“ENE JANNIE”

IMG-002

Die dag toe ek my naam vergeet het. Dis die titel van ‘n roerende werk van die skrywer F.A. Venter nadat hy in sy later jare ‘n beroerte gehad het.

Die dag toe ek my naam verloor het. So sou hierdie kort skrywetjie kon heet.

Of: Die dag toe ek skielik “ene Jannie van Deventer” geword het.

Ek skryf na aanleiding van die gedugte Crito se blog in die jongste Litnet-nuusbrief. Die geheimsinnige Crito – ‘n gerespekteerde (en gevreesde) naam in die boekewêreld – lewer kommentaar op Tobie Wiese se resensie in Rapport van die Naspers-feesboek ‘n Konstante revolusie, saamgestel deur Lizette Rabe.

Wat Cito oor Tobie se resensie op die hart het, kan lesers van hierdie blog gerus op Litnet gaan naspeur. Soos altyd oor resensies van allerlei aard, spreek hy/sy prikkelende – soms uitdagende – menings uit.

Waarby ek toe in daardie resensie vassteek, is ‘n terloopse opmerking tussen hakies: “Daar het glo destyds net een Nasperser voor die WVK gaan getuig, ene Jannie van Deventer.”

Nee, Crito, dit was nie “ene Jannie van Deventer nie”. Dit was ekke, Hennie – wat toe Naspers se hoof van koerante was. Was onder die indruk dat daardie feit nogal redelik goed geboekstaaf was.(Klik vir ‘n Sapa-verslag op http://www.justice.gov.za/trc/media/1997/9707/s970703a.htm Die opskrif is: AFRIKAANS EDITOR TELLS TRC OF DEATH THREATS FOR SUPPORTING REFORM )

Ek weet ek steek my nek uit en sal daaroor opnuut getrap kan word, maar die waarheid kan tog nie ontken word nie. Die besluit van 127 Jong Turke om teen die wense van Ton Vosloo, van myself en van die Naspers-direksie by die WVK (Waarheids-en-Versoeningskommissie) van Desmond Tutu te gaan boete doen oor die “sondes” van ons koerante in die ou bedeling, was vir my, om dit sag te stel, ‘n teleurstelling.

Vandag het ek meer begrip vir hul optrede. Destyds het ek dit beskou as idealisme wat op loop gesit het. My eie voorlegging aan die WVK was uit ‘n totaal ander perspektief : die Afrikaanse koerante se sware stryd om regverdigheid en ‘n demokratiese bestel aan regse Afrikaner-gemeenskappe te “verkoop”.

My standpunte daaroor was aanvanklik net vir Ton se oë bedoel. Hy het gemeen dit kan op sy eie bene as ‘n selfstandige voorlegging staan. Toe pos ek dit dadelik – voordat hy dalk anders begin dink.
My sienswyses was nogal omstrede.

‘n Monitor-onderhoud hieroor met ‘n siedende Chris Louw van die SAUK staan my nog helder voor die gees. Volgens Louw het ek my oor die rol van Afrikaanse koerante uitermate aan “romantisering” besondig. Hy het my oor die eter so bevlieg dat in Rapport ‘n spotprentjie deur Lou Henning daaroor verskyn het. Dit hang tussen ander spotprente teen my studeerkamer. Dis hierbo te sien.

Hoekom ek daardie geskiedenis nou weer oopkrap? Nie omdat ek met Crito wil swaarde kruis nie. Op my oudag soek ek net vrede. Sê dan maar met die oog op historiese juistheid. Ek is immers Hennie – nie “ene Jannie” nie.

Nie juis ter sake nie maar tog interessant genoeg is dat Crito se verwysing na “Jannie van Deventer” en my vorige blog, Die bitter van verloor, in dieselfde Litnet-nuusbrief verskyn.

Ek skryf hierdie op Erfenisdag . As Crito sou braai – mag die vleis perfek van die kole kom

BITTER VAN VERLOOR

Die rugbygogga het my in 1951 gebyt. Ek was 10. In Durban het ek die Natal Daily News verslind vir nuus oor die Springbokproewe. Hendrik Scholtz Vosloo (Hennie Muller), vlieënde agtsteman, was my held. Daar was ook ander helde: Hansie Brewis, Tjol Lategan, Basie van Wyk, Jaap Bekker…

My hart, my lojaliteit en al my jeugdige persepsies van Suid-Afrikaanse onoorwinlikheid is saam met Basil Kenyon en sy span Groot Brittanje toe.

Elke oomblik van elke wedstryd op daardie toer, al 31, het ek voor die radio in ons huis, Botanic Grove 9, voor die radio ingedrink. Ai, wat ‘n genot was dit nie toe ons die arme Skotte met 44-0 op Murrayfield platloop. Onthou, ‘n drie het toe drie getel – nie vyf punte soos nou nie. Met die verloorders is gespot soos met die Springbokke nou.

Die toer-rekord was die allerbeste in die geskiedenis van Springbokrugby – 31 gespeel, 30 gewen, net een verloor.

Daardie verloor was in die tiende toerwedstryd op 10 November 1951 op Twickenham. Teen ‘n uitnodigingspan van die London Counties. Die minute het begin aftik vir die eindfluitjie om te blaas, toe is die Bokke nog 9 -11 agter.

Hierdie jong ondersteuner was rasend. Dis tog onmoontlik. Hoe kan my Bok-helde ooit aan die verloorkant wees! Toe dinge werklik begin reddeloos lyk, het ek wanhopig opgespring, by die voordeur uitgestorm en om die huis gehardloop.

Na die rondte om die huis , het ek gou weer gaan luister hoe sake staan. Daar was ‘n minuut oor. Die telling was steeds 9 – 11. Ek is ‘n tweede keer om die huis. Toe ek inkom. was die slag gelewer. Die Bokke het verloor. Die wenkaptein van die London Counties sou die tradisionele springbokkop ontvang as simbool van sy span se sege.

Saterdagaand wou ek weer om die huis hôl. Was dit werklik moontlik dat die Bok-span (met al sy gebreke en mankemente) teen die Japannertjies kan verloor? Nee, dis tog ondendenkbaar. Maar in die doodsnikke bly hulle op ons doellyn. Die bal skiet vleuel toe en hy rond af.

Francois Louw sit verslae op die groot skerm. Sy stroewe spanmaats se skouers hang. Het ek toe gehôl? Nee, ek het nie. Die ou bene is te stram vir sulke aksie. Ek het maar net stadig uit my stoel orent gekom en die laaste paar druppels uit my botteltjie chenin blanc geskud vir ‘n wrewelrige heildronk op die seëvierende Japanners.

Al is ek lankal van alle illusies van Bok-onoorwinlikheid gestroop, was die verslaenheid nie minder nie as 64 jaar gelede.

SUG VAN ‘N SELFOON

MOET dalk ‘n ouderdomsperk op hierdie stukkie plaas. Die gevaar bestaan dat byderwetse jong mense van meer resente generasies hulle uit lit uit gaan lag as hulle dit per ongeluk raaklees. Maar die waarheid moet uit. Kom wat wil.

Wat volg, is ‘n selfoonstorie met ‘n verskil. Die tema: twee van daardie noodsaaklike euwels wat saam wegraak. Skoonveld. Nogal toe ons van Bybelstudie terugkom die ontdekking gedoen.

Tokkie wat goed is met soek, het kaste deurgesnuffel, kussings opgelig en onder beddens geloer. Sonder vrug.

Toe kom ek vorendag met ‘n taamlik vanselfsprekende voorstel. Ons bel net my nommer op die selfoon. So gesê, so gedaan. Prr-prr-prr … “Van Deventer hier. Ek is ongelukkig nie op die oomblik beskikbaar nie.”

Plan B: Bel Tokkie s’n. Maar wat is die nommer? Sy ken dit nie. In haar adresboekie is nommers van ‘n duisend bekendes en onbekendes. Haar eie ontbreek. Dié goed bewaarde geheim word net op twee plekke verklap. Die een is agterop haar foontjie waar sy dit met kleeflint vasgeplak het. Die ander is op my lys kontakte, wat in die omstandighede natuurlik onbereikbaar is.

Kom ons bel Mariza. Dis ons skoondogter op George. Goed sy skakel dadelik ma se nommer. Maar .. stilte. Later wil ek my verbeel ek hoor ‘n bedremmelde geluidjie wat klink soos ‘n selfoon wat ver-ver om hulp roep. Maar waar is daardie ver? Dis waar die knoop lê.

