KORDATE CORONA

IMG_0001
toyota1

Daardie winter is deur Amerikaanse koerante The Big Freeze gedoop.

Middag uit Melkbos

“Where d’ya sleep? D’ya have a tent?”

Keer op keer moes die Van Deventers dié vraag van dronkgeslaande Amerikaners beantwoord wanneer ons met ons kompakte stasiewa ’n woonwakamp binnery en ewe manhaftig tussen hul massiewe ryhuise – inderdaad wonings op wiele – kom parkeer.

Dat ’n mens – of liewer vier mense! – agterin so ’n kompakte stasiewa kon slaap, was vir daardie nasie uiters koddig. Hulle hou van hul gerief. Maar dikwels was ons soort slapery juis die aanknopingspunt vir lekker geselse.

Dit was in 1976 en ons is Amerika toe op ‘n sabbatsjaar. Natuurlik wou ons soveel as moontlik van die land sien – maar so goedkoop as moontlik. Ons koop toe ‘n 1972-model Toyota Corona Merk II teen $1 500, wat daardie tyd ’n bietjie minder as R1 500 was. Inderdaad goeie ou dae!

’n Stasiewa het na ’n goeie keuse gelyk; veral ’n viersilinder. Dit was. Met die staatmaker het ons die land platgery: Noordwaarts tot diep in Kanada, waar ons deur uitgestrekte sneeuvelde moes ploeg; Suidwaarts tot in Key West, die suidelikste punt van die land; soos die kraai vlieg skaars 155 kilometer van Havana af. Ons brandstof het die platsakkerige gesinnetjie nie ‘n plaas se prys gekos nie.

Dosyne kere het ek, my vrou, Tokkie, en Johan (5) en Marisa (3) die agterste sitplek platgevou, ’n matras oopgerol en die slaap van die regverdiges geslaap. ’n Blik sardientjies soos min. Net een nag was daar ’n ligte krisis.

Terwyl die sneeu by die ski-oord Waterville Valley in New Hampshire se White Mountains buite neersif, kry Marisa ’n ongelukkie in haar sneeupakkie. Onvermydelik kring die glipsie gou uit tot nat kolle wat die ander slapers ru uit hul drome wek. Die skok gee ’n kettingreaksie af waarin die vader des huises eers sy kop ongenadiglik teen die dak stamp en daarna die moeder met sy elmboog skuins langs die neus tref. Dit sit haar aan die praat, nie juis in sitkamertaal nie.

Die res van die nag verloop bra gespanne met huilende kinders, omgekrapte grootmense, nat komberse en ’n nat winterkoue wat eensklaps deur elke stukkie ondigtheid in die stasiewa se bakwerk begin sypel.

Toe die son daardie oggend oor die sneeubedekte kruin van ons naweekberg loer – eintlik ’n asemrowende gesig – strompel ons moeg, vies, vaak en koud na buite, gaan leen kookwatertjies by ’n barmhartige buurman en drink ons ons Amerikaanse boeretroos asof dit die wonderlikste ding op die aardbol is.

Maar algaande leert men. Toe ons die volgende keer in ‘n wit sneeulandskap ons koppe agter in die Toyota neerlê, weet ek uit ervaring om die kinders te vermaan: kraantjies vannag toe. Met ‘n wysheid bo hul jare begryp hulle die dreigende klank van my stem. So slaap ons toe ongestoord en sorgvvry in ons metaalkokonnetjie terwyl die kwik buite tot dubbelsyfers onder die vriespunt sak.

’n Keer of wat het ons selfs ’n oornaggas gehad: skrywer Hans du Plessis. Hy het hom snags agter die stuurwiel ingewikkel. Soggens was sy litte egter maar stram. Op ‘n besoek aan Massachsetts se Cape Cod besluit hy die oggend: tot hiertoe en nie verder nie. Toe gaan soek hy ’n hotel. Só ontwikkel ’n voordelige sisteem.

Op alle uitstappies daarna verskaf ons die wiele, Hans die badkamer. Daardie Merk II was die enigste stasiewaentjie met ’n badkamer en suite waarvan ek nog gehoor het.

*******************

Uit gister se motorbylae, Motors, in Die Burger

*******************

Een van die eerste kere toe ons met ons Merk II ‘n “trailer camp” opsoek, en ek nog totaal oningewy is oor al die uitnemende geriewe wat ‘n eersteklas woonwakamp bied, vra die man by die hek: “Hook-up?”

