MELK (BOS) EN HEUNING

melkbos1-001

More uit Melkbos

Dis die lang somervakansie en onse dorpie bars uit sy nate. Op die strand, by winkels en in die kerk is dit nuwe strandsambrele, vreemde registrasienommers en onbekende gesigte. Toe ds. Marius Falck by die Kersdiens besoekers vra om hande op te steek, skrik ek effens. Sal nie verbaas wees nie as die “vreemdelinge aan ons poorte” in die meerderheid was.

Hoop die besoekers geniet die lang strandwandelinge, die goue skemers, die skilderkwas-sonsondergange, Tafelberg doer voor in sy vele stemminge, en die lekker seekos by Orca in Kusweg – as hulle plek kan kry by die onopgesmukte eetplek wat vir baie Kapenaars sinoniem met Melkbos is. Die porsies is gul soos Melkbossers se gasvryheid.

Hoop hulle ontdek ook die lekker geplaveide wandelpaadjie langs die see doer van Land’s End af verby die ou Kliphuis-restaurant (nou Castella Amare) en die NSRI. Ook lekker rotspoeletjies daar waar kinders vir ure kan speel en klouter.

Hoop hulle ry die kuspad Blouberg toe en verken die bekoorlike baaitjies een vir een: Holbaai, Kreefbaai, Eerstesteen …. Plekke om rustig te sit en droom terwyl die branders aanrol.

Hoop hulle ry ook ‘n bietjie noordwaarts, loer by Ganzekraal in (in vakansietye ongelukkig ietwat oorbevolk) en die karaktervolle vakansiedorp Yzerfontein. Langebaan is sowat 100 km ver – ‘n moeitewerd-mekka met sy reuse-strandmeer. Voor Langebaan lê die Weskuspark met sy gesellige braaiplekke, amper onherbergsame kustonele en groot troppe bokke. As die elande in die fynbos verbykom, is dit ‘n treffende gesig, hoor.

Hopelik sal Melkbos-besoekers ontdek hoe op hul drumpel die eersteklas-wyne en wonderlike kelders van Durbanville-wynroete wag om ontdek te word. Meerendal op die Vissershokpad is ‘n persoonlike gunsteling. Nitida se restaurant lok smulpape. Die moderne Durbanville Hills se uitsigte is voortreflik.

Vir uitsigte: Probeer gerus ook Grootbaai se Spur en Cape Fish Market. Lyk of Tafelberg oor die baai al hoe nader skuif terwyl jy jou geelbek of T-been geniet. Haal sommer die MyCitibus daarheen – jy kry die panoramas van berg en see op die koop toe. By die Moyarestaurant op die voorstrand by Eden On The Bay kan jy voete in die water ‘n melkskommel wegsit. Aan die fraaie Kleinbaai, ‘n klein entjie aan, kry jy die immer gewilde Ons Huisie. Peusel sy beroemde calamari terwyl jy onder ‘n strandsambreel ‘n koue sauvignon blanc van hierdie kontrei op die tong neem …

Vir ‘n smaaklike, outydse ontbyt is Philadelphia se Pepper Tree ‘n prima-keuse. Die dorpie, net 17 km van Melkbos op die pad na Malmesbury (N7), raak ‘n regte toeristetrekpleister met sy knusse winkeltjies en allerlei. Die historiese ou kerk is ‘n besienswaardigheid (soos Mamre se orrel, vir diegene wat in sulke dinge behae het).

Nog nader is die Padstal by die Total-dienssstasie op die Weskuspad (R27). Vele verrassings op jou voorstoep – onder meer die varsste plaasbrood warm uit die oond.

Ek (wat natuurlik bevooroordeeld is) glo jy kan op Melkbos en omgewing so lekker kuier dat die Kaap self maar aan sy eie hordes oorgelaat kan word. Maar as jy opsluit wil soontoe, luister na hierdie ou en trakteer jouself op ‘n kanaalvaart van KIKS (die Kaapse Konferensiesentrum) af na Sol se One & Only-hotel aan die Waterfront (teenaan die Akwarium). Dis ‘n onontdekte heerlikheid tussen duur waterfront-woonstelle verby. Hou dop vir die super-seiljagte as jy by jou bestemming kom.

By die Waterfront is die nuwe in-plek die Grand Café met sy tafels, stoele en selfs sagte rusbanke op die wit seesand. As jy nie LANK vooruit bespreek het nie, kan jy maar net gaan loer hoe die mense met die dik beursies kuier …. En dan dankbaar terugkeer na Melkbos se rustigheid.

Vir die herlaai van geestelike batterye staan die NGK Melkbos se deure oop. In vakansietye is Sondag net een erediens, om 09:30. Die Oujaarsaand-diens is om 19:00. As jy ons dr. Marius een keer hoor sing het, vergeet jy nie sy stem nie.