Bel weer vir Mariza: Gee daardie nommer dat ek dit sommer met ons eie landlyn kan skakel. Skakel dit, skakel dit weer en skakel dit weer en weer. Dieselfde dowwe klankie bereik my ore. Soos ‘n fluisterende noodkreet of ‘n beswaarde wat diep sug. Maar dit bereik ook net my ore. Tokkie rapporteer sy hoor absoluut niks.

Die “missed calls” stapel op. Tot nommer 22 vorder ons nie juis nie. Net een leidraad kom mettertyd na vore. Die geluidjie hou op sodra ek die studeerkamer verlaat.

Probeer dan maar weer. Oproep nommer 23 lewer eers eenderse resultate as al die voriges. Maar tog. Klink – onwaarskynlik soos dit is – of die geluid uit die boekrak se omgewing kom. Dalk uit die onderste laai waar ek my kameras hou?

Ruk hom oop. Ja werklik. Daar lê die Blackberrytjie dapper en fluister. Net blerrie-blerrie saggies.

Het die ding klaarblyklik per ongeluk in die laai gesit saam met die kamera se battery wat pas klaar gelaai was.

Myne? Dié kry my vasbytervrou toe sy die derde keer die BMW gaan deursoek. Onder die bestuurder se sitplek. Hoe op deeske aarde dit daar gekom het, is onverklaarbaar.

Maar hie’rs ons toe, ‘n halfuur later, dankbaar en verheug met ons vermiste fone verenig.

Net so effens ongemaklik en verleë dat ons midde-in die soektog soms so lelik gepraat het – en dit ná Bybelstudie nogal.

Ook met mekaar nie oorvriendelik gewees nie – nadat ons juis pas uit Spreuke so mooi geleer het om die huwelik te koester.

EEU VAN KOLLEGEKULTUUR

Kollegemanne van 1958, my ienkjaar.

Kollegemanne van 1958, my ienkjaar.

My geliefde Kollegetehuis op die Tukkie-proefplaas is hierdie maand 100 jaar oud. Die eeufees word gevier met o.m. ‘n gala-aand op die grasperk voor die Aula. My bydrae uit Melkbos is hierdie verkorte hoofstuk uit my boek In Kamera wat in 2003 deuir Protea gepubliseer is:

Gaudeamus igitur, juvenusdum sumus…

GOUE DAE

Elke keer as ‘n bohaai iewers oor ontgroening ontstaan, gee my gedagtes ‘n groot sprong. Kollege-tehuis toe – meer as veertig jaar gelede. Op die Tukkie-kampus is ‘n ienk toentertyd nog behoorlik gedril. Dit was modderbaddens, die “pil” (‘n aaklige konkoksie met o.m. duiwelsdrek), “nagligte”, “gatpaarties” en “p-paarties” — elkeen ‘n verskrikking op sy eie, veral as die doel was om ‘n element van weerbarstigheid te tem!

Wat ‘n “gatpaartie” of ‘n “p-paartie” behels (die “p” staan nie vir petrol nie!), behoort selfs ‘n oningewyde seker sonder veel moeite te ontsyfer. Genoeg om te sê: agterna was jou sitvlak potblou en jy van jou kroontjie tot jou toontjie nat.

‘n Ienk kon ook maar weet: vir ‘n jaar lank is hy ‘n lyfeiene vir ‘n veeleisende senior (hoeveel honderde sokkies het ek nie gewas nie!) Hy sou ‘n paar keer moes inpak en “trek” (met al sy klere, al sy boeke, al sy koffers). Hy sou moet “more meneer, middag meneer, naand meneer, reg meneer, goed meneer” tot by die ontheffing as die jakarandas kort voor die eksamen begin blom.

Op daardie welaangename dag het die geel knopie met die K finaal gewaai — een wat terwyl dit nog op die bors vertoon is, nogal vir komieklike situasies kon sorg. Byvoorbeeld wanneer Kollege en Asterhof ‘n “inter-sleep” het en die ienks dan so man-meisie-man-meisie langs mekaar sit: “K, A, K, A, K, A …!”

Modderbad, 1958.

Modderbad, 1958.

‘n Jaar van groot nederigheid was dit. Maar as dit verby was, het jy behoort. Jy het soos vir ‘n dierbare nooi lief geword vir ‘n plek van baksteen en beton, ondanks sy dun klapperhaarmatrassies, tekort aan warm water, middelmatige kos en die kwaaiste seniors op die kampus. Jou hart was in jou borskas soos ‘n uitgeswelde adamsvy, omdat jy geweet het jy is getoets en is nie te lig bevind nie.

Klop dan in deesdae se eerstejaar-studente ander soort harte? Ek wonder.

Party ouens het met Fisika geworstel. Ander met Romeins-Hollandse Reg. ‘n Derde groep met Toegepaste Wiskunde, en so aan. Maar ander noodsaaklike kennis is ook vroeg-vroeg aangeleer. Soos die sogenaamde “broek-raid”. Vir die jonger geslag: twee groepe manne (gewoonlik van verskillende koshuise) pak mekaar in die middel van die nag en trek mekaar se broeke uit — na ‘n woeste gespook, geknoop en geruk-en-pluk. ‘n Man moes net keer vir skade.

Agterna was die foto’s van ondernemende amateur-fotograwe glo buitengewoon gewild in plekke soos Asterhof en Klaradyn, waar met grote konsentrasie gesigte en ander verskuilde eienskappe met mekaar verbind is.

In die laat jare vyftig was “Tant Bella” (die lang ontslape Hotel Belvedere in Kerkstraat) se “tee” ‘n gewilde verversing onder Kollegemanne. In aansluiting daarby was in die koshuis selfs ‘n sogenaamde boozeklub” — eufemisties bierklub genoem — met die leuse: “Tee verdra geen onreg nie”. Ek verskyn links in die voorste ry van die klub se 1959-span.

Broekraid teen Voortrekker, 1959.

Broekraid teen Voortrekker, 1959.

Lank voordat kapings en ontvoerings en die klas ding in Suid-Afrika alledaags geword het, het ‘n klompie lede van die boozeklub een aand ‘n meesterplan in aksie gestel om ‘n gehospitaliseerde vriend, Jas Wasserman, uit die H.F. Verwoerd te gaan haal vir ‘n partytjie by die Fonteine. Die nodige klere is vir hom ingesmokkel en toe die besoektyd tot n einde kom, stap Jas tussen sy besoekers by die deur uit.

In ‘n stadium word hy, bierbeker in die hand, egter deur ‘n uitgelate Kollegeman laaggevat. Die verband om sy vinger wat ‘n paar dae vantevore geopereer is, is skielik ‘n bloedige pappery.

Die pasiënt is ‘n uur of wat later bekwaam deur sy maters in sy bed teruggehelp. Die dokters het net die volgende oggend maar moeilik gesluk aan die storie van die nagmerrie wat Jas in die middel van die nag uit die bed laat val het, bo-op die stukkende vinger. En die aroma wat om hom gehang het, was beslis nie dié van eter nie!

Vir die jaarlikse ienksport is aan elke koshuis ‘n kleur toegeken. Vir sy sonde is Kollege se kleur die een jaar pienk. Vir die hoogtepunt van die byeenkoms, die huiskomitee se aflosnommer, kry die manne toe ‘n ingewing. Hulle verskyn op die baan in sulke enorme pienk bloemers wat by ‘n afslagwinkel aangeskaf is — en hulle wen ver. My val die eer te beurt om met ‘n wapperende bloemer die lint te breek – die tweede jaar in ‘n ry.

Op Lentedag het ek my koshuis in die afdeling blommerangskikking verteenwoordig. My oplossing was om twee rooi roosblaartjies op die vloer van die C.H. Rautenbachsaal op te tel en op die wit suiker in ‘n kafeteria-skuierpotjie te drapeer. “Druppels bloed op ys” het die tweede prys gekry vir oorpronklikheid.

Rugby was in Kollege ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart. Groot wedstryde is gespeel, en dikwels gewen, want latere provinsiale spelers soos Nic Bojé, Proppie Goosen, Henry van Vuuren, Dries Pretorius en Koos Claassens was derduiwels.

Die onvergeetlikste rugbymomente het nie altyd op die veld afgespeel nie. Een was die aand ná ‘n belangrike wedstryd in Danville, ‘n woonbuurt wat nou nie juis met Waterkloof kan vergelyk nie. Vroue met krullers in die hare en sigarette skuins in die mond kom moedig hul plaaslike helde al gillende aan.

‘n Blondine langs die veld trek een van ons manne, Piet (Ghandi) Lategan, se aandag. Hy pyl dadelik op haar af toe toe die eindfluitjie blaas. Goed, sy sal saamgaan inryteater toe. Eers toe hy by die koshuis terugkom, vermoed hy onraad. Hy vat-vat aan sy agtersak — en bevind tot sy diepe ergernis en verleentheid hy is in sy eie motor van sy beursie be-vry.

