VERSAMEL-FANIE

1-1-IMG

Swaer Fanie van Wyk – ons groet hom Vrydag – was ‘n aartsversamelaar. Noem hom Versamel-Fanie. Bonsaiboompies was een van sy vele liefdes. As ek vandag vir hom ‘n simboliese bonsaiboompie kon kies, sou dit ‘n waardige boom moet wees, met ‘n enorme klomp takke.

Dalk ‘n miniatuur-“wonderboom” – soos daardie gedugte wildevy van Pretoria wat sy takke oor ‘n gebied van 50m uitsprei. Die uitbeelding van Versamel-Fanie se uitgebreide voorliefdes, belangstellings en kundighede verg so ‘n omvangryke boom.

Fanie se boeke was waarskynlik die naaste aan sy versamelaarshart, veral oor die Anglo-Boere-oorlog. Dalk sy waardevolle skilderye. Hy het o.m. ook seëls versamel – en wyn, en plate, en knipsels oor vele onderwerpe. Hy het selfs ‘n klomp outydse penpunte (daardie wat jy in die botteltjie ink gedoop het) in sy laai gehad. Trouens, wat het hy nie versamel nie?

Maretha het maar altyd probeer om stilletjies die opgegaarde bates tot realistiese vlakke te reduseer. So skenk sy in ‘n stadium ‘n klompie ou boeke vir ‘n kerkbasaar of iets. Fanie val by die boektafel vas en vergaap hom aan al die waardevolle eksemplare waarvan replikas, so dag hy toe nog, ook in sy eie studeerkamer pryk. Tuisgekom, is hy dadelik tot barstens toe voldaan na sy boeke toe. Die gapings verklap dadelik dat Maretha ietwat uitgedun het. Hy was vurig ontstoke. Pure Vurige Fanie.

Fanie het bowenal vriende versamel. Die Vriendelike Fanie het maklik nuwe maats gemaak maar ook die kuns geken om ou vriendskappe in stand te hou. Hy was iemand wat ‘n mens in ‘n goeie sin kan noem ‘n allemansvriend – ‘n mens-mens wat as storieverteller uitgeblink het, met ‘n aansteeklike geesdrif, humor, jovialiteit en lewensvreugde wat dit aktyd lekker gemaak het om in sy geselskap te wees.

Met Fanie se heengaan is die aftree-oord Klaradyn se medisynekas van een van sy belangrikste tonikums beroof, glo ek. Sy opgeruimdheid, luimigheid, spitsvondigheid, sêgoed en stories kon sekerlik nie anders nie as om die mense rondom hom op te beur. En ‘n gesonde gees kweek mos ‘n gesonde liggaam.

Soos Fanie vir Klaradyn goed was, was Klaradyn darem vir hom ook goed. Nuwe intrekkers het gedurig gesorg vir nuwe gehore wat ontvanklik aan sy lippe gehang het. In sulke omstandighede het swaer Fanie geblom. Hy was ‘n “performer” by uitstek.

Versamel-Fanie. Vriendelike Fanie. Vurige Fanie. On-Vergeetlike Fanie (hvd).

TOT SIENS, FANIE

IMG

My swaer Fanie van Wyk se aardse wedloop is toe vanmiddag om 17:15 in die Panorama Medi-Clinic voltooi. Die woorde in 2 Timoteus 4 vers 7 is geskryf of dit vir Fanie bedoel is: “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig enduit volgehou.” Op die foto is hy en my vrou, Tokkie, sy enigste suster, op ‘n besoek aan die Weskuspark. Van die drie Van Wyks van Hertzogstraat 4, Bultfontein, weduwee Marietjie, enigste seun, Fanie, en Tokkie – jare lank ‘n hegte eenheid na die vroeë dood van pa Kotie – is nou net sy oor. Die bos raak leeg.

