“ENE JANNIE”

IMG-002

Die dag toe ek my naam vergeet het. Dis die titel van ‘n roerende werk van die skrywer F.A. Venter nadat hy in sy later jare ‘n beroerte gehad het.

Die dag toe ek my naam verloor het. So sou hierdie kort skrywetjie kon heet.

Of: Die dag toe ek skielik “ene Jannie van Deventer” geword het.

Ek skryf na aanleiding van die gedugte Crito se blog in die jongste Litnet-nuusbrief. Die geheimsinnige Crito – ‘n gerespekteerde (en gevreesde) naam in die boekewêreld – lewer kommentaar op Tobie Wiese se resensie in Rapport van die Naspers-feesboek ‘n Konstante revolusie, saamgestel deur Lizette Rabe.

Wat Cito oor Tobie se resensie op die hart het, kan lesers van hierdie blog gerus op Litnet gaan naspeur. Soos altyd oor resensies van allerlei aard, spreek hy/sy prikkelende – soms uitdagende – menings uit.

Waarby ek toe in daardie resensie vassteek, is ‘n terloopse opmerking tussen hakies: “Daar het glo destyds net een Nasperser voor die WVK gaan getuig, ene Jannie van Deventer.”

Nee, Crito, dit was nie “ene Jannie van Deventer nie”. Dit was ekke, Hennie – wat toe Naspers se hoof van koerante was. Was onder die indruk dat daardie feit nogal redelik goed geboekstaaf was.(Klik vir ‘n Sapa-verslag op http://www.justice.gov.za/trc/media/1997/9707/s970703a.htm Die opskrif is: AFRIKAANS EDITOR TELLS TRC OF DEATH THREATS FOR SUPPORTING REFORM )

Ek weet ek steek my nek uit en sal daaroor opnuut getrap kan word, maar die waarheid kan tog nie ontken word nie. Die besluit van 127 Jong Turke om teen die wense van Ton Vosloo, van myself en van die Naspers-direksie by die WVK (Waarheids-en-Versoeningskommissie) van Desmond Tutu te gaan boete doen oor die “sondes” van ons koerante in die ou bedeling, was vir my, om dit sag te stel, ‘n teleurstelling.

Vandag het ek meer begrip vir hul optrede. Destyds het ek dit beskou as idealisme wat op loop gesit het. My eie voorlegging aan die WVK was uit ‘n totaal ander perspektief : die Afrikaanse koerante se sware stryd om regverdigheid en ‘n demokratiese bestel aan regse Afrikaner-gemeenskappe te “verkoop”.

My standpunte daaroor was aanvanklik net vir Ton se oë bedoel. Hy het gemeen dit kan op sy eie bene as ‘n selfstandige voorlegging staan. Toe pos ek dit dadelik – voordat hy dalk anders begin dink.
My sienswyses was nogal omstrede.

‘n Monitor-onderhoud hieroor met ‘n siedende Chris Louw van die SAUK staan my nog helder voor die gees. Volgens Louw het ek my oor die rol van Afrikaanse koerante uitermate aan “romantisering” besondig. Hy het my oor die eter so bevlieg dat in Rapport ‘n spotprentjie deur Lou Henning daaroor verskyn het. Dit hang tussen ander spotprente teen my studeerkamer. Dis hierbo te sien.

Hoekom ek daardie geskiedenis nou weer oopkrap? Nie omdat ek met Crito wil swaarde kruis nie. Op my oudag soek ek net vrede. Sê dan maar met die oog op historiese juistheid. Ek is immers Hennie – nie “ene Jannie” nie.

Nie juis ter sake nie maar tog interessant genoeg is dat Crito se verwysing na “Jannie van Deventer” en my vorige blog, Die bitter van verloor, in dieselfde Litnet-nuusbrief verskyn.

