LERAAR BID ‘N LEEU LOS

hennie se leeu1

Hennie se maanhaar

Middag uit Melkbos

Hoe gemaak as jy brand om ‘n leeu te sien, maar die wildtuin se hekke wil sluit en die dag in die bos loop leeu-loos ten einde?

Jy maak dit ‘n saak van gebed, vertel dr. Hennie Swanepoel ‘n leraar van Melkbos. Hy het op versoek van Visnet, gemeenteblad van die NGK Melkbosstrand, sy maanhaarstorie opgeteken nadat hy dit van die kansel af vertel het.

Dr Hennie skryf soos volg:

“Die braai naby Onder-Sabie in die Krugerwildtuin was alte lekker. Ons het die hele oggend gery, maar die diere was skaars. Terug in die kar het ek ‘n lied op my selfoon gespeel wat die hele dag in my kop gemaal het: ‘…Who is worthy to open the scrole, only You Lion of Judah.’

“En dit is al só lankal my gebed dat ek die Leeu van Juda sal sien en meer intens sal beleef. Ek het die heeltyd terwyl ons gery het in my stilligheid gebid: “Ag Here, ek wil so graag ‘n leeu sien. Wil U nie groot asseblief vir ons twee bederf nie? Maar nie ‘n leeu waar ‘n klomp karre ophoop nie. Ek sien hulle nie lekker as hulle ver is nie. As U wil Here, kan ons nie groot asseblief op ons eie ‘n leeu naby sien nie? Dit sal vir my ‘n bevestiging wees dat U my hoor.”

“Ons het vir byna ‘n halfuur by ‘n watergat naby Phabenihek gesit. ‘n Visarend het hoog in ‘n boom gesit en ons het seekoeie hoor grom. Die tyd het min geraak, want die wildtuin se hekke sluit half ses. Ons sê toe vir mekaar dat ons die visarend tot vyf uur toe tyd gee om te roep. Ons het deur die dag 19 visarendkrete gehoor en 20 sou dit mooi afrond. Maar ai, hy wou toe niks weet nie. Hy was die ene stilswye.

“Om vyf uur besluit ons toe maar om hek se kant toe te ry, want dit het begin skemer raak. Ek het saggies vir Hom gesê: ‘Here, dis reg as U nie vir ons ‘n leeu wil wys nie. U is in beheer. Ek wil in elk geval vir U sien. Ek smag na U’.

En toe, skielik sê my vrou saggies: Leeu! Aan ons linkerkant kom hy toe aangestap. Dit was net ons en hy, ‘n groot maanhaar leeu. Hy het grasieus reg voor ons oor die pad gestap. So op sy eie. Ek het ‘n motor van voor en een van agter gewys om stil te hou sodat hulle ook die stukkie seën kon ervaar.

“Wat ‘n bevestiging! As ons voor vyf of net ‘n rukkie na vyf van die visarend af gery het, het ons die leeu nie gesien nie. Dit is hoe ons Here se tyd werk. Hy gee dinge soos en wanneer Hy wil. Hy is hier en Hy wil gesien word! En wát ‘n sonsondergang het ons nie oor die Laeveld begroet nie!

“Dankie, Here dat U my en my liewe vrou so bederf.” (hvd)

KYK VIR DIE VOëLTJIE …

More uit Melkbos

‘n Operasie wat lieslangs aangepak moes word, het die uwe laat onthou van ‘n storie van ‘n ongewone reeks foto’s wat vir die eienaar van die kamera ‘n paar ongemaklike oomblikke besorg het.

Die foto was van daardie nimlike omgewing aan die lyf van ‘n vreemde man – lank voor die era van selfies, selfs lank voor die era van die digitale kamera – maar ‘n akrobatiese “selfie” as daar ooit een was.

Sal later vertel hoekom die uwe se operasie – vir die herstel van ‘n abdominale aorta-aneurisme (die sogenaamde AAA) – hom aan daardie baanbreker-”selfie” laat dink het. Laat ek eers die verhaalgegewe skets.

Basies handel my storie oor ‘n Suid-Afrikaner wat sy kamera in die kleedkamer van ‘n gholfklub in Boston, Massachusetts, verloor en weer wonderbaarlik teruggkry het – met onverwagte “rente”.

Die slagoffer was bitter toe hy ná ‘n potjie van sy geliefkoosde spel in die kleedkamer kom en sy verlies ontdek, want die film was byna vol onvervangbare foto’s van die New Englandgebied in gloedrooi herfskleed.

Ná ‘n bier maak hy toe weer ‘n draai in die kleedkamer – en hier lê sy kamera gedorie hoog en droog. Al verskil: die film is nou vol.

