‘N KOEDOEBAND VIR ALTYD

koedoes

Middag uit Melkbos

In ons voorportaal op Melkbos hang ‘n skildery van drie koedoes deur die Waterbergse natuurskilder Heather Klette. Die skildery was in opdrag van Thinus Swart, gewese aksepbankier en wildboer van Vaalwater.

Thinus het sy wildplaas met sy groot troppe wild by Vaalwater nooit uit sy bloed geskud nie. Een van sy hartsbesittings was die skildery van die drie koedoes wat hy op sy plaas afgeneem het. Nog een was ‘n uitvoerige video oor sy heiligdom. Jy kon aanvoel hoe gelukkig die man daar in die veld tussen sy diere is.

In daardie dae had Thinus nie net sy loopbaan as bankier en sy florerende wildplaas nie. Daar was ook ‘n strandhuis – ek meen amper twee (een by Struisbaai en een aan die Natalse Noordkus), maar ek is nie seker nie. Thinus was lief vir kragtige lang slap motors.

Toe hy van die Rand Kaap toe skuif, het hy sy voorliefde vir duur, eksotiese motors uitgeleef met die stigting van Platinum-motors in Durbanweg, Durbanville. Daar kon jy instap, as jou bankrekening styf genoeg is, en met ‘n eksklusiewe spogkar uitry wat nie vryelik in die mark beskikbaar was nie. Ski-vakansies in Switserland was die gesin Swart se manier van regtig skoene uitskop.

Dinge het amper ongemerk vir Thinus begin skeef loop. Al hoe skewer en skewer. Die plaas is verkoop en die strandhuis (-e). Die skivakansies het opgedroog. Platinum-motors se deure is gesluit. Uiteindelik moes hy en sy kunstenaarvrou, Petro, talentvolle glasblaser en musikant, selfs van hul laaste bastion, hul mooi siersteenhuis met die groot swembad in Duikerstraat, Van Riebeeckstrand, Melkbos, afskeid neem.

Die twee het in ‘n beknopte omgeboude motorhuis in die agtertuin van ‘n huis in Duynefontein ingetrek. Hul enigste rygoed wat oorgebly het, was twee fietse. Die twee op hul fietse, rugsakke op die rug, het ‘n bekende gesig op Melkbos geword.

Presies wat alles skeefgeloop het en hoe dit op aarde moontlik was, was moeilik om te onsyfer. Daar was o.m. ‘n groot belegging wat die onderwerp was van ‘n jarelange forensiese ondersoek omdat dit eenvoudig by ‘n groot internasionale handelsbank in dié se labirint strukture en kanale in die niet verdwyn het. Die rekenmeester by wie die geld belê is, is oorlede en die dokumentasie was vaag.

Thinus het bly hoop dat daardie geld opgespoor sou word. Dan het die hoop opgevlam … dan het dit weer begin lyk of die vlammetjie van hoop bra flou flikker. Intussen het sy gesondheid agteruitgegaan.

Soos ‘n moderne Job het Thinus se teisteringe soos haelwolke opgestapel. Hy het merkwaardig blymoedig en dankbaar gebly. Sy geloof het nooit gewankel nie. Twee Sondae gelede is hy en Petro op sy inisiatief nog saam met ons kerk toe. Hy het toe al begin kla van gedurige asemnood.

So erg het die asemnood geword dat hy op Erfenisdag in die hospitaal opgeneem is. Gister is hy skielik in sy bed oorlede. Maar net 68 of daar rond gewees.

Thinus het hoogtes in sy lewe geken, maar ook diep dale – waarskynlik hoër hoogtes en dieper dale as die meeste. Met sy dood word ‘n mens gepak deur ‘n diepe skuldbesef omdat jy nie meer uitgereik het nie.

Wat vir Petro voorlê, weet ek nie. Seker na een van die kinders toe. Thinus en sy sal, hoe ook al, altyd part en deel van die Van Deventers bly – op Melkbos en in Sabiepark. Een rede is die koedoeskildery op Melkbos. Nog een is drie besonderse glaswerk-stukke in Sabiepark: ‘n luiperd, rooibok en sebra op glas met hul lewensgetrou spore onder elkeen.

In ons eetkamer op Melkbos staan ook ‘n riempiestoel uit hul huis. In die slaapkamer is ‘n matjie. By ons voordeur staan ‘n groot swart seepsteen-buffel (met net een horing) wat eens by hul voordeur gestaan het. In Sabiepark hang die vel van twee n tierboskatte.

