KUIER-KRONIEK

1-IMG

Bure en vriende se name in ons nuwe besoekersboek op 3 Januarie 1988. Een van hulle is Johann Strauss, wat die boek as Kersfeesgeskenk vir my en Tokkie gegee het.

More uit Melkbos

Vir Kersfees 1987 het ek by ons buurman Johann Strauss, oupa van Mej. Wereld, Rolene, ‘n besoekersboek present gekry. Johann was self ‘n besoekersboekman sonder weerga. As ‘n buurvrou gaan aanklop om, by wyse van spreke, ‘n koppietjie suiker te leen, moes sy gou eers skryf.

Op Nuwejaarsdag 1 Januarie 1988 het Tokkie se ma, Ouma Marietjie, die eerste mens geword wat in ons boek geskryf het. Haar adres was toe nog Louisehof, Bultfontein. Sy was 74. In 2013 is sy op amper 99 oorlede.

Vandag het ons omgeblaai na die laaste oop blad. Die boek is feitlik op sy einde. Tussen Ouma se eerste inskrywing en die jongste een, deur kollega George Louw – uitgewer, digter, dramaturg – en sy vrou, Dorette, van Bloubergstrand op 19 November 2015 is letterlik honderde der honderde ander name: kollegas, bure, vriende, familie, skool- en studentemaats, gaste by verjaardae en etes, kennisse. Eminentes en minder eminentes, tot uit Amerika.

Hoeveel al lang boompies toe is, wil ek nie eens begin om te bereken nie.

Ons boek is ‘n naslaanwerk. Wil jy weet wie was almal op die uwe se 50ste, draf net vinnig boek toe. As jy vinnig wil seker maak hoe spel die of daardie sy/haar naam, die boek bied die antwoord. Watter jaar was broer Christo hier uit Australië? Binne ‘n japtrap weet jy.

Ongelukkig was die ontvangers nie naastenby so stiptelik met hul present-besoekers soos die gewer met syne nie. Vele name wat daar moet gewees het, ontbreek. Eenvoudig vergeet om die boek uit te haal. Oupa Malan is een wie se naam nie daar is nie. Hy was op Kersfees 1987 die laaste keer by ons in Bloemfontein – toe al terminaal siek. Ouma Malan, my ma, het gelukkig wel later geskryf: eers op 3 Januarie 1991, my 50ste.

Opvallend kom party name nogal dikwels voor, onder andere dié van Johann en Elsie Strauss. Seker maar morele dwang ervaar om elke keer die boek op te diep as hy by die voor- of agterdeur instap! Hy het waarskynlik die eer verdien om eerste te skryf, maar hy moes vir sy kans wag tot 3 Januarie 1988, my verjaardag. Jammer, Johann.

Ander Bloemfonteinse bure soos Chris en Annette van Rensburg, nou van Kleinmond, tel ook onder die gereeldste besoekers. Ons vier geniet ‘n glasie vonkelwyn en kuier nog graag saam. Is juis die naweek weer op pad Kleinmond toe. En studentemaats soos Pierre en Esther le Roux van Mosselbaai. Ek en Pierre –’n storieverteller soos min – ken mekaar van 1959 af. Was onderskeidelik voorsitter en ondervoorsitter van Kollegetehuis se HK in 1962.

In hierdie kategorie is baie name . Kan onmoontlik nie almal noem nie. Maar elke besoek word ten seerste waardeer – des te meer wanneer dit goeie vriende was waarmee lekker om ‘n vuurtjie of langs die lang tafel in die eetkamer gekuier is.

In 1995 het die boek sy huidige Melkbos-adres gekry. Eerste name in die “Melkbos-afdeling” is dié van kollega Salie de Swardt en sy vrou, Lisa. Hulle is nou Stellenbossers maar was toe nog van Oranjezicht. Salie (SSdeS soos ek hom genoem het) was hoof van tydskrifte toe ek hoof van koerante was. Ons was ook in die 70’s by Beeld kollegas en goeie vriende.

1-IMG-001

Thabo se inskrywing. Let op die adres: Van der Merwestraat, Hillbrow.