Toe hy sy afdrukke by die naaste “drug storie” gaan haal – pre-digitale tye, onthou – verbeel hy hom die meisie gee hom ‘n skewe kyk. Sy praat met ‘n ouer vrou agter die toonbank en die meet hom ook afkeurend op en af.

Sy blarefoto’s is pragtig, almal kalenderkwaliteit. Die laaste vier, van nommer 33 tot 36, tref hom egter soos ‘n voorhamer. Daarop, is uit verskillende hoeke, die manlikheid van die een of ander grootkaliberkalant verewig. Gewis nie sy eie nie, want hy is helaas iemand met rede tot beskeidenheid in daardie department.

Die trotse kerel van die baken waarop gefokus het, moes die kamera geleen het vir sy eie “kaal”-enderfoto’s!

Terug nou by die aneurisme-operasie.

Een moontlike gevolg, maan die chirurg, is dat die bloeding in die weefsel afsak en ‘n potblou verkleuring veroorsaak wat ‘n man nogal kan laat skrik as jy dit skielik in ‘n spieël sou waarneem.

Trouens, vir ‘n Duitser wat dieselfde paadjie as die uwe geloop het, was die blou so ontsenuend dat hy dadelik na sy kamera gegryp het. Die “selfie” van die skoktoneel is aan die arts ge-SMS met net een kort, direkte vragie daarby: “Wat gaan hier aan?”

Gelukkig dat ek gewaarsku was. Sou maar sukkel om met hierdie ou lyf sulke kontorsies uit te haal. (hvd)

KADUKS GE-HIK-HIK-HIK

IMG_3185

Ek en my kardoesie – een van die swetterjoel boererate teen hik.

More uit Melkbos

Kaduks gehik, amper 96 uur oor ‘n boeg, prewel ek skuins ná eenuur in nog ‘n rustelose nag vir die moedelose Tokkie: “Dalk moet ek ietsie probeer eet”. Kou ‘n kossie is ‘n raat wat voorheen wel vir my gewerk het.

Sy gaan sny ‘n stuk papaja in blokkies. Ek verslind dit gretig. Waaragtig … die skisofreniese diafragma hyg-hyg vir oulaas. Toe kom dit tot rus. In 36 uur nog nie weer gehik nie. Genade onbeskryflik groot.

Kaduks is die regte word. Kan jy, liewe leser, raai hoe voos ‘n mens voel as jou lyf so onbeheersd sonder ophou hik, stik, snik, ruk en pluk? Voel so eindeloos soos daardie Noag-reën: Veertig dae het dit gereën, veertig nagte agtereen ….

By oud-kollega Ollie Olwagen verneem ek van arme mense wat inderdaad jare gehik het. Die wêreldrekord vir ’n marathon-hikkery is, aldus Ollie, sowat 65 jaar!

Vanwaar Gehasi? Met lang mediese redenasies gaan ek nie die leser beproef nie. Myne was klaarblyklik narkose-verwant. Die diafragma se ritme is erg (maar erg) versteur. Soos ‘n ou dieselenjin op ‘n koue wintersoggend het dit eenvoudig bly weier om te vat. En bly weier. En bly weier.

Het verskeie boererate probeer – en daar is ‘n swetterjoel hoor, van gedagtes aan ‘n witperd tot jou gruwelik vererg. Dalk die beroemdste van almal: laat iemand onverwags iewers uitspring en jou skrikmaak. Wees egter gewaarsku dat so ’n skokeffek nie altyd sal werk soos dit moet nie. Die staaltjie word byvoorbeeld vertel van ’n man wat sy apteker vra om hom iets vir sy hikkery te gee. Die apteker is ook nie links nie en gee die man ’n klap. ‘‘Hoekom doen jy dit?’’ vra die man. ‘‘Wel,’’ sê die apteker, ‘‘jy hik mos nou nie meer nie, of hoe?’’ ‘‘Man, jy’s besimpeld,’’ gil die man, ‘‘dis nie ek wat hik nie, dis my vrou!’’

Die beste vir my, het ek gevind (buiten nou die middernaghappie van papaja), is die volgende: Haal ’n halfuur lank asem in ’n papierkardoes— beslis nie te lank nie en ook nie in ’n plastieksak wat oor jou kop getrek is nie, jy sal versmoor, liewe mens. Die betroubare Jan van Elfen onderskryf die raat. Ook al die matrones in die kenniskring wat Tokkie landwyd opgespoor het om advies in te win. Dit bring ten minste tydelike verligting.

‘n Pynlikheid van so ‘n jollie-hik is dat dit skynbaar vir sekere mense lagwekkend klink. Vir die slagoffer is sy beproewing gewis nooit snaaks nie. Hoekom iemand glimlag as hy daarvan hoor eerder as om in trane van meegevoel uit te bars, slaan hierdie hikker dronk.

