VREUGDE VAN WEERSIENS

1-1-IMG_3788

1-1-04-IMG_4364

Tokkie en Mariette van Manen; Tokkie en broer Cules.

Die vreugde van weersiens. Dié het ek en Tokkie Saterdag by ons “baken-laureus”-fees in ons “tent van samekoms” (so gedoop deur Sarel Venter van Bloemfontein) mildelik ervaar. Die teenwoordigheid van soveel vriende uit soveel fases van ons lewe het luister aan ons feesdag verleen.

Skoolmaats en studentemaats van lank voordat ek en Tokkie mekaar in 1964 ontmoet het, kollegas uit verskillende tydvakke, bure, Bybelstudievriende, Probusvriende (klub vir afgetredenes) en ander was versprei oor 12 tafels in die tent wat hier op Melkbos oor die breedte van ons grasperk gespan was met die gedruis van die branders in ons ore.

Een verbintenis was weens omstandighede onverteenwoordig: Ons hartsplek Sabiepark, waar ons langbeen om vuurtjies kuier. Hoe lief ons vir daardie stukkie aarde is, weet almal. Het ek gesê onverteenwoordig? ‘n Mooi klompie van Saterdag se gaste het al saam met ons om ‘n Sabieparkvuurtjie gesit. Steek hande op, het ek gevra. Van die 100 het 52 se hande in die lug geskiet.

“Al gaan ons ook die lewe in ‘n brokkie van ons hart bly hier.” So het ons Volkies in die jare 50 in ons skoollied gesing. Drie skoolmaats wat ook, soos ek, brokkies van hul harte op Potchefstroom agtergelaat het, was Saterdag hier. Hulle is Willie en Irna Hartzenberg en Anton Lombard.

1-1-1-1-IMG_3825
Volkies van die 50’s.

Willie en Anton was saam in die Jack Pauwkoshuis en klasmaats tot matriek in 1957; albei ook in my eerste redaksie – die skooljaarblad waarvan ek die eerste skolier-redakteur was. Willie was dux-leerling. Slim derduiwel. Irna en die uwe was saam in die belydenisklas. Groot stories gesels as ons saans na Oom Bey (dr. Beyers Naudé) se kerk aanstap vir die katkisasie.

“Aan het oewer van de Schelftzee” het nie in die feestent opgeklink nie. Ons Kollegemanne sou dit wel, op zijn goeie Afrikaans, ‘n sterk traai kon gee. Vier van ons was teenwoordig: Ek en Pierre le Roux van die laat 50’s/begin 60’s en twee vroeëre modelle, Flip Nel en Jan Coetzee. Jan was in 1951 in Kollege – nogal ‘n paar jaar gelede!

1-1-IMG_3821

Vier Kollegemanne

Bloemfonteiners het ingesluit Chris en Annette van Rensburg, ons beste bure nog saam met wie ons al baie ervarings gedeel het; ook ander kamerade in allerlei heilige en onheilige aktiwiteite. Teen Flip Nel (hierbo genoem) het ek krieket gespeel in die tradisionele wedstryd tussen Bill se Bulle (Welkom) en Colin se Kallers (Bloemfontein). Die oud-Volksraadslid vir Welkom het eers later self Bloemfonteiner geword toe hy in die politiek begin opgang maak het.

Lekker gewees om die volgende Volksblad-gesigte te sien: Nancy Oosthuysen, Johan van Wyk, Pierre van Manen, André Brink, Rina (Koen) van Rensburg en Francois Lötter, asook twee Volksblad-weduwees, Alta Geldenhuys (Kootjie, bestuurder, se vrou), en Marie Schnetler (Fred, motorredakteur se vrou).

1-09-IMG_4372
Johan van Wyk

Nancy is die veteraan. Sy het in 1954 by Die Volksblad ingeval. Het haar daar gekry toe ek einde 1958 die eerste keer as beurshouer van die koerant vakansiewerk gaan doen. Johan van Wyk – die “Oom” van Stop van Myne – was seker die gewildste in die tent. Baie wou net met hom ‘n geselsie aanknoop.