Te veel vir een vakansie? Nou-ja. Kom dan maar weer! (hvd)

ONS “KERSBOOMPIE”

2013-12-25

More uit Melkbos

Onthou jy ‘n Kersgeskenk wat vandag presies tien jaar oud is? Min mense sal onthou, wil ek waag. Waarskynlik nog minder kan dadelik na so ‘n geskenk stap. Nog minder kan sweerlik daarop aanspraak dat hy of sy steeds die geskenk elke dag sien.

Dalk die heel minste sal, soos ek en Tokkie, kan sê: Ons geskenk het in die tien jaar net groter en groter geword. Dit is op Kersdag 2013 tienvoudig – nee meer as tienvoudig – keer groter as op Kersdag 2003.

Die foto’s hierbo gee natuurlik die geheim weg. Ek praat van ‘n boom: ‘n “Melkhout” (“umqwashu” in Xhosa). Johan, ons seun, en Mariza, nou van George, het die piepklein melkhoutjie, ‘n opslagboompie in hul tuin, tien jaar gelede voor ons eetkamervenster kom plant. Hulle was toe nog Melkbossers; hul huis was in Seagullstraat. In die hoek van hul erf was ons boompie se moederboom – ‘n indrukwekkende gooier van ‘n enorme skaduwee.
Dit was waarskynlik ‘n “onwettige” geskenk. Die melkhout is ‘n beskermde boom. Jy mag dit nie sommer skuif of selfs daaraan snoei nie!

‘n Kenmerk van die geharde, immergroen melkhout is natuurlik die krom stamme en heerlike lae blaredak wat dit vorm. In die suidelike Overberg is talle braaiplekke onder melkhoute gebou. Dit kan maar reën, jy braai rustig voort onder jou melkhout-sambreel. Dit het ek self by vriende soos Wiets Beukes en Alf Ries op Franskraal ervaar. Voor moderne koelkaste hul verskyning gemaak het, was Overbergers glo lief om hul vleis in die skadu van hul melkhoute te hou.

Seker die bekendste melkhout is seker Mosselbaai se poskantoorboom, waaraan Portugese matrose ‘n brief met die nuus van die verdrinking van Bartholomeus Diaz in 1500 in ‘n ou skoen vasgemaak het. Op die plaas Rhenosterfontein, naby Bredasdorp, is ‘n melkhout nasionale-monument-status gegee oor sy grootte en ouderdom. Die stam is dikker as drie meter en die kroon sprei oor meer as 20 meter. Die reuse-boom is glo ouer as 1 000 jaar.

Ons eie boom kan nie saamgesels oor geskiedenis, ouderdom of grootte nie, maar is vir ons baie spesiaal. Dit is nie net op die boeke ‘n beskermde boom nie, maar ook in ons harte!

(Links plant Johan die boompie op Kersdag 2003. By hom is sy staffie Intwa, ook nie meer met ons nie. Regs staan Tokkie by die boom op Kersdag 2013.) (hvd)

‘n KERSFEESDROOM

Pictures6

More uit Melkbos

Dreaming of a white Christmas. Dit was wat ons Kersfees 1976 gedoen het. Sommer halfpad deur November het ons immers daar in Cambridge, Massachusetts, ons eerste ligte voorsmakie gehad.

Maar Kersdag kom en Kersdag gaan sonder teken van sneeu.

Op 26 Desember – Boxing Day – is ons geskeduleer om vroeg in die pad te val, na die sonskynstaat Florida vir ‘n kort vakansiebreuk. Ek staan vroeg op en loer by ons kamervenster op die grondverdieping in Crimson Court uit. Die boompie dra swaar aan sy sneeukleed.

Oral wag ‘n wit wonderwêreld. In Harvard Street voor Crimson Court kom selfs ’n meisie op ski’s aan met ‘n inkopiesak aan die arm.

Florida en die lang pad daarheen eers vergete ry ons uitgelate in Cambridge se strate rond en neem net foto’s – eintlik skyfies, wat toe nog aan die orde was.

Ons ry in woonbuurte rond en later ook na die skilderagtige Mt. Auburn-begraafplaas waar die sneeutonele ons asems wegslaan. Eers laat die middag druk ek die swaar gelaaide Corona-stasiewa se neus suidwaarts.

Die groot foto is in Mt.Auburn geneem (die skyfie is agterstevoor afgedruk!). Regs bo is die meisie op ski’s in Harvard Street voor ons woonstelletjie. Regs onder is die kinders, Johan en Marisa, in hul sneeubaadjies teen ‘n spierwit agtergrond. Hulle het hul aan die vreemde taferele verwonder en ywerig help sneeuman bou langs die gevriesde Charlesrivier.

‘n Nieman-genoot uit Oregon het niks van sneeu gehou nie. Hy het telkens sneeuvlokkies onvergenoegd van hom afgeslaan terwyl hy deur dun lippe uitsis: White shit! Daardie winter was later in die media bekend as die Big Freeze. Ons het berge sneeu beleef. Maar ek het elke keer seergekry as John so lelik van die besonderse natuurbelewenis praat.