Juis in die akuutste periode kry ek van Herman Toerien van Bloemfontein die volgende storie wat stof tot nadenke bied: “Toe nog baie klein was, het ek eenkeer vreeslik gehik en die boererate wou nie een help nie. My ma en pa vertel my toe van ‘n pous wat van hikkery oorlede is. Glo elke nou en dan met die radio oorgeskakel na die hospitaal om te hoor hoe dit gaan. Ek stry nog toe sê my pa ek moet gaan speel, die hikkery het opgehou. En sowaar… ”

Tokkie is gistermiddag kombuis toe. Vreeslik gewoel en gewerskaf. Uiteindelik die een pan geurige beskuit na die ander uit die oond. As dit ‘n dag tevore was, het ek sweerlik gedink die beskuit is vir die begrafnis.

PLAISIR D’GENEPI, ENS

Middag uit Sabiepark

PLAISIR D’GENEPI

Augustus 25, 2014 in Uncategorized

Ons het ‘n lekker Brekfis by Balule geniet waarop ek graag ‘n heildronk met ‘n knertsie verfrissende génépi uit die westelike Alpe wil instel.
Die sjarmante Franse gesinnetjie aan tafel saam met die Van Deventers en Van Rensburgs (Philip en Nancé) van Sabiepark was ewe verfrissend as die geurige Franse “witblits”. Dit kom van Alpynse kruie wat in die somer op ‘n hoogte van 2 000 meter groei – die hoogste plant in die Alpe (wetenskaplike naam Artemisia, in Engels bekend as wormwood).
Die Franse het oornag Franse vriende geword met wie adresse uitgeruil is. Hulle is Didier Charvet, sy sjarmante vrou, Emilie Anxionnaz, ‘n skaapwagter se dogter wat sonder lopende water in die huis grootgeword het, en hul twee flukse meisiekinders, Myrtille (10) en Melisse (7). Vir die génépi waarvan ons mildelik uit ‘n pragtige vlekvrye staalflessie geniet het, het hulle self die Alpe naby hul tuiste, La Rosiere de Bourg, aangedurf op ‘n gevaarlike klimroete waar ander génépi-soekers al met hul lewens geboet het. Soos ek verstaan, is dit in die omgewing van St. Maurice.
In my Sabieparkse drankkabinetjie is nou so ‘n kosbare flessie génépi vir baie spesiale okkasies, soos die lank afgewagte besoek deur ou Bloemfonteinse vriende, Andrew en Christine Murray, die naweek. In my boskar is ook ‘n CD met vrolike Franse kabaretmusiek. Didier is voor die clavier. Hy takel die klawers met vernuf en entoesiasme. Op die omslag is ‘n afbeelding van ‘n Hadu, ‘n mitologiese Alpynse bok met een been langer as die ander. Dis glo om beter te kan vastrap teen die steiltes!
Die brekfis met vars vrugteslaai, spek en roereier was die enigste floue teenprestasie wat ons kon aanbied. Darem gelyk of veral die vrugte goed afgaan by Myrtille en Melisse. Die twee het ‘n wederkerige bederfie verdien. Die vorige aand het hull eons bederf. Onder die skouspelagtige sterrefirmament, terwyl die hiënas buitengewoon luidrugtig om Balule se grensdraad kaperjol, het hulle, bo en behalwe al die ander gebare van welwillendheid, in hul soet kinderstemmetjies vir die Suid-Afrikaners gesing: Bambali, bamba, soli bali bamba, bambali, bambayé, yé ouvana souli bayé, ouana souli bayé, ouana souli bayé… Klink soos ‘n Zoeloe-wiegeliedjie in Frans.
Die reis na Suid-Afrika het sy oorsprong in Myrtille se geboorte tien jaar gelede. Die ondernemende jong ouers het terstond besluit as sy tien word, moet die gesin dit herdenk met ‘n reis wat sy nooit sal vergeet nie. Australië is oorweeg maar verwerp weens sy gebrekkige dierelewe. Ook ander lande in Afrika was op die tafel. Die goedkoop rand het die deurslag gegee.
Hulle het in die Kaap begin en dadelik op Chapmanspiek aan die verkeerde kant van die pad in ‘n ongeluk beland. Ná die vroeë teenspoed was die reis ‘n fees … robbe by Houtbaai, pikkewyne by Simonstad, walvisse by Hermanus, leeus en olifante in die Wildtuin … Die hoogtepunt? Die walvisse, sê Didier dadelik. Dis die enigste wat jy nie in ‘n dieretuin kan sien nie.
Maar Balule se hiënas het darem ook Didier se Canon laat oortyd werk en die dogters laat rondhôl terwyl hulle uitbundig jil van plesier. Trouens, hierdie ou oom wat die middag nadergestaan het om die skamerige nuwe intrekkers in rondawel 3 in die kamp te verwelkom, het nogal daaroor ‘n teorie. Hy glo een van die redes waarom hy en sy geselskap so op die hande gedra is, was juis daardie aand se “wilde kabaret” langs die grensdraad. Ek het hand en mond belowe die koddige diere sou opdaag, en toe kom hulle in getalle … hulle rol in die sand, karnuffel mekaar speels en lag dat dit dreun tot tot wie weet watter tyd.
‘n Bekoorlike kuiertjie met bekoorlike nuwe vriende uit ‘n verre land op die bekoorlikste plek in die Wildtuin. Ai, hoe bevooreg is ‘n mens nie!
• In Wikipedia kom ek die volgende teë oor génépi: Génépi can be made at home through the simple addition of prepared herbs to vodka or grain alcohol. The chopped, dried wormwood flowers are sold in southwestern Europe in small sachets similar to tea bags. Home-brewing instructions, as well as ingredients, can be found online. For the more adventurous, the flowers and herbs can be harvested in July and August. After drying and chopping, the herbal mass can be enclosed in cheesecloth for steeping. Each Alpine mountaineer has a recipe for génépi, but a generic recipe for a liter would require forty flowers and forty sugar lumps to be added to 40% alcohol by volume.