Ek skryf hierdie op Erfenisdag . As Crito sou braai – mag die vleis perfek van die kole kom

BITTER VAN VERLOOR

Die rugbygogga het my in 1951 gebyt. Ek was 10. In Durban het ek die Natal Daily News verslind vir nuus oor die Springbokproewe. Hendrik Scholtz Vosloo (Hennie Muller), vlieënde agtsteman, was my held. Daar was ook ander helde: Hansie Brewis, Tjol Lategan, Basie van Wyk, Jaap Bekker…

My hart, my lojaliteit en al my jeugdige persepsies van Suid-Afrikaanse onoorwinlikheid is saam met Basil Kenyon en sy span Groot Brittanje toe.

Elke oomblik van elke wedstryd op daardie toer, al 31, het ek voor die radio in ons huis, Botanic Grove 9, voor die radio ingedrink. Ai, wat ‘n genot was dit nie toe ons die arme Skotte met 44-0 op Murrayfield platloop. Onthou, ‘n drie het toe drie getel – nie vyf punte soos nou nie. Met die verloorders is gespot soos met die Springbokke nou.

Die toer-rekord was die allerbeste in die geskiedenis van Springbokrugby – 31 gespeel, 30 gewen, net een verloor.

Daardie verloor was in die tiende toerwedstryd op 10 November 1951 op Twickenham. Teen ‘n uitnodigingspan van die London Counties. Die minute het begin aftik vir die eindfluitjie om te blaas, toe is die Bokke nog 9 -11 agter.

Hierdie jong ondersteuner was rasend. Dis tog onmoontlik. Hoe kan my Bok-helde ooit aan die verloorkant wees! Toe dinge werklik begin reddeloos lyk, het ek wanhopig opgespring, by die voordeur uitgestorm en om die huis gehardloop.

Na die rondte om die huis , het ek gou weer gaan luister hoe sake staan. Daar was ‘n minuut oor. Die telling was steeds 9 – 11. Ek is ‘n tweede keer om die huis. Toe ek inkom. was die slag gelewer. Die Bokke het verloor. Die wenkaptein van die London Counties sou die tradisionele springbokkop ontvang as simbool van sy span se sege.

Saterdagaand wou ek weer om die huis hôl. Was dit werklik moontlik dat die Bok-span (met al sy gebreke en mankemente) teen die Japannertjies kan verloor? Nee, dis tog ondendenkbaar. Maar in die doodsnikke bly hulle op ons doellyn. Die bal skiet vleuel toe en hy rond af.

Francois Louw sit verslae op die groot skerm. Sy stroewe spanmaats se skouers hang. Het ek toe gehôl? Nee, ek het nie. Die ou bene is te stram vir sulke aksie. Ek het maar net stadig uit my stoel orent gekom en die laaste paar druppels uit my botteltjie chenin blanc geskud vir ‘n wrewelrige heildronk op die seëvierende Japanners.

Al is ek lankal van alle illusies van Bok-onoorwinlikheid gestroop, was die verslaenheid nie minder nie as 64 jaar gelede.

SUG VAN ‘N SELFOON

MOET dalk ‘n ouderdomsperk op hierdie stukkie plaas. Die gevaar bestaan dat byderwetse jong mense van meer resente generasies hulle uit lit uit gaan lag as hulle dit per ongeluk raaklees. Maar die waarheid moet uit. Kom wat wil.

Wat volg, is ‘n selfoonstorie met ‘n verskil. Die tema: twee van daardie noodsaaklike euwels wat saam wegraak. Skoonveld. Nogal toe ons van Bybelstudie terugkom die ontdekking gedoen.

Tokkie wat goed is met soek, het kaste deurgesnuffel, kussings opgelig en onder beddens geloer. Sonder vrug.

Toe kom ek vorendag met ‘n taamlik vanselfsprekende voorstel. Ons bel net my nommer op die selfoon. So gesê, so gedaan. Prr-prr-prr … “Van Deventer hier. Ek is ongelukkig nie op die oomblik beskikbaar nie.”

