SOMER IN DIE BOS

1-IMG_0268

Kleinkinders bak in die somerson langs die lawende swembadjie. Kyk hoe groen is die wereld.

More uit Melkbos

Hierdie stukkie is spesiaal vir welmenende Kaapse vriende wat bly hamer op die monster-temperature wat in die Laeveld op ons wag.

Mense, glo my ons Sabieparkse “Kerskous” bult elke Somer-Kersfees met geskenke sonder weerga wat ‘n kwistige moedernatuur bos toe bring: die groen-groen somergewaad; die grasweelde; die plate klein bokkies; die bonte voëlverskeidenheid (enigste tyd van die jaar dat die Bosveldvisvanger roep); die verkwikkende donderbuie, die windstil-aande om die kampvuur.

Weet julle watter hartsplesier dit is as die hemele oor die Bosveld oopskeur en die reën in ondeurdringbare grys vlae neergiet? Die harde donderslae, bliksemstrale en gietende reën is nardus-salf vir die gees. Kan tot drie, vier keer in die twee weke rondom Kersfees gebeur.

Ná só ‘n bui begin die dankbare veld dadelik lewe. ‘n Koor van tjilpe, kwetters en kwake klink op. Die vreugde en dankbaarheid wat mens en dier verenig, is meesleurend. ‘n Mens hoor as’ t ware hoe die bos groener word – ‘n jubelgroen gloriebos.

Weet julle hoeveel ander dae is heerlik bewolk? Een keer net twee dae op ons hele besoek werklik warm sonskyndae beleef.

1-IMG_0230

Moedersmelk. Die plate roobokkies is ‘n sepsiale somerplesier.

En dan? Dan kuier ons die warmste ure om in ons bos-swembadjie en geniet die sebras, wildbeeste, selfs koedoes, wat in ons watergatjie neffens die huis hul dors kom les.

En snags? Dan woer-woer die groot dakwaaiers bokant ons beddens. Hou selfs die muskiete weg.

Ons bring vanjaar ons dosynste Kersfees in Sabiepark deur. Niemand dwing ons nie. Dis uit eie vrye keuse.

Trouens, ons sien reikhalsend uit na elke besoek. Njannies.

Wederom tot 2016. Geseënde Kersfees en so aan. (hvd)

HUIS VAN DIE HERE

kerk
kerk1

Philadelphia se kerk

More uit Melkbos

Sondagoggend weggeloop “outydse” kerk toe op ons bekoorlike buurdorpie Philadelphia. Ek het tuis gevoel. My siel is verkwik. Sal bepaald weer die klein draaitjie (net 15 kilometer) van Melkbos na Phildalphia toe ry.

Philadelphia se NG kerk staan patriargaal sy plek vol as hart van die landelike dorpie wat in die seisoen prentjiemooi deur groen koring en geel kanola omring word. Die voorkoms herinner nogal aan die moederkerk op Potchefstroom waar ek in 1957 belydenis van geloof afgele het. Voor die befaamde ds. Beyers Naude nogal. Ons het hom Oom Bey genoem.

Albei kerke is oud en hul ontwerp is “tradisioneel” Die huis van die Here. ‘n Waardige plekke van aanbidding. Jy voel die gewydheid aan as jy instap.

Philadelphia se kerk kom uit 1863. Dit het ‘n hoë plafon, Oregondenbanke, plankvloere wat kraak onder jou voete, ornate vensters en indrukwekkende preekstoel. Die liturgiese ruimte is skoon en oop – ongeskend deur allerlei “orkesverhoë” en ander nuwerwetsighede.

Toe preek ds. David Phillips boonop ook “tradisioneel”. Neem sy boodskap uit Lukas 2 – die verhaal van die skaapwagters en die engele. Sy tema: ‘n goeie tyding vir alle volke. Broodnodige boodskap van hoop in onheilstye. Was ek dankbaar oor my besluit om soontoe te gaan. Dis mos soos ek kerk uit my kinderdae ken.

