PAD NA DIE GRAF

Napoleon

Graf toe en terug.

Graf toe en terug.

Middag uit Melkbos

Het in diepe deernis gedink aan die draers wat die seker tamaaie kis van Napoleon Bonaparte die 750 meter na sy voorlaaste rusplek in die lowerryke Sane-vallei op die eiland St. Helena moes dra toe ek met kierie en brandvoete self die taai toggie aandurf.

Om die graf te bereik in ‘n groen holtetjie wat die Franse krygsheer glo self uitgekies het weens die skoonheid en rustigheid daarvan, moet ‘n man goeie brieke hê, want dis steil en die gras is glad. Of ek weer bo gaan kom en of ek amper twee eeue ná sy dood self een van Napoleon se vele slagoffers sou word, was die vraag wat swaar op hierdie man se gemoed gerus het terwyl hy tree vir tree na bo beur.

Dit het my nie ontgaan nie dat die datum 1 April is – Gekkedag.

Toe ek met ‘n fluitende bors by onse toerbussie kom, was ondersteuning dringend nodig. Die bord wat die pad na die graf aandui, was uitgeknip vir die doel. Tokkie kon nie die versoeking weerstaan nie om ‘n onvleiende foto te neem van haar moeë gade, so oor sy eie rusplek gedrapeer.

Napoleon1

Baie trappies.

Uiteindelik bo, was die nuwe vraag in my gemoed: Waar is my medalje? Dit het gevoel of ek ‘n Comrades agter die rug het, “Polly Shorts” en al. Later in die middag is die geleentheid ons gebied om die 699 trappies van die sogenaamde “Jacob’s Ladder” na die hawe af te klim. Vir ‘n verdere 600 meter se swaarkry het ek nie kans gesien nie. Die geleentheid is hoflik van die hand gewys.

Maar die pelgrimstog na die netjiese graf in die veld was tog die moeite werd. Die vallei is skilderagtig, die oog sien ver en die graf self is klassiek in sy eenvoud – presies die teenoorgestelde van Napoleon se laaste rusplek – ‘n praalgraf in die Les Invalides in Parys, waarheen sy oorskot in 1840 verskuif is. Beroemdheid verg ‘n prys selfs ná die dood.

Op St. Helena word nie net swaar eise aan vlees en bloed gestel nie. Ook die taxi’s – ‘n vreemde bontspul van gehawende kombi’s en bakkies met houtsitplekke – moet behoorlik beur om teen die heuwels uit te kom. Die enjins protesteer hard soos die mishandelde voertuie op smal kronkelpaaie van die een eiland-“wonder” na die ander opkruie. Nie die ideale plek om ‘n gebruikte voertuig aan te skaf nie!

IMG_0604
Gehawende taxi.

Wonders is daar wel, veral in die natuur wat aan die golwende Natalse Middellande herinner. Merkwaardige “monumente” van die groot vulkaan wat die eiland oor miljoene jare gevorm het, het kleurryke name soos “Lot” en “Lot se vrou”, en sorg vir ‘n innemende landskap.

Longwood House waar Napoleon van 1815 tot 1821 in bannelingskap gewoon het, word gereken as een van die mees ikoniese Napoleon-museums ter wêreld. Die historiese dorpie op ‘n smal strepie land tussen die heuwels is bekoorlik, met o.m. die oudste Anglikaanse kerk in die suidelike halfrond en ‘n kasteel.

IMG_0607

Lot en sy vrou.

Tog het ek ietwat verneuk gevoel. Het darem gedink ‘n duur eilandtoer sou nie so sterk op Napoleon-relieke konsentreer nie, maar ook ander belangrike voetspore volg, veral dié van die Boere van wie in ‘n stadium 5 000 tot 6 000 deur die Britte op die eiland gevange gehou is. By die Boeregrafte word egter stilswyend verbygery. Navrae oor waar die kamp was, word met ‘n wuif na ‘n groepie windlaaiers in die verte begroet. Dit was “daar iewers”.

Ook die eiland se kleurryke slawegeskiedenis word geheel veronagsaam.

