REëNBOOGRENOSTERS

Renosters1-001

Renosters, renosters net waar jy kyk.

More uit Melkbos

Pas meer swartrenosters in twee dae in Sydney gesien as in al die jare in die Krugerwildtuin. Enkele verskille: Sydney se renosters staan op stadspleine. Hulle leef nie in die bos nie. Hul horings is niks werd nie. Hulle is ook nie swart nie maar alle kleure van die reënboog.

Ek en Tokkie was verwonderd oor hierdie renosters van letterlik en figuurlik ‘n ander kleur. By die eerste tien of wat het ons beurte gemaak om vir foto’s te poseer: Voor die Operagebou; met Sydney se beroemde hawebrug in die agtergrond; in die botaniese tuine; voor die stadhuis in George Street; by die skilderagtige Queen Victoriagebou met sy ritse deftige restaurante en boetiekwinkels, by die beroemde Manly Beach (waarheen ons per veerboot is).

Later het ons gehoor daar is iets soos 55 sulke renosters oor die stad heen versprei. Plus nog 70 kalwers van kleiner formaat. ‘n Onbegonne taak om by almal uit te kom en af te neem, al ry jy die ganse stad en omstreke in die rooi bus plat.

Die groter renosters is deur van Australië se bekendste kunstenaars versier: vrolik bont in ‘n wilde verskeidenheid van kleure en patrone – blokkies, strepe, driehoeke, blommetjies, sterre… Verbeeldings is werklik vrye teuels gegee. Die versiering van die kalwers is die werk van skole, van Wagga tot Wenona. Elkeen het alles in die stryd gewerp het om hul mededingers in oorspronklikheid en kreatiwiteit te troef.

Alles is deel van ‘n reuse-bewusmakingsprogram, gedryf deur daardie land se bekende Taronga Zoo in Dubbo, wat self met iets soos 15 renosters spog, swartes en wittes. Die veldtog word aan die uitwissing van renosters in hul natuurlike habitat soos in Suid-Afrika se wildtuine en natuurreservate gekoppel. Al die geld wat ingesamel word, is bestem vir die wêreldwye red-die-renoster-program.

Hierdie verbeeldingryke “renoster”-seisoen duur nog tot 28 April. Dan word ‘n reuse-veiling gehou.

manly-001

Raak aan ‘n renoster!

By Manly Beach het ek oor ‘n roomyshorinkie ‘n ma en haar dogtertjie dopgehou wat nadergestaan het na die kleurryke renoster aan die strandfront se kant toe. Die ma het die kind aangemoedig om aan die beeld te vat, wat sy aanvanklik bra sku, maar later met al hoe meer selfvertroue en vreugde op haar gesiggie gedoen het.

Taronga se idée om deur middel van die koppeling van die wildlewe en kuns die renosterboodskap ver buite sy eie grense aan mense van alle ouderdomme oor te dra, het in daardie geval uitstekend gewerk. Oordeel gerus self aan die foto wat ek byvoeg.

Die Australiërs is ons klaarbyklik een voor met hul red-die-renoster-kampanje. Ook nie net in Sydney en Nieu-Suid-Wallis nie.

IMG_0819-001

IMG_0820

Ry ‘n renoster in Melbourne.

Op ons laaste stop voor Sydney was ons ‘n dag lank in Melbourne, bekend as die “Parys van Australasië” Op die boomryke stad se karaktervolle stadsplein, Fed Square, het ons drie koperrenosters aangetref. Mense het tougestaan om by en op die diere afgeneem te word.

Die naam van die pragtige, lewensgetroue uitstalling is ‘Run for your Life’. Die beelde nooi die publiek om deel te word van renosters se stryd om vryheid en lewe. Hulle sou in Maart verwyder word – weet nie waarheen nie, maar wens iemand was so ondernemend om hulle na Suid-Afrika te bring. Sou ‘n aanwins wees vir die Kruger-wildtuin … of selfs die Kaapse Waterfront.