Eerste herinneringe aan die kerk steek vas by Sondagskool, waarvan ek ‘n mooi foto van ons Sub A-klassie het – deurgaans netjies gebaadjie en gedas. Ek gaan vandag nog (meesal) so kerk toe. Ek onthou dat ons elke Sondag ‘n teksversie uit die vuis moes ken. Daarmee was ek nogal oulik. Ek onthou veral die Hallelujaliedere “Jesus roep my vir ‘n sonstraal”, “Liewe Jesus, ek is klein” en “Jesus min my salig lot”.

In 1950 is ons Natal toe vir ‘n kort tussentydse verblyf by my Oom Martiens en Tannie Dinah Maritz op Boshoek, naby Vryheid. Dit is waar ek met huisgodsdiens kennis gemaak het. Na aandete is die Bybel gebring, Oom Martiens het bril opgesit en in dowwerige lamplig goed gelees wat ek nie altyd verstaan het nie. Maar ek en my niggies, Lina en Elsa (Asja, het ek haar glo as kleuter genoem), moes verslag doen wat ons onthou het – wat soms ‘n penarie veroorsaak het.

Toe trou ma Baby weer en ons trek Durban toe. Ons gemeente is Berea. Die dominee was ds. John Adler, pa van Johan wat later ‘n bekende in die skakelwese was. Berea se kerk is, helaas, nou net ‘n saaltjie aan ‘n tehuis vir bejaardes.

1-IMG

Die uwe voor Potch se kerk in 2002

Die volgende stasie op die lewensreis was Potchefstroom. Eers was ds. G.D. Worst, leraar van die moedergemeente, later Oom Bey en ds. Nico Smith, die latere prof. Nico Smith wat jare later saam met sy oud-medeleraar op die voorpunt van die stryd sou wees vir groter geregtigheid vir Suid-Afrika se geknelde swart bevolking.

Van ds. Worst word die storie vertel, dalk apokrief, dat hy hom by geleentheid in ‘n ongemaklike situasie bekend gestel het as “Worst van Potchefstroom”. Die weerwoord was glo iets soos: “Ek gee nie om of jy Polonie van Benoni is nie!”

Die kerksaal is na ds. Worst genoem. Daar het die Christen-Studentevereniging (CSV), waarvan feitlik al ons kinders van die Hoër Volkskool se twee koshuise, Jack Pauw (seuns) en Ons Hoop (meisies), lid was, by geleentheid op Sondagmiddae saamtrekke gehou waar die pragtige CSV-lied weergalm het: “Komaan, Suid-Afrika’s skaar van studente, maak Jesus koning in woord en in lied….”

In die gemeente het ek op 27 April 1957, drie maande ná my sestiende verjaardag, by ds. Bey belydenis van geloof afgelê. (Die jaar 1957 was ‘n bedrywige een in my lewe: eers deur “boerematriek” en later deur die ware Jakob.)

Dit was ‘n besonderse gemeente wat Sondae vroeg vol was – mans in donker pakke en vroue met hoed op die kop en sykouse, soos die klerekode daardie tyd was. Natuurlik was die leraars uitgedos in hul deftige donker togas, en die liturgie was in ‘n vaste vorm verpak: votum, lofsang, wet, geloofsbelydenis, Skriflesing, preek, kollekte, slotsang en seën. Vir laasgenoemde het die leraar sy arms dramaties na bo uitgestrek, die enigste keer in die erediens van daardie tyd dat so iets gebeur het.

Soms is buitengewoon treffende preke van ds. Bey of ds. Nico op spesiale versoek herhaal. Vir sulke geleenthede is stoele uitgepak, ook buite die kerk, en luidsprekers aangebring. Nagmaalnaweke is ook die voorbereidingsdiens die Saterdagaand en die nabetragting Sondagaand goed bygewoon.

