IN DIE VOORSTE RY

2014_11_282

Saam met die groot geeste in die politiek van die 80’s (links bo, regs bo, links onder en regs onder): P.W. Botha (ook Willie van Niekerk), Nelson Mandela, Thabo Mbeki, F.W. de Klerk en Pik Botha.

Middag uit Melkbos

Om redakteur van ‘n dagblad te wees, is om in die voorste ry te sit terwyl eietydse geskiedenis op ‘n reuse-skerm voor jou verbyrol. Dis my eie woorde wat ek aanhaal. Met instemming. In die onstuimige jare 80 het die tempo en intensiteit van die geskiedskrywing ongekende vlakke bereik.

Met my aanstelling is ‘n ou droom vervul. Jare tevore het ek op ‘n vraag van ‘n kollega, Trudi Gey von Pittius, vrymoedig geantwoord: “Natuurlik wil ek redakteur word.” Hoe rof die rit sou wees, het ek nie toe besef nie; ook nie die 39-jarige in 1980 nie.

Enorme politieke uitdagings en verskuiwings was reeds op die horison. Swart nasionalisme het soos ‘n donderstorm losgebars. Die bosoorlog oorkant die grens en die terreuroorlog tot in die hart van ons stede het uitmergelend gewoed. Sanksies en boikotte het gewurg.

Toekomstwyfel het wyd ingeskop. Die magtige Nasionale Party het gewankel en in 1982 geskeur. In ‘n vurige “familietwis” het broer teen broer opgestaan. Die Konserwatiewe Party het elke verkiesing veld gewen. Dr. Andries Treurnicht is as redder omarm – ook deur persoonlike vriende. Die Volksblad was die NP se Vrystaatse spreekbuis. Hy moes moue oprol en baklei vir ‘n vale om ‘n stembus-ramp af te weer.

Uiteindelik is P.W. Botha se ystervuis deur ‘n beroerte verlam. Die meer pragmatiese F.W. de Klerk oorgevat (lekker Volksblad-scoop gewees danksy die wakker Alf Ries in die persgalery van die parlement). Toe kom 2 Februarie 1990. Nege dae later het Nelson Mandela as ‘n vry man uit die tronk gestap – ‘n monumentale dag wat die “nuwe Suid-Afrika” ingelui het.

Hierdie politieke aardverskuiwing het nie gebeur sonder geweldige uitdagings aan Afrikaanse koerante nie. Hedendaagse kritici is vol verwyte. Kon ons nie harder gedruk het vir vinniger en ingrypender hervormings nie? Hulle onderskat, verstaan nie en vergeet gerieflik die weerstand uit eie lesersgemeenskappe wat stukkie vir stukkie afgebreek moes word. Hope witmense het vir dood bly vasklou aan die baasskap wat hulle as hul goeie reg beskou het.

In daardie weerstand is ook die redakteur as persoon ingesuig; hy (en sy gesin) is oor sy “verligte” politiek gehoon, getreiter en met die dood gedreig. Oor van die kommentare kon ek lag, soos my regse Tukkietydgenoot Daan van der Merwe se opmerking dat ek ‘n “swaargewig liggewig” is. Maar laat ek bely: in ‘n stadium was die “swaargewig liggewig” erg benoud, veral nadat ‘n aktiewe saboteur, wat homself die “wit terroris” genoem het, sy intrek in ‘n woonstel oorkant die koerantgebou geneem het om op ons te spioeneer. Die redakteur het veral op donker winteroggende maar omkyk-omkyk kantoor toe gedrafstap. Teer en veer deur die AWB – soos die arme prof. Floors van Jaarsveld te beurt geval het – was die minste wat hy gevrees het.

Terwyl bittere kritiek uit wit geledere op die koerant gereën het, is van die perskommentator James McClurg van die Cape Times die volgende pluimpie ontvang: “Batting on the sticky wicket of the conservative OFS, Die Volksblad has shown consistent courage. Its present editor, JH van Deventer, resolutely dispenses reformism to one of South Africa’s more conservative communities.”

Onlangs is ‘n boek onder my aandag gebring met die titel South Africa’s Resistance Press: Alternative Voices in the Last Generation under Apartheid deur Les Switzer en Mohamed Adhikari (Ohio University Press, 2000). “Real opposition in Afrikaner press circles against grand apartheid, however, stems from the 1980s, and it came from newspapers in the Transvaal and Orange Free State,” sê die skrywers. “Ton Vosloo, editor of Beeld, and Hennie van Deventer, editor of Die Volksblad, for example, were critical of the government’s ban on the ANC and other opposition groups.”