‘n Blommestorie soos min is dié van Alida Fourie, nou van Durbanville. Alida ken van blomme en blomme rangskik. Sy “doen” al die VanD’s se blomme van die jare 80 in Bloemfontein af. Etes in ons driedubbele motorhuis (die vorige eienaar se gimnasium) was ‘n jaarlikse instelling. Daarna in die Kaap by albei ons kinders, Johan en Marisa, se troues. Alida, met haar fyn oog vir mooi goed, was ook hoof-aankoper vir Tokkie se geskenkewinkel in die Mimosa Mall in die beginjare 90.

1-3-IMG_4344-001

Pieter en Alida Fourie word deur Tokkie verwelkom.

Mariette van Manen was gasvrou met die ooievaarstee vir Tokkie voor die geboorte van Marisa in 1974.

Vir kollegas uit die twee Volksblad-eras, van Beeld en van Naspers het ek ‘n pluimpie herhaal wat op 19/2/98 in my handskrif op die spyskaart van die Pers se afskeidsete vir my en Tokkie was: “Deur my hele loopbaan het ek daarin geslaag om op die regte tyd op die regte plek saam met die regte mense te wees. As ek ‘n pluimpie verdien, moet dit vir my uitstekende tydsberekening wees.” Geen rede om daaroor terug te krabbel nie.

Uit die veelbewoë Beeld-dae was net George Boshoff hier. Ek was die koerant se eerste nuusredakteur en George sy eerste kunsredakteur. Hy het later ‘n vermaarde tennisskrywer geword. Hy was ook die man wat hierdie Vrystater van wyn geleer het. Het Montpellier se huiswyn aanbeveel – ‘n wenner!

1-01-IMG_4359

Danie Krynauw

Uit die hoofkantoordae was hier ‘n hele bestuurskader. In jare die senior is Danie Krynauw, wat hoof van Tydskrifte was. Hy het my touwys gemaak toe ek rou in die Kaap aankom. By hom o.m. die goeie advies gekry vir wanneer ‘n direkteur my oor syfers vasvra: “Kyk hom stíp in die oë en gorrel so oortuigend soos jy kan.”

Vir Jan Malherbe wat hoofbestuurder: noordelike koerante was, en Jean le Roux, hoofbestuurder: suidelike koerante, het ek altyd my Aäron en Hur genoem. Hoe het hulle nie hierdie Moses se arms orent help hou toe hy as koerantman skielik in die diep kant gegooi is as uitvoerende hoof: koerante nie!

Melkbossers was die grootste groep. Sterkste verteenwoordig was die Probusklub waaraan bobaasbraaier Sakkie Bruwer my in 1998 voorgestel het. Ek en Tokkie tel gereeld ons seëninge. Probus is ‘n spesiale groepie met warm omgeeharte vir mekaar. Die verbintenis gee ons steeds veel plesier.

Buiten die kinders, was die familie maar minnerig. My broer Cules Malan het uit Pretoria gekom saam met sy vrou, Dalene, en hul prokureurseun, Marcus. Die ander broer, Christo, is al baie jare land-uit. Hy bevind hom Doer Onder in NSW.

Wie ons geweldig gemis het, is swaer Fanie, Tokkie se enigste broer, wat ses weke gelede oorlede is. Hy was een van die joviaalste karakters wat ek geken het. Terwyl ons sonder die Van Wyks hier feesgevier het, het skoonsuster Maretha haar man se assies gestrooi by Waenhuiskrans waar die gesin kort voor sy dood ‘n onvergeetlike laaste keer voltallig byeen was.

ANNUS BAKEN-LAUREUS

1-IMG_3707

3-IMG_3716

Ons feestent op ons gras voor die huis.

