BABANANGO TOT MELKBOS

More uit Melkbos

Vandag, net ‘n asemteugie voor die betreding van my 75ste jaar op Saterdag 3 Januarie 2015, blaai ek die vergeelde bladsye van my eie geskiedenisboek ver-ver terug.

IMG_0003

My ouers was Johannes Cornelius (Seun) van Deventer van Babanango en Maria Petronella (Baby) Visser van Paardenberg (foto bo). Twee mooi mense gewees!

IMG_0002-001

Ná hul huwelik het die jong paartjie hulle op die plaas Middel-in aan die voet van die berg Spês in die wuiwende graslande van die distrik Babanango gevestig (foto bo). Middel-in was deel van die familieplaas Rondspring.

IMG_0004-001

Op 3 Januarie 1941, ‘n dag voor my pa se 30ste verjaardag, is hul oudste (en enigste) seun, Jakob Hendrik, in Sister Gilbert se Nursing Home op Dundee gebore. My ma was ‘n bloedjong 21. Op die foto is die eerste foto van die uwe. Die mannetjie was toe twee maande oud. Sy stootwa lyk na ‘n heel netjiese 1941-model.

IMG-001

Die Jakob Hendrik kom van oupa Van Deventer, hier op die foto saam met ouma, Maria Catherina van den Berg. Oupa Jakob was 30 jaar ouer as pa Seun, nes pa Seun 30 jaar ouer was as ek, en ek 30 jaar ouers is as Johan. Die grootvader en grootmoeder is in die familiebegraafplaas op die plaas Rondspring begrawe. Het ‘n klompie jare gelede ‘n pelgrimstog daarheen onderneem.,

IMG-001

Buiten vir die foto in die stootwaentjie, het ek ook babafoto’s (bo) waar my pa my vashou (op 4 maande) en waar ek op sy skoot sit langs die huis (op ses maande). Let daarop dat hy, die jong boer, op albei foto’s baadjies aan het. Ongelukkig had die kleine Van Deventer ‘n kroep borsie, wat toenemend minder lekker geakkordeer het met die klam, mistigheid van die Natalse weer.

hvd0161

Op hul seuntjie se tenger ouderdom van drie moes die Van Deventers op doktersadvies die groen heuwels van Noord-Natal groet en na Kimberley verhuis. Pa wat nie ander opleiding gehad het nie, het by De Beers werk gekry as sekuriteitsbeampte. Ons huis was ‘n skakelhuisie in Diagonalstraat (nommer 10) met ‘n peperboom en ‘n kleinhuisie in die agterplaas. Die foto bo, op die voorstoep, is in 1946 geneem. Kon nie lank voor pa se skielike dood gewees het nie.

IMG_0009-001

Op 21 Junie 1946 het pa by die werk siek geword, op sy fiets huis toe gery, soos sy gewoonte was, sy klere netjies opgevou en in die kas weggebêre. Kort daarna is hy in sy slaap aan ‘n bloedklont deur die hart oorlede. Hy is begrawe in Kimberley se begraafplaas , blok q, ry 12, graf 7. Dis die weeskindjie Hennie wat hierbo, netjiese gebaadjie en gedas en pet in die hand, by die grafsteen staan.

Scan10076

Ma Baby en ek was alleen (totdat sy in 1950 met Tony Malan getroud is – so goed vir my soos ‘n eie pa). Sy het in die Kimberleyse sentrale gaan werk waarheen sy elke dag met haar fiets gery, My Tant Minnie het my in 1947 die eerste dag skool toe geneem …. ‘n verlore skapie.

10685471_1035197449829115_8014127872224826142_n

Maar die kleine Hennie het fluks geleer en het, ondanks die borsie, ‘n gesonde man van 74 geword, al 48 jaar gelukkig getroud met Tokkie, en al 18 jaar afgetree hier op Melkbos. Hoe dankbaar moet ‘n mens nie wees nie!

Tot siens 2014. Glimlagjaar elke leser toegewens.

LEKKER OM 100 TE WEES!

Volkbladmense by Heemstede. Van links is Tobie Wiese, Gert Coetzee, Henriette Loubser, Hennie van Deventer, Johan van Wyk en Chris Moolman . Wiets Beukes, Willie Kühn en Andreij Horn was ongelukkig te laat vir die foto.

Volkbladmense by Heemstede. Van links is Tobie Wiese, Gert Coetzee, Henriette Loubser, Hennie van Deventer, Johan van Wyk en Chris Moolman . Wiets Beukes, Willie Kühn en Andreij Horn was ongelukkig te laat vir die foto.