Nou het ons nie meer Hallelujas gesing nie, maar Psalms en Gesange uit die ou Psalmboek. Groot persoonlike gunstelinge was Gesang 12: “O goedheid Gods, hier nooit volprese!”, Psalm 146: “”Prys die Heer met blye galme” en Psalm 33: “Sing vrolik, hef die stem na bowe”. In al drie was uitdrukkings wat vandag, in die lig van toegankliker berymings van T.T. Cloete en andere, nogal vreemd op die oor val, maar wat destyds deur niemand bevraagteken is nie.

Nee, “snood ondankbaar” het ons gesing sonder ‘n tweede gedagte oor wat “snode” ondankbaarheid presies beteken. Insgelyks het die “blye galme” nie gepla nie en het niemand gevra nie: wat op aarde beteken daardie “uit aandrif van die skoonste kuns”?

Aanddienste was verpligtend vir alle koshuiskinders, ongeag kerkverband. Ons is om die beurt na die moederkerk en die Mooirivierkerk. Die meisies moes in gelid ‘n “rank” het ons dit genoem) kerk toe marsjeer in hul verruklike wit rokkies, soveel mooier as die fyn blommetjiemateriaal (somer) of die swart tuniek (winter) van die skooldrag.

Ons seuns was sonder uitsondering in pakke klere uitgevat. Myne was tot in st. agt ‘n kortbroekpak – iets wat weldra uitgesterf het. In standerd nege het ek ‘n spoggerige ligblou dubbelbors pak gekry en die eerste eie Sondagdas wat nie uit my pa se klerekas kom nie. Dit was ‘n trotse oomblik toe ek dié.nuwe das spoggerig knoop volgens die swierige styl wat toe in die mode was. Met daardie pak het ek ook op Sondagmiddag gaan kuier die een keer in ‘n kwartaal dat Ons Hoop se meisies vriende mag ontvang het.

Dan en wan het ons ‘n Sondagaand stokkies gedraai en met onwaardige bymotiewe die Apostoliese kerkie in Nieuwestraat besoek. Die handeklappery, ophef van arms en vrolike sang en musiek was vir ons ‘n aardigheid. Nou vind dit in die NG Kerk plaas sonder dat iemand van buite inloer.

Sondagoggend het ons verspreid in die kerk in klasgroepies gesit en swoeg met die Heidelbergse kategismus en Dordtse leerreëls. Ons moes hele hoofstukke uit die Bybel uit die kop ken, onder meer Jesaja 55: “ O almal wat dors het, kom na die water. Die Bybelboeke moes ons in snelvuur kon opnoem van Genesis tot Openbaring. Dit het nogal konsentrasie geverg.”

Snaaks, Jesaja 55 onthou ek goed, maar vir die Bybelboeke moet ek dikwels Sondae die indeks raadpleeg. Darem nie as die dominee uit Lukas 2 lees, soos ds. Phillips Sondag op Philadelphia nie. (HvD)

PEINSENDE PIROW

Middag uit Melkbos

Pirow Bekker wat vandag 80 is, was ‘n ruk in die 60’s hoofsub by (Die) Volksblad. Ons het ‘n tydjie saam gewerk. Hy het in daardie jare as digter gedebuteer met die gedig “Peins oor ‘n plakkaat” wat in my oë die beste koerantegedig in Afrikaans is, hoewel, in moderne idioom, sterk politiek inkorrek.

Gaan lees dit op p. 467 van die Groot Verseboek.

Dit gaan oor die daaglikse plakkaatskrywery in die redakteur (destyds Oom Bart Zaaiman) se kantoor. Soos Pirow en Oom Bart daar saam aan’t peinse is oor die dag se nuusaanbod, het almal wat hoofsub was, hul beurt gekry. Ook ekke.

Jy sien die rysige gestalte van Oom Bart sommer weer voor jou oë as jy Bekker se gedig herlees.

Veral drie strofes in die gedig het by die uwe vasgesteek. Een is die ware woorde wat vandag nog relevant is:
Dit bly eenmaal onfeilbaar: vrees/dit laat die mens koerante lees.