LEEUVANGS X 2

Augustus 20, 2014 in Uncategorized

Twee-sebras-met-een-vangs-bokveld-toe-laagte. Met die naam sal ek voortaan ‘n leegtetjie naby die skilderagtige Marheya-drinkplek tussen Tshokwane en Satara onthou.
Op pad na Balule het ons Vrydag op die H1-3 ‘n troppie leeus raakgeloop wat sommer twee sebras op een slag platgetrek het. Een karkas was sowat 100 meter van die ander. Ons het op die toneel aangekom sowat 45 minute ná die vangs, is ons deur ‘n toeskouer meegedeel. Die eerste blik was op drie leeus wat in die koelte aan ‘n sebrakarkas lê en vreet. ‘n Paar ander het ‘n entjie agter toe sonnetjie gaan soek.
Gelukkig was die vangs ewe bedagsaam in ‘n leegte sodat die insittendes van die fris klomp motors wat vinnig opgedam het, goed kon sien en foto’s neem.
In dieselfde gees van bedagsaamheid gee ek my goeie plek later aan ‘n laatkommer prys. Toe ek wegtrek, bemerk ek ‘n leeuwyfie in die veld langs my draf. ‘n Entjie kruie ek so saam met haar aan. Toe swenk sy oor die pad en mik vir ‘n bossie teenaan die teer, vlakvoor die Honda verby. Dis daar waar ons toe die tweede sebra gewaar, maag nog nie eens oopgeskeur nie. Dalk nog op die teer platgetrek en soontoe gesleep. Die leeus se oë was seker maar groter as hul mae.
Soos ‘n moeder so opreg het Mevrou Leeu eers ophou eet om eers te gaan seker maak alles is nog in orde by die koskas. So onverwags was haar verskyning op die teer dat ek total onverhoeds betrap was. Tyd om lense om te ruil, was daar nie. Met die lang lens was sy so naby dat sy te groot was vir die skermpie. Die uwe het vinnig die Honda se elektriese ruitknoppie gedruk toe hy daardie spoegbek en slagtande deur die lens sien.
Twee uur later is ‘n vriend by dieselfde leeuvangs kwadraat verby. Wat hy gesien het, was ‘n presiese herhaling van die oggend se gebeure. Ook hy het ‘n ruk die feesmaal dopgehou en toe gesien hoe die wyfie oor die pad draf om sake by sebra nommer twee te gaan monitor. Klaarblyklik het sy die taak ernstig opgeneem!
‘n Kilometer of twee verder het ons ‘n jong leeutjie gekry wat bra verwese tussen twee bome senuweeagtig die wêreld om hom bespied het. Ons glo hy is alleen daar agtergelaat terwyl die volwassenes op die jag uit was. Hoop hy het ‘n lekker karmenaadjie gekry.
Met die terugkomslag Sabiepark toe Maandagoggend het ons agt leeus teenaan die water by Marheya gekry. Jy kon sommer sien hulle is behaaglik trommeldik gevreet. Klaarblyklik dieselfde troppie van Vrydag. Sebra nommer twee was nie meer onder die bos langs die pad nie. Maar toe staan ‘n wyfie gedoriewaar op en begin oor die pad aanslenter die bosse in. Koshuis was waarskynlik intussen tot ‘n meer private eetplek verskuif, en sy het net gou weer gaan seker maak.
Altyd lekker om Olifants se kant toe te ry. Ons het ‘n entjie voor die Nhlanguleni-afdraai die seldsame voorreg beleef om swartwitpense by die water te sien bondel. Digte takke het dit, helaas, onmoontlik genaak om te tel of om foto’s te neem. By een van on sander Balulegangers verneem daar was 20. Wees maar ekstra waaksaam, mense, as julle in daardie kontrei rond ry. Ons het hierdie trotse spogdiere al voorheen naby Tshokwane gekry.
Die tog het onder meer ook drie groot troppe buffels, hope olifante en kameelperde en digte plate sebras en blouwildebeeste opgelewer. Die S1 was, soos altyd, ‘n vreugde. Nie verniet nie, bly dit een van my gunstelingpaaie in die ganse Wildtuin. En Balule? Balule bly bobaas, al is die laagwaterbrug oor die Olifants STEEDS vir verkeer gesluit.