Eers verstaan ek nie mooi nie. Toe hy die prys noem, klink dit vir my egter hoogs bekostigbaar. Ek antwoord bevestigend. Eers later sou ek agterkom, dis ‘n kragaansluiting.

Die oggend toe ons padgee, doen ‘n welwillender kêrel diens by die hek. Toe hy ons “trailer” sien, skud hy meewarig die kop. “Ons skuld jou ‘n dollar,” deel hy gul mee. “Julle het mos nie krag gebruik nie”. Hy stop my ‘n amptelike eisvorm in die hand.

Kant en klaar van die hele gedoente vergeet, bring die U.S. Mail ‘n paar weke later ‘n indrukwekkende koevert van die Commonwealth of Massachusetts. Ek skeur dit met bewende vingers oop. Binne is toe ‘n tjek – een dollar.

Amerikaanse winters kan erg wees. Op die eilandjie Martha’s Vineyard kom ons agter baie woonwaplekke sluit vir die seisoen. Daar sit ons toe gestrand, lank nadat die laaste veerboot vertrek het.

Oral langs die pad is boonop kennisgewings wat parkering dreigend verbied: “Don’t even consider it.” Toe moet ons maar rondry totdat dit goed donker is. Later parkeer ek die Toyota onder ‘n akkerboom in ‘n stil woonbuurt langs ‘n leë houthuisie in die dorpie Oak Bluff – nogal een met ‘n lekker omheinde agterplaas vir nagtelike lopies.

1-toyota7
Ons onwettige staanplekkie op Martha’s Vineyard

In die middel van ‘n salige diep slaap knal iets soos ‘n geweerskoot. Die polisie, is my eerste gedagte. Niks gebeur egter nie. Deeglike ondersoek bring aan die lig ‘n moedswillioge akker het die dak getref. Blerrie akker!

By ‘n kollega, die stoere motorman Fred Schnetler (saliger), het ek ‘n mooi Toyotagrappie gehoor. Dit handel oor ‘n student se meisie wat swanger geraak het.
Die tyd het aangebreek dat hulle haar ouers die interessante nuus moet meedeel. Die oggend na hul aankoms het die pa, wat behoorlik deur die manierlike jong man geïmponeer was, hom die plaas gaan wys. Ná ‘n rit deur die boorde in die boer se splinternuwe Toyota Prado is hulle na die pakskure. In die een hoek was ‘n enorme Toyota-dieselenjin wat die kragopwekker aandryf om die pakskure koel te hou. Die Toyota-vurkhysers het netjies op ‘n ry gestaan en in die skuur langsaan was twee Toyota Hino-vragmotors.
In die motorhuis was ‘n Lexus (deur Toyota gemaak, natuurlik) en ‘n Corolla. “Oom glo in die Toyota,” sê die student. “Ja, beter kry jy nie,” sê die boer. “Wag, ek wys jou iets.” Eenkant staan ‘n redelik gehawende Toyota HiLux-bakkie. “500 000 kilometer op die klok en hy vat nog dadelik as jy die sleutel draai,” sê die boer. Hy klim agter die stuur in en draai die sleutel. Die bakkie vat – raserig, maar die enjin klink gesond.
Dis toe die student ‘n opening sien. “Oom, sê my, is Martie se tweede naam Toyota?” “Nee, hoekom vra jy?” “Ag Oom, ek het haar net so ‘n ligte ou stootjie gegee, toe vat sy!”
Onse Merk II het in die hartjie van die winter nie eens ‘n ligte stootjie nodig gehad nie – buiten een keer toe die aansitter ingee, nogal in Manhattan, New York. Moes toe elke keer ‘n skuinstetjie soek om te parkeer dat vroulief Tokkie haar ding kan doen.

Wat my telkens verwonder het, is dat die enjin so maklik kon vat, selfs nadat ’n nagtelike storm ’n vrag sneeu op die kar gegiet het. Dikwels moes ek ons ryding letterlik met ’n graaf losgrawe. As jy die sleutel ’n keer of drie gedraai het, begin die enjin egter rukkerig luier – vir hierdie Suid-Afrikaner nou nog ’n werktuigkundige wonderwerk.

