‘SKUUS VIR DIE WALS

brittania-001

Deftig en formeel uitgevat vir ‘n swierige bal later, geniet Queen Mary 2-passasiers aandete in die manjifieke tweeverdieping-restaurant die Brittania.

Middag uit Melkbos

Natuurlik gaan ek en Tokkie ook ‘n walsie waag – indien nie vroeër nie, gewis die aand van die Valentynsbal wanneer elkeen ‘n ietsie rooi moet dra en die Weense walsmusiek (asook die rumba, die dans van die liefde) oor die dek van die Queen Mary 2 gaan weerklink.

Dit sal die uwe se eerste wals wees sedert Marisa se huwelik op 31 Desember 2000. Pa en dogter het op die maat van Eddie Calvert se O mein pappa “grasieus” oor die vloer gegly by Oude Libertas op Stellenbosch. Eers later het ek gehoor O mein pappa is geen wals nie!

Die Valentynsbal is een van die sewe formele aande van ons 22 ter see; party met temas soos die swart-en-wit-bal, die Afrikabal en die “roaring twenties”-bal. Vir formele aande bestaan uitvoerige klerevooorskrifte.

Vir mans word tuxedo’s aanbeveel, vir vroue aanddrag. Mans kan selfs aanddrag op die skip huur om hulle behoorlik uit te vat. ‘n Swart tuxedo jaag jou ‘n koele $90 aand uit die sak – amper R1 000 teen die huidige wisselkoers,. Elke kledingstukkie het sy prys. Die goedkoopste is ‘n sakdoek teen $5 en ‘n strikdas teen $6,95. Ek sal die huuropsie liefs laat verbygaan.

My ou swart dubbelbors-pak en fluweelstrikdas uit ‘n vorige era is voldoende, meen ek.

Saam met die voorskrifte vir die swart-en-wit-bal kom ‘n waarskuwing: Jy kan ‘n rooi rok aantrek as jy wil, maar jy gaan uit voel!

Vir die Afrika-bal word flambojante Madibahemde en batik-rokke “ïn an African spirit” aanbeveel. Ek krap in my kas en kry ‘n rooi das met landsvlaggies oweral. Tokkie diep vir my ‘n kleurryke lapelwapen in die vorm van Afrika uit. Dit sal die ding moet doen.

Vir die “roaring twenties” word ‘n dubbelborspak met fyn strepies aanbeveel. Myne het nie strepies nie, maar toemaar. Vir vroue is die aanbeveling die beroemde “flapper-voorkoms” van die 20′s toe vroue die juk afgewerp en waarlik uitdagend na vore begin kom het, ook in hul manier van aantrek. Vere is deel van die “flapper”-voorkoms. Ha, TvD besit gelukkig ‘n rooi volstruisveer-boa wat moet koffer toe.

Van ons vriende frons oor die vreeslike ge-aantrekkery op vakansie. Op Cunard se webwerf lees ek egter dinge verloop deesdae minder formeel as tevore. Voorheen was daar meer formele aande per week. Die afskaling tot twee het nie oral goed afgegaan nie. Tradisionaliste het geglo dis ‘n toegewing aan wat Paula van der Leck van 7de Laan “banale voorstedelikheid” sal noem.

Moet sê: Vir my lyk dit deel van die kultuur en die sjarme van ‘n lewenservaring op ‘n skip met styl en tradisie. Ek onderwerp my gewilliglik – so ver my klerekas kan bykom. Tot siens vir eers, ons moet gaan inpak. Dinsdag vaar ons. Gesels weer einde Februarie. (hvd)

KOPKRAP OOR KLERE

webcam

Middag uit Melkbos

Vir diegene wat dalk wil weet: Die VanD’s se skip, die RMS Queen Mary 2, is op die eerste skof van sy wêreldvaart van 119 dae. die skof van Southampton na Kaapstad, op die oomblik van skrywe tot op die komma presies 2 346.27 km van Walvisbaai af. Santa Cruz, Tenerife, lê 2,719.28 km agter.