Oor die “courage” en “real opposition” is meermale ook van Indiërs en bruinmense dankies ontvang vir die vars stem teen diskriminasie uit Bloemfontein. (Op Harrismith was die pikante situasie dat die beheerraad van die skool waar my dierbare swaer, Fanie van Wyk, hoof was, ‘n Chinesie toegang geweier het. Die Volksblad het aggressief haar saak opgeneem … en die stryd gewen. Vir my moeite is ek na die Republiek van China genooi!)

‘n Mooi afronding in die pylvak van my redakteursdae was die Vrystaatse stemmery in die waterskeidingsreferendum van 1992. Teen die stoutste verwagtinge in is albei Vrystaatse stemdistrikte ingepalm. Amper 55% van die stemme was ten gunste van magsdeling in ‘n onderhandelde nuwe grondwet. Die lang, verbete stryd van Die Volksblad was nie vrugteloos nie! (Die loodplaat van daardie voorblad hang in my Sabieparkhuis.)

As ek terugkyk op my 12 jaar in die stoel, is dit nie sonder selfkritiek nie. Ook in die politiek, en veral die hantering van regse vrese, was die oordeel in die redakteurskantoor nie altyd suiwer nie. Met konfrontasies, probleme, teleurstellings, foute en al was dit tog ‘n fassinerende en vervullende era.

Vandag is ek dankbaar dat my koerant weldeeglik sy rol gespeel het om oë vir werklikhede te help oop maak. Al voldoen die Suid-Afrika van 2014 dan nie naastenby aan die idealistiese verwagtinge van ‘n kwarteeu gelede nie, glo ek onwrikbaar: ons het by die kruispad reg gekies. Hoeveel erger kon ons voorland nie gewees het nie?

Maar van politiek alleen kan ‘n redakteur nie leef nie. Later vertel ek oor ander uitskiet-aspekte van daardie tydvak – en van ‘n paar karakters. (hvd)

AAN DIE DIEP KANT

Desktop6

Eerste skof by Die Volksblad: In die swembad is Herman le Roux, Wiets Beukes en ekselwers; aan die subtafel is Jaap Steyn in die hoofstubstoel met HvD neffens hom (ou met die koerant); die driemanskap besig om stuitig te wees, is HvD, Paul Marais en Ollie Olwagen.

Middag uit Melkbos

As studentewerker by Die Volksblad is die 20-jarige Hennie van Deventer in 1961 aan die diep kant ingegooi. Ek moes swem dat die water om my ore spat. Die Goudveldse verteenwoordiger, wyle Willie Coetzee, is met langverlof en die uwe moes waarneem. Stoksielalleen.

‘n Storie wat in daardie “leerkurwe” uitstaan, is van ‘n stoker op die treine wat sy broer in die voordeur van hul huis met ‘n pistool gepot het oor onbehoorlike attensies aan sy vrou wanneer die stoker nagdiens doen om die pot aan die kook te hou. ‘n Doodskoot in die rug.

Onervare, doodbenoud, het ek aan die ouerhuis se voordeur langs die treinspoor gaan klop. Die treurende moeder het my binnegenooi en koek en tee aangebied. Toe sy die doel van my besoek meegedeel is, het sy ‘n klomp foto-albums uitgehaal en vir my carte blanche gegee. “Vat wat jy wil”. Wens ek het ‘n foto gehad van my plat op die vloer, omring deur foto-albums en met ‘n stuk sjokoladekoek in die hand!

Begin 1963 het ek in Bloemfontein ingeval en uit die staanspoor net beroepsvreugde ervaar. Die koerant was dadelik in my bloed.

Kollega Herman le Roux vertel die storie wat my dadelik “op die map gesit het”, is deur hom aangedra. Hy het by sy haarkapper gehoor van twee lyke wat omgeruil is. Die vergissing is kort voor die onderskeie begrafnisse 100 kilometer uit mekaar ontdek. Drama. Lykwaens moes met die oorskotte na hul regte bestemmings jaag terwyl begrafnisgangers die wagtyd somber verwyl.