Die berugte winter van 1976–77 met sy sneeustorm op sneeustorm – die “Big Freeze” het koerante dit genoem – het vir ’n oningewyde soms verskriklike probleme opgelewer. In Kanada moes ek ’n keer seker 50 tot 60 kilometer deur ’n sneeuveld kruip teen ’n slakkegang van kwalik meer as 40 kilometer per uur ’n Sterk wind het die sneeu in vlae oor die pad gedryf. Dit is deur elke moontlike skrefie na binne gepers. So ver ’n mens kon sien, was dit wit. Langs die pad was talle motors wat in sneeubanke vasgery of sommer net steeks geraak het. Met die Merk II het ons deurgedruk en by ons bestemming aangekom; sopnat van die sweet maar ongeskonde.

’n Roes op Amerikaanse motors is die sout wat op die paaie gestrooi word om die sneeu te laat smelt. Dit laat gate in die bakwerk val, veral op die modderskerms. Ook die Merk II het deurgeloop. Toe ek aan die einde van die jaar in Boston se koerante adverteer, was die kopers egter volop. Ná ’n jaar se harde werk en sowat 24 000 kilometer op die meter is hy vir $1 000 verkoop

Vir die koper was dit ’n “nice car, hey?” en klaar. Ek meen ek sou $1 200 kon kry as ek nie so haastig was nie.

Party motors sit diep in ‘n man se geheue en in sy hart. Daardie Toyota se nommerplaat met die registrasienommer 483-378, Massachusetts, is hier net om die draai van waar ek sit teen ‘n sypaneel van my boekrak vasgeplak. Wys hoe lief ek my kar gehad het. (hvd)

VURIGE REDAKTEUR

More uit Melkbos

Min mense weet dit: C.R. Swart, Suid-Afrika se eerste staatspresident, wie se standbeeld die slagoffer van kampusvandalisme was by Kovsies, was in sy jong dae joernalis (ook cowboy in die VSA, maar dis ’n ander storie).

Trouens, die uwe en Swart was verlangs “kollegas” – hy was in 1936 twee maande lank redakteur van Die Volksblad. Ons deel verder die reputasie van “vurigheid”. Sy “vurigheid” op een bepaalde dag, 16 Januarie 1936, kon ek op my vurigste egter nooit ewenaar nie.

Swart was daardie dag besig met ’n heftige aanslag op die tik- masjien toe die Volksblad-gebou in die latere Voortrekkerstraat (en nog later Nelson Mandelarylaan) skielik begin skud.

Swart het self vertel: “Op ’n warm somermiddag sit ek en hoofartikel skrywe. Dit was glo ’n vurige en aggressiewe een, want meteens begin die vensters ruk en rammel terwyl die gebou waggel en bewe. Na ’n vyftal sekondes besef ek eers ’n vreemde gedoen was aan die gang.

“Toe ek by die kantoordeur uitstorm, sien ek net meisiekinders die gang afhardloop, en al wat gewerk (of gedut) het, storm die gebou uit na die grondverdieping die straat in. Dit was ’n aardbewing wat ons so skrikgemaak het. Dit het mooipraat gekos om almal weer terug op kantoor te kry.”

Swart se kort redakteursloopbaan het nie uit die lug geval nie. Hy het van 1927/28 tot 1933 al ’n weeklikse politieke rubriek onder die skuilnaam “Rondloper” vir dié koerant behartig. As jong politikus was hy vir ’n rubriek, “Parlementêre Praatjies”, verantwoordelik en het ook Saterdag-hoofartikels geskryf.

Later was hy minister van justisie in D.F. Malan en H.F Verwoerd se kabinette.

Sy plaas buite Brandfort se naam was “De Aap”. Dat die goedige “Oom Blackie” ’n aap was, kon jy egter nie van hierdie veelsydige man sê nie. Natuurlik mag jy dit ook nie van die standbeeld-vandale se nie. Dit sou onhoudbaar politiek inkorrek wees. (hvd)

IN HEILIGE HALLE

12743694_10154738556280190_6997177351798701744_n

Die ou Volksraad – deesdae o.m. vir opvoedkundige toere ingespan.

More uit Melkbos

In Januarie 1964, skuins na my 23ste verjaardag, het Alf Ries, politieke beriggewer van die Nasionale Pers, my, ‘n groentjie in die persgalery van die Volksraad, die verhewe plek gaan wys. Ek het klein gevoel toe ek die eerste keer afkyk op die groen banke waar die lede van die kabinet, die speaker en volksraadslede sit.