Uit die blaaie ons boek skiet een naam na vore: Thabo Mbeki. Hy was op 18 Mei 1995 in Van Schoorstraat, Bloemfontein, ons etegas nadat hy, op my uitnodiging, Bloemfonteinse leiersfigure toegespreek het. Ons het mekaar in Maart 1988 by ‘n konferensie in Londen ontmoet. Vreemd genoeg, het die ANC-voorman en Afrikanerkoerantman van Bloemfontein dadelik ge-kliek. Het nogal goeie vriende geword … vir ‘n ruk.

Die AWB was daardie aand lastig. ‘n Polisie-Saracen het ons na my huis vergesel en op die sypaadjie voor die Strausse geparkeer. Het nogal ‘n opskudding in die buurt veroorsaak, veral by ‘n ander buurman, Wim Brummer, waar ‘n tienerparty in volle gang was. Hulle dag hul harde musiek het die polisie gelok.

Ná die ete het Thabo geskryf: “Very happy to have spent this short time in this happy home. Many thanks.” Vir ‘n latere huishulp in die Kaap, Lidia, wat Vrystaatse wortels en ‘n seun met ANC-konneksies gehad het, was dit te wonderlik vir woorde. Dit het “meneer” sommer ‘n nuwe status in haar oë gegee.

Thabo was verreweg nie ons enigste interessante “gas” met ‘n storie nie. In ‘n volgende blog (dalk blogs) blaai ek verder in die gasteboek rond. (hvd)

HIERVAN HOU EK

Wonder waar ek sal begin as ek soos Murray la Vita Saterdag in Die Burger begin lysie maak waarvan ek hou. Waar sal ek ophou? Dalk is die beste om jou nie deur die speletjie te laat meesleur nie. Ek kon die versoeking nie weerstaan nie.

Hier gaan ons:

Ek hou van kampvure, kleinkinders, vleis op die kole, sambokpeule in blom, sonsondergange op Melkbos, Amerikaanse motors van die 50’s, P.G. se “Fees van die Ongenooides”, die Nonnekoor uit Casanova van Strauss, nagapies, biltong, stoepe, klein rooibokkies, pap en wors.

Afrikaans, die roep van ‘n visarend, my foto’s, my kierie, kommentaartjies op Fb, koerante (natuurlik!), Sophia Loren, bootvaarte, Harvard, Kollegetehuis, Amerika. Merano (Suid-Tirool), Verdi se operas, roereier, koue witwyn, piekniek, my ou Honda CR-V, ou vriende, slim woordspelings.

Die branders se dreun voor ‘n storm, my Canonkamera, die Queen Mary 2, Google, olifante, rustigheid, Sabierivier, ou klere, praat voor ‘n gehoor, soetpatats, George Beverley Shea, ‘n groot bad, Jesaja 55 (Almal wat dors het, kom na die waters), P.G. Wodehouse, die radio, die brul van ‘n leeu, my vrou se se rooi Mercedes, lekker bure, reën op die dak.

Buffelsbaai, vlytigheid, die Krugerwildtuin, Eugene Marais se “Dans van die Reën”, Rolene Strauss, nostalgie, Weskus se seereuk, vis en tjips, U Eie Keuse, hardekool, Burl Ives, dissipline, swartwitpense, Balule, Bloedriviermoument, Mozart, Gone with the wind, Die Volksblad, Chad le Clos.

Die troupant, Thabo Mbeki, die Namibwoestyn, Nana Mouskouri, Sydney, die duet van ‘n bosveldvanger en ‘n vleiloerie wat saam die reën roep, grasdakke, herfs, Langenhoven, Gary Player, Kallie Knoetze, Bakkies Botha, die Blou Bulle, waatlemoen.

Varknek in ‘n Weber, spotprente, Dubrovnik, deuntjies van die 50’s, seekosrestaurants, Potch-Volkies, sjokoladekoek, Karen Muir, kollegas, Lance Klusener, wi-fi, humor, southappies, brandewyn en gemmerlim.