PYN OOR ‘N PROOI

Augustus 11, 2014 in Uncategorized

Verskoon tog maar as hierdie Sabieparkse kroniekskrywer vandag ietwat mistroostig klink. Hy verwerk maar swaar die jongste roofdier-ongeval in ons eie paradysie hier aan die soom van die Sabierivier: ‘n kameelperdjie van ‘n maand en iets.
Net ‘n stukkie vel is gevind. Die outjie het waarskynlik luiperdkos geword. Later sou hongerige hiënas wel vinnig kom “opruim” het. Luiperds is die laaste ruk buitengewoon aktief hier rond. Hiënas is onheilspellend volop.
Dat die uwe hom die dood van die diertjie so aantrek, kan vir sommige oordrewe klink. Die meeste wilde diere kom tog wel vroeër of later gewelddadig om, sou hulle kon redeneer. As jy ‘n dier is wat in die veld moet probeer oorleef, word jy die een of ander tyd deur roofdiere gevang, verskeur of opgevreet. Dis mos die wet van die natuur. Of wrede stropers kom jou by …
Twee dinge maak die kameelperdjie-ongeval vir my taamlik emosioneel. Vir eers het hierdie enetjie pas ‘n week of twee tevore uit leeukake ontsnap. Sy ma het haar stert verloor in haar onverskrokke verdediging van haar knopknie-kleinding teen vyf indringers uit die Wildtuin, ons oostelike buurman. Wie kon dink ‘n ander aanvaller of aanvallers sou so gou kom slaag waar die leeus misluk het?
Ten tweede is nou net drie skamele kameelperde in Sabiepark oor. Toe ons in 1998 ingetrek het, was die langnekbevolking 36. Jy kon skaars iewers in die park beweeg sonder om ‘n tros aristokratiese nekke bo die bome te sien uittroon.
Uitdunning weens ekologiese redes het wel wee keer voorgekom, maar sommer baie vangste het plaasgevind. Allerlei ander teenspoede het getref. Een het in ‘n rioolput getrap en in daardie onwelriekende grafkelder vasgekerker bly sit totdat die krokodille uit die Sabie opgedaag het. Een patriarg, ook nie meer so rats nie, het op ‘n rots gegly en sy nek gebreek. ‘n Ongelukkige is deur kragdrade doodgeskok.
Jong kameelperdjies is deur die jare as ‘n maklike maaltyd geteiken. In 1999 het vyf vorige leeubesoekers ‘n outjie platgetrek wat Tokkie pas afgeneem het. Die oulike diertjie poseer soos wafferse modelletjie, met die naelstringetjie wat nog onder die pensie hang. Die foto pryk in ons woonkamer. Daarop het ek net een word geskryf: Leeukos.
Daardie eersgeborene in ons Sabiepark-era was seker nie die eerste klein kameelperdjie wat al in Sabiepark gevang is nie en die jongste slagoffertjie sal seker ook nie die laaste wees nie. Ons weet onder meer van twee wat deur ‘n vorige parkhoof, Gerrie van Niekerk, name gegee is, Lulu en Spikes. Nog ‘n baba wat roofdiere (waarskynlik hiënas) ten prooi geval het, is een waarvan ons Kaapse kinders en kleinkinders die hele skouspelagtige geboorte in 2011 dopgehou het: vandat die voete te voorskyn gekom het totdat die hele lyfie drie meter na benede gestort het.
In die agteruitboerdery aan die kameelperdfront staan nog een faktor uit. Dit is die raaisel van die 12 vermiste kameelperde – iets waaroor van ons ouer eienaars steeds hope onbeantwoorde vrae het. Dit het in 1998 gebeur. Terwyl die helikopters besig was om in die eerste uitdunning 12 na die vanghokke aan te keer, het ‘n bykomende 12 geheimsinnig verdwyn. Spoorloos. Soos wanneer ‘n kulkunstenaar sy towerstaffie swaai. Poef ….
Die destydse parkhoof, David Zeller, kon nie lig werp nie, buiten waag dat hulle dalk oor die rivier kon gestap het Kruger toe – wat werklik uiters vreemde gedrag sou wees.
Hoe ook al, van 36 het ons kameelperde oornag gekrimp tot 12. In ‘n stadium het daardie 12 nege geword. Toe stoot drie geboortes die getal darem terug op tot 12.
In Augustus 2014 loop, helaas, net drie in Sabiepark rond. Jy is skaars van hul teenwoordigheid bewus. Twee van die bittereinders het ‘n rukkie gelede met lang hale oor my werf kom stap. Ek het hulle so agterna gekyk toe hulle die bos in verdwyn. Dis toe dat die mistroostigheid oor die gevalle kleintjie my van nuuts af pak – en ‘n lawwe hersenskim my te binne skiet. Ek sien in my geestesoog hoe 12 kameelperde meteens in formasie deur die Sabie aangewaad kom Sabiepark toe …

