BOSHOEK (EDMS) BPK.

IMG_4170

IMG_4169

Boshoek se winkel, 2015

Middag uit Melkbos

GESOEK, gesoek, gesoek totdat die Honda’tjie stilgehou het voor die Boshoekwinkel waar die weduwee Baby van Deventer en haar seun, Hennie, in 1950 ses maande lank by Oom Martiens en Tannie Dinah Maritz gewoon het voor haar troue met Pa Malan. Dit was die jaar toe Jannie Smuts dood is.

Na die winkel (steeds Boshoek (Edms) Bpk.) het die Zoeloevroue daagliks met hul “titanas” – piepklein lendeklede, pragtig versier met fyn gekleurde kraletjies – uit hul statte gestroom vir suiker en meel. Later ook vleis. Langs die winkel – met sy hartverskeurend min blikkieskos op die rakke – staan die oorblyfsels van die slagtery nog.

Op die hoek, waar die Honda se neus op die foto uitsteek, het ek en niggies Lina (saliger) en Elsa gewag om deur ‘n steenkool-lorrie opgelaai te word na die naaste skooltjie toe op Enyathi, op pad na Hlobane en Vryheid. ‘n Mooi, harde wêreld.

IMG_4179

Die Boshoekmyn is al lank gesluit. Die Studebakers met vragte steenkool se gebrul het stil geword. Die koekepanne is weg. Die paadjie regs op myn toe is darem nog herkenbaar. Op Enyathi by die skool langs gery, maar onseker of dit die plek is waar ek ‘n bewoë stukkie van my st.3-jaar deurgebring het. Sic gloria transit.

Saam met herontdekkings soos hierdie een op die reis deur KwaZulu-Natal het ons ook nuwe ontdekkings te beurt geval. ‘n Uitstaande nuwe ontdekking was op pad Vryheid toe – die Ithala-wildreservaat tussen Louwsburg se heuwels.

Troppe, troppe olifante besoek gereeld Sabiepark se piekniekplek langs die Sabierivier. Tog het die bloed gebruis toe drie olifante skemeraand in die koppie agter ons huisie in Ithala begin bome breek dat dit dawer. Het die Canon gegryp en koppie toe gemik. Net dynserige skynsels gekry. Nietemin, Ithala se (skaars) olifante was deel van ‘n heerlike ervaring.

Die Ntshondwekamp tussen die koppe is van die mooiste waarin ek nog was. Geen oordrywing. Punte vir die argitek vir ‘n natuurvriendelike ontwerp. Die plantegroei is ruig en welig. Op die wildroetes sien jy veral kameelperde, sebras, swartwildebeeste en vlakvarke in oorvloed.

12191060_10154530277310190_2748718050446211967_n
Ons huisie in die berge

Die plek is ‘n voëlparadys. Rondom die huisie boer ook die stoutste stout apies en dassies. Jy sien uit die woonkamer ‘n stewige dassie hom soos ‘n luiperd in ‘n boom uitstrek.

Ithala beteken ‘n rak op ‘n hoë plek. Sit dit op jou wenslys, Soos Oom Oubaas van 7de Laan sou opmerk: Dis ‘n wildpark uit die “hoogste gestoeltes. (hvd)

WATERS WAAR VIS IS

Natalvakansie4

Anderster spesies

Pa Malan was op sy laaste toe die herinneringe aan Cape Vidal se blinklywe en die bottels kerrievis wat hy en ma van daar af saamgebring het Pretoria toe nog sy oë kon laat blink. ‘n Hengelaarsparadys is dit wel.

Ons is na die iSimangaliso-vleilandpark nie agter Cape Vidal se vistersmanvreugde aan nie, maar vir die skilderagtige, afwisselende kus- , bos- en vleilandskappe. Die ongerepte strande is sielsverkwikkend.
Ons is ook vir die dierelewe soontoe. Dit sluit olifante en renosters in. Vir ons was “anderster” spesies soos die rooi duiker, die samango-aap en die sierlike kuifkoptarentaal groter trekpleisters.

a href=”http://hennievandeventer.com/hvdblog/wp-content/uploads/2015/10/IMG_3984.jpg”>IMG_3984

Ons boshuisie tussen die skyndenne

Ons wou ‘n nag in een van die afgeleë boshuisies tussen wuiwende skyndenne op die duine deurbring. Ongelukkig was die huisie nie net afgeleë nie – ook ietwat afgeleef. Nogtans maak die totale natuurpakket van iSimangaliso en Cape Vidal ‘n besoek aan St. Lucia se kontrei dubbel en dwars die moeite werd.
Van St. Lucia gepraat: dis dalk die hengelhoofstad van SA.

