DOOS VOL DASSE

1203322812-sc-166

Raamdasse.

Middag uit Melkbos

Ek besit drie klasse dasse. Dasklas 1 is my raamdasse (foto bo). Dasklas 2 is my kasdasse Dasklas 3 is my doosdasse (boksdasse, as u wil). Met laasgenoemde is ek veral opgeskeep. Laat ek my volledige das-scenario skets:

In ons woonkamer (ook ‘n soort HvD-trofeekamer) op Melkbos is nege dasse netjies oopgespalk agter glas. Dis die dasse wat so plus-minus die storie van my lewe vertel: ‘n Van Deventerdas, ‘n Volkiedas. ‘n Kollegetehuis-das, ‘n Tukkiedas, ‘n Volksblad-das, ‘n Persgalerydas, ‘n Beeld-das. ‘n Nieman Fellow-das en ‘n UOVS-Raadslid-das. Oor hierdie dasse is ek sentimenteel.

Op die Van D-das verskyn ‘n familiewapen wat bestaan uit ‘n skild met drie horisontale bande (heroutstukke). Op die middelband is rose, rooi geknop. Die leuse kan mense wat die uwe ken dalk nogal kan laat glimlag: Ad Unitatem – Bevordering van Samehorigheid. Ons los dit maar daar.

Die Kollegedas vertoon ons koshuisgelukbringer Sarge Bourke by die Kollege-kanon. Daardie soliede geregsdienaar van sement is een aand in 1942 al gaan optel waar hy by ‘n huis in Gezina, Pretoria, oor ‘n beeldetuin van diertjies en dwergies en wat nog die wag gehou het. Sy naam is ook verewig in die Edel Roode-Bourkewyn wat Kollege op spesiale geleenthede soos sy 70ste verjaardag laat bottel het. Die noem van Sarge Bourke bring soete studente-herinneringe terug….

Die rooi Nieman Fellow-das is by die Coop op Harvard Square in Cambdridge, Massachusetts, gekoop – wat ‘n wonderlike winkel. Eweneens wek die das vele herinneringe aan ‘n onvergeetlike sabbatsjaar (76/77) in Harvard se poorte. In daardie jaar het ek Amerika leer bewonder. Dis ‘n groot land, nie net wat oppervlakte betref nie.

Dasklas 2 bestaan uit sowat 30 dasse wat op twee rakke in my hangkas hang. Ek dra maksimum 5/6 om die beurt kerk toe en omtrent nerens elders heen nie. Ek is een van die enigste periodieke dasdraers in die kerkraadsbanke. Die ander 24 versondig net my siel deur soms op die grond te beland as ek die kasdeure te vinnig toestamp.

Maar ek kan nie van hulle ontslae raak nie. Al is party ietwat verslete, is almal immers stylvol! Kyk, hierdie twee (van sy nogal) is in Londen gekoop; die silwer ene was deel van my bruilofs-uniform toe die kinders getroud is, nog ‘n silwer model is doop toe gedra, en twee (ook uit sy gesny, maar veels te breed bolangs om lekker te knoop) is uit Tokkie se winkel van destyds in Bloemfontein. Dan is daar verskeie rooi dasse (mooi dasse!).

Handelsname soos Fabio Milano, Vinuchy, Comme Soie deur Cravateur en selfs Pierre Cardin (my bontste das, die ene blomtuin) laat ‘n oumens tog darem ietwat vernaam voel.

Minstens ses stroppe het die een of ander Tukkie-verbintenis – wat seker vir my ‘n prys laat verdien vir lojaliteit aan die alma mater deur dik en dun. Een is my Laureatusdas – dit laat my lekker voel om hom daar te sien. Nog een is my Carel Boshoff-das – breed gestreep. Kollega Salie de Swardt het hom sy naam gegee n.a.v. verskeie TV-optredes deur die geagte regse professor, telkens met daardie streepdas onder sy adamsappel.

Dasklas 3 bestaan uit minstens 100, meesal van die varieteit korporatiewe das of klubdas. Hulle kom hoofsaaklik uit die 80’s – die goue era van die korporatiewe das toe die goed handevol aan goedgesindes uitgedeel is. Onthou julle nog?