Ds. Johan Els, voorheen van die Klipkerk in Bloemfontein, nou afgetree op Pringlebaai, was ook op die vaart op die MSC Opera. Hy was slimmer as die uwe. Het die museum opgesoek waar hy ‘n kersie vir die Boere aangesteek het. Sy mededelings oor die foto’s (o.m. van genl. Piet Cronjé en sy vrou wat handjies hou), voorbeelde van die kampkoerantjie en vlae wat hy daar aangetref het, het jou die verlore verbintenis laat voel. ‘n Jammerte het jou beetgepak oor jou eie oppervlakkiger besoek.

By ‘n malva (dalk deur een van die Boere geplant) het Johan vir sy vrou, Louise, in sy melodieuse stem Jan F. Celliers se treffende gedig “Dis Al” voorgedra. Wens ek kon daardie gewyde oomblikke beleef het

DAPPER SEEMANNE

4-IMG_0724

5-IMG_0733

3-IMG_0718

More uit Melkbos

Kom van ons omswerwinge tuis met ‘n enkele sertifikaat in my koffer: Een wat onder handtekening van die MSC Opera se kaptein, Paolo Russo, plegtig sertifiseer dat die uwe die titel “Brave Seaman” met vlieënde vaandels (?) verwerf het.

Die toets vir dapperheid was om op 4 April 2015 in die geselskap van Koning Neptunus die ewenaar iewers tussen die eiland St. Helena en die stad Lanzarote op die Kanariese eiland Arrecife oor te steek. Vir my beteken sulke inligting niks, maar ter wille van meer tegniese lesers meld ek graag dit was op breedtegraad OO*00 – lengtegraad 12*37 W; met die sterretjie as substituut vir die gradesimbool wat ek nie op die sleutelbord vind nie.

Eintlik meen ek dat drie vergulde sertifikate ‘n beter weerspieëling van die reis sou wees. Dit is ‘n ander storie waarby ek sal kom. Moet egter eers vertel van die Koning Neptunus-gedoente.

By ervare ewenaar-oorstekers is voorspooksels verneem dat die okkasie nie vir sissies is nie. Bespiegelings was onder meer dat beddens omgedop sou word. Die uitnodiging op die skip se daaglikse program van Saterdag 4 April het onervare kruisvaarders des te meer stof tot nadenke (seker ‘n swak beeld op die oop see!) gebied. Ons is skriftelik gewaarsku: Wees tog maar versigtig met jou kamera rondom die swembad. Dit kan nat word.

Sy koninklike hoogheid Neptunus se partytjie was die Saterdagoggend vir 11:15 op dek 11 geskeduleer. Diegene wat begerig was om aan die parade deel te neem, moes hulle reeds om 10:15 by die Byblos-disko op dek 12 aanmeld. Die uwe het ná versigtige oorweging op grond van sy rype ouderdom en gevolglike skete van die skelet teen deelname besluit, maar tog by die Byblos gaan inloer.

Wat waargeneem is, is medepassasiers wat geesdriftig met lyfverf betakel en met lang en ronde ballonne potsierlik opgestop is om so belaglik as moontlik te lyk vir die seremonie wat sou volg. Om 11:15 toe Neptunus en sy geselskap opdaag en die parade begin, het ek vir my en my Canon ‘n strategiese plekkie op dek 12 losgewoel. Ek sou die “partytjie” liefs van bo af as waarnemer betrag ten einde my kamera teen die watergevaar te beskerm.

Wel, wat daarna gebeur het, is ‘n lang, stuitige storie. In kort moes al die deelnemende passasiers hulle op die swembad se rand inwurm, nadat hulle eers die koning se seun, ‘n lewendige seekat, moes soen en vonkelwyn uit ‘n reuse-sopkom met ‘n opskeplepel op hul koppe omgekeer is. Langs die swembad is meel op hulle uitgegiet. Toe kakao. Toe tamaties. Toe room.

2-IMG_0703

1-IMG_0687

Is u nou tevrede, is die kwaaie Neptunus met sy wit wattebaard telkens hoopvol gevra. Dan kom die bulderende antwoord: Nee! Eers ná die mildelike aanwending van room is hy oortuig dat die aspirante inderdaad die status van “Brave Seaman” verdien. Maar ‘n morsige spulletjie gewees. Die volgende “prosedure”, wat rou eier sou wees, is darem so vrygepring.