Die tweede, ‘n reël wat nie juis meer geld nie, veral nie by die wilde ponies nie :
Bly asseblief net bo die nael/op ons bladsy een …..

Die derde die stukkie joernalistieke realisme wat elke plakkaatskrywer die een of ander tyd besef:
Maar die plakkaat se groot ekstase/kom nooit op afgeleë plase. (hvd)

RUGBYREDDER?

Ek is maar net ‘n verwarde 74-jarige (amper-amper 75) rugbyliefhebber van Melkbos. Dalk kan mnr. Thelo Wakefield of een van die ander wyses vir my klarigheid bring.

Soos ek dit het, was mnr. Wakefield WP se rugbybaas toe Allister Coetzee afgerig het, en gereeld op sy mooi, beskaafde manier moes verduidelik hoekom sy span dan verloor wanneer hulle moes gewen het.

Soos ek dit het, was mnr. Wakefield WP se rugbybaas toe besluit is dat vir ‘n beter toekoms vir WP-rugby liefs ‘n ander afrigter aangestel moet word. Die stomme Coetzee was skielik in die buitenste duisternis. Die kavalieragtige huursoldaat Eddie Jones het met wapperende mantel en swaard in die lug sy buiging gemaak.

Prins Eddie se verblyf op Nuweland was, helaas, van korte duur – korter as die spreekwoordelike ou vrou se dans.

Eddie Jones is verlede tyd by die WP. Nou is Heyneke Meyer ook verlede tyd by die Springbokke, Opvolgers word naarstig gesoek.

Mnr. Wakefield self is kliphard op soek op TV en in koerantkolomme. Maar nee, hy soek nie vir ‘n opvolger vir Jones op sy tuisbasis nie. Dit is die groter nasionale toneel wat die rugbybaas se alleraandag geniet.

Hy weet wie is die man wat in Meyer se skoene moet stap, verkondig hy ingenome. Dis Coetzee natuurlik. Allister se tyd het aangebreek. Hy moet kom red en sommer die hele land agter hom verenig.

Kom weer.

* As Coetzee sulke buitengewone kwaliteite het, waarom o waarom het die WP dan nie met opwindende, verbeeldingryke wenrugby alles voor hom platgeloop nie?
* As Coetzee inderdaad so ‘n blink blink ster is aan die nasionale rugbyfirmament, waarom o waarom het die WP hom deur sy vingers laat glip?
* As hy skielik in Japan daardie deurslaggewende kwaliteite ontwikkel het, kan ons nie van daardie Japanse doepa invoer vir al ons ander afrigters ook nie? Of moet jy minstens ‘n maand of twee Kobe se water gaan drink?

Thelo, help. Die oom verstaan nou dolus eventualis mooi. Hy sukkel regtig om te verstaan hoe die vurk in die hef steek dat iemand wat nie by die WP die mas kon opkom nie, hom skielik as die ridder op die wit perd in SA rugby gaan ontpop.

As die vrae irrelevant is, vergewe tog maar. Oumense beland hulleself soms in onnodige doolhowe met te veel vrae oor vandag se dinge, wat dikwels bo hul vuurmaakplek is. (hvd)

GASTE MET GEITE

Die "odd couple" na 20 jaar in hul maroenbaadjies saam op Melkbos.

Die “odd couple” na 20 jaar met hul Harvardwapens saam op Melkbos.

Van die hartlikste betuigings van waardering vir betoonde gasvryheid in ons besoekersboek kom van gaste wie se besoeke nou nie, om dit sag te stel, heeltemal sonder komplikasie was nie.

Het voorheen my ingenomendheid vermeld oor die diversiteit van gaste wat oor ons drumpel is, asook die wye reeks belangegroepe en eras wat hulle verteenwoordig: skool, universiteit, koerant, Pers, Bloemfontein, Melkbos… Van my mede-Niemans van die jaar 1976/77 by Harvard verskyn twee se name: John Painter in 1997 en Cassandra Tate in 2015. Albei was buitengewone kuiers wat bepaalde eise gestel het. Painter se kos- en drankvoorkeure was vreemd. Cassandra kon weer politiek praat dat jy op die vlug wil slaan.

