VAT-VAT AAN 2000 DAE

IMG-001

More uit Melkbos

Een dag in die Wildtuin kan asemrowend wees. Dink net wat “duisend dae” nie kan oplewer nie. So het ek in “Duisend Dae Langs die Sabie” (2011) my verslag oor die van Deventers se eerste plus-minus 1 000 dae in ons boshuis in Sabiepark ingelui.

Dinsdag 1 Julie bestyg ek en Tokkie Kulula weer noordwaarts vir nog twee maande se oorwintering in die milde boswêreld –daar waar die sekelbos-kampvuurtjie se rook elke aand in ‘n reguit lyn boontoe trek Dit sal so ongeveer ons 40ste besoek sedert 1998 wees.

Ons bou nou fluks aan ons rweede 2 000 dae in daardie wêreld, en begin al oorweeg om ereburgerskap van Mpumalanga aan te vra. (‘n Mens raak immers lief vir die plek ondanks al die slaggate, rookmis, houthakkers en kruiwaens langs die pad.)

Wat kan ons verwag buiten kortmou rondloop in die amperse somerweer? Bepaald ‘n paar verrassings aan die dierefront – soos altyd. Drie, vier, vyf stil dae gaan soms verby, Dan kom ruik n luiperd aan jou voorwiel óf ‘n olifant slenter lui-lui aan in die pad sodat jy om die dood nie kan verby nie. Of ‘n slang seil by jou voete verby.

Hoeveel olifante gaan ons by die piekniekplek sien? Dalk renosters? Dalk ‘n vangs?

Gaan dit n geil voëlseisoen wees of nie? Gaan die bloukuifloeries amper elke dag by ons watergatjie kom pitjies soek en hul rooi vlerke in die skoon water uitgelate skoon skud?

Vriende kom kuier in Julie en Augustus van oral – sommer van die eerste naweek af. Party veterane kom die soveelste keer; ander kom drink Tarlehoet se soet water die eerste keer. O, ons is oorgehaal vir die lekker geselse om die snoesige vuurtjie. Kom ons sit nog ‘n stewige stompie op.

Ons gaan ook verlang en ver-ver terugdink. Dis onvermydelik. Die tyd maal voort. Elke jaar raak meer plekke leeg. Die afskeid van dierbare vriende – dis een van die slegte Sabieparkdinge.

‘n Mens betrap jou al hoe meer dat jy oor jou eie paadjie begin wonder. Hoeveel keer ry ek, Hennie, hoerveel keer jy, Tokkie, nog by daardie sierhek 2km van die Krugerhek binne, draai regs in Maroela en dan links in Wildevy op pad na 154? (hvd)

VOLKSBLAD-SAGE

More uit Melkbos

Vandag is die eerste dag van die res van Volksblad se lewe. ‘n Tikkie uitgelatenheid is seker veroorloof dat die geliefde dagblad nie vir die Afrikaanse leefwêreld verlore is nie. Gaudeamus igitur.

Tyd vir ‘n nugtere bestekopname oor die krisis van die afgelope tien dae behoort egter ook ingeruim te word. Die brandstapel het immers ongemaklik naby gekom. Niemand vir wie Volksblad iets beteken, wil ooit ‘n herhaling beleef nie.

In die konteks van so ‘n bestekopname is twee kernfaktore konstant. Die dinamiek van die gedrukte koerante het nie oornag verander nie. Die drywers van die radikale plan het ook nie oornag verdwyn nie. Wanneer hulle opnuut by Media24 die pionne begin rondskuif op soek na formules om hul boeke beter te laat lyk, moet ons nie verwag dat hulle dit dadelik met nuutgebore insigte en verfrissende ander gesindhede gaan doen nie.

Om nou rustig in ons onderskeie gemaksones agteroor te gaan sit en mekaar op die skouer te klop omdat die gevaar vir Volksblad afgeweer is, gaan niemand dus ver bring nie. Aan verskeie fronte wag uitdagings en werk.