Middag uit Melkbos

Ouma Marietjie is ter ruste skuins voor 99 en Bianca Lucas, buurdogter, het vanjaar matriek geskryf. Ek onthou hoe Bianca as 5-jarige in ‘n vlinderagtige partytjierok vroeg opgedaag het vir Ouma se 90ste verjaardag. “Dit is my eerste 90ste verjaardag,” het sy vrolik verklaar.

Donderdag was ek een van die eerstes by Heemstede op Stellenbosch vir die stylvolle herdenking van die Pers en die Burger se stigting 100 jaar gelede. Die okkasie het vir my dieselfde fassinering ingehou as Ouma se gevorderde verjaardag vir die vyfjarige Bianca, skat ek.

Opgewondenheid om na 18 jaar se aftrede weer soveel ou gesigte te sien, het plek gemaak vir oorstelptenis. Soos kollegas aankom, het ‘n loopbaan van 35 jaar in taferele verbygeflits. Dit was ek, ‘n jonger Hennie van Deventer, daar in die voorste ry van die fliek terwyl half-vergete tonele hulle afspeel.

Wiets Beukes, latere redakteur van Die Burger, was die eerste Volksblad-gesig wat ek gesien het toe ek einde 1958 met my koffertjie in Bloemfontein aangeryloop kom vir vakansiewerk. Hy het my die aand die redaksiekantoor gaan wys … en die teleksmasjiene – die kloppende hart van die koerant soos berigte vanoor die wêreld instroom. Sjoe.

Ek was in ‘n buitekamer in Sewende Laan waar Wiets ook tuisgegaan het. Een van my vroegste herinneringe is die kennismaking op sy draaitafel met die Largo-gedeelte van Antonin Dvorak se Nuwe Wêreldsimfonie in 1958. Die simboliek het my eers na jare getref. Met daardie eerste wankelende tree in die werklike joernalistiek is inderdaad vir my ‘n gans nuwe wêreld ontsluit .

En wat ‘n wêreld. Watter voorreg was dit nie om daardie wêreld stuk vir stuk te ontdek, om intens daarin te leef en my ten volle daarin uit te leef nie — al het dit soms met stampe en stote en met skades en skandes gepaard gegaan.

Toe ek permanent inval in 1963, het ek en Willie Kühn, slim Nataller en latere redakteur van Beeld en Huisgenoot, gou woonstelmaats geword. In Giel Conradiehof het Tokkie saans kom kuier en kosmaak. Ek onthou huisbesoeke deur ou-dominee McDonald van die Klipkerk wat nie kon kleinkry waar pas die mooi, jong vroumensie in nie. Dan bid hy sommer vir “die twee broers en hul vriendinnetjie!”

Een aand in die kombuis konfronteer die “vriendinnetjie” Willie met die vraag: “Wat is ‘n ballas?”

“Ekskuus?”

Sy herhaal die woord, en verduidelik die rede vir haar navraag. ‘n Seuntjie in haar klas het kom kla ‘n maatjie sê sy ballas. Omdat sy – o soete onskuld! – nie geweet het watse ding dit is nie, het sy van die aangeleentheid korte mette gemaak met ‘n besliste: “Ag nee, man, gaan sit.”

Willie het keel skoongemaak en diplomaties geantwoord: “Ek stel voor jy vra vir Hennie nadat julle getroud is!”

Beeldmense by Heemstede. Salie de Swardt is links.

Beeldmense by Heemstede. Salie de Swardt is links.

By Beeld, van 1974 af, was ek en Salie de Swardt gou vriende wat saamgery het kantoor toe. Ons het hard gewerk maar darem nie dag en nag nie – hoewel dit soms so gevoel het. Die moeder van alle partytjies van Beeld se eerste jare het begin as ‘n taamlik stigtelike prysoorhandiging vir ‘n rugbyraai-kompetisie. Alles was redelik vroeg agter die rug toe Ton Vosloo sy sekretaresse aansê om so twintig plekke te bespreek by Norman’s Grill, ‘n eetplek suid van die spoorlyn bekend om sy voortreflike kreef.

Feitlik die hele hoofredaksie – Ton, ek, Salie de Swardt en ander wat reeds dood is – ‘n paar rugbyspelers (onder wie die Springbokstut Daan du Plessis) en die twee sekretaresses, Gerda Pienaar en wyle Ina le Roux, het gaan aansit.

Daarna het ons gaan “koffie” drink by Ina se woonstel in Bedfordview, waar dit laat begin word het. Van die manne het toe al gesukkel om hul motors in die donker op te spoor, maar nog was het einde niet. Ons het na Salie se huis in Fairlands vertak. Die kopseer was ná ‘n dag of so vergete, maar die ramifikasies tuis het nog lank geduur …

Die immergroen Danie Krynauw was hoof van Naspers se tydskrifte toe ek in 1992 by die Nasperssentrum instap as hoof van koerante. Ons was bure in ‘n kantoor-suite. Ons het een buitedeur na die gang gedeel en het ons onderskeie domeine betree deur die gemeenskaplike kwartiere van ons twee P.A.’s, Willa (Danie) en Lizette (HvD).

