SKIET DIE ARGITEK!

More uit Melkbos

Sekere monumentale bokkerops begrawe jy dalk lank en diep in jou onderbewussyn maar op ‘n gegewe oomblik: Woerts, hier spring dit weer uit!

Ry verlede week saam met ‘n eiendomsagent deur Welgemoed om redes wat nie hier ter sake is nie – solank iemand dit net nie gaan staan en vertolk as ‘n wenk dat die Van Deventers op trek staan nie. Ons bly op Melkbos tot ons dood, dankie.

In elk geval, in Chavonnestraat hou sy voor ‘n groterige siersteenhuis stil wat onlangs van eienaars verwissel het. Sy verduidelik die uitsonderlikhede en voortreflikhede, soos eiendomsagente doen.

‘n Beeld van 22 jaar gelede doem skielik voor my geestesoog op. Ons het pas van Bloemfontein na die Kaap verhuis en ek was op soek na ‘n huis, verkieslik in Welgemoed rond.

Het die huis ‘n glasvoordeur?

Ja, antwoord die agent.

Het die huis ‘n gastetoilet in die voorportaal?

Ja, antwoord die agent.

Kyk die voordeur direk op die gastetoilet se deur?

Ja, antwoord die agent.

Is in 1992 die huis gewys toe ek in Welgemoed aan’t huis soek was, deel ek die verbaasde agent mee.

En toe, wat het jy daarvan gedink?

Die herinnering aan die ongelukkige ligging van daardie twee deure is skielik helder voor my. Ook ‘n ander beeld wat ek destyds opgetower het: Van iemand wat onverhoeds uit die gastetoilet stap en sy/haar klere nog ‘n laaste rukkie en plukkie gee. Die volgende oomblik kyk hy/sy ‘n besoeker by die voordeur stip in die oë.

Ek wou nie eens verder kyk nie, antwoord ek. Het net vir daardie agent gesê: Hulle moet die argitek daar by die gastetoilet teen ‘n muur sit en summier fusilleer.

Joe, niks fout met jou geheue nie, sê die agent.

Dankie, antwoord ek, maar sekere dinge maak nogal ‘n indruk op ‘n mens. Jy vergeet dit nooit.

Dit geld ook, en dalk veral, vir sulke onverklaarbare, onvergeelike en monumentale bokkerops. Soos met daardie ongelukkige huis in Chavonnestraat.
(hvd)

LEKKER BY DIE SEE?

Die Regering se voetjie-voetjie-spelery met Moedertjie Rusland herinner my aan ‘n kuiertjie in 1990 – die dae van Gorbatsjof. Een van die vreemde verskynsels vir die SA besoeker was daardie koddige land se vakansiekultuur. Dalk is dit deesdae anders, maar destyds is strandapartheid streng gehandhaaf. Daaroor het ek o.m. geskryf in ‘n reeks artikels vir die Afrikaanse dagblaaie.

Middag uit Melkbos

DIE strande aan die Swart See by Odessa in die Oekraine is stampvol vakansiegangers. Hulle ry trapkar op die kalm water, baljaar in die Augustus-son en speel ‘n potjie biljart, skaak of tafeltennis in die buitelug. Van hulle was tot vier jaar op ‘n waglys van ‘n vakbond wat ‘n uitspanplekkie by die see besit. Ander het sewentig geword voordat hulle só ‘n kans kry.

Baie het een of ander kwaal – die algemeenste paspoort tot die begeerde sertifikaat wat ‘n gesubsidieerde vakansie hier of in die Krimgebied, in die Kaukasusberge en aan die Riga-kus moontlik maak. Vakansiegangers wat uit eie sak betaal, is ver in die minderheid. Net die rykstes kan dit bekostig. Vir die ander, 10 tot 12 miljoen per jaar, betaal hul vakbonde tot 70 persent van die rekening, ook met die oog op behandeling in een van die honderde klinieke aan die kus.

Die mediese aspek van ‘n seevakansie word sterk beklemtoon. Die see- en berglug van die Krimgebied ewenaar die genesende waarde van die Franse Côte d’Azur vir asemhalingsprobleme, is die aanspraak. ‘n Plaaslike geloof is selfs dat net een druppel op die vel van die beroemde swaelwater van Dagomies, naby Sotsji in die Krimgebied, ‘n verjongingskuur is. Hawaii, Jamaika en Florida in Amerika kan in dié opsig (maar seker ook darem net hierin!) gaan slaap, spog die Sowjet-burgers.

