SKIP MIDDELDEUR GESAAG

sinfonia1

Die inlasstuk wag kant en klaar.

sinfonia2

Die Sinfonia word in twee gesaag.

sinfonia3

Die sweisers kan maar kom!

Middag uit Melkbos

‘n Ingenieurs-mirakel. Die massiewe werk wat op die oomblik in Parlermo, Italië, aan die gewilde vakansieskip die MSC Sinfonia verrig word, is niks minder nie. Die asem van hierdie skeepsentoesias en bewonderaar van die Sinfonia (uitspraak Sin-fo-nié-a) is weggeslaan.

Die ou Sinfonia was groot. Was in 2009 met sy 1 500 passasiers en 720 bemanningslede die grootste passasierskip wat in daardie stadium nog ‘n Suid-Afrikaanse hawe aangedoen het. (Queen Mary 2 en ander reuse het later gekom). MSC het egter besluit hy moet nog groter.

Toe saag Italiaanse skeepsingenieurs die ou skip, al 11 verdiepings, eenvoudig middeldeur en las ‘n splinternuwe stuk in. Die nuwe stuk is 24 meter lank en huisves 193 nuwe kajuite, sitkamers, speelplekke en wat nog. Dit het kant en klaar lê en wag As’t ware oornag is alles vasgesweis en geseël. Die Sinfonia in sy nuwe gedaante was seevaardig

Die herboude Sinfonia se “nooiensvaart” is op 25 Maart na Genoa en daarvandaan na Ajaccio, Barcelona and Marseilles. Die skip kom op 19 November in Suid-Afrika aan vir die 2015-16-seisoen. Dit vervang die Opera as “Suid-Afrika se skip”.

‘n “Renaissance”, noem MSC die reuse-opgradering van sy voorste passasierskepe teen ‘n koele E300 miljoen. ‘n “Renaissance” is dit voorwaar. Die Sinfonia is nie net langer en groter nie, maar ook ‘n deurgaans weelderiger drywende hotel as die een waarop tienduisende Suid-Afrikaners al om ons kuste gevaar het. Ook die Van Deventers van Melkbosstrand.

Met al die Sinfonia se glansende marmer, gloeiende okkerneuthout en spieëls genoeg vir die troonkamer van ‘n praalvors se paleis het ons kennis gemaak op sy se heel eerste Suid-Afrikaanse vaart van 10 tot 13 November 2009 van Kaapstad na Durban. Ons en ons tweeling-kleinkinders, Jacob en Thomas Claassens.

Ons vier was ook op die laaste vaart van die oue in SA waters op 14 en 15 Maart 2014 – ‘n sogenaamde vaart “na nêrens” rondom Tokkie se verjaardag. Hierdie keer was die hele Claassensgesin saam, ook pa Brent, ma Marisa en kleinboet Christopher.

Oupa Hennie is gek na vaar. Dit was ‘n heerlikheid om op die stylvolle Sinfonia elke hoekie te verken – restaurante soos die klassieke Il Galeone, Il Covo en informele La Terrazza op die agterstewe met die verkwikkende seesproei in jou neus; om elke aand die fyn can-can-danseressies met hul swierige pluime en passies in Teatro San Carlo te waardeer, en om bedags die ry verloklike swembaddens en borrelbaddens asook die rye en rye diepseeblou dekstoele, uitgepak in foutlose simmetrie, op dek 11 te geniet.

Sal dit iemand verras dat die uwe sommer dadelik weer plek bespreek het? Ja, Johan van Wyk was nie verkeerd nie: As jy eers gestaan, lê, proe het, raak jy meer erg. Die VanD’s klim op 25 April 2016 in Kaapstad op die nuwe Sinfonia vir ‘n vaart na Walvisbaai. Ons kajuit is nommer 8196. Wie vaar saam?

Maar eers gaan ons op MSC Opera oor twee maande Europa toe. Ons vertrek op 28 Maart. Die droomroete sluit in St. Helena; die sonnige Lanzarote op die Kanariese Eilande; die prentjiemooi Spaanse stad Cadiz; die kleurryke Valletta, hoofstad van Malta; die Griekse eiland Corfu met sy pastelkleurige huise en oulike systraatjies; Dubrovik, idilliese Mediterreense juweel, en uiteindelik romantiese Venesie met sy kanale, brue en gondels, manjifieke kunswerke en unieke argitektuur.