Plan B: Bel Tokkie s’n. Maar wat is die nommer? Sy ken dit nie. In haar adresboekie is nommers van ‘n duisend bekendes en onbekendes. Haar eie ontbreek. Dié goed bewaarde geheim word net op twee plekke verklap. Die een is agterop haar foontjie waar sy dit met kleeflint vasgeplak het. Die ander is op my lys kontakte, wat in die omstandighede natuurlik onbereikbaar is.

Kom ons bel Mariza. Dis ons skoondogter op George. Goed sy skakel dadelik ma se nommer. Maar .. stilte. Later wil ek my verbeel ek hoor ‘n bedremmelde geluidjie wat klink soos ‘n selfoon wat ver-ver om hulp roep. Maar waar is daardie ver? Dis waar die knoop lê.

Bel weer vir Mariza: Gee daardie nommer dat ek dit sommer met ons eie landlyn kan skakel. Skakel dit, skakel dit weer en skakel dit weer en weer. Dieselfde dowwe klankie bereik my ore. Soos ‘n fluisterende noodkreet of ‘n beswaarde wat diep sug. Maar dit bereik ook net my ore. Tokkie rapporteer sy hoor absoluut niks.

Die “missed calls” stapel op. Tot nommer 22 vorder ons nie juis nie. Net een leidraad kom mettertyd na vore. Die geluidjie hou op sodra ek die studeerkamer verlaat.

Probeer dan maar weer. Oproep nommer 23 lewer eers eenderse resultate as al die voriges. Maar tog. Klink – onwaarskynlik soos dit is – of die geluid uit die boekrak se omgewing kom. Dalk uit die onderste laai waar ek my kameras hou?

Ruk hom oop. Ja werklik. Daar lê die Blackberrytjie dapper en fluister. Net blerrie-blerrie saggies.

Het die ding klaarblyklik per ongeluk in die laai gesit saam met die kamera se battery wat pas klaar gelaai was.

Myne? Dié kry my vasbytervrou toe sy die derde keer die BMW gaan deursoek. Onder die bestuurder se sitplek. Hoe op deeske aarde dit daar gekom het, is onverklaarbaar.

Maar hie’rs ons toe, ‘n halfuur later, dankbaar en verheug met ons vermiste fone verenig.

Net so effens ongemaklik en verleë dat ons midde-in die soektog soms so lelik gepraat het – en dit ná Bybelstudie nogal.

Ook met mekaar nie oorvriendelik gewees nie – nadat ons juis pas uit Spreuke so mooi geleer het om die huwelik te koester.

EEU VAN KOLLEGEKULTUUR

Kollegemanne van 1958, my ienkjaar.

Kollegemanne van 1958, my ienkjaar.

My geliefde Kollegetehuis op die Tukkie-proefplaas is hierdie maand 100 jaar oud. Die eeufees word gevier met o.m. ‘n gala-aand op die grasperk voor die Aula. My bydrae uit Melkbos is hierdie verkorte hoofstuk uit my boek In Kamera wat in 2003 deuir Protea gepubliseer is:

Gaudeamus igitur, juvenusdum sumus…

GOUE DAE

Elke keer as ‘n bohaai iewers oor ontgroening ontstaan, gee my gedagtes ‘n groot sprong. Kollege-tehuis toe – meer as veertig jaar gelede. Op die Tukkie-kampus is ‘n ienk toentertyd nog behoorlik gedril. Dit was modderbaddens, die “pil” (‘n aaklige konkoksie met o.m. duiwelsdrek), “nagligte”, “gatpaarties” en “p-paarties” — elkeen ‘n verskrikking op sy eie, veral as die doel was om ‘n element van weerbarstigheid te tem!

Wat ‘n “gatpaartie” of ‘n “p-paartie” behels (die “p” staan nie vir petrol nie!), behoort selfs ‘n oningewyde seker sonder veel moeite te ontsyfer. Genoeg om te sê: agterna was jou sitvlak potblou en jy van jou kroontjie tot jou toontjie nat.