In 1961 gaan toer Kollege se span na Vrede, Harrismith, Volksrust en Ladysmith. Ek wat nogal kan ooplê lyn toe maar ‘n ongelukkige lugtigheid op die verdediging openbaar, is ‘n verrassende keuse as een van die vleuels. Op ‘n groot rugbydag speel ons span in die hoofwedstryd teen die tuisspan. Ek is daardie dag vlagman.

In ‘n kritieke stadium van die wedstryd kry Kollege ‘n strafskop, amper op die halflyn. Dries Pretorius wat kon skop soos ‘n muil, mik pale toe. Die bal trek goed, hy trek goed… Ek wys dis oor. Die ander vlagman beduie dis mis. Terug voor die paviljoen, te midde van ‘n energieke geboe van die tuisskare, skree ‘n ou vir my: “Was hy oor?”

“Nee,” skree ek terug, “hy was mis.”

“Nou hoekom wys jy hy was oor?”

“Omdat hy amper oor was!”

In Kollege se folklore is daardie antwoord van my as ‘n voltreffer aangeteken. Laat my egter maar bely: Dit was nie ‘n stukkie flinkdink nie. Ek kon op daardie oomblik aan niks anders dink om te sê nie! Oor of mis, ons is met die beker huis toe.

KOBRAKONSTERNASIE

IMG_3266-001

IMG_3262

Kobrakonsternasie gewees by Wildevy 154, Sabiepark. Ons pak in vir ‘n vale vir die volgende dag se tot siens. Hier woerts ‘n Mosambiekse spoegkobra by die kombuis se afvoer in.

Fris vent van sowat 1,2 meter.

Volgende oomblik is die gevaarlike kalant ( hy spoeg sy gif twee meter ver sekuur in jou oogbol) anderkant uit en krul hom op onder ‘n ou vrieskas wat as bergplek vir Tokkie se lampoplie dien.

Gelukkig daag sekuriteitshoof Alfred (ook baas-slangevanger) vinnig op met die nodige oogbeskerming en vangstok.

Voordat ta hom kan kry, hang hy aan die stok, haal die Van Deventers weer asem en gaan die pakkery rustig(?) voort.

Groot krokodil laat my ril/spinnekop trek my maag op ‘n knop/maar, mens, skrik ek my nie bevange/vir al daai slange van Mpumalange!

BLOGS UIT SABIEPARK 2

SIEN JY DAARDIE KOLLEGEMAN?

September 1

IMG_3224-001

Die seekoeie het hul trombone ‘n wyle gebêre en die kikvorse het ophou kik. Dit was vir die Kollegelied wat welluidend onder die Laeveldse naghemel opklink.

Ses Kollegemanne van weleer – party bles, party grys, party al ietwat skeef en krom, maar almal met harte wat nog warm klop vir Kollege – het met ‘n glasie goed verouderde rooi hul liefde vir hul koshuis op die Tukkie-proefplaas betuig.

Die plek? Die primitiewe boskampie Balule aan die Olifantsrivier, naby die Olifantskamp in die KNP. Die geleentheid: die vierde jaarlikse saamtrek van ‘n span 70-plussers wat in die jare rondom 1960 saam aangesit het vir die Kollegekos wat deur onder andere die wellewende Piet April in die eetsaal bedien is.

Vanjaar se saamtrek was spesiaal so op die vooraand van die “Republiek van Kollegetehuis” se eeufees later die maand op die Tukkiekampus. Daarop is ‘n heildronk gedrink uit ‘n botteltjie feeswyn van 1990 toe Kollege feestelik sy 75ste verjaardag gevier het.

Die “medisyne” is deur Proppie Goosen met sy ou kamermaat Pierre le Roux uit George saamgestuur. Proppie sou ook vanjaar Balule toe kom, maar ongelukkig moes Lettie ‘n rugoperasie ondergaan.

Die 25 jaar wat verloop het, het nie almal van ons ewe goed behandel nie, maar vir die wyn was dit net wins. Niks fout met die “neus” nie – en pure fluweel op die verhemelte.

Om dit uit die boks te haal, te ontkurk en te skink was ‘n hele ritueel. Die vername taak is aan Vos Grey opgedra. Hy was in 1961 en weer in 1963 huisvoorsitter, die oudste lewende lid van daardie spesie. (HvD, 1962, is die naasoudste. Rowwe gedagte!)

vir b

Vos Grey en HvD met die bottel “medisyne” uit George.

Tussen die braai van die wors en die tjops die laaste aand is die glasies gelig en die Kollegelied uit volle bors rondom Pierre se gloeiende kole in die braaidrom aangehef. Aan het oewers van de Schelftzee, tussen Delft en Rotterdam ….

In die donkerte kon ‘n mens nie die trane op die oues se wange raaksien nie – darem ook nie op die amptelike foto’s van die okkasie wat Tokkie uit alle hoeke geneem het nie. Die foto is hierbo. Van links is Piet Henning van Louis Trichardt, Manie Steyn van Krugersdorp, Vos Grey van Ermelo, HvD van Melkbos, Pierre le Roux van Mosselbaai en Cas Jacobs van Centurion.

Dit was drie dae van enorme vure, groot ure en dik plesiere. Van die koningskos het ingesluit Cas Jacobs se fynproewersfilet met sampioensous en Nella se keurige bratkartoffeln, beetslaai en wat nog, afgerond met flambéperskes en vla. Benewens die stompe uit Sabiepark in HvD se Honda, het Piet Henning ’n kartdondoos vol sskelbos en ander braaihout uit die Soutpansberg gebring. In daardie doos was sweerlik voorheen minstens ‘n hangkas.

IMG_3211
Enorme vure, dik plesiere.

Soos die seekoeie tot eerbiedige stilswye gesing is, het die kosmakery op die oop vure die respekte van die kontrei se hi-enas afgedwing. Veral die bedrywigheid met Vos en Magdaleen se beesstertpot en potbrood op die kole het die gulsige diere skynbaar allemintig geïnteresseer. Nie minder nie as drie het in ‘n stadium teenaan die kampdraad saamgedrom om die aktiwiteite te betrag.
Wonder of Clover se direksie weet hoe bekwaam hul oud-voorsitter met ‘n graaf die kole kan rondskuif vir ‘n beesstertpotjie en potbrood a la Magdaleen.
Wat is in daai nyslike pot?

IMG_3181

Wat is in daai nyslike pot?

Daardie yslike pot – ‘n nommer agt as ek nie mistas nie – het ‘n simbool van die Balulespan se onderskeie fiksheidsgrade geword. Dit vat sterk manne om dit te dra. Hierdie keer was dit Vos en Cas wat die spiere laat bult het. Almal het hulle bewonder.
Vir 2016 – ja, natuurlik sal daar dan ‘n Balule V wees – het die twee kieriemanne, Manie Steyn en die uwe, stilletjies ‘n verbintenis aangegaan. Dan dra hulle hom!
Profile photo of Uit Melkbos

BOER MAAK ‘N PLAN

Die gevoel van magteloosheid wat jou oorweldig, is soos ‘n digte mis wat om jou toesak. Jou motor staan stewig gegrendel. Die sleutels is binne. Twee keer al met my gebeur.

Die eerste keer was in die 70’s in Miami, Florida, met my Toyota Merk II-stasiewa van destyds. Gelukkig was dit by ‘n motel met ‘n bedrewe “inbreker” in sy personeel. In ‘n japtrap het die knap vent met ‘n draadhanger die ding gedoen.

Die tweede keer was nou in Olifantskamp met die Honda CR-V my getroue bosvoertuig. Geen bedrewe “inbreker” helaas onmiddellik byderhand en gewillig nie.

Dit het gebeur toe ek die Honda se luikrug toeklap en te laat besef die sleutels is binne saam met die ander dinge wat ek vinnig kom bêre het.

Die kantoor was hulpvaardig. Ja, Sanparke het ‘n man wat die joppie kan doen. Ongelukkig is hy in Phalaborwa. Dis ‘n paar uur se ry.

Daar word rond en bont gebel vir moontlike alternatiewe opsies. ‘n Groen Sanparke-bakkie daag op. Die gees is gewillig maar die vlees is swak. Die manne krap hier en skud daar, gee mekaar entoesiasties bevele, maar rig niks uit nie.

Intussen keer vriendin Marlene Scholtz wildvreemdes in die winkel voor. Hulle het nie dalk raad nie? “Die wildvreemdes” is toe boere van Frankfort, Bart en Henriette Linde. Bart staan nader en neem dadelik beheer oor.