In Palermo wag die ingenieurs egter al op die Opera. Hy is volgende op die MSC se lys van vernuwing. ‘n Span kundiges is al lank kliphard aan’t werk aan planne om die Opera, nes die Sinfonia, op ‘n verbeeldingryke skaal te verbreek en verbou. Op Melkbos wag ek in spanning op die resultaat.

Klink ek dalk te veel soos n verkoopman as ek oor skepe en skeepsdinge so opgewonde raak? Dan haas ek my om lesers te verseker dat ek geen sent afslag gekry het om te help “bemark” nie – net vier blikkies Coke vir ons en ons kleinkinders, Jacob en Thomas, op ‘n warm, windlose middag op dek 11 het oupa R150 armer gemaak.

En dit was in 2009. Wonder hoeveel ek nou vir my Coke (en dalk ‘n ietsie sterkers) gaan opdok. Maar ek doen dit met ‘n lekker hart. Oumense moet hulleself ook ‘n bietjie bederf. (hvd)

MOEDERLIEFDE VAN ‘N LEEU

1-aaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaa

Middag uit Melkbos

Op ons eerste oggend in die wildtuin kom ‘n leeumamma na die Honda aangestap met ‘n welpie in haar bek. Agter haar drentel twee kleintjies op waggelbene. Hulle lyk nie juis borrelend gelukkig nie. Ek kon sweer hulle kerm omdat hulle moet loop terwyl boetie/sussie die luukse van ‘n “ma-taxi” het. Dalk was dit is dit sommer romantisering van ‘n gryse ou natuurliefhebber.

Dis die kleinste klein welpies wat ek in al die jare in die wildtuin gesien het. Selfs iemand wat al 19 jaar in Skukuza woon, Lida Pressly, het nog nie sulke klein welpies gesien nie. Hoe oud sou hulle wees?

Op ons laaste rit soek ons met ‘n seer hart ‘n luiperd. Luiperd se kind bly egter weg. Maar net verby die Orpendam sien ons aasvoëls en ‘n aktiwiteit op die grond wat aanvanklik vir Tokkie soos die swaai van ‘n leeu se stert lyk – dis toe vier jagluiperds onder ‘n boom. Ek sit aan die verkeerde kant, verwyder van die opwinding. Gelukkig is kleinseun Jacob (10) ‘n bedrewe fotograaf. Ek prop na ‘n rukkie se gesukkel die nuwe klein Canon in sy hand en hy laat waai. Besonderse foto’s, reken oupa.

Wat ek nie waardeer het nie, is die klein rakker se opmerking dat oupa alles rondom die jagluiperds afgeneem het – net nie vir hulle nie!

IMG_0357

Een van Jacob se jagluiperdfoto’s

Een hoogtepunt op die eerste dag – nog een op die laaste. Al hoogtepunte was dit nie. Ons het weer ‘n keer leeus gesien, troppe olifante, mooi buffels en naby Onder-Sabie vier renosters in ‘n groep. Die olifant wat ons die langste sal onthou, het teen sonsondergang by Granokoppie rondgeloop en vir ‘n besoeker luidrugtig ore geflap.

Ons was op Granokoppie nie om dowe neute nie – wel vir ‘n uitsonderlike piekniek saam met die Presslys van Skukuza. Om van daar bo af die son in die weste te sien sak, was ‘n skouspel van kleur. Wonderlike voorreg. Jimmy en Lida het hulle onderskei met ‘n piekniektafel soos min. Die Van Deventers en die Claassens-seuns kon smul – en het hulle nie! – aan o.m. skaapwors (nogal uit Bultfontein), frikkadelle, gerookte hoender, salamiwors, spanspek, waatlemoen, lietsjies, ‘n eiervrug-pate, agurkies, olywe en tamaties. Jimmy het gesorg vir die heerlike eiervrug gereg en ons verder getrakteer met geurige broodvingers wat met allerlei soute en olyfolie besprinkel is.

Te drinke was daar gemmerbier (met baie rosyntjies, soos Thomas daarvan hou), vrugtesap en wyn met ‘n historiese kinkel. Die naam is Boer and Brit. Die produsente is glo afstammelinge van Paul Kruger en Lord Kitchener. Hoe ook al, om agteroor op Granokoppie met ‘n glasie wyn die sonsondergang te geniet, was ‘n yslike bederf. Dankie, Jimmy en Lida.

Somer 20151

Spesiale oomblik met ‘n spesiale houtjie.