Op die eerste dag, 1 April 1992 (Gekkedag!), was hy my gasheer op my eerste besoek aan die kafeteria Van Alle Kante met die prentjiemooi uitsig na alle kante. Danie het vir die groentjie ‘n broodnodige blitskursus in hoofkantoor-kultuur gegee. Hy het my nogal verras met openhartige uitsprake oor sekere persoonlikhede. Ja, hy kon nogal brutaal eerlik wees, dié saggeaarde Danie. Mettertyd het ek agtergekom hy was selde verkeerd in sy oordeel oor mense.

Ek het sy talent beny om selfs in die uitdagendste omstandighede koel en kalm te bly. Na die uwe se eerste paar direksievergaderings het ek aan hom gebieg hoe ek sidder dat ‘n bepaalde direkteur my (wat geen M.B.A. was nie!) oor geldsake sou vasvra. Sy advies was pront: moet nooit dat hulle agterkom dat jy nie weet nie; ‘n ingeligte raaiskoot is altyd beter as ‘n erkenning van onkunde.

Ek het sy raad een keer op die proef gestel. Later het ek ontdek my raaiskoot was ver van die kol. Dit verklaar seker die verwarde uitdrukkling op die betrokke direkteur, Boetie van Zyl, se gesig. Ook die skrander man wat met syfers kon toor en deur kafpraatjies kon sien, was Donderdag daar.

Voorreg vir my gewees, pionierskollegas, om elkeen van julle – en soveel ander – weer te sien. Grys of krom, in weersiens vergeet jy mos die ouderdom. Lekker om 100 te wees. Klink ‘n glasie!

SELDSAAM SOOS ‘N DRIEPONDNOOT

Die twee gryses klink 'n heildronk op 'n lang vriendskap langs die Sabie in Sabiepark.

Die twee gryses klink ‘n heildronk op ‘n lang vriendskap langs die Sabie in Sabiepark.

More uit Melkbos

My woonstelmaat, kollega, vriend en vertroueling met baie geheimpies, Ben van Rensburg (83), is vanoggend om 06:30 in die Mediclinic Vergelegen, Somerset-Wes, oorlede. Sy vrou, Rina, met wie hy in Maart 2011 getroud is, was aan sy sy. Het Maandagaand nog saam met Ben ‘n wyntjie of twee geniet op Beeld se 40ste verjaardag op die jaarlikse Beeld-geselligheid by Salie en Lisa de Swardt, buite Stellenbosch.

Sou ook nog gister saam met Ben en Rina gekuier het. HUlle sou Melkbos toe kom om saam met ‘n spannetjie Volksbklad-kollegas Piet en Petro Theron van Bloemfontein se Goue Bruilof te vier. Gisteroggend het Rina laat weet: ‘n Klomp toetse moet op Ben gedoen word. Hulle sal dit nie maak nie. Dat dit so naby aan die einde was, het niemand besef nie.

As huldeblyk herpubliseer ek graag hier ‘n hoofstuk oor Ben by sy 80ste in 2011 in my boek Lewensgroot en GROTER. ‘n Geweldige tekortkoming van daardie hoofstuk is dat Ben se studentebynaam , Bennie Driepond, nie daarin vermeld is nie. Die wellewende, sjarmante Ben was inderdaad so seldsaam soos ‘n driepondnoot.

WIELETJIE-MAN VAN (S)TAAL

DIE bekroonde motorskrywer Ben van Rensburg, ‘n gewese woonstelmaat in Bloemfontein, word ‘n op-en-wakker 80. By sy geskenkie skryf ek ‘n stukkie wat ek versigtig herlees. As jy Ben se toorn wil uitlok, moet jy met die taal mors.

Van my skitterende subspan toe ek in die middel 60’s hoofsub was, was Ben die beneukste lid. Verslaggewers se broeke het gebewe as hy hul naam bulder. Van ons ander het met die jare minder rigied geword oor die voorskrifte van die taalghoeroes L.W. Hiemstra en J.J.J. Scholtz, wat by ons ingedril is. Nie Ben nie. Hy bly onversetlik ‘n taalpuris.

Koerante en die SAUK jaag gereeld sy bloeddruk op met hul slordige taal; ook met onverskilligheid oor feite – iets wat deesdae algemeen voorkom.

Ben het vele passies. Die bynaam “Ben Wieletjies” verklap ook ‘n passie vir motors. Dat hy ‘n gerekende motorredakteur geword het, het nie uit die lug geval nie. Hy besit ook ‘n versameling speelmotortjies wat ‘n klein fortuin werd moet wees.