Die weer lyk eersteklas te oordeel aan die webcam-foto hierbo.

Dis nog ‘n week voor die skip Kaapstad binnevaar en agt dae voordat ons met koffertjies en al in Tafelbaai gaan opdaag op soek na ons kajuit vir ons vaart na Sydney (Cunard noem dit ‘n stateroom, wat natuurlik deftiger klink as cabin).

Ons koffertjies: daar lê die knoop, Op hierdie Sabbat durf ons ons klerekaste met mening aan om te besluit wat moet saam en wat moet bly. Die jongste debat was oor Tokkie se rooi volstruisveer-boa. Instemming is bereik: Dit moet saam.

Die geheim van hoekom gaan ek later die week verklap as ek oor die sewe formele aand op ons vaart van 22 dae via Mauritius, Freemantle en Melborune na Sydney skryf.

Om die omvang van ons kopkrappery oor klere tuis te bring, net eers ‘n paar basiese riglyne wat duidelik die boodskap bevat: Julle moet ordentlik aantreklik, gehoor!

Askies, maar uit pure luiheid gee ek dit op syn Engels weer:

During the day casual shirts, shorts, trousers and beachwear are ideal. The main restaurants require a casual wear dress code for breakfast and lunch, however you may wear shorts in the Kings Court. Evenings will be split into 2 different dress codes. You will be notified of the evening’s dress code in your Daily Programme. As a guide, these will be:

Formal evening wear consists of an evening or cocktail dress or smart trouser suit for ladies, a tuxedo, dinner jacket or dark suit for men or you may wear formal national dress or military uniform. Military or Award decorations may be worn on formal nights. A range of gentleman’s formal wear is available to hire on board.

Informal evenings would consist of a required jacket and optional tie optional for gentlemen, whilst ladies should wear cocktail dresses, stylish separates or equivalent.

Please note that after 6pm, shorts and blue or worn denim (for men and women); sandals and sleeveless tops (for men) are not considered appropriate within the ship. On formal nights, any guests wishing to dress more casual may dine tn the Kings Court and relax in the Garden Lounge bar, but should not use other areas within the ship, including our Alternative Dining Restaurants, out of respect for their fellow guests.

Tokkie, lyk my ek moet maar nog ‘n baadjie en das inpak, en kom ons los liewer die denim! (hvd)

VERKEERDE KANT

sneeu

Naand uit Melkbos

Die arendsoog van oud-kollega Johan de Wet het nie misgekyk dat op ‘n sneeufoto in 1976 op my Toyota Corona Merk II-stasiewa ‘n agterstevoor Amerikaanse nommerplaat pryk nie. Die foto (hierby) het rondom Kersfees hier verskyn.

Dit herinnerJohan dadelik van ‘n besoek aan Bloemfontein deur Moya Meaker, Mej Suid-Afrika van 1960. Sy het – soos die meeste skoonhede wat aan skoonheidskompetisies deelneem – te vertel gehad dat sy lief is vir die buitelewe, lief is vir diere en vir kinders. Sy het bygevoeg dat sy ‘n “regte plaasmeisie” is.

Op versoek van Die Byvoegsel (voorloper van die huidige By) is Johan deur Die Volksblad se nuusredakteur, Gert Terblanche, gestuur om ‘n onderhoud met haar te gaan voer. Johan was toe ‘n jong verslaggewer by Die Volksblad. Hy het my later as redakteur opgevolg en was ook redakteur van Beeld en Rapport – tot op datum ‘n unieke onderskeiding.

Die fotograaf het ‘n foto van die skone Moya by die Bloemfonteinse Skou gaan neem waar sy voorgee sy melk ‘n koei. Tobie Boshoff, wat toe redakteur van Die Byvoegsel was, het die foto op die voorblad geplaas, plus ‘n artikel oor hoe oulik sy is.