VYF GROTES

Augustus 5, 2014 in Uncategorized

Op my bedkassie in Tarlehoet is Jeff Gordon se 101 Kruger Tales waartoe die uwe ook ‘n uiters beskeie bydrae gelewer het. Ysingwekkende, hartroerende en humoristiese wildtuinverhale in daardie boek. Kry hom – en bekoor almal langs die kampvuur met jou stories.
Op bladsy 327 word amper terloops genoem van ene Sharmeli Ramchander wat in die eerste drie uur van haar eerste besoek die Vyf Grotes raakgeloop het. Nie sommerso nie. Luiperd bekruip wildebees; leeus vreet aan ‘n karkas; dertig olifante storm deur die bos; renoster merk sy gebied reg langs die pad; net die buffels was onaktief – het lui in die gras lê en herkou.
Sharmeli is blykbaar sommer met twee (vyf?) goue lepels in die mond gebore. Maar nou-ja, die gelukgsdodin glimlag op sommige meer as op ander (ook partykeer meer as ander kere). Ekself het darem al op stil dae drie uur gery en kwalik ‘n rooibokkie in die verte gewaar.
Sondag was weer een van daardie gawe uitsonderings. Amper laat gewees vir kerk met vertragingsfaktore soos die twee leeumannetjies op die S3, ‘n renoster op die Doispanepad, asook twee troppe olifante, ‘n luiperd en ‘n trop kameelperde op die Skukuzapad. Waar was die buffels tog, het ek myself afgevra.
Laatmiddag stap ons na ons geliefde piekniekplek toe. Rustiger kan ‘n Sondagmiddag kwalik as daar langs die Sabierivier – boonop, soos Sondag, met twee troppe olifante 100 meter uit mekaar, en grootvoete voor, langs, agter en om die uitkykplekke oor die rivier en die oorkantste oewer.
Bewonder nog die betowerende olifanttonele so, toe: Voila! Hier stap twee “dagghaboys” (ou modderbekoekte bulle wat merendeels in rivierlope woon) uit die bos, en later sommer vir ‘n toegif in die sakkende son verby ‘n klompie olifante op die rivier se oewer. Toe haal die Van D’s darem ‘n Groot-Vyf-dag – ons eerste in ’n taamlike rukkie.
Moet my nie verkeerd verstaan nie, asseblief. Die wildtuin bestaan uit veel-veel meer as die Vyf Grotes, en die algemene gejaag na veral leeus met behulp van krakende tweerigtingradio’s staan hierdie wildtuinliefhebber nie juis aan nie. ‘n Trop swartwitpense sal elke keer vir my ‘n groter prys wees as selfs daardie indrukwekkende kraagmannetjies wat ons oop en bloot op die rivierpad gesien het.
En die tienstuks kameelperde langs die Skukuzapad – een fier kleintjie onder hulle – was, eerlik gesproke, eintlik ‘n mooier toneel as die luiperd wat tussen ‘n dosyn of meer versamelde safarivoertuie en motors soos blits oor die pad geseil het.
Tog – die Vyf Grotes is die Vyf Grotes. Om almal die een na die ander af te tik, bly tog maar ‘n heimlike lekkerte. Ook vir hierdie ou gryse veteraan met hope wildtuinbesoeke agter die blad.
(My storie in Jeff Gordon se boek heet An Astonishing Confluence of Killers en vertel van ‘n episode langs die Salitjepad lank-lank gelede met leeus, ‘n luiperd en ‘n krokodil as hooffigure.)
(hvd)