Die ouers en familie het soos sfinkse geswyg. Maar ek het die storie in Brandfort se kroeg losgewoel. Die kroegman was ‘n begrafnisganger en had die vermoë om ‘n storie in kleur en geur te vertel.

As Parlementêre verslaggewer in 1964 en 1965 (ongelukkig net twee jaar) het ek die Verwoerd-era as’ t ware in die voorste ry beleef. As jong hoofsubredakteur (‘n pos wat te gou gekom het), moes ek die moord op dr. H.F. Verwoerd op 6 September 1966 hanteer. ‘n Groter nuus-“storie” het nie in my dae oor my lessenaar gekom nie.

Maar ek moes weer aan die diep kant leer swem. My eerste dag in daardie stoel onthou ek as my swartste dag in die joernalistiek. Die hoofsub het daardie tyd ‘n uur of twee voor sy kollegas kom inval om solank die kopie vir bepaalde blaaie te sorteer. (DV was ‘n middagblad.) Ná ‘n eensame uur het ek besef ek weet nie wat ek doen nie. Toe my voorganger, Jaap Steyn, twee uur later opdaag, was ek in ‘n staat van paniek. “Jaap, neem oor,” het ek vurig gepleit. Hy wou nie.

Toe ek wurgend uitkry: “Jaap, vat oor of Die Volksblad verskyn nie vandag nie, het hy die omvang van die krisis besef. Hy het oorgevat. Gebukkend gewerk. Nooit opgekyk nie. Die koerant betyds op straat gehad. Die volgende oggend was ek terug in die warm stoel. Sonder hik het die eerste Volksblad met ‘n HvD-stempel betyds verskyn.

As nuusredakteur van 1967 af kon ek my ses vervullende jare as joernalis ten volle begin slyp. Die aardbewing in die Boland; die eerste maanlanding en Neil Armstrong se onsterflike woorde: “That’s one small step for a man, one giant leap for mankind”; die jintelman-kommunis Bram Fischer se hofsaak en vonnis; Jackie Kennedy se huwelik met Aristoteles Onassis; die Rosenkowitz-sesling; die Groesbeek-moord — dit is groot stories soos dié wat die nuusredakteur moet regvat en raakvat om nie deur mededingers onder die stof geloop te word nie.

In 1974 is ek na die nuwe dagblad Beeld toe as eerste nuusredakteur. Daardie koerant se stigtingsjare was veeleisend maar vrugbaar. Die joernalistieke omgewing was dinamies, energiek en opwindend. Die leermeesters was van die deurwinterdste koerantmense van hul tyd. Die Beeld-tyd het vir my nuwe vergesigte geopen. Tog was daar donker oomblikke soos die dag toe ‘n meisie op die voorblad pryk met ‘n skamele kostuumpie, as jy dit so kan noem, waarmee sy by ‘n winkel skaamteloos die prys losgeslaan het vir die klant wat met die minste klere aan haar lyf opgedaag het. By Beeld was algemene ongelukkigheid. Ek moes mooi verduidelik die foto was nie die nuusredakteur se keuse nie. Wie se keuse dit wel was, het nooit uitgekom nie.

Ek het daardie dag reikhalsend terugverlang Volksblad toe – ook weer die dag toe ek ‘n verslaggefster, Petra Pietesre, gestuur het om die Argentynse bokser Victor Galindez, bekend as “Die Dier” te gaan soen voor sy geveg teen SA se Pierre Fourie. Skitterende foto gewees. Maar die vroue in die redaksie was in opstand – diep in hul feministiese siele gekneus. Arme HvD had dit bra hotagter om gemoedere te kalmeer.

In 1976 is ek as Nieman Fellow na die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts. Die wonderlike ervaring het sy eie eise gebring, ook vir my gesin. Onthou dit was in 1976/77 – Soweto het uitgebars. Swart nasionalisme het onheilspellend spiere gewys. Die Suid-Afrikaanse Nieman-genoot voor my, Percy Qoboza, is in die tronk gestop. Ek moes bontstaan in ‘n vyandige, liberale omgewing. Ook daardeur is ek enormlik vir latere verantwoordelikhede geslyp.

‘n Jammerte uit ‘n persoonlike en loopbaanhoek is dat ‘n skof in die Londense kantoor weens gesinsomstandighede verbeur moes word. Ons passaat op die SA Vaal na Southampton was klaar bespreek toe ons oudste, Johan, op ses maande met diabetes mellitus gediagnoseer word. Pediaters het ons aangeraai om liefs nie in die uitdagende nuwe situasie die vreemde aan te durf nie. Ook in latere fases van my loopbaan het ek gesinsomstandighede voorrang gegee in my besluite. Ek is nie spyt nie.