Maar toe volg die lesersbriewe: Dis sommer twak dat sy ‘n plaasmeisie is, want sy sit dan aan die verkeerde kant van die koei terwyl sy melk!

Tobie het die foto omgedraai sodat dit na die binnekant van die blad kyk, gevolglik het sy toe aan die “verkeerde kant” van die koei beland!

Johan het die vermoede uitgespreek die (jong) Tobie Boshoff en (vermoedelik ‘n ouer HvD) dus dieselfde joernalistieke sonde gepleeg het deur die foto om hul eie redes om te draai.

Hy het afgesluit: “Hoe dit sy, albei foto’s was die moeite werd…”

Dankie daarvoor, Johan. Die waarheid is egter dat dit nie HvD is wat die Toyota-in-die-sneeu-foto omgedraai het nie. Dit was oorspronklik ‘n skyfie. Die fotoplek wat ‘n afdruk moes maak, het dit omgedraai – waarskynlik omdat die stuurwiel aan die verkeerde kant nie vir hom sin gemaak het nie. (hvd)

AFSPRAAK VIR 9/1/2015

Desktop1

Middag uit Melkbos

In my denkbeeldige dagboek vir 2015 is 9 Januarie 2015 klaar uitgeblok.

Het gister ‘n uitnodiging na ‘n belangrike okkasie gekry. My Bloemfonteinse buurman van die dekade 80, Toy Vermeulen, word dan 91.

Die uitnodiging kom van sy jongste dogter, Elmien.

Haar vader – kan hom nie juis ‘n gryse vader noem nie want hy is veel minder wit as die uwe – het Vrydagaand sy 90ste op Melkbos gevier. Die Van Deventers was tot hul yslike spyt afwesig. Ons was in die Suid-Kaap. Elmien het op my versoek foto’s gestuur.

Ons gesels toe op Facebook soos volg:

Hennie Van Deventer: Vreugdevolle okkasie. Jammer ons het dit moes misloop weens ons Suid-Kaapse uitstappie.

Elmien Vermeulen: Ons glo daar sal volgende jaar weer een wees. Hennie en Tokkie Van Deventer is reeds genooi!

Hennie Van Deventer: Dankie,. Ons open solank ‘n dagboek vir 2015.

Sal sorg dat ek dan nie weer weg is nie.

Die ankerfoto in die samestelling hierby is van Toy en sy goeie vriend Kiepie Herholdt wat spesiaal van Bloemfontein gekom het. Die twee ou vriende was glo behoorlik aangedaan om mekaar na jare weer te sien.

OP die foto waar Toy aan die woord is – hy het die tafelgebed gedoen en die gaste verwelkom – sit sy vrou, Joha. Op die derde foto is hy en Elmien.

Naskrif: Ek gee maar vroegtydig kennis. Moet my nie vir 9 Januarie 2015 nooi nie – het reeds ‘n afspraak. (hvd)

DAAR’S WATER!

Suid-Kaap5

More uit Melkbos

Waters waar rus is en vir die oog ‘n lus is – dit beteken die uitgestrekte Suid-Kaapse kuslyn, spieëlgladde mere, riviere, damme en plasse vir baie mense. Waters wat net bly neerstort uit ‘n loodgrys hemel. Dit het ons vanjaar daar beleef. Vyf dae en nagte lank gereën, vyf dae en nagte agtereen …

Ons wou een middag Botelierskop toe, maar bruisende vloedwater het die paaie verspoel en laagwaterbrûe onbegaanbaar gemaak. Die plek was afgesny, soos so vele ander. Toe ry ons maar rond by Groot Brak, Klein Brak, Tergniet, Reebock, Fraai Uitsig en sulke plekke; en verwonder ons aan die geswolle riviere asook die nuwe damme in elke denkbare leegte, terwyl die motor se ruitveërs op volspoed oortyd bly werk.

