OUPA SKRYF ‘N BOEK

omslag1-001

More uit Melkbos

Oupas en oumas is berug vir hul onblusbare entoesiasme oor hul kleinkinders. Ek en Tokkie bely dat ons daardie reputasie ywerig in stand help hou.

Ons oudstes, die tweeling Jacob en Thomas Claassens, was gister, 26 April, tien jaar oud. Om ons entoesiasme as ‘t ware te “boekstaaf”, het Oupa, met Ouma se kranige hulp – veral aan die onthou-kant van datums en dinge – vir die twee ‘n eie boekie geskryf. Hulle was verstom toe hulle gister die geskenkpapier met wildtonele versigtig verwyder en die boekies die eerste keer in die hande hou.

“Kampvuurtjies, karnallies en k..k..karnivore” is darem nie bedoel as ‘n romantiserende ophemeling nie. Die 143 A4-bladsye is ‘n kroniek van die lief en leed van nege spesiale kuiers saam met ons in Sabiepark. Aan elke kuier – al die soet en die suur – word ‘n hoofstuk gewy, kompleet met ‘n klomp foto’s.

Die boek handel primêr oor hul inwyding in die bos-kultuur. Dit is sekondêr ‘n kleinkind-storie – Oupa Hennie en Ouma Tokkie se inwyding in die oupa- en ouma-kultuur.

Die eerste keer toe Jacob en Thomas alleen saam met ons bos toe is, was hulle driejarige pokkeltjies in doeke. Hul kennismaking met Sabiepark saam met Mamma Marisa en Pappa Brent was reeds in 2005. Hulle was toe net 14 maande.

Op 18 Julie 2005 het Marisa namens die twee in die gasteboek geskryf: “Ons eerste vakansie in die bos. Dankie Oupa en Ouma vir al die nuwe ervarings en al die bederf. Die bos is nou in ons bloed. (Jammer oor al die breekgoed – hoop ons is volgende jaar ook welkom.)” Op 10 Januarie 2013 het Thomas in sy eie handskrif in die gasteboek Marisa se woorde ge-eggo: “Die bos is nou in ons bloed.”

“Kampvuurtjies, karnallies en k..k..karnivore” speel hom so plus-minus tussen Marisa en Thomas se inskrywings af, en eindig met Oupa se waarneming: “Oupa kan dankbaar rapporteer dat Jacob en Thomas ware bos-seuns geword het – borrelend lief vir die leefwyse, die diere, voëls en die plante (net nie vir die slange, skerpioene en die perdebye op die stoep nie!).”

Hoe geniet die twee nie daardie anderster lewe in die bos nie! Die stadslewe, Eskomkrag, televisie en winkels is lekker ver weg. Die amper 2 000 kilometer teerpad wat Kaapstad en Sabiepark skei, maak jou vry van roetine en ongebonde aan konvensie. Jy sal sommer onder ‘n buitestort rondspring terwyl ‘n sebratjie teenaan jou aan sy mamma drink, van die stoepmuurtjie af met ‘n boog in die veld piepie en met ‘n oop deur in die buitekamer op die troon sit,

Spesiale evarings sluit in om op ‘n snikhete somermiddag ná bobbejaan-moleste ‘n swembadjie skoon te skrop; om ‘n baba-kameelperd pote eerste by sy mamma te sien uitpeuel; om ‘n koedoe te betrap waar sy goedsmoeds pitjies uit die voëls se kosbak kom gaps ….

Die tweeling se genot aan Sabiepark is ook Oupa en Ouma se genot. Ons harte klop warm oor die waarde wat hulle daar tot ons lewens toevoeg. Elke bosvakansie neem die waarde toe. Die driemankap Jacob, Thomas, Sabiepark is ‘n wenkombinasie. Dit laat ons elke keer voel dat die ondermaanse selfs ‘n nog beter plek is om op te vertoef.

Ons het belowe ons vat hulle as verjaardaggeskenk vir minstens tien dae Sabiepark toe. Maar Oupa en Ouma sal geruime tyd geduldig moet wag … skool, rugby, swem, krieket, atletiek en nog wat kom natuurlik nou eerste. Die eerste kans is die eerste twee weke van 2015. Die vliegkaartjies is net hierdie week gekoop en betaal. Hulle het dit ook gister gekry saam met hul eksemplare van hul boek. (hvd)

TWEELING WORD 10

JacobenThomas1-001

JacobenThomas-001

More uit Melkbos

Kan dit amper nie glo nie – die klein, premature tweelinkie Jacob (met die bril) en Thomas (met die haasbekkie) Claassens vier Saterdag hul tiende verjaardag – twee yslike seuns wat op vele terreine uitblink, en Oupa se hart veral verbly met hul brandende liefde vir Sabiepark en die natuur. (hvd)

WATERS WAT VERBY IS

IMG_0001

More uit Melkbos

Margot Asquith (1864 – 1945) het op haar oudag gekla: “All I have to live on now is macaroni and memoral services.” Hopelik was dit ‘n oordrywing. Dit is gewis darem nie vir alle oumense waar nie.