Kaptein Russo, in sy onberispelike wit uniform, het sy arms verheug in die lug gewerp asof sy skip van die een of ander onnoembare ellende gered is.

Die volgende oomblik het die opdrag gekom: Water toe. Besmeerd en beslierd het die spulletjie gehoorsaam. Daar is halsoorkop die water in geplas, gespring en geduik. Eerlank was die silwerskoon water pikswart besoedel. Agterna moes die pompe hard werk om die vuil water te vervang.

Uiteindelik is Neptunus vort en is uitbundig op harde musiek om die swembad gedans. Die induksie was verby.
Het skielik teruggedink aan 1957 op die Tukkiekampus met die ontheffing as ienks van Kollegetehuis. Aan die modderbad en die pil van o.m. skoenwaks en duiwelsdrek. Deesdae is sulke dinge mos taboe omdat dit ‘n aantasting van menswaardigheid sou wees. Op die Opera se dek 11 het niemand hom op 4 April oor menswaardigheid bekommer nie. Hierdie “ontgroening” was eenvoudig vet pret.

GROOTSTE BROOD

08-IMG_1947

07-IMG_1944

05-IMG_1937

04-IMG_1936

Naand uit Melkbos

Die grootste brood wat ek nog gesien het? Ongetwyfeld op Sondag 18 April op die gesellige Piazza Bra – die grootste plein in Verona en die hart van die stad.

Van 16 tot 19 April is die jaarlikse Le Piazze Dei Sapori op die plein langs die historiese Arena di Verona gehou. Dit is wanneer elke streek in die land met sy tradisionele geregte en wyne na Verona opruk vir ‘n kosfees soos min.

01-IMG_1872

1-IMG_1868

1-IMG_1949

03-IMG_1934

09-IMG_1950

10-IMG_1953

02-IMG_1875

Van 10:00 tot middernag word oor vier dae in oor die 100 kraampies spiere gebult met brode, kase, worse, salami’s en ‘n keur van Italiaanse wyne waaroor ‘n mens in smaak, voorkoms en volume net in die oortreffende trap verslag kan doen. Ses Italiaanse brouery bring ook hul beste bier.

Kyk daardie massiewe brode op die eerste twee foto’s. Dis die einste hulle waarvan ek hierbo praat. Kyk die kaas in die hand van ‘n buurman. Of die gestopte speenvark wat deur ‘n ander uitstaller begin kerf word. Dis menere, hoor!

Ons het ook olywe raakgeloop so groot soos duifeiers – stapels daarvan neffens klein bergies rissies, ingemaak en gedroog.

Italianers ken van kos maak. Na hierdie jaarlikse fees word net die allerbeste kos-, wyn- en biermakers genooi. Die prosies vir proe wat ‘n besoeker joviaal aangebied word, laat die hongerte soos ‘n digte mis op jou toesak.

Ons het per taxi opgedaag om die Arena te besigtig. Hierdie indrukwekkende Romeinse amfiteater in die Piazza Bra is dalk die stad se bekendste toeriste-attraksie (naas Juliet se balkon). Dit is maar net 2 000 jaar oud en word beskou as een van die bes behoue antieke strukture in sy soort. Die arena is internasionaal beroemd weens die fenomenale operaproduksies wat gereeld aangebied word.

Die hotelmeisie het gewaarsku dit kan maar dol gaan op ‘n Sondagmiddag op die boomryke Bra met al sy buitelug-restaurante, kafees en kuierplekke. Op so ‘n reuse-basaar was ons egter nie voorbereid nie. Die woeligheid het die indruk gewek dat die hele Verona gelyk ‘n ietsie te ete en te drinke kom soek het.

Die omvattende spyskaart maak die keuse nie maklik nie. ‘n Stukkie soetgebak dalk? ‘n Pastei? ‘n Gevlegde broderigheid met kaas? Tokkie het vir ons van die broodjies gekoop. Gelukkig het ‘n parkbankie net oopgegaan met ‘n uitsig op die spuitfonteine, die standbeeld van koning Victor Emmanuel op sy perd en die reusepilare van die Palazza Barbieri, wat deesdae as stadhuis dien.