Berge, donderweer, die bloukuifloerie, A.B. de Villiers se kolfwerk, ferweel, ‘n harde kussing, kussing, vonkelwyn, embuia, groot bome, Tsjaikofski se klavierkonsert nommer een, die Groot Verseboek, roomys, rugby, die bosveld, ‘n predikant in ‘n toga, gewyde orrelmusiek, spitsvondigheid, entoesiasme.

James Hadley Chase, A.G. Visser, vars bruinbrood, appelkooskonfyt, gebraaide skaapboud en aartappels, 18de variasie uit ‘n rapsodie op ‘n tema van Paganini van Rachmaninoff (“Soetmelksvlei-serenade”) , Die Verraaiers (die rolprent), Marius Weyers, vis en tjips, Graeme Pollock, Herman le Roux se einde-van-die-jaar-rlys van sportmanne wat dood is.

Johan van Wyk se rubrieke, vetkoek met maalvleis, I believe (Frankie Laine), Tafelberg, Trafalgarplein (Londen), Weskuspark se veldblomme, Psalm 8 (Wat is die mens?) , John Wayne, oulike jongmense, Sabiepark se swembadjie in die somer, Jamie Uys, Debbie Reynolds, ‘n luiperd in ‘n boom, Hennie Muller, my vrou in rooi getooi ….

Veels te veel om op te noem.

(‘n Versie oor rooi: Kersie, granaat en ryp waatlemoen/rooi bly n kleur wat iets aan jou doen/ tooi jou in rooi, my rooibloedvrou/ om my vir altyd aan jou voete te hou!) (hvd)

MELKBOS WAG MET OPE ARMS

melkbosblog

Goue skemers

Middag uit Melkbos

Die lang somervakansie is op ons. Oor enkele weke bars ons liewe dorpie uit sy nate. Langs die lang strand, by restaurants in Kusweg, in winkels en in die kerk is dit weer vreemde registrasienommers en onbekende gesigte van oraloor. Op die sand wapper die nuwe strandsambrele in die wind.

Melkbos lewe mos in die vakansietyd. Elke jaar by die Kersdiens vra die leraar besoekers om hand op te steek. Melkbossers skrik telkens oor die see van hande. Soms lyk dit amper of die “vreemdelinge aan ons poorte” in die meerderheid is.

Maar eintlk is ons gasvrye mense hier op ons bekoorlike ou dorpie aan die Atlantiese kus. Ons harte is oop vir die besoekers en ons knyp maar oë toe as hulle ‘n maand of ses weke ons plek binneval en oral oorvat.

Hierdie Melkbosser hoop die besoekers geniet die lang strandwandelinge, ons kleindorp-rustigheid , die goue skemers en die skilderkwas-sonsondergange wat hierdie tyd van die jaar op hul kwistigste is, ‘n Beter tyd vir ‘n vuurtjie en iets lekker op die kole kan daar nie wees nie.

Ek hoop hulle geniet die kom en gaan van mense en dinge op die strand: die vlieër-entoesiaste met hul kleurryke tuie, die bedrewe seilplankryers (veral as die suidooster opsteek), die vroegoggend-perderuiters

Ek hoop hulle geniet Tafelberg in sy vele stemminge, Robbeneiland in die verte.en die lekker geplaveide wandelpaadjie langs die see van Land’s End af verby die ou Kliphuis-restaurant (nou Castella Amare) en die NSRI. Ook lekker rotspoeletjies daar waar kinders vir ure kan speel en klouter as hulle moeg raak vir Slabber se klippe in Kapteinsbaai.

Ek hoop hulle ontdek die lekker kuierplekke in Kusweg aan die hoofstrand – veral Café Orca en die historiese Damhuis. Orca se viskos is ‘n moet, mits jy plek kan kry by die onopgesmukte eetplek wat vir baie Kapenaars sinoniem met Melkbos geword het. Die porsies is gul soos Melkbossers se gasvryheid.

Ek hoop hulle ry die kuspad Blouberg toe en verken die bekoorlike baaitjies een vir een: Holbaai, Kreefbaai, Eerstesteen …. Plekke om rustig te sit en droom terwyl die branders aanrol.

melkbosblog1

Dit lewe op die strand

Ek hoop hulle ry ook ‘n bietjie noordwaarts, loer by Ganzekraal in (in vakansietye ongelukkig ietwat oorbevolk) asook by die karaktervolle vakansiedorp Yzerfontein. Dan is Darling net ‘n klipgooi binneland toe.