Ns. Later skryf ek oor my terugkeer na Bloemfontein in 1980 – nou as redakteur van daardie gerespekteerde dagblad in die hartland. (hvd)

OP PAD MET DIE PERS

!cid_image002_jpg@01CFFF5A

Naspers100 – ‘n baie spesiale uitnodiging.

Middag uit Melkbos

Op 18 Desember 1914, in ‘n Victoriaanse huis genaamd Heemstede in Van Riebeeckstraat, Stellenbosch, het sestien baanbrekers die Nasionale Pers gevorm.

Wat ‘n vooreg om presies een honderd jaar later by die einste plek deel te kan wees van ‘n viering van die trotse maatskappy se ontstaan. As daar een Desemberuitnodiging is wat ek waarlik troetel, is dit na daardie historiese middagete op Stellenbosch. Wonder watter das ek sal aansit – in elk geval een van die Pers.

My eie amper 74 jaar – ek betree op 3 Januarie my 75 ste jaar – is intiem met Naspers verweef. Dis een van die hoekstene van my lewe, soos my vrou, Tokkie; die kinders, Johan en Marisa; my kerk, die NG Kerk; my alma maters, Volkies en Tukkies; my politieke tuiste, die Nasionale Party (tot sy ontbinding); my bank, Volkskas (wat later deur Absa opgeslurp is); my geliefde bosplek, Sabiepark; my stad vir 24 jaar, Bloemfontein, en die Automobiel-Assosiasie (het ‘n 55-jaar-veteraanplakker in die BMW se ruit).

Die foto’s teen my studeerkamermure is bewys daarvan. Dit is Persfoto’s wat oorheers. My formele loopbaan van 36 jaar by die Nasionale Pers – van indiensneming tot by aftrede –is agter glas heel volledig gedokumenteer.

Waar het dit begin? Wel, begin Januarie 1963 – meer as 50 jaar gelede – het ek as groentjie-verslaggewer by Die Volksblad se ou gebou in Voortrekkerstraat 79, Bloemfontein, ingestap. Eintlik kom die verbintenis al langer.

As beurshouer dra ek van 1958 af ‘n Naspers-hoed. Maar in werklikheid was al ‘n Volksbladman voordat ek in 1947 sub A toe is – het die koerant plat op my maag voor my oupa se leunstoel in ons skakelhuisie in Diagonalstraat, Kimberley, gretig deurgeblaai. Met die eeste verskyning van die vrouetydskrif Sarie Marais (nou net Sarie), op 6 Julie 1949, het ek op ‘n doktersbesoek saam met familie een vir ses pennies op straat in Bloemfontein vir my ma gekoop. Dit is een van ‘n hoop ou koerante en tydskrifte wat ek bewaar.

In die 36 jaar as amptenaar van die Pers het ek heelparty historiese momente beleef. Toe die knoppie gedruk word vir die eerste uitgawe van Beeld was ek, die eerste nuusredakteur van daardie koerant, by die rolpers in Doornfontein. Toe die eerste Die Beeld (Sondagblad voor Rapport) verskyn, was ek een van die Bloemfonteinse subsredakteurs wat Saterdagaande uitgehelp het. By Die Volksblad was ek as redakteur betrokke by die oorskakeling na volkleur en na ‘n oggendkoerant. Gemeenskapskoerante soos Ons Stad is deur my gestig. Met die koop van City Press en die vervanging van Oosterlig met Die Burger (Oos-Kaap) was ek uitvoerende hoof: koerante van Naspers (nie van Media24, soos soms verkeerdelik beweer word nie – Media24 het toe nog nie bestaan nie!)

Die verbintenis strek ook al ver verby die einde van my formele loopbaan. Einde 1997 het ek my kantoordeur as Uitvoerende hoof: koerante van Naspers vir oulaas in die Perssentrum aan die Heerengracht agter my toegetrek. In my aftrede, van einde 1997 af tot nou, het ek egter steeds Nasperser in my bloed gebly. Ek lees Media24-publikasies sewe dae van die week, skryf af en toe ‘n resensie of ‘n briefie vir publikasie en stuur nog soms ‘n nuuswenkie na die koerante of tydskrifte toe.