Die “memoral services” is wel onvermydelik, maar word nes die “macaroni” op die spyskaart met ander bakendatums op die kalender afgewissel.

Bereik jy my jare, 73, is verjaardagvierings soos 70ste, 75ste en 80ste nogal volop. Goue bruilofte en selfs ‘n diamantbruilof hier en daar lewer ook gereeld ‘n uitnodigingskaartjie in die posbus op.

Van ‘n 63ste troudag-herdenking in my kenniskring het ek min ervaring. Ou Bloemfonteinse bure, Toy en Joha Vermeulen, is pas op ‘n drafstap – nou wel nie meer in die geval van Toy nie maar in die geval van Joha bepaald – by daardie baken verby.

Die foto hierby van die egpaar Vermeulen, nou van Atlantic Beach, Melkbos, is op 7 April 1951 op hul bruilof geneem. Toy, jong man van De Aar, is daardie dag 63 jaar gelede in die NGK Kroonstad-Noord met Joha Beckman van Koppies in die huwelik bevestig.

Die baken moet in hierdie ruimte vermeld word, nie net omdat die twee mede-Melkbossers is nie, maar ook omdat hulle in die jare 80 in Bloemfontein sulke uitnemende bure was. In droogtes het hulle selfs hul boorgat “uitgeleen” (met die tuinslang snags oor Kmdt. Senekalstraat gespan).

Toy het boonop altyd ‘n noodpakkie Rembrandt Van Rijns in sy boonste laai gereed gehou het vir ‘n skelm dampie. Tokkie het my meermale in ‘n minder plesierige bui uit Toy se studeerkamer kom haal. Om die een of ander rede had sy gewoonlik ‘n tabak-snuf in die neus as sy my oor die straat sien sluip.

Die wellewende Joha moes dan telkens die atmosfeer suiwer met ‘n koppie tee en ‘n stukkie melktert of so. Daardie gasvryheid het nie afgestomp nie. Jy stap nie uit hul huis sonder ‘n bottel top-port uit Calitzdorp se geweste in die hand nie. Joha daag gereeld by die voordeur op met ‘n mandjie appelkose uit dieselfde geweste.

Dankie, vriende.

Toy, wat onlangs sy 90ste verjaardg gevier het, was op vele terreine ‘n man van stoffasie. In die dekades 70′s en 80′s was hy ‘n sleutelman in die Vrystaatse Nasionale Party, eers as amptenaar, later as benoemde LV en senator. Hy KON kollekteer. Ek wonder hoeveel derduisende rande Bloemfontein se Grieke uit hul sakke geskud het as Toy namens die NP kom aanklop.

Kenmerkend van Toy en Joha is dat hulle nie hier vat en daar los nie. As hulle hul lojaliteit gegee het, is dit vir altyd. Soos aan volkspele. Dekades nadat hulle in Europa gaan tiekiedraai het, het hulle van daardie span baanbreker-Volkspelers die spilpunt gebly. Al draai hulle nie meer self tiekie nie (Joha sou wel kon!), klop hul harte steeds op die maat van “Afrikaners is plesierig” en “Jan Pierewiet”.

Geluk, Toy en Joha met die 63 kersies op die troukoek. Die viering van sulke gevorderde bakens op die lewenspad is spesiaal en heuglik, al stem dit tot ‘n bietjie hartseer omdat jy weet: Met die water wat verby is, sal die meule nooit weer maal nie.
(hvd)

KAMPIOENVEGTER

henniej

Hennie Jonker in vrolike luim.

More uit Melkbos

B0-aan die lys van dapperste boksers is die swaargewig Joe Frazier wat in die 70’s in twee gevegte deur Joe Foreman 12 keer platgeslaan is. Elke keer het hy orentgekom en voortgeveg. Hennie Jonker van Melkbos is op sy 77ste verjaardag met Frazier vergelyk.