Ry jy deur St. Lucia sien jy net bote, trekkers en gastehuise. In winkels se toonvensters staan die hengelstokke ingeryg. Op die strande le die spore van viertrekvoertuie kriskras. Plesierige uithangborde dra die hengeltema uit.

By die Fisherman’s Pub kan jy maar ‘n stukkie vis gaan koop – dis waarlik so vars dat die naasbestaandes nog nie eens weet dit is daar nie!

* Laat my ‘n geheimpie verklap aan diegene wat van karaktervolle houthuisies in die bos hou. Die Dolphin-oord op Ballito is eintlik bekend as woonwapark. Sy hutte is egter iets besonders. Boonop bekostigbaar.

IMG_4056
Varser kry jy nie

MAAR HUWELIK (EN EEN HOTEL) HOU

11988477_10154528627220190_2412921049127773840_n

Van vyf sterre tot ‘n bouval

Vyf hotels figureer in my en Tokkie se wittebroodsdae aan die begin van 1967. Hul geskiedenis is, helaas, oorwegend maar droewig. Vier van die vyf is in Natal. Op ons reis deur daardie provinsie vandeesmaand het ons by die vier gaan inloer: in die Drakensberg, op Amanzimtoti, in Durban en op Umhlanga Rocks.

Die Royal Natal Hotel aan die voet van die manjifieke Mount-Aux-Sources was ons eerste aanryplek. Ons het ons tweede huweliksnag, 1 Januarie 1967, in die eertydse baken in die Drakensberg deurgebring. Nou is dit ‘n bouval – hartverskeurend om te aanskou. Onkruid staan twee meter hoog waar die deftige eetsaal was, en in die koninklike kwartiere waar Koning George en sy gesin in 1947 uitgespan het, ontbreek stukke dak.

Die derde nag was ons in die Beach aan die lagune op Amanzimtoti. Tot siens, Beach. Hy en sy ou buurman, die Lagoon, is gesloop om vir woonstelle plek te maak: die L’Escalier Cabanas. Ten minste ‘n swierige naam.

Van die vierde nag af was ons in die Lonsdale in Weststraat, Durban – nie uitsonderlik nie, maar netjies, skoon, gesellig en bekostigbaar. Drie ordentlike etes per dag, Drie sterre. Die Lonsdale is nou ‘n vervalle “boardinghuis” vir immigrante uit Afrika.

ballitoa

Juweel van die noordkus

Vir die laaste nag het ons geldjies oorgehad om op te gradeer. Ons trek toe na Sol Kerzner se Beverly Hills in Umhlanga Rocks, destyds sy vlagskip. Dis die enigste van die Van Deventer-vyf wat uitgestyg eerder as agteruitgegaan het. Ek het die plek nou weer uit elke hoek afgeneem.

Dankie tog vir die Beverly Hills (steeds die toonbeeld van elegansie daar langs die Oyster Box). Anders kon dit lyk ons wittebroodsreis was getoor. Tokkie sê hoeka ons huwelik self is omtrent al van destyds wat nie verbrokkel het nie. Dit hou al 49 jaar.

Durban is ‘n Afrika-ontdekkingsreis in die kleine. Sowat van naamsveranderinge slaan die pilgrim met ‘n volslae lamheid. In die stad wou ek graag ook gaan kyk waar ek in die 50s ‘n jaar of wat gewoon het, op skool was en kerk toe gegaan het Na ‘n yslike soektog kon Tokkie my darem eindelik afneem op die kaal erf wat Botanic Grove 9, ons tuiste, intussen geword het. Die NG gemeente Berea waar ou dominee Adler die leraar was, is nou net ‘n saaltjie by ‘n ouetehuis. By Suidstrand het ek as 10-jarige die eerste keer die branders aangedurf. Die bekende vakansiehotels staan nog fier, maar die plek trek my nie meer nie. Die stadskern lyk verslete.