Middag uit Melkbos

‘n Nare jaar, weet ons almal, is in Latyn ‘n annus horribilis; ‘n wonderjaar ‘n annus mirabilis. Wel hierdie jaar, 2016, is my en Tokkie se annus baken-aurius (jaar van bakens).

Ekke het op 3 Januarie 75 geword. Tokkie was op 15 Maart, 70. Ons was op daardie datum ook 50 jaar verloof. Op 31 Desember vier ons goue bruilof. Ons het Saterdag hierdie bakens feestelik gevier. Op ons grasperk op Melkbos is ‘n frisserige markiestent opgeslaan. Aan die 12 tafels – met rooi tafeldoeke (Tokkie se gunstelingkleur) – was 100 gaste uit verskillende fases van ons lewe; skoolmaats, studentemaats, kollegas, Probusvriende van Melkbos en andere.

Buurman Dale Schreuder, bekende in Kaapse restaurantkringe, het vir die spyseniering gesorg. ‘n Span kelners van sy restaurant in Milnerton, Dale’s Black Angus, het na die gaste omgesien. Die spyskaart was na ons mening nogal besonders. Vriendin Rina van Rensburg van Stellenbosch het dit vir ons soos volg in keurige Afrikaans omgesit:

Happies: diepgebraaide calamari, groenterolletjies, Italiaanse sosaties, varkworsies, gerookte salm en brosbroodjies, knoffelpitabrood.

Buffet: geroosterde kruisskyf met sampioensous, romerige kerriehoender met sambals, gebakte Karoolamsboud met vleissous en kruisementjellie, gegeurde rys, braai-aartappels en vars seisoensgroente.

Nagereg: kaasbord met beskuitjies en suurtjies, malvapoeding met vanieljevla, pannekoek met bessiesous en geklopte room, roomys en warm sjokoladesous, sjef se verrassings.

Die vonkelwyn was Nuy sauvignon blanc en die wyne albei uit die Perdeberg-stal: chenin blanc en soft smooth red.

Die Perdeberg was nie om dowe neute nie. Op die bottel lees ‘n mens anno 1941. Dis ook my eie anno. Ek is op 3 Januarie 1941 in Sister Gilbert se Nursing Home op Dundee gebore. Ook my Jeep-hemp was nie net omdat ek nie ‘n Pringle of ‘n Polo kan bekostig nie. Jeep se anno is ook 1941. Man, wyn, hemp – selle jaar se kalwers.

Tokkie is anno 1946. Dit was die geseënde jaar dat die bikini die lig gesien het. Ter wille van die historiese simboliek sou ‘n bikini vir my vrou – ‘n rooie dalk – nie uit sy plek gewees het nie. Om kuisheidsredes meer as klimaatsredes is daarteen besluit.

In ‘n stadium het die weer nogal dreigend gelyk. Die wolke het egter hulleself bedwing. Eers die aand ná 20:00 het ‘n sterkerige bui uitgesak.

1-1-IMG_4337

Twaalf tafels met rooi tafeldoeke.

Hoekom ons die tent-opsie gekies het welwetende dat die wind kan waai, die reën kan giet (onthou, dit was Paasnaweek) of dat die son ons kan uitkaiing? Die antwoord is eenvoudig. Omdat ek al 20 jaar brand om dit te doen. Kan riskant wees om die lus nog 20 jaar te bedwing!

By Die Volksblad het ‘n korrespondent in die 80’s ‘n netjiese berig gestuur oor ‘n plattelandse kerkie wat gerestoureer is. Die lidmate was veral gaande oor die sierlike kateter, het hy berig (kateter met ‘n t). ‘n Kateter in ‘n kerk – nogal nuttig vir lidmate met swak blase, het kollega Paul Marais met sy droë humor gebrom.