BUFFEL-SKOUSPEL

Middag uit Sabiepark

Was dit 400 buffels? Dalk ‘n raps minder? Dalk meer? Daaroor kan ‘n mens redeneer. Dat dit die grootste buffelskouspel in ons nou al amper 2 000 dae in die bos was, staan vas. Selfs die ervare Solly Sibuyi by die piekniekplek twyfel nie: dit was die grootste trop wat hy nog daar gesien het.
Die buffels het in ‘n lang tou uit die weste aangedrentel. Hulle het geruime tyd in die riete en op die oorkantste oewer van die Sabie gewei. Toe begin die eerstes die rivier oorsteek. ‘n Swart bondel lywe. Ander volg, maar skrik en storm terug. Toe kom die eerstes agterna. Die waters druis en die skuim spat. Hulle vertrap mekaar feitlik om op vaste aarde te kom.
Serengeti – die migrasie van die wildebeeste, se ek en Tokkie gelyk vir mekaar. Albei het spontaan by die vergelyking uitgekom.
Uiteindelik het die buffels iets soos 20 uur by die piekniekplek deurgebring – nie net die grootste trop tot dusver nie, maar boonop die trop wat die langste vertoef het.
Die datum 30 Julie 2014 sal vir altyd in ons boekies as die Dag van die Buffels verewig wees. Die buffels se geleidelike aantog, saambondelende oortog en stormagtige terugtog was die anker van seker een van die vrugbaarste 24-uur-tydperke wat ons nog in Sabiepark beleef het.
Dit het begin met 17 olifante, groot en klein, by die brug voor die Krugerhek. Ons het hulle vroegoggend by die piekniekplek sien verbytou, en toe in die rivier aangetref toe ons gaan kyk na die laaste voorbereidsels vir die volgende dag se inwyding van die gedenkteken vir veldwagters neffens Oom Paul se granietbeeld.
Die middag by die piekniekplek was nie net buffels nie. ‘n Swerm aasvoëls het in die helderblou lug gesirkel. Bokkies het in ‘n eindelose stroom uit die bos gekom om te drink. ‘n Renoster was in die verte op die horison sigbaar.
Die skemeraand se nagapie-plesier op die voorstoep was, soos altyd, ‘n hoogtepunt van die dag. Des te groter was die plesier toe ons later ontdek die ratse klein akrobaatjies het na ‘n lang afwesigheid weer die neste betrek wat Johan meer as tien jaar gelede, ondanks hoogtevrees, teen die nok van die stoepdak vasgewikkel het.
Douvoordag op die 31ste kry ons ‘n buitengewone besoek op die stoep. ‘n Hiëna. Moet erken: een wat vir jou grynslag op jou nugtermaag laat ‘n man se pajamabroek ietwat bewe. Ta het nonchalant die trappies van Wildevy 154 bestyg nadat Tokkie die eerste boeretroos van 31 Julie aangedra het. Hy het aan die swembadseiltjie gelek. Toe draai hy om en loer vir ons met geprikkelde belangstelling deur die ruitglas. ‘n Jaar of ses gelede het vier hiënas my begluur terwyl ek in die agterste lapa my Post Toasties geniet. Die sparretjieheining tussen ons het my destyds veiliger laat voel as die brose gaasdeur.
Daarna skuur die sebras teen Tarlehoet se agterste lapa verby om rustig in ons watergat te kom drink. Die groot vlakvark met die weglêtande meld hom op die werf aan vir ‘n skuur-sessie teen een van die paaltjies by die parkeerplek. Ons wil ry om na die gedoente by die Krugerhek te gaan kyk, maar eers moet Tokkie met dreigemente en klippe die bobbejane verjaag.
By die Krugerhek word ons begroet deur ‘n vreemde toneel. Waar ons al leeus, olifante, wildehonde en ‘n renoster sien loop het, was ‘n miernes van mense. Volop beskerming was darem vir die 400 gaste by die inwyding van die gedenkteken teenwoordig: polisie, militere polisie, gewapende veldwagters en wat nog . Hope noodvoertuie was op die toneel: ‘n ratel, ambulans. ens. Die polisiehelikopter was in die lug. Voertuie was geparkeer in die bosse, tot taamlik diep op die S3-rivierpad. Erger as by die vreeslikste leeutoneel.
‘n Mens moet wonder wat dink eerste besoekers, veral buitelandse besoekers, as hulle die Krugerhek vol verwagting binnery en pleks van diere net wemelende mense sien wat van oral aantou waar hulle langs die paaie en doringbome hul motors, safarivoertuie en busse parkeer het.
Terwyl die makietie koers kry, gaan loer ons by Lake Panic in. Baie seekoeie, baie bosbokkies, baie reiers – ook drie krokodille, ‘n njalabul, ‘n skaars watertrapper, bont visvangertjies wat hul vissies op ‘n tak vlakvoor ons kom afsluk en groot langtone op die lelieblare.
Dan was daar die “verassing na die verassing”. Enkele jare gelede het iemand op die houtblad van die gewilde voëlskuiling by Skukuza uitgekerf: What I saw here you could not even imagine. In daardie selfde hoekie het ons self ‘n verrassing op die lyf geloop. ‘n Familie (drie geslagte) het Oupa se assies op die waters kom strooi. Aandoenlike toneeltjie, al was die kindertjies allermins bedeesd by die gewyde plegtigheid. Darem ook ongemaklik intiem vir onvrywillige teenwoordiges! Later het ek gaan loer. Die riete se blare was wit van die as.
As jy die 24 uur tot 36 uur sou rek, kan ek ons eerste luiperd van die vakansie byvoeg. Na ‘n luiperdlose eerste 30 dae was sommer twee laatmiddag by die piekniekplek. Ons het egter net die een gesien wat op “Leopard’s RocK” oorkant die rivier ‘n uiltjie knip. Sy maat het hom/haar net voor ons verskyning in die skuiling agter ‘n bossie ingewurm. (hvd)

