KLEIN JOSEFS EN MARIA’TJIES

Bellville-20131128-00287

Chrstopher in sy Josefskleed

More uit Melkbos

Dit is daardie tyd van die jaar dat klein Josefs oral hul hooftooisels opsit en die klein Maria’s hul lang wit gewade aantrek vir ‘n duisternis kriptonele op ‘n duisternis verhoë by Kersspele by dagskooltjies, kleuterskole, skole en waar ook al.

Ons klein Josef (Christopher 4) draf vanoggend op in ‘n uniform wat sy oupa nogal aan daardie ander Josef met sy “amazing Technicolor dreamcoat” herinner. Christopher kan bars van die trots, al was hy gister in trane omdat sy ouma nie op Oumadag kom kyk het nie. Sy is wel vanoggend by die groter okkasie, maar op die oomblik het de vername stukkie inligting hom ontgaan.

Oupa stuur ‘n lekkergoedjie saam. Hy is afwesig weens ander verpligtinge, maar nie min danig op die Josef van Welgemoed se klein skooltjie nie. Meen te sê, twee jaar gelede was Christopher ‘n beskeie muis in die stal. Verlede jaar was hy een van die Wyse Manne (Oumagrootjie had nogal ‘n konneksie met Bethlehem, al was dit dan nou die een met die h). Vanjaar is sy naam in ligte as’ t ware. Hy praat drie sinnetjies. Meteoriese opgang.

Hoop nie hy raak verward soos die knaap wat op ‘n keer die rol van herbergier moes vertolk nie. Hy vergeet toe sy woordjies. Maar aardjie na sy vaartjie doen hy ‘n gulle, impromptu aanpassing: “Nee,” antwoord hy op die vraag of hy vir Josef en Maria ‘n slaapplekkie het. “Maar kom in vir ‘n dop!”

Hoop ook nie onverwagse verwikkelinge duik op soos op George waar ‘n jong Maria skielik haar nood moes uitkreet nie: “Mamma, ek wil piepie.” Mamma het opgevlieg, Maria gegryp en uit haar nood gaan verlos. Na ‘n kort onderbreking kon die konsertjie voortgaan. Kennismaking met die verhoog op so ‘n tengere ouderdom kan soms veeleisend raak. Een Maria’tjie het sommer al met die repetisies die gewig op haar skouers ervaar. Sy het by mamma kom kla: “Dis swaar werk om ‘n maagd te wees”.

Op skool onthou ek hoe ons ligsinnig sit en giggel het oor ‘n maat wie se meisie op die verhoog haar ongehude swangerskap moes bely. Die storie het by haar uitgekom. Sy wou om die dood nie glo dat haar ridder nie onlojaal saamgegiggel het nie. Sy WAS daarna sy meisie. So kan dinge in ‘n onbesonne oomblik handomkeer verander. (hvd)

OM OLIFANT IN TE SLUK

Queen Mary

More uit Melkbos

Die reisplan lê hier langs my. Wanneer die Queen Mary 2 – “the finest ocean liner ever built” – op 19 Februarie 2014 verby die operahuis grasieus Sydney se hawe binnevaar, sal die Van Deventers op die dek wees.

Sal met ‘n wit sakdoekie wuif. Hou vir ons dop op die langafstand- webcams en dinge!

As jy romanties na die saak wil kyk, sou jy kon praat van ‘n droom wat bewaarheid word. Die uwe en Tokkie praat al lank van ‘n vaartjie op die QM2. Die probleem was nog altyd dat sulke kort (bekostigbare) vaartjies soos ons in gedagte het, nie bestaan nie.

Toe begin ek my vrou sagmaak vir ‘n vaart na Southampton. Goed, willig sy later in. Komplikasie: Die volgende een is eers in 2015. Lang wag vir ‘n ou man! Ek bly dus maar op die webwerbe karring.

Desktop3

Verlede week wanneer lees ek die “special” raak: 26 nts Cape Town to Sydney & Hong Kong Stay. Om die een of ander rede dwaal ek telkens terug.