Ons het nie nie ‘n kateter (met ‘n t) gehad nie – die gaste moes maar die trappies opbeur na die geriefies binne die huis toe. Ook nie ‘n kateder met ‘n d nie. Dit was ‘n kuierdag, nie ‘n toesprake-dag nie.

In ons Bybelstudiegroep het ons pas die voortreflikheid van nederigheid deurtrap – ‘n eienskap waarmee ek soms ietwat sukkel. Daar het ons met die wyse Salomo hartroerend daaroor saamgestem. Dit sou derhalwe erg inkorrek gewees het om in die geselskap van Bybelstudievriende iemand los te laat om te vertel hoe oulik ek en Tokkie is. Amper voeg ek by … en ons gaste weet dit mos buitendien!

Ware geluk lê nie in hoe ‘n skare vriende jy het nie, maar in die waarde wat hulle toevoeg sê Samuel Johnston. Ons vriende is waarlik waarde-toevoegers. Hulle is soos immergroen boeke en fynproewerswyn. Pêrels van groot waarde.

Oor hulle en oor ander aspekte van ons fees van 26 Maart 2016 gaan ek in die volgende dae uitwei.

Wees asseblief maar geduldig met die ou man. (hvd)

GESEëN MET GEZ(S)INAS

Private biografie van Eli Louw..

Private biografie van Eli Louw.

More uit Melkbos

Tokkie, my eggenote vir op die nippertjie 50 jaar, se doopname is Gesina Susara. Geen kommentaar daarop nie. Moet dit egter noem om iets te verduidelik.

Wyle oud-minister en voormalige speaker Eli Louw was ook met ‘n Gezina getroud (z of s maak nie juis verskil nie). Vir 60 jaar. Vir hom lig ek my hoed hoog. Sit nie in elke man se broek met ‘n Gesina/Gezina nie! (Het, terloops, in my wynversamelinkie ‘n sauvignon blanc wat na daardie Gezina heet – nogal “kompleks en vol nuanses!”

Maar Eli Louw was nie sommer elke man nie. Nog iets waarvoor hierdie gewilde Namakwalander spesiale vermelding verdien, is sy dapper rol in die pynlike, stormagtige kabinetsvergadering van 14 Augustus 1989 waar pres. P.W. Botha oortuig is om teen sy sin die tuig neer te lê.

Elke kabinetslid het die kans gekry om sy saak te stel. Eli Louw, goeie vriend van die president, het opgemerk dat die P.W. Botha van voor sy beroerte en ná sy beroerte nie dieselfde man was nie. Dit het vir hom heelwat wrewel van die gekweste president op die hals gehaal. Hy het gevoel hy is in die rug gesteek.

Maar dit was raak woorde – direk tot by die kern van die saak.

In ligter luim haal ek by Oom Eli se afsterwe graag ook ‘n storie op wat in my laaste humorboekie, Praat-praat in Tamatiestraat (Griffel 2010), verskyn.

Dit is die storie van twee oujongkêrel-broers van Namakwaland wat hul vingers sleg verbrand het – die jaar toe hul beeste so moddervet was. Hulle kon sommer sien hier is hul kans om ’n groot slag te slaan, en hulle sit toe hoog in met die prys.

Kopers kom, kopers gaan, maar hulle hou vas. Toe, op ’n dag, kom klop ’n Johannesburger met ’n dik tjekboek aan hul voordeur. Die prys is reg, honderd persent.

Die koper skryf sommer dadelik die fris tjek uit. Maar nie lank nadat die vent met die beeste vort is nie, hier is sy tjek terug – VNT, verwys na trekker. Daardie ding ken die broers nie. Hulle sal moet in Loeriesfontein toe om die prokureur te gaan vra.

“Manne dis slegte nuus,” verduidelik hy. “Daai skarminkel het julle verneuk. Hy’t nie geld nie. Al wat julle kan doen, is om ’n saak te maak. Anders gaan julle kaal uitkom.”