‘n Rol draad word op sy versoek gaan haal. Hy wikkel aan elke deur.

Die laaste ene dra die littekens van ‘n stampie teen ‘n paal tydens ‘n onbeplande maneuver ‘n jaar of twee gelede by ‘n vleisbraaiery by Herman en Rina le Roux (twee van die huidige toeskouers) by Burchell’s Lodge, oorkant Sabiepark. Daardie ongelukkie word toe ‘n gelukkie.

Bart beur die gleufie weens die stampie met ‘n skroewedraaier oop en wikkel die draad na binne. Aan die een punt is ‘n haak wat hy behendig geprakseer het – klassieke illustrasie van die gesegde: ‘n boer maak ‘n plan.

Die spanning bou op. Maar net ‘n paar oomblikke duur dit. Die deur klik oop. ‘n Gejuig gaan op. Dankbetuigings en fooitjies (darem nie vir Bart nie) word uitgedeel. Die lewe is skielik weer mooi.

Intussen het Tokkie en Henriette aan die gesels geraak. Dit blyk die Lindes is die bure van Winnie Dreyer, weduwee van Frik Dreyer. Van ons beste Sabieparkvriende gewees tot met sy dood weens malaria. Henriette belowe om vir Winnie groete te sê.

Dit is nie al konneksie nie. Henriette was ‘n onderwyseres, verneem ons. In haar klas jare gelede was Lientjie, vrou van ons peetkind Jaco van Wyk van Pretoria.

Ander gemeenskaplike kennisse sluit in Herman se ouers wat lank op Frankfort gewoon het, Die vriend en kollega het in die jare 50 daar matriek geskryf.

Die wëreld is klein – hoeveel keer ontdek ‘n mens dit nie, soms op die mees onverwagte plekke en tye nie?

Die “wildvreemdes” was toe glad nie wildvreemdes nie!

Duisend dankies, Marlene, en duisend dankies aan die engel wat Marlene gelei het om juis by die Lindes van Frankfort hulp te vra.

KOERANT VAN ‘N KUIER

Augustus 29

IMG_2969-001

Die Therons, Van D’s, Cora Marais, Marlene Scholtz, Paul Marais, die Le Roux’s en Venters.

Smeer die rolperse vet. Vele koerante kan spruit uit die saamtrek van Volksblad-veterane in Augustus 2015 in Sabiepark en in die intieme boskamp Balule in die KNP. Sy halfmaan van ses rondawels was net nommerpas vir ons.

Van ons ken mekaar al amper 60 jaar Die paar dae saam het ‘n vloedgolf heerlike herinneringe ontsluit van dekades saam in Bloemfontein en by ons geliefde koerant. Vele nuwe stories uit ons latere lewes is ook vertel – nie almal lughartig nie. Ons het behoorlik aan mekaar se lippe gehang.

Van die hoofredaksie van die 80’s was teenwoordig: die uwe en Tokkie, Paul Marais en Cora uit Centurion, Herman le Roux en Rina uit Johannesburg, Piet Theron en Petro asook Sarel Venter en Liesbeth uit Bloemfontein. Jan Scholtz sou ook uit Bloemfontein kom. Hy is helaas, weke tevore oorlede. Maar Marlene het haar man se skoene vierkant kom volstaan.

Met kuier, kampvure en koningskos het die spannetjie 70-plussers behoorlik feesgevier. Die voorslagvroue het heerlike geregte uit die baie basiese kampkombuisie opgetower. Die flukse Cora Marais altyd op die voorpunt, hetsy by die skink, opskep of skottelgoed was.

Piet Theron het hom, soos altyd, onderskei by die oop vuur. Die man kan braai. Die kruisskyf wat die Therons uit Wesselsbron samgebring het, was prima. Vergeet ook nie die gebottelde heerlikhede uit Curielaan 65 se tuin nie. Petro het altyd net nog ‘n bottel te voorskyn gebring: appelkooskonfyt, ingemaakte perskes, groenbone, beet en wat nog. Rina le Roux se beesstertpotjie was ‘n treffer. Liesbeth Venter het ons met roosterkoek en Vrystaatse groenmielies verras. Die deeg is die middag vars geknie.

Herman le Roux, ons begeesterde voëltjie-entoesias, het ‘n stapeltjie gedugte plakboeke saamgebring. Dit was die oorsprong van vele onthou-jy-nog’s. Sy wenfoto van Balule was toe nie van ‘n geveerde nie, maar van een van die kontrei se bedrywige hiënas.

Daar is baie gelag. Spitsvondighede het gevlieg. Een van die gades het na die spelling van die woord kleinood verneem: d of t. ‘n Klein noot (met ‘n t) is bv. ‘n tienrandnoot, het iemand laat val. ‘n Klein nood (met ‘n d) kan lol as dit ‘n groot nood word, het Paul Marais, steeds vlymskerp, dadelik laat hoor.
Aandoenlike oomblikke, Marlene oorhandig Jan se skinkbord aan HvD en T.

IMG_2949-002

Aandoenlike oomblikke, Marlene oorhandig Jan se skinkbord aan HvD en T.

Daar was ook aandoenlike oomblikke. Op inisiatief van Sarel Venter is Jan se lewe met persoonlike anekdotes om die kampvuur oor die kleurryke Boesmanlander gevier. Die nimlike Sarel het vir ons ‘n kosbare boekie saamgebring wat aan sy ma behoort het: Die Transvaalse Laeveld, kamee van ‘n kontrei. Dit het in 1975 verskyn onder redakteurskap van Chris Barnard, begaafde Laevelder wat in 1960 saam met my in Afrikaans III op Tukkies was. Die eksemplaar het ná vele omswerwinge ‘n dankbare tuiste in Tarlehoet se boekrak gevind.

Aan die begin van die kuier is ‘n prag-skinkbord op Tarlehoet se stoep deur Marlene Scholtz namens die groep aan my en TvD oorhandig. Sakdoeke is uitgehaal om trane af te vee terwyl Marlene aan die woord was. Dit was Jan se laaste stuk houtwerk- so puik soos altyd. Marlene het ‘n kunstige skinkbordlappie van kant en katoen bygedra.

Het gisteraand weer daardie kosbare skinkbord van ons so gekyk. Dit is baie, baie spesiaal. In Tarlehoet (die Van D’s se boshuis in Sabiepark) is nou die skinkbord, ‘n kunstige kierie met ‘n vlakvarktand en ‘n sierlike sekelboslampie wat van hierdie vakman-filosoof se liefde vir hout getuig. Jan het vir die lampie ‘n stompie uit my braaihout herwin.

Ek voel half skuldig dat ek my kollegas so geboelie het om so ver te ry, nie almal in die maklikste omstandighede nie. Sabiepark en Balule is egter ware hartsplekke van die Van Deventers. Dit is waar ons graag na al die jare weer saam met die sout-van-die-aarde-kollegas en –vriende wou kuier. Selfsugtig dalk, maar nou-ja ….

Ons is van harte dankbaar teenoor elkeen wat die lang pad hierheen gevat het. Wat ‘n onvergeetlike, verrykende oudag-ervaring was dit nie.

DIE LEEU EN DIE LAM …

Augustus 28

IMG_3238-001

Leeus, wildebeeste en ‘n kameelperd by die water.

Die Vyf Grotes op die terugtog van Balule na Sabiepark – toe gebeur dit gister die tweede keer in 10 dae. Hierdie keer, na die Kollegamanne se kuier, het die buffels ons tot op die laaste nippertjie laat wag. Eers by die Krugerhek het ons een langs die Sabierivier gewaar.

Dit het vyf uur gevat om nommer vyf af te tik teenoor twee en ‘n half uur die vorige keer. Nietemin ‘n baie spesiale rit gewees. Die eerste keer leeus rustig saam met twee ander spesies afgeneem (foto hierby); die eerste keer gesien hoe ‘n olifant snork, ore klap, laat spaander vir veiligheid en trompetter toe ‘n helikopter laag oor sy kop skeer; die eerste keer ‘n najalabul en -ooitjie saam gesien hier in die sentrale streek van die KNP.

Die Bybelse leeu-en-lam-toneeltjie was by die Mazithidam 9km noord van Tshokwane. ‘n Entjie nader aan Tshokwane het sewe leeus onder ‘n skaduboom koelte gesoek.