Een van sy kenmerke as motor-verknogte is sy aandrang op die nakoming van padreëls en -regulasies. Van dag een af het het jy nie saam met Ben gery sonder dat jy vasgegordel is nie. Hy sluit ook van toeka af sy motor se deure, al ry hy net ‘n kort entjie. La-a-a-ng ente skrik hom nie af nie. Doerie tyd het hy maklik op ‘n Vrydag in Bloemfontein met sy “Kewer” weggespring om in die Kaap te kom kuier. Sondag was hy weer op pad terug.

Ben het ‘n passie vir die beroemde/berugte manskoshuis Wilgenhof op Stellenbosch (hy was van 1953 tot 1955 en toe weer in 1959 ‘n inwoner), vir Suidwes (nou Namibië), vir enigiets van moontlike historiese belang, vir tegnologie, vir goeie wyn, vir sy vriende … Die man se passies hou eenvoudig nie op nie.

Die lojaliteit van oud-Wilgenhoffers is legendaries (dit moet hierdie Kollegeman van Tukkies maar erken). Ek wonder hoeveel het hul lojaliteit al in dieselfde mate in praktiese dade omgesit as Ben. Hy het hom in ‘n stadium half morsdood gewerk om ‘n register van “Wilgenhoffers” saam te stel.

Praat hy van Namibië, kom ‘n glinstering in sy oog. Hy is lief vir daardie ruwe land waar hy in die 50’s vier jaar lank gewerk het, en wil net gedurig “sy plek” vir leef en beef gaan wys.

Sy historiese ingesteldheid sien jy in sy gedugte versameling boeke, foto’s, plate, CD’s, dokumente en wat nog. Ben en sy lewensmaat, Rina Koen, (met wie hy in 2011 getroud is) het begin April uit Langebaan na ‘n aftree-eenheid in “Villa Cortona”, Durbanville, getrek. Dit is ‘n maand later en hulle trek nog altyd, want om hul onderskeie besittings te akkommodeer, bied nogal ‘n uitdaging. Skrynwerkers is in en uit soos hulle links en regs ekstra kaste en rakke moet insit. Maar die mure kan ook nie net vol kaste en rakke nie, want al die foto’s en skilderye moet hang! (‘n Latere trek was na Stellenboch.)

As jy iets wil weet oor die modernste GPS-, rekenaar-, selfoon-, kamera- en elke ander tegnologie, gaan vra maar vir Ben. Hierdie 80-jarige is gedurig aan’t opgradeer. En hy weet hoe elke nuwerwetse vurk in elke nuwerwetse hef steek.

In “La Gratitude” in Bloemfontein – waar ons 1965 rond woonstelmaats was – het Ben my leer port drink wat hy in karba’s van “Stukvat” in die Paarl bestel het. Van al die dinge waaroor ek aan Ben dank verskuldig is, is daardie bekendstelling aan die “Kaapse kultuur” bepaald vermeldenswaardig. Deesdae geniet ek my wittetjie en hy sy rooietjie steeds terdeë.

Soos sy uitgebreide kring vriende uit sy studentedae, Suidwesdae, SAUK-dae, koerantdae, Toyota-dae en Langebaan-dae sal ek Sondag by Ben se 80-ste ‘n glasie op ‘n eersteklas-kollega en –kameraad klink. By sy geskenkie het ek geskryf dit is my hoop dat hy die volgende skof met dieselfde warmte vir sy vriende, entoesiasme vir die dinge wat vir hom saak maak en toewyding aan standaarde sal voortsit. Ek wonder net of ek “standaarde” nie liewer met “maatstawwe” moes vervang het nie. Dis dalk beter Afrikaans!

Naskrif: Ben ry ook ‘n Honda CR-V. Ek voel nogal in my noppies dat ek op eie houtjie dieselfde motor as so ‘n kieskeurige kenner gekies het. Trouens, ek het voor Ben ‘n Honda gery.

6 Mei 2011 (hvd)

My WeRELD, OU HENNIE!

2014_12_15

Rolene Strauss, HvD en Gina Marie Tolleson en die gewraakte opskrif oor Anneline Kriel.

Middag uit Melkbos

‘n Vaderlike gevoel (wel, eerder grootvaderlik, om eerlik te wees) wel by my op by die kroning van die skone Rolene Strauss, mediese student by Kovsies, as Mej. Wêreld.

Met die pragtige meisiekind het die Van Deventers via haar oupa Johann en ouma Elsie Strauss ‘n jarelange buurmanskaplike band.