Elke keer as ek tonele uit die moderne nuwe parlement sien, soos met die rampspoedige sogenaamde staastrede, dink ek aan daardie “heilige halle” wat twee jaar lank my werplek was. Hoeveel respek het ek nie daarvoor gehad nie.

In my dag des lewens nie gedink tonele kan hom in ‘n parlement afspeel soos ons op die skerm sien, en dat leiers so stamelend en onbeholpe kan optree soos die “agbare” Zuma of so onbeskaafd-onbehoorlik soos die “”agbare” Malema nie.

1-aaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaa

…. of vir vergaderings van betogende vakbonde.

As werksakker was die volksraad ‘n boeiende plek. In die kabinetsbanke was die formidabele dr. H.F. Verwoerd, wat bo sy tydgenote uitgetroon het, die oud-stoker Ben Schoeman, Eben Dönges, Paul Sauer, Hilgard Muller en die opkomende ster, John Vorster – almal in my jong oë groter as lewensgroot. ‘n Jong vuurvreter, P.W. Botha, het begin aandag trek. In die opposisiebanke was Marais Steyn, wat kon praat dat skuimvlokkies in sy mondhoeke staan, die waardige Piet van der Bijl en die strydvaardige Helen Suzman.

‘n Toespraak van ‘n karakter soos Blaar Coetzee van Vereeniging – altyd op die uitkyk vir ‘n geleentheid om ‘n kwinkslag kwyt te raak – sou ek vir geen geld misloop nie. Op ‘n keer is hy aan die woord. Dr. Jan Moolman (V.P., Oos-Londen) kom half orent om ‘n vraag te stel. “Orde, orde, ” raas Speaker Henning Klopper van Parys, “die agbare lid moet opstaan as hy ‘n vraag wil stel.” Soos blits kom dit van Blaar Coetzee: “Staan op Jan, as jy sit, is die drukking op jou verstand te groot!”

Groot skrik het gevolg na ‘n HvD-scoop – nogal op Die Burger se plakkaat een Saterdagoggend – oor die onenigheid tussen ‘n Nasionale L.V. van Pretoria, Jan Visse van Gezina, en een van die destydse Kleurlingverteenwoordigers, Bill Hollander. Die misverstand het na die wandelgang toe oorgespoel waar ‘n paar geniepsige houe oor en weer gewissel is.

Toe die speaker in die koerant van die opstootjie lees, was hy nie geamuseerd nie Alf Ries ook nie. Drie lesse vir Van Deventer: die speaker is baas van die parlement; nie die eerste minister, soos hy in sy onkunde gedink het nie. Die wandelgang is ‘n “heilige hal” en wat daar gebeur, gebeur as ‘t ware met gegrendelde deure. ‘n Jong abjater krap nie in die politieke beriggewer se slaai nie. Maar dit was blykbaar in my om gevaarlik te leef.

Scan10079

Drie kollegas met hul krieketpette.


Uit my te kort termyn van twee jaar as parlementêre verslaggewer lê veral een foto my na aan die hart: ek en twee SAUK-kollegas, Neville Krige en Daan Eksteen (albei al saliger) , elk met ‘n krieketpet op.

Doodgewone pette was dit allermins. Nee, dit was pette van die parlementêre krieketspan, deur ons drie met kolf en bal – en dalk veral ons flinke veldwerk – verwerf op die skilderagtige veld van die parlementêre klub Fernwood in Nuweland. As aanvangskolwer teen Simonstad het ek hier ‘n hoogste persoonlike telling van iets in die veertig agter my naam geplaas, boonop nie uit nie!

Onvergeetliker was egter om in ‘n ontspanne atmosfeer onder Fernwood se eike politici soos die V.P.-leier, sir De Villiers Graaff, beter te leer ken; as gedugte kolfvennoot, fyn mens en galante gasheer. ‘n Man uit een stuk, hierdie melkboer van De Grendel aan die Tygerberg. Ek dink steeds hy was uitgeknip vir die rol van staatspresident; een wat berge sou versit om verhoudinge tussen Afrikaanse en Engelse mense te verbeter.

Naskrif: Oor Helen Suzman het ek in my boekie Byl in my Bos in ‘n grafskrif o.m. die stelling kwytgeraak dat sy “die eerste vrou was wat ek teen¬gekom het by wie geen onder¬danigheid teenoor mans ¬bestaan het (of geveins is) nie”.
Dit was by terugskoue nie ‘n slim of sensitiewe stelling nie. Onder andere die joernalis Martie Meiring het my in haar resensie van die boek met mening gepak oor die “heel verouderde manlike chauvinisme”.