Natuurlik geen algemene rekord nie, maar vir die Van Deventers wel loshande een was ons vinnige Vyf na die Volksblad-saamtrek. In twee en ‘n half uur het ons leeus, luiperds, olifante, renosters en buffels afgetik – ook nie net een, een nie maar leeus nie minder as ses keer nie; luiperds twee keer, olifante en buffels groot troppe en renosters drie bymekaar onder ‘n boom. Boonop mooi troppe ander wild gesien. Ook samedrommings van van veral rooibokkies, sebras en blouwildebeeste by watergate.
Profile photo of Uit Melkbos

OLIFANTE, OLIFANTE, OLIFANTE!

Augustus 12

1-1-1-ajv

Op pad na die jaarvergadering.

Om ‘n tema te kry vir ‘n voorlopige “oorsig” van 2015 se wintervakansie is nie moeilik nie. ‘n Mens kan maar net deur die logboekie by die piekniekplek blaai. Dis olifante, olifante, olifante op elke blad.

Plek-plek is tussenin inskrywings oor buffels, luiperds en leeus. Maandagoggend was ons net-net te laat vir ‘n leeujag. Vyf leeus het ‘n buffeltroppie van so 40 of wat bestorm. Die buffels het laat vat Krugerhek se kant toe, die leeus ‘n vaal streep agterna. As daar ‘n vangs was en ons betyds op die toneel aangekom het, het dit dalk my temaliedjie verander. Maar as is verbrande hout.

Hoeveel keer ek en Tokkie self olifant-vertonings beleef het, het ek nie opgeteken nie. Van die begin van die vakansie middel Junie kon jy gereeld by die piekniekplek olifante sien, hoor en selfs ruik. ‘n Keer of wat het dit gevoel of jy net jou hand kan uitsteek en ‘n ou aan die die skurwe slurp beetkry.

Troppe van meer as dertig het gekom en gegaan – ook ‘n hoop kleintjies. Meermale in die goue strale van die son; saam met die eerste skemerkelkies.

By die jaarvergadering op Saterdag 11 Julie het die fotograwe feesgevier. Hulle is op en af langs die heining met hul lang lense en het pragfoto’s geneem van die ou grotes wat deur die vlak water aan die westekant van die piekniekplek die Sabierivier in gelid oorsteek.

Foto’s is veral geneem saam met een nuuskierige ou wat die spulletjie van baie naby kom betrag het. In ‘n stadium gelyk of hy doodluiters op ONS bruggie op pad is na ONS skuiling toe.

Tweelinge is uiters skaars in die olifantgemeenskap, aldus kenners. Ons is redelik oortuig ons het enkele dae later ‘n olifant-tweeling by die piekniekplek sien kaperjol. Die twee spelerige olifantjies het te heerlik in die sand baljaar, in die riete wegkruipertjie gespeel (darem altyd na aan ma se beskermende buik) en in die water geplas. Nes kleingoed met emmertjies en grafies op die strand, meen Tokkie.

IMG_2755

Ons olifante.

Hulle is werklik nog piepklein. Die Sabierivier is op die oomblik maar laag. Ons “tweeling” kom egter skaars by die watermark op hul ma se lyf.

Skade het nie uitgebly nie. Die paaltjieheining om die loopgang na die voëlskuiling het onder meer in die slag gebly.

By die huis het Tokkie en Patson ook rede gehad om olifantbesoeke te onthou. Sommer baie bome en boomstruike, veral raasblare, is in die vorige winterbesoek platgestoot. Operasie Opruim het dae geduur. Uiteindelik lyk die werf netjieser en kan die wild weer vryelik hier beweeg.

Koedoes, sebras, vlakvarke, wildebeeste, duikertjies, bosbokkies en bloukuifloeries het gereeld by die watergat hul dors kom les. Een duikertjie lyk of hy aspirasies het om die nuwe Witnek te word. Ons sien hom dikwels. Sy mis lê die wêreld vol.

Die hiënas het, vreemd genoeg, nooit kom gesig wys nie. Wel spore in die sagte sand by die motorpad gesien en elke nag te midde van seekoeie en leeus se luide gebrul en gebrom hul roepe gehoor.

By die ingang in Wildevylaan pryk ‘n nuwe naambord uit hardekool, soos voorheen gemeld. Die oue is nou teen muur bokant die braaiplek op die stoep. Dit is deur die Claassens-seuns gerestoureer. Ons het ook ‘n “tuintjie” by die voordeur aangelê – net ‘n aalwyn of twee, ‘n paar stompe en ‘n dammetjie wat deur die seuns gegrawe is. Die dammetjie is met ‘n plastiekbad permanensie gegee. Die oudste impalalelie het vier blommetjies gestoot – die eerste keer.

In die huis en op die stoep is nuwe foto’ opgesit en oues rondgeskuif.

In die R900 se vuurmaakhout wat aan die begin laat aflewer is, het verskeie groot vure taamlike duike gemaak. Genoeg bly egter oor vir Desember as Johan-hulle kom– hoop ek!

Van hout gepraat. Jacob, Thomas en Christopher het mos elk ‘n renoster uit hardekool present gekry. Vir Migael wag hier ‘n soortgelyke vlakvark, ook kunstig deur Pios gekerf. Tokkie se hardekool-kershouer (‘n geskenk van Marisa en die seuns) word gereeld by etes, ens. ingespan. Verleen lekker atmosfeer.
Die uwe het twee nuwe name geleer: die neddikkie en die liguster. Eersgenoemde is van die tinktinkie-familie. Twee het in die pendoring by die voorstoep rondgespring (waar ook die nagapies elke aand buitengewoon aktief was). Die liguster is ‘n boom. Een staan by Skukuza se winkel. Engels: Transvaal privet.

Sien: Ons kom nie net vir die lekkerte Tarlehoet toe nie. Ook om kennis uit te brei.

(Olifant-ervarings het nie net by die piekniekplek op ons gewag nie. In die wildtuin iets gesien wat lyk doos ‘n droewe begrafnistoneel. ‘n Klompie volwasse olifante staan skynbaar rond hartseer rond en flap die ore om vyf klein olifantjies wat doodstiul tussen hul bene lê. Toe ons ‘n uur later weer verbykom, was almal weg – ook die “lykies”. Was gelukkig net ‘n oggend-siësta-tjie gewees.)
Profile photo of Uit Melkbos

APTYT RAAK NIE VERSADIG

Augustus 3

IMG_2881-001

Groenrugreier op laagwaterbrug oor Olifants.

Ex Africa semper aliquid novi. Op hierdie baie waar Latynse spreuk het ek my al telkens beroep as ek oor ons bos skryf. Ook uit hierdie geliefde stukkie Afrika kom altyd iets nuuts.

Van ‘n intieme leeutoneel tot ‘n bedrywige swerm lepelaars tot ‘n verkeidenheid klein bokkies het vir nuwe ervarings gesorg toe ons verlede week saam met Jaap en Marlene Duvenage van Pretoria Balule toe is vir die eerste van drie besoeke hierdie wintervakansie.

Die leeus het ons so tien kilometer anderkant Tshokwane gekry op pad Satara toe. Vlak langs die H1 – 4. Twee kraagmanne en ‘n wyfie. Ons het skaars stilgehou toe die een mannetjie sy amoreuse bedoelinge laat blyk.

Die wyfie het nie op haar laat wag nie. Amper binne vatafstand beleef ons toe ‘n slaapkamertoneel soos min. Een foto wys hoe die ou se ruggraat eintlik knoppies trek van inspanning.

In my kop “komponeer” ek toe vinnig die volgende versie: Kraagman, kragman, grootmeneer; kopuleer vlak langs die teer; ná bietjie rus toe soek hy meer; hy doen dit weer…en weer .. en weer.

Van die hoogwaterbrug oor die Olifants het ons die swerm lepelaars lank dopgehou. Blykbaar was op daardie kolletjie ‘n digte lot paddavissies of
Leeuplesier langs die H1.

IMG_2828

Leeuplesier langs die H1.

watergoggas saamgetrek. In die geselskap van ‘n klompie wit reiers het die seldsame watervoëls op daardie buit toegesak met ywer en energie. Dit was net wit vlerke en plat pienkerige snawels wat skep-skep sonder ophou. Wat ‘n gesig. Voorheen het ons lepelaars net een-een of twee-twee waargeneem by onder meer die Sunsetdam.

In die bosse naby Balule het ons die klein bokkie gewaar wat duidelik anders was as ‘n steenbokkie of ‘n duiker. Ongetwyfeld Sharpe se grysbok – die eerste keer dat ons ene doodseker identifiseer. Nog ‘n eerste: die eerste keer dat ons op een reis so ‘n verskeidenheid klein bokkies raakloop: ook steenbokkies, duikers, klipspringers en baie bosbokkies. Almal, buiten die bosbokkies, is net tussen 50 en 60cm hoog. Die bosbokkie is 80cm.
Lepelaars by hoogwaterbrug oor die Olifants.