By van die oorde agter die Ystergordyn is selfs klein skooltjies vir besoekende kinders. Die vakansiehotel by Misjkor spesialiseer in vakansies dwarsdeur die jaar, en het elf onderwysers wat die kinders met lesse, huiswerk en allerlei opvoedkundige programme besig hou.

‘N TIPIESE dag vir vakansiegangers met ‘n gesondheidsprobleem begin met ‘n paar uur in die kliniek. Daar is egter ook die gelukkiges wat hul vakansie-sertifikate van hul vakbonde gekry het as beloning vir goeie diens. Vir gesondes en ongesondes waarborg die sertifikaat ‘n plekkie op ‘n strand, maar vir saunabaddens, massering, psigoterapie en die huur van TV-stelle moet almal self opdok.

Wat opval in Odessa, sogenaamde ”pêrel van die Swart See”, is die ”strand-apartheid” wat streng gehandhaaf word. Oorsese toeriste het ‘n spesiale ”Intourist-strand” wat met tralies van die openbare strande afgehok is. Die reisagentskap Intourist behoort aan die regering. Selfs op dié strand is die geriewe egter maar oes. Die sogenaamde kroeg en ‘n restaurantjie is beknop en slordig. Van die gewone strandfront-ontwikkeling waaraan ‘n Westerling gewoond is, sien ‘n mens geen teken nie.

‘N ONTNUGTERING is dat die hotel van kwalik eenster-gehalte minstens ‘n halfuur se busrit van die see is, deur ‘n neerdrukkende nywerheidsgebied met stink rook, vuil fabrieksgeboue en druk vragmotorverkeer. Jy wonder oor die nywerheidsafval wat in die see gestort word wanneer jy versigtig ‘n toon in die Swart See steek. Van die openbare strande is die ene klipbanke tot teenaan die see. Branders is skaars en die sand grof. By Jalta in die Krimgebied, wat volgens foto’s in ligging en voorkoms veel nader aan ‘n Westerse vakansie-oord kom, is egter geen sand nie, net spoelklippies.

Stranddrag verskil min van dié in Suid-Afrika, maar is klaarblyklik minder modieus as die jongste skeppings wat Clifton en ander uithangplekke van professionele Suid-Afrikaanse sonaanbidders versier. Bikini’s is volop, maar die bostukke word aangehou. (hvd)

HOOG IN DIE ALPE

didier

More uit Melkbos

Kry uit die bloute hierdie sjarmante foto van ons Franse Balulevriende hoog in die Alpe naby hul tuiste, La Rosiere de Bourg, Die Franse gesin het in Augustus in daardie primitiewe boskampie naby Olifants in die KNP oornag vriende geword met wie adresse uitgeruil is.

Hulle is Didier Charvet, sy vrou, Emilie Anxionnaz, ‘n skaapwagter se dogter wat sonder lopende water in die huis grootgeword het, en hul twee flukse meisiekinders, Myrtille (10) en Melisse (7).

Hoe sal ek vergeet van die pikante génépi waarvan ons mildelik uit ‘n pragtige vlekvrye staalflessie geniet het? Hulle het dit self in die einste Alpe naby hul tuiste gepluk op ‘n gevaarlike klimroete waar ander génépi-soekers al met hul lewens geboet het.
Lees ook my blog van 3 September.

Hennie van Deventer se Blog » PLAISIR D’GENEPI, ENS
hennievandeventer.com/hvdblog/?p=6092

o Cached
Translate this page
Sep 3, 2014 – Ons het ‘n lekker Brekfis by Balule geniet waarop ek graag ‘n heildronk met ‘n knertsie verfrissende génépi uit die westelike Alpe wil instel. (hvd)

LIEWE OU LAPPIES

More uit Melkbos

Lappies

More uit Melkbos

My inskrywing op Facebook vandag:

“Lappies Labuschagne, kleurryke hooffotograaf van Die Volksblad vir dekades, is vandag ‘n rype 80. Geluk, Lappies. Goeie dag vir jou. Mag die 80-baken ‘n lewensblye skof inlui.

“Ek dink vandag terug aan baie wonderlike herinneringe uit die lang tyd toe jy as hooffotograaf met jou betroubare ou Graphic soveel skitterende foto’s geneem het. Elkeen wat jy op my lessenaar kom plaas het, het altyd die onmiskenbare Lappies-stempel van voortrefklkheid en kwaliteit gedra. Lappies sluit hom vandag aan by ‘n formidabele span 80-ers uit ou Volksblad-geledere op Herman le Roux se lys.