Volksblad self het al ver gebou aan die model van ‘n geslaagde streekblad wat die karakter en behoeftes van sy spesiale nismark deeglik verreken. Ongetwyfeld sal hy hom verder daarop wil toespits om selfs nog nader aan sy lesersgemeenskappe te leef.

Mag ‘n mens egter ook hoop dat die skrik van amperse verlies ‘n nuwe stroom energie by lesers en adverteerders sal ontketen om hul koerant se hande te sterk in sy strewe om in sy lesersgebied die beste diens te lewer? Die lang, gelukkige en onbekommerde voortbestaan van hul koerant is immers primêr in die twee belangegroepe se hande.

As hierdie mense en instansies so sterk oor hul koerant voel, soos uit briewekolomme, verklarings en op sosiale media blyk, was die tyd nooit ryper nie dat hul liefde en lojaliteit nou van die simboliese na die prakyk beweeg. Kortom, hulle sal op groot skaal moet begin inteken en adverteer Slegs so sal hulle hul koerant op die langeduur kan red en verhinder dat hulle, tot die enorme verarming van die ganse gemeenskap, van ‘n kosbare, onmisbare vennoot beroof word.

AfriForum is een instansie wat in die Volksblad-sage gewys dat sy hart reg klop vir koerante deur sy veldtog om openbare steun te werf vir die voortbestaan van die koerant in sy huidige formaat. Hopelik is hy oorgehaal om daardie veldtog te omskep tot ‘n nuwe veldtog om op elke terrein sterker vitaliteit vir die koerant te ontgin. Ander belangegroepe sou daarby kon inval sodat dit ‘n magtige aksie word waarin kultuur, kerk, sakelui en andere hande vat.

Die kollig van kwesbaarheid was die laaste paar dae fel op Volksblad. Nie net by hierdie oudste Afrikaanse koerant in die land met sy trotse geskiedenis van 110 jaar nie, maar by elke ander titel is kwesbaarhede in mindere of meerdere mate teenwoordig – by van die ander selfs meer so as by Volksblad.

Media24 sal dit seker ten enemale ontken, maar by vele bestaan ongelukkig die persepsie dat die snoeiskêr die wapen is waarna sekere kern-rolpelers telkens byna refleksief gryp om die kwesbaarhede te verminder. Hoe meer jy snipper, des te meer bind jy egter koerante se hande agter hul rûe vas vir die taai stryd wat hulle moet voer. Des te kwesbaarder word hulle in die proses.

Die pad van verdere inkortings lyk vir hierdie waarnemer werklik nie na die pad om te loop om die geweldige eise te probeer ontmoet nie. Minder skadelike alternatiewe sal eenvoudig steeds met kreatiwiteit en ywer gesoek moet word.

Vir geen oomblik dink ek dat die huidige generasie besluitnemers ‘n pad sonder duwweltjies bewandel nie. Hopelik kry hulle egter so met stampe en stote tog maar die regte insigte en formules. ‘n Persoonlik versugting, ten slotte, is net dat ons asseblief tog gespaar bly dat die bloudruk vir die sluiting van ‘n trotse dagblad weer uitgebroei word by ‘n spruit van die idealistiese Nasionale Pers wat ek 36 jaar lank geken, gedien en liefgehad het. Ek kan in my verbeelding die voorgeslagte gepynig hoor uitroep. (hvd)

AMPER TOE SELF IN DIE KOERANT

Middag uit Melkbos

‘n Motor, twee motors, ses motors kon opgefrommel, platgevee of saamgesleur gewees het toe die swaar vragwa in ‘n draai op die sopnat N7 begin swaai, tol, knipmes en rol.

Maar die genade was groot. Die ergste het nie gebeur nie.

In die naaste motor op die pad van die tonne staal wat buite beheer oor die pad ploeg, was ek en Tokkie, asook my jongste broer Cules Malan en sy vrou, Dalene, van Pretoria. Die hele riller-episode het hom vlakvoor ons oë afgespeel.