IMG_2857-001

Lepelaars by hoogwaterbrug oor die Olifants.

Oor die laagwaterbrug by Balule kon ons die eerste keer in drie jaar kortpad Olifants toe vat. Nogal lank gevat om dit te herstel na die vloedskade van 2012. Olifants net om die draai is die een bonus. Die ander is die wonderlike fotogeleenthede wat die herstelde brug bied. Het ‘n foto van ‘n groenrugreier van die brug af geneem waaroor ek in my noppies is. Het ook die groen oase van Balule met sy groot essenhoute en worsbome oorkant die rivier uit alle hoeke bekiek. En die asemrowende sonsondergange …

Daardie aristokraat van die bokwêreld die swartwitpens het groot opgewondenheid in die Honda-tjie meegebring. Ons het so agt of tien van hulle by die N’watindplofu gekry, naby die die afdraai van die S36 na Nhlanguleni. Tussen die bome en lang gras moes ek fyn korrel vir foto’s. Maar op my kamera is die bewys dat hulle daar was. Dit was nie die eerste keer dat ons hulle in daardie omgewing sien nie. Maar elke keer dat jy ‘n swartwitpens sien, is in my boekie so heerlik opwindend soos die eerste keer.

• ‘n Minder plesierige eerste was die kwaai wind by Balule Vrydagaand. Gelukkig was ons hoenderdye klaar gebraai. Jaap is ‘n meester by die kole. Ons moes egter maar skarrel om ‘n beskutte eetplekkie te vind. Toe ons in die rondawel kom, was die plek vaal van die stof wat uit die grasdak neergedaal het. Die wasbakke in die ablusieblok was bruin gestreep soos ‘n kamoefleerpak. Nietemin – Balule, ons kom weer en weer. Soos daardie leeumannetjie op die N1 s’n is ons aptyt eenvoudig onversadigbaar.
Aristokrate van die bos.

Aristokrate van die bos.

SKAKEL IN GROOT MIRAKEL

Julie 21

Êrens in 1986 merk P.W. Botha moedeloos op: “Doktor, weet jy wat? Ek dink ons moet hardegat wees. As ons ondergaan, gaan ons hardegat onder.” Nie nodig gewees nie, skryf spioenbaas Niël Barnard in sy pakkende relaas oor die Groot Mirakel – die vreedsame oorgang tot ‘n ANC-regering in 1994 – in “Geheime Revolusie – Memoires van ‘n spioenbaas”.

“Daar was ‘n ander, veel beter opsie,” bevind Barnard tereg ter aanvang van sy boeiende maar nogal omstrede boek. Dié opsie was natuurlik: Praat met die ANC. In soveel woorde: Praat met Nelson Mandela.

Met Nelson Mandela het Barnard self op 25 Mei 1988 begin praat toe hy gevangene 46664 – toe nog in ‘n blou tronkoorpak – in die Pollsmoor-gevangenis besoek het; die eerste van byna 50 meesleurende, grootliks geheime gesprekke.

P.W. Botha het ‘n jaar en ‘n paar maande later, op 5 Julie 1989, gevolg, grootliks danksy Barnard se oorreding. Botha het die ANC-leier – fier en statig in ‘n splinternuwe blou dubbelborspak – verrassend hartlik in Tuynhuys ontvang.

Presies dit – praat met die ANC – het Ton Vosloo, redakteur van Beeld, in Januarie 1981 voorgestel – sewe jaar voor Barnard se gesprek in Pollsmoor, agt jaar voor Botha s’n in Tuynhuys, en amper ‘n dekade voordat die aanstaande president en internasionale ikoon op Sondag 11 Februarie 1990 uit die Victor Verster-gevangenis sou stap.

Vosloo se oproep het Botha destyds met afgryse laat sidder. Dit is nie bekend watter reaksie sy opspraakwekkende woorde in die kollektiewe veiligheidgeledere, by Nasionale Intelligensie en by Barnard self uitgelok het nie. Hierdie baanbrekende moment uit die binnekring van konvensionele Afrikanerdom word, dalk om verstaanbare redes, deur Barnard verswyg.

As kollega van Vosloo wat self in 1981 deur sy uitspraak ietwat onkant gevang is, het ek by die lees van die Barnardboek opnuut gewonder: Hoe sou die geskiedenis dalk verloop het as vroeër na Vosloo geluister is? Kon ‘n paar vrugbare jare vir Suid-Afrika nie dalk daardeur gewen word nie?

Agterna gesien, is dit klinkklaar duidelik dat Vosloo geen skielike bevlieging gekry het nie. Sy profetiese visie was die manifestasie van ‘n nuwe realisme wat al geruime tyd by verligte redakteurs en hul koerante teenwoordig was. Wat die oproep wel was, was ‘n soort waterskeiding. Asof deur ‘n onsigbare krag aangedrewe, het koerante soos Beeld, Die Burger en Die Volksblad daarna al hoe sterker die pas begin aangee in ‘n uitbreidende soektog na geregtigheid, menswaardigheid, versoening, verandering en hervorming.

‘n Gedugte arsenaal wette het bestaan wat die Regering van die dag as’t ware as ideologiese koevoete wou gebruik om hierdie bewoë Afrikaland om te buig tot iets anders as wat die hy in die wieg gelê was om te wees. Bewysbaar uit koerant-argiewe, het die drie Afrikaanse dagblaaie in die Naspers-stal, in gelid met hul Sondag-suster, Rapport, dit konsekwent en toenemend hul taak gemaak om sulke ideologiese koevoete te identifiseer, te bevraagteken te help begrawe.

Die onhoudbaarheid van allerlei arbeidswette, veiligheidswette, maatskaplike wette soos die sogenaamde Ontugwet, die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike en, les bes, daardie hoeksteenwet van apartheid, die Wet op Groepsgebiede, is rondborstig onder die loep geneem. Onverskrokke kollega Willem Wepener van Beeld het pront verklaar: Skrap die Groepsgebiedewet dadelik! Ook dit het Tuynhuys in ‘n kruithuis omskep.

Toe die gehate Paswette in April 1986 verdwyn het, het Afrikaanse koerante hartlik saamgejuig met die swart menige wat van een van sy swaarste apartheidsjukke bevry is.
Oor groepregte in ‘n nuwe, demokratiese bestel het die koerante nuut en inklusief begin dink. Die Burger (redakteur: Wiets Beukes) het hierin ‘n leidende rol gespeel. Vir “magsdeling” wat lank ‘n taboewoord vir Nasionaliste was, het my eie koerant, Die Volksblad, om bestaansreg in die politieke woordeskat gepleit – reeds in 1984, lank voordat enige minister die gelaaide begrip oor stywe lippe sou neem.

Met die weermag en polisie is gereeld in die gerig getree oor magsmisbruik, versmorende wette en hardhandigheid wat nie die toets van lig kon deurstaan nie. ‘n Sensitiewe kwessie was die weermag se voortgesette konkelry met die rebellebeweging Renamo nadat die verdrag van Nkomati met Frelimo gesluit is. Koerante se vrae en vermanings is onboetvaardig begroet: “Julle doen die vyand se werk vir hulle.”

Insigte wat in hoofartikels en politieke rubrieke uitgespreek is, het nie net tot spanning met Tuynhuys en ander leidsliede gelei nie. Dit het ook op grondvlak enorme verwydering gebring van Afrikaners wat wou vasskop – en diesulkes was onheilspellend volop. Mense vergeet met watter rasseskrede die Konserwatiewe Party by die stembus gegroei het totdat dit in Mei 1987 die Progressiewe Federale Party as amptelike opposisie onttroon het.

Met ver-regse elemente in die kerk, kultuurkringe en die politiek is, in koerantkolomme sonder aansiens des persoons, energiek en vreesloos gestoei. Die konflik was vurig, gelaai met dreigemente wat soms werklik in geweld oorgegaan het.

Koerante het in daardie stormagtige dekade ‘n kragtige rol gespeel om die harte en verstande van gewone Suid-Afrikaners vir verstandigheid en realisme te wen, en om terselfdertyd die denke van voetslepers in die regering te probeer swaai. Veral Engelse kommentators, ook in die buiteland, het entoesiasties kennis geneem.

