‘N KAT AS WAGHOND

Vir likkewaanpotjie bestem?

Vir likkewaanpotjie bestem?

Wie loer kry niks. (Let asseblief daarop dat die nagkamera se datum verkeerd is).

Wie loer kry niks. (Let asseblief daarop dat die nagkamera se datum verkeerd is).

Middag uit Melkbos

Die doen en late van ‘n oorlamse luiperdwyfie op die stoep van Tarlehoet, die Van Deventers se boshuis in Sabiepark, het in e-posse en fb-inskrywings vele verbeeldingryke, pittige of waarskuwende kommentare ontlok.

Vrae wat ontstaan het: Wat het sy daar gaan soek (buiten om die lastige likkewaan ‘n dalk noodlottige bytwond in die onderlyf toe te dien)? Wat doen ‘n mens met so ‘n buientgewone kuiergas?

Die luiperd word in kommentare enigiets genoem van ‘n plakker tot ‘n troeteldier tot ‘n waghond. Voorspooksels word gemaak oor moontlike botsings van belange as mens en dier mekaar op die nimlike stoep raakloop. Die moontlikheid word geopper om ‘n uitsettingsbevel aan te vra.

Iemand meen die luiperd wou ‘n likkewaanpotjie gaan maak – daarom die lastige likkewaan op die stoep ‘n potensieel noodlottige hap aan die onderlyf gegee. Iemand anders meen daar sou ‘n ongemaklike glipsie in die broek kon ontstaan as dit jou sou te beurt val om die luiperd van aangesig tot aangesig daar raak te loop.

Ek herhaal graag hier ‘n klompie van die raad, advies en wyshede:

Sy speel met julle kat en muis.

Weet sy daarvan dat julle soms ook ‘n blybeurt moet kry?

Wat nou as sy midde-in ‘n familie-reünie-op-die-stoep is juis wanneer julle opdaag vir n kuier?

Waghond duisend… wat eet sy ? Dogmore?

Pragdier… kan maar daar bly

Beste waghond (?) wat julle kan hê!

Hou die ongediertes uit met daai huiskat

Kat lyk kwaai en honger

Ons het ‘n paar van die katte op Melkbos nodig….ons misdaad gaan 0 wees!

Onthou net: plakkers skuif moeilik.

Moet tog net nie nou by julle huis gaan kuier nie.

Effe onrusbarend. As die oorlamse nooi so tuis voel, moet ‘n mens wonder hoe lank sy al julle vleisbraai en ander aktiwiteite met haar nagvisie dophou.

Wat sou sy daar gaan soek het?

As ek reg verstaan, wou die luiperd likkewaanpotjie by jou braaiplek gaan maak.

‘n Voorreg om so ’n gas op die voorstoep te hệ. So ontspanne, sy’t seker reeds verneem van Tarlehoet se gasvryheid!

Die luiperd pas seker maar die plek op

Ek dink sy soek ‘n plekkie om te baar.

Daar lê seker nog ‘n koteletbeen of twee?

Die kat het julle gemis.

Wat doen ‘n mens in so ‘n scenario?

Ek sal vir jou ‘n uitsettingsbevel kry maar ek weet nie wie die uitvoer van die bevel gaan hanteer nie- hy sal baie braaf en waaghalsig moet wees.

Bind haar vas aan ‘n boom wanneer sy nie te honger is nie.

Bied vir haar ‘n dop aan.

Hou haar net daar – geen ander sekutiteit is nodig nie.

Luiperd op die stoep – bruinkol in my broek.
(hvd)

NAGPATROLLIE IN DIE BOS

IMAG0963

IMAG0965

IMAG0966

More uit Melkbos

Die luiperd het pad gevat en die kamera is van die stoep verwyder. Nou kan ek die volle storie onthul sonder vrese van ‘n tou nuuskieriges by Wildevy 154, Sabiepark.

Die waarheid is dat Gert en Caroline Pols die luiperd nie net een keer gesien het op my stoep nie. Die tweede dag was sy weer daar – rustig onderdak.