Trouens, moet ons nie maar die hele Australiese veldtog huitjie en muitjie oorneem nie? Die uwe weet die spreekwoord lui: “Imitation is the greatest form of flattery,” en op die sportveld vind hy dit maar swaar om die spelers van Doer Onder te bewonder of te vlei. Maar vir hierdie renosterpoging van daardie ietwat anderster nasie lig ek my hoed hoog in alle erkentlikheid terwyl ek “Waltzing Matilda” voor my rekenaar sit en neurie. (hvd)

TOE’S ALMAL DOOD …

Will&Ann

Die sanger Will Martin – boordjie kenmerkend losgeknoop.

More uit Melkbos

Oor Nieu-Seeland kan ‘n mens maklik die fout begaan om te dink die landjie produseer net rugbyspelers Dink egter aan Kiri te Kanawa, Edmund Hillary, Richard Hadlee – nee, geeneen het vir ‘n Super15-span uitgedraf nie.

Op die QM2 was ook ‘n bekende Kiwi – onbekend aan my persoonlik, maar ‘n sangsensasie in sy eie land en sy aangenome land, Brittanje, verneem ek. Sy naam is Will Martin en hy ryg die platinumplate in. Het darem ook ‘n rugbyverbintenis: Voor die eindstryd van die rugbywêreldbekertoernooi van 2011 het hy die Franse volkslied, “La Marseillaise” op Eden-Park in Auckland gesing.

Miskien is dit omdat hy, ondanks sy 29 jaar, so weerloos jonk lyk, dalk omdat hy inderdaad ‘n goeie “entertainer” is (hy speel ook klavier dat die klawers bons), maar op die QM2 het mense ná sy konsert in die Royal Court Theatre vir hom opgestaan. Veral vroue.

Oor sy musiek wil/kan ek my nie uitlaat nie. Sy tweede konsert op die skip het ek in elk geval liefs prysgegee vir ‘n aand op die dek met ‘n glasie wyn in die hand. Maar die jongman het so tussen sy liedjies met ‘n storie vorendag gekom wat ek graag hier oorvertel. Kan nie onthou dat ek dit iewers gelees het ná die groot aardbewing (7,1 op die Richterskaal) in Christchurch in 2011 nie.

Die sanger wat in 2007 na Londen verhuis het, was nog kort voor die aardbewing in die CTV-gebou (Canterbury TV) vir ‘n onderhoud. Hy is vroeg weg vir ‘n middagete-afspraak met ‘n oud-onderwyser en dié se 10-jarige dogter. Toe die aarde skeur, het daardie gebou in ‘n wolk van stof in duie gestort.

Altesaam 115 mense is in die enkele gebou dood – sowat die helfte van al die sterftes in die stad daardie dag. Al die mense wat by die Martin-onderhoud betrokke was, het omgekom: onderhoudvoerder, kameramanne, regisseur, die lot. “As ek in die gebou gebly het, was ek ook dood, het Martin die gehoor op die QM2 meegedeel. “My besluit om vroeg weg te glip vir my afspraak, het my lewe gered.”

Op daardie oomblik het die skraal kêreltjie met die amper skaam glimlag en die losgeknoopte boordjie nog broser gelyk. Die Australiese vrou in die stoel langs my, het met haar sakdoekie by haar oë gevroetel.

hastings
churchill

Churchill en Max Hastings.

Iemand wat ‘n mens nie eintlik met die woord broos vereenselwig nie, is die man met die growwe stem en sigaar, Winston Churchill. ‘n Storie oor die gevierde Britse staatsman wat vir my nuut en … wel … deerniswekkend was, het ek ook op die QM2 gehoor. Dit het uit die mond van sir Max Hastings, beroemde oud-redakteur en voorste Britse kenner van die Tweede Wêreldoorlog, gekom. Sir Max – ‘n regte langeraat wat graag wandelinge op dek 7 onderneem het – was een van die gassprekers op die sogenaamde “Cunard insights”-program op die skip. Churchill was een van sy onderwerpe. Sy boeke het soos soetkoek verkoop in die boekwinkeltjie langs die indrukwekkende biblioteek op dek 8.