Koerantmense dra die etiket dat hulle sinies is, soos prokureurs die etiket dra dat hulle skelm is. Ek betwis sulke veralgemenings. Laat my egter erken: Jy kry tog siniese koerantmense – soos skelm prokureurs. Die naam John Painter duik eerste op. Dié Amerikaanse kollega kan nogal ongevoelig wees, ook bytend spottend, meedoënloos neerhalend en selfs brutaal. Idealisme is nie juis sy sterkpunt nie. Die titel van sy memoires is betekenisvol: “If your mother says she loves you, check it out!”

Ek en Painter is ‘n soort “odd couple” sedert ons Niemanjaar aan Harvard in 1976/77. Painter is ‘n man met ‘n slap arm weens ‘n ongeluk met ‘n renmotor, ‘n dawerende lag diep uit die keel en ‘n tong soos ‘n rasper. Het hom in die middel van 1976 in Cambridge leer ken. Soweto was daardie tyd in vlamme en ek het soms maar taamlik verstote gevoel. Painter was die een wat, ondanks sy eie politieke oortuiginge, nogal mededoë met die vermaledyde Afrikaner-nasionalis openbaar het.

Toe hy 20 jaar later vir my op Melkbos kom kuier, het hy ‘n pad deur my rooiwyn gedrink (hy is gek na pinotage), en TvD se gesonde ontbyt-aanbod van graankosse en vrugte met ‘n swaai van die gesonde arm as “shit” afgemaak. Vyfster-hotelontbyte het meer in sy smaak geval.

Painter wat van Oregon aan die weskus kom, het die gereelde sneeu van die ooskus se winter destyds in Cambridge MA met dieselfde onvleiende woord beskryf.

Hy het my die raad gegee om “swift, brutal and without mercy” toe te slaan op die Jong Turke wat voor die WVK gaan bieg het. “Swift, brutal and without mercy.” So het hy vir Susan en sy verleë SA gashere een middag uit die wynkelders van Boschendal gelei toe die sommelier nie die wyn kon lewer wat hy, ná ‘n uitvoerige studie van die onderwerp, die graagste wou proe nie. Ek sien hom nog toe hy eenvoudig begin uitstap en vir ons met sy gesonde arm wink: “C’mon guys, let’s go.” Verleë ekke is druipstert agterna.

niemans
HvD en Casandra op Blouberg se strand.

Cassandra Tate en haar man, Glen Drosendahl, is ook Amerikaanse weskussers. Hulle woon in Seattle in die staat Washington. Van die Niemanjaar onthou ek goed hoe sy aan die begin by my kom kniel en haar voorgestel het as “just a little girl from Idaho.” Sy wou weet of hier regtig leeus in ons strate rondloop. In 1976. Njannies.
Intussen het sy ‘n Ph. D verwerf, uiters gesofistiikeerd geraak en ‘n ongesonde belangstelling in rassepolitiek ontwikkel.

Voor haar koms het sy geskryf: “South Africa: I’m coming to you soon. Going to look at your night skies, drink your wine, climb that Table Mountain, cheer for the rugby team that my old friend Hennie Van Deventer cheers for, walk in the footsteps of some of your heroes, learn more about that spirit of Ubuntu, try to understand how far you’ve come (like my own country) and how far you have to go (ditto).”

Ek glo sy kon die meeste aftik. Het wel vir die Bulle geskreeu, maar ongelukkig die middag toe die WP hulle goed afgeransel het. Waarin sy uitgemunt het, was om oor ‘n wyntjie te probeer “understand how far you’ve come and how far you have to go.” Toe maak ek nog die fout om haar nie net die skoonheid van die Kaap te wys nie, maar ook van sy plakkerskampe. Ek moes bontstaan met die verduidelikings.

