KLEINSTE, KLEINSTE WELPIES

IMG_0191-002

More uit Melkbos

Onthou my resente foto van die kleinste, kleinste welpies (hierby)? Het hulle langs die rivierpad oorkant Sabiepark afgeneem. Wel, die tydskrif Weg het my vrae daaroor aan sy natuurkenner L.D. van Essen voorgele. Hy antwoord soos volg:

– hoe oud is hulle – nie meer as twee maande nie. Ek sou sê tussen 5 en 8 weke:

Welpies word gewoonlik weggesteek vir die eerste paar weke van hul lewe, maar die wyfie skuif hulle gereeld na ‘n nuwe den in die tydperk. Met so verskuiwing sal sy hulle een vir een na die nuwe den dra terwyl die ander agter bly.

– hoekom die een gedra word en nie die ander nie – kort antwoord sy het net een bek. wink emoticon

Die leser se redes kan almal reg wees of heeltemal verkeerd alhoewel hy antropomorfies daaroor dink. Hy gee ongelukkig nie ‘n aanduiding van hoe lank hulle die leeus gesien het nie aangesien dit wil lyk of die welpie direk agter die wyfie ‘n merk oor sy regter blad het. As ek moet raai kan dit dalk ‘n speeksel streep wees van toe hy/sy gedra was. Die feit dat een gedra word kan ook dien as aanmoediging vir die ander om die wyfie te volg en by te bly. Die gekerm kan wees dat hulle nie lus was vir loop nie, maar kan ook dien as kommunikasie sodat die wyfie weet hulle is kort op haar hakke sonder dat sy elke kort-kort hoef om te kyk.

Dankie. L.D. van Essen. Nou weet ons (hvd)

BUFFELSBAAI, GELIEFDE GROND

IMG_3430
Waar sy Johan vier dekades gelede geleer vissies skep het, leer ouma Tokkie vir Migael van Buffelsbaai se poeletjies.

More uit Melkbos

VAN Februarie 1971 toe die Van Deventers Buffelsbaai ontdek tot Februarie 2014 toe ons die soveelste keer die geliefde kusdorpie aan die Tuinroete binnery, het die tyd nie stilgestaan nie. Kastele het verrys … ‘n mens kan die voorspoed amper saam met die prikkelende seelug op jou lippe proe.

Buffelsbaai het verander maar ook NIE verander nie. Die manjifieke seevistas is onaangetas. Die bekende reuk van gekneusde renosterbossie stu steeds in die neusgate op. Dieselfde lui, spekvet seemeeue – so lyk dit altans – luier om die rotse en die braaiplekke rond. Dieselfde eeue-oue rotse weerstaan steeds die getye. Die seesand van die uitgestrekte strande – weliswaar gespikkel met kleurryke vlieërs – is nog dieselfde sagte kastaiingbruin.

IMG_3443

Kastaiingbruin strande gespikkel met kleurryke vliëers.

‘n Wandeling bultjie op en bultjie af verg meer inspanning as vier dekades gelede. Ook jy het helaas verander – die veerkrag in jou tred het met die jare maar sleg afgeslyt. Die asem brand, maar die wandeling neem jou steeds verby huise met name wat, soos nêrens elders nie, die humorsin, vindingrykheid en oorspronklikheid van die eienaars weerspieël.

Ons was vir die naweek vir ‘n heen-en-weertjie saam met die Van Deventerkinders van George in die wit hoekhuise, Heen-en-Weertjie met teen sy woonkamermuur ‘n nogal vernuftige aaneenwewery van allerlei oulike name in storievorm. Dit vertel van iemand wat Na die oes Moeggeploeg vir ‘n Luilekker kuiertjie in hierdie Hemel-op-aarde opdaag.

Dit word ‘n ‘n heerlike tyd van Stokkiesdraai, Boordjie-Af, Skuinslê, Pyp en Pantoffels en Son en Saffier in ‘n huis wat Nooit-Te- Vol is nie. Die anonieme outeur bou ook ander bekende Buffelsbaainame in sy/haar storie in wat van welbehae getuig; name soos Woelwaters, Drie Swaers, Kop-bo-Water, Yt-rat-yt en dies meer. Net teleurgesteld dat “ons huis”, Kammarus, waar ons dosyne vakansies deurgebering het, nie die paal gehaal het nie. By dié, terloops, kom blykbaar ‘n groot brekery en bouery. Was daarom nie beskikbaar nie.