Die lang Brit in die roomkleurige pak het boeiend vertel van die verpletterende Duitse bomaanvalle op Londen in die sogenaamde “Battle of Britain”, en Churchill se byna bomenslike pogings om sy land en die Britse weermag met sy moed en silwer tong gemotiveerd en gefokus te hou.

Maar Churchill was ook kwesbaar vir sentiment, aldus Hastings. Een middag op pad na die plattelandse premierswoning Chequers het ‘n lang tou mense sy oog gevang. Hy het die bestuurder van sy ampsmotor opdrag gegee om stil te hou. Hy stuur toe een van sy veiligheidsmanne om te gaan vra waarvoor hulle tou staan.

Die antwoord was: Hulle hoop om voëlsaad vir hul troetelvoëltjies te koop. Toe die groot man dit hoor, het hy gehuil.

mof

Mof Myburgh

Wat my byna bewoë gehad het, was oud-Springbok H.O. de Villiers se herinneringe aan legendes soos Frik du Preez en Mof Myburgh – ook as deel van die “Cunard insights”-program. Swaar om te sluk, was dat die beroemde Springbokstut in armoede oorlede is in ‘n houthuis in die agterplaas van een van sy kinders.

Dit, terwyl vandag se rugbyspelers, al is hulle nie juis vreeslik waffers nie, nie die einde van hul skatte ken nie. Die ou lewe kan soms wreed wees.

KAAL MAN OP STROOIBED

jackies

Jackie Stewart op die QM2. Hy teken die video oor die Monaco Grand Prix van 1971 en die mense staan tou.

Naand uit Melkbos

Bedink die verbasing (skrik) van ‘n groep Belgiese nonne oor hul onverwagse konfrontasie met ‘n poelkaal jong man op die naat van sy rug op ‘n bed van strooi in ‘n plaasvragmotor.

Wat staan ‘n ordentlike non in so ‘n onbehoorlike krisis te doen? So vinnig as moontlik die man se skaamte bedek, natuurlik. Wat hulle terstond en deeglik gedoen het. Toe stap ‘n ander man in – een met so ‘n weglêsnor – en trek die prostate figuur se klere dadelik weer alles uit.

Die kaal man was sir Jackie Stewart, vermaarde Skotse Formule 1-kampioen, bekend as “The Flying Scot”. Die ander man in die verhaal is sy medejaer Graham Hill – vir wie dit, volgens die spitsvondige Stewart, nie ongewoon was om iemand anders se klere uit te trek nie, egter nie ‘n ander man s’n nie.

Rede vir die klere-episode was ‘n ongeluk in die rampspoedige Belgiese Grand Prix van 1966 – ‘n storie wat ek uit my hoofsubdae by Die Volksblad goed onthou. Dit was groot nuus. Stewart en ‘n rits ander jaers het in ‘n geweldige reënstorm van die baan gejaag. Die Skot se BRM P261 het eers ‘n telefoonpaal getref, toe ‘n boskapper se hut. Dit was, in sy woorde, “opgevou soos ‘n piesang”.

Stewart is 25 minute lank in ‘n dam hoogs ontvlambare vliegtuigbrandstof in die wrak vasgekeer. Hill en nog ‘n renjaer wat kort na Stewart ook van die baan getol het, Bob Bondurant, het hul makker te hulp gesnel. Hill het hom nog die kwinkslag veroorloof: “You look very second hand”.