Ek het in daardie doos gaan delf om afskeid te neem voordat Operasie Ontslae Raak in alle erns aangepak word. Toe ontdek ek dasse wat my darem aardig sal laat voel as hulle om enige hek hang – soos my ligblou Groot Trek-das (1838 – 1988) met die ossewa-motief, twee grensbesoekdasse wat uit die Bosoorlog dateer, dasse van Die Burger, Beeld en City Press, een van die FAK (lank lewe die Broederbond!) en een van die ATKV wat ek ‘n slag op ‘n jaarvergadering krities toegespreek het oor kultuurmense se vyandige koerantgesindheid in die ontuimige dekade 80.

In die doos is o.m. nog ‘n Harvard-das, ‘n Kovsiedas, ‘n Shimladas (deur die Kovsies se rugbymense om my nek gehang weens die een of ander welwillendheid wat bewys is), nog ‘n paar Tukkiedasse en die mooiste korporatiewe das van almal, Mondi se rooi diamantjiepatroon deur Giorgio – almal dasse wat by herbesinning te na aan die hierdie ou se hart le om sommer net uit sy lewe te laat gaan.

Al opsie, lyk my, is dan maar terug doos toe – tot anderdag, wie weet wanneer. Wat my terugbring by my aanvanklike vraag oor wat jy met jou ou dasse doen. As jy HvD is, bere jy hulle klaarblyklik . So eenvoudig is dit. Of sal Jaco Swanepoel, dasversamelaar wat vandag Die Burger se voorblad vol sit, dalk belang stel? (hvd)

DIE KERK EN DIE BAR

1-Afskeid F3

Francois Hanekom en sy “Pop”, Riana

Middag uit Melkbos

Die kerk en die bar is langs mekaar. So sing studente en ander vrolikes by geleentheid – in verskillende variasies. Melkbos se NGK en die bar is nie langs mekaar nie, wel sommer in mekaar.

Die wysheid Sondag uit die mond van die spitsvondige dr. Francois Hanekom, eerste leraar van die gemeente, gehoor by die feesdiens met die kerkgebou se 30ste verjaardag. Hy was vir die spesiale nagmaal op die kansel terwyl sy vrou, Riana (of “Pop”), die orrel laat jubel het. Die span Hanekom – soos van oudsher.

Voor die diens is die lidmate op ‘n geestige toer deur die vroeë geskiedenis van die gemeente geneem. Dis waar die kerk-en-kroeg-storie inkom. Klink gelukkig erger as wat dit werklik was. Die verkoper Harold Ashwell, die eiendomsbaron na wie die spogstraat van Melkbos genoem is, en die gemeente Philadelphia waarvan Melkbos afgestig is, het afgespreek om die koopkontrak by die Hotel Miramar in Kusweg te teken.

By die hotel aangekom, was die sitkamer onder reparasie, Die kroeg was al uitweg. Die manne het darem nie die transaksie met ‘n dop beklink nie, het Francois bekommerdes verseker.

Soos ou gemeentelede natuurlik weet, is/was Francois geen ortodokse, doodgewone herder nie – nes die pikante Riana geen bloudruk van ‘n tradisdionele Mev. Dominee was nie. Hulle was/is … wel … Francois en Riana. Soms was tussen die man op die kansel en die vrou agter die orrel ‘n goedige gehekel, en die vrou was nie een wat haar onbetuig gelaat het nie!

Dr. Marius Falck het die gemeente Sondag laat skater met een so ‘n storie: Oor die hulpmiddel wat Francois een Sondag saamgebring het, soos sy gewoonte was. Hy het bv. ballonne laat bars, geraamde foto’s van die kansel gewerp dat die glas in stukkies spat, of met poppe, ander speelgoed, iinspuitnaalde, selfs vermomming vorendag gekom. (Sondag weer ‘n reuseteddie.)

Die betrokke dag het sy keuse geval op ‘n Pyrexbak uit sy “Pop” se kombuiskas – boonop een waaraan sy buitengewoon waarde heg. Toe sy van die orrel (destyds nog op die galery) afkyk, het haar oog op haar bak in sy vreemde rol geval. Sy het verstyf en deur dun lippies uitgepers: “Mannetjie, vandag gaan ek jou vrek maak. ”

Francois kon net antwoord: Ai, Pop, ai …..,aldus Marius.

‘n Dominee se treffendste hulpmiddele is helaas nié altyd immuun teenoor die “onvoorsiene” nie. Van ‘n keer toe die “onvoorsiene” pynlik toegeslaan het, het Marius by ‘n vorige geleentheid, Francois se afskeid, vertel.