In sy 77ste jaar was hy 12 keer in die hospitaal, o.m. vir groot rug- en nekoperasies. Hy ly ook aan ‘n chroniese bloedsiekte. In die jaar het hy 44 pinte bloed ontvang. Met tye kon hy skaars ‘n toon roer. Die kampioenvegter het hom nie laat uitklop nie. Met ‘n ysere wil, leeuemoed en vaste geloof het hy elke keer opgestaan.

Welmenende vriende – onder wie die uwe – wou Hennie in ‘n stadium oortuig dat hy moet skuif uit sy mooi woonstel met die treffende see-uitsig in Kusweg. “Ou vriend, jy sal nooit weer onafhanklik op jou eie kan woon nie.”

Hy het ons doemprofete met ‘n houtoog aangekyk. Vandag is hy ten volle onafhanklik – ry die wereld vol met sy splinternuwe Touareg. Hoe dankbaar is sy kleingelowige vriende nie dat ons kanniedoodmaat ons verkeerd bewys het!

In die hulde wat by ‘n intieme ete aan hom betuig is, het ek verwys na die talle boeke oor dapperheid wat biblioteke se rakke versier: Boeke oor helde wat sterk, vreesloos en vasberade in aardebewings, brande, orkane, ander storms dinge vermag het wat vir ander bomenslik lyk.

Hennie se storie is so spesiaal dat dit ook hoort in die bladsye van ‘n boek, soos Rudyard Kipling se “Captain Courageous” Hy is Melkbos se eie “Captain Courageous”. (hvd)

BLOGS OOR DIE QUEEN

Middag uit Melkbos

My 22ste en laaste blog oor ons vaart op die Queen Mary2 van Kaapstad na Sydney is gister hier geplaas. Die boek is toe, en ek wil dit nie weer oopmaak nie. Wees maar gerus.

Deel net graag die stukkie wat Paul Clarke van White Star, die QM2 se mense, vandag daaroor op hul webblad gesit het:

At White Star we’re used to compliments and – yes – complaints both of which we welcome and attempt to learn from. This is the first time, however, that I’ve known a passenger to take the time and trouble to blog an entire voyage – and in Afrikaans! Mr Hennie Van Deventer cruised on the Cape Town to Sydney sector of Queen Mary’s world cruise in February, and has been kind enough to send the links to us to publish on this site, for the benefit of Afrikaans-speaking passengers and (hopefully!) future passengers! Many thanks, Hennie we hope to see you on board again soon! www.hennievandeventer.com/hvdblog and http://blogs.litnet.co.za/hvandeventer (hvd)

KAALVOET DIE BERG OOR

koeala

As die son in Loempoer oor die vliegtuie loer …

Naand uit Melkbos

Ons moes kaalvoet deur sekuriteit, mor twee susters van Worcester toe ons op pad terug van Sydney notas vergelyk oor ons onderskeie beproewings aan die hand van lughawens se sekuriteitsmense.

My voormoedere is kaalvoet oor die Drakensberg, troef ek hulle. Die twee moet toegee dat kaalvoet oor die klippe, gedryf deur ‘n sterk vryheisdrang, veel veeleisender moet gewees as kaalvoet op die lughaweteëls weens die vermeende veiligheidsgevaar wat die gespes aan jou skoene verteenwoordig. Maar lughawesekuriteit is darem deesdae self ‘n berg voor ‘n mens.

Meen, ek was self in daardie stadium gestroop van gordel, horlosie en wat nog. In die boks van vir altyd verlore goedere was my snorskêrtjie wat in my toiletsakkie was (skoon vergeet uit agtelosigheid), my skeerskuim en ‘n waterbottel half gevul met uitstekende Calitzdorpse port. Daarvan is van tyd tot tyd in kajuit 6005 op die Queen Mary2 ‘n doppie geskink. Dit was ‘n geskenk van my vriend Toy Vermeulen van Melkbos.

Nou is my waterbottel met sy waardevolle inhoud verbeurd verklaar sonder ‘n gewilligheid om te verduidelik – ‘n lot wat my soutwaterspuitjie vir sinus ook net-net vryspring. ‘n Streng Australiese “sheila” met ‘n ligte snorretjie op die bolip was uiters ongelukkig oor so ‘n potensiële wapen van massaverdelging in die bagasie van ‘n hardekwas gryskop uit Suid-Afrika. ‘n Simpatieker manlike kollega moes uiteindelik ingryp (Gelukkig had ek ‘n “paspoort”vir my bioniese heup!)