Wat haar ietwat laat vermurwe het, was my slot¬woorde: “Dit is die Helen Suzman vir wie ek ná haar afsterwe op die eerste dag van 2009 simbolies my eie vlag halfstok laat hang het.” Daarop was Meiring se kommentaar: “Die feministe sal hom genadig wees. Dis immers bekend dat baie van die veral Nasiona¬liste-parlementariërs ook vir eers soos Van Deventer gedink het en later ook hul vlag halfstok vir so ’n vrou sou hang, by wyse van spreke.” (hvd)

UIT MY PLATERAK

Van my eerste aankope.

Van my eerste aankope.

Middag uit Melkbos

Die eerste keer in donkiejare het ek my half-vergete langspeelplate een vir een uit die stokou radiokabinet in my studeerkamer gehaal. Meesal “U Eie Keuse”-musiek het uit die stof gekom. My versameling is nie groot nie – so 60-stuks. Dit dek tog ‘n wye spektrum.

Van ‘n Beethoven-simfonie, via ouvertures, operas, musiekspele, koorwerke, Kersmusiek, Strausswalse, dansmusiek tot “Hits of the 50’s” met mense soos Elvis op volle stoom. Selfs David Kramer, Nico Carstens en Dimpel Pretorius duik op …. asook Gerhard Viviers wat ‘n rygbytoets teen die All Blacks uitsaai: “Siddie, Siddie, Siddie!”!

Van die sekstet uit Lucia di Lammermoor tot Rock Around The Clock, Be Bap Alula en Jailhouse Rock het ek op plate. Sangers is o.a. Bjoerling, Tauber en Joseph Schmidt; Nat King Col, Dean Martin en Frank Sinatra; Joe Dolan. Kore sluit in die Gunther Kahlmankoor (Elizabeth Serenade). Onder die sangeresse is Edith Piaf, Barbara Streisand en Nancy Ames. Sommer dadelik Nancy se Cu Cu Ruu Cu Cu Paloma op die draaitafel gesit. Hemels.

Woordeboekman Frikkie Lombard van Stellenbosch was die dryfveer. Op Facebook onthou hy “met watter gevoel van afwagting ‘n mens ‘n nuwe plaat uit sy omslag getrek het, dit op die draaitafel geplaas het en die volumeknop oopgedraai het — ‘n plegtige ritueel!” Met die ewe veel afwagting het ek Saterdagmiddag begin plate afstof vir my ontdekkingsreis – ‘n ware “trip down memory lane”, as ek ‘n Engelse uitdrukking mag steel. Herinneringe het teruggespoel.

plateblog

My Fair Lady troon uit in ‘n pakkie van musiekspele. Die langspeler het ek vir Tokkie present gegee toe sy, bloedjonk, in 1965 saam met my ouers vir my in die Kaap kom kuier het. Ons is teater toe vir ‘n opvoering van die klassieke blyspel. In die foyer kon jy o.m. plate van die klankbaan koop.

Edith Piaf, “Mossie van Parys” van die 30’s en 40’s, se Homage A Piaf het ons as trougeskenk van studentemaat Jan-Jakob de Jager gekry. Een snit is die meesleurende Milord – die eerste stukkie musiek wat ek vir Tokkie op die draaitafel gesit het toe sy, nog jonger, in 1964 haar voet die eerste keer in my woonstel in La Gratitude in Bloemfontein sit.

‘n Derde geskenkplaat is een van Clayderman wat Johan vir Tokkie op ‘n verjaardag in Bloemfontein gegee het. Netjieser as gewoonlik het hy op die omslag geskryf: Baie geluk van Johan. Ons oudste het pas koerante begin aflewer. Die plaat kom as’t ware uit sy eerste tjekkie.

Op ‘n geskenkplaat van Lufthansa rondom 1970 is ‘n opname van Stille nacht deur die Bielefelder Kinderchor. Dis vir my een van die mooistes wat ek al gehoor het.

Ook Kersmusiek na aan my hart is op ‘n platestel wat heet A country style Christmas. Met die sneeu omtrent tot by ons enkels het ons in die winter van 1976 in Boston ‘n platewinkel opgesoek om die kosbare soewenier aan te skaf. O holy night deur George Beverly Shea is meesterlik.