Maar nee, vir ’n saak sien hulle nie kans nie. Bedroë ry hulle toe maar terug plaas toe, en steek op die werf vir hulle ’n vuurtjie aan. Hulle tuur in stilte in die dansende vlamme, en bepeins sugtend hul sware lot.

“Ou broer,” verbreek een oplaas die broeiende stilte en sak behaaglik op sy kampstoeltjie agteroor. “Daardie tjek het nou wel gehop, en dis verskriklik jammer en als, maar ons het darem wragtig ’n goeie prys gekry vir ons beeste!”

Die bron van daardie storie was die prokureur by wie die twee broers op Loeriesfontein gaan aanklop het. Sy naam was Eli Louw. Het nie ‘n idée hoekom ek dit nie in “Tamatiestraat” vermeld het nie. Maar stel graag daar ommissie nou hier reg. (hvd)

(Aangepaste weergawe van ‘n blog wat in Mei 2013 hier verskyn het.)

SAMBREEL IN DIE WIND

1-margaret calvert

“Men at work”. Margaret Calvert in haar ateljee by een van haar bekendste padtekens

More uit Melkbos

Noem die naam Margaret Calvert en die meeste mense reaksie sal waarskynlik wees: Margaret Wie? Tog sien omtrent almal haar handewerk gereeld – elke dag as’t ware as ons agter die stuur van ons motors inskuif; op pad werk toe, skool toe, op sakereise en vakansies, langs snelweë en agterpaadjies.

Padtekens van alle soorte kom van haar tekenbord, hier en in talle oorsese lande, van Brittanje tot China. Ook die mooi skoon lettertipe waarin die name van stede en dorpe geskryf is. Die beste van alles, die wereld se “Mev. Padteken” is ‘n Suid-Afrikaner van geboorte.

Margaret – nou 80 – is in 1950 op 14-jarige ouderdom na Brittanje waar sy haar as grafiese kunstenaar bekwaam het. Eindelose verkeersknope op Britse paaie het gelei tot die besluit om ‘n netwerk snelweë te begin bou in die jare 50. Aan die tweeman-vennootskap Jock Kinneir en Margaret Calvert is die reusetaak toevertrou om bestaande padtekens te standardiseer, te herontwerp en nuut te ontwerp, waar nodig.

Leesbaarheid teen hoë snelhede was natuurlik ‘n deurslaggewende oorweging. Meermale is ‘n padteken vir net ‘n breukdeel van ‘n sekonde sigbaar. Om dit vinnig te kan inneem, is ‘n geheel nuwe lettertipe ontwerp. Dit was vir die span Kinneir/Calvert net die begin. Kleiner Britse paaie het in 1963 aan die beurt gekom. Later het lughawens, stasies en wat nog gevolg. Al hoe meer lande het ingekoop – ook – heel gepas, haar geboorteland, Suid-Afrika.

Wat my op Margaret se spoor gesit het , is een van die die internasionale prentjie-padtekens (beeldskildering, noem die woordeboek dit) wat derduisende motorryers in die Paasvakanie weer op ‘n lang lys paaie gaan teëkom – die bekende “men at work”-teken. ‘n Man met ‘n graaf word uitgebeeld.

‘n Spitsvondige vriend reken dit lyk vir hom meer soos ‘n ou wat sukkel om sy sambreel in die Kaapse Sedoos oop te maak. As die vriend een van die tekens sien, is sy voorspelbare kommentaar altyd: Die wind gaan weer waai vandag. En natuurlik is hy dikwels in die kol, want die wind waai maar dikwels hier in onse kontrei.

Oor ‘n wyntjie het ons een aand sit en wonder waar die padtekens vandaan kom. Sommer iemand iewers in ‘n munisipale kantoor wat dit teken? Maar hoe dan so eenvormig? Bestaan iewers ‘n sentrale bron en waar? Google se hulp is ingeroep. Margaret Calvert, Margaret Calvert, Margaret Calvert …. bladsye en bladsye vol inskrywings oor die geniale, kreatiewe vrou het op die skerm verskyn.

singinintherain_menatworks

Graaf of sambreel?