“Op die foto is Lappies en die uwe in ‘n joviale oomblik by sy afskeid.”

“‘n Bewoë herinnering rakende my vrou, Tokkie, uit die dae van ‘n jong Henjnie van Deventer as waarnemende nuusredakteur en Lappies Labuschagne as hooffotograaf, soos opgeteken in In Kamera (Protea, 2003):

“Voor die Groot Dag (ons troudag) — op ‘n snikhete Oujaarsdag, 31 Desember 1966, op haar tuisdorp Bultfontein — veroorsaak ‘n foto (wat ongelukkig nêrens in ‘n album behoue gebly het nie) vir ‘n hele opskudding. Ek neem waar as nuusredakteur van Die Volksblad en stuur die hooffotograaf, Lappies Labuschagne, om vir die voorblad ‘n foto te gaan neem van ‘n paar mooi onderwyseresse wat na die aanbreek van die vakansie nog puntestate en rapporte afrond. Dit is al amper te laat toe hy die foto voor my neersit: so tegnies perfek soos al Lappies se foto’s.

“Maar krisis, wie is een van die drie op die foto? Niemand minder nie as die waarnemende nuusredakteur se verloofde! Daarvoor het ek nie kans gesien nie — ek was darem nie meer so voortvarend soos toe ek in 1961 al om die derde uitgawe ‘n foto van my destydse droomnooi in Die Perdeby laat pronk het nie!

“‘n Alternatiewe foto van enige betekenis was nie beskikbaar nie. Ek gryp toe maar een van ‘n buitelandse foto-agentskap wat al dae in die in-mandjie gelê het: twee meisies in sjoebroekies wat op lere staan en met lang besems ‘n olifant se rug was — ek meen in San Diego se dieretuin.
Swak Piketberg! Tussen my en Lappies het harde woorde geval (‘n eufemisme) en Tokkie is streng vermaan: as jy voortaan ‘n persfotograaf sien, maak dat jy wegkom!” (hvd)

IN SY HART GEWOND

Gross

Kuier op Melkbos in 1995. Gross is naasregs, langs Tokkie. Ander kollegas op die foto is George Boshoff, Andrew Marais, Salie de Swardt en Ben van Rensburg.

Middag uit Melkbos

Plat op die vloer omring deur molshopies papiere met ‘n duisternis syfertjies in talryke kolomme. Hoeveel keer het ek Gross (Johannes Grosskopf) in die uitdagende beginjare van die nuut gestigte dagblad Beeld nie in die redakteurskantoor so aangetref nie?

Die toegewyde redakteur kon eenvoudig nie glo hoe die nuwe koerant se sirkulasie so vasval nie. Al was dit nie sy werk nie, het hy dag vir dag, Peter Stuyvesant in die hand en met ‘n frons op die hoë voorkop gekeep, die syfers gefynkam. Hy was oortuig iewers in daardie kolommetjies moes die geheim van mislukking versteek wees.

Deels was Gross op die regte spoor. Beeld se eie bemarkingspoging was nie juis die toonbeeld van doeltreffendheid nie, moet ‘n mens toegee. Die oplossing was egter nie net in verbeeldingryker bemarking nie. Ook nie in redaksionele kwaliteit nie. Verreweg nie. Die kritieke faktor, sonder enige twyfel, was die lustige knoeiery met sirkulasiesyfers by die mededinger, Die Transvaler. Pakke Transvalers is middernagtelik reguit van die rolpers na verlate mynskagte aangery ten einde ‘n spook-sirkulasie in stand te hou, is later onthul.

Met die 86-jarige Gross se dood op Stellenboch stu die bitterheid oor die skaamtelose bedrog, wat as “Syferfontein” bekend was, weer in ‘n mens op. Elke liewe redaksielid van Beeld is daardeur pynlik getref. Ons was bitterlik lief vir ons koerant en het ons harte in elke uitgawe gestort. Elkeen, ook ek, het meermale hand in eie boesem gesteek oor ons eie bydraes – of dit gebrekkig was. Niemand is egter dieper in die hart gewond as Johannes Grosskopf nie.

Hy was die een wat van Beeld se eerste dag, 16 September 1974, af maar die spit moes afbyt. Die hoofredakteur, Schalk Pienaar, een van die grotes in die Afrikaanse persgeskiedenis, se vlerke was toe reeds weens ‘n aftakelende siekte geknip. Uiteindelik, ná al die inspanning, het Gross, gestroop van sy redakteurskap, as die Pers se verteenwoordiger in Washington beland. Hy is die sondebok gemaak vir die vernedering en verliese wat die Nasionale Pers in Johannesburg op die lyf geloop het.

