asterhof-dames en die Kollege-manne? Dalk as Asterhof die mooiste dames gehad het (natuurlik! – hvd) of die meeste gees (natuurlik! – hvd), ens?

“Ons probeer net meer uitvind van hoe dinge was in die ou dae sodat ons die tradisies kan herstel hier op Tuks …. ”
Vir so ‘n nobele saak doen hierdie oom graag sy ding – sonder ‘n aangehegte faktuur. Hoop maar net die resep van die goeie jare 60’s is vir die nuwe tyd nog so ietwat relevant. (hvd)

MISTYKIES AAN DIE NUUSFRONT

‘n Ligte mistykie gewees by Kyknet, meen ‘n Burgerleser, om in sy hoofnuus geen woord te rep oor die sluiting van die N2 weens die ongedurigheid by Grabouw nie. Moet met die beswaarde saamstem. Die Burger staan ongelukkig self agter die deur. Die eerste vier dae van die moleste in Limpopo waarin 24 skole in vlamme opgegaan het, het die koerant daaroor geswyg. Selfs die Washington Post het dit nuuswaardig geag.

Geen koerant, TV-stasie, radiostasie of watter nuusmedium ook al is, helaas, immuun teen foutiewe menslike oordele nie. Meer besluite word dikwels in 24 uur in ‘n redaksiekantoor geneem as in ‘n minister se kantoor in ‘n maand. Nie elke besluit kan suiwer wees nie.

My eie koerant, Die Volksblad, het in 1966 daarin geslaag om ‘n storie totaal mis te vat waaroor die wereld in beroering was. Van een van die Beatles het die aanspraak gekom dat daardie groepie mopkop-kitaarspelers uit Liverpool gewilder is as Jesus Christus. Die hoofsubredakteur van Die Volksblad het geoordeel dis godslasterlik, heiligskennis, boos en onpubliseerbaar. Die berig is snippermandjie toe pleks van die voorblad.

Die struikelaar se kop is deeglik gewas. Sy naam was Hennie van Deventer. Van tyd tot tyd moet ‘n mens maar jou eie blapsies onthou. Anders neig jy om soms ietwat selfvoldaan te raak in jou kritiek

STAMBOEKBAADJIES

1-IMG_3914

Middag uit Melkbos

Melkbossers, silwervosse en …. – belangrikste rede vir die foto hierbo – met amper eenderse baadjies uit toeka. HvD en Jack Strauss, gewese wolbaas van Calvinia, vanoggend by die pinksterdiens by Sea Park op Melkbos met hul geruite wolbaadjies van so drie of vier dekades gelede.

Ek dra ‘n Harris Tweed; hy ‘n Man about Town. Albei vertoon trots die wolmerk. Myne is die ouer model, kyk die breër lapelle. Jack s’n het egter minder as myne “gekrimp”. Nogal jaloers daarop.

Toe ek in die herfs van 1976 by ‘n manswinkel in Johannesburg instap om vir my ‘n Harris Tweed te koop, was Tokkie aanvanklik ongemaklik dat die baadjie darem te los sit. “Toemaar. Mevrou, hy sal hom ingroei,” het die verkoopman ‘n profetiese insig openbaar. Sy het haar eers opgeruk, maar haar tog teensinnig laat ompraat.

Daardie baadjie is saam Amerika toe vir die Niemanjaar aan Harvard. Baie nagte as die sneeu neerswiep, het ek my gestopte sneeubaadjie bo-oor my Harris Tweed gewikkel wanneer ons gesinnetjie iewers in ‘n “trailer camp” agter in my Corona-stasiewa (1972-model) opkrul.

‘n Jaar of drie gelede is die baadjie George toe. Die verkoopsman had dit helaas nie mis nie. Ek het die Harris Tweed in- en uitgegroei. Die algemene oordeel was dat Johan, my seun, beter in hom sou pas.

Sowat drie jaar gelede het egter in pa en seun se lywe omgekeerde groei plaasgevind. Ons het geoordeel die baadjie sou dalk meer funksioneel wees terug in HvD se kas.

Nou hang hy hier, 40 jaar nadat ek hom gekoop het, in my hangkas in die hoek. My baadjie met die drie etikette:
Hand woven – Pure Scottish wool. The Harris Tweed Association Limited. Registered trade mark no. 319214.
Elegante herrenkleidung. Frankfurt. Modèle W. Deutschland.
Suiwer nuutwol. Pure new wool.

Het hom vanoggennd aangetrek, hierdie stamboekbaadjie van my, spesiaal vir die foto saam met Jack. Dis die dik trui wat die toeknopery nog onmoontliker maak, dink ek.

Maar dit bly ‘n dekselse mooi baadjie. Waar kry jy weer een met so ‘n geskiedenis, karakter en tradisie? Belangriker: sal ek dit kan bekostig? (hvd)

DAG VAN DIE GROOT KOEK

1-IMG_0001

Kunsmarkplesier in Koningspark, Bloemfontein.

Middag uit Melkbos

Meer oor daardie enorme vrugtekoek – 15 bottels brandweyn, verbeel jou! – wat vir die vyfde verjaardag van Die Volksblad se Kunsmark op 2 Mei 1987 gebak is.

Waar kry ons ‘n resep vir ‘n koek met 5 000 porsies? Christel Erasmus van die SA Droëvrugteraad (nou van die Paarl) begin geesdriftig sommetjies maak.

Waar sou die panne vandaan kom? Gelukkig was Tempe by Bloemfontein ‘n reuse-basis vir dienspligtiges. Ja-nee, hulle leen dit graag vir ons.