Agterna het Glen darem namens die twee verslag gedoen: “South Africa has come a long way since the end of apartheid. It still faces many challenges, including power outages (“load shedding”), government corruption and waves of immigrants from other African nations, leading to xenophobic violence. The people we met were eager to talk about the problems, their views coming from a wide range of perspectives. Progress is slow but sure. It was a privilege to be there, a true Rainbow Nation with beautiful land and beautiful people.”

Weet nie of ek na die toets waardeur ek so meedoënloos gesit is, die vriendelike uitnodiging na Seattle wil oorweeg nie. Painter het op sy beurt my en Tokkie al herhaaldelik genooi om die plesiere (hedonisties plesiere?) van sy “hot tub” in Portland te kom geniet. Dink ek moet dit ook maar liefs van die hand wys.

BAKKE BREDIE EN BOBOTIE

Seun Johan, Miriam, redaksielid Marinda Delport en Tokkie by7 die kospotte.

Seun Johan, Miriam, redaksielid Marinda Delport en Tokkie by die kospotte.

More uit Melkbos

Wanneer die redaksie en hul gades kom kuier, het Van Schoorstraat die aand omtrent op sy kop gestaan.

In die groot plaaskombuis in Dan Pienaar, Bloemfontein, het Tokkie en haar mede-Bultfonteiner die voorslag Miriam Maarman sy aan sy gewerk om die hoenderpasteie, bredies, bobotie, geelrys en rosyntjies, soetpatats, pampoenkoekies, aartappelslaai en wat nog reg te kry vir die feesmaal later. Die kinders het gehelp en die redakteur self het sy kant gebring waar hy kan (oordeel hy) – veral met die sirkulasie van drank.

Een keer had my gade waterblommetjies uit ‘n blik. Lekkerste afval wat hy nog geëet het, was ‘n kollega se bevinding. Kon nie glo dat dit nie afval is nie.

Buite, versprei oor die voor- en agtertuin, het die 80-plus gaste in groepies gebondel, bier of wyntjie in die hand. Die Volksbladders was mense wat kon hard werk en hard speel. Hulle kon lag – Jan Scholtz die hardste van almal – en lawwighede aanvang soos om onderstebo ‘n wyntjie te drink.

Vir hierdie akrobatiese toertjie het die manne beurt gemaak om hulleself kop eerste deur ‘n luggat in ‘n ruwe buitekroegie – “rustic” sou die eiendomsagente dit noem – te wurm, soos Charl van Rooyen op die foto illustreer.

1-IMG

Akrobatiese wyntjie

Miriam het nooit veel gepraat nie. Net rug gebuig en gewerk, -werk, – werk. Een aand toe sy van die oond opkyk, sien sy iets wat haar laat verstyf. Deur geklemde kake vra sy vir Tokkie: Wie is daardie “seuntjie”?

Tokkie hou haar dom. Watter seuntjie, Miriam? Daardie een, en sy krap met haar wysvinger teen die wang – “die een wat so bruinerig is.”

Dit was die eerste keer dat Clarence Henney, verslaggewer van die Ekstraredaksie, teenwoordig was. Ekstra was spesiale blaaie vir die Kleurlinglesers. Ons het selfs ‘n Mej. Ekstramooi gekies. Clarence het later LUK geword, maar my “meneer” bly noem en ek vir hom “Clarence”, lang slap ampsmotor of te nie.

Daardie kuiers het ‘n aardige lot bladsye ingesluk. Die kollegas het getrou ingeskryf, sien ek. Plek-plek nogal uitdagend om ná al die jare sekere name in die boek by gesigte in jou geheuebank te plaas.

Van al die mense wat deur die poorte van Tarlehoet (naam van ons huis en nou naam van ons huis in Sabiepark) gekom het, was verreweg die grootste gros koerantmense. Die Volksblad-personeel (ook die joviale bestuurder Jan Meintjes en andere nie-redaksioneles) oorheers natuurlik. Ander, onder wie groot geeste by Naspers, het in Bloemfontein en op Melkbos in ons boek geskryf.