Johann (let op die dubbel-n – hy is baie gesteld daarop) en Elsie was ons bure oorkant die straat in die dekade 80 in Dan Pienaar, Bloemfontein. Kan getuig haar stamboom is piekfyn.

Oupa Johann was professor in sosiologie aan Kovsies – ‘n kritiese koerantleser met wie ek meermale in debat was, veral oor die politiek van die dag. Hy had destyds die gewoonte om by elke besoek sy besoekersboek onder jou neus te druk. My en Tokkie se name moet dikwels daarin pryk – veral Tokkie s’n. Sy en die liewe Elsie, ‘n nooi Avis uit Suidwes (nou Namibie), het nogal heelwat oor en weer gekuier.

Johan is later na die Technikon OVS (nou die Sentrale Universiteit van Tegnologie). HY en Elsie woon al jare in die aftree-oord Noorderbloem in Bloemfontein. Met sy gesondheid gaan dit nie so klopdisselboom nie.

Rolene se pa, Hennie, het as’ t ware voor ons grootgeword. Oulike seun gewees, hoofseun van Sentraal en glibberige eerstespan-senter. Hennie is dokter op Volksrust, waar hy begin praktiseer het nadat hy by Kovsies klaar geswot het.

‘n Jonger broer, Retief, is ook ‘n dokter – narkotiseur, om die waarheid te se. Retief is aktief op een van daardie uitreikskepe wat om die wêreld vaar en ‘n helpende hand uitsteek na mense in nood.

Suster, Anize (self ‘n mooie meisiekind) is getroud met Bertie Koetsier, ‘n senior bestuurder in die verpakkingsbedryf. Sy was my kinders se portuur.

Wonder of buurman Johann nog sal onthou hoe my vrou een oggend in sy arms wakker geword het. Darem nadat sy in die kombuis flou geval het. Buurman se hulp is ontbied omdat die uwe, soos amper altyd, op kantoor was besig om koerant uit te gee.

Pen maar hierdie herinneringe hier neer – my geheue is ook nie meer altyd wat dit moet wees nie. Maar ek onthou darem twee Mej. Wêreld-ervarings uit my jonger dae heel goed.

Die eerste was met die ongekunstelde Tukkie-student Anneline Kriel van Witbank wat 40 jaar gelede skielik in die warrelwind-wêreld van ‘n internasionale skoonheid gedompel is. In die proses het sy haar blonde koppie ‘n keer of wat gestamp – soos toe die spierpaleis Roy Hilligenn (amper verspreek ek my) haar sonder ‘n draad klere afgeneem het. Die skokfoto was op die voorblad van die Sunday Times.

In 1978 het ek haar daarna uitgevra in ‘n uitvoerige onderhoud vir die rubriek Onder Vier Oë in Beeld (wat deur die uwe begin is). Sy was toe 22 – ‘n veel ryper en wyser skoonheid. In die onderhoud het sy verkeerde vriende die skuld vir onplesierighede soos daardie gewraakte foto gegee. Sy het die kabaretster Richard Loring by die naam genoem en prontuit verklaar hy het haar misbruik om sy eie loopbaan te bevorder.

Die opskrif by die rubriek was: Verkeerde vriende het Anneline verlei. Die vet was in die vuur. Loring wou al stomende hof toe. Maar daarvan het niks gekom nie. My simpatie, tot vandag toe, is by Anneline – nie net omdat sy so waaragtig mooi was/is nie.

In 1991 het my pad weer met ‘n Mej. Wereld s’n gekruis. Gina Marie Tolleson van South Carolina wat die kroon in 1990 gedra het, het saam met Julia Morley (gisteraand ook weer ‘n sleutelfiguur) Bloemfontein besoek. Rolprentbaas Boet Troskie het vir hulle ‘n dinee in sy herewoning Eden in Millie Krauselaan aangebied. Die uwe was seremoniemeester, aitsa.

In my album van daardie jare het ek ‘n foto van haar wat oor my troon. Benewens haar fiere gestalte val die lae hals van haar swart rok op. Het ook ‘n reklamefoto van haar met haar kroon op. Daarop het sy geskryf: To the master of ceremonies, Gina.

Dis 25 jaar later. Niemand vra my meer om seremoniemeester te wees nie. En sy? Wonder of sy nog as Mej. Wêreld van 1990 onthou word. Hoe sou Gina nou lyk en sou sy nog sulke lae halse kan dra?

SOET MUSIEK

Bo: Net HvD's oweral. ONDER: Links: Tot siens, Lizette, my bewame P.A.   Regs: Fred Mouton se skets.

Bo: Net HvD’s oweral. ONDER: Links: Tot siens, Lizette, my bewame P.A. Regs: Fred Mouton se skets.

