PRYS VAN VLAMME

Middag uit Melkbos

Korrupsie kos ons soveel, vakansiedae soveel, motorongelukke soveel … Hoeveel kos die perverse kultuur van brandstigting Suid-Afrika per jaar?

Hoe geweldig moet ‘n mens se woede wees – of hoe hartverskeurend beneweld jou verstand – as jy selfs bates en geriewe vir jou eie mense se voordeel en lewenskwaliteit, soos hospitale, biblioteke , universiteitsgeboue, busse, ens., in vlamme laat opgaan om jou standpunt oor te dra?

Bestaan ‘n sielkundige verklaring? Is dit bloot ‘n barometer van beskawingsvlak?

Wens hierdie onbegrypende grysaard kon antwoorde vind op hierdie vrae. (hvd)

U.S. SE SEIN

Middag uit Melkbos

Soveel verduidelikings, motiverings, vertolkings en kommentare later het ek oor die Stellenbosse Afrikaansdebakel een vraag:

As Stellenbosch met sy geskiedenis, tradisie, kultuur en verweefdheid met die taal en sy praters oor soveel generasies heen dan geen verantwoordelikheid meer voel om dit as kosbare kleinood te bewaar nie, watter boodskap sein dit aan die staat, allerlei ander instellings en private maatskappye wat in die naam van aandeelhouersbelang maar alte gretig op die transformasiepad saam galop? Waar gaan ons nog vrymoediglik kan Afrikaans praat sonder om ons teen ‘n muur van vyandigheid, afsydigheid of op sy minste argeloosheid vas te loop? (hvd)

DIT RUK ‘N MENS

1-IMG

More uit Melkbos

In Januarie 1964, skuins na my 23ste verjaardag, het Alf Ries, politieke beriggewer van die Nasionale Pers, my, ‘n groentjie in die persgalery van die Volksraad, die verhewe plek gaan wys.

Ek het klein gevoel toe ek die eerste keer afkyk op die groen banke waar leiers soos Hendrik Verwoerd, Ben Schoeman, Eben Donges en, aan opposisiekant, sir De Villiers Graafff. Marais Steyn en maj. Langpiet van der Bijl gesit het.

In my wildste drome sou ek nie kon voorsien wat in die toekoms in daardie waardige raadsaal sou gebeur nie. Net twee jaar later is dr. Verwoerd in sy bank met ‘n dolk vermoor. Die skokmoord het my geruk soos min ander dinge in my lewe.

Vanoggend is ek weer geruk. Die foto op bladsy 2 van Die Burger van die stakersvergadering in die ou Volksraad – met sommige in rooi hemde sommer plat op die vloer – het op ‘n hartseer-manier onderstreep in watter totaal anderster SA ons vandag woon. (hvd)

KENT GIJ DAT VOLK

IMG_4278

IMG_4293

IMG_4298

IMG_4302

Monument wat met jou hart praat

Afgesonderdheid, ‘n besoekersonvriendelike pad – ongetwyfeld ook politieke sensitiwiteit – maak van Bloedrivier ‘n stiefkind in die familie van SA monumente. Dit behoort nie so te wees nie.

Die bruin-brons walaer oor die Ncomerivier – Bloedrivier vir Afrikaners – in die grootse Noord-Natalse heuwellandskap gryp die besoeker aan; nie in ‘n gesindheid van triomf oor die magtige Zoeloeleër van Dingaan nie, wel gevul met verwondering oor die geloof, onverskrokkenheid, doeltreffendheid en doodkry-is-min-ingesteldheid van daardie 464 Voortrekkers. Moenie hul getroue bediendes en agterryers vergeet nie.

Op ‘n afstand is die indruk van die kring waentjies een van broosheid en weerloosheid. Jy sidder om te dink wat in die Gideonsbende in daardie klein vesting se harte moes omgaan toe die 12 000 tot 15 000 Zoeloekrygers met hul assegaaie net doodsveragtend bly kom en kom. Dan herlees jy hul gelofte wat die sewe dae voor die slag aand vir aand herhaal is. Jy eer opnuut ‘n reddende God, en die intrinsieke waardes van ‘n voorgeslag. Tyd en politieke veranderinge kan dit nie uitwis nie.

In ‘n ou foto-album van my ma is ‘n kleinerige kiekie wat op 16 Desember 1938 by Bloedrivier geneem is. Pa en ma het vir die eeufees van ons plaas Middelin (vandag is dit middelin ‘n Zoeloereservaat) in die nabygeleë distrik Babanango oorgery. Toe was die pad seker nog ‘n hele ent slegter en van 4 x 4’s natuurlik geen sprake nie. As pa en ma in 1938 kon en wou gaan, moes ek in 2015 ook – klippers ten spyt.