Toe die volle sak patats oor Perskor se konkelwerk in 1980 uitgeskud word en Die Transvaler stert tussen die bene die aftog blaas, was die feesvieringe by die hele Nasionale Pers groot. Gross moes dit maar van ver dophou. Die soet smaak van die triomf was hom nie beskore nie – al is dit inderdaad reeds in sy tyd behaal.

Met “Mnr. Grosskopf” het ek in die 60’s in Bloemfontein kennis gemaak in ‘n vlugtige skof daar voordat hy met die stigting van die Sondagkoerant Die Beeld in 1965 Rand toe is. ‘n Heilige respek vir sy skerp intellek het dadelik ontwikkel. Aan die voete van hierdie Gamaliël uit die Kaap het ek ‘n ongesonde neiging tot mooiskrywery vinnig afgeskud. Op verskeie rondreise agter dr. H.F. Verwoerd aan – van Vryburg tot Klerksdorp – het hy my politieke verslaggewing help slyp.

In April 1974 het ons twee die voorhoede gevorm van die Beeld-intog in Johannesburg. Die jong nuusredakteur uit Bloemfontein het saam met sy redakteur in die Old Arcadegebou in Markstraat, Johannesburg, ingetrek. Ons moes ‘n redaksie kry, strategie uitwerk en ‘n duisternis ander voorbereidsels tref. Dit was ‘n opwindende taak, wat ook naweke by die Grosskopf-huis in Linden oor ‘n glasie rooiwyn of twee voortgesit is.

Daar het ek dié fyn gesin werklik leer ken en waardeer: Santie, ‘n knap joernalis uit eie reg, Ernst, Annemarie, Riël en Hein, die jongste. Ek het my verwonder aan die openheid en hoë vlak van gesprekvoering tussen ouers en kinders – iets wat ek nie geken het nie.

Ná ons intrek in die hartjie van die winter in die lelike, onvoltooide Beeldgebou oorkant Ellispark se tennisbane het Gross hom uit die staanspoor onderskei as ‘n metodiese raakvat-vakman wat hom oral en op elke terrein deeglik laat geld het. Hy het aan sy span hoë eise gestel. Uit bewondering en geneentheid teenoor die kaptein is die uitdaging begeesterd aanvaar.

Sy latere hoofartikels en rubrieke was helder, skerpsinnig en rigtinggewend. Sy sin vir nuus en vir die kreatiewe aanbieding daarvan was suiwer. Een van sy gebruike as redakteur was om ‘n beknopte oorsig oor die vorige dag se koerant vir die redaksie te gee: welke berigte goed hanteer is, waar bykomende aspekte uitgelig kon word, waarmee mededingers Beeld geklop het, welke stories beter aangebied kon word en waarom. Vir my was daardie daaglikse dosis pluimpies en kritiek uit die redakteur se kantoor so waardevol dat ek dit later, sonder erkenning, ook deel van my eie arsenaal gemaak het.

Die woorde “sonder erkenning” spook by my, ook om ‘n ander, diepliggender, rede. ‘n Terugkerende kwelvraag is of Gross selfs net naastenby die eer gekry het wat hom toekom vir sy enorme rol in Beeld se langsame vestigingstryd. Nou, by sy dood, knaag die vraag opnuut en met mening.

Deels kan die verloop van sake natuurlik op Perskor se brood gesmeer word, maar ook net deels. Ongelukkig bestaan ook rede tot selfondersoek by kollegas soos ekself wat in hul vorming as joernaliste, en mense, soveel uit die geniale mentor se hand ontvang het. Maar ons, wat het ons op ons beurt gedoen om ons verskuldigde dankbaarheid te betoon? (hvd)

SWAK, KALAHARI!

More uit Melkbos

Kalahari gooi tou op teen die nuwe mededinger Take-a-lot. So lees ek vanoggend.

Nie juis verras nie na die volgende ervaring: Op 18 September ‘n kamera gekoop en betaal. Verwagte afleweringsdatum – 3 Oktober. Niks gebeur egter nie. Ek bel en bel.

Vanoggend die boodskap: Jammer, ons kan nie lewer nie. Kan nerens voorraad kry nie. Intussen het die kamera elders duurder geword.

Wie byt die spit af terwyl Kalahari skouers optrek? Hierdie outjie wat op prinse vertrou het ondanks die Bybelse vermaning. (hvd)