IMG_3928

Hier was ons huis

Gelukkig is Berea nog die toonbeeld van grasie met jakarandas wat plek-plek aan Pretoria herinner. By my skool, Port Natal, lyk alles piekfyn en netjies. Die Botaniese Tuin is steeds verkwikkend. Die Moses Mabhida-stadion is ‘n meneer. Boonop het ons op een verdwaal die hoog aangeskrewe Bread Ahead ontdek. Die Durbaniete bak strate beter as wat hulle deesdae rugby speel!

Umhlanga Rocks is ‘n perd van ‘n ander kleur. Verbeel jou die branders breek op Sandton se strand. Dan het jy Umhlanga Rocks, juweel van die Natalse noordkus, skaars 15 km van Durban op die N3.

Die uwe ken Umhlanga maar skraps van die een nag se oorslaap in die Beverly Hills en ‘n paar keer se vinnige inzirts. Dis die vakansiemekka met die pragtige promenade, interessante wandelhoof (pier), elegante hotels aan die seefront, ‘n ontwerpers-vuurtoring en 300 sonskyndae per jaar. Dit was my prentjie altyd.

noordkus

Promenade

IMG_3956

Poort na Gateway

Maar die keer is Gateway ook op ons program – glo die grootste winkelsentrum in die suidelike halfrond. Toe die een geweldige verrassing op die ander. Die enorme Gateway, wat glo meer as tweemiljoen besoekers per maand lok, is klaar asemrowend. Maar rondom hom verrys vinnig ‘n stylvolle sakestad. Dis die ene moderne wolkekrabbers en boulevards.

‘n Rykmanskolonie. So eerstewêrelds, soos Sandton. Al verskil: hier breek die branders werklik op ‘n skilderagtige strand. En ja, natuurlik sal jy vergeefs na die Gautrein soek.

(Die eerste huweliksnag is deurgebring in die Hotel Winburg, wat later in ‘n “herberg” omskep is.)

IN VINO VERITAS

IMG_3797

Aandpakke

Middag uit Melkbos

Op 74 klink dit ietwat verspot, maar laat ek maar bely dat my betrokkenheid by sogenaamde Nieman-konferensies enkele dekades gelede nogal entoesiasties was: hetsy by wyse van slimpraatjies of die uitbundige klink van glasies op alles en nog wat.

Deelnemers was die groepie SA joernaliste wat so bevoorreg was om as Nieman Fellows vir ‘n sabbatsjaar na Harvard in die VSA te gaan. My eie was in 1976/77. Ek was SA Nieman Fellow nommer 18. Die tradisie het in 1960 begin. Verlede jaar was Johanna van Eeden daar. Vanjaar word SA egter oorgeslaan. Hoop maar dis nie die einde van ‘n era nie.

In die groep was in my tyd al (en is deesdae des te meer) die grootste denkbare verskeidenheid in die Suid-Afrikaanse joernalistiek verteenwoordig – ‘n moderne Babel van botsende politieke oortuigings, verskillende waardestelsels en soms driftige meningsverskil. Die gemeenskaplike koord was/is ons sentimentele herinneringe aan ons Harvard-ervaring.

Daardie herinneringe het ons in die jare 80 tradisioneel elke jaar op ‘n wegbreeknaweek in die boendoes gaan opskerp. Die hoogtepunt was ‘n formele dinee – ons almal in aandpakke uitgeklits. Van die kraakwit hemde het die volgende oggend “onverklaarbaar” wynspatsels vertoon. In vino veritas. Ander vreemde dinge het ook gebeur waaroor ek diplomaties ‘n sluier trek.

Hoe ook al, een van ons kuierplekke was die Wild Coast Sun. Toe ek nou in Oktober aan die Suidkus kom, kon dit nie hoër of laer nie. Ek moes Wild Coast Sun toe om op die ou spore te gaan loop en in stilligheid te gaan peins oor jare en dinge wat, helaas, lank-lank verlede tyd is.