Ons wou een aand by die Nasionale Wildernisplek ‘n vleisie op die kole sit, maar toe die rokie opwaarts begin krul, donder, blits en giet dit skielik soos in ‘n mini-wolkbreukie in Sabiepark. Koddige Kaapse weer vir die uwe wat darem al in 1992 oor die Hexrivierberge getrek en aan baie klimaatskommelinge gewoond geraak het.

Tot en met die GROOT REENS van Januarie 2014 was die wêreld van Mosselbaai tot George glo maar droog en het die vakansiegangers van die beste strandweer in baie jare gehad. Soos ons self op my verjaardag (nommer 73) op ons geliefde Buffelsbaai beleef het. Maar siestog, Hartenbos se plate kampeerders was teen die derde grys dag al soos natgereënde hoenders en die strande dolleeg.

Was maar dankbaar ons was nie die avontuurlike bosslapers in ‘n mankoliekige blou tentjie op die wal van die Hartenbosrivier oorkant my broer Cules (Malan) se huis nie! Die arme mense het oornag verdwyn – waarheen wonder ek. Want ‘n droë kolletjie sou jy nêrens in daardie wêreld kry nie.

Iets wat ek nog nooit gedoen het nie, was om die Sewepassepad te ry – die eerste pad van 75 km wat tussen 1862 en 1883 deur Thomas Bain tussen George en Knysna gebou is. Die tog is vir vanjaar geskeduleer. Toe ons nog droogvoets daar deur is – via die Kaaimanspas, die Silwerrivierpas, die Touwsrivierpas, die Hoogkraalpas, die Karatarapas, die Homtinipas en die Phantompas – was die bome en die varings langs die gewilde bergfietsroete vaal van die stof en die riviere net onskuldige stroompies. Sou dit graag ‘n dag of drie later wou sien!

Reën of te nie, kuier HET ons gekuier. So deeglik dat die badkamerskaal die gees bedroef.
Dankie, Johan en Mariza (kinders), Cules en Dalene (broer en skoonsuster), Pierre en Esther (studentemaats), Theuns en Marian (Randburg-vriende), Paul en Cora (Volksbladvriende), Piérre en Erika (Bloemfontein-vriende), en Dawie en en Annatjie (Sabieparkvriende).

Soos ons onthaal is met T-been op die kole, ‘n verskeidenheid van verbeeldingryke Van Rensburg-worse, tuisgemaakte pizza, smaaklike visgeregte, lekker ontbyte (o die roereier en tuisgebakte croissants op 3 Januarie!), Kersfeeskoek, hamburgers, vleispasteitjies en ander happies – natuurlik ook wyn sonder bodem (onder meer) – was iets uit ‘n ander wêreld.

‘n Wêreld van wonderskone see-, meer- en bergtonele, raaswaters, eindelose branders, riviere, reën, reën reën, ryke herinneringe en vreemde registrasienommers, asook die ewe enorme bate van ‘n gulle permanente en vakansiegemeenskap bestaande uit gasvrye, ruimhartige, wellewende mense met oop deure en oop harte. (hvd)

FOTO BO: Sewe passe, hier kom die Van D’s. ONDER: TvD by die Touwrivierbrug op die ou pad.

‘N STYWE DOP, “KOMPATERTJIE”!

toy en joha

‘n Ruk gelede was die Vermeulens en die Van Deventers saam in die VanD-motor. ‘n Versamelde lewenservaring van oor die 310 jaar. Amper ‘n jaar per kilogram! Die grootste bydrae (in jare) is gelewer deur oud-politikus Toy Vermeulen, spesiale vriend en buurman saam met wie ek oor vele jare vele sakke sout verslind (en ook ‘n hele paar bottels van die beste KWV geledig het).