Met my medewete het die Polse hul nagkamera opgesit. Toe kry hulle foto’s van die sierlike roofdier wat lyk of sy onder die sitkamervenster probeer inloer – en wat heen en weer op die stoep stap. ‘n Nagpatrollie bos-styl.

Daar was ook ‘n bloeiende likkewaan op die stoep. Skynbaar ‘n potjie met die luiperd geloop.

Hier is drie nagfoto’s. (hvd)

BALLADE VIR ‘N BANALE BLADJIE

Middag uit Melkbos

Genadiglik is ek geen gesaghebbende oor heersende kultuur by geelpers-ponies en hul redaksies nie.

As Ballade vir ‘n Enkeling se banale uitbeelding van die redaksiekantoor van die smeerblad Montage en die vloekende, varkagtige redakteur (met sy onwaarskynlike redaksionele agtergrond van 3 uit 30 vir ‘n opstel en die gruwelikste wangedrag in ‘n verbeterskool) net naastenby in die kol is, styg my dankbaarheid oor my volslae gebrek aan kennis tot die hoogste vlak.

Ken ook nie sulke skisofreniese nuuskantore soos Rapport s’n in hierdie hoog geprese Leon van Nierop-produksie nie.

Ballade vir ‘n Enkeling blink uit met uitmuntende kamerawerk en goeie, deurleefde spel in kolle deur ‘n span mooi mense. Die bekende liedjies is heerlik sentimenteel.

Maar, stenig my as julle wil: Van die karakters is verskriklike karikature en die melodrama drup. Ek het ná die eerste uur gereeld my horlosie begin raadpleeg. (hvd)

LUIPERD OP MY STOEP!

image1

luiperdjie3

luiperdjie4

Die luiperd op ons stoep – perfek geraam deur die braaiplek se muurtjie en die hoekpaal; skuur-skuur teen ons lapa se paaltjieheining verby, en op ons motorpad terwyl sy wegstap.

Middag uit Melkbos

‘n LUIPERD op my stoep! Die nuus uit Sabiepark, plus skitterende aksiefoto’s, het op Donderdag 19 Maart 2015 my dag driedubbel en dwars gemaak.

“Ek is bewend van opgewondenheid, stomgeslaan, oorstelp – en dêm dankbaar dat jy op die regte oomblik op die regte plek was met ‘n stewige vinger op die sluiter.” So het ek vir Caroline Pols, ‘n Sabieparkse vriendin uit Heerhugowaarden, Nederland, laat weet.

Sy en Gert het gister die omgewing gaan verken nadat ‘n luiperd ‘n bokkie op ‘n aangrensende erf platgetrek het. Hulle gaan loer sommer of alles pluis is by Tarlehoet … en dis toe dat Caroline, soos sy dit pikant stel, amper die luiperd se peuselhappie word. Gelukkig het eggenoot Gert uit die motor die puntjie van die stert gewaar.

Volgens die bloed op die stoepteëls het ta waarskynlik die bokkie daar verorber.

Die volgende oomblik kom sy orent. Daar staan sy voor hulle in haar volle glorie. ‘n Ruk lank kon luiperd en mensekinders slegs vir mekaar staar. Toe stap die pragdier skuur-skuur teen die paaltjieheining van die Van Deventers se lapa weg en in die motorpad af vort.

Wyle dr. Manie Malan van die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys in Bloemfontein, ‘n groot rugby-entoesias, het jare gelede geskryf van “daardie halleluja-oomblik as Vrystaat ‘n drie druk”. Nou-ja, hier was sekerlik een van die “halleluja”-oomblikke in ons salige Sabieparkverbintenis van 17 jaar.

Nie dat dit die eerste keer was dat ‘n luiperd by Tarlehoet, as ‘t ware, ons spasie binnedring nie. Trouens, die Van Deventers en luiperds het ‘n nogal verweefde geskiedenis
Ons weet van minstens een ander stoepbesoek en ‘n paar amper-ampers.