Op die foto’s is die uwe en wyle Tertius Myvburgh in ons aandpakke vroeg in die 80’s en die uwe , kierie in die hand, voor die kenmerkende struktuur van die flambojante casino-hotel met nou die dag se herbesoek 30 jaar later.

‘N KERK VIR SY SEUN

More uit Melkbos

IMG_3780

“Oom Barnie se kerk”

‘n Stukkie “Bloemfontein” aan die Suidkus wat ek alyd met eerbied betree, is die NG kerk Margate. Die kerk is deur die legendariese Oom Barnie Human opgerig ter ere van sy enigste seun, Callie, nadat hy in 1967 as 16-jarige skoolseun in ‘n motorfietsongeluk gesterf het.

Swanie Human – nie Tannie Swanie nie! – het die hoeksteen onthul. Jannie Witthuhn, ‘n buurman in Dan Pienaar, Bloemfontein, was die argitek. “Deur sy sterwe ontvang ander die boodskap van lewe in hierdie plek van aanbidding,” staan op die gedenksteen. Gewyde woorde.

Hoekom juis Margate? Die staanplek is natuurlik net ‘n klipgooi van waar die Humans se prag-vakansiehuis op Ramsgate was, teenaan die see en omring deur iets soos 3 000 anthiriums. Voorreg gewees om voorheen op Ramsgate by Oom Barnie-hulle te kuier – opnuut ‘n voorreg gewees om op Sondag 10 Oktober dr Dawie Oosthuysen se boodskap van hoop in “Oom Barnie se kerk” te ontvang. Net erg gewees om soveel gryskoppe in een gemeente in die vol kerkbanke waar te neem!

Die besoek aan die natuurskone Suidkus was heuglik.

Natalvakansie2-001

Skone Southbroom

Uitsigte

Oribi-ravyn.

Natalvakansie3-002

Uit Klaas se werkwinkel

Suidkus-uitsigte wat my veral sal bybly, is van die pragdorp Southbroom se hoofstrand, die Oribi-ravyn (volg net die eland na die Lake Eland-wildreservaat), die Mbezanerivier en die Southbroom-lagune van die kuierstoepie van die parkagtige Bellevue Lodge tussen Ramsgate en Soutbroom af, en – die verrassendste – op Amanzimtoti se strand uit my vriend Klaas Holtzhausen se werkwinkel.

Die foto is geneem deur die venster van die einste werkwinkel op die dak van die Amazibu-woonstelkompleks waar Klaas (agter sy werkbank) en Marina (tussen haar boeke) hulle gaan vestig het na sy lang loopbaan as een van Bloemfontein se voorste tandartse. Dit was ‘n vreugde om die ou bande te hernu.

IMG_3544

Kleinste kerkie

• Net ‘n week tevore ook by ‘n kerk gewees wat deur ‘n vader ter ere van ‘n gestorwe lieflingseun gebou is. Dit is die bekende “klein kerkie” in die Van Reenenspas – inderdaad die kleinste in die suidelike halfrond met net agt sitplekke (foto 1) . Die kerk is ‘n monument vir Llandaff Mathew (28) wat in ‘n rotsstorting in ‘n steenkoolmyn by Dundee gesterf het terwyl hy agt ander gered het. Dit is deur sy vader, Maynard Mathew, gebou.
(hvd)

SPESIALE HOEKIES

IMG_3631
By die Sani.

Elke tuin het sy spesiale hoekies wat die siel des te meer verkwik. In die Tuinprovinsie Kwazulu-Natal wemel dit van sulke hoekies. Ons kuier in die fraai dorp Hilton was ‘n heerlike ontdekking van die Natalse Middelland tot so ver as die suidelike Drakensberg met sy baie kuierplekkies in die natuurskone Underberg-kontrei.

Ons en die kinders is selfs halfpad die legendariese Sanipas uit tot waar die SA vlag op die grens van die Bergkoninkryk wapper. Ons slaapplek was ‘n sprokieshuisie op pad na die Drakenberg Gardens Hotel met roeibootjies op ‘n dam, perde, ganse en poue.

IMG_3664-001
In die suidelike berg.