Dit was die keer toe Francois besluit het om met behulp van polisieboeie die houvas van sonde te demonstreer. ‘n Meisie van 10 kom toe vol bravade na vore. Sy word met presiesheid “geboei”. Toé gebeur dit – die sleutel wil om die dood nie die boeie oopsluit nie.

Terwyl die geproes en gelag al ‘n crescendo bereik, het die koster die polisiehoof gaan skakel. Die geregsdienaar hou met die vangwa voor die kerk stil, natuurlik met skreeuende bande! “Pop” speel en speel. Die dominee en die verskrikte meisieskind word weggeneem polisiekantoor toe. Eers daar word die regte sleutel gevind.

Die volgende oggend het Francois Die Burger se voorblad gehaal: Leraar se “gevangene” vas ná boeiende preek. BOEIENDE preek, inderdaad.

Francois was dikwels bra avontuurlik en ondeund. ‘n Keer het ons nog regopper as gewoonlik gesit toe ons sy preektema verneem: “Hou jy van striptease?” Maar dit was net oëverblindery. Klaar geterg, word dit ‘n verrykende preek – “vintage” Francois.

Anders as sy vorige kollegas, Marius en dr. Hennie Swanepoel, is Francois geen sanger van formaat nie. Maar – het hy sy gemeente by ‘n Pinksterdiens ingelig – hy sing darem self ook, en dan nie met “backtracks” nie; hy sing sommer met sy “eie bek”. Toe sing hy ‘n opgeruimde solo: “Jesus roep my vir ‘n sonstraal, ‘n sonstraal …..”

‘n Sonstraal? Ja-wel, die keuse van liedjie was werklik in die kol. Waar Francois is, breek die son gou deur die wolke. Net so met Riana. So was dit altyd. So is dit steeds. (hvd)

STORMS TER SEE

id=”attachment_4948″ align=”alignleft” width=”300″]Johan en Marisa by die Constellation wat sware storms moes trotseer.

Johan en Marisa by die Constellation wat in 1985 sware storms moes trotseer.
Middag uit Melkbos

In 1958, my eerste jaar op Tukkies, was ‘n liedjie oor ‘n droomboot wat nooit gevaar het nie, nogal gewild.

Op die koshuispiekniek moes Kollege se eerstejaars die seniors en hul meisies langs die kampvuur vermaak. Ek en Giel de Swardt en ‘n paar ander het “The ship that never sailed” gevoelvol voorgedra. Met sware emosie in my stem het ek die woorde gespreek: “I built a dreamboat to sail the seas with you on my side when it sailed …” Dan het Giel en die ander manne in die agtergrond harmonieus saamgeneurie.

Mooi, man, mooi. En baie romanties.

Nou het my eie “dreamboat” nie uit die hawe gekom nie. MSC het die vaart met die Sinfonia van more tot Vrydag gekanselleer. Die skip is in die Baai vasgekeer waarheen dit uitgewyk het nadat dit geweldige, onvoorsiene storms ter see op die vaart van Durban af moes trotseer.

Natuurlik het jy uitgesien. Wou graag die nuwe. groter Sinfonia (met die ingesweisde middelstuk) eerstehands ervaar. Daarom is jy teleurgesteld. Maar veiligheid kom eerste. Dus, ons stel maar uit tot Januarie 2017. Dan vier ons maar my 76ste op die Sinfonia se dek pleks van Tokkie se 70ste nou.

Ewenwel, die Sinfonia se teëspoed herinner my aan ‘n vaart met die Griekse lynboot die Constellation in 1985 na Mauritius. Maar die see was rof, hoor. Ons is amper 12 uur laat uit Durban weg. Die oggend om 04:00. Toe vorder ons weens die reuse-deinings boonop teen ‘n slakkegang.

In ‘n stadium is gevrees die beurende, krakende boot sal sommer nog voor Mauritius al in die oop see n U-draai moet maak en terugkeer.

Darem nie, maar uiteindelik was ons minder as 24 uur op Mauritius. ‘n Gedaan Vauxhall-taxi moes sy ry ken om by al die plekke uit te kom waar ons wou draai: Port Louis se mark, die Pamplemousses-tuine, Trou Aux Biches se akwarium, Le Touessrok en die eilandjie Ile Aux Cerfs waar die danseressies en die inhibisielose kollega tuis sou voel.
Ons was net betyds vir die Constellation se vertrek op sy terugwaartse vaart met ‘n harde fluit en onaardse rammeling in sy enjinkamer.