Wie sal bak? Die Pick’nPay–hipermark was bekend om sy fyngebak. Sy bakker, Peter Steinberg, is dadeik vuur en vlam. Hy sal dit deurnag doen in die winkel se reuse-oonde.

Nou die bestanddele. SA Sugar Corporation gee die 15 kilogram suiker. Banana Distributors dra die 60 dosyn eiers by. Van Sacca kom die 18 kilogram botter en van Star Foods die 9 kg neute. Dalk was daar meer skenkers. Onthou, dit was 30 jaar gelede.

Vervoer lyk na ‘n moontlike turksvy. Geen probleem nie, se Oranje Toyota. Die verskaf ‘n Hi-Ace. Haal die sitplekke uit om ruimte te maak.

By die huis sny Tokkie, Rina le Roux, Annette van Rensburg en Alida Fourie die 12 reusekoek in porsies om die kombuistafel by Van Schoorstraat 1. Twee oumas, ons eie Ouma Marietjie en Annette se Ouma Henna, asook die huishulp, Miriam, word ingespan om die koeke uit die eetkamer aan te dra – hulle was die “runners” vertel Tokkie.

Die Saterdag deel ‘n span matriekmeisies van die Sentrale Hoërskool die koek uit. Die duisende wat uit alle oorde op Koningspark toegesak het, proe almal en wys duime na bo.

Tokkie en haar gedugte Kunsmark-span, Marietjie Gericke en Henriette Anderson (nou Loubser, huidige redakteur van Huisgenoot), kry van oral net die hoogste lof vir ‘n fees-fees soos min. Selfs die vrouetydskrif Sarie berig entoesiasties oor wat alle daar gesien en beleef is.

Verlang nog na die dae nou reeds lank verby …. (hvd)

O KOEK!

02c74b69-f34d-4422-b646-25f67cb73625

More uit Melkbos

‘n Melktert wat ‘n wereldrekord kan wees, is op Wellington gebak, lees ek vanoggend in Die Burger: sowat 200 liter melk, 3m in deursnee. Op Coligny is ‘n kameelperd gebraai: 10 ton hout en 80 liter marinade.

Herinner my weer aan die vrugtekoek van Die Volksblad-Kunsmark in Bloemfontein op sy vyfde verjaardag op 2 Mei 1987 – amper 30 jare gelede. Op die foto word Mariette Brummer (4) en Elindi van Rensburg (5) verdwerg deur ‘n berg Kunsmark-koek. In daardie koek was 15 bottels brandewyn (geen tikfout.nie). Hier is die volledige resep:

70 kg koekmengsel / 30 kg meelblom / 15 kg suiker / 60 dosyn eiers / 15 bottels brandewyn / 18 kilogram botter / 15 kilogram kersies /9 kilogram neute

Die jare 80 was vir die Kunsmark ‘n goue dekade en sy vyfde verjaardag was ‘n feestelike dag in Koningspark, daar neffens die Vrystaat-stadion. Gade Tokkie was destyds die organiseerder. Sy en haar helpers het 5 000 porsies koek uitgedeel.

(Elindi, die enetjie met die vlegsels regs op die foto) is, terloops, ver gevorder met haar doktorale studies op Stellenbosch.) (hvd)

WAAR IS BIBI KOO?

Naand uit Melkbos

Een klein subtema van Die Volksblad se ywer in die jare 80 om die erge diskriminasie teen Asiërs aan te vat, bly my besonderlik by. Dit is die stryd wat gevoer is oor Bibi Koo, ‘n Chinese meisietjie uit Taiwan.

Bibi is in 1983 toegang geweier deur ‘n onversetlike Laerskool Harrismith (waar, ironies genoeg, Fanie van Wyk, geliefde swaer van die uwe, die skoolhoof was). Sy was 11 jaar oud en in standard vyf (graad sewe).
Die beheerraad het die antieke Vrystaatse wet van 1890 as struikelblok voorgehou; (Die) Volksblad het volgehou dat dit net ‘n rookskerm vir die raad se rassevooroordeel en onwilligheid is.

Die openbare mening het nogal verrassend vinnig in die rigting van klein Bibi geswaai. Teen soveel opwellende simaptie was die beheerraad nie lank bestand nie.

Nadat Bibi by die skool verwelkom is, is twee briefies uit die Taiwanse ambassade in Pretoria by (Die) Volksblad afgelewer om, met die ouwêreldse hoflikheid wat by daardie mense tweede natuur is, die koerant vir sy bydrae tot ‘n oplossing te bedank.

T.C. Chiang, persbeampte, het met grasie sy pluimpie uitgedeel: “You are so responsive and responsible, as a newspaper, to publish the remarkable editorial(-s) on the case of Bibi, that I must express to you my heartfelt appreciations. The very small Chinese community in this country is thrilled to see that there is a true friend of ours in the Free State.”

H.K. Yang, die ambassadeur, het hom met, eenderse grasie, met daardie dankie vereenselwig: “In view of the fact that Die Volksblad has an important role to play in the formation of public opinion in the Orange Free State, your editorial reflects not only understanding but also far-sightedness and wisdom.”

Nou-ja, Bibi en (Die) Volksblad het daardie ronde gewen. Die meisie, glo ek, was in ‘n sekere sin ook ‘n bondgenoot van die koerant om die sogenaamde driekamer-parlement (1984 – 1994) só te bevorder dat ‘n “konserwatiewe” provinsie soos die Vrystaat in die referendum later dieselfde jaar (1983) solied ten gunste daarvan hul kruisies gaan trek het. Wonder nogal waar Bibi Koo haar nou bevind en of sy van haar rol in daardie stukkie geskiedenis bewus is. (hvd)