Ons kom toe agter die sambreelgrappie is ver van oorspronklik. ‘n Skare mense het al daardie ooreenkoms raakgesien en daarmee gespot. Allerlei parodië het al die lig gesien, soos die “Singing in the rain”-ene hierbo. Trouens, Margaret sê self, met ‘n vrolike vonkel in die oog, dat sy gerus maar die graaf meer soos ‘n graaf en minder soos ‘n sambreel kon laat lyk het.

Veral twee ontwerpe het oulike stories. Een is die waarskuwingsteken oor die teenwoordigheid van plaasdiere: die driehoekie met die koei. Daardie koei is nie sommer net enige ou Blommetjie nie. Sy het ‘n stamboom. Haar naam was Patience en haar tuiste die plaas van familie in Warwickshire.

calvert3

Patience, die koei.

“Patience” – wat ‘n nommerpasnaam. Hoe nodig raak “geduld” nie soms as jy op pad na ‘n plattelandse bestemming tussen beeste, bokke, hoenders en wat nog moet deurvleg nie?

Die teken van twee skoolkinders wat die pad oorsteek (“school children crossing”) is as ‘t ware ‘n “grafika-selfie”. Die meisietjie wat voor stap met die kleiner seuntjie aan die hand agterna is van niemand minder nie as die kleine Margaret in haar prille jeug.

214-calvert2

‘n Selfie.

Te oordeel aan die ouderdom van daardie meisietjie moet dit ‘n skets wees van Suid-Afrikaanse oorsprong – waarskynlik dan die bekendste SA ikoon ter wêreld; bekender selfs as Nelson Mandela. Stern, Dumas, Kentridge en daardie snare kan gaan slaap, as dit by internasionale herkenbaarheid kom, skat ek. Selfs Tretchi.

NUUS VAN DIE DAG

2-IMG_3604

1-IMG_3605

3-IMG_3606

More uit Melkbos

Die drukkersink bruis sommer weer vandag in my are. Die politieke lug is vol elektristeit. Almal praat en wonder: Kan Zuma oorleef? Vir koerante is sulke nuusmomente die geleentheid om, soos ons dit in my dae gestel, “skouers oop te maak.

So lyk die voorblaaie van Beeld, Volksblad en Die Burger vanoggend. Laasgenoemde lyk maar vir hierdie leser ietwat doodgewoon en alledaags. Die keuse van die fietsryers as hooffoto is buitengewoon oninsperend, die krieketstorie het bra min om die lyf, en die moleste in ‘n Kimberleyse hof was gister al vroeg-vroeg op die internet.

Beeld (waarvan Volksblad vandag ‘n blote bloudruk is) het heerlwat meer skop. Net een kyk is nodig om jou te laat besef: Hier is ‘n ding! Die oorheersende nuus van die dag oorheers ook in die koerant. Krieket, fietsryers, hofmoleste en sulke klas dingetjies kry nie plek op die voorblad nie.

Dit is hoe dit moet wees as ‘n koerant sy lesers se aandag wil trek.

Of die drie koerante se hoofopskrifte die regte keuse was, is oop vir debat. Vir groter trefkrag sou ek gekies het: ” Dis nag vir Zuma” of “Gaan Zuma val?”, wat Die Burger se plakkaat is.

Dit vat die storie boonop verder as wat reeds gisteraand op die TV-nuus volledig weergegee is. Vir koerante moet varsheid n hul nuushantering altyd ‘n vername oorweging wees, sou ek reken.