Toy was op Vrydag 9 Januarie 90. Daardie mylpaal is min beskore. Dit moet in hierdie ruimte vermeld word, nie net omdat Toy in Bloemfontein so ‘n uitnemende buurman was wat in droogtes selfs sy boorgat “uitgeleen” het (met die tuinslang snags oor Kmdt. Senekalstraat gespan) en boonop altyd ‘n noodpakkie Rembrandt Van Rijns in sy boonste laai gereed gehou het vir ‘n skelm dampie nie.

Hy is op vele terreine ‘n man van stoffasie. In die dekades 70′s en 80′s was hy ‘n sleutelman in die Vrystaatse Nasionale Party, eers as amptenaar, later as benoemde LV en senator. Hy KON kollekteer. Ek wonder hoeveel derduisende rande Bloemfontein se Grieke uit hul sakke geskud het as Toy namens die NP kom aanklop.

In hoeveel rade en komitees hy in sy 90 jaar gedien het – kerk, skole, kultuur, plaaslike bestuur en wat nog – kan ek nie raai nie. Waar sy foto’s oral hang, sal hy dalk self nie weet nie. Een onverwagse plek vir my was die klubhuis van die Koeberg-rolbalklub op Melkbos. Daarvan was ‘n jonger, fikser en ratser Toy op sy dag president.

Sy versameldrif – die woordeboek praat ook van versamelwoede – ken geen weerga nie. Elkeen wat al ‘n voet in Toy se studeerkamer gesit – in Bloemfontein, Blouberg en selfs nou nog in sy herfsjare in die gholflandgoed AtlanticBeach op Melkbos – kan dadelik sien: Soos bye heuning vergaar, vergaar die man dinge van waarde.

Sy studeerkamer is ‘n kulturele skatkamer. Hierdie bibliofiel se boekrakke kreun onder sy monumentale ABO-versameling en ander Africana. Sy unieke seëlversameling was op sy dag legendaries. Sy kwaliteitswyne het getuig van liefde en kennis. Al hierdie waardevolle eiendom is geberg in kaste van glimmende dolfhout. Ook mooi hout is vir Toy onweerstaanbaar. Op sy lys van liefhebberye sou ‘n mens munte en vetplante kon voeg. Dan is dit nog ver van volledig.

Ek het oorweeg om Toy ‘n “koorsagtige” versamelaar te noem. Dit sou nie deug nie. “Koorsagtig” beskryf nie die stiptelikheid waarmee hy sy goeters orden nie. Hy weet waar om elke ding raak te vat.

Die heer J.A.J. Vermeulen (Toy se formele gedaante) versamel egter nie net objekte nie. Hy teken sy eie gedagtes in sy netjiese handskrif op. Hy versamel koerantknipsels . Hy versamel vriende soos Jacques Kallis lopies geakkumuleer het. In Bloemfontein is gespot die ruimhartige Toy ry altyd met ‘n kis goeie rooi in sy kattebak. Waar hy ‘n vriend teëkom, delf hy gou ‘n geskenkie uit. Dat gee vir hom ‘n lekkerte is, is nou nog duidelik. Jy stap nie uit sy huis sonder ‘n bottel top-port uit Calitzdorp se geweste in die hand nie.

Kenmerkend van Toy is dat hy nie hier vat en daar los nie. As hy sy lojaliteit gegee het, is dit vir altyd. Soos aan volkspele. Dekades nadat hy en die sprankelende Joha in Europa gaan tiekiedraai het, het hy van daardie span baanbreker-Volkspelers die spilpunt gebly. Al kan hy nie meer tiekiedraai nie (Joha sou wel kon!), klop sy hart steeds op die maat van “Afrikaners is plesierig” en “Jan Pierewiet”.

Hierdie “kompatertjie” buig graag hier vir dié 90-jarige kameraad sy ”stywe dop” – met ‘n “stywe dop” Boplaas op die koop toe!

(FOTO: Toy en Joha in September 2013 by die Kangogrotte kort nadat hy uit die hospitaal ontslaan is na ‘n operasie.)