DIE LOJALE THOMAS

Thomas

Middag uit Melkbos

Die lojale en pligsgetroue Thomas Mangaelane (65) het pas ná 44 jaar diens as bode by Volksblad afgetree. Een van my allerbeste aanstellings in al my jare by die koerant gewees! In ‘n onderhoud roep hy daardie dag in herinnering:

“Op 2 Februarie 1971 het ek aanvanklik as skoonmaker hier begin en kort daarna amptelik as bode toe daar ’n behoefte was.Iemand het my kom vra of ek ’n liksensie het, toe het meneer Hennie van Deventer, toe nog nuusredakteur, ’n boodskap gestuur dat ek sewe-uur die volgende oggend hier moes wees. Ek was toe daardie oggend hier en hy vra my of ek Thomas is. Ek het gesê ‘ja, ek ís Thomas’. Hy het gesê ‘gaan daar na die ander bodes sodat hulle jou touwys maak’ en van toe af was ek hierso gewees.

‘Die Volksblad was toe nog ‘n middagkoerant. “Die dae van die middagkoerant, sjoe, dit was ’n stresvolle tyd,” onthou Thomas kopskuddend. “Spertye was belangrik en ek mag nooit gedraai het nie. Ek moes reguit poskantoor toe en terug. Meneer van Deventer het altyd gesê ons moet nie tyd mors met die foto’s nie. Hy was baie stiptelik.

“Die foto’s is oorkant Volksblad by die drukkery Bloemfontein Process van Frank Budd, pa van die atleet Zola, as plate gegiet. Tipies meneer Van Deventer het hy vir jou ’n opdrag gegee: ‘Gou!’ Dan het hy altyd so deur die venster vir my geloer of ek wel gou maak. Alles moes teen 12:30 klaar wees.”

Ek is geroer dat Thomas my na al die jare so onthou. My herinneringe oor hom is ewe glashelder en met wederkerige waardering. (hvd)

MET ‘N VRUGTEGEUR

jose
Jose en HvD op ‘n Kanadese besoek in ‘n Russiese kafeetjie in Montreal.

More uit Melkbos

‘n Amerikaanse meisie van New Hampshire, Anna, is getroud met ‘n Spaanse joernalis, Jose Antonio Martinez D’Soler, wat in 1976/77 saam met die uwe ‘n Nieman Fellow aan Harvard was.

Jonk getroud, stap sy in haar nuwe tuisdorp in die land van kastanjette by ‘n plek in wat op ‘n haar soos ‘n Amerikaanse “drug store” lyk. Sy wil konfyt koop. Sy vra vir ‘n “preservative” met ‘n aarbeigeur.

“‘n Aarbeigeur, mevrou?”

“Ja, maar as julle nie aarbei het nie, watter geure het julle?”

“Ek is bevrees, mevrou, niks met geure nie.”

“In Amerika kry ons dit in tien, twintig verskillende geure.”

“Haai, mevrou.”

Eers toe ontdek sy sy bevind haar nie in ‘n “drug store” nie, maar in ‘n gewone Spaanse apteek. Net medisyne en dinge op die rakke; nie goedjies soos konfyt en koffie ook nie. Rondom die woord “preservative” soos sy dit uitgespreek het) het boonop verwarring gekom. Die verlee apteker dag sy soek kondome!

Kondome met vrugtegeure. Watter absurditeit! Ons klomp wou ons ‘n papie lag wanneer Jose tot Anna se verleentheid die storie vertel. Nou lees ek vanoggend 40 jaar later, op Die Burger se voorblad: Staatskondome ruik, proe nes druiwe. Wonder of jy dit al in Spanje ook in geure en kleure kry. (hvd)

KORTPAD NA 70

annette1

More uit Melkbos

Ek sif deur my foto’s van Annette van Rensburg vir ‘n voorbladfoto op haar verjaardagkaartjie vir more, 26 Mei, wanneer sy daardie Bybelse baken van 70 bereik. Een tref dadelik die oog. Die simboliek maak dit buitengewoon toepaslik.