Ons praat van ‘n persoonlike verbintenis met die Pers van heelwat meer as die helfte van sy eerste eeu

Onder meer in twee boeke met ‘n outobiografiese strekking, Kroniek van ‘n Koerantman – ‘n persoonlike perspektief op die jare ná 80 (Tarlehoet, 1998) en In Kamera (Protea, 2003), asook in my Ineg-dokumenteversameling (PV 677) en in die eeufeesboek ‘n Lewe van sy eie – die biografie van Volksblad is ‘n hoop van my eie biografiese besonderhede opgeteken. Dit is ‘n pad wat ek nie weer hier wil bewandel nie.

‘n Boel herinneringe wel egter op. Daaraan sal ek kwaai moet sif want ek is hoegenaamd nie van plan om weer my hand aan ‘n boek te waag nie. Lesers van HvD se blog sal die skrywer egter vergewe as hy in nostalgiese oomblikke ‘n paar van die herinneringe lukraak gaan ophaal in die volgende paar blogs wat in hierdie ruimte opduik. (hvd)

NOU’S HY VORT MET SY ROOIWIELWA

Charles Fryer

Middag uit Melkbos

Vir Charles Fryer, uitgewer, digter, skrywer en in die algemeen ‘n diep seun met ‘n groot gees, het ons vanoggend in die NG kerk Panorama gegroet. Hy is op 68 oorlede nadat hy reeds 12 jaar gelede deur ‘n massiewe beroerte neergevel is en daarna ‘n dapper stryd gestry het.

Charles Fryer het in sy loopbaan die absolute vertroue van voorste Afrikaanse skrywers soos Elsa Joubert, F.A. Venter en Dalene Matthee geniet. Hierdie veel mindere lig bak graag in die son van die feit dat hy ook my eerste boekie, Scoops en Skandes, in 1993 uitgegee het. Later het hy die titel van die tweede, Flaters en Kraters, uitgedink voordat een word nog op papier was.

Ek moes maar skryf om Charles se oulike titel nie te laat verlore gaan nie. Flaters en Kraters het in 1996 verskyn en is die enigste titel uit my pen wat drie drukke beleef het.

Op die roerende begrafnis, bygewoon deur sovele voorste Afrikaanse skrywers en geesgenote, was ‘n amper tasbare Charles Fryer-teenwoordigheid. Daartoe het die simboliek van ‘n eie vers van die gedugte Calvinianer deeglik bygedra. Die treffende vers se naam is Rooiwielwa.

Dit is in die eerste Fryerbundel in 1978, ook met die titel Rooiwielwa, opgeneem. Die subtitel is ” ‘n Liedjie op pad Hantam toe”:

Ek gaan saam met die rooiwielwa

wat my terug na my hartland dra;

deur die nag vol maan alleen,

oor die swartbosvlakte heen.

Ek sal terug met die grootpad gaan,

óór die berg wat donker staan;

van julle sal ek niks meer vra,

ek gaan saam met die rooiwielwa.

Min mense was by die afskeid onaangeraak toe die sterk simboliek van die vers by hulle insink.

In ‘n ander Charles Fryervers wat ook by die roudiens gefigureer het, is dit veral die skrynende slot wat deur sy dood nuwe impak gegee is. Die titel is “Oulaas”. Dit handel oor die dood van sy vader in 1970:

Dis oulaas stap, Pa:

jy in die middel en ons,

stram in kispakke,

maar regop, jóú seuns,

elk aan ’n handvatsel.

Dis half swaar, Pa.

Ons is gewoond saamstap

en die suidewind

is bitterbos en reën.

Voor die kampie op die bult

wag die volk

om vir Pa te sing,

hul gesigte dobberend in die middagson.

Pa het dié tyd

altyd

’n bietjie gaan skuinslê.

Ek het Charles sedert ons Naspersdae saam nie weer gesien nie, maar ons saamwerk aan Scoops en Skandes en die genot wat die boekie my gegee het, het onuitwisbare herinneringe aan die talentvolle boekekollega by my ingeprent. Met daardie boekie het hy my boonop die eer aangedoen om oor die koeranthumor daarin ‘n Saterdaghoofartikel vir Die Burger te skryf. Die hoofartikel hang geraam in my woonkamer.