Scan10144

Ons het koffie ook gedrink.

Net vinnig: o.a. Ton Vosloo, Johannes Grosskopf, Salie de Swardt, Wiets Beukes, en Johan van Wyk was by albei adresse. Piet Cillié was hier (met tipiese kommentaar dat die Pers sy mense te veel betaal as hulle so langs die see kan bly). Ook Chris Moolman van Rapport. ‘n Semi-historiese okkasie was toe die drie redakteur van die dekades 80 en 90 saam na die branders sit en kyk het: die uwe, Johan de Wet en Paul Marais.

Die grootste etes by Van Schoorstraat was nie die redaksie-etes nie. So een keer per jaar is die haai-polfaai genooi – administrateur, burgemeester, edelagbares, die lot. Vir die doel is die groot motorhuis (plek vir drie groot motors) in ‘n eetsaal omskep. By die kerk is tafels en stoele geleen.

Minister Kobie Coetzee was ‘n gas, ook Bloemfonteinse pilare soos prof. Wynand Mouton, voorste sakeman Barnie Human, filmmagnaat Boet Troskie, NG moderator Pieter Potgieter, rugbyman Steve Strydom, musiekman Dirkie de Villiers en regter-president Frank Smuts. Beeldhouster Laura Rautenbach, die Bloemfonteinse Kinderkoor se Huibrie Verster, skrywer Hans du Plessis en taalman Jacques van der Elst se name duik ook op.

(Beskuldig my nou gerus maar van naamspoggery (names dropping). Die name is in die boek. So was die Bloemfonteinse sosiale struktuur nou een maal. Weet nie hoe om oor die boek te skryf as ek uit beskeidenheid die name moet verswyg nie. En staal jou maar – daar kom nog meer.)

Op Melkbos was al groot kuiers, maar nie so groot in getalle soos in Bloemfontein nie. Op 31 Desember 1999 het 28 van ons potjie gemaak terwyl ons op die nuwe millennium wag. Laat in die nag, voordat hulle kon huis toe gaan, moes elkeen eers skryf. Die jaar 2000 het sonder ramp aangebreek.

Op die Melkbosblaaie tref ek o.a. aan: spioenbaas Niël Barnard, letterkundige Daniel Hugo, skrywer-ambassadeur Willie Kotzé en Akademiehoof Dione Prinsloo. Boet Troskie en Steve Strydom (wat later ook van Bloemfontein Kaap toe verskuif het) het weer kom drade optel.

Lyk of die herders die Van Deventers deeglik dophou, hoe ouer ons word des te meer. In Bloemfontein was hoof-indoena Pieter Potgieter op die gastelys. Op Melkbos se stoep was o.a. die Wes-Kaapse moderator Kobus van der der Westuizen (Groote Kerk). Ds. Johan Lombaard (Vrystaatse moderator) het uit Bloemfontein gekom om Marisa te trou. Tienie Zeeman, herder in Berg-en-dal, Bloemfontein, het kom seelug soek. Skukuza-herder Carl Louwrens loer van tyd tot tyd in – sy kinders is Kapenaars. Die bekende veteraan ds. Okkie Raubenheimer (voorheen Londen) het kom saameet.

Onder die dosynstuks matriekmaats wat oor die jare in ons boek geskryf het, is twee wat regters geword het, Willie Hartzenberg en Ferdie Preller. Wil hulle graag uitlig omdat ek die vrymoedigheid gehad om soms stil-stil private advies in te win oor ‘n juridiese neteligheid – selfs ‘n burerusie. Ek mag maar seker die geheimpie verklap. Albei is tog al afgetree.

Die twee bokkers is nie Tukkies nie. Hulle het Maties en Wilgenhof verkies. Name van Tukkies – veral Kollegemanne – duik gelukkig ook kort-kort op. Saam met hulle kom salige herinneringe en soete nostalgie – die twee oorheersende temas van seker elke besoekersboek. (hvd)