IMG_3482

Vir ‘n heen-en-weertjie in Heen-en-Weertjie

Van dié romantiese ou name name het voor die onstuitbare opmars van ontwikkeling en vooruitgang gesneuwel. Allerlei villas so-en-so en casas dit-en-dat het in die plek gekom. Maar ek voel steeds tuis as ek tussen die opgestapelde huise in daardie knus straatjies loop. Ek tel steeds die ure totdat die vuurtjie kan begin flikker, en ervaar steeds verlies as die tyd vir oppak aanbreek. Dis weemoed-tyd wanneer die motor verby die Goukamma sy koers kry op pad huis toe. Die serigheid is nie minder swaar as doerie jare nie.

Een nuwigheid het met pynlike impak getref. Dis egter nie net ‘n storie van Buffelsbaai nie; wel een van die donker temas van die Suid-Afrika waarin ons in die jaar 2015 leef. As die sekuriteitsfirma se bakkie (nommer 9) ‘n dosyn keer by ons huisie verby is in die naweek, is dit min. Op ‘n keer het ek selfs ‘n huisalarm dringend hoor loei … (hvd)

FINALE SEëL

benenrina

Middag uit Melkbos

Iets waarvoor jy lief is; waarop jy trots is; wat jy koester; wat vir jou lekker is; wat vir jou belangrik is of besonderse herinneringe oproep; waarmee jy jouself assosieer of dis-assosieer.

Dit lê vir my aan die wortel van woorde wat mense en instansies in die Woordeboek van die Afrikaanse (WAT) borg ten einde ons wonderbaarlike taal aan die lewe te help hou. So ‘n belegging in ‘n woord kos R100 per woord vir ‘n algemene borgskap of R5 000 vir ‘n eksklusiewe borgskap. Dan “behoort” daardie woord net aan die borg. Niemand anders mag as’t ware by die WAT in jou slaai kom krap nie.

Maklik 200 woorde is al eksklusief geborg. Die lysie redes wat woorde vir mense soveel betekenis gee dat hulle dit wil borg, kan sekerlik uitgebrei word. Hier is enkele voorbeelde:

Iets waarvoor jy lief is – braai (Jan Braai);
Iets waarop jy trots is – Afrikaner (die Afrikanerbond);
Iets wat jy koester – familieliefde (Andries van Zyl);
Iets wat vir jou lekker is – appelkooskonfyt (Celia Uys);
Iets wat vir jou belangrik is – burgerregte (Afriforum);
Iets wat besonderse herinneringe oproep – gevleuelde woorde (7de Laan);
Iets waarmee jy jouself assosieer – filmbaas (Boet Troskie);
Iets waarmee jy jouself dis-assosieer – apartheid (Peter Schaillie) – ek raai maar so.

Vreemded woorde kom ook voor, soos koesnaatjie (M.M. Ferreira) en jamboes (Andreas van Wyk). Selfs ‘n paar kragwoorde is al geborg – befok (Riël Gresse) en bliksem (Kobus Terblanche) is twee.

Ekself borg die woord koerant eksklusief. Ek is lief vir die koerant en trots op die koerant. Aan die koerant het ek my loopbaan van 35 jaar gewy; dit roep lekker herinneringe op. Ek assosieer my daarmee. Ek is, in die laaste instansie, geweldig dankbaar dat die eer my te beurt geval het om “koerant” weg te raap voor die een of ander persmaatskappy, dagblad of Sondagblad.

Natuurlik is ‘n woord allemansbesit. Jy kan nie een koop en in ‘n kluis gaan toesluit soos ‘n trustakte of ‘n aandelesertifikaat nie. Maar die borgskap laat my tog goed voel. Laat my voel ek is op ‘n manier “baas” van die woord. ‘n “Koerantbaas” in ‘n ander sin.