Langebaan is sowat 100 km van Melkbos – ‘n moeitewerd-mekka met sy reuse-strandmeer. Voor Langebaan lê die Weskuspark met sy gesellige braaiplekke, amper onherbergsame kustonele, rustieke Geelbek-restaurant en groot troppe bokke. As die elande in die fynbos verbykom, is dit ‘n treffende gesig.

Die uwe hoop die Melkbos-besoekers ontdek op hul drumpel die eersteklas-wyne en wonderlike kelders van die Durbanville-wynroete. Meerendal op die Vissershokpad is ‘n persoonlike gunsteling. Nitida se restaurant lok smulpape. Die moderne Durbanville Hills se uitsigte en sy cabernet sauvignon is ewe voortreflik.

Vir uitsigte: Probeer gerus ook Grootbaai se Spur en Cape Town Fish Market. Lyk of Tafelberg oor die baai al hoe nader skuif terwyl jy jou geelbek of T-been geniet. Haal sommer die MyCitibus daarheen – jy kry die panoramas van berg en see op die koop toe.

By die Moyarestaurant op die voorstrand by Eden On The Bay kan jy voete in die water ‘n melkskommel wegsit. Aan die fraaie Kleinbaai, ‘n klein entjie aan, kry jy die restaurante On The Rocks en Ons Huisie. Peusel calamari terwyl jy onder ‘n strandsambreel ‘n koue wittetjie van hierdie kontrei op die tong neem

Vir ‘n smaaklike, outydse ontbyt is Philadelphia se Pepper Tree ‘n prima-keuse. Die dorpie, net 17 km van Melkbos op die pad na Malmesbury (N7), raak ‘n regte toeristetrekpleister met sy knusse winkeltjies en allerlei. Die historiese ou kerk is ‘n besienswaardigheid (soos Mamre se orrel, vir diegene wat in sulke dinge behae het).

Nog nader is die Padstal by die Total-dienssstasie op die Weskuspad (R27). Vele verrassings op jou voorstoep – onder meer die varsste plaasbrood warm uit die oond.

Vir die herlaai van geestelike batterye staan die NGK Melkbos se deure oop. In vakansietye is Sondag net een erediens, om 09:30. Op Kersdag is twee dienste, om 08:00 en 09:30. Die Oujaarsaand-diens is om 19:00. As jy ons dominee Marius Falck een keer hoor sing het, vergeet jy nie sy stem nie.

Ek (wat natuurlik bevooroordeeld is) glo jy kan op Melkbos en omgewing so lekker kuier dat die Kaap self maar aan sy eie hordes oorgelaat kan word. Te veel vir een vakansie? Nou-ja. Kom dan maar weer!

KOERANTE, QUO VADIS?

Vreugdevure brand hoog - HvD, Jean le Roux en Ebbe Dommisse.

Vreugdevure brand hoog – HvD, Jean le Roux en Ebbe Dommisse.

Middag uit Melkbos

Naspers se jaarlikse bestuurskonferensie in 1996 op Swakopmund is die Woestynberaad gedoop. Woestyn of te nie, vir die Koerantesektor was 1996 seker sy mooiste blomjaar ooit.

Een kollega na die ander het vorentoe gemarsjeer om prestasiebekers te gaan haal. Uiteindelik is die uwe deur Ton Vosloo na vore geroep. Koerante het ook die heel grote ingepalm, die D.P. de Villierstrofee, vir die beste presteerder in die Pers.

Ons was numero uno. Die kampioen. Die gans wat die goue eiers lê. Ons koerantouens was uitgelate en het tot laat feesgevier.

Die Burger was ons kroonjuweel. Hy het boonop pas die Argus op sirkulasiegebied verbygesteek. Die hoofbestuurder, Jean le Roux, tot barstens in sy skik, het ‘n spesiale koffiebekertjie laat maak om die nuwe status as die Wes-Kaap se grootste dagblad te gedenk.