Naskrif: As ek en andere te gou opgewonde raak en die politiek maar op die huidige trant van skandaal tot skandaal gaan voortploeter, sal Die Burger se hantering die regte een wees. ‘n Profetiese daad, as ‘t ware. Dan sal hierdie waarnemer moet terugkrabbel vir ‘n vale. (hvd)

DONKER VERLEDE

1-2016_03_14

Uitgevat vir tennis (in ‘n ou kerkrokkie) en tiekiedraai.

Middag uit Melkbos

Laat ek maar die sluier oor my vrou, Tokkie, more, 15 Maart, ‘n rype 70, se “donker verlede” lig. Tot September van haar matriekjaar, 1963, was my liewe vrou as ‘t ware ‘n skadufiguur – ‘n kol teen die muur in die flikkerende liggie van ‘n lamp of ‘n kers in ‘n enemmelblaker.

Toe eers het elektrisiteit Bultfontein bereik. “Hondebakkies” – so het die benieude Bultfonteiners die skermpies genoem – het oornag aan geboue se plafonne begin pryk. Die bakkies het op ‘n haar soos omgekeerde hondebakkies gelyk wat die gloeilampie met ‘n kappie oordek.

Bultfontein in die jare 60 was nie vir sissies nie. Dis nie net elektrisiteit wat Tokkie en haar generasie moes ontbeer nie. Ook spoeltoilette. Sy is ná matriek B.O.K. toe met die nagkar op Bulfontein steeds op sy rondes, en met hul eie “gemakkie” by Hertzogstraat 5 steeds ‘n buitehuisie met ‘n nagemmer onder ‘n seringboom.

Glo die nuwe generasie sal hieroor gril – maar hopelik ook perspektief kry in ‘n era van net alles “demand” en “demand”.

Die gebrek aan elektriteit is deur die Bultfonteiners, soos so baie ander “deep plattelanders” van daardie era, gelate aanvaar. Hulle was gewoond daaraan. Hul Dovertjies (koolstowe), primusstofies, lampe en kerse was voldoende vir hul behoeftes. Mense wat dit minder gelukkig getref het, was “inkommers” van elders waar elektrisiteit reeds net ‘n knoppie ver was.

Een so ‘n gesin was die Groenewalds wie se dogter, Hannatjie, van standard drie (nou graad vyf) af ‘n beste maatjie van Tokkie was. Eerwaarde Groenewald het ‘n beroep na Bultfontein se sendingkerk aangeneem. Die gesin daag toe op met ketel, strykyster, broodrooster en wat nog. Ontnugtering! Die geriefies het alles mooitjies sewe jaar lank in die bokse moes bly.

tvd6

Tokkie en Hannatjie, beste maats.

Dit was natuurlik nie toevallig nie dat die eerste straatligte hul buiging gemaak het in die straat waar Ou One Light, gewoon het. Hy is so genoem weens sy glasoog, en was die “misipaal” se elektrisiën-cum-honde-inspekteur. Ouma Marietjie, Tokkie se gedugte weduweema, het op ‘n dag van Ou One Light korte mette gemaak toe hy kom hondelisensie soek. “Hier blaf ek sommer self,” het sy hom in sy peetjie gestuur. Dis ‘n ander storie.

Ewenwel, feit is dat Tokkie tot laat in matriek haar tuiswerk by lamplig gedoen en ook vir eksamens so geleer nie. As sy ná donker voor haar klavier gaan sit om die skone klanke van Chopin of Liszt in die klein voorhuisie te laat opklink, moes die getroue lamp ook aangesteek word.

Laat my nou nie onbehoorlik spog nie, maar sy was ‘n formidabele pianissie, die klein meisietjie wat weens haar kort lyfie deur haar vroeg gestorwe pa, Kotie, Tokkelossie gedoop is. In daardie jare was oor en weer kuier nog die in-ding. Op een so ‘n kuier by ‘n buurvou, Tant Ellie van Wyk (nie familie), in standard een (graad drie) het sy ongenooid voor dié se ouderwetse klavier ingeskuif.