Die ou vaartuig is ook al lank skrootwerf toe. Daardie reis het ongetwyfeld sy bydrae gelewer om die metaal te vermoei.

Uitgevat vir die kapteinsete.

Uitgevat vir die kapteinsete.

Ons wellewende kelner se naam was Sotiris, onthou ek. Tot vandag bly dit my by hoe hy tot diep in die nag skottels vol Griekse kos bly aandra het. Vir die kapteinsete was die voorgeskrewe drag “black tie”, d.w.s. aandpak. ‘n Ander aand was daar ‘n kostuumbal.

‘n Skerpsinnige politikus uit die vorige bedeling het op ‘n manier te wete gekom dat die boonste dek die plek is waar die slanke danseressies tussen hul nagtelike kabaretvertonings bedags die son opsoek. Toe maak hy dit ook sy gereelde bestemming.

‘n Boeiende roetine het hom amper elke uur op die uur afgespeel. Eers rys Mnr. Politikus waardig uit sy dekstoel. Hy staan nonchalant so ‘n bietjie rond. Hy kyk in alle rigtings. Daarna stap hy doelgerig na die trappies. Vir die volgende 20 minute of wat was hy dan afwesig.

Nou-ja, ‘n mens van vlees en bloed kan jou nuuskierigheid ook net so lank in bedwang hou. Teen die vierde, vyfde keer is hierdie waarnemer hopelik onopsigtelik agterna. Vir sy persoonlike moeite en opoffering kry hy toe nie net ‘n onbelemmerde blik op die gemelde dames se onbedekte wilgerlatylywe nie, maar ook op die veel indrukwekkender proporsies van ‘n fris vroulike kollega van die tydskrifte-afdeling wat, skynbaar onbewus van die turende medepassasier se identiteit, al hoe meer uit haar dop kruip. Ook vir haar was die bodek die aangewese uithangplek vir haar daaglikse dosis sonaanbidding.

‘n Nare herinnering is van die uwe se duim wat in ‘n sware kolos van ‘n buitedeur se pad gekom het. Met die baftablou nael en ‘n kloppende pyn is ek na die skeepsdokter wat tot my ontnugtering wou weet of ek nie vir hom ‘n skuifspeld het nie. Sy behandeling sou wees om die skuifspeld warm te maak en dan ‘n gaatjie in die nael te druk vir die bloed om te ontsnap, het hy my meegedeel. Dit het my terstond laat besluit die pyn is nie regtig so erg nie.

Tokkie verbind die ongeluk by die deur nou nog met die gereelde uitstappies na die bodek. Hoe sy daardie vurk by die hef kry, weet ek nie. Dis sommer pure moedswilligheid, vermoed ek. (hvd)

BLOEDSPOOR VAN ‘N SLAGTER

1-IMG

More uit Melkbos

Word kolonel Swannell, wrede aanvoerder van die strafkamp op St. Helena, in die fliek Modder en Bloed darem te afskuwelik uitgebeeld? Hoegenaamd nie, betoog ek vanoggend in By (Die Burger), Beeld en Volksblad aan die hand van sy prototipe, luitenant Breaker Morant, se bloedspoor in die Soutpansberg, waar hy in die laaste fase van die ABO vrees en verskrikking gesaai het.

Morant en sy slagtersbende word deur die navorser Charles Leach van Louis Trichard oortuigend met nie minder nie as 35 moorde verbind.

In die artikel word uitvoeriger op Morant se wandade gefokus as in my vorige blog oor die onderwerp.
Kry ongelukkig nie ‘n skakel op Media24 se webblad nie.

Hier, die volledige artikel:

Bring die geweer. Vergeet van die vuurpeleton. Ek jaag sommer self ‘n koeël deur daardie bliksem se harspan.

Met sulke wraakgedagtes stap vele waarskynlik uit die teater ná ‘n vertoning van Sean Else se epiese ABO-fliek Modder en Bloed. Die berekende wreedheid van kolonel Swannell, aanvoerder van die strafkamp op St. Helena, tref ‘n rou senuwee.