Op die foto (hierbo) vat Annette kortpad tussen ons huisies in die Addo-olifantpark op ‘n besoek ‘n stuk of ses jaar gelede. Ons was ‘n paar dae bure in Addo soos ons ‘n hele paar jaar goeie bure in Bloemfonrein was in die jare 80 van die vorige eeu.

Soos Annette op die foto kortpad vat met n ratse sprongetjie van hul stoep na ons s’n, het sy ook kortpad gevat na 70, smaak dit my. Sy lyk nie – en sy lewe nie – soos een wat die volle afstand afgelê het nie.

Trouens, ‘n jeugdiger 70 het ek op hierdie ondermaanse nog nie raakgeloop nie. Dis ‘n jeudigheid wat hom, buiten in voorkoms, veral in avontuurlustigheid manifesteer. Een resente voorbeeld: Om die beroemde (berugte?) El Camino te stap. ‘n Jaar of wat gelede het sy met borrelende lewensblyheid die honderde kilometer met dapper en stapper afgelê, en haar vriende met entoesiastiese daaglikse rapporte kleurryk in die ervaring laat deel.

Sy het haar man, Chris, saamgesleep – ‘n vermeldenswaardige prestasie in my oë. Ek haal my hoed af vir Chris vir vele deugde (‘n gedugte braaier van vis, maar ook van enigiets anders – van frikkadelle tot kreef onder meer). Dat hy ‘n kranige stapper is, sou ek nie voor daardie epiese tog aan hom toegedig het nie. (Heimlik was ek maar dankbaar Annette is met Chris getroud en nie met my nie. Ek het GEEN ambisie om die El Camino of enige ander onnodige el te stap nie.)

Soos Annette oor daardie muurtjie op die foto klouter, klouter sy ook graag in die berge rondom Kleinmond waarheen sy en Chris verhuis het na sy aftrede as vise-rektor van die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein. In hul woonkamer lê op die koffietafel allerlei publikasies met gedugte roetes, wat my op elke besoek benoud laat wonder oor wat sy vir haar kuiergaste in die skild voer.

Maar eintlik lê Annette se horisonne wyer. Sy is n wêreldreisiger. Waar sy oral op die aardbol voetspore agtertgelaat het, en op hoeveel kontinente, moet ‘n formidabele bundel beslaan. Oral – soos met die El Camino – is haar reise allesbehalwe doodgewoon.

Noem haar gerus ‘n student in reis, wat vooraf elke roete met die grootste deeglikheid bestudeer. Dan werk sy haar skedule uit. Haarfyn. Geen bousel, rotsformasie, klip, boom of plant van betekenis sal sy oorslaan nie. Hoe antieker des te beter. (Sy slaan ook nie graag ‘n oudhede – of tweedehandse boekwinkel oor nie en het dit tot ‘n fyn kuns ontwikkel om waardevolle dinge op stowwerige rakke uit te snuffel.)

Op ‘n tog deur Namibië enkele jare gelede het die uwe met daardie deeglike verkenningsvermoë deeglik kennis gemaak. Sy het my wat nog nie voorheen van ‘n ligeen gehoor het nie, o.m. behoorlik laat bontstaan met haar gretigheid om geen, maar geen, van dié groen, grys of geel organismetjies op geen rots of boomstam oor te slaan nie. Sy het nie, glo ek.

Vir daardie toer het Annette ‘n reisplan uitgewerk – van Ais-Ais af oor Swakopmund en Khorixas, op Etosha toe en terug via Windhoek – wat waarskynlik selfs vir gebore en getoë Namibiërs talle verrassings sou oplewer. Sy het nie net elke afdraaipaadjie se bestemming geken nie, maar tot vooruitg geweet waar op Luderitz ons die beste kreef in die hande sou kry. Dié het Chris in tierende weer die aand in die stort van die munisipale rondaweltjie tot perfeksie gebraai.