Dadelik was die talent onmiskenbaar. Gou het sy lesse geneem en is ‘n splinternuwe klavier by R. Müller in Bloemfontein aangeskaf, wat in ‘n krat Bultfontein toe geskarwei is. Op daardie klavier het klein Tokkie haar pad oopgespeel Unisa-eksamens en Bloemfonteinse kunswedstryde toe, waar sy goue diplomas links en regs ingeoes het. In matriek het sy met eervolle vermelding Unisa se Finale Eksamen (Klavier, Graad V111) kafgedraf. Sy was ook Sondae agter die kerk se orrel wat deur ‘n petrolenjin aangedryf is. Die klavier staan nou by ons dogter, Marisa, in Hilton, Natal.

Op die sportveld was tennis na aan Tokkie se hart. In haar wit rokkie (‘n ou kerkrok wat vir die doel korter gemaak is) en met tekkies wat – lank voor die Nike-era – van ‘n hoop af by die O.K. Bazaars gekoop is, was sy en Mrad Shahia (later prof. Mrad Shahia) veral in die dubbels ‘n gedugte kombinasie. Die tekkies, terloops, was net ‘n stuk wit seil en ‘n sool wat kwalik die kous werd was. Die seil is met Shushine skoongemaak. Haar raket was ‘n oue van haar Tant Siena, wat ‘n rooilissie was in die Tweede Wêreldoorlog – ook ‘n tronkbewaarder wat o.a. die gifmoordenares Daisy de Melcker in haar sorg gehad het.

Elke kind het die een of ander tyd ‘n fiets gehad? Verkeerd. Tokkie het nooit in haar lewe ‘n fiets besit nie. Die enigste wiele in hul huis was ouer broer, Fanie, se tweedehandse dikwiel. Sy kleinsus het altyd op die handvatsels, die dwarspyp voor die saal of op die drarak agter gesit na gelang van omstandighede. Kinderkrans toe, was daar vier kinders op Fanie se fiets. Dan was Tokkie voor op die handvatsels, gevoude voetjies op die modderskerm.

tvd7

Hertzogstraat 5 – herbesoek in 2003

Soos Tokkie in musiek uitgeblink het, het Fanie sy naam as kranige atleet in Bultfontein se rekordboeke ingehardloop en gewerp. Hy was in matriek SA se onder 19-kampioen in die 440. Glo die duwweltjies op die atletiekbeen wat hom geleer het om sy knieë te dra. ‘n Keer het hy die spies so ver geslinger dat die gewigstoot aan die oorkant van die veld eers gestaak moes word.

My vrou was, by alles, ‘n entoesiastiese volkspeler. Sy was in die demonstrasiegroep wat ook kunswedstryd in Bloemfontein toe is om daar passies te gaan maak. ‘n Foto van Bultfontein se groep van 1961 het op Die Volksblad se voorblad verskyn. Daardie foto het ‘n buitengewone geskiedenis.

Tokkie, die swartkoppie in die middel, maak in haar klassieke wit Voortrekkerok ‘n treffende prentjie – een wat dadelik die oog vang van ‘n jong koerantleser, Johan de Necker. Hy was in matriek aan die Grey-kollege. Hy was halsoorkop verlief. Hy wóú eenvoudig die meisie op die koerantfoto ontmoet.

Ten einde raad skryf die beenaf skoolseun (later ‘n mediese dokter of tandarts) aan die geamuseerde skoolhoof hy moet asseblief help: Wie is hierdie meisie op die foto, waar kan hy met haar in aanraking kom? “U daadwerklike optrede sal waardeer word.”

Ongelukkig vir hom, was die skoolhoof ‘n verstandige man. Vir vreemde wolwe was hy uiters bedug!

Die skoolhoof se beskermende optrede word op prys gestel. Daardie De Neckertjie verdien nietemin volpunte vir ondernemingsgees. (hvd)