Die krygsgevangenes word aan ondenkbare verguising en marteling onderwerp. Die diaboliese Swannell (Grant Swanby) slaan ‘n Boerekommandant pap en dwing hom om ‘n Britse sersant se skoene te lek. Die Boere word met loodsware klippe rondgejaag. Kos en water word weerhou. “Hardekwaste” moet in blik-“doodkiste” in die grond oornag, met Swannell se urine as enigste lafenis vir verskroeide lippe. Met die geringste provokasie word sy pistool uitgepluk.

Aangrypend word uiteenlopende Boere uit verskillende oorde en stande in die aangesig van hierdie beproewings langsamerhand deur die dinamiese Kaapse rebel Willem Morkel (Stian Bam) tot ‘n gedugte eenheid saamgesnoer, wat – simbolies – die Britse oormag op die rugbyveld verslaan in ‘n kritieke wedstryd wat vir ‘n jong Boertjie lewe of dood beteken; en vir Swannell sy uur van waarheid.

Nie voordat Swannell uit sy pad gaan om die Boere te saboteer nie. Hulle moet in stikdonkerte oefen. Die tuisgemaakte rugbybal word flenters geskiet. ‘n Sterspeler word “uitgehaal”, en sy lyk voor die verslae makkers uitgestal.

Vir sleutelkarakters soos Swannell is ikoniese oorlogsfigure gekloon en op St. Helena geplaas. Swannell is uitgeknip sy prototipe, luitenant Henry Harbord (Harry) Morand, alombekend as Breaker, wat in die laaste fase van die oorlog in die Soutpansberg vrees en verskrikking gesaai het. (Katherine Sterndale (Charlotte Salt) is, terloops, pure Emily Hobhouse.)

Word Swannell darem te boos uitgebeeld? Kan werklik soveel kwaadwilligheid, onmenslikheid en nyd in een mens (selfs ‘n Australiër in ‘n Kakie-uniform!) se lyf saamgekoek wees? Die bloedspoor van Morant, sy handperd, Peter Handcock, en die sogenaamde Bushveldt Carbineers verskaf die antwoord.

Die Carbineers was slagters. Ongewapende of siek Boere, bibberend weens koors, is meedoënloos neergevel, soms tot agt op ’n slag. Op weerlose vroue en kinders is roekeloos losgebrand; Die wit vlag is nie ontsien nie. Toevallig (dalk nie so toevallig nie?) het die twee gewetenlose aanvoerders van die Carbineers – asook die oorwig van die ander voorbokke – dieselfde herkoms as Swannell; daardie verre land Doer Onder waar soveel Suid-Afrikaners deesdae ‘n nuwe lewe maak: Oss-Stray-lee-uh, mate!

Swannell en Morant dra eenderse uniforms; hulle trek selfs op mekaar Soos Morant is Swannell snorloos – wat rebelsheid teen Britse militêre tradisie weerspieël. Aan selfbeeld skort dit geeneen. Ná Morant en Handcock se skuldigbevinding aan 12 moorde deur ‘n krygshof, het Morant glo met groot bravade voor die vuurpeloton uitgeroep: “Shoot straight you bastards and don’t make a mess of it.” Dit verg nie hope verbeelding nie om Swannell ewe minagtende sterwenswoorde oor sy dun, siniese lippe te hoor pers.

Die charismatiese Morant is in Brittanje gebore, maar het van sy 19de jaar sy spore op perde- en beesplase in Queensland verdien. Sy bynaam “Breaker” het hy oor sy vaardigheid met perde gekry. In sy eie oë was Australië sy land.

Hier het hy later amper volksheldstatus geniet. In boeke en rolprente is hy as sondebok vir groter Engelse onheilighede of as romantiese kwasi-held uitgebeeld. ‘n Gewilde Australiese rolprent, gegrond op ‘n novelle, The Breaker deur Kit Denton, het in 1980 sy beeld as martelaar internasionaal help uitdra. Drukgroepe het hulle tot in 2011 nog beywer vir ‘n postume kwytskelding deur die Britse regering. Gelukkig was dit abortief.

Sulke ophemeling het ‘n Engelssprekende toergids van Louis Trichardt, Charles Leach, dwars in die krop gesteek. Hy het dit ‘n lewenstaak gemaak om die legende te ontmasker. Ná sewe jaar se navorsing het sy boek, The Legend of Breaker Morant is Dead and Buried: A South African Version of the Bushveldt Carbineers in the Zoutpansberg, May 1901 - April 1902 in 2012, die lig gesien. Die Carbineers se wandade word meedoënloos oopgevlek. Morant se bende word oortuigend aan 35 weersinwekkende moorde verbind.