Perfeksie. Dis ‘n goeie woord om Annette se benadering tot enigiets te beskryf: van reis tot die kombuis. Ook aan laasgenoemde front is sy buitengewoon formidabel. Daarvan kan hierdie gretige aansitter aan haar etenstafel (en verskeie sentimeters om sy middellyf) van harte getuig.

annet-001

Annette is ‘n vriendin duisend. Vir haar twee dogters. Vir al haar nuwe vriende en al die oues, soos die Van Deventers wat al langer as drie dekades die voordeel van haar vriendskap geniet. Ek wonder hoeveel flessies vonkelwyn ons deur die jare saam geledig het. Ook ‘n biertjie op sy tyd.

Natuurlik is haar 70ste ‘n spesiale okkasie vir ‘n glasie (of twee) – hoe voller des te beter, soos die glasies wat sy en Tokkie hier by ‘n kuierplekkie in Hogsback klink. Voorspoed en vreugde vir jou, vriendin Annette! (hvd)

UIT VOLLE BORS

More uit Melkbos

Voorwaarts christenstryders, Wat ‘n vriend het ons in Jesus, Deur te sien op die kruis, Staan op, staan op vir Jesus, Strome van seën van bowe, Ek sien ‘n poort wyde ope staan, Saggies en teer is die roepstem van Jesus, Ek kan hoor my Heiland roep my ….

Uit volle bors sing ‘n volgepakte sitkamer van die Sea Park-tehuis vir bejaardes op Melkbos elke oggend vandeesweek hierdie amper vergete Hallelujaliedere uit ons kinderdae.

Dis Pinkstertyd. Emeritus-leraar Jan Venter hou hier spesiale Pinksterdienste vir die oumense. Met sy sterk stem praat hy oortuigend oor die wederkoms. Die parkeerplekke buite staan vol soos ook ‘n jonger garde kom luister.

Ek is dankbaar Tokkie het my saamgevat daarnatoe. (hvd)

TYD VIR TOT SIENS

Lana en Victor op die verhoog.

Lana en Victor op die verhoog.

Middag uit Melkbos

‘n Buiging is vanpas na ‘n boet-en-sus-sangpaar van die Kaap (van wie ek, terloops, skandelik onbewus was) vir die gereelde Suid-Afrikaanse geurtjie by die aandkonserte in die MSC Opera se stylvolle Teatro Del’ Operateater.
Die twee mooi mense is Lana English en Victor Siljeur.

Lana is ‘n ster van die musiekblyspel “Phantom of the Opera” in die rol van “Christine”. Die forse tenoor Victor het vinnig opgang gemaak nadat hy sy gereedskap as werktuigkundige weggepak en saam met sy suster die verhoog betree het. Die twee sing gewilde araias uit operas, operette en blyspele: die mooi musiek van komponiste soos Puccini, Verdi en Andrew Lloyd Webber, en sangers soos Sarah Brightman, Josh Groban, Boccelli en Pavarotti. Hulle doen dit met sigbare lewensvreugde.

Vir Victor ‘n ekstra buiging: oor die AFRIKAANSE geurtjie waarvoor hy een aand verantwoordelik was. Hy het vertel hoe hy as “Kaapse klonkie” (sy woord, nie myne nie) Gé Korsten se sang bewonder het. Toe trek hy los met sy held se groot treffer, “Liefling”. Die gehoor – oorheersend Suid-Afrikaans – was gaande. Net vir sy “Nessun Dorma” was daar groter applous.

Ja, van die skip se amper 2 000 passasiers was nie minder nie as 820 Suid-Afrikaners (die meeste waarskynlik in murg en been Afrikaans). Die Duitsers was in die tweede plek met ‘n beskeie 364 en die Britte in die derde plek met 238. Maar soos so algemeen oral die geval is, het Afrikaans op die skip aan die agterspeen gedrink.