Daarna het hy en Bondurant met die gereedskapstel van ‘n toeskouer aan die werk gespring. Hulle het koorsagtig gewerk om die klein Skot te bevry terwyl die groeiende plas brandstof rondom hulle enige oomblik in ‘n vuurbal kon ontplof. In die 25 minute wat die operasie geduur het, het geen wedstrydbeampte gesig gewys nie!
Sy redders het Stewart na ‘n plaas gedra en op ‘n bed van strooi gemaklik gemaak. Op versoek van Stewart het Hill sy deurweekte renpak verwyder. Die kragpetrol het sy vel gebrand en was buitendien ‘n yslike risiko. Maar hoe moes die stomme nonne dié detail nou weet?

Selfs toe was die arme Stewart se beproewing nie oor nie. Hy is versigtig in ‘n ou ambulans gelaai wat hom na ‘n plek geneem het wat as mediese sentrum moes deurgaan. Hy is daar op ‘n seil-drabedjie gelaat. “Daar was geen dokter nie. Ek is op die kateltjie gelaat, op die vloer, omring van sigaretstompies. Dit was ver van skoon.”

Uiteindelik is hy in ‘n ander ambulans gelaai wat met loeiende sirenes en ‘n polisie-eskort die pad gevat het na die hospitaal in Liege. Op pad het die eskort en die ambulans geskei geraak. Toe verdwaal die ambulans. Die bestuurder het nie die pad geken nie.
Eind goed alles goed. Jackie Stewart (nou amper 75) het heelhuids uit die ongeluk gekom. Hy was een van die eminente sprekers in Cunard se verrykingsprogram Cunard Insights op die Queen Mary 2 op ons vaart na Sydney. Selfs die uwe wat geen Formule 1-entoesias is nie, het in ‘n volgepakte Royal Court Theatre aan sy lippe gehang. Later het ek gretig ‘n vertoning van Roman Polanski se dokudrama Weekend of a Champion in die Illuminationsteater gaan bywoon. Ook daar was geen sitplek leeg nie.

WEEKENDCHAMPION-articleLarge

Stewart en Polanski in 1971.

Die film dek vier dae in Mei 1971 toe Polanski sy vriend, wat in daardie stadium die eerste keer wêreldkampioen was, na Monaco vergesel het vir die 29ste Monaco Grand Prix. Die rolprent wys hoe ‘n jong Stewart vol selfvertroue en met lang swart luislere sy renmotor as’t ware ratverwisseling vir ratwisseling deur die uitdagende roete in Monaco vat.

Aan die einde sit die twee vriende en gesels in dieselfde weelderige hotelsuite waar Stewart vier dekades gelede tuisgegaan het. Hulle gesels oor die opwindende dae wat verby is, Stewart se stryd teen sy erge disleksie toe hy ‘n kind was – asook sy onvermoeide kampanje om veiligheid op renbane te bevorder. Van die skouspelagtigste ongelukke op die renbaan word vertoon: motors wat deur die lug tol, wat aan flarde spat, wat in vlamme uitbars.
“In die 1970s was motorrenne gevaarlik en seks veilig,” sê sir Jackie met ‘n stout glimlag. Mnr. Polanski kan nie anders as om nadenkend saam te stem nie.

Stewart se kampanje vir groter veiligheid in motorsport spruit grotendeels uit daardie 1966-ongeluk toe Graham Hill en Bob Bobdurant hom gered het. Danksy sy energieke pogings is motorrenne dalk nie meer heeltemal so gevaarlik soos destyds nie. Altans, so glo hierdie leek nadat hy die voorreg gehad het om sir Jackie Stewart se stimulerende voordrag op die QM2 aan te hoor.
(hvd)

A LA FRANK SINATRA

Frank-Sinatra-007

Frank Sinatra: Vive la difference!

More uit Melkbos

Frank Sinatra se bekende My Way, deesdae nogal gewild as ‘n huldigingslied by begrafnisse, bevind hom in interessante Afrikaanse geselskap. Soos Sarie Marais en Ou Ryperd (en verskeie ander ingevoerde Afrikaanse liedjies) het My Way ‘n ietwat verrassende oorsprong.

