BESKEIE SE VOET!

)

Prins van Botaniste - in sy eie oë.

Prins van Botaniste – in sy eie oë.

More uit Melkbos

Die risiko’s verbonde aan stories oor nederigheid (of eerder die gebrek daaraan) is aan hierdie kroniekskrywer nie onbekend nie. Klink jy ietwat simpatiek met ‘n betuiging van on-nederigheid word jy maklik in dieselfde lig bejeën.

Die uwe moes al persoonlik meer as een keer sulke vlamme doodslaan. Maar soms leer ek my les; soms nie.

Kenneth Gallbraith het die gevleuelde woord gespreek: “Modesty is a vastly overrated virtue”. Van my koerantdae af het van tyd tot tyd situasies ontstaan dat ek my genoop gevoel het om daardie woorde aan te haal.

Met voorspelbare gevolge – veral by diegene met ‘n twyfelagtige sin vir humor.

Op my 70ste het ek ‘n boek oor kwinkslae van Winston Churchill van vriende van Durbanville Pieter en Alida Fourie present gekry. Daardie Britse premier had waarlik ‘n vlymskerp brein en ‘n tong wat niks afsteek nie.

Die boek wemel van spitsvondighede. My gunsteling-brokkie – hoekom weet ek nie – is ‘n uitspraak oor sy politieke teenstander, opposisieleier Clemens Attlee, se nederigheid.

” Attlee is a very modest man,” het Churchill laat hoor. “Indeed he has a lot to be modest about.”

Op die oomblik lees ek die heerlike wetenskapboek van Bill Bryson: “A Really Short History of Nearly Everything.” Ook ‘n geskenkboek. Veel om jou aan te verkneukel in hierdie insiggewende blik op ons planeet en alles wat dit bewoon. Dankie, my vriend Piet Henning van Louis Trichardt.

Kom daarin die mooi storie teë van Carolus Linnaeus, Sweedse botanis, wat hier teen 1730 rond die reusetaak aangepak het om plante en diere te sistematiseer en katalogiseer. Daarmee het hy ‘n geweldige bydrae tot die wetenskap gelewer.

Heel pikant, het hy self ook so gedink en hom nie onbetuig gelaat oor daardie oortuiging nie. “Rarely had a man been more comfortable with his own greatness than Linnaeus, ” bevind Bryson.

Lainnaeus het prontuit verrklaar dat nog nooit ‘n groter plant- of dierkundige geleef het nie en dat sy stelsel van klassifikasie “die grootste prestasie op die ganse terrein van die wetenskap” was.

Vir sy grafsteen het hy die volgende inskripsie aan die hand gedoen: Princeps Botanicorum – Prins van Botaniste.

Dit was nooit wys om hom hieroor te bevraagteken nie, skryf Bryson. Diegene wat dit gewaag het, het meermale agterna gevind dat die een of ander soort onkruid na hulle genoem is!

Sit nou seker weer my voet daar in, maar kan nie help nie: sulke onwankelbare selfvertroue admireer ek nogal. Moet dit bely, en dan maar die prys vir my eerlikheid betaal. (hvd