Ek gooi ‘n wye draai om by my eintlike storie te kom. Dit is een van die heel jongste borgskappe. Die borg is vriendin Rina van Rensburg van Stellenbosch. Sy en haar man Ben het al meermale ‘n klompie woorde geborg (in die laer prysklas) en was nog van plan om dit weer vanjaar te doen. In Desember is hy egter op 83 oorlede.

Vandeesweek het Rina ter herinnering aan Ben een van hul gunstelingwoorde eksklusief geborg. Die woord is …. liefsteliefie. Vir die twee wat twee jaar gelede getroud is, was dit ‘n baie spesiale en intieme aanspreekvorm – hul eie, unieke woord wat openbaar hoe innig hul verhouding was en hoe albei mekaar in hul senior jare op prys gestel het.

Liefsteliefie was vir my ‘n onbekende woord. Trouens, ek dink die eerste keer toe ek dit op skrif gesien het, was op Saterdag 20 Desember 2014 toe ek Rina se hartseer-SMS ontvang: “My liefsteliefie is weg.”

Van Ben, motorredakteur van faam, het ek vele herinneringe. Hy was ‘n woonstelmaat, kollega van baie jare, hegte vriend en vertroueling met baie geheimpies. Sal voortaan ook aan hom dink as die man wat die kreatiewe Rina op so ‘n treffende wyse gedenk, met die sertifikaat van die borgskap (hierby afgedruk) as die finale seël van hul te kort, immergoen liefde. (hvd)

SALUUT VIR SAPA

More uit Melkbos

54da5539af9bb8fa40000003

Rus sag, Sapa. Hanlie Malan se treffende grafika in vanoggend se Volksblad by my blog wat as middelblad-artikel aangebied is.

Vir joernaliste van die 50’s, 60’s 70’s, selfs nog die 80’s, was die telekskantoor met sy horde kletterende masjiene die hart van die koerant. Die dinamiek van koerante was in daardie geluid vasgevang.

Sapa en die teleks was sinoniem. Sapa was dus deel van daardie dinamiek. Miljuisende woorde wat op ‘n verre teleksmasjien uitgetik is, het onder Sapa se naam by die koerant ingestroom. Berigte van oral; jong bergies kopie wat gesif, vertaal en hanteer moes word. In elke uitgawe het Sapa gesorg vir ‘n soliede kern van nuus.

Die teleks is lankal deur die superstil rekenaar verdring. Die nuus dat die laaste kluitklap op Sapa se kis oor net iets meer as ‘n maand gaan val, roep egter onwillekeurig die teleks-era by jou op. Ek kon my ore nie glo nie toe ek verneem: soos die teleks stil geword, gaan Sapa ook nou swyg – ná een laaste stuiptrekking as die laaste punt presies om middernag op 31 Maart agter die laaste woord van die laaste berig geplaas is.

Ná meer as 75 jaar op die Suid-Afrikaanse koeranttoneel is sy rol uitgedien. Sy tyd is verby. Soos koerante al geruime tyd sonder ‘n netwerk van plattelandse korrespondente (korries) klaarkom, gaan hulle sonder Sapa klaarkom. Hoe, weet hierdie veteraan nie. Miskien onderskat hy die vermoë van allerlei paddastoel-agentskappe en die sosiale media as nuusbronne.

Hoe ook al, die son sak op ‘n gewigtige era. Die Ewige Verandering duur voort.

‘n Groot gros joernalistieke loopbane het in die jare her ‘n eerste beskeie skrede gegee met ‘n Sapaberiggie wat vertaal moes word, onthou ek. Ook my eie.

foto2

HvD in die hoofsubstoel. Die luik na die telekskantoor is agter my. Die kerse? Wel in 1966 was ook kragonderbrekings – net minder en minder uitgerek.

My eerste kennismaking met die koerant was in Desember 1958. Wiets Beukes, ‘n assistent-redakteur en later redakteur van Die Burger, het hierdie beurshouer van Die Volksblad op die vooraand van sy eerste skof vakansiewerk gaan rondwys.

Die bysiende Bennie Lean het in die hiperaktiewe telekskantoor diens gedoen. Hy was besig om bladsy vir bladsy flink af te skeur soos Sapa en sy bronne (Associated Press en Reuter), asook susterskoerante en eie verteenwoordigers, die nuus van die dag in die tempo van geweervuur uitspoeg. Die volgende dag was die eerste beriggie wat ek gretiglik vertaal het, een van daardie. Dit is iewers op ‘n binneblad versteek. Maar was ek trots!