Sarie Marais, deur baie geag as so tradisioneel Suid-Afrikaans soos die koeksister, dra natuurlik die stempel “Made in USA”. In Amerika was dit in die jare her bekend as Elly Rhee. Ditto Ou Ryperd. Chris Blignaut se immergroen liedjie (deur Dozi nuwe lewe ingeblaas) het onlangs sy plek tot in die 25 boonstes van die “Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye” oopgalop. Dit is, helaas, niks anders nie as ’n vrye vertaling/interpretasie van Old Faithful.

Gene Autrey, daardie gawe cowboy van die jare 40 – toe ek self nog ’n aspirant-cowboytjie in Kimberley was – het sy getroue ryperd so besing as hy by sy vuurtjie in die Amerikaanse Wilde Weste kitaar sit en tokkel. “Old Faithful, we roam the range together . . .”

My Way is op sy beurt g’n niks Amerikaans nie. Die Kanadese sanger/komponis Paul Anka het die melodie in Frankryk gaan “gaps” en die lirieke vir Frank Sinatra herskryf. Ole Blue Eyes het daarvan ‘n internasionale treffer gemaak. Maar wie het al ooit van Comme D’habitude gehoor wat in 1967 deur Claude François and Jacques Revaux gekomponeer is?

Die lirieke van My Way vertel die storie van ‘n man wat op gevorderde jare terugkyk op sy lewe terwyl die dood nader kom. Hy is gemaklik met sy sterflikheid en aanvaar verantwoordelikheid vir hoe hy al die uitdagings van die lewe gehanteer het. Vir baie mense slaan ‘n taamlik klankie van eiewaan en arrogansie in die woorde deur:

And now, the end is near
And so I face the final curtain
My friend, I’ll say it clear
I’ll state my case, of which I’m certain
I’ve lived a life that’s full
I traveled each and ev’ry highway
And more, much more than this, I did it my way

Paul Anka, by my generasie bekend as die sanger van die trefferliedjie Diana, is klaarblyklik ook iemand wat dinge op sy eie manier gedoen het. Luister mooi as jy weer Diana hoor:

I’m so young and you’re so old
This, my darling, I’ve been told
I don’t care just what they say
‘Cause forever I will pray
You and I will be as free
As the birds up in the trees
Oh, please stay by me, Diana.

Klaarblyklik geen konvensionele verhouding hierdie nie. G’n wonder dat die mense geskinder het nie.

Frank Sinatra is nie juis een van my gunstelinge nie. Het geen diepgaande studie oor hom gedoen nie. Waar ek dan aan my slimmigheid oor hom kom? Het graag by die Illuminations-teater op die QM2 na die program “Cunard insights” gaan luister. Een van die boeiende sprekers was die musiek-historikus Chris Walker, wat lekker oor grotes soos Irving Berlin, Gershwin en Sinatra se lewe en werk vertel het. Die onthullinkie oor My Way kom van hom. Vir vele in die gehoor was dit ietwat van ‘n ontnugtering. (hvd)

KONINGIN IN ‘N KROT

sydney2-001

Sydney se hawe – ‘n juweel.

More uit Melkbos

Presies hoe ontoeganklik, ontoereikend en onaansienlik Suid-Afrikaanse hawegeriewe vir groot passasierskepe is, besef ‘n mens met skaamte as die vorstelike Queen Mary 2 die indrukwekkende Australiese seepoorte binnevaar.

So het ek op 28 Februarie onder die skuilnaam “Kajuit 6005″ in Die Burger geskryf. Vandag wil ek hier op daardie briefie voortborduur, en sommer ‘n foto’tjie of drie bysit van Sydney se skitterende Circular Quay, die eindpunt van ons vaart met die QM2. Die foto’s van die juweel wys dat die uwe nie oordryf nie. Kan iemand nog twyfel waarom Sydney die etiket van die mooiste hawe op die ganse aardbol dra?