KAMPIOEN TOT DIE EINDE

IMG_0001

1-IMG-001

‘n Jaar of vyf voordat ons paaie in die jare 60 gekruis het het, het my swaer Fanie van Wyk, Tokkie se broer, vir allerlei steratlete van stedelike spogskole weggehardloop om die Suid-Afrikaanse 440-tree-kampioen vir seuns onder negentien te word. Peter Carlstein van St. Andrews in Bloemfontein, latere krieket-Springbok, was een van die gunstelinge wat teen die onbekende Bultfonteiner in die stof gebyt het.

Dat hy so vinnig kon hardloop is glo die plate duwweltjies op Bultfontein se atletiekbaan se skuld. Die geniepsige meneertjies het hom sy bene – en sy kaalvoete! – leer dra.

Sic gloria transit mundi. Pas by die huis gekom van die Panorama Medi-Clinic af waar Fanie (77) weens gevorderde longversaking, ondanks die sterkste moontlike suurstof-toediening, swaar en met inspanning asemhaal. Hy sal nie weer ‘n 440 hardloop nie – trouens ook die wedloop van die lewe is sowat vir swaer Fanie verby. Maar met watter genoegdoening kan ek nie hier met alle oortuiging skryf nie: ook in daardie wedloop was hy ‘n kampioen.

(‘n Stuk of ses van Fanie se atletiekrekords staan nou al amper sestig jaar ongeskonde by die Hoërskool Bultfontein. Hy het een keer die spies so ver geslinger dat dit tussen die gewigstoters aan die ander kant van die veld beland het. Die gewigstoot moes dringend gestaak word terwyl Fanie gooi! Op die foto is hy as skoolseun en in sy Vrystaatbaadjie met sy atletiekbekers). (hvd)

SOMER VAN 2015

1-IMG_3479

Swembadkirpatse onder ‘n groot sambreel

Het ‘n Beeldvoorblad skrams raakgelees met die nuus dat die kwik op 31 – dalk 41 – plekke rekordhoogtes bereik het op Donderdag 7 Januarie. Kan persoonlik getuig van ‘n 32ste – of 42ste –plek: my seer geliefde Sabiepark. Hier is – hou vas julle sonhoede! – ‘n skroeiende 47 grade aangeteken.

In die Sabierivier het ‘n uitgemergelde renoster vir hom ‘n koel waterbed ingerig. Hy het ure oopgespalk daar vertoef. By die huis het swermpies withelm-laksmanne hygend elke skadukolletjie opgesoek. In Tarlehoet se swembadjie is – in die skadu van ‘n groot sambreel – heeldag lank geplas. Die Van Deventers het tougestaan vir daardie voorreg.

Jammer dat ‘n verslag oor die somervakansie van 2015/2016 deur El Nino se buitensporighede oorheers moet word. Dit was ook t.o.v. ander statistieke uniek – soos die 20 dae in die geselskap van die Van Deventer-gesinnetjie van George. Langer was ons vyf nog nie saam onder een dak nie. ‘n Ware leer-mekaar-ken van die eerste water.

Almal wat Johan en Mariza ken, weet hulle is voorslae as dit by kosmaak kom. Op die spyskaart was skaapboud met Turkse speserye, ‘n skenkelpot so uit Jamie Olivier se kombuis, pizzas uit die Weber, Boet en Jan van Witrvivier se geurige wors op die kole, mochanchos en wat nog. Ek wil na dese ‘n skaal nie sien nie!

Migael, met sy sware vrag mediese probleme, het sy partikuliere kosbehoeftes. Geen vleis vir hom nie. Wonder hoeveel kilo’s eiervrug pappa Johan vir hom op oop vure gebraai het.

Die piekniekplek word deur Solly se flukse opvolger, Organ, in ‘n voortreflike toestand gehou. Die spesiale plek is veral in so ‘n warm somer ‘n ware oase met sy uitgestrekte groen gras, enorme koeltebome en besonderse uitsigte op die rivier. Vele “spesiale okkasies” is daar gevier, hetsy met koue vonkelwyn of nog kouer bier; aan die koskant met worsrolle of hamburgers van die kole. Johan laat nie op hom wag om ‘n vuurtjie te pak nie!