Op Vrydagaand 22 November 1963 het ek, nog relatief groen, danksy Sapa een van my eerste groot koerant-oomblikke beleef. Vroegaand het ek ‘n berig op kantoor kom tik. Toe roep Bennie (of was dit dalk sy adjudant, die getroue Smittie?). Uit Dallas, Texas, het die skokstorie uit Assoaciated Press se kantore begin rol oor die sluipmoord op pres. J.F. Kennedy by Dealy Plaza. Die een Sapa-“snap’ (flitsberig) op die ander.

Die ontvouende drama op die teleksmasjiene was intens boeiend. Gelukkig het die jongeling die teenwoordigheid van gees gehad om die senior assistent-redakteur, Bart Zaaiman, te bel. “O, gatta, ou Hendrik,” het hy gesê (hy het nie juis sterker taal gebruik nie),en die wiele aan die rol gesit vir ‘n spesiale poging die Saterdagoggend.
Die uwe was in die vertaalspan. Ek het die AP-kopie vertaal: Jackie Kennedy was “met bloed bespat”. Oom Bart het afkeurend gefrons. Met bloed bekoek,” was sy voorstel. Dit is soos dit in die koerant gestaan het.

Op 6 September 1966 was ek hoofsubredakteur toe Bennie die middag kort na 14:15 sy kop deur die luik tussen die telekskantoor en die subkantoor druk, bewend met ‘n Sapa-“snap” in sy hand: “Dr. Verwoerd stabbed by knife in Assembly”.

“Stop alles,” het ek deur dun lippe geskreeu en my sigaret (‘n Rembrandt van Rijn) sommer verkeerd-om in my mond geprop. Van die mees dramatiese, emosioneel-uitmergelendste en pakkendste ure in my koerantloopbaan is daarmee ingelui. Die gewone laat uitgawe, pas klaar, is onmiddellik ingrypend oorgemaak. Ons het koorsagtig aan ‘n nuwe gewerk. Die Verwoerd-drama is onder groot houtletters – wat gewoonlik vir ‘n oorlog gereserveer word – op die voorblad aangekondig: “Dr. Verwoerd vermoor”.

Dadelik daarna is met dieselfde verbetenheid ‘n spesiale uitgawe uitgegee. Toe dit van die pers kom, was Voortrekkerstraat (nou Nelson Mandelarylaan) gepak met lesers wat die koerant kom soek.

Soos die moorde op Kennedy en Verwoerd was vele ander moorde natuurlik “snap”-materiaal – ook ruimte-deurbrake en –rampe; die neerstorting van vliegtuie; vloede; staatsgrepe; rooftogte; politieke intriges; hartoorplantings; opspraakwekkende hofsake; menslike dwaashede en manewales; spitse op die sportveld.

Sapa was meesal die boodskapper en altyd ‘n betroubare dienaar – by geleentheid selfs met nuus oor die periodieke rekord-pampoen in ‘n plattelandse groetentuin!

Image0104

Spoedvraat Georjane van Zyl tussen twee latere groot geeste, Wilhelm Jordaan en Jaap Steyn, wat albei professore geword het. Voor is Herman le Roux en Hennie van Deventer, wat albei joernaliste gebly het.

Soos die Sapa-herinneringe vloei, kom die name en gesigte van groot geeste op. Eerbiedwaardige Sapa-joernaliste soos ‘n Arthur Classen, ‘n Robert Postma, ‘n Gordon van der Merwe en ‘n Bossie (naam vergeet). Almal Afrikaans, let wel. By hulle kon ek in my tyd as parlementêre verslaggewer (1963 en 1964) altyd gaan kontroleer as ek onseker was oor wat ‘n agbare lid presies kwytgeraak het.