‘n Ienk kon ook maar weet: vir ‘n jaar lank is hy ‘n lyfeiene vir ‘n veeleisende senior (hoeveel honderde sokkies het ek nie gewas nie!) Hy sou ‘n paar keer moes inpak en “trek” (met al sy klere, al sy boeke, al sy koffers). Hy sou moet “more meneer, middag meneer, naand meneer, reg meneer, goed meneer” tot by die ontheffing as die jakarandas kort voor die eksamen begin blom.

Op daardie welaangename dag het die geel knopie met die K finaal gewaai — een wat terwyl dit nog op die bors vertoon is, nogal vir komieklike situasies kon sorg. Byvoorbeeld wanneer Kollege en Asterhof ‘n “inter-sleep” het en die ienks dan so man-meisie-man-meisie langs mekaar sit: “K, A, K, A, K, A …!”

Modderbad, 1958.

Modderbad, 1958.

‘n Jaar van groot nederigheid was dit. Maar as dit verby was, het jy behoort. Jy het soos vir ‘n dierbare nooi lief geword vir ‘n plek van baksteen en beton, ondanks sy dun klapperhaarmatrassies, tekort aan warm water, middelmatige kos en die kwaaiste seniors op die kampus. Jou hart was in jou borskas soos ‘n uitgeswelde adamsvy, omdat jy geweet het jy is getoets en is nie te lig bevind nie.

Klop dan in deesdae se eerstejaar-studente ander soort harte? Ek wonder.

Party ouens het met Fisika geworstel. Ander met Romeins-Hollandse Reg. ‘n Derde groep met Toegepaste Wiskunde, en so aan. Maar ander noodsaaklike kennis is ook vroeg-vroeg aangeleer. Soos die sogenaamde “broek-raid”. Vir die jonger geslag: twee groepe manne (gewoonlik van verskillende koshuise) pak mekaar in die middel van die nag en trek mekaar se broeke uit — na ‘n woeste gespook, geknoop en geruk-en-pluk. ‘n Man moes net keer vir skade.

Agterna was die foto’s van ondernemende amateur-fotograwe glo buitengewoon gewild in plekke soos Asterhof en Klaradyn, waar met grote konsentrasie gesigte en ander verskuilde eienskappe met mekaar verbind is.

In die laat jare vyftig was “Tant Bella” (die lang ontslape Hotel Belvedere in Kerkstraat) se “tee” ‘n gewilde verversing onder Kollegemanne. In aansluiting daarby was in die koshuis selfs ‘n sogenaamde boozeklub” — eufemisties bierklub genoem — met die leuse: “Tee verdra geen onreg nie”. Ek verskyn links in die voorste ry van die klub se 1959-span.

Broekraid teen Voortrekker, 1959.

Broekraid teen Voortrekker, 1959.

Lank voordat kapings en ontvoerings en die klas ding in Suid-Afrika alledaags geword het, het ‘n klompie lede van die boozeklub een aand ‘n meesterplan in aksie gestel om ‘n gehospitaliseerde vriend, Jas Wasserman, uit die H.F. Verwoerd te gaan haal vir ‘n partytjie by die Fonteine. Die nodige klere is vir hom ingesmokkel en toe die besoektyd tot n einde kom, stap Jas tussen sy besoekers by die deur uit.

In ‘n stadium word hy, bierbeker in die hand, egter deur ‘n uitgelate Kollegeman laaggevat. Die verband om sy vinger wat ‘n paar dae vantevore geopereer is, is skielik ‘n bloedige pappery.

Die pasiënt is ‘n uur of wat later bekwaam deur sy maters in sy bed teruggehelp. Die dokters het net die volgende oggend maar moeilik gesluk aan die storie van die nagmerrie wat Jas in die middel van die nag uit die bed laat val het, bo-op die stukkende vinger. En die aroma wat om hom gehang het, was beslis nie dié van eter nie!

Vir die jaarlikse ienksport is aan elke koshuis ‘n kleur toegeken. Vir sy sonde is Kollege se kleur die een jaar pienk. Vir die hoogtepunt van die byeenkoms, die huiskomitee se aflosnommer, kry die manne toe ‘n ingewing. Hulle verskyn op die baan in sulke enorme pienk bloemers wat by ‘n afslagwinkel aangeskaf is — en hulle wen ver. My val die eer te beurt om met ‘n wapperende bloemer die lint te breek – die tweede jaar in ‘n ry.