James McClurg, ombudsman van die Cape Times, het byvoorbeeld op 9 Februarie 1990 gevra: “When historians turn their eyes on this era, will they reserve a chapter for the contribution of the verligte Afrikaans press towards change in SA? If not an injustice will be done.“ Wonder wat McClurg sou dink van ‘n Niël Barnard-uitspraak soos die volgende: “Al hoe meer sakelui, kerklikes, akademici en selfs sportlui het sedert die middel tagtigerjare deel van ‘n groeiende koor ten gunste van ‘n politieke skikkingsproses geword.” Hy meld nie die koerante nie.

Dat hervorming-gedrewe koerante met hul omvangryke invloed nie sy lysie kon haal van voorlopers in die gistingsproses nie – sportlui wel! – is dalk te verklaar uit ‘n amper uit die bloute opmerking vroeg in die boek: Dat die pers nie nie een van sy “gunsteling-instellings” is nie. Vooroordeel is al moontlike verklaring.

Spesifiek oor die gesprekke met Mandela, skryf Barnard voorts in dieselfde kwetsende trant: “ ‘n Mens sidder om te dink wat die gevolge kon wees as dit van meet af aan onderworpe was aan die fanfare, bespiegelinge en wolhaarstories wat joernaliste dikwels opdis. Dit sou SA sonder twyfel sy vreedsame revolusie gekos het.”

Elders meld hy dat 80% van intelligensiedienste se inligting uit openbare bronne soos die media kom. Hy spreek die vermoede uit dat lesers seker verras sal wees om dit te verneem. Saam gelees met die verwysing na “bespiegelinge” en “wolhaarstories” sal sy lesers dalk des te meer verras wees oor daardie statistieke!

As spioenbaas is hy tog seker bewus dat daar maar atyd mense en instansies is wat met hul eie politieke agenda “wolhaarstories” probeer verkoop – ook aan koerante. Van sulke smouse is, om ‘n veiligheidsterm te gebruik, “bronne” wat jy nogal vertrou!

‘n Mens sou sy stelling so op sy kop kon omkeer: “ ‘n Mens sidder om te dink wat die gevolge kon wees as koerante hulle nie so ondubbelsinnig teen die dwaasheid, voetslepery, en dubbelpratery in sekere politieke en veiligheidskringe verset het, en nie so toegewyd ‘n ingeligte openbare mening help bou het nie.” Dat dit SA sonder twyfel sy vreedsame revolusie sou gekos het, sal ek nie beweer nie. Dis ‘n kwaai aanspraak. Maar moenie vergeet nie dat die wit kiesers in die finale instansie die vreedsame herskikking in die deurslaggewende referendum van 1992 moes goedkeur. ‘n Nee-stem kon rampspoedige gevolge ingehou het.

Twee koerantuitsprake oor Mandela haal ek graag hier op. Die eerste was in Die Volksblad van 7 Augustus 1987 – vier en ‘n half jaar voor die historiese Sondag. Die koerant het gewaarsku oor die implikasies as so ‘n mitiese simbool in aanhouding sou sterf. Die woord “krisismoment” is gebruik om dood in aanhouding te beskryf. Die tweede was op 18 Julie 1988, Mandela se sewentigste verjaardag, in Beeld. Van Willem Wepener se klinkende oproep om vrylating van die 70-jarige is internasionaal ‘n ophef gemaak.

Beukes het op sy beurt ‘n jaar later, in 1989, in ‘n Dawierubriek in Die Burger oor groepregte geskryf op ‘n wyse waaroor Mandela uiters dankbaar en positief was. Hy het dit as ‘n gesonde vertrekpunt vir vrugbare gesprek beskou en F.W. de Klerk opgewonde daarop attent gemaak. Mandela was ‘n gereelde Burgerleser.

My vraag is: Kan dit wees dat koerante met hul konstante bydraes onvoldoende solidariteit met Barnard se geheime pogings getoon het om in sy oë die status van betroubare bondgenote en waardevolle deel van sy ondersteuningsbasis te verwerf?

Daarmee skiet ek nie die boek af, soos sommige ander kritici nie. “Geheime revolusie” – veral die tweede helfte – bied ‘n haas weergalose weergawe van die “geheime revolusie” agter die skerms. Die driehoeks-dinamiek van Barnard–Botha-Mandela word insiggewend belig, met al die verborge drama en intriges.

Vanselfsprekend kan die leser egter nie die boek los maak van al die vurige kole uit sovele oorde nie. Onwillekeurig soek jy leidrade oor die hoe, wat en waar van die wye ontsteltenis. Vir wat dit werd is: My indruk hieroor is dat Barnard die slagoffer was van ‘n aanslag wat verreweg nie in elke opsig verdiend en regverdig was nie.

In ‘n sekere sin het ek wel verstaan hoekom soveel gramskap oorgeborrel het. Die Groot Mirakel had immers ook vele ander (openbare en verborge) skakels as die een wat Barnard intiem meegemaak het en beklemtoon. Klaarblyklik het verteenwoordigers van party ander skakels dieselfde gevoel gekry as ek oor die hantering van die koeranteskakel: Dat dit bra afwysend en sonder erkenning afgemaak word.

Dié dat soveel van ons ongenooid saampraat: As ‘t ware by ‘n soort “fees van die ongenooide” resensente kom aansit.

Tot sy krediet wil ek graag daaraan erkenning gee dat Niël Barnard nooit ongeneë was nie om oor die Mandelasage die deur op meer as net ‘n skrefie oop te trek vir senior joernaliste wat hy genoeg vertrou het. Ons had vrugbare en openhartige gesprekke. Ek onthou veral ‘n gesellige Sondagbraai by Ton Vosloo se huis in Wynberg, nogal met die veelseggende naam “Spyglas Hill”.

As gevolg van sulke toeligting verstout ek my om te beweer dat ons Naspersers nogal goed ingelig was – beter as van P.W. se kabinetskollegas wat later in stomme verbasing gereageer het.

Ek skuld die skrywer ‘n persoonlike dankwoordjie vir die wenk dat Botha se sekretaris, Ters Ehlers, met ‘n gewone mik-en-drukkie foto’s by die geheime ontmoeting met Mandela in Tuynhuys geneem het. Dit het tot ‘n wêreldscoop vir Die Volksblad gelei. Hy het by ‘n ander geleentheid byna tien getikte bladsye notas van ‘n gesprek met Mandela aan my beskikbaar gestel. Kon aan die hand daarvan ‘n redelik in-die-kol-Willemrubriek skryf.

En, ja, sal ek maar die sluier lig oor Barnard se betrokkenheid by ‘n abortiewe Roelf Meyer-poging om die uwe in 1992 as Sekretaris van Inligting te werf?

Barnard en politieke beriggewer wyle Alf Ries was hartlike vriende. In sy boek is ‘n foto wat hul ontspanne verhouding mooi illustreer. Kyk net hoe genoeglik kuier hulle saam op ‘n gesamentlike verjaardagparty op die SAL Matroosberg saam met die president en sy vrou.

Alf het graag vertel van ‘n ete in Barnard se kantoor in die H.F. Verwoerdgebou . Twee kelners dra silwer skottels in. Die deksel word gelig en twee fris krewe lê en wag. Ries is in ‘n sielestryd. Sal hy saam eet en hoop op die beste? Sal hy sy gasheer oor sy akute allergie vir skulpvis inlig? Ries kies die weg van eerlikheid en openheid. Sonder om doekies om te draai, deel hy sy probleem mee. Doodreg, verseker Barnard hom. Hy skakel en praat gedemp oor die telefoon. Later kom ‘n kelner met …. twee hamburgers.

Openheid en eerlikheid. Nie doekies omdraai nie. Dit is gesonde joernalistieke beginsels. Hopelik word dit deur hierdie kommentaar weerspieël.

(Die artikel verskyn vandag in Volksblad.)

3-03-hardekool1

OPERASIE HARDEKOOL

Julie 12

Operasie Hardekool. Dis my kodenaam vir die stuk wintervakansie saam met Marisa en die Claassens-kinders, Jacob, Thomas en Christopher.

Hierdie koning van die combretums, klipharde ysters versteek agter misleidende silwergrys bas, is onlosmaaklik deel van die boskultuur. Ná die vakansie bestaan ‘n ewe sterk koppeling met die Tarlehoetkultuur.

Vir eers is die naambord nou ‘n karaktervolle stuk hardekool. Dit staan trots by ons ingang in Wildevy, vasgeskroef aan twee hardekoolpale – onverwoesbaar deur die ongenaakbarste element.

Geskenke uit hardekool is vervolgens oor en weer verwissel.

Die seuns is deur Oupa en Ouma beloon vir skitterprestasies in die nuwe omgewing in KwaZulu-Natal met drie kunstige renosters, lewensgetrou uit hardekool gekerf deur die Zimbabwiese kunstenaar, Phios, wat deur Lukas van der Merwe (Rooibos 343) ontdek is.