My bekertjie staan in my studeerkamer op Melkbos, omring deur foto’s teen die mure uit o.m. daardie skitter-era – ‘n era wat, in die woorde van Ton, “in ons formele geskiedenis later beslis aangeteken sal word as ʼn tydperk van hoogtepunte, van uitskieters op die grafiek, van ʼn groot omswaai. ”

Vandag, nie twee dekades later nie, lees ons die pynlike oordeel op Maroelamedia: Die pad graf toe vir koerante lyk geteer.

Die skrif is aan die muur … dit lyk maar donkernag. In daardie trant skryf Org Potgieter n.a.v. nog lelike insinkings op die sirkulasiegrafiek. Beeld kwalifiseer skynbaar nie eens meer nie vir die Frewinkompetisie wat hy ontelbare kere gewen het. Die Burger is net-net bo die afsnylyn. Volksblad is onder 20 000. Rapport is in ‘n skynbaar onstuitbare vryval.

WAT-190x300

Dis ‘n droewige prentjie – dalk des te meer so vir hierdie trotse borg van die woord “koerant” by die WAT. Om my lewenslange koerante-verbintenis te vier en my passie vir koerante te bevestig, het ek in 2013 met vreugde R5 000 uit my sak geskud vir daardie eer.

Sou iemand my vra oor ons suksesresep van daardie jare, sou ek vyf faktore uitsonder. Koerante se goue era was danksy soliede produkte; ‘n goeie leierskorps van redakteurs en bestuurders; die status van koerante (en redakteurs) binne die Naspersgroep; die onbeskaamde omarming van Afrikaans wat by Afrikaanse lesers sterk aanklank gevind het, asook die wil om die beste te wees. Standaarde en waardes is nagestreef wat nie ruimte gelaat het vir bv. die joernalistieke populisme wat later in die vorm van ‘n rits poniekoerante ontvou het nie.

Wat het dan verkeerd geloop? Natuurlik was daar die meedoënlose opmars van die nuwe tegnologie, die koms van die sosiale media en nuwe leserspatrone. Natuurlik is onvervangbare senioriteit by koerante prysgegee in die jag na vernuwing. Natuurlik het sekere avontuurlike aanstellings in sleutelposte geboemerang. Natuurlik was daar verkeerde bestuursbesluite. Natuurlik het die Pers het hom, in sy strewe om lesersmarkte uit te brei, laat mislei om vir die voet van die piramide te mik. Natuurlik het Naspers ‘n globale reus geword met belange waarteen die koerante en ander gedukte media maar soos ‘n blertsie voëltjiestrond afsteek.

Ja, die ou waagmoed, inisiatief en visie is steeds lewendig en gesond in die Heerengracht, maar nuut verpak en op ‘n ander terrein. Die fokus het verskuif. Die nuwe fokus bring verstommende sakesukses, maar lei ongelukkig tot verwaarlosing van die arm wat sedert die stigting van die Pers die primêre draer van ‘n idealistiese maatskappy se politiek-maatskaplike ideale was.

Om by die kernrede vir die kreeftegang te kom, sal ‘n omvattende studie verg. Ek sou begin soek by die afkoeling in gesindhede jeens koerante in die top-gestoeltes ten koste van al die digitale verleidelikhede. By die uitskuiwe van koerante tot stiefkind-gestaltes, wat toenemend aan hul eie lot oorgelaat is – met die hande boonop agter die rug vasgebind wanneer die al hoe gedugter nuwe e-mededinger met mening trotseer moes word.

Hierdie oud-stryder is jammerder vir die huidige generasie koerantmense as wat hy kwaad is oor hul gesukkel. Die stomme mense voer al lank ‘n eensame, uitmergelende en ongelyke stryd teen ‘n omvattende aanslag.

Hoe ookal en om watter redes ookal, die koerante staan vandag waar hulle (steierend) staan. Quo vadis? Doodbloei of ‘n ander opsie?