Smulpape kan gerus maar ‘n aantekening maak oor die stukkie Italiaanse kultuur wat jy in April in Verona raakloop. Saam met die fees op die plein word ook ‘n groot verskeidenheid musiekkonserte aangebied – van rock ‘n roll tot opera. En plaaslike restaurante sit fynproewer-spyskaarte voor wat deur die Piazze Dei Sapori geïnspireer is.

Kom na Verona in die lente en maak julle klaar vir ‘n fees. Dis goeie advies en dis gratis (die advies, bedoel ek).

ROMEO UIT MELKBOS

05-IMG_1896

More uit Melkbos

Niks besonders aan HvD se foto van Juliet se beeldjie nie, dink julle?

Fout. Om daardie beroemde meisiekind so af te neem, verg vinnige kamerawerk, hoor. Gapings is min tussen die stroom manne van oraloor wat wag om haar regterborsie te vryf – vir “geluk”. Die ferm brons-tietietjie glim in die namiddagson van jare se vrymoedige vattery.

In Verona lei alle paaie na Juliet se balkon in die Via Capello, naby die Piazza delle Erbe – honderde duisende pelgrims ruk elke jaar na die pleintjie op waar Juliet glo gestaan het toe Romeo sy liefde verklaar. Niemand gee juis om dat die tweetjies dalk net ‘n romantiese Shakespeariaanse verbeeldingsvlug was nie.

01-IMG_1891

04-IMG_1894

Maar, nou-ja, watter Romeo van stoffasie kan die versoeking weerstaan om ook by de skone Juliet te gaan flikkers gooi? Die uwe is selwers op ‘n Sondagmiddag op sy eie pelgrimstog daar van die groot Arena op die beroemde Piazza Bra (onverwant aan Juliet se buuste) af, verby ‘n ry deftige winkels en die skilderagtige Piazza del Erbe tot by die Casa Giulietta. (Weet nou waar daardie begeerlike Alfa Giulietta van my jeugjare sy naam gekry het.)

In die binneplein van die casa maal ‘n menigte mense soos miere. Meisies staan tou vir die voorreg om die nimlike balkon te bestyg en guitig vir hul eie Romeo’s onder te wuif. Die manne wag op hul beurt ongeduldig die kans af om hand op die die gewillige Juliet se bors afgeneem te word.

Binne die huis is ‘n klein museumpie, oorkant die tradisionele soewenierwinkel en skuins onder die balkon die Julietbeeld uit brons gegiet.

06-IMG_1909

Amper aandoenlik is dit om te sien met watter gretigheid romantiese hartjies boodskappies tussen derduisende ander op die pleintjie se mure en deure neerpen. Lyk omtrent soos ‘n klomp antieke hiërogliewe, soos die meisies oor- en deurmekaar hul harte op die sement uitstort.

Of die uwe nadergestaan het vir ‘n vinnige liefkosinkie? Nooit gesien nie! Sal my mos nie ná ‘n bestendige huwelik van 48 jaar sulke onbehoorlike openbare demonstrasies van vryerigheid veroorloof nie.

07-IMG_1910

Het wel skugter geposeer vir ‘n foto met ‘n duisternis slotte wat, soos die boodskappies op die mure, ook veronderstel is om ewige liefdes te weerspieël. Tokkie het gewillig, sonder om vrae te vra, die kamera se sluiter laat klik.

Iets moet ‘n man darem met jou kan saamvat terug Melkbos toe om te wys jy was daar. By onse Juliet. Soos Shakespeare betekenisvol vra: Wherefore art thou Romeo?

LENTE IN TIROOL

1-1-IMG_2051

Berge en blomme

Middag uit Melkbos

Oor lente in die Suid-Tirool moet ‘n mens liewer ‘n lied of ‘n huppelende vers skryf as ‘n gewone blog. As lente iewers op aarde verrukliker, intenser, feesteliker en aansteekliker as hier aanbreek, sou ek daardie plek graag wou sien.