Hul register van gruweldade is skrikwekkend. In die Mooketsivallei is byvoorbeeld op Boerewaens begin vuur terwyl vroue en kinders se opgeruimde gesels opgeklink het. Twee Grobler-boeties van 14 en ses jaar is in mekaar se arms doodgeskiet. Hul negejarige sussie is ernstig in die nek gewond.

‘n Gewonde jong Boer, Floris Visser, is ná ’n vlugtige verhoor deur ’n boendoehof tereggestel. Hy moes op ’n walletjie op die geweervuur en die koeëls sit en inwag. Toe hy omkantel, is ‘n rewolwerkoeël vir oulaas deur sy kop gejaag.

OP die plaas Ballymore is agt Boere in ‘n bloedbad uitgewis. ’n Onskuldige sendeling, C.H.D. Heese, met al sy “papiere” by hom is in koelen bloede vermoor. Op die buurplaas Sweetwaters is ‘n boer en sy twee seuns doodgeskiet. Swartmense is voor die voet afgemaai.

Leach se onthullings het in Australië aansienlike ongemak veroorsaak. In die Soutpansberg-kontrei is dit toegejuig. Iemand – ironies genoeg, ‘n “blerrie Rooinek-toergids”, in die knipoog-woorde van ‘n vriend, Manie Eloff – het uiteindelik die waarheid uitgegrawe. Ook vir hierdie afstammeling van Boerestryders in die Vrystaat (my Oupa Visser was krygsgevangene op Ceylon) het Leach ‘n gordyn weggeskuif

Die skrikbewind van die Bushveldt Carbineers was voorheen aan my net vaagweg bekend. So vaag, ek was onder die indruk die naam Morant word Meurant gespel. Die naam Peter Handcock sou geen klok lui nie. Toe bring die “Rooinek” ook vir die Boer broodnodige insig. Die nare geskiedenis is in sy geheue gekerf.
Terug by die vraag of iemand werklik so afskuwelik kan wees. Wel, ons vriend Harry Morant was. Hy was selfs afskuweliker as Swannell. En hy was van vlees en bloed. So realisties soos die modder en bloed van oorlog. Die simboliese Swannell se karakter word juis deur Morant se wandade geloofwaardigheid gegee, glo ek.

Dalk moet die talentvolle Sean Else en sy span voorslag-fliekmakers vir ‘n “Modder en Bloed Merk II” Breaker se storie in ‘n draaiboek omskep. Geen erkenning word gevra vir die wenk nie. Miskien net aan die einde op die skerm flits dat hulle die idée op 23 April 2016 in By gekry het! (hvd)

HAPOOR STEEK VIR OUMA DOOD

1-Probus

Middag uit Melkbos

Presies 50 jaar gelede, op 22 April 1966, om 14:25 steek die hoofsubredakteur van Die Volksblad ‘n Van Rijntjie op en kondig tevrede vir sy kollegas by die subtafel aan: Slag is gelewer. Kort nog een storie vir ‘n goeie voorblad.

Volgende oomblik: Hier’s hy. Dis ‘n storie van ‘n aangrypende olifantdrama in die Addopark wat pas per teleks opgedaag het. Kom van die destydse susterskoerant in die Baai, Oosterlig.

Sub gou, Ollie, sê ek (wat hoofsub was) vir my regterhand, Ollie Olwagen – die voorslag van ‘n eerste sub aan my regterkant. Lekker storie, sê Ollie toe hy begin lees. Inderdaad. Voorbladstof van die eerste water.

Ouma, ‘n gedaan ou olifantkoei in Addo, is deur die leierbul, Hapoor, ‘n genadedood toegedien. Die vorige paar dae was Ouma al slingerend. Genoeg is genoeg, het Hapoor besluit. Agter ‘n bos het hy een van sy lang ivoortande diep in haar hart gedruk. Met haar bloed druppend van die tand, het hy van agter ‘n bos tevoorskyn gekom.

Daarop lei hy die trop na Ouma en rangskik hulle om die karkas. Hy het hulle as ‘t ware uitgedaag om sy daad te bevraagteken. Geeneen het nie. In die stroewe ritueel wat gevolg het, het elkeen aan die karkas geruik en opsygestaan. Haar seun Lanky het alleen oorgebly vir ‘n doodswaak.