Ekskuus vir die baie Engels – oefen om op die dek van die ou dame my man te kan staan – maar die volgende paragrafie gee uiteindelik die deurslag:

Your journey begins at the port of Cape Town. You will then set sail on a 22 nights Queen Mary 2 cruise from Cape Town, visiting Cape Town, Durban, Mauritius, Fremantle, Melbourne and finally Sydney. In Sydney you’ll spend 2 nights in a 4* hotel. In Hong Kong you’ll spend 2 nights in a 4* hotel. Your journey ends with a flight back home.

Toe pak ‘n ongekende impulsiwiteit die ou man. TvD het dit agterna so gediagnoseer: Jy het vir ‘n heupvervanging gegaan en toe sommer ‘n kopvervanging op die koop toe gekry!

Nietemin, Om 09:30 het eke met ene Amanda van Imagine Cruising gepraat. Teen 12:00 was op die passasierslys die name van: Jakob Hendrik van Deventer en Gesina Susara van Deventer. Ahooi, Sydney, ahooi!

Eers later toe ek begin spyskaarte bestudeer (sesgange, maaindjoe!) en aan-boord-programme en daardie klas ding, skrik ek my boeglam toe ek die pryse van drank raaklees. Soveel bottels teen soveel dollar (nie sterling nie!) per bottel … hele begroting in sy kanon!

Maar oom Barnie Human van Bloemfontein het altyd die wysheid kwytgeraak: As jy ‘n olifant insluk, moet jy nie skrik vir die stertjie nie.

Dus: sluk, Hennie, sluk …. die olifant is pens en groot pote in – net die stertjie is oor. (hvd)

VRIENDE VIR ALTYD

Kaptein die hond

hondeboek1

Middag uit Melkbos

Jy is my vriend, selfs meer as my broer. Jy is my beskerming, wanneer die winterwind koud waai. Jy is die een wat eerste deur riviere swem om seker te maak dat daar geen krokodille skuil nie ………..Jy is die een wat sal sterf om my te beskerm. Vir jou is liefde alles en alles is liefde.

So word die hond besing deur Credo Mutwa in Silwane – The Animal (Tales and Fables of Africa). Ek haal Mutwa se gevleuelde woorde aan in my hondeboek, ‘n Vriend vir Altyd – Honderde hondestories (Human & Rousseau, 2000).

Die tema van die boek is presies wat Mutwa beskryf. Die karakters is ‘n uitgebreide galery natneus-nuusmakers. Party sal tot in die verre toerkoms as hondehelde bewonder word. Die titel kom uit ‘n aanhaling van Rudyard Kipling: Hy sal ons vriend wees vir altyd, en altyd en altyd. Het dit een aand by Willie en Irna Hartzenberg op Hermanus in ‘n almanak raakgelees juis terwyl ek op soek was na ‘n titel vir die boek.

In een hoofstuk, ‘n Dawid vir Jonatan, word die rolle omgeruil. Die mens is daarin die held weens die opofferende liefde wat hy eweneens vir die hond koester. Soos ‘n hond vir sy meester alles sal opoffer, so dryf die mens se liefde vir ‘n getroue hond hom immers ook tot ongewone dade. Soos kapt. John Seeley nou in Kimberley met sy redding van Kaptein uit die Groot Gat, waarin die stomme hond dae reddeloos rondgeswem het. Dit is ‘n ‘n storie van ‘n hondevriend se heldedaad wat in ‘n Vriend Merk II baie bepaald prominent ‘n plek sou vind.

In Vriend Merk I is een voorbeeld van die mens se heldedade vir honde waar dassietonnels met laaigrawe oopgekloof word om ‘n verdwaalde hond te red. In ‘n ander word ‘n noodoperasie op ‘n hond met ‘n biltongmes uitgevoer. ‘n Man voer in ‘n derde in ‘n modderige plaasdam ‘n stryd op lewe en dood met ‘n krokodil wat sy hond gegryp het.

Miskien minder dramaties, maar nie minder aangrypend nie, is die liefdevolle versorging van ‘n jong diabeet van haar hondjie wat dieselfde siekte opdoen, of die liefde van ‘n arm vrou wat liewer self honger sal gaan slap voordat sy haar honde afskeep.