“Scoops” is nie al onuitwisbare herinnering aan Charles Fryer nie. ‘n Tweede is ‘n pragtige stuk in ‘n Kerkbode wat ons ‘n Sondag in 2001 by ‘n erediens in die Skukuzagemeente in die Wildtuin gekry het te midde van ‘n vloedgolf slegte nuus in die koerante van daardie tyd. Fryer kom tot die gevolgtrekking: “Die goue gloed van hoop glim tog deur die donker op donker van koerantnuus.”

Hy haal ook die bejaarde skilder Robert Hodgins aan: “Dit is wonderlik om te lewe. Die bome gaan bot, al is ons omring deur rampe.”

Die bome gaan weer bot, al is ons omring deur rampe. Wonder of hy in die 12 donker jare ná sy beroerte self ook aan daardie boodskap van hoop bly vashou het … (hvd)

R2 850 VIR ‘N SPYKER

More uit Melkbos

In die somervakansie van 1959 het ek my rybewys op Klerksdorp gekry in die eerste van 23 motors in my huis tot op datum. Nommer een was ‘n 1952-Peugeot 203 en nommer 23 ‘n 2013-BMW X1. Maar dit net terloops.

Vandag se blog gaan nie oor my karre of karre in die algemeen nie. Ek skryf oor bande. Oor die onderwerp het ek in my 73ste jaar nuwe kennis opgedoen wat nie my bydra tot my lewensvreugde nie.

Die storie begin toe die BMW aan die vooraand van ‘n reis na George ‘n spyker in die linkeragterband optel. Ek ry na die naaste vulstasie waar ‘n prop ingesit word. Terselfdertyd word ‘n vrywaringsvorm onder my neus gedruk met die aanmaning om dadelik ‘n bandeplek op te soek, en in elk geval nie verder as 80 km met die herstelde band te ry nie.

Wat sou dit beduie? Navrae bring aan die lig dat met die sogenaamde “runflat”-bande van die BMW – op Afrikaans dalk sommer “paplopers” – ‘n spyker in jou band geen ligtelike saak is nie. BMW self raai jou af om met ‘n herstelde “paploper” te ry. Die handelaar maak ‘n toegewinkie: “Ry maar George toe – net nie vinnig nie.”

Doodverskrik oor die “tydbom” wat onder die BMW rondomtalie, kom ek op Kleinmond by ‘n vriend aan. Hy is ‘n ‘n oortuigde google-man. Ons google die vraag of jy kan laat regmaak en ry, en kry die onomwonde antwoord: “No. It is not recommended”. Bestel toe maar op George ‘n nuwe. Kos ‘n ronde R2 850 – dit vir ‘n enkele spyker na net 15 000 km.

Maar op Kleinmond hoor ek by my vriend toe ook ‘n ander stukkie onplesierige bandenuus. ‘n Doodgewone band kan in jou kattebak so lê en degenereer dat jy dit na vyf jaar moet weggooi, vertel hy. Dis nie hoorsê nie – het hom self oorgekom. Die “splinternuwe” band vir sy groot Mercedes moes bandebegraafplaas toe. Kos hom amper R4 000.

En ons dag nog altyd as ons ‘n motor verkoop, is dit ‘n pluspunt om trots aan die koper te kan meedeel: Die noodwiel is nog nooit gebruik nie!

Nooit besef bande het ‘n vervaldatum soos ‘n blikkie boontjies of ‘n stuk kaas nie.

Hiermee dan ‘n stukkie goeie raad, mense: Laat jou noodwiel ná jare se onbruik liewer nagaan of die band nog hoegenaamd bruikbaar is of nie.

Oor die “paplopers” (of “runflats”) win ek sedertdien adviese in. Dis ‘n tydsame, moeitevolle proses. Een kennersmening is dat die herstelde band nog eksieperfeksie is; al kommer is of die versekeraars in die geval van ‘n ongeluk sal uitbetaal of nie.

En wat sê die versekeringsmense? Ná oorweging is ek vandag soos volg meegedeel: “I can confirm that there would be no difference between the claim because of the run flat tyre. The tyres are standard tyres, and the claim will be treated the same as per normal tyres. If they are worn there would be no cover. But if they ok we will pay.”