‘n Bouspan het nogal groot geskrik toe hulle een oggend opdaag om ‘n klompie stene te messel. Voor hul verbaasde oë spring ‘n luiperd oor die muurtjie en kry koers die bos in.
‘n Ander keer het een ons kinders van George, Johan en Mariza, by die lapa verras. Hulle was gelukkig in die motor – soos Gert en Caroline Pols. Later was die nimlike luiperd en ‘n luislang in ‘n konfrontasie oor ‘n duikerlammertjie. Maar dis ‘n ander storie.

Ek en Tokkie het self verskeie intriges met met die spesie panthero pardus beleef. Reeds op 16 Maart 1998, die naweek toe ons by Tarlehoet intrek, het dit begin. Ek kap die middag ‘n spyker in die muur van die boonste slaapkamer om ‘n foto op te hang. Toe ek opkyk, kyk ek vas in twee glimmende oë. Langs die motorpad, 20 meter van ons af, lê toe ‘n bielie van ‘n luiperd met sy fiere kop waaksaam orent.

Ek gryp my kamera, maar ‘n dakbalk versper die uitsig. Ek draf by die trappe op en af. Voordat ek egter my logistiek in orde kan kry, staan die luiperd lui-lui op, strek hom behaaglik uit en stap die bos in. Asvaal, jaag ek dadelik hek toe, sommer in my klam swembroek, om die “krisis” te rapporteer.

Toe kom wag ek tuis dat ‘n “span” opdaag om hom te vang, desnoods met nette. Maar geen span kom nie. Selfs g’n enkele veldwagter nie. Eers later hoor ek hoe buitengewoon bevoorreg ons was. Party Sabieparkveterane het tot vandag toe nog nooit ‘n luiperd op eie bodem gesien nie. “Krisis? Watter krisis?” wou die parkhoof David Zeller geamuseerd weet.

Op 29 September 1999 is Tokkie alleen tuis toe ‘n volgende luiperd op ons werf kom son soek. My vrou gooi haar Pro-Vita dat dit doer trek, en soek vervaard ‘n kamera. Sy kan nie betyds een raakvat nie, en nog ‘n uitstekende geleentheid vir ‘n foto raak verlore.

Tien maande later, op 16 Julie 2000, trek ‘n luiperd ‘n rooibokkie naby die huis plat. Ons hoor die feesmaal in die veld krakend en grommend vorder. Die volgende oggend is ‘n hopie pensmis en klossies vel al wat oor is. Dié keer het ek foto’s, maar niks juis om oor huis toe te skryf nie. Onthou darem, die toneel van aksie was 30 meter ver, verskuil agter takke en lang gras.

Agt jaar gaan sonder luiperd-insident verby. Eers in Maart 2008 kom ene weer onaangekondig by Tarlehoet aan. Die kêrel skuur-skuur teenaan die swembad en die voorste lapa verby. Sy klaarblyklike intensie is om vir hom ‘n sappige sebra agter die huis plat te trek.

Tokkie is – kan jy dit glo! – weer ‘n “grasweduwee”, en boonop salig onbewus dat in die klein kameratjie aan ‘n haak teen die muur, anders as wat sy vermoed het, wel ‘n film is. Ek is by die TV-kamer (waar muurproppe en elektrisiteit is) met my drarekenaar doenig. Uitasem, bel sy toe op die selfoon om te rapporteer: “Luiperd by die swembad!”

Haar oproep lok verbouereerde reaksie by haar eggenoot uit. Die woorde “luiperd” en “swembad” laat my die rekenaar vinnig los, my Canon gryp en by die TV-kamer uitstorm na die openbare swembad toe. Maar dáár is niks – net ’n arbeider wat rustig blare staan en uitskep.

Op daardie oomblik van waarheid besef ek: my vrou is tuis, nie by die waskamer, waar ek vermoed het nie. Die swembad waarvan sy praat, is ons eie bos-swembadjie.