Natuurlik het ons die Midmardam gaan verken, waar Jacob die eerste keer lyntjie natgemaak het. Die Howick-waterval is altyd die moeite werd. Die Queen Elizabethpark aan die buitewyke van Pietermaritzburg is ‘n onontdekte juweel. Die landelike toneeltjies met akasiabome en troppe, troppe beeste oral langs die pad is beeldskoon.

IMG_3707-001
Ou gruisgroef.

‘n Staptog deur Hilton is verfrissend. Die dorp is in die hart van die skilderagtige “Midlands Meander”. Dis die ene berge en dale, groot bome, welige tuine en ‘n amper tasbare rustigheid. Die vernaamste sakesentrum is treffend geleë op die rand van ‘n gruisgat met water, bome, gras en blomme. Die dorpshotel is in klassieke Tudorstyl – sou nie ontuis gewees het nie in die Cotswolds of Sussex.

In die hartjie van die dorp is ‘n “Voortrekker Road” . Wat sou ‘n “Voortrekker Road” soek op Hilton met sy Engelse oriëntasie? Die antwoord kry ek op ‘n besoek aan die sogenaamde “World’s View” tussen Hilton en Pietermaritzburg. ‘n Gedenksteen en ‘n netjiese mosaiëk-reliëf verklap ‘n stukkie geskiedenis wat dalk aan vele van Hilton se eie mense van die huidige generasie onbekend is – dat hul dorp vierkant op die Natalse Voortrekkerroete was.

Waens het uit Blaauwkrans, Weenen en elders oor Hilton gekom. By “World’s View”- vroeër bekend as Voortrekkersig – het die Voortrekkers uitgespan om as’t ware die beloofde land voor hulle in te drink. Die panorama van Pietermaritzburg en sy hinterland is indrukwekkend. Later het transportryers en ander pioniers ook die pad gevolg.

IMG_3697-001
Outydse taxi!

Op die mosaiëk-reliëf is ‘n uitbeelding van ‘n kakebeenwa. Christopher het die vreemde gedoente so bekyk en toe vir sy ma, Marisa, gevra: “Dis mos ‘n outydse taxi, né mamma?

Soos Amerika sy “Ivy league”-universiteite het (Harvard, Yale, Princeton, e.a.) spog die Natalse Middellande met skole in ‘n liga van hul eie. Ek sonder twee uit: Hilton College (glo die duurste skool in Suid-Afrika) en Michaelhouse op die ewe mooi buurdorp Nottingham Road. Die karakter, tradisie en eksklusiwiteit straal uit hul indrukwekkende, lowerryke kampusse met geboue, sportvelde, kapelle, museums en in die geval van Hilton selfs ‘n eie natuurreservaat. Die koshuise sou Stellenbosch eer aandoen.

IMG_3754-001
Hilton College se kampus.

Op pad na Hilton het ek deur Michaelhouse se kampus – ‘n klein plasie – gaan ry … en so verdwaal dat ek moes pad vra. Later het die seuns my op ‘n toer van Hilton College geneem. Asemrowend. Hul eie skool, Laddsworth Primary is ook geensins te versmaai nie, en oupa is trots soos ‘n pou dat Thomas in sy rugbymondering op sy skool se advertensie pryk.

Die Tandemuis het ook ‘n draai kom maak tydens ons kuier in Flamingolaan – sommer twee aande na mekaar. Christopher se eerste wisseltand is deur pa, Brent, met ‘n stuk garing uitgelig. Die volgende aand verrig die kordate kerel die takie sommer self met behulp van ‘n waslap. Vir oupa Hennie en ouma Tokkie nogal ‘n bakengeleentheid gewees. Eerste keer dat ons by is as ‘n kleinkind begin haasbekkkie raak.

IMG_3763
Word vinnig groot.

Die kuier by die kinders en kleinkinders het woerts verbygevlieg. Die laaste aand, die vooraand van skoonseun, Brent, se verjaardag, het ons in ‘n gewilde Thaise restaurant op die rand van die gruisgroef gaan eet. Die seuns het hulle uitgevat vir die okkasie. Toe besef ‘n mens skielik hoe vinnig hulle groot word. Van links is Thomas, Christopher en Jacob. Thomas en Jacob is 11; Christopher is ses.