In my versameling is twee Russiese plate – een met Russiese opera-arias; een ligter van aard. Het dit in die jare 80 in Kiëf in die Oekraine op ‘n besoek agter die destydse Ystergordyn in ‘n afdelingswinkel gekoop. Ons gids, Svetlana, het op ‘n stukkie papier vir my neergepen: Help tog die man. Hy soek Russiese musiek.

Van my eerste plate wat ek as jong verslaggewer by Die Volkslad aangeskaf het, was 45 rpm’s: operakore, die kwartet uit Rigoletto, Bjoerling se Nessun Dorma en ander. Het lief geword vir dié musiek in my eerste jaar op Tukkies. Veral Verdi het in my hart gekruip. My ouers het vir my hul ou radio present gegee. Daarop graag geluister na “World Famous Tenors” en sulke programme. Mooi musiek is altyd beter as “swot”!

Heelparty van my eerste aankope is geinspireer deur rolprente, soos The Student Prince. Mario Lanza se Drinklied was ‘n gunsteling. Natuurlik ook die studentelied Gaudeamus Igitur.

Ek was half uit die veld geslaan deur al die dansmusiek. Al het ek op Tukkies ‘n poeierblou tuxedo besit, was ek nooit juis ‘n danser om van te praat nie. ‘n Stel van drie, amper ongebruik, met oorwegend Duitse dansmusiek was beslis ‘n veel latere Lufthansageskenk. Glen Miller is darem ook daarop. En Ray Charles.

En die rugbyplate? ‘n Geskenk toe hy sy draaitafel wegmaak van my Melkbosse vriend Sakkie Bruwer, seker die grootste rugby-entoesias wat ek ken. Onder my Sakkieplate is nie net Gerhard Viviers se opgewonde kommentare nie. Ook Johan Claassen se roerende afskeid van Frik du Preez en Hannes Marais. En David Kramer se Blokkies Joubert.

Die storie van Blokkies Joubert is van ‘n vergete rugbyheld wat die skemer van sy lewe omkuier in die Royal Hotel. Ou Blokkies se melancholie vind op hierdie oomblik by hierdie ou man nogal aanklank. Dis vergange tye se plate-oes wat my so kwesbaar maak vir bewoëndheid. (hvd)

TERUG OP MY TROON

stoel

Ek op my geliefde stoel. By my is Jan Scholtz, die aand van my afskeid by Die Volksblad in 1992.

Middag uit Melkbos

My stoel is terug. Ek sit in my studeerkamer op Melkbos voor die rekenaar en swaai en draai op ‘n meneer van bruin leer met soliede armleunings van Birmaanse kiaat. Na twee manade op ‘n harde, regop kombuisstoeltjie is dit hemels. Ek voel soos ‘n koning op sy troon.

Die stoel is deel van van een van wyle kollega Jan Scholtz se monumente by Die Volksblad: die stylvolle redakteurskantoor met sy meubels van stinkhout en Birmaanse kiaat. Die meeste meubels is deur die meester-vakman Jan persoonlik gerestoureer met die opgradering van die gebou in 1986.

Die stoel is volgens Jan se opdragte deur Bloemfontein se Republiek Meubels vervaardig – deur Lappies Labuschagne se mense, wat hul storie geken het. My voorreg gewees om op daardie stoel te sit en in daardie deftige kantoor my dagtaak te verrig tot 1992.

(Dr. AJR van Rhijn het, terloops, in die 40’s by dieselfde lessenaar gesit. Die uwe was toe ‘n skoolseuntjie in Kimberley – sonder die vaagste benul dat dit my ook beskore sal wees. Die huidige redakteur, Gert Coetzee, sit na my wete steeds by die lessenaar).

Die kantoor is ná al die jare feitlik onveranderd. Natuurlik is die rekenaar in die plek van die tikmasjien. Dan het ‘n vorige redakteur die stoel uitgegooi. My geliefde stoel. Het nie met sy rug ge-akkordeer nie.

Maar stoel in Bloemfontein, stoel op Melkbos. Klink seker verwarrend. Laat ek die kloutjie by die oor bring. Nee, dis nie dieselfde stoel nie. Die Melkbos-stoel is ‘n replika. Die twee is vinkel en koljander.