Vir die Duitse passasiers was ‘n tolk aan boord – ‘n mooi, welsprekende fraulein. Smiddae is ou treffer-rolprente, in Duits oorgeklank, in die Caruso Lounge aan handjiesvol Duitsers vertoon. Afrikaans is op die dekke, in die eetsaal en in die kuierplekke gehoor. Van die skip se kant af is – as ek my ‘n stukkie goed bedoelde kritiek mag veroorloof – egter te min erkenning gegee.

Nog ‘n stukkie Afrikaans uit ‘n onverwagte oord het darem gekom van ‘n Skot wat nou in Suid-Afrika woon, Danny Fisher. Hy is bekend as “the man with 100 voices” en is ‘n entoesiastiese nabootser van groot name in die sangwêreld. Sy nabootsing van Elvis Pressley was na my oordeel maar so-so. Toe sing hy David Kramer se Blokkies Joubert soos Elvis dit sou gedoen het. Lekkerder het ek op die hele vaart nie gelag nie.

'n Duur Burger.

‘n Duur Burger.

Moet die MSC Opera tog krediet gee dat Afrikaanse koerante onder dié was wat daagliks digitaal gelewer is. Kon Die Burger lees – al het dit, in randwaarde, amper R40 per uitgawe gekos.

En by die gala-afskeid die laaste aand is op ‘n besonderse wyse gegroet. Terwyl Victor “Time to say goodbye” sing, het die span energieke dansers omgedraai met hul rûe na die gehoor. Op elke rug was ‘n letter vasgespeld: T-O-T-S-I-E-N-S.

Dit was ons eerste tot siens van die Opera ná ‘n gedenkwaardige vaart wat ek by enigiemand sou aanbeveel. Die tweede was toe ons in Venesië se hawe van die skip stap, omdraai en wuif. Die derde was ‘n verrassing. Terwyl ons skemeraand op die Piazza St. Marco ronddwaal, bemerk ek skielik die bekende wit skip agter die gondels verbyvaar oop see toe. Die MSC Opera was met ‘n nuwe vrag passasiers op pad na Istanboel.

Laaste sien op die Canal Grande.

Laaste sien op die Canal Grande.

Daardie laaste sien op die Canal Grande was dalk inderdaad die laaste sien. Die Opera is op pad na die skeepswerf in Genoa. Word middeldeur gesaag om ‘n nuwe deel met ekstra kajuite en sitkamers by te voeg vir gebruik in die Middellandse See. Kom, soos die koppe nou werk, nie weer Suid-Afrika toe nie.

‘n “Nuwe” Sinphonia – ook op daardie manier groter gemaak – is op pad terug na Suid-Afrikaanse water vir die 2015/2016 seisien. Ons kajuit is op hom bespreek vir ‘n vaart na Walvisbaai.

Tot siens vir eers, en dankie aan almal wat die vaart op my blogs en op Facebook so geduldig meegemaak het.
(hvd)

KLIP, KAKTUS EN … KASTANJETTE

IMG_0795

IMG_0790

IMG_0793

IMG_0787

Strande van Carmen del Puerto

More uit Melkbos

Sing my ‘n lied van ou Spanje – van sonlig, liefde en wyn. Moenie sy vulkaniese eilande vergeet nie. Op die Kanariese Eiland eiland Lanzarote herinner die ruwe swart lawarotse plek-plek aan ‘n maanlandskap – vreemd maar bekoorlik.

Lanzarote, net 100 kilometers van die kus van Afrika, is bekend om sy vulkaniese oorsprong en nalatenskap, sy strande, kraters, kastele, kaktustuine en endemiese albinokrappies wat al eeue in rotspoele oorleef. Die plek vol verrassings word wyd as een van die mooiste van die romantiese eilandgroep gereken.