Wat doen ‘n mens nou? Sal ek op grond hiervan BMW se aanbeveling en die google-advies in die wind slaan en die herstelde band terugsit – of liewer nie? Die R2 850 is in elk geval al lank uit my bankrekening… (hvd)

WELKOM IN DIE WILDTUIN

044

More uit Melkbos

In my boekie “Duisend dae langs die Sabie” raai ek besoekers aan die wildtuin aan om al te begin stadig ry en deeglik rond te kyk die oomblik as hulle op pad na die Krugerhek die hoogwaterbrug oor die Sabie bereik. Dis opperste olifantwêreld daardie.

Jy sien die ou grotes op die walle van die rivier, in die riete, in die water, op die brug, as erewag vir Oom Paul rondom sy granietstandbeeld… Hulle waad deur die water, speel, skrum, voer slurpgeselsies of staan sommer vir kwaadgeld rond.

Seekoeie is natuurlik ewe volop. Jy kan ook buffels, leeus, luiperds en selfs renosters by die rivier sien voordat jy by die hek ingaan – ek het al. Ons ry soms spesiaal brug toe van Sabiepark af om daar te gaan rondkyk. Dikwels lewer die moeite ‘n rendement op.

Die foto hierbo is ‘n jaar of drie gelede geneem. Vandeesweek het ek my foto uit die album gehaal, afgestof en vir die wildtuingeesdrigtiges op webwerwe soos Kruger National Park – Best Place on Earth, Kruger National Park Experiences en Kruger National Park History geplaas. FB-vriende soos Jurg Reynders en Lida Pressly het my aan daardie gawe inloerplekke bekend gestel.

Die foto was net op toe die “likes” op almal begin instroom. Ek onthul nou seker my ongestofiskeerdheid met e-sake maar moet tog bely: My oë was op die skerm vasgenael terwyl die “likes” soos ‘n vuurpyl bly klim. Telkens is Tokkie met haar sompompie nader geroep. Netnou weer. Toe’s die “likes” vlugvoetig verby 700. Net op “Best Place” is dit oor 500.

Tot op hede was 100 in die HvD-konteks ‘n baken – iets soos ‘n honderdtal in toetskrieket. Maar 700 – dink nie ek sal in my dag des lewens weer by daarde syfer kom nie.

Vleiende kommentare het nie uitgebly nie. Dit het die ou man se oë des te meer laat blink. Judith Farrell het byvoorbeeld uit Pretoria laat weet: “Must be so exciting to see them at Oom Paul’s statue when arriving at the gate! Your pic of the big elephant stepping on to the road at the Welcome to Kruger Gate sign must be the winning picture of the year.”

Wenfoto van die jaar – reken net!

Patricia Briotti-Ferreira, klaarblyklik ‘n Duitse dame, se kommentaar is: “Wow, wie prächtig, ein riesiger Elefant.”

Meer as een het gereken dit kan ‘n goeie reklamefoto vir Sanparke wees. Een van diegene, André Potgieter, skryf: ” Ai Hennie dit kan ‘n puik advertensie word vir KNP. Bravo goeie aksie foto. Net op die regte oomblik afgeneem!” m

Hoop ‘n Sanparke-amptenaar met ‘n dik tjekboek neem kennis!

Hoekom sou die reaksie so, vir my altans, oorweldigend wees?

Danie Pretorius van Sanparke meen “dis omdat ons almal wat lief is vir die Krugerwildtuin daardie Welkom-bordjie so goed ken maar nie noodwending met ‘n grootvoet in die voorgrond nie”. Hy voeg by: “Die tydsberekening van die olifant en die kamera was perfek. Baie uniek!”

Dankie, Danie. Maar ek moes vinnig skiet, ou maat, sommer deur die Honda se voorruit. Die ou grote was haastig op pad na die oorkant. Het ek geaarsel, was die foto verlore. Dit is die rede vir die weerkaatsing onder. Wens ek kon daarvan ontslae raak sonder om die foto so te sny dat die beweging van die voete verlore raak. Verkies egter die beweging bo ‘n weerkaatsingvrye foto.

Ek wil afsluit waar ek begin het: Die geil dierelewe buite die hek. Dit help natuurlik dat ek en Tokkie weens ons Sabieparkverbintenis ‘n honderd keer of wat per jaar die park binnegaan (vir kerk, inkopies, om pos te gaan haal en nog wat). Maar regtig: Te veel besoekers ry oor daardie brug met sy vrugbare oes aan wild sonder om links of regs te kyk. (hvd)