More uit Melkbos

Soet musiek in die ore van Hennie van Deventer. So het Ton Vosloo by Naspers se jaarvergadering op 8 Augustus 1997 die voorspoed in die koerantesektor beskryf.

Verskoon maar ek voel daarna om die betrokke paragrafie in sy jaarverslag volledig hier aan te haal:

“In die geheel het die koerantesektor sy vorige jaar se rekordbydraes met gerief geklop en begroot hy vir ‘n fris styging vanjaar. Dit is soet musiek in die ore van die sektor se energieke leier, mnr. Hennie van Deventer, en is ‘n groot pluimpie vir hom. Hierdie knap koerantmens wat suksesvolle uitgewer geword het, het aangedui dat hy in hierdie boekjaar die tuig wil neerle. Ons aanvaar dit met spyt, maar met begrip aangesien Mnr. Van Deventer 35 taai en harde jare diens agter die rug het. Dit moet vir hom aangenaam wees om op ‘n hoogtepunt te kan gaan. Hy verdien werklik hoë lof van aandeelhouers en die mediagemeenskap.”

Soete musiek was dit wel dat die koerante die opwaartse kurwe kon volhou nadat ons die vorige jaar die D.P. de Villierstrofee vir die beste prestasie in die groep verower het. En inderdaad heerlik om op so ‘n hoë noot te groet.

Soete musiek vir HvD was ook die woorde van die man wat my net meer as vyf jaar tevore uit my (beskutte) redakteurskantoor gepluk het om die leisels van die Pers se koerante hier in die Kaap te kom vat.

Nog soeter musiek het enkele ure later gewag. By die tradisionele jaarvergadering-middagete is die Pers se goue Phil Webermedalje aan my oorhandig vir “die nalatenskap wat hy in elke fase van sy loopbaan van 35 jaar gelos het.”

‘n Verrassing was dit weliswaar nie. Die nuus dat die prys na my toe kom, het Ton my vroeër in Londen telefonies meegedeel. Toe die telefoontjie lui, was ek en Tokkie voor ‘n pub naby Piccadilly Circus. Ons is terstond na binne om te vier. Maar die decorum van die geleentheid en die bewieroking in die commendatio was vir die ontvanger ewe welgevallig as die nuus self. (Op die foto oorhandig Ton Vosloo die medalje aan die dankbare ontvanger.)

IMG-003

Soete musiek was die verdere verloop van die afskeidsproses met etes (o.m. in Kaapstad, Johannesburg, Bloemfontein, Port Elizabeth, Stellenbosch, Worcester), toesprake, geskenke, vererings, briefies, selfs ‘n goeie Cabernet uit die Breedevallei met die naam Hennie van Deventer op die etiket.

Afskeide, soos begrafnisse, word gekenmerk deur kritieklose bewieroking. Weens jou afwesigheid by eersgenoemde mis jy natuurlik al die mooi dinge wat or jou kwytgeraak word. By laasgenoemde is dit anders: jy kan elke woord opslurp terwyl jy hard probeer om nonchalant en beskeie te lyk!

Laat ek maar erken dat ek nie van sulke soliede stoffasie is dat lof nie vir my lekker is nie. Vir die erkenning uit die monde van die redakteurs en bestuurders in my span had ek die grootste waardering – ook vir spesiale gebaartjies soos Drukmedia SA se toekenning van een van sy eerste Genootskappe, en my ou koerant, Die Volksblad, se toekenning van die Bart Zaaimantrofee vir o.m. beginselvastheid, ewewigtigheid en billikheid. (Die koerant het ook ‘n Hennie van Deventertrofee. Sou seker nie gedeug het om dit vir HvD self te gee nie!)

Die Volksblad se geskenk was ‘n enorme portretskildery deur Charl Marais. Dit hang in my studeerkamer naby die gewaardeerde karikatuur deur Fred Mouton wat Die Burger my op ‘n ete in die klub Here XVII present gegee het. Eiekestadnuus van Stellenbosch het my ‘n kis Fleur du Cap-cabernet geskenk wat in die Bergkelder Vinoterque vir my verouder sou word. Iets het skeefgeloop. Toe ek dit oopmaak, was dit, helaas, ondrinkbaar suur!

Veertig dae voordat ek op 15 Desember my kantoordeur op die 18de verdieping vir oulaas sou toetrek, het ek ‘n 40-dae-lapelwapen begin dra wat my seun, Johan, aan my geskenk het – heel oorspronklik, Natuurlik gegrond op die “forty days”- tradisie onder dienspligtiges in die weermag.

Op 9 Desember was ek vir oulaas ‘n gasheer by die Media-direksie-ete. Onder die gaste was twee woonstelmaats uit die begindae in Bloemfontein, Ben van Rensburg en Willie Kühn. Ook Wiets Beukes, destydse assistent-redakteur, wat hom oor my ontferm het toe ek as groen studentjie einde 1958 vir vakansiewerk ingeval het, kollegas uit die Beeldjare en my uiters bekwame persoonlike assistent, Lizette Human.