Ollie, ‘n man van vele talente, later ‘n groot gees by Huisgenoot, het oor Hapoor en Ouma ‘n liedjie gemaak: Hapoor steek vir Ouma dood, van die wal tot in die sloot …. In ligsinnige oomblikke het ons span subs oor ‘n bier (ná werk natuurlik) graag Ollieliedjies soos diá aangehef.

hvd0152

HvD, Paul Marais en Ollie sing Ollieliedjjies.

Vanoggend in Die Burger se rubriek “50 jaar gelede” het die Hapoorstorie aan die orde gekom. Dit het my gedagtes op daardie olifantstpore teruggelei.

Die Hapoordam in Addo kry natuurlik sy naam by die legendariese bul wat 24 jaar lank in die Addo-olifantpark geheers en met die Ouma-insident sy naam onuitwisbaar in Addo-folklore ingegrif het. Dit is nou my gunsteling-watergat in Addo, ‘n heerlike olifant-verspiedplek in ‘n park waar die olifante wemel.

Op ons laaste besoek, in 2011, het Tokkie het nie minder nie as veertig Grootvoete by die Hapoordam getel. My Canon het natuurlik oortyd gewerk. Die foto’s hierbo is van groepies wat daar gedrink het. Ek kon net so wel ses of sewe ander foto’s gekies het.

Ironies genoeg, het op Hapoor ‘n minder romantiese dood gewag. Nadat hy uiteindelik deur ‘n jonger kroonprins uit die trop gedryf is, het hy ‘n ruk alleen rondgedwaal – nukkerig en aggressief. Toe hy te avontuurlustig raak en oor ‘n heining klouter, is hy deur ‘n veldwagter doodgeskiet. Sy manjifieke kop hang in die eetkamer by Addo.

Die voortreflike bul was ook die hooffiguur in ‘n kinderboekie, Hapoor en Slurpie, wat mense van die ouer generasie dalk sal onthou. Die boek deur Cecilia Olivier en E. Stoffberg het in 1967 by Vooortrekkerpers verskyn. (hvd)

‘N NAAM SOOS SKEDONKIE

12963936_10154882807180190_1316201735415729724_n

Die flukse dames het my verras met ‘n oulike uitstalling oor my werk.

Hoe gooi ons, die gewone voetsoldate, wal teen die tsoenami wat oral teen Afrikaans aan’t opbou is? Ek het gister ‘n paar wenkies probeer gee by die Dameskring Simfonie op Kuilsrivier. Het hulle toegespreek oor: My hart klop Afrikaans.

‘n Klein begin is dalk by ons alledaagse omgang, het ek aangeraai. Kom ons hou op om oral en altyd vir anderstaliges please en thank you te sê. Ons kap daardie woorde uit ons woordeskat. Ons sê net asseblief en dankie, soos die Franse silvous plaiz en merci sê.

Wie nie weet wat “dankie” beteken nie, sal gou agterkom. Dit het ‘n vinnige eksperiment by ‘n winkelsentrum (‘n mall?) geleer toe ‘n Suid-Afrikaanse parkeerwag my dankie vir sy Nigeriese kollega vertaal. Toe hy snap, is ek met ‘n breë, hartlike glimlag beloon.

Probeer ‘n dag lank net Afrikaans praat. Vermy modewoorde soos awesome (fantasties, wonderlik, ongelooflik, ontsagwekkend, asemrowend), cute ( oulik, skatlik, lief, ougat)amazing (merkwaardig, verstommend) en issue (kwessie, saak, aangeleentheid, vraagstuk, probleem, twispunt, strydpunt, geskil(punt).

Kyk gerus hoe jy daarmee kan cope om minstens een dag géén Engelse woord te gebruik nie.

Kom ons mik na beter Afrikaans. Om ‘n woordeboek/ die Woordelys te raadpleeg as jy twyfel, is nog altyd ‘n goeie resep om jou taal suiwer te hou. Hier is egter ‘n nuutjie wat dalk by vele nog onbekend is. Ek verwys na die webblad Beter Afrikaans. Afrikaanssprekendes, en selfs aanleerders van Afrikaans, kan hier gratis meer oor die spel- en skryfreëls leer.