Miskien is dit die skerp kontras wat die besoeker die eerste tref: rondom jou bloeisels, heldergroen nuwe blaartjies en ‘n bont blommesee – bedding op bedding gesiggies, papawers, affodille, renonkels en tulpe – ‘n entjie verder die groen hange van die Italiaanse Alpe, gespikkel met huisies, en hul gedugte pieke nog spierwit geverf met spatsels sneeu. Die prentjie is alkant toe so asemrowend jy tol behoorlik in die rondte met jou kamera. Jou vinger klik, klik oortyd.

Voor die Aurorahotel in die sierlike vakansiedorp Meran/Merano aan die voete van die Alpe strek ‘n promenade, die Passerpromenade, wat doer in die verte in ‘n muur van groen wegraak. Op elkeen van die vele wandelpaadjie lewe dit van stappers – oues met kieries, jong egpare met kinders in stootwaentjies, honde-liefhebbers met hul troeteldiere aan leibande. Fietsryers laat die speke sing.

Die Passerrivier kabbel deur die dorp. Die straatkafees staan ingeryg op sy walle. Kelners moet spring met die kraffies verfrissende wyn uit die streek of vatbier. Verleidelike roomys verkoop soos soetkoek. Op die grasterrasse staan die piekniekmandjies met hul deksels in die lug. Op die rivierklippe baljaar die jongklomp

1-1-IMG_2121

Wandeling in Tirool.

Almal skep van die talmende laatmiddag-sonskyn. Hulle drink die lentelug en die blommegeure gretig in. In die bome bokant hulle besing die voëls in allerlei reënboogkleure die aanbreek van die mooiste seisoen welluidend en geluksalig. Dis lente, liewe lente ….

Andreas van Wyk, oud-Matrierektor, het die Südtirol (of Alto Adago, soos die Italianers die streek noem) by die Van Deventers aanbeveel – een van die mooiste dele ter wêreld na sy oordeel. Ons sal hom altyd dankbaar bly. Tokkie twyfel nie dat dit ‘n moet vir elke toeris behoort te wees nie.

Dié stukkie Oostenryk van ouds het ná die Eerste Wêreldoorlog in die Italianers se hande geval, wat dit sedert daardie tyd danksy Mussolini en Hitler behou het, al is dit grotendeels Duitssprekend en deesdae outonoom. Dit het, in die woorde van Andreas, die voordeel van Germaanse orde en netheid, gemeng met Latynse lewensvreugde.

Dit was ook ons ervaring. Wat ‘n voortreflike plek met sy onvergeetlike natuurskoon, pragtuine en indrukwekkende, moderne kruiebaddens.

1-1-IMG_2130
.
Appelboorde in volle blom.

Die botaniese tuin van die Trauttmansdorfkasteel is skouspelagtig. ‘n Mens vergaap jou aan die kleurryke terrasse wat in die vorm van ‘n amfiteater ‘n reusemeer omvou. Flora uit elke hoek van die aardbol word aangetref; uit Suid-Afrika onder meer “hottentotfeige” en “pig lilys” – ook turksvye, joekas en spekbome.

Die Terme Merano bied 13 swembaddens onder dak en 12 buite, asook ‘n verskeidenheid borrel- en stoombaddens. Jy voel soos ‘n miljoenêr as jy in weldadige water van 37 grade deur die glasmure van die manjifieke struktuur die Alpewêreld in sy ryke verskeidenheid lê en bewonder.

‘n Bonus is ‘n spesiale ode aan die lente met ‘n buitengewone jaarlikse kunsfees in April, met kreatiewe kunswerke van oraloor, gespikkel deur die stad se tuine en pleine.

1-1-IMG_2165


Groen berghange,wit piek by skone Dorf Tirol

In die omgewing van Merano is skilderagtige plekke soos Dorf Tirol met die reusekasteel waar Tirool sy naam vandaan kry. Wandelpaaie neem jou verby uitgestrekte wingerde met die eerste groen blaartjies, appelboorde in die blom en die groenste groen valleie vol tradisionele Tiroolse huisies.

Maak, terwyl jy daar is, eenvoudig tyd en vat die bus na Kreuz Tirol, doer hoog in die Alpe. Bêre ‘n kraffie of twee van die huiswyn in die bergrestaurant. Voel klein tussen die massiewe pieke en wees dankbaar oor die vreugdes van menswees. (hvd)