Teenoor die skilderagtige Circular Quay, onder die wakende oë van die Sydney-brug en –operahuis, is die Kaapse en Durbanse hawens, om dit brutaal te stel, maar taamlik agterlik. Fremantle/Perth en Melbourne, waar die skip op pad na Sydney aangedoen het, spog self met netjiese hawens, elk met ‘n bekoring van sy eie. (Oor Brisbane, Adelaide en Cairnskan ek my nie uitlaat nie weens ‘n gebrek aan kennis.) :

Maar Durban en Kaapstad: Op op die seeroete van die Kaap na Sydney is die twee, helaas, verreweg die lelikste hawens. Selfs teen die eilandstaatjie Mauritius se hawe,steek die twee maar jammerlik af. Daardie hawe is .’n hanetree van die oulike waterfront Le Caudan. Die twee vorm ‘n eenheid.

Kaapstad het darem nog die ikoniese Tafelberg wat die impak van die goor hawegeriewe op besoekers (hopelik) ietwat versag. Durban het net die belofte van sy goue strande –en hulle is ‘n busrit deur die erg vervalle Puntgebied ver.

sydney1-001

‘n Hawe aan die voet van ‘n indrukwekkende brug.

Voorkoms is nie al wat ‘n Suid-Afrikaner op daardie vaart taamlik verleë gestem het nie. In doeltreffendheid is ons agterstand by die eerste wêreld waarskynlik nog groter. Jou ore brand behoorlik as jy medepassasiers hoor wrewel uitstort oor die pynlike gesukkel om in Kaapstad aan boord te kom. ’n Britse egpaar wat hulle hier by die skip aangesluit het, Michael en Christine (van onbekend), het die dolk diep ingedruk: As hulle geweet het watter marteling hier op hulle wag, sou hulle liefs in Engeland gebly het.

Dis nie iets wat ‘n trotse Suid-Afrikaner graag hoor nie. Woorde om te paai, kon ek ook nie juis vind nie. Omdat op die hawe geen ordentlike geriewe bestaan nie, moes die twee, soos al ons ander aansluitende passasiers, ure in die armsalige Goeie Hoopsentrum sit en wag. Daarna is ons in busse – nie almal juis van goeie gehalte nie – op smal, ruwe paadjies en oor treinspore en plasse water die hawe binnegeskommel. Die skip in al sy glorie was doer eenkant by die goedereloods vasgemeer, op ‘n verlate stukkie kaai plek waar geen taxi naby kan kom nie. Die eensame skip lyk so ontuis soos ‘n koningin in ‘n krot.

Selfs groter verleentheid het gewag. Die waardige kaptein Kevin Oprey het by sy verwelkomingsparty die roede nie gespaar nie. Die passasiers isdubbel en dwars om verskoning gevra vir die ongerief – sommer ook oor die Suid-Afrikaanse doeanemense wat die oggend in Durban ‘n uur laat opgedaag en die toue gefrustreerde passasiers wat wag om aan wal te gaan, tot wie weet waar laat opdam het.

Met ‘n wrang glimlaggie het kaptein Oprey twee ander ongemaklike bloosbrokkies laat val:

sydney3-001

Dag en nag ‘n prentjie.

In die Kaap wou die piloot niks weet dat die skip in die digte mis die hawe verlaat nie. Die onwrikbare man moes met moeite oortuig word die Cunard-vlagskip se instrumente is gesofistikeerd genoeg! In Durban weer, moes ‘n sleepboot opsluit die Queen van die kaai wegsleep – wat totaal onnodig is. Toe, om alles te kroon, sleep hy die skip in die verkeerde rigting!