Die replika is in my besit sedert 1992. Was my afskeidsgeskenk toe ek by Die Volksblad weg is Kaap toe – ‘n gewaardeerde geskenk wat seker deur Jan geïnspireer is. Hy het geweet hoe lief ek vir die meubels in my mooi kantoor is. (Het ook ‘n replika van die boekrak in ‘n gangetjie wat na ons eetkamer lei. Maar dié het ek self laat maak.)

Ewenwel, in Desember verlede jaar gee die stoel se meganisme skielik mee. Sewentien jaar se sit het sy tol geëis. My gewig is boonop nie iets wat ‘n mens sommer uitblaker nie.
Ek soek en ek soek, en kom uiteindelik by die firma Office Concepts uit. Gaan laai my stoel daar af. Wag en wag. Toe kom die nuus: Jammer, daardie soort imeganisme is uit die mode. Kry dit nergens.

My stoel, my stoel. Ek praat mooi. Hulle moet eenvoudig ‘n plan maak. Goed, laat ons kyk, sê Nathan.

Vanoggend ná my soveelste navraag bel Nathan: Sit jy of staan jy? Jou stoel is reg. Ek kon die man soen.

Die Proteas het ‘n slag weer gewen, ‘n salige koel seebriesie stoot by die woonkamer se skuifdeur in, en ek sit weer die sit wat my boude al so lank so goed ken. Die Kaap is weer so Hollands soos kan kom. (hvd)

BESKEIE SE VOET!

)

Prins van Botaniste - in sy eie oë.

Prins van Botaniste – in sy eie oë.

More uit Melkbos

Die risiko’s verbonde aan stories oor nederigheid (of eerder die gebrek daaraan) is aan hierdie kroniekskrywer nie onbekend nie. Klink jy ietwat simpatiek met ‘n betuiging van on-nederigheid word jy maklik in dieselfde lig bejeën.

Die uwe moes al persoonlik meer as een keer sulke vlamme doodslaan. Maar soms leer ek my les; soms nie.

Kenneth Gallbraith het die gevleuelde woord gespreek: “Modesty is a vastly overrated virtue”. Van my koerantdae af het van tyd tot tyd situasies ontstaan dat ek my genoop gevoel het om daardie woorde aan te haal.

Met voorspelbare gevolge – veral by diegene met ‘n twyfelagtige sin vir humor.

Op my 70ste het ek ‘n boek oor kwinkslae van Winston Churchill van vriende van Durbanville Pieter en Alida Fourie present gekry. Daardie Britse premier had waarlik ‘n vlymskerp brein en ‘n tong wat niks afsteek nie.

Die boek wemel van spitsvondighede. My gunsteling-brokkie – hoekom weet ek nie – is ‘n uitspraak oor sy politieke teenstander, opposisieleier Clemens Attlee, se nederigheid.

” Attlee is a very modest man,” het Churchill laat hoor. “Indeed he has a lot to be modest about.”

Op die oomblik lees ek die heerlike wetenskapboek van Bill Bryson: “A Really Short History of Nearly Everything.” Ook ‘n geskenkboek. Veel om jou aan te verkneukel in hierdie insiggewende blik op ons planeet en alles wat dit bewoon. Dankie, my vriend Piet Henning van Louis Trichardt.

Kom daarin die mooi storie teë van Carolus Linnaeus, Sweedse botanis, wat hier teen 1730 rond die reusetaak aangepak het om plante en diere te sistematiseer en katalogiseer. Daarmee het hy ‘n geweldige bydrae tot die wetenskap gelewer.

Heel pikant, het hy self ook so gedink en hom nie onbetuig gelaat oor daardie oortuiging nie. “Rarely had a man been more comfortable with his own greatness than Linnaeus, ” bevind Bryson.

Lainnaeus het prontuit verrklaar dat nog nooit ‘n groter plant- of dierkundige geleef het nie en dat sy stelsel van klassifikasie “die grootste prestasie op die ganse terrein van die wetenskap” was.

Vir sy grafsteen het hy die volgende inskripsie aan die hand gedoen: Princeps Botanicorum – Prins van Botaniste.

Dit was nooit wys om hom hieroor te bevraagteken nie, skryf Bryson. Diegene wat dit gewaag het, het meermale agterna gevind dat die een of ander soort onkruid na hulle genoem is!

Sit nou seker weer my voet daar in, maar kan nie help nie: sulke onwankelbare selfvertroue admireer ek nogal. Moet dit bely, en dan maar die prys vir my eerlikheid betaal. (hvd