Olifante, buffels en vanjaar ook buitengewoon baie kameelperde het vir ‘n bedrywige dierelewe langs die Sabie gesorg. ‘n Aanskoulike luiperdbesoek is, helaas, misgeloop.

Die nuwe parhoof, Johan Lawson, maak in die algemeen ook ‘n verskil. Die sierlike spuitfontein op die grasperk soos jy by die hek inkom, is werklik ‘n aanwins.

Om die huis is die veld maar droog. Wild was skaarserig. Die piet-my-vrou het egter geroep soos nooit tevore nie. Ook bosveldvisvangers en visarende se klokhelder stemme is gereeld gehoor. Die nagapies het hul kant gebring; het selfs aan die einde van die vakansie weer hul intrek kom neem in die neste wat Johan jare gelede hoog teen die stoep se nok vir hulle opgesit het. Nie minder nie as vier bosnagape het ‘n slag gelyk kom eet.

1-IMG_3465

Bosbokbetowering.

‘n Bosbokpaartjie het een middag die Van Deventers se watergatjie ontdek. Daarmee het ander heerlikhede gekom, soos die vars, groen grassies op Tarlehoet se “grasperk” wat weens die behoefte aan ‘n bietjie afkoeling feitlik oornag ontstaan het. Op die foto’s al om die braaiplek is o.m. die watermeter wat nie juis die vakansie werk gekry het nie en die fakkels om die lapa. Ons het op die stoep vasgenael gesit en die bokplesier ten seerste geniet.

Van slang-teenwoordigheid is ons gedurig bewus gehou wanneer Tokkie ‘n nuwe paar “trousers” (Lucy se beskrywende word vir ‘n slangvel) iewers ontdek. ‘n Skerpioen het ons laat gril toe hy hom mooitjies tuis gemaak het op die bedjie in die spaarkamer waar Tokkie vir die duur van sy besoek langs Migael geslaap het. Nogal ‘n skok gewees toe sy die laken afpluk en daar sit ta.

1-IMG_3538
Loopdop vir ‘n dors skilpad.

Die laaste paar dae was soos ons Sabiepark in Desember/Januarie leer ken en liefkry het – oorheersend bewolk. Sondag is Johan, Mariza en Migael huis toe net toe ‘n lawende buitjie van 5 mm begin uitsak. Oral uit die veld het skilpaaie paaie toe gestroom om uit die plassies op die harde oppervlakke hul dors te les.

1-IMG_3545

Nuwe wildebesie.

Naby Tarlehoet sien ons toe in die welkome nattigheid ‘n waggelende wildebeeskalfie – duidelik pasgebore – by sy besorgde ma; ‘n deerniswekkende toneeltjie. Ons wil-wil ons plek amper vergewe vir die baie liters sweet wat vanjaar hier onder die ongekende Afrikason gestort is. (hvd)

BOVRIL EN VONKELWYN

4-IMG_3398
Verjaardag-omelet.

Wie kan haarfyn sy of haar ontbyt van 54 jaar gelede onthou? Wel, ek onthou myne van 3 Januarie 1962. Was my mondigwording.

Ek het as vakansiewerker in ons Goudveldse kantoor in Welkom afgelos. Het by ‘n jong egpaar Horak geloseer. Die oggend verras die oulike mev. Horak my met ‘n omelet. Sy het met Bovril ‘n groot 21 daarop geskryf.

Op 4 Januarie 2016 het die oulike mev. Van Deventer my met ‘n replika verras. Die syfer is helaas nie meer 21 nie. Vinnig gegroei tot 75.

1-verjaardag

Johan, Mariza en Migael van George klink saam met my en Tokkie ‘n vonkelwyntjie by die piekniekplek.

Laat my nie in Facebookstyl te veel uitwei oor die verjaardag dag se spyskaarte nie.
Mag ek wel maar meld die besonderse vonkelwyn die middag by die piekniekplek?

Fyntjies gegarneer met hibiskusblommetjies wat spesiaal deur skoondogter Mariza uit die Suid-Kaap vir die doel saamgebring is.

Het die ou man sommer dubbel spesiaal laat voel so met die bereiking van die driekwarteeu saam. (hvd)