Die redding van Kaptein was voorbladnuus, nie net in Suid-Afrika nie. Al die ander stories hierbo kom ook uit koerante. Eersteklas joernaliste weet goed hoe belangrik vir hul sogenaamde “mix” stories is wat nie siddering en gebelgdheid nie, maar ‘n warme gevoel van weldadigheid (sonder die ge-) om die hart bring.

Hondestories staan naby aan heel voor in daardie ry. (hvd)

TWEE SLUIPMOORDE

More uit Melkbos

OM 20:30 op Vrydagaand 22 November 1963 was Die Volksblad (nou Volksblad) se gebou in Voortrekkerstraat (nou Nelson Mandelarylaan) in Bloemfontein grootliks in donkerte gehul. Die koerant was toe nog ‘n middagblad. Die enigste twee lewende wesens in die redaksiekantoor was Smittie (Smit), die teleksman, en die uwe, ‘n jong verslaggewer.

Smittie was in die telekskantoor bedrywig. Die teleksman se taak was om die kletterende masjiene aan die loop te hou, asook om inkomende berigte af te skeur en te sorteer: hierdie vir die hoofsubredakteur, daardie vir die sportkantoor, afskrifte vir die assistant-redakteur, en dies meer. Van Deventer was besig om ‘n Kersfondsberig vir die volgende dag op sy hoë Remington met die oneweredige letters uit te timmer.

Teen 20:40 het Smittie ingebars by die subkantoor waar ek sit en werk het. In sy hande was ‘n flitsberig van Sapa (Suid-Afrikaanse Pers-assosiasie), komende van die Associated Press (AP) van Amerika: Pres. John F. Kennedy is in Dallas, Texas, uit ‘n hoë gebou in sy oop ampsmotor in ‘n amptelike konvooi deur die strate van Dallas doodgeskiet. Dit was om 12: 30 Amerikaanse tyd. Die tydsverskil tussen Dallas en Suid-Afrika is agt uur.

Ek het opgewip en langs Smittie in die naburige telekskantoor gaan staan terwyl Sapa se masjiene soos masjiengeweervuur bly dawer en die drama in Dallas hom in al sy ondenkbaarheid ontvou. Dit was leesstof wat ‘n mens onwillekeurig laat ril het. Ná ‘n ruk het dit tot my deurgedring die skoknuus is nie vir my en Smittie se eksklusiewe kennisname nie. Ek het die stoute skoene aangetrek om die assistent-redakteur, “Oom Bart” Zaaiman, by sy huis te bel. Ons het seniors daardie tye links en regs ge-oom. Daar was ook ‘n “Oom Gert” Terblanche, die nuusredakteur.

Verskonend het ek verduidelik dat ek gewonder het of hy nie van die sluipmoord sal wil weet met die oog op die volgende dag se koerant nie. Die middagkoerant was immers Saterdae eintlik ‘n laat oggendkoerant wat teen 11;00 op straat was. Om dit te vermag, het die hoofsubredakteur teen 05:00 ingeval; sy spannetjie subs kort daarna. Een Saterdaghoofsub, Ollie Olwagen, het selfs party Vrydagaande op die grond in die subkantoor geslaap om tog net nie laat te kom nie!

”My magtig, Hendrik!” het “Oom Bart” uitgeroep. Hy was nie ontsteld oor my “voorbarigheid” nie; het my inteendeel oorvloediglik bedank vir my “prysenswaardige insig” om hom in te lig. Hy het dadelik op die telefoon gespring en begin span saamstel vir ‘n spesiale poging. Ek, wat nie die Saterdag sou werk nie, is as vertaler opgekommandeer. Die Kersfondsberig het vergete gebly. Maandag was nog ‘n dag …

Een van die berigte wat die Saterdagoggend deur my Remington is, was oor Jackie Kennedy se smartlike ervaring. Die mooi jong weduwee het haar sterwende man se kop in haar arms gehou (“cradled his head in her arms”, het AP berig) terwyl met sy Lincoln na die hospitaal gejaag is. Ek het vertaal sy was “bloedbesmeerd”. Die gewoonlik besadigde “Oom Bart” het ongeduldig oor my skouer geloer en blaadjie vir blaadjie uit my tikmasjien na die hoofsub aangedra om die banieropskrifte en ‘n plakkaat te prakseer. Hy was nie ingenome met my woordkeuse nie. “Bloedbekoek, man!” het hy ge-adviseer. “Bloedbekoek”, het dit geword. WAT neem kennis!