‘n Paar aanbevelings:

Dat ons doeanemense tog maar gaan kyk wat doen die Australiërs, wat sommer in Mauritius al twee netjiese amptenare in wit uniforms op die skip geplaas het om al die papierwerk lank voor die aankoms in Fremantle rustig af te handel;

Dat watter owerheid ook al die verantwoordelikheid dra, tog maar kennis neem hoe dringend nodig ‘n opgradering van die passasiersgeriewe in Kaapstad en in Durban is; dalk ‘n lekker uitdaging vir verbeeldingryke ontwerpers in hierdie groot jaar vir Kaapstad as Ontwerperhoofstad;

Dat Kaapstad se stadsvaders asseblief oorweeg om die Queen met ‘n muurplaket of iets die erkenning te gee wat ‘n besoeker van daardie status verdien, en al van sovele ander hawestede ontvang het:: Van Acapulco in Meksiko tot Stavanger in Noorweë – selfs van Port Elizabeth. Die skip en sy passasiers bestee nogal heelwat in die Moederstad.

‘n Slotgedagte: ‘n Tweede Sydney kan die Kaap (Durban nog minder) nooit word nie. Laat ons realisties wees. Maar om ten minste met die kleine Mauritius te kan meeding, is darem seker nie ‘n onhaalbare teiken nie. Of is dit?

Naskrif: Om sout in ‘n Suid-Afrikaner se wonde te vryf, het die swakheid van die rand vir verdere verleentheid gesorg. Gee nou ‘n respektabele dollar-fooitjie vir iemand vir 22 dae se pamperlang as jy meer as R1000 vir ‘n skamele 100 dollar moet uithaal!
(hvd)

REK JOU RANDJIES

duur plesier-001

Vermy o.m. – a la carte-etetjies in die Todd English-restaurant, ‘n sigaartjie in Churchills, ‘n glasie sjampanje in die Veuve Clicqout-sitkamer en ‘n ruikertjie vir jou kajuit.

Naand uit Melkbos

Duiselingwekkende derduisende dollars. Dit moet die opgehoopte aan-boord-rekenings beloop van passasiers op die QM2 wat lag-lag kan betaal, of nie eintlik kan nie, maar tog hul oë toeknyp en hul kaarte aanbied vir alles wat die hart begeer.

‘n Groot bedreiging vir die debiet is daardie skemerdrankie, wyntjie of biertjie. ‘n Margarita jag jou $8.25 uit die sak; meer eksotiese skemerdrankies soos een van die “Cunard favourites” maklik $9,95. ‘n “Champagne cocktail” ruk jou $15,95. ‘n Bottel wyn aan tafel begin op tussen $40 en $50. Kurkgeld beloop $20. ‘n Wynpakket (ses bottels) kos van $249 af op.

Vir ‘n “afternoon tea” plus sjampanje is die “beginprys” $30. Vir ‘n gewone wynproe (Rhebokskloof) word ‘n “nominale” tariefie van $40 gehef. Sommer ‘n gewone bier (Budweiser of Becks) kos al klaar $5,50. Onthou, jy moet by alles “diensgeld” van 15% voeg, en dan boonop alles met 10 vermenigvuldig as jy in rand dink, soos ekke.

Spaarsamiger mense benut die “World Voyage Promotion” om drank vir een dag belastingvry te koop – maar asseblief tog vir “consumption in your stateroom only”. ‘n Liter Glenfiddich kos jou dan $65 en ‘n liter jenewer, voda of rum tussen $35 en $50. Jy kry ses blikkies soda op die koop toe. Die aanbod is opgeraap. Mense het tougestaan.

Nie net drank kan ‘n onversigtige man ‘n fortuin kos nie. Veronderstel jy is van die sentimentele soort. Jy wil darem graag ‘n paar van die mooi foto’s aanskaf wat die skip se knap beroepsfotograwe op elke moontlike oomblik en plek van jou neem. Maak jou klaar om vir ‘n pakkie van ses $149,95 op te dok. Wat van ‘n “unlimited package”? Glo ‘n winskoop teen $399,95!

‘n DVD van die vaart word sterk bemark, selfs op die TV-skerm in jou kajuit. Dalk verskyn jou gesig vlugtig iewers daarop. Dit kos SLEGS $34,95 elk.