Op my laaste dag op kantoor is in die Pers se eetkamer saam tee gedrink. Op inisiatief van Anet Pienaar (nou mev. Anet Vosloo) is ek verras deur ‘n versameling “Hennie van Deventers” wat my momenteel oorbluf het. Daar was langes, kortes, dikkes, skrales. Baie selfs met rokke. Anet het vir elkeen ‘n mombakkies van my gesig gemaak.

Deur die dag het briefies en boodskappe op my gereën, van kollegas, studentemaats, ‘n Niemanklasmaat, my eie kinders en wie nog. Van Tokkie se ma, Marietjie van Wyk, ‘n allervoortreflikste skoonma, was daar ‘n kaartjie: “Geluk, Hennie, met wat jy bereik het. Ek is trots op jou”. Ek kry ‘n vogtigheid in die oë as ek dit noem. Ouma Marietjie is verlede jaar net voor haar 99ste oorlede.

Die middag het ek vir regterhand Lizette tot siens en dankie gesê, my laaste persoonlike besittings gevat en die eiekhoutdeur van my kantoor gesluit. Vir altyd. Hennie van Deventer se loopbaan was verby. Bittersoet was daardie besef op daardie oomblik.

Een formaliteit het oorgebly. Op 19 Februarie het die afgetredene ‘n rooi das geknoop en ‘n donker pak aangetrek vir sy afskeidsete in die elegante, koloniale Mount Nelson. Ons het aangesit vir gerookte salm, peper-beeslende en appeltert, afgesluk met Vergelegen Vin de Provence en Nederburg Baronne. ‘n Opdragskildery van Tafelberg deur Dale Elliot is aan my oorhandig. Ton het gepraat. Ek het geantwoord – seker te uitvoerig, soos gewoonlik. Lang David de Villiers het immers al gewonder of ek nie darem neig tot te langasem raak nie!

Nog mooi musiek gewees daardie aand in die Mount Nelson, ook in ‘n letterlike sin: die Die Drie Tenore het gesing. Hul liedere het hulle met soveel bruisende entoesiasme aangehef dat Jeff Malherbe, direkteur, dringend versoek het: Sagter asseblief!

Agterop die spyskaart was in my handskrif die volgende gedagte, ter finale afskeid: “Deur my hele loopbaan het ek daarin geslaag om op die regte tyd op die regte plek saam met die regte mense te wees. As ek ‘n pluimpie verdien, moet dit vir my uiitstekende tydsberekening wees!”
(hvd)

BITTER PILLE

IMG-001

Kampioene! Koerante wen die D.P. de Villierstrofee. as beste presteerder in die Pers. Die Burger wen op sy beurt die Ton Vosloortrofee as beste presteerder in die Koerantegroep. By my is Jean le Roux, hoofbestuurder: suidelike koerante, en Ebbe Dommisse. redakteur van Die Burger

More uit Melkbos

Eerbiedwaardige direkteure soos David (David Sasol) de Villiers, Philip la Grange en Billy van der Merwe sou my sweerlik aan die broek se sitvlak beetgekry en doer van die 18de af by ‘n venster uitgesmyt het!

So dink ek soms by my selwers as ek in my verbeelding ‘n scenario optower waar ek in die jare 90 sou waag om in die direksie aan te kondig ek het nou die resep vir ‘n deurbraak tot die Engelse mark gevind – gee eenvoudig vir die massa wat hulle wil lees. Gee hulle ponies (tabloids)!

Nogal amusant om my die verskillende reaksies aan die tafel in te dink. Veral van Oom David Sasol kry ek ‘n helder prentjie. Hy sou eers sy swaar lyf op sy draaistoel posisioneer om die twakprater beter in sig te kry. Sy hand sou uitskiet na die lekkergoedbakkie wat altyd gerieflik byderhand was. Hy sou my afkeurend begluur.

Dan stadig, afgemete sou sy woorde kom: “Voorsitter, meneer Van Deventer sal maar weer moet gaan dink.”

Ja, ‘n Engelse dagblad was bepaald daardie tyd sterk op die agenda. ‘n Persoonlike teleurstelling van my skof as koerantehoof is juis die onvermoë om een op die been te bring.

Die beste resep vir toetrede tot daardie mark is meer as een keer uitgetrap by spesiale dinkskrums van die bestuurskader aan koerantekant. En wat ‘n deksels goeie span was dit nie? Nie om dowe nete nie het Koerante op die bestuurskonferensie van 1996 in Swakop (die sogenaamde Woenstynberaad) die gesogte D.P. de Villierstrofee vir die beste prestasie in Naspers verower.