Meer as 1 000 000 besoekers kom soek elke jaar op Lanzarote “sonlig en liefde en wyn”. Die meeste stroom na die plesierige vakansie-oordjie Puerto del Carmen. Toe die MSC Opera op Woensdag 8 April in die hawe van die hoofstad Arrecife vasmeer, was Carmen ook , bo-aan my en Tokkie se lysie. Hoe dan anders? Carmen – jy hoor mos in die naam al die klank van die kastanjette en smeulende Latynse sensualiteit.

Die Avenida de las Playas, Carmen se hoofstraat, kronkel sewe kilometer verby een aanloklike strand op die ander. Hope restaurants, tavernes, boetieks en allerlei klein winkeltjies staan styf langs mekaar aan die oorkant. Elegante woonstelle, villas en hotels steek agter die toeristetrekpleisters uit.
Die toneel is tipies mediterreens. Blou lug, blou see, kalm soos ‘n dam, honderde blou dekstoele uitgepak op die wit sand. Baaiers wat in die son bak. Wat dit anders maak, is die oorheersende swart lawarots, wat skerp afsteek teen die seesand en wit skuim van die brekende klein branders.

Van die strande (waar bostukloosheid in die mode is) sien ‘n mens in die verte die gryse vulkaniese berge van Papagayo en op ‘n helder dag ook die volgende eiland in die ketting, Fuerteventura. Het my aandag nie deur die heersende strandkultuur laat aflei nie en die Canon liefs op die Papagayos gefokus gehou!

IMG_0772

Mure van lawaklip

Die lawarots kom nie net voor in natuurlike formasies van alle groottes nie; ook in die vorm van boumateriaal. Lyk of alle mure met gekapte lawarots gemessel is. Plaveiselstene kom uit dieselfde bron. Selfs die skoorstene teen die wit villas van Carmen is nie baksteen of leiklip (oorspronklik of nagemaak) soos hier te lande nie. Dis pikswart lawarots wat treffend met die witgekalkte mure kontrasteer.

Amper so vreemd soos die “maantonele” op en langs die strand is die kaktustuine oral. ‘n Vlugtige besoeker kan verskoon word vir die eerste indruk dat net kaktusse en palmbome in die grys as groei. Die waarheid, soos ons later op ‘n lang busrit met ‘n ander roete terug na Arrecife self gesien het, is dat heelwat wingerd die voorkoms van die eiland se bodem ophelder. Plek-plek tussen die lawa en versteende as is ook groen spatsels vrugteboorde en groentetuine.

IMG_0767

Kaktustuine

Suid-Afrikaners voel sommer dadelik tuis op die promenade van Carmen. Bly saans van die strande af, word besoekers gewaarsku. As die son sak, sak bendes Spaanse sakerollers glo op niksvermoedende toeriste toe. Klink bekend.

Die meeste eilandbewoners is egter joviaal en hulpvaardig, al lol die kommunikasie. Toe ons ‘n bus wil bestyg met nie die voorgeskrewe kleingeld nie, het ek vinnig by ‘n kroegie ingestorm om my papier-euros in munte om te skakel. Die busbestuurder het jou werklik geduldig vir die verbourereede ou gryskop gewag!

IMG_0789


Afrikakroeg.

(Een van die kuierplekke langs die Avenida de las Playas herinner ook aan die verre Suid-Afrika met sy naam, Africa bar/restaurant, ‘n skets van ‘n befoeterde maanhaar se kop met trekke van ‘n Egiptiese kryger op sy uithangbord en ‘n yslike houtbeeld van ‘n kameelperd op sy eersteverdieping-stoep. Later was ek spyt dat ek nie vir Tokkie by “Africa” gaan afneem het nie. Sy was die dag “ïnheems” geklee in ‘n blou “Afrique”-bloese met nie net een nie maar twee langnekke op die bors. Drie kameelperde op een oggend saam op Lanzerote. Reken net!) (hvd)