Oor die roospryse op Valentynsdag het ek reeds verslag gedoen ($65 ‘n dosyn). Selfs ‘n onromantiese ding soos ‘n sak wasgoed vat aan jou sak. As ‘n “special offer” op sekere dae, let wel, kos 30 stukke of minder jou steeds ‘n koele $40.

As jy ingaan vir ekstra “bederfies” soos aromaterapie, masserings en “facials”, sal jy by die baie mooi Canyon Ranch Spa tussen $149 en $161 moet uithaal. Ek moet toegee: Die plek ruik hemels. Ons het elke dag ‘n keer of twee daarlangs gestap.

Nog ‘n bederfie is om by die uiters deftige Todd English Supper Club a la carte te gaan eet of, as die gier jou pak, saans aan te sit met spesialis-spyskaarte gedempte lig, mooi tafeldoekies en kelners wat anders uitgevat is, in gesellige hoekies van die Chef’s Galley – wat teen ‘n prys – vir die kieskeuriges afgeskort word.

Jy hoef jou egter nie brandarm te kuier op die QM2 nie. Vir die gewone vaartrpys word jy klaar soos ‘n vorstelike bederf. Vermy dus onnodige buitensporighede. Moenie betaal vir iets wat jy verniet kan kry nie, is my leuse. Moet ook nie deur jou nek betaal vir iets wat goedkoper bekom kan word nie.

duur plesier1-001

Bring-‘n-botteltjie

Cunard se drankbeleid is minder rigied as dié van ander rederye. Ons het die “venster van geleentheid” benut om ‘n ietsie in ons koffers saam te vat. Toe koop ek ‘n sogenaamde “soda package” teen $6,50 ‘n dag. (Jy kry allerlei pakkette, o.m. ‘n koffiepakket as die gewone aanbod nie in jou smaak val nie.) Die sodapakket behels onbeperkte gaskoeldranke uit die spuit (Pepsi, tonic, lemonade en sodawater), asook vrugtesappe soos lemoen, pynappel, tamatie, pomelo, bosbessie en appel.

Elke aand voor ete het ek in een van die mooi sitkamers net my sodaplakkertjie vir die kelner gewys. Weldra was ‘n lang glas van die een of ander uit die spuit voor my op die tafeltjie. TvD het diskreet die versterkinkie bygevoeg. Aan etenstafel het ek my gratis glas tonic by die vroulike Spaanse sommelier bestel. Geen haan het daarna gekraai nie.

Verder neem ‘n mens (verstandige mens, suinige mens – besluit maar self) jou eie foto’s, was jou eie wasgoed, eet net in die gewone restaurants van die gewone spyskaarte af (dit bied in elk geval ‘n verbysterende keuse) en geniet jy die skitterende “afternoon tea” (sonder sjampanje) wat elke middag in die Queens Room gratis en verniet aangebied word.

Jy aanvaar summier die uitnodiging na die kaptein se verwelkoming en elke uitnodiging na ‘n kunsuitstallings of –veiling in die pragtige Clarendongalery – die grootste ter see. Gratis sjampanje is by sulke okkasies nie skaars nie.

Die skip se ekskursies is berug duur – wissel tussen $60 en amper $200, en dis vir een mens. Maar om jou eie te reël, verg werklik nie veel nie. As die sogenaamde “destination”-spreker jou klaar oor ‘n stad ingelig het, weet jy immers haarfyn watter nommer bus jy by watter staanplek vir watter roete moet neem. Die rooibustoere (“hop on – hop off”) bied oral goeie waarde vir geld. Selfs ‘n taxi en ‘n persoonlike roete kos minder as ‘n georganiseerde toertjie.

Slotsom: Mense wat op die QM2 wil gaan vaar en groot skade aan hul bankrekenings wil vermy, moet maar met my en Tokkie kom gesels. Ons beskou onsself, heel onbeskeie, as buitengewoon deskundig aan die geld-spaar-front sonder om ons op enige wyse te kort te doen. (hvd)