Toe moes mamma Marisa vir haar verjaardag opsluit ook ‘n hardekoolgeskenk kry. Jacob en Thomas se keuse het geval op ‘n soliede stomp met plek vir sewe kersies, ook uit Phios se werkwinkel. (Christopher se geskenk was ‘n pienk serpie met ‘n olifantmotief).

Marisa was oorstelp. Op haar inisiatief kry Ouma toe ‘n soortgelyke kershouer – die Claassense se dankie vir al haar bederf. Dit staan amper die eetkamertafel vol.

Oom Lukas is daarop nie links nie en dra vir albei die dames ‘n tweede, kleiner, kershouer by met sy komplimente. Dis nou net hardekool waar jy kyk by die Van D’s!

Die oprigting van die nuwe naambord was omtrent ‘n seremonie. Die joviale Patson 2 (Christopher is “Patson 1”) het die gate gegrawe. Die seuns het die naambord plegtig na sy staanplek gedra en die toneel help afrond.

Die res van die dag is bestee deur die opruiming van die werf ná die olifantverwoesting van die vorige winter. Talle bome, veral raasblare, is ook op 154 omgestoot. Patson 2 het heeldag gekap en gesaag. Die kinders het entoesiasties stompe gesleep en dies meer. Die uitgelate Christopher was op die voorpunt – hy verklaar mos ewe opgeruimd niks is vir hom so lekker soos werk nie!

Nog ‘n groot hout-taak het vir die seuns voorgelê. Die vorige swarthout-naambord (oorspronklik deur Dick Turpin van Melkbos) het al kwaai onder die son en reën deurgeloop. Dit is met skuurpapier en vernis gerestoureer en kom nou op ‘n beskutte plek op die stoep – bo ‘n groot foto van Caroline Pols se luiperd wat sy in Maart net langs die braaiplek afgeneem het. (hvd)

STOMPIE OP MY KAMPVUUR

Julie 10

Sabiepark is ‘n unieke bosreservaat waarheen ‘n mens kom om jou siel te laaf … in stilte en rustigheid. Hy wil niks anders wees nie. Bepaald nie ‘n jolige vakansie-oord waarheen mense kom vir pret en plesier nie.

Om sy boskarakter in stand te hou, het die park ‘n pakket eiesoortige reëls wat veral oningewydes ongelukkig nie altyd verstaan nie.

Die spesiale aard en status van Sabiepark is gister op ‘n goed bygewoonde eienaarsvergadering met akklamasie bevestig. ‘n Voorstel dat toestemming gegee word vir die gebruik van gholfkarretjies in die park is van die tafel gevee. In sterk opposisie teen die mosie is o.m. daarop gewys dat net kusoorde en gholflandgoedere deur die voorsteller as voorbeelde voorgehou is van plekke wat wel sulke karretjies toelaat, en dat sulke vakansieplekke absoluut niks met die bos en sy kultuur gemeen het nie.

Eienaars het beklemtoon dat die primêre rede waarom hulle Sabiepark gekies het, hul geld hier belê het en telkens – selfs uit die verre Kaap en die buiteland – hierheen terugkeer, is omdat dit nog so heerlik bos is. Sabiepark se reëls oor die benutting van eiendom en die park se geriewe kan vir oningewydes vreemd en plek-plek dalk onnodig beperkend lyk. Dit is egter van die ontstaan van Sabiepark af in 1979 telkens getoets en noodsaaklik bevind.

Die reëlboek is nie ‘n a la carte-spyskaart nie, is gesê. Eienaars kan nie op grond van persoonlike gerief, voorkeure, smaak of omstandighede kies wat hulle op hul borde wil plaas en die ander eenkant toe skuif nie. Dit is ‘n pakket wat daarop gemik is om die grootste belang van die grootste segment eienaars te dien.

Natuurlik kan ‘n mens hier skawe en daar timmer. Maar aan die kern kan jy nie torring nie, Dan begin verval, soos elders waar met enkele toegewings hier en enkele toegewings daar begin is. Gee gholfkarretjies vandag die groen lig; volgende is dit drawwers. Dan fietsers. Waar eindig dit alles?

Die wens is uitgespreek dat aspirant-kopers en nuwe eienaars behoorlik voorgelig sal word oor die onderskeidende kenmerke en gevestigde praktyke van Sabiepark, asook die redes vir bepaalde reëls, sodat misverstande so ver moontlik vermy sal word. Stem van harte hiermee saam, en gooi terselfdertyd nog ‘n stompie op my kampvuur. .
Profile photo of Uit Melkbos

GOUE DRIEHOEK

Julie 9

IMG_2457-001

See van buffels by die Orpendam.

Die Goue Driehoek in wildtuin-terme is vir my onteenseglik die driehoek Skukuza, Tshokwane, Onder-Sabie, Skukuza. Beveel dese en gene altyd daarheen aan vir ‘n vinnige, vrugbare besoekie. Ses uur van wildtuinplesier wag. Op grond van ‘n resente ervaring wil ek ‘n blindedermpie byvoeg. Dis die Orpendam-omrit

Ek en Tokkie het saam met ons dogter Marisa Claassens, Jacob en Thomas (11) en Christopher (6) die Goue Driehoek verken. Eerste been: Skukuza – Tshokwane. Ek kry toe die ingewing om nie by Tshokwane die gewone H10 te vat nie, maar eerder so drie kilometer verder op die H1-3 te ry en die natuurskone omrit aan te durf.

Op daardie drie kilometer anderkant Tshokwane kry ons toe ons eerste leeus van die dag (later naby Skukuza nog gekry). Op die omrit, by die afdraai na die dam self, ry ons ‘n see van buffels binne – dalk die grootste trop wat ek nog gesien het. Honderde, honderde, grotes en kleintjies. Maar taamlik verspreid.

Olifante was deurgaans volop en renosters glad nie skaars nie. Vir nommer vyf, die luiperd, moes ons egter werk. En Job se geduld aan die dag lê.

Net verby die Sunsetdam was ‘n verkeersknoop aan’t opbou soos slegs op die “wildtuin se N1” moontlik is. Ons was gelukkig strategies geplaas. As die ouens voor ons net wou aanskuif. AS …….. Dit word weer by ons ingevryf dat party ongepoetste jafels hul maniere by die venster uitsmyt wanneer hulle iets spesiaal sien.

In die Land Cruiser voor ons was twee egpare. Die mans had die allemintigste lense. Daarmee het hulle seker ‘n duisend foto’s gekiek. Eenvoudig net verseg om te roer om iemand anders ook ‘n kans te gee.

Ten einde laaste het ons darem die luiperd in ‘n oop kolletjie gesien. Ons het nie oorgeloop van vriendelikheid jeens die hardekwas manne in die Land Cruiser nie. Hul verweer was verbasend. Hulle neem foto’s vir National Geographic!

‘n Swerm aasvoëls in die bome het verraai dat daar ‘n vangs was. Die luiperd was mank en het uiters ongemaklik beweeg – iets waaraan ons op ‘n vreemde wyse herinner is. Kort daarna het ons gehoor van die luiperd-aanval op die gids in ‘n safarivoertuig op dieselfde roete dieselfde dag. Maar ons s’n kon dit darem nie gewees het nie. Die insident was ‘n hele paar kilometer nadir aan Skukuza.

Die Sunsetdam was, soos dikwels, ‘n fees met ‘n groot drukte van waterdiere en –voëls. As bonus ook ‘n kameelperd wat knieë knak om op die hitte van die dag gulsig te drink, omring deur rooibokkies en nimmersatte.

IMG_2446-001
Berghaan se brekfis.

Twee voëlwaarnemings het ‘n tweede nare waarheid van die hedendaagse wildtuin opnuut tuisgebring. Dit is hoe roekeloos spoedvrate op die hoofpaaie heen en weer jaag. Die eerste was ‘n berghaan wat die laaste stukkies vlees van ‘n bondeltjie vaal vere afskeur. Duidelik die slagoffer van ‘n jaagduiwel. Die tweede was werklik hartverskeurend: ‘n Patrysie wat hartseer rondom sy sterwende maatjie ronddans en paniekerig probeer om die feitlik lewelose liggaampie van die teer af weg te kry.

Terwyl ons op die toneel was, is die enetjie wat raakgery is, dood. Die oorlewende was verpletterd. Die toneel het my so geruk dat my kamera ongebruik langs my bly lê het. Eers later het dit tot my deurgedring die roerende toneeltjie kon aangrypende foto’s opgelewer het. En ek noem myself ‘n koerantman!