KAR-KENADES

Die wiele van my jonkmansdae.

Die wiele van my jonkmansdae

Middag uit Melkbos

Niemand in ons familie kon of kan soos Elvis Presley sing nie. Een oom, Oom Danie du Plessis, het darem iets met die ikoon van die 50’s en 60’s gemeen gehad.

‘n Woedende Elvis het sy Tomaso Pantera onder die koeëls gesteek toe dit nie wou vat nie, lees ek vanoggend in Motors in Die Burger. My Oom Danie was ewe woedend toe sy Hudson Hornet se dakstoffering in Beaconsfieldweg, Kimberley, lostorring en op hom instort. Hy het terstond sy nuwe kar met ‘n hamer betakel!

Oom Danie was ‘n karakter. Ek was lief vir hom. Die geluk was egter nie altyd aan sy kant nie. Sy motor voor die Hudson was ‘n Peugeot 203. Daarin het ‘n kan room of iets uitgeval. Niemand kon ooit van daardie talmende suur aroma ontslae raak nie.

hudson-hornet-09

‘n Hudson soos die ene wat met ‘n hamer toegetakel is, en (onder) die teiken van Elvis se wrewel.

IMG_0001-002

My eerste wiele was ook ‘n Peugeot 203. ‘n 1953-model. ‘n Ligbloue. Het hom in my derde jaar op Tukkies gekry. Was bekend as die Santa Maria. Registrasienommer was TY 24. TY het gestaan vir Klerksdorp. TY 24 pryk vandag nog op my nommerplaat – wel TY 24 WP.

Had ook ‘n ongelukkie met die Peugeot – nie net ‘n slegte reuk nie. Het oor ‘n stopstraat gery toe ek ‘n nooientjie, Retha Vaandrager, na ‘n tafeltennisoefening neem. ‘n Botsing het gevolg. Die Peugeot het gerol, reg voor die ou Moedersbond.

Retha is hospitaal toe gebring. Daaroor was ek erg bedremmeld. Gelukkig was dit net ‘n velwond aan haar arm. Was ook erg bedremmmeld oor die feit dat iemand die nuus aan my ma-hulle sou moes breek.

My liewe Tant Minnie het dit op ‘n netjiesrige manier gedoen. Sy het Klerksdorp toe gebel en vir my ma gesê: “Hennie staan hier by my. Hy makeer niks. Maar hy was in ‘n ongeluk …. ”

Nietemin was dit geen gelukkige situasie nie. Die Peugeot was onversekerd en die geldjies skraps.

Toe gebeur ‘n storie wat onwaarskynlik mag klink, maar beslis nie die waarheid in enige opsig verdraai nie.
Ek vra op ‘n dag vir Naas du Toit, enigste tokkelok in Kollegetehuis, wanneer hy sy bydrae gee vir die Van Deventer-hulpfonds. Dit was as ‘n grappie bedoel. Naas begin egter stamel, en verduidelik verleë hy was nog vir sy maand se sakgeld.

Later kry ek van my koshuismaats ‘n bultende koevert – om te help betaal vir die herstel van die Peugeot!
So van karre gepraat: skielik pak ‘n amperse melankolie my ook oor die ander wiele van my jonkmansdae. Na die Peugeot – wat nooit weer dieselfde was nie – het gevolg ‘n donkerblou 1961 Fiat 500-stasiewa. Party vriende het hom die Skoolbus genoem. Ander die Grassnyer.

Met die Fiat het ek nog in Januarie 1964 Kaap toe gery vir my eerste Parlementsitting in die persgalery. Dit was ‘n l-a-a-ang rit. Nooit weer nie, het ek daar en dan besluit.

My goeie vriend, Carel Weeber, ‘n matriekklasmaat, het by die Trustbank in Adderleystraat gewerk. Hy help toe vir my ‘n lening bekom en ek koop ‘n tweedehandse ’64 Cortina (weer ‘n ligbloue).

Dit was my en Tokkie se vrykar. Lekker ruim voor

Het salige herinneringe aan die Cortina. (hvd)