KNUPPELDIK

Middag uit Sabiepark

Leeus in die park. Hierdie opskrif by ‘n kennisgewing wat jou by die hek in die hand gestop word, is genoeg om leeukoors in Sabiepark hoog te laat opvlam.
Inkommers word meegedeel dat dit “verkieslik” is en “voorgestel word” dat hulle in die lig van die leeu-aanwesigheid dit liefs nie in die strate sal waag vir ‘n staptog nie.
Toe ons Donderdag van Balule terugkeer ná die derde salige saamtrek van ons groepie veteraan-Kollegemanne kry ons ook die waarskuwing by die hek. Ons was toe al per SMS ingelig. Leeus het weer van die Wildtuin as kant af deur die grens gekom soos hulle periodiek doen.
Hierdie keer was dit vyf: ‘n jong mannetjie en vier wyfies. Eintlik was dit nie totaal onverwags nie. Die vorige aande is rondom Sabiepark gebrul vir ‘n vale en van Awie en Sunet Greeff se stoep kon ‘n maanhaar een oggend die vorige week lank dopgehou word.
Die vyf het ongelukkig nie met vreedsame bedoelinge gekom nie. Sommer dadelik is ‘n jong sebra platgetrek en verslind. Die vangs was naby die hoek van Wildevy en Apiesdoring, ‘n klipgooi van Tarlehoet. Ons sou sweerlik toeskouers van die feesmaal kon wees as ons nie Maandagoggend na Balule vertrek het nie. Dalk het hulle nog in ons watergatjie hul dors kom les!
In die 90’s het ses leeus Sabiepark ‘n keer vyf weke lank beset – die langste in die bestaan van die park, na my wete. Hulle het ‘n pad deur Sabiepark se wild gevreet. Een van die eerste slagoffers was ‘n klein kortgat-kameelperdjie, skaars ‘n maand oud.
Ek en Tokkie het hart vasgehou. Vir so ‘n slagting soos laas had ons geen aptyt nie. Boonop is in die park op die oomblik weer ‘n klein kameelperdjie, wat sweerlik een van die eerste teikens sou wees.
Gelukkig het die bestuur nie gras onder sy voete laat groei nie. Twee wyfies is vinnig-vinnig verdoof en na ander oorde verwyder. Twee ander het op hul eie gekom en gegaan. Net die moedswillige mannetjie het hardnekkig vasgeskop.
Woensdagaand slaan hy toe weer toe: die keer ‘n blouwildebees naby erf 270 aan die rivieroewer – nie ver van die toneel van die eerste vangs nie. Die jongste prooi sou ingespan kon word om hom vas te trek, is geoordeel.
Die gevalle wildebees is aan ‘n boom vasgewoel, en die gewag het begin. Vroeg Saterdagoggend is ta op die toneel betrap, verdoof en ook verwyder. Sabiepark was weer veilig om te stap – tensy jy jou bekommer oor die twee waarvan nie rekenskap gegee kon word nie, natuurlik!
Saterdagmiddag ry ons en ons gaste, Herman en Rina le Roux van Randburg, in Wildevy af piekniekplek se kant toe. By erf 231, Thula Thula, kry ons ‘n dikgevrete hiena heerlik aan’t dut as’t ware op die stoep. Ons flitsende kameras laat die ou ‘n slag half orent kom en ‘n tweede keer heeltemal. Toe laat sak hy weer sy groot kop op sy uitgestrekte pote soos ‘n tevrede hond. (hvd)