So dertig, veertig meter voor ons het die potensiële saaier van dood en verwoesting van die pad geploeg en met tollende wiele in ‘n leegetetjie tot stilstand gekom. Ons het vinnig bereken dat dit ‘n kwessie van sekondes was. Net ‘n rapsie vinniger gery of later rem getrap en ons voorland was ‘n gewisse dood.

Aanvanklik was ons sprakeloos. Later het ons uit stukkies en brokkies onthou ‘n legkaart begin bou. Nog later het die besef hoe naby ons aan ons einde was, koue rillings veroorsaak … asook ‘n innige dankbaarheid dat ons leef om die storie te vertel. Die passasier voor in die vragwa was waarskynlik nie so gelukkig nie.

Die toneel was net honderd meter of wat van die Melkbos-afdraai aan die Malmesbury-kant. Met die huidige verleggings weens die bou van die brug maak die pad daar ‘n bedrieglike skerp draaitjie.

Die swaar vragwa, ‘n perd, groot bak en sleepwa met ‘n hyskraan op, het klaarblyklik te vinnig op die nat pad die draai probeer vat. Toe ek skielik stilhou, het Cules opgekyk en opgemerk: Die man ry soos ‘n maniak. Op daardie het die bak en sleepwa woes begin swaai.

Toe verloor die bestuurder beheer. Die bak en sleepwa knipmes en kantel om. Die gevaarte ploeg oor die pad direk op ons af. Ons wag soos verskrikte hase. Magteloos.

‘n Finale bollemakiesie het die perd se dak aan die passasierskant so plat soos ‘n pannekoek gevou. Toe swenk die tuimelende monster van die pad. Dit ruk met ‘n plof in die leegtetjie tot stilstand – die hele gevaarte op die naat van sy rug dat jy net tollende wiele sien.

Weet nie wie die meeste geskok was nie: Ons of die bestuurder wat verward by die voorruit uitgepop het en moet saamleef met die wete dat hy roekeloos was.

Agterna soek ‘n mens baie antwoorde. Het ek die regte ding gedoen deur net rem te trap en so ver as moontlik na links te beweeg? Want as die vragwa bly rol het, was dit gewis bo-oor ons. Maar was daar tyd om iets anders te probeer doen; om in trurat ylings te probeer padgee of selfs ‘n vinnige u-draai te probeer maak? Weet werklik nie.

‘n Mens dink oor die implikasies as die verkeer op daardie kritieke stonde rondom daardie draai op die N7 net ietwat anders gerangskik was. Hoeveel motors kon nie dan te pletter geloop gewees het nie?

Die BMW was die naaste en sou eerste in die slag gebly het. Ek sien in my geestesoog net ‘n patetiese stukkie staal, en voel telkens lus om alles te los en sommer weer ‘n slag in die motorhuis oor die bakwerk van my ryding te gaan streel.

Ek dink aan koerantstorie wat ‘n alternatiewe scenario sou gewees het, en aan die ironie as die uwe – ewige koerantman – self in so ‘n rampstorie op die voorblad sou geëindig het.

Skielik wel ‘n spesiale vreugde in my op oor een koerantstorie wat nie gerealiseer het nie.(hvd)

SAKFORMAAT-GENERAALTJIE

nancy2

Nancy (heel links) saam met ‘n groepie oud-kollegas by ‘n saamkuier op Melkbos se stoep.

Middag uit Melkbos

Met die sprake van ‘n “nuwe sakemodel” vir Media24-koerante hou almal wat vir Die Volksblad (soos my generasie hom geken het) of Volksblad (soos die koerant nou bekend is) asem op. Die “hartland” van Suid-Afrika sal in sy hart gewond wees as daardie koerant moet seerkry – gewis die dagblad wat nader aan sy lesers leef as elke ander een in die land.

Hoop maar Media24 se direksie dink diep en deeglik voordat hulle dalk ‘n onbesonnenheid aanvang.

Die kommer oor ons koerant se toekoms is wesenlik, maar dit is nie waaroor ek vandag ‘n woord op die hart het nie. My tema vandag is: Die lojaliteit van Die Volksblad se mense. Dit tref in hierdie dae opnuut hoe een en almal, oor die generasiegapings heen, hulle eendragtig met hul koerant vereenselwig.