Die bietjie vasbyt was dubbel en dwars die moeite werd. Die oorspronklike kakebeenwa-monument, deur Coert Steynberg uit grou graniet gebeitel; die replikas van die Johanna van der Merwe-eeufeeswa, uit gegote staal vervaardig en met brons oorgeblaas; “Ou Grietjie” en die ander kanonne; die klipstapel … die hele terrein praat met jou hart in ‘n taal wat aanklank vind.

By ‘n bruggie oor Bloedrivier het ek uit die Honda geklim en lank in stilte gestaan; my die grusame toneel van ‘n berg gesneuweldes en hul bloed in die rivier probeer indink. Oorkant pryk die moderne Ncome-momunent; deur ‘n nuwe bestel in 1999 opgerig om ‘n ander vertolking van Bloedrivier te vergestalt. Jou gedagtes gaan ver terug en ook vorentoe.

Dat daar saam met jou swartmense by die “wit monument” was en witmense uit die noordweste terselfdertyd by die “swart monument” – dit was dalk ‘n onsigbare nuwe klipstapeltjie hier wat tog ‘n bietjie hoop bied.

In Pietermaritzburg was ons vroeër by die Voortrekkerkerkie – die sogenaamde Geloftekerk – in die hart van die stad. Langs die kerk is ‘n taxi-staanplek, groot soos ‘n stasie. Wat daar in die bedrywige stadskern nie so helder tuisgekom het nie, tref jou ten volle as jy by Coert Steynberg se beeld staan: dat daardie beskeie kerkie in die stad van Gerrit Maritz inderdaad die lewende simbool is van die uitvoering van ‘n dure gelofte wat beantwoord is.

Natalvakansie43

Talana – ‘n ware erfenisplaas

Bloedrivier is verreweg nie al slagveld naby Dundee nie. Die geskiedenis van my geboortedorp is inderdaad met die bloed van Voortrekkers, Boere, Engelse en Zoeloes deurdrenk. Tereg bekend as die poort tot die slagvelde, spog Dundee dat ‘n mens 68 slagvelde en plekke van kleiner skermutselings binne twee uur kan bereik.

Benwens Bloedrivier, is epiese slagvelde soos Isandlwana, Rorke’s Drift, Talana en Elandslaaagte veel nader as twee uur se ry. Maar jy hoef nie na almal te ry nie. Besoek net die Talana-museum buite die dorp. Hier aan die voet van Talanakoppie waar Boer en Brit aan die begin van die ABO in 1899 mekaar gegryp het, kan jy ure verwyl.

Talana is nie ‘n gewone museum nie – dis ‘n grote erfenisplaas met 22 geboue. Van die bloedige militêre geskiedenis tot Dundee se eertydse status as steenkoolhoofstad, van glasware tot kralewerk, word uitgebreid uitgebeeld.

Onthou, Dundee was in ‘n stadium bekend as “Coalopolis” – die hart van ons rykste steenkoolvelde. Die mynbousaal laat jou voel dat jy werklik ondergronds is. Presies so onthou ek die swart doolgange van Natal Anthracite se Boshoekmyn.

Treffend is die versoeningsmuur, met boodskappe oor grense heen wat vandag tog so broodnodig is. (Van brood gepraat: Ons kan ook rapporteer dat die mynrestaurant Milner’s Rest se vars pasteie hul reputasie sekerlik verdien.)

Ons het lank gedwaal in die huis waar die ongelyke stryd tussen Boer en Brit met o.m. uniforms, wapens en foto’s lewe kry. Liedere soos “Kent gij dat volk” en “Sarie Marais” kom oor die luidsprekers, saam met “God save the queen”.

“Het heeft geofferd goed en bloed voor vrijheid en voor recht” – hierdie woorde het in my kop bly draai toe ons van Talana wegry.

Naby Ladysmith vroeër op ons toer het ons ook by Spioenkop aangery. Hoe bly is ek nie dat ek ook by daardie rowwe uitdraaipad ná ‘n oomblik van aarseling die regte besluit geneem het.