Om vlieg ‘n nog pynliker ervaring te maak vir iemand wat pas op ‘n weeldskip tot in die aarde bederf is, skeduleer die lugrederye deesdae mos hul vlugte op die onmoontlikste tye. Op Kuala Lumpur het Maleysia Airways sy vrag vaak pasassiers in die Boeing 777 (presies dieselfde as die vermiste een) om 03:50 afgelaai. Ondanks waarskuwings tot die teendeel was elke stoel in die lughawesitkamer in daardie stadium deur die prostate liggaam van ‘n slapende passasier beset – ‘n aansienlike logistieke uitdaging vir ‘n nuwe aankomeling wat ambisie het om ook te dut.

Toe die rooidag breek (foto hierby) was die uwe bra uitgemergel. Die volgende versie (parodie op ‘n versie) het ek agterop my instapkaartjie vir vlug MH 0448 in my persoonlike soort snelskrif neergepen: As die son in Loempoer, oor die vliegtuie loer, begin slapende lywe in al wat stoel is, te roer ….

IMG_1849-001

Onheilige tyd.

Uit Dubai het ons Emiratesvlug net omgekeerd verloop. Dit het om presies 03:50 opgestyg. Vir wat? Moet sê hierdie ou was nogal verbysterd oor die bedrywigheid op daardie enorme lughawe daardie onheilige tyd. Slaap die Dubaiers dan nooit?

Operasie Omdraai het eintlik in Sydney al begin skeefloop toe die sogenaamde Air Bus ‘n kwartier laat by die Mercure Hotel langs Central Station opdaag. Om 17:00 in spitsverkeer voeter die bestuurder toe die malhuis binne waarin die besige George Street met die aanbreek van die naweek ontaard. Dit toet, swets, trommel met die vingers op die stuurwiel en druk paniekerig die knoppies op die selfoon, maar daar sit ons, vasgekeer agter ‘n ry busse wat nie ‘n duim roer nie.

Mettertyd blyk dit die stomme man agter die stuur moet nog by drie ander hotels passasiers oplaai. En die tyd stap aan. Die ou begin senuweetrekkings kry. Van die vroue op die bus kry op hul beurt senuweegiggels. Die Van Deventers wat net agter die bestuurder sit, word gevoer met ononderbroke kommentaar wat deur dun lippe uitgesis word, ryklik gespesery met die f-woord.

Uit selfoongesprekke lei ek af die bestuurder se naam is Nic. Hy kon waaragtig die ware ou Niek gewees het waarteen ons ouers ons jare her deurgaans gewaarsku het!

Toe ons uiteindelik aan die gang kom, swaai hy, in ‘n poging om te ontsnap, die bus en sleepwa by ‘n wandellaan in China Town in. Hy lê op die toeter. Ingehaakte Chinese paartjies los mekaar en skarrel in alle rigtings. Maar hy ry hom weer vas. En ons sit opnuut. Magteloos. Beweginkies wat daar is, is kort en rukkerig.

‘n Uur (eintlik darem net 55 minute) nadat ons by die Mercure weg is, doem die naam van ons hotel weer voor ons op. “Nou moet jy gat skoonmaak, vriend,” eis gespanne passasiers. Nic luister. Hy ry ‘n roete wat niemand seker nog ooit gery het nie, skuur rakelings verby ander voertuie en jaag een keer tot teenaan ‘n bus. Maar hy ry.

Net 17 minute ná die herbesoek aan die Mercure spoed hy die lughaweterrein binne. Seker ‘n rekord tot op dese, maar ‘n nagmerrierit as daar ooit een was. Toe’s daar ‘n ander neukery. ‘n Bagasietrollie kos vier dollars. Tokkie wat ons geldsake hanteer, moet eers die koffers los en ‘n trollie gaan aanskaf. Koffers word deur die gespanne Nic minagtend op die sypaadjie neergesmyt.

Toe die man wil ry – daar’s nog pasassiers wat vir ‘n ander terminaal bestem is – is ons koffer nommer vier nêrens. In hierdie oomblik van nood lyk al die koffers in die sleepwaentjie boonop vir my presies eenders. Die naam “Tokkie” is ongetwyfeld nog nooit met soveel dringendheid en rou emosie op Sydney se lughawe uitgekreet nie. Sy hanteer immers nie net die geldsake nie – ook die koffersake.

Gelukkig hoor sy in my stem dis ‘n krisis. Sy los eers die trollie en kom pluk die regte koffer uit die sleepwa. Dankie tog vir so ‘n staatmakervrou.

Maar vlieg? Daar is regtig aangenamer maniere om van punt A tot by punt B te kom. Soos om daarheen te vaar. Veral op die QM2 … (Slot).
(hvd)