Op Lentedag het ek my koshuis in die afdeling blommerangskikking verteenwoordig. My oplossing was om twee rooi roosblaartjies op die vloer van die C.H. Rautenbachsaal op te tel en op die wit suiker in ‘n kafeteria-skuierpotjie te drapeer. “Druppels bloed op ys” het die tweede prys gekry vir oorpronklikheid.

Rugby was in Kollege ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart. Groot wedstryde is gespeel, en dikwels gewen, want latere provinsiale spelers soos Nic Bojé, Proppie Goosen, Henry van Vuuren, Dries Pretorius en Koos Claassens was derduiwels.

Die onvergeetlikste rugbymomente het nie altyd op die veld afgespeel nie. Een was die aand ná ‘n belangrike wedstryd in Danville, ‘n woonbuurt wat nou nie juis met Waterkloof kan vergelyk nie. Vroue met krullers in die hare en sigarette skuins in die mond kom moedig hul plaaslike helde al gillende aan.

‘n Blondine langs die veld trek een van ons manne, Piet (Ghandi) Lategan, se aandag. Hy pyl dadelik op haar af toe toe die eindfluitjie blaas. Goed, sy sal saamgaan inryteater toe. Eers toe hy by die koshuis terugkom, vermoed hy onraad. Hy vat-vat aan sy agtersak — en bevind tot sy diepe ergernis en verleentheid hy is in sy eie motor van sy beursie be-vry.

In 1961 gaan toer Kollege se span na Vrede, Harrismith, Volksrust en Ladysmith. Ek wat nogal kan ooplê lyn toe maar ‘n ongelukkige lugtigheid op die verdediging openbaar, is ‘n verrassende keuse as een van die vleuels. Op ‘n groot rugbydag speel ons span in die hoofwedstryd teen die tuisspan. Ek is daardie dag vlagman.

In ‘n kritieke stadium van die wedstryd kry Kollege ‘n strafskop, amper op die halflyn. Dries Pretorius wat kon skop soos ‘n muil, mik pale toe. Die bal trek goed, hy trek goed… Ek wys dis oor. Die ander vlagman beduie dis mis. Terug voor die paviljoen, te midde van ‘n energieke geboe van die tuisskare, skree ‘n ou vir my: “Was hy oor?”

“Nee,” skree ek terug, “hy was mis.”

“Nou hoekom wys jy hy was oor?”

“Omdat hy amper oor was!”

In Kollege se folklore is daardie antwoord van my as ‘n voltreffer aangeteken. Laat my egter maar bely: Dit was nie ‘n stukkie flinkdink nie. Ek kon op daardie oomblik aan niks anders dink om te sê nie! Oor of mis, ons is met die beker huis toe.

KOBRAKONSTERNASIE

IMG_3266-001

IMG_3262

Kobrakonsternasie gewees by Wildevy 154, Sabiepark. Ons pak in vir ‘n vale vir die volgende dag se tot siens. Hier woerts ‘n Mosambiekse spoegkobra by die kombuis se afvoer in.

Fris vent van sowat 1,2 meter.

Volgende oomblik is die gevaarlike kalant ( hy spoeg sy gif twee meter ver sekuur in jou oogbol) anderkant uit en krul hom op onder ‘n ou vrieskas wat as bergplek vir Tokkie se lampoplie dien.

Gelukkig daag sekuriteitshoof Alfred (ook baas-slangevanger) vinnig op met die nodige oogbeskerming en vangstok.

Voordat ta hom kan kry, hang hy aan die stok, haal die Van Deventers weer asem en gaan die pakkery rustig(?) voort.

Groot krokodil laat my ril/spinnekop trek my maag op ‘n knop/maar, mens, skrik ek my nie bevange/vir al daai slange van Mpumalange!