Maar al die sessies met geslote deure van hierdie uithaler-span het dalk kreatiewe planne opgelewer, nooit haalbare begrotings nie. Die laaste een, waar ons dalk die naaste gekom het aan ‘n formule, was in Kommetjie, onthou ek. Vir my was dit ‘n groot terugslag toe die Kommetjieberaad ook eindig sonder dat ons daardie knoop deurgehak kon kry.

Maar ons het natuurlik toe nog net in terme van ‘n formele dagblad soos Beeld, Die Burger of Die Volksblad gedink, nie in terme van ‘n poniekoerant (soos die latere Sun/Son)nie. Nooit!

Die waarheid is natuurlik dat die ponie se waarde as sirkulasiebouer geen geheim is wat Naspers skielik in die nuwe millennium raakgevat het of ontdek het nie. In lande met groter bevolkings – d.w.s. genoeg lesers vir ernstig of populêr/gesaghebbend of sappig – is die ponie ‘n ou bekende pyl in die koerantekoker. In die Naspers-kultuur en –waardestelsel soos ek dit in my tyd gelees en verstaan het, is poniepers egter aan geelpers gelyk gestel.

Dit (en die klas krasse plakkate wat teen pale en bome selfs in die beste buurte opgaan) sou ondenkbaar wees – as ‘t ware die proe aan ‘n verbode vrug.

Die rasionaal dat sulke koerante en plakkate (“Kaalgat dominee sien sy gat”!) meer mense so ver kry om koerante te lees, klink of die doel die middele wil heilig. Sprekende as oud-amptenaar, oud-redakteur en oud-koerantehoof moet ek dit egter van die hart kry dat ek oor veel Pers-prestasies graag spog, maar ongraag in goeie geselskap ‘n verbintenis met die ponies sal erken. Vroeë vaders in hul grafte laat tol? Ek meen so.

‘n Ander bitter pil aan die Engelse front was dat selfs ons poging om net ‘n goeie Engelstalige tuiskoerant in Kaapstad se suidelike voorstede te vestig, eenvoudig nie van die grond kon kom nie. Die advertensiekraantjie het droog gebly. In ‘n stadium is die bekende Engelse joernalis Wessel de Kock (skrywer van A manner of speaking) as redakteur uitprobeer. Hy wou met inhoud egter te hoog vlieg. Uiteindelik was hy gerustreerd, ek gefrustreerd en die direksie gefrustreerd.

‘n Bitter pil (vir my persoonlik) op die politieke vlak was die besluit van 127 “Jong Turke” om teen die wense van Ton Vosloo, van my en van die Naspers-direksie by die WVK (Waarheids- en Versoeningskommissie) van Desmond Tutu te gaan boete doen oor die “sondes” van ons koerante in die ou bedeling.

Ek het dit beskou as idealisme wat op loop gesit het. Die besluit van die jong kollegas onder aanvoering van Tim du Plessis, Arrie Rossouw en Tobie Wiese om met so ‘n hoogs sigbare openbare protes deur te druk, het ek as ‘n onregverdige skop in die tande van ‘n vorige generasie ervaar – ook in die tande van Ton wat as redakteur ‘n voorloper met verligte denke was. Onthou hoe briesend P.W. Botha was toe hy doerie tyd by Beeld al profeties geskryf het: “Ons sal nog eendag met die ANC moet praat soos mons nou met Swapo praat.”

Instinktief, wou ek die advies van ‘n besoekende Amerikaanse vriend, John Painter, volg om “swift, brutal and without mercy” toe te slaan. Painter was by my op besoek en het saans gretig oor ‘n glasie pinotage na my rapporte vanuit die Heerengracht oor die rebellie geluister. Ton was ook gekrenk, maar het ‘n koeler kop behou en het aanbeveel dat ons hulle maar laat “stoom afblaas”.

Uiteindelik het wat ek destyds as ‘n “swart dag” ervaar het, op die lange duur geen letsel gelaat nie. Die Pers het in sy verskeidenheid sy pad bly loop en sy rol bly speel. Miskien, miskien tog, was in daardie kollektiewe verset-aksie vrugbare saadjies vir latere ontkieming, en het dit by landgenote groter geloofwaardigheid help win in ‘n tyd toe geloofwaardigheid vir “Afrikaanse” instellings nie altyd maklik verwerf is nie.

Ek skryf dit hier sonder te veel besorgdheid oor moontlike verwyte van agternawysheid of van ‘n terugkrabbeling wat hopeloos te laat uit hierdie oord kom. Soms, net soms, verskuif selfs die hardnekkigste tog wel ietwat van posisie …. (hvd)