Later hoor ek die pynlike storie. Tokkie is dadelik huis toe toe haar bondel wasgoed uit die wasmasjien kom. Sy is dadelik na die badkamer. Soos altyd, loer sy toe deur ons slaapkamer se skuifdeur na moontlike lewe by die voëlbad. “Lewe” is daar toe wel, maar heelwat nader. Haar oë val verstom op kolle teen die swembadmuur!

Terwyl sy haar oë knip-knip, begin die kolle beweeg; eers stadig om die swembad en toe rus-rus af langs die paaltjieheining. Hy lig sy kop, perfek vir ’n trefferfoto. Hy stap stadig aan tot by die motorpad. ‘n Windmakerige nuwe swaai kom in sy stert. Die sebras agter die huis is duidelik in sy visier. Voetjie-vir-voetjie (letterlik) sluip hy nader, terwyl Tokkie in sirkels in die huis rondhardloop. Steeds sonder kamera.

Maar plotseling ruik die sebras onraad. Die groepie spat gillend (hulle het vergeet om te balk!) in alle rigtings uiteen. Die gefrustreerde luiperd moet druipstert omdraai. Tokkie sien vir oulaas sy kolle in die grasse kleiner en kleiner word.

Twee keer in agt jaar het my vrou tuis ’n solo-luiperd-avontuur beleef terwyl die uwe elders met die rekenaar besig was. En hierdie keer sit ons toe >hoog en droog op Melkbos.

Nietemin: Ek lig graag ‘n glasie op elkeen wat al op ons pad opgeduik het, en dié wat nog gaan opduik (hoop ek) – so op die patroon van Julia Iglesias se romantiese ballade “To all the girls I loved before”. (hvd)

PAALTJIES SPAT OP HILTON

IMG_0461

IMG_0465

IMG_0466

IMG_0482

Middag uit Melkbos

Kyk, die manne is ernstig oor hul krieket in Kwazulu-Natal. Sommer twee wedstryde in twee dae was op die naweek se spyskaart vir Laddsworth se o/11’s.

Vrydagmiddag het “ons manne” Merchison in Pietermaritzburg gepak. Die seuns speel in tradisionele wit (darem kortbroek). In hul krieketsakke is alles denkbaar, tot dystutte (thigh pads). Langs die veld is ‘n telbord wat bal vir bal bygehou word.

Kleinseun Thomas het met sy snelballe twee paaltjies laat kantel – o/m. die topkolwer van Merchosin net duskant sy 50 skoongeboul. Jacob het hardnekkig vasgeskop met die kolf. Hulle het nietemin verloor.

Saterdagoggend het die Laddsworth-spannetjie Winterton (al die pad van Underberg af) op sy tuisveld op Hilton gepak, en goed gewen. Thomas was weer een van die paaltjievatters. Ouma wou sommer trane stort as hy die penne so oopkloof.

Foto’s: Jacob en Thomas in hul krieketmonderings; Thomas stoom in om te boul, Jacob voor die telbord, en Winterton doen veldwerk. (hvd)

JUWEELDORP IN ‘N PARK

IMG_0504

IMG_0478

IMG_0484

More uit Melkbos

Iemand wat lus is om kuier-kuier die skone Kwazulu-Natalse Middellande te verken, moet eenvoudig tyd maak om nie net ‘n afskeep-uurtjie of twee nie op Hilton te vertoef.

Hierdie juweeldorp in ‘n parklandskap bied veel om die sinne te bekoor. Die lowergroen rant op rant, woudagtige woonbuurte en pikante winkeltjies is met een woord prentjiemooi.

Die Quarry Centre is een van die sjarmantste plattelandse sakesentrums wat ek al gesien het. Die statige wit hotel in Tudorstyl is Engelse platteland uitgeknip. Die spogskole met hul skilderagtige sportvelde is uniek, ten minste wat Suid-Afrika betref.

Op die foto’s is die uitsig van Brent en Marisa se tydelike huurhuis, die boonste deel van Flamingolaan waar hulle huis gekoop het, en die krieketveld by die seuns se skool, Laddsworth.

As mooi die enigste maatstaf is vir geluk, gaan die kinders hier goue jare tegemoet. (hvd)