Later het ek en Sapa se blymoedige Josh Brauer mekaar in die Vrystaat gedurig aan die een of ander perstafel raakgeloop – hy met sy een been en krukke; ek dalk te jonk en voortvarend om die ouer man altyd ondersteuning te gee. Toe het die bekwame Enid Rhodes in sy plek gekom. Met haar verbysterende snelskrif het sy tot die dag van haar dood haar ding gedoen

Gesoute teleksmanne met bltsige tikvingers, soos Fingers (sic) van der Merwe en Willem Tenner, kon die klawers hamer dat die masjien rittel en bewe soos ‘n hond wat gif gekry het (Kollega Johan van Wyk se uitdrukking).

Daar was, as jy aan die spoedvrate hulde wil bring, bowenal Georjane van Zyl (later Groenewald, later Oberholzer) van Die Volksblad, wat soos ‘n sneltrein deur ‘n pak Sapa-kopie kon sif en ‘n berig op spertyd in minder as ‘n japtrap kon lewer. Nooit iemand teëgekom wat vinniger as Georjane kon produseer nie.

‘n Mens kan te haastig raak. Die nimlike Georjane op volspoed het op ‘n dag “Durban City’s goalkeeper” as “Durban se stadstronkbewaarder” vertaal. In ‘n tyd toe onsedelikheid taamlik in die nuus was, het ‘n jong redaksielid die “vice grip” in ‘n Sapaberig sonder weifeling ‘n “onsedelike greep” gemaak. Eina!

Ander ligte mistykies het so met Sapa saam opgeduik. Die oggend van ‘n toets op ‘n Springboktoer in Nieu-Seeland was Die Burger in ‘n wedloop teen tyd om ‘n spesiale uitgawe op straat te kry. Toe raak hul eie man – nogal die nimlike Phil Weber – se verslag en dié van Sapa op ‘n duistere manier hopeloos vervleg.

Eers toe die rolpers begin draai – 10 triomfantlike minute voor die Cape Times – is die onleesbare deurmekaarspul ontdek. Die rolpers is terstond tot stilstand gebring vir ‘n tydrowende uitsortering van die gemors. Die Cape Times was lank voor Die Burger op straat.

Eers heelwat later kon in Keeromstraat stroef geglimlag word oor die naamlyn by die berig: “Van ons spesiale Springwoordiger by die Verteenbokspan”! (hvd)

“VERBODE” BOEK

images

Middag uit Melkbos

Wyle Andre P. Brink se wonderlike boek van die jare 60 Die Amabassadeur by ‘n vriendin present gekry. Was daardie tyd parlementere verslaggewer in die Kaap, en oor die Paasreses kom my ouers toe kuier – bring, op my versoek, die oulike Bultfonteinse nooi Tokkie van Wyk (nou mev. Tokkie van Deventer) saam. In die woonstel sien Ma die boek, blaai in hom en sien die inskrywing. Goeie moeder ag dit toe gerade om die boek liewer diep weg te steek – nie oor die skrywer of die verhaal nie maar oor die gewer.

Het die storie vanoggend n.a.v Brink se dood gister op ‘n vliegtuig op Facebook vertel, en bygevoeg: “As dit gehelp het om onnodige konflik te vermy, is ek dankbaar”.

Theo Venter kom daarop uit Potchefstroom met die volgende vorendag: : “Hennie, jy kan bly wees jou ma het Die Ambassadeur nie gelees nie! “

Hoekom dan nie?

“Dit was my eerste boek in die vroeg sewentigs! Laat my dink aan my eie ouma wat ‘n Mills & Boon vir Kersfees kry op 97. Sy begin dadelik lees en so uur later met hele familie om haar vra sy haar twee skoondogters: “Wat is oral sex?” Chaos in familie en 100% onkunde! Ouma Venter is op 101 oorlede sonder dat iemand haar ooit geantwoord het!”

Kon die versoekong nie weerstaan om toe ook weer die storie van Tokkie en my Bloemfonteinse woonstelmaat Willie Kuhn op te haal nie.

Dit was 1966. Sy was ‘n splinternuwe onderwyseresse, vars uit Bultfontein.

Een aand wou sy in die kombuis van ons woonstel by Willie weet: “Wat beteken ballas?”

Sy het die “vreemde woord” die oggend uit die mond van een van haar standerd-een-seuntjies die eerste keer gehoor. Willie se skamerige maar diplomatiese antwoord: “Stel voor jy vra vir Hennie as julle eers getroud is”. (hvd)