By Sabiepark was die treffertafels van Jacob se tweelingboet Thomas telkens ‘n hoogtepunt, soos ek in die vorige blog vertel. Die seuns het om die beurt vuur gemaak, met Christopher (vandag ‘n ronde 6) altyd op die voorpunt. ‘n Spesiale oomblik was toe Jacob die houtjie in die vuur steek wat hy twee jaar gelede versigtig in kleefplastiek vir oupa en ouma se toekomstige gebruik toegedraai het. Ons het dit gerade geag om dit tvir die regte oomblik te hou. ‘n Beter oomblik kon daar nie wees nie.

Jacob, die fotograaf, het ook verskeie spanfoto’s geneem danksy sy vernuf met tydopnames en dinge waarvan oupa min snap: in die swembad, by die naambord (Tarlehoet) en ingeryg op ons dubbelbed.

Ongetwyfeld die bedrywigste kolletjie in die ganse Sabiepark daardie twee weke was Tarlehoet se bos-swembadjie. Daar was elke aand tot laataand omtrent verkeersknope soos entoesiasties en masse afgekoel is. Die eerste dag toe ons die seil afhaal, kom ons ‘n fris skerpioen tee wat blykbaar ook kom lafenis soek het. Ongelukkig vir hom was sy ontsnaproete versper. Die swembad het sy watergraf geword. Elke seun het ‘n beurt gekry om met “vreesloos” met die dooie skerpioen in die hand afgeneem te word.

Die watergat was vreemd stil, maar het darem ‘n enorme liefdesnessie van ‘n romantiese paartjie skuimpaddas opgelewer. Lyk mos nes ‘n bol skeerskuim – en is altyd bokant water sodat vir die paddavissie-kroos by geboorte darem ‘n sagte landing wag. By die piekniekplek het ons ‘n groterige stokinsek lomp sien aansukkel.

Maar waar was die nagapies? Die eerste keer in al die jare het die piesang-aanbod by Tarlehoet se pendoringboompie nie aftrek gekry nie. Wel, die bos was ook so geil en lowergroen dat die veld seker genoeg van sy eie lekkernye vir elke dier of diertjie opgelewer het.

In Junie/Julie maak ons weer so. Te vroeg om slapies te begin tel. Maar die Kululakaartjies bos toe is klaar gekoop (hvd).

BOS KOM TAFEL TOE

IMG_0425

Middag uit Melkbos

Die bos in al sy heerlike fasette danksy die kreatiwiteit van ‘n kleinseun saans in tafeltemas weerspieël. Dit was ‘n nuwe dimensie van ons somervakansie in Sabiepark saam met die drie Claassens-kleinseuns, Jacob en Thomas (10) en Christopher (5).

Thomas het hom onderskei met sy oorspronklikheid en vindingrykheid terwyl sy tweelingbroer, Jacob, en die jonger Christopher hulle meer op die vuurmakery toegespits het. Maar vele hande maak ligte werk. “Team work” – een van Christopher se handelsmerk-begrippe – was party aande aan die orde van die dag: veral toe die tema die aand “liggies” was, en al wat ‘n lantern, kers of fakkel was, moes brand (foto bo). .

Ouma Tokkie het op die agtergrond gebly, maar deurslaggewende voorstelle het ook uit daardie oord gekom. Net Oupa Hennie was aan die tafelfront ‘n nul op ‘n kontrak.

Temas het gewissel van diere tot voëls tot veld tot bos. Die sebrabreekgoed het hulle goed geleen tot ‘n “sebra-aand”.

IMG_0388

Christopher, Thomas en Jacob by hul “bostafel”.

IMG_0385

Lantern en kerse, driepootpotjie, blaker en blikbekers sorg vir ‘n bosatmosfeer.

IMG_0340

Ons eet op die agterstoep en die tema is voëls.

IMG_0306

‘n Koedoe, ‘n sebra, ‘n seekoei en ‘n klein renostertjie sorg vir ‘n dieretema.

IMG_0256

‘n Mens ruik sommer die veld.

IMG_0255

Die hele span by hul “veldtafel”.

IMG_0234

Thomas by sy “sebratafel”.

IMG_0183

Snuifkalbassies en ander goeters uit die veld.

IMG_0206

Op elke servet het Thomas geskryf: Lekker eet. Ek is lief vir jou.

Ons is lief vir jou ook, Thomas.