Terwyl ons na die eerste uitgawe ons tradisionele geroosterde kaas-, tamatie- en hamtoebroodjies van die delikatesse Grinters op die hoek geniet, was hierdie jongeling in die sentrum van sy ouer kollegas se belangstelling, wat hom nogal gevlei het. Ek moes haarfyn vertel van die eerste flitsberigte en die onafgebroke stroom kopie wat vir Smittie op sy tone gehou het tot in die vroeë oggendure, toe dit ‘n kort rukkie afgebreek het om later weer met nuwe kartetse op koerante te reën.

As ek terugkyk, kry ek opnuut nagmerries oor die amperse flater wat ek uit respekvolle skrikkerigheid vir die “baas” begaan het. As ek “Oom Bart” nie gebel het nie, was ek dalk vandag in Volksblad-folklore wat die Associated Press se Jack Bell by die AP geword het. Die stomme Bell het hom deur United Press International (UPI) se man, Merriman Smith, sleg laat troef. Merriman Smith het eenvoudig die enigste radiotelefoon in die amptelike persmotor ge-annekseer en bly vasklem ondanks die paniekerige Bell se wanhopige houe op sy rug om hom darem ook ‘n billike kans te gee. Bell was daarna nie ‘n held nie. Sy loopbaan het ‘n duik gevat.

Van daardie intrige in die persmotor het ek eers later jare bewus geword. Die paar minute waarmee Smith vir Bell geklop het, was uit ‘n Suid-Afrikaanse hoek in elk geval nie juis noemenswaardig nie. Maar in joernalistieke terme is minute natuurlik goud werd, veral in die uiters mededingende Amerika, en natuurlik deesdae des te meer met al die elektroniese media wat tot elke prys eerste wil twiet.

Ongetwyfeld was die sluipmoord op die Amerikaanse president die grootste “Saterdagstorie” van my era as joernalis. Daarmee bedoel ek ‘n storie wat, in joernalistieke idioom, vir die Saterdagkoerant “gebreek” het. Interessant genoeg, het net die volgende jaar, 1964, nog ‘n grote opgelewer toe John Harris op 24 Julie 1964 die berugte stasiebom in Johannesburg laat ontplof het. Teen daardie tyd het ek al teen die leer op begin vorder. Ek was een van die subs wat berigte oor die stasiebom geredigeer en van opskrifte voorsien het.

Die grootste” koerantstorie van my loopbaan by koerante (1963 tot 1997)? Dit was ongetwyfeld die sluipmoord op dr. H.F. Verwoerd op 6 September 1966, wat ‘n Dinsdag was. Die impak van die gebeure van 1992 en daarna, met die ontperking van die ANC, die vrylating van Nelson Mandela en die eerste demokratiese verkiesing, was natuurlik enorm. Maar suiwer as onvergeetlike joernalistieke lewenservaring hou niks vir my kers vas by die ontvangs van daardie flitsberig uit die hande van teleksman Bennie Lean en die uitgee, onder enorme emosionele en tydsdruk, van ‘n spesiale uitgawe met die opskrif “Verwoerd vermoor” in groot swart houtletters nie. Toe die rolpers begin draai, was Voortrekkerstraat reeds ‘n miernes van ‘n nasie in rou, wat wag om deur hul koerant ingelig te word.

Ook dit is nooit weer geëwenaar nie.

(hvd)

RUGBY-SCOOP!

More uit Melkbos

Bokkie Gerber, oud-redakteur en –sportredakteur, het sy Legendes-vyftiental van die afgelope 60 jaar Sondag 10 November, 2013, in Rapport gekies.