Registreer net. Dan kan jy elke weekdag ‘n speltoets in minder as twee minute voltooi – hetsy op ‘n rekenaar, tablet of selfoon. Die speltoets bestaan uit vier veelkeusevrae; sodra die vrae beantwoord is, ontvang jy onmiddellik ‘n kort bespreking oor die korrekte antwoorde. (Tot my irritasie haal ek selde meer as 75%.)
Onderwerpe soos los of vas skryf, hoofletters, homonieme, idiome en intensiewe vorme word ook verstaanbaar toegelig. So kan nuwe wêrelde vir jouself en vir leerlinge oopgemaak word.

Ondersteun ambassdeurs vir ons taal. Kyk uit vir sake wat lekker Afrikaanse name het – van die bed-en-ontbytplek Koffie en Katel tot by Papnat-Besproeiingsdienste. Op Stellenbosch is werklik ‘n Skitterblink-Wassery. Koop jou wyn by Hermanuspietersfontein – sy wynname en -etikette is net in Afrikaans. Bloos, Swartskaap en Kleinboet – wyn met sulke name word nou al in nege lande verkoop, van Engeland tot Swede. (Koop ‘n bottel Swartskaap in Oslo!)

Die bemarkers dink dit verleen kleur aan hul produk. Niemand kla nie. Die wynmeester wat als begin het, Bartho Eksteen, het onlangs die Wynskool gestig. Hy sit die prysenswaardige inisiatief daar voort. Ry gerus ook maar daar aan.

Vat hande met organisasies soos die ou moeder die FAK, die ATKV, die Afrikaanse Taalraad, die Vriende vir Afrikaans, AfriForum (veral sy Afrikaans Vriendelik-veldtog) en ander. Binne een van hulle behoort jy ruimte te vind om jou liefde vir jou taal uit te leef soos jy graag wil. Dis die enjinkamers waar vure van geesdrif gestook moet word. Dis waar kreatiewe Afrikaanssprekendes hul planne, idees, inisiatiewe en strategieë gestruktureerd op die tafel kan kry.

Ondersteun instellings wat die taal dien. Die Afrikaanse media, koerante soos Die Burger, Beeld en Volksblad, tydskrifte, Afrikaanse boeke en TV-kanale soos kykNET is vaandeldraers van die Afrikaanse taal. Ondersteun hulle …… selfs as jy kwaad is vir die koerant, soos hierdie ou man met al die ink in sy are ook maar meermale is.

Lees Afrikaanse boeke. Hierdie oproep is veral gerig tot leeskringe, wat hulle skandelik te dikwels op oorsese best sellers toespits.

Vermy aanstoot. Veral by feeste loop brekers met kru T-hemde wat bakleierige boodskappe oor Afrikaans uitdra. In die wildtuin het ‘n skoolkind, bogsnuiter, in ‘n spinnekopskriffie in die besoekersboek van die Stevenson Hamilton-besoekersentrum hierdie boodskap uitgekrap: Praat Afrikaans of hou jou bek. Wonder wat dink die verfynde swart vrou wat die lessenaar beman van sulke taal-uitlewing en uitlewers!

Borg ‘n woord. By die WAT kan jy ‘n woord, enige woord, teen R100 borg. Vir R5 000 behoort die woord eksklusief aan jou. Ek noem trots dat die woord koerant myne is, net myne. Het gedink Naspers behoort dit op te raap. Ek borg ook die woord joernalis. Ons Probusklub op Melkbos, ‘n vesting vir afgetredenes, borg op my aanbeveling die woord kuier. Ek verstaan die woord Dameskring is nog beskikbaar.

My laaste gedagte spruit uit my vrou, Tokkie, se lees van my oud-kollega Jaap Steyn se monumentale biografie van Van Wyk Louw. Louw vertel daarin hoe hy by Sutherland se plattelandse kinders geleer het dat speel-met-taal ‘n hoë vorm van vermaak is – “rympies, raaisels, woordspelings, stories vertel, terg en pla, die uitdink en smaaklike gebruik van byname.”

Om te wens dat hierdie kultuur in die moderne era met sy tegnologiese wondere kan herleef, sou sekerlik buitensporig wees. Maar kreatiewe oumas kan dalk tog iets van Afrikaans in hul kleinkinders se spel probeer insmokkel. Gee die kleingoed plesier en skerp terselfdertyd hul taalbewustheid op.

Kan ‘n mens dalk begin om jou kleinkind op die spoor te sit om ‘n oorspronklike Afrikaane naam vir sy of haar troeteldier te gee? Hou nogal van Skedonkie die donkie en Katastrofe die kat. Vat hom, Flaffie, ek bedoel Blaffie.