(Fluit-fluit my storie is uit. Die reis van 3 000 km op en af in KwaZulu-Natal is klaar. Deel vir oulaas ‘n insidentjie – dalk die vreemdste ervaring op ons toer. Ons ry tussen Pongola en Louwsburg – pad met wildreservate aan weerskante. Skielik sien ons ‘n bebloede vlakvarkie op die teerpad. Klaarblyklik voor ‘n motor beland. Die bakkie voor ons stop dadelik. Twee manne spring uit – een met ‘n panga. Die ander gryp die gewonde vlakvark, hou vas vir dood; die pangaman lig sy wapen hoog en kap, en kap, en kap. Seker otjiepotjie gemaak daardie aand. )

GEBOORTEGROND

More uit Melkbos

dundee

Hier is ek gebore

Ons slaap die nag van 19 Oktober net buite my geboortedorp, Dundee, by die Battlefields Sports Resort – wat o.m. in troues spesialiseer! – en ontwaak in ‘n digte mis. Dit herinner vaagweg aan die jeugjare in Natal. Dit bring ook weer die herinnering van modderpaaie en motors wat met kettings om die wiele teen die passe opkruip.

Ek ry Dundee vroegoggend met ‘n missie binne. Ek hoop o.m. om die plek op te spoor waar ek op 3 Januarie 1941 gebore is: Sister Gilbert se “nursing home”. Eerste stop: die netjiese kantoor van Endumeni Tourism in Victoriastraat. Ek word ek deur ‘n vriendelike gryskoppvrou ontvang. Kan ek so gelukkig wees? Sy is toe wrintie ‘n Sister Gilbert “old-girl”!

Die fasade van die wit huisie op die hoek van Gladstone- en Colleystraat wil my eers laat twyfel. Agtertoe is egter aangebou en aangebou. Tot verbasing van die Indiër-buurman poseer die ou witkop met sy pet en sy kierie voor die huis vir foto’s uit verskillende hoeke. Nogal ‘n emosionele oomblik.

dundee3

Sieraad vir Dundee

Dundee is ‘n netjiese dorp. Een sieraad is die NG kerk. Eers later verneem ek die argitekte was Moerdijk (die nimlike Gerard) en Louw. Op die kerktoring is ‘n Anton van Wouw-beeld en ‘n koper-reliëfplaat ter gedagtenis aan die gesneuwelde burgers van die Slag van Talana. Dundee is in die hart van die slagveldroete.

Volgende op my roete van herinnering is Babanango, waar ons plaas was. Die reis neem ons deur die uitgestrekte Zoeloelandse “stad” Nqutu. Tokkie beweer dit klink elke keer of ‘n klip die ruit tref as ek die naam met respek en die nodige tongklap uitspreek.

Op Nqutu is verwarrende padverleggings soos in ‘n nagmerrie. Ons verdwaal. ‘n Gryse Zoeloe kom tot die redding. “Het jy petrol?” vra hy. Toe begelei hy die Honda op omweë na ‘n goeierige gruispad en beduie: “Babanago lê soontoe. Ry net reguit.”

Dit voel soos ure se rit. Uiteindelik sien ons enkele winkeltjies. Is dit Babanango? Dom vraag. Die jong swartman kyk my verbaas aan. Maar dis dan net ‘n amper-dorp. ‘n Gehuggie. Beeste, bokke en hoenders in die strate.

babanango

Ai, Babanango

Ons wil oorslaap maar die hotelletjie bestaan nie meer nie. Die enigste “gastehuis” trek my nie. Die berg Spês kruip weg tussen ander pieke. Dit is waar ons plaas, Middelin, was. ‘n Vriendelike polisieman beduie, maar sy Spês lyk vreemd.

Plus-minus 35 jaar gelede het Jurie Mentz, LV vir Vryheid, ons met ‘n kragtige 4 x 4 deur dongas tot op Middelin geneem. Die plek waar ons wit huisie met die stoep was. Ook tot op die familieplaas Rondspring waar oupa en ouma Van Deventer se grafte is. En “ons”poskantoor, Silutshana.

Maar Jurie is dood, die dongas het nog groter geword. Ek voel verdwaal en verlore en skemer sak vinnig toe. Dundee lê ver-ver met ‘n onding van ‘n pad. En die kontrei se mense ry graag sonder ligte.

Babanango word die groot teleurstelling van die reis.

Die kerkie waar Seun en Baby van Deventer getroud en Jakob Hendrik gedoop is, lyk darem netjies. Maxine de Wit kom in die straat af en vertel dis nou ‘n swart kerk. Sy was die laaste wit bruid.

Die natuur om Babanango is ‘n fees. Ek doop dit die Rûens van KZN. Ons ry diep die Babanagovallei in. Swak pad maar die laatmiddag-skaduwees skep ‘n rustigheid wat vir oulaas bekoor. Babanango was ‘n stukkie hartland. Maar daar sal ek seker nie weer kom nie.