Is verkoop van Media24 nie dalk die antwoord nie, wonder sommige. En ja, ‘n besielde nuwe drywer, Afriforum dalk, ondersteun met die daadkrag, verbeeldingrykheid en kundighede wat ‘n sterk redakteur en ‘n ervare span joernaliste kan bring, kan sekerlik help keer dat Afrikaans, by al sy teenspoede en verliese, ook nog sy koerantarm moet ontbeer.

Maar is dit die eerste prys? Kan Naspers nog Naspers wees sonder ‘n mediabeen? Dan is hy mos nie meer “nas” (nasionaal) nie en ook nie “pers” nie. Uit ‘n sakehoek kan so ‘n herstrukturering dalk aantreklik lyk; vir my sal dit neerkom op ‘n finale breuk met die geskiedenis. Ook op ‘n geestelike vervlakking en verarming van die nuwe kolos. Die bestaan van Media24 met al sy kwinte en kwale gee Naspers immers ‘n unieke kleur en karakter.

Is Naspers dan nie ryk genoeg om sy koerante en beste tydskrifte uit sy agtersak te “red” nie? Natuurlik kan hy dit oor en oor bekostig. Soos die staat Telkom, Eskom of die Suid-Afrikaanse Lugdiens telkens moet inspuitings gee, kan die Pers mos ook sy “noodsaaklike dienste” bly dra. Uit ideologiese, historiese en sentimentele oorwegings. Die wins sal dalk nie dadelik in rand en sent sigbaar wees nie, maar op die langer duur wel in ‘n beter Suid-Afrika vir al sy mense – ‘n lofwaardiger bestaansdoel vir enige maatskappy kry jy nie. (hvd)

PLESIERRIT

1-m1

Elkeen het sy vreugdes, groter of kleiner. Vir klein Migael op George is die vreugde van sy negejarige lewetjie vol uitdagings en belemmernise nou om bus te ry. Sy ma , Mariza (ons skoondogter), skryf mooi oor die nuut ontdekte plesier in vandag se George Herald.

GO GEORGE LAAT ONS SEUN SE HART SING

Vra vir enige ouer van ‘n kind met spesiale behoeftes wat die uitdagende pad die moeite werd maak, en hy sal vir jou sê wanneer sy kind gelukkig is. Go George busry is die een ding wat ons seun Migael oënskynlik gelukkig maak.

Hoe weet ons dit? Outiste wys nie emosie nie, maar wanneer Migael op ‘n Go George bus ry glimlag hy van oor tot oor…
Migael is gebore met ‘n baie raar metabolise defek, Phenylketonuria (PKU), en in sy geval ook outisme. Maar dit maak nie van hom ‘n minder brawe seun nie! MIgael en sy tutor Natasha Ranna maak gereeld gebruik van die Go George busse om ander tuisskool-maats, die Garden Route Mall, Geronimo Spur en die biblioteek te besoek. Die plesier wat dit aan ons seun verskaf is merkwaardig.

Natasha rapporteer dat vriendelike busbestuurders hulle telkens verwelkom en besorg is oor Migael. Ongelukkig is hy nie gaande oor die kleiner weergawe van die busdiens, die Sprinters nie. Tot almal se vermaak moet busbestuurders, passasiers en Natasha plegtig belowe dat hulle binnekort kan oorklim op die “regte groot” busse!

Dankie Go George! Julle diens maak ‘n wesenlike verskil in ons gesin se lewens. (hvd)

PRYS VAN VLAMME

Middag uit Melkbos

Korrupsie kos ons soveel, vakansiedae soveel, motorongelukke soveel … Hoeveel kos die perverse kultuur van brandstigting Suid-Afrika per jaar?

Hoe geweldig moet ‘n mens se woede wees – of hoe hartverskeurend beneweld jou verstand – as jy selfs bates en geriewe vir jou eie mense se voordeel en lewenskwaliteit, soos hospitale, biblioteke , universiteitsgeboue, busse, ens., in vlamme laat opgaan om jou standpunt oor te dra?

Bestaan ‘n sielkundige verklaring? Is dit bloot ‘n barometer van beskawingsvlak?

Wens hierdie onbegrypende grysaard kon antwoorde vind op hierdie vrae. (hvd)