Toe ek Nancy Oosthuysen gistermiddag in Proteavallei bel om haar oor verwikkelinge in te lig, hoor ek die skok en ontsteltenis in haar stem. Kan dit waar wees dat die geliefde Volksblad met ‘n sward oor sy kop leef? Dit kan mos nie.

Nancy is een van die Volksblad-veterane. Sy is al amper 20 jaar uit die tuig en word in Julie 79. Maar sy behou ‘n lewende belangstelling in die koerant en kontak met haar oud-kollegas – ook die enkeles wat nog nie afgetree het nie.

Van Nancy het oud-kollega Jaap Steyn in sy biografiese werk “Sonkyker” vleiend geskryf dat die koerant-cliches van “immergroen” en “beeldskoon” haar tot aan die einde van haar loopbaan sou pas. Ek sou haar nog ‘n paar ander pluimpies wou toevoeg, en ek is dankbaar dat ek dit wel gedoen het in ‘n brief van 2 Mei 1996. Dit is geskryf met haar aftrede. Ek is maar te dankbaar dat die brief my onlangs weer ter hand gekom het.

Die Volksblad sal nooit weer dieselfde wees sonder sy sakformaat-generaaltjie (sy is maar fyntjies en kleintjies!) in ‘n warm stoel in die subkantoor nie, het ek geskryf. En verder:

“‘n Loopbaan vol onderskeidings lê agter jou en hopelik ‘n heerlike rustige rustyd voor.

“By die wisseling van lewenstyle bring ek graag hulde aan ‘n knap en kordate kollega wat ook vir my ‘n waardevolle steunpilaar was in my tyd by Die Volksblad.

“Ek skryf ook in my huidige Pers-hoedanigheid (ek was toe uitvoerende hoof van koerante), omdat ‘n skof soos joune – oor die dertig jaar van lojale, getroue en sprankelende bydraes tot ‘n handvol produkte – ook in breër Persverband waardering verdien.

“Mense soos jy is die Pers se sout van die aarde wat hom help bring het tot die hoogtes waar hy vandag staan. Daarvoor klink die woord ‘dankie’ bra dun. Weet egter, dit kom uit die hart.

“Ek wens ‘n mens kon jou loopbaan statisties in perspektief plaas deur byvoorbeeld te weet hoeveel trefferkoppe (opskrifte) oor die jare uit jou vrugbare pen gevloei het; hoeveel voorblaaie met impak uit jou skeppingsvermoë gebore is; hoe gereeld jy realistiese standaarde ver oortref het; by hoeveel kollegas jy ‘n wonderlike werksetiek ingeprent het …

“Dit sou ‘n indrukwekkende totaalbeeld van jou diens aan Die Volksblad en daardeur ook aan die Nasionale Pers bied. Terwyl van sulke dinge nie boekgehou word nie, moet ‘n mens egter maar op jou aanvoeling staatmaak.

“En, glo my, myne sê vir my ons groet ‘n kollega soos min, klein van gestalte maar groot van formaat.

“Voorspoed, geluk, gesondheid en alles wat mooi is vir jou en Jan op die pad vorentoe. Laat ek en Tokkie julle asseblief in die Kaap sien. Dit sal ‘n vreugde wees om saam herinneringe oor die goeie ou dae op te diep, miskien oor ‘n vuurtjie langs die see op Melkbosstrand.”

Liewe, Nancy, dit is nou 18 jaar later, maar die brief maak my sommer weer bewoë as ek begin dink aan al die wonderlike kollegas saam met wie ek bevoorreg was om ‘n paar sakke sout op te eet. Ek is darem bly ons het mekaar toe wel in die Kaap gesien, ook op Melkbosstrand – en des te meer dat ons ou Volksbladveterane mekaar nou nog van tyd tot tyd in ‘n gees van kollegialiteit kan opsoek. (hvd)