DROOMVAART OP DROOMSKIP

IMG_0591

IMG_0592-001

In die Brittania. Tokkie en Michael; hvd en sy oogappel Marzena.

Voor my op die skerm is 1 500 foto’s van ons 22 dae in kajuit 6005 van die Queen Mary 2. In die oorweldigende fotomateriaal is die storie vasgevang van ‘n droomvaart en ‘n droomskip waaroor hierdie trotse nuwe lid van die Cunard World Club net in die oortreffende trap kan skryf.

Die manjifieke QM2 is onteenseglik die grootste, mooiste, hoogste, swaarste, duurste, weelderigste, stylvolste, indrukwekkendste skip wat nog die oseane van onse aarde bevaar het. Die statistieke is verstommend. Ek sal my daarvan weerhou om opgewarmde kos op te dis. Net dat die QM2 die legendariese QE2 twee keer sou kon insluk, sê genoeg.

Wat hierdie Queen laat uittroon, is buitendien ‘n dimensie wat nie in syferterme gemeet kan word nie. Sy impak is nie die asemrowende (en verrassend stabiele) struktuur nie, maar veel meer die versamelde vreugdes van die passasier se ervaring; al die ontdekkings, die ryke herinneringe wat, soos in my eie geval, in 1 500 foto’s saamgesnoer is.

Toe ons in Kaapstad by die smaakvolle kajuit instap – ‘n “stateroom” noem die Cunard-mense die skip se knusse nessies tereg – wag ‘n botteltjie Franse sjampanje (Pol Acker se Blanc de blanc brut) op ys en ‘n hartlike welkomkaartjie van kaptein Kevin Oprey op ons.

Die kaartjie deel mee dat jy ná die vaart vir lidmaatskap van die “World Club” en allerlei gepaardgaande voordele kwalifiseer. Kaptein Oprey sluit af: “We look forward to providing you with happy memories that wil last a lifetime.”

’n Duisend dankies, kaptein Oprey – “thanks for the memories”, soos julle Engelse sou sê. Hoe lank die “lifetime” nog gaan wees, weet hierdie 73-jarige nie. Dat die herinneringe sal voortleef – daaroor bestaan geen twyfel nie.

Nie ‘n vakansie nie maar ‘n lewenservaring, noem Tokkie ons vaart. ‘n Lewenservaring was dit inderdaad vir die twee Van Deventers in hul herfsjare.

Ons was in vele opsigte gelukkig. Kajuit 6005 is een van die mees beskeie op die weeldeskip. Die gangetjie waarin dit geleë is, is een van die kortstes, met net 30 kajuite. Baie “eksklusief” voel dit. In die gange van ander slaapkwartiere strek tot 250 ingerygde deure eindeloos voor ‘n mens uit.

’n Paar trappies vat jou op na dek sewe met sy oop ruimtes en ‘n verskeidenheid eet-, speel- en kuierplekke wat net tusen 02:00 (middernaghappie) en 04:00 (kontinentale ontbyt) tot rus kom. Die sogenaamde “Winter Garden” met sy tjirpende voeltjies was een van ons gunstelinge vir ‘n rustige wyntjie.

Drie hysbakke bring jou in ‘n japtrap na die gewilde binneshuise Pavillion-swembad, die reuse-biblioteek met sy glimmende houtrakke, die deftige Commodore-sitkamer waar jy ver oor die see kan tuur terwyl jy aan jou skemerdrankie teug, die Churchill-sigaarkamer met sy ryk Havanas-reuk en die moderne gimnasium met elke denkbare oefenmasjien. Ongelukkig net een keer vinnig by laasgenoemde ingeloer om op die skaal te klim en ’n foto te neem!

Van dek sewe af vat ‘n sogenaamde “scenic elevator” jou vinnig tot by die observasiedek langs die brug op dek elf. Die Van Deventers noem dit “ons” hysbak. Ons is telkens in die glaskas alleen op en af. Min van die ander 2 600 passasiers het die panoramiese uitsig van daar af skynbaar ontdek of daaraan erg gehad.

Enkele dekke na benede is die Royal Court-teater met sy 1094 sitplekke waar sangers, musikante, dansers, akrobate, towenaars, komediante en wat nog saans glansprogramme aanbied wat met Broadway en Londen se Westend kan meeding. Ook die Illuminations-teater (483 sitplekke) wat die enigste drywende planetarium huisves. Hier kan jy in sagte stoele op jou rug na sterre en planete teen die koepeldak tuur, of uit die daaglikse keur van flieks en wetenswaardige lesings deur top-sprekers jou dagprogram verryk. In dieselfde omgewing is die rekenaarsentrum waar jy per satelliet op die hoogte van jou e-posse kan bly – teen ‘n prys!

Nog ‘n bonus van dek ses: die wellewende Fillipyn Philip wat gedurig kraakvars handdoeke en waslappies (eksklusief vir Cunard vervaardig uit Egiptiese katoen) aandra, en die badkamertjie netjies hou. Elke aand vou hy die koningsgrote bed se lakens sorgsaam oop. Slaaptyd-sjokoladetjies word saam met die daaglikse skeepskoerantjie op die sagte kussings neergesit. Toe die uwe se sinuskanale in ‘n stadium dreig om verstop te raak, had ‘n besorgde Philip vaderlike raad om die olikheid te verdryf: Gaan eet ‘n stewige ontbyt. Dit gee krag. Ek het sy raad met goeie gevolge ter harte geneem.

Tafel 114 in die magistrale tweevlakkige Brittania-eetkamer (1 200 sitplekke) is op die onderste vlak teenaan ‘n groot patryspoort. Dwarsdeur jou viergang-maal (eerste sessie) is jy intens bewus van die namiddag-see se deinings hier vlak by jou. Die kelner is die ervare Michael Vitug, ook ‘n Fillipyn. As die Queen Mary ‘n knapper kelner het, sou ek graag wou kennis maak. Soos Michael hierdie “monsieur” en “mademoiselle Vên Dievender” bederf het (altyd ‘n dubbele porsie vleis of vis, ‘n bakkie roomys saam met die nagereg en ‘n ekstra porsie aarbeie) is om oor huis toe te skryf. Een aand wou ons oorversadig uitglip sonder ons “petit fours”. Michael het vinnig agternagedraf … A nee a!

Michael word ter syde gestaan deur die liewe Poolse nooi Marzena Wojtowicz van Krakow – dromerig, vol verlange na haar romantiese tuisdorp met sy heerlike koolfrikkadelle en gretig om ‘n paar Afrikaanse woordjies te leer. Meer om die halsbandjie as die hondjie, soos ek later sou agterkom. Maar dankie”, Marzena; jy het ons etes in die Brittania met vroulike fynheid afgerond.

Ons was gelukkig om Valentynsdag aan boord te vier – met derduisende vars rooi rose uit Perth se kontrei; en ook die hartseer-skoonheid te geniet van ‘n jong strykkwartet uit Kiëf wat moedig die musiek van Mozart, Pucinni en Lehar in die sitkamerrs laat opklink terwyl hul gewonde stad smeul.

Ons was gelukkig om juis Jackie Stewart, Formule Een-kampioen, as een van ‘n hand vol glanspersoonlikhede aand boord te hê. Die Royal Court-teater (1 094 sitplekke) raak gou propvol as die klein Skotse meester jou agter die skerms neem dat die reuk van resiesbande eintlik in die lug hang!

Hoe spesiaal was alles nie vir die twee Melkbossers nie! Waar om te begin en waar om op te hou, weet hierdie blogskrywer in hierdie stadium nie. Kom ons kyk maar hoe die gees ons die volgende weke lei.