Herman le Roux, vermaarde sporteredakteur van my era – deur Danie Craven saam met Frikkie van Rensburg uitgesonder as die “beste rugbyskrywers” – het daarop aan Bokkie geskryf: “Jy het ‘n sterk en interessante vyftiental gekies. Maar net om te bewys hoe ’n moeilike taak dit is, kyk gerus na die uithaler-spelers wat jy nie eens oorweeg het nie.”

Bokkie se span was: André Joubert; Bryan Habana, Mannetjies Roux, Danie Gerber, Carel du Plessis; Piet Visagie, Joost van der Westhuizen; Morné du Plessis, Piet Greyling, Theuns Stofberg, Frik du Preez, Louis Moolman, Hannes Marais, Bismarck du Plessis, Os du Randt.

Die 38 ander spelers wat Bokkie ook oorweeg het, is: H. 0. de Villiers, Gysie Pienaar, Johan Heunis (heelagters); Syd Nomis, James Small (regtervleuels); Gerrie Germishuys, Tom van Vollenhoven (linkervleuels); Ryk van Schoor, Peter Whipp (binnesenters); Michael du Plessis, Jaque Fourie (buitesenters); Hansie Brewis, Naas Botha, Henry Honiball (losskakels); Paul Bayvel, Dawie de Villiers, Divan Serfontein, Fourie du Preez (skrumskakel); Doug Hopwood, Tom Bedford, Gary Teichmann (agtstemannne); Jan Ellis, Rassie Erasmus, Rob Louw, André Venter (flanke); Moaner van Heerden, Kevin de Klerk, Victor Matfield (slotte); Mof Myburgh, Jaap Bekker, Chris Koch, Nick Bezuidenhout, Fanie Kuhn (stutte); Piston van Wyk, Abie Malan, Gys Pitzer, Robert Cockrell, Uli Schmidt (hakers).

Uit al die oorblywende Springbokke sedert 1953 het Herman in antwoord daarop hierdie sterk span gekies:

Percy Montgomery; Jannie Engelbrecht, Tjol Lategan, John Gainsford, Breyton Paulse; Joel Stransky, Piet Uys; Bobby Skinstad, Martin Pelser, Basie van Wyk, Johan Claassen, Mark Andrews, Piet du Toit, Adriaan Strauss, Tiny Neethling.

En sommer nog ‘n span uit die ander beste spelers die laaste sestig jaar:

Johnny Buchler: Ray Mordt, Wilf Rosenberg, Joggie Jansen, Hennie van Zyl; Keith Oxlee, Dick Lockyear; Daan Retief, Schalk Burger jr, Boland Coetzee, Salty du Rand, Bakkies Botha, Balie Swart, John Smit, Ockie Oosthuizen.

En nog een!:

Lionel Wilson; Theuns Briers, Jean de Villiers, Des Sinclair, Chum Ochse; Jannie Barnard, Garth Wright; Juan Smith, Burger Geldenhuys, Francois Pienaar, Avril Malan, Ernst Dinkelmann, Martiens le Roux, Bertus van der Merwe, Tendai Mtawarira.

Daarmee was Herman se fonteintjie nie opgedroog nie. Hy het sy brief afgesluit: “Terwyl ek nou so lekker speel: ‘n Span soos dié kan enige van bogenoemde vyftientalle harde bene laat kou:

Wllie le Roux: Jaco Reinach, Jeremy Nel, Ian Kirkpatrick, Gert Muller; Hennie le Roux, Francois Hougaard; Lofty Nel, Ruben Kruger, Kleintjie Grobler, Klippies Kritzinger, Jan Pickard, Hempies du Toit, Willie Kahts, Frans Erasmus.

Op die bank: Ruan Pienaar, Gertjie Brynard, Chester Williams, Pat Lambie, Marius Hurter, Willem Delport, Wahl Bartman en Pierre Spies.”

(Dankie, Herman, vir toestemming om jou spanne op my blog te sit. My eerste groot rugby-scoop!)