* Seënwense uit Melkbos. (hvd)

GOUE TYE

IMG_9643-002

More uit Melkbos

Goue vriendskap, goue bruilof, goue saamkuier. Ek en Tokkie klink Saterdagoggend ‘n vonkelglasie saam met ons vriende Cas en Nella Jacobs van Centurion op ‘n ontbytjie by Philadelphia se Peperboom.

Hul goue bruilof was op Saterdag 14 Desember. Ek en Cas was in 1958 saam eerstejaars in Kollegetehuis aan Tukkies. Ons vier het Saterdag saam die Kaap platgery – o.m. die vaart onderneem van die KIKS tot by Sol se One and Only-hotel. Soos altyd, genotvol gewees.

Ook gaan inloer by die nuwe Kaapse Waterfront-sensasie, die Grand Cafe, met sy banke, tafels en stoele op die sand. Vol bespreek tot 6 Januarie, kan jy glo!

(Naskrif: Reken, saam is ons vier so iets oor die 280 jaar op die ondermaanse!)

(Hvd)

LIED VIR JOU, LIEFSTE VROU

More uit Melkbos

Die vrou en die lied vorm ‘n treffende tweeluik. In elke taal, in elke land, in elke soort musiek – van die klassieke opera tot ligpopulêr.

Vroue word besing om hul skoonheid, bekoorlikheid, lieftalligheid, speelsheid, geheimsinnigheid, ondeundheid, moedswilligheid …

As jy begin kies, rol die name: Adeline, Elisabeth, Jeannie, Kathleen, Lara, Lilli Marleen, Macushla (‘n Ierse troetelnaam), Maggie, Madelein, Maria (baie Maria’s), Mona Lisa, Rosemarie, Theresa, Violetta, Vilia. Ikone, almal.

Na baie luister en debat het ek en Tokkie saam op 24 vroue-gunstelinge besluit. Dis vroue vir alle seisoene en van alle ouderdomme. Nooientjies word bemin; gryse dames word in innigheid onthou.

Lesers van die blog sal kan wonder: Waar is Mother McCree dan? By nadenke: Sy moes op ons lys gewees het. Lesers sou ook kon wonder: War is Belinda dan? Of Delilah, Lucille, Marianne, Rosamunde, of selfs Klaradyn?

Ons lysie raak-raak, helaas, net aan ‘n ryke tema. Verneem graag kommentaar daarop:

1. Ballade vir Adeline – Richard Clayderman

2. Annie’s Song – Ryan Watt

3. Sweet Caroline – Neil Diamond

4. Elisabeth Serenade – Günter Kallmankoor

5. Estrellita – Anna Maria Alberghetti

6. Giannina Mia – Mario Lanza

7. Jeannie with the light brown hair – Stephen Foster

8. I’ll take you home again, Kathleen – Bing Crosby

9. Lara se tema – Helmut Lotti

10. Lili Marleen – Lala Andersen

11. Lisa se klavier – Laurika Rauch

12. Macushla – John McCormack

13. Liefste Madelein – Leonore Veenemans

14. Maggie – Foster & Allen

15. Hush, hush Maria – Joe Dolan

16. Sweet Maria – Gert Potgieter

17. Marieke – Jacques Brel

18. Mona Lisa – Nat King Cole

19. Nikita – Elton John

20. Rose Marie – Nelson Eddy

21. Kom herab o Madonna Theresa – Joseph Schmidt

22. Vicki – Lance James

23. Vilia – Julia Migenes

24. Hoor my lied, Violetta – David Whitfield

(hvd)

OOP ARMS OF AF ARMS

More uit Melkbos

Daar staan Madiba nou in brons, 9 m hoog, arms uitgestrek en kyk uit oor die stad Pretoria, waar hy as president ingehuldig is en die laaste drie dae voor sy begrafnis in Qunu in staatsie gelê het.

In hierdie stad, met sy naam diep ingekerf in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en ’n baken op landkaarte oral in die wêreld, lê dus ook onuitwisbare spore van hierdie legendariese vryheidstryder en ver-soener.

Maar nie net Madiba se persoonlike spore nie.

Ook dié van die vryheidstryd self, soos van die opmars van 20 000 vroue op 9 Augustus 1956 na die einste Uniegebou om teen die paswette te betoog.

’n Mens sou reken dat die naam Pretoria in die lig hiervan vir die ANC ’n gewigtige simboliese en emosionele betekenis sou hê: die groot vesting wat verower is en waar ’n ander mag nou setel as in 1910 toe die indrukwekkende Uniegebou opgerig is.

Sou die ANC werklik nie in sy hart der harte verkies dat Madiba sy arms uitstrek oor die historiese stad Pretoria nie?

Is die naam Tshwane met sy onsekere herkoms en geweldige verdelingspotensiaal werklik vir hom meer as net spierebult en afknouery – ’n ydele gryp na ’n suigstokkie om kortstondig oor te kraai?

As die ideaal van versoening voor magsvertoon moet swig, kan die oop arms van daardie beeld maar afgekap word.

(My briefie uit Melkbos wat vanoggend in die dagblad Beeld verskyn het)

(hvd)