(hvd)

KLEIN FRANKRYK

Franschhoek6

Franschhoek4

Franschhoek5

More uit Melkbos

Ons paaie het met twee busvragte Franse toeriste gekruis terwyl ek en Tokkie te voet die strate van Franschhoek aandurf. Die Franse was duidelik ingenome. Dié “klein Frankryk” aan die suidpunt van Afrika het vir hulle iets beteken – ‘n aanvoelbare spesiale band met die verre stamland soos Hollanders nêrens hier te lande kan ervaar nie.

Kollega Johan van Wyk het Franschhoek onlangs tong in die kies “La Petaal” gedoop. Moet met Johan saamstem van die Fransheid is aangeplak en oordrewe, en pryse in die algemeen maar rof. Maar ek, met die Hollandse bloed van emigrante uit die Over-Ijselse stadjie Deventer in my are, voel tog jaloers dat Suid-Afrika nie ‘n plek het wat die Hollandse kultuur dermate in ere hou nie.

Die Fransheid van Franschhoek is op die keper beskou verreweg nie net geleë in name met “La”, “Le”, “Petite” en wat nog waarmee Franse besoekers hulle kan vereenselwig nie. Pretensie of nie, die plek het styl en ‘n ouwêreldse grasie wat daaraan ‘n spesiale karakter verleen.

Selfs hierdie verloopte Hollander (stamvader Gerrit Jansze, gebore ‘n jaar na Jan van Riebeeck se historiese suidwaartse vaart, was een van die eerste vryburgers en het hom in 1687 by Stellenbosch gevestig) het, tesame met die tikkie jaloesie, darem ook heelwat behae gehad aan die Europese kultuurgoedere wat by Franschhoek behoue gebly het.

By die Hugenotemonument, en elders, staan die “Icebergs” in die blom soos lentebruide. Die oorheersende wit van die Bolandse blommeprag span saam met die oorheersende wit van die ou Kaapse argitektuur wat die diep blou van die berge en die geil groen van die wingerde beklemtoon. Die bekoorlike winkeltjies, stegies, leivoortjies, rietdakke, rye koningsproteas en algemene atmosfeer van die dorp laat jou dink een meesterhand was hier vir ‘n holistiese bloudruk verantwoordelik.

Dis die gevoel wat jy in van Europa se mooiste dorpies kry – ook in die dorpie Carmel aan die Kaliforniese kus, naby San Francisco (waar Clint Eastwood in ‘n stadium burgemeester was). Dan is Franschhoek waarskynlik Suid-Afrika se netjiesste dorp waar geboue, strate, tuine en grasperke alles bydrae tot ‘n kraakvars geheel. My kamera se battery kon dit nie hou nie. Moes later doelbewus vuis maak om die sluitervinger se spontane sametrekkings te beheer!

Pas inderdaad op vir die plekke met die hoë vlagpale, soos Johan van Wyk gewaarsku het. Die meeste se teikenmarkte is ver bokant Jan Alleman se bykomplek! Maar om ‘n paar minute in die historiese NG kerk met sy indrukwekkende houtplafon te gaan stilsit en dankbaar voel oor die skoonheid romdom jou kos niks. Om die Franschhoekpas op te ry en oor die vallei met sy spikkels wingerd, wit geboue en damme af te kyk, kos jou niks meer as die brandstof nie.

Lus vir ‘n bietjie selfbederf? Geleenthede is legio. Maar La Motte (Hanlie Rupert se landgoed) met sy Pierneef-galery en –restaurant bied baie; Le Franschhoek (die ou Swiss Farm Excelsior) klou prentjiemooi aan sy “eie” berg, en Koos Bekker se Babilonstoorn is werklik die moeite werd om te verken. Vat net gemaklike stapskoene saam vir die wandeling deur die uitgestrekte organiese groente- en kruietuine op pad na die glaskas (“Greenhouse”) vir ‘n wyntjie of ‘n koppie boeretroos. Die paadjies is met perskepitte uitgelê – nie ideaal vir spykerhakkies nie! (hvd)