Al hierdie dinge en ‘n paar ander goedjies het ons gekoop op Thinus en Petro se voorlaaste dag in Duikerstraat. Hulle het die los goed op ‘n sogenaamde “motorhuisveiling” (garage sale) van die hand gesit voordat hulle na die kleiner standplaas sou verhuis. Dit was maar ‘n grou dag vir hulle. Die pynlikheid was sigbaar. Vandag, ná Thinus se afsterwe, is vir die naastes ‘n nog grouer dag.

Ek stap by die Heather Klette verby en lig die hoed vir die dapper stryder met die spontane glimlag en aktiewe humorsin aan wie dit voorheen behoort het – asook vir die soliede Petro wat deur alles lojaal, getrou en ewe blymoedig aan Thinus se sy was. Die koedoeband is vir altyd.

RAAKVAT VIR RENOSTERS

IMG_9448-001

More uit Melkbos

Raakvat vir renosters. Twee 11-jariges van Melkbosstrand, Amure Palm en Jamie Bower, het vanoggend die skoolvakansie nuttig begin deur hul deeltjie vir die Red-die-Renoster-veldtog by te dra. Die twee, albei leerlinge van die Laerskool Van Riebeeckstrand, het langs die skool in Charles Hoffestraat ‘n kraampie opgeslaan. Daar het hulle goeie sake gedoen met hul kolwyntjires (uit ma se kombuis) en koue limonade. Sappige kolwyntjies gewees boonop!
(hvd)

GOUE ERA VAN SWAARGEWIGTE

IMG_0002-001

Al wat leef en beef was daardie aand op Loftus!

More uit Melkbos

Kombineer Kallie Knoetze se yster met Gerrie Coetzee se boksvernuf – dan het jy ‘n wêreldkampioen gehad. In 1978, 55 jaar gelede, het ek met die twee swaargewigte lang geselse gesels vir die dagblad Beeld se rubriek “Onder Vier Oë”. Die verskil in durf en dryfkrag het jou soos ‘n kragtige regter teen die kinnebak getref.

Kirby van der Merwe roep in “By” van 21 September (‘Seer handjies’ slaan steeds ‘n slag) Gerrie se verowering van die swaargewigtitel van die wêreld op 23 September 1983 in Akron, Ohio, in herinnering. Gerrie het Michael Dokes in die tiende harpuis laat ruik. Dit was vyf jaar ná ons “Onder Vier Oë”. In my gedagtes het daardie onderhoud van 7 April 1978 egter bly spook. Gerrie Coetzee, wêreldkampioen – en vyf jaar tevore wou hy dit nie juis wees nie.

Saans voor hy gaan slaap pak ‘n tweestryd hom, het Gerrie verklap. Dan lê hy en dink: “Ou Gerrie, sal jy dit regtig ‘laaik’ om kampioen te wees?” Amper bedees en sag soos ‘n malvalekker, het die groot hoeweboer met die hanslam, ‘n paar hoenders en die vinnige Granada Ghia oorkant my geklink. Self onseker of hy “honger” genoeg is en of die broodnodige “killer’s instinct” nie dalk tog ontbreek nie in sy boksmondering wat soveel ander pluspunte het.

So anders as Kallie twee maande tevore, op 10 Februarie, vir dieselfde rubriek. Die Kallie oorkant my was uit en uit “Die Bek”, soos hy in die kryt bekend was, ook as hy met ‘n koerantman gesels. Dalk nie so ‘n afgeronde bokser nie. Maar baie meer hardekwas en tot barstens toe vol selfvertroue. ‘n Man met ‘n wil. Sy groot ambisie is die wêreldtitel, het hy met gloeiende oë beklemtoon – twee, drie keer. Soos ‘n ongeduldige tier.

Wel, die geskiedenis vertel ons: die jintelman-reus met die giftige regter en geleerde linker het bo uitgekom; die tier met die swiepende vuiste was, in perdewedren-idioom, ‘n “also ran”. Op grond van my twee gesprekke was in my gemoed min twyfel: As “ou Gerrie Seer-handjies” meer “Boomstraat-bek” en Kallie-tier in hom gehad het, het, het hy daardie gesogte goue gordel veel langer om sy middel geknoop.

Hoe ook al, Suid-Afrikaners is aan albei dank verskuldig vir ‘n goue era van swaargewigboks.

(Oor die kwade bloed tussen hulle, het die twee destyds openhartig gesels. Volgens Gerrie was hul verhouding ‘n “bodemlose put”. Kallie het sy bek so vol, maar as hy vir hom (Gerrie) raakloop, “skrik hy altyd sy wind uit”. “Gerrie, wie’s Gerrie?” wou Kallie op sy beurt weet. “Hy is uit die wedloop; maar net die SA kampioentjie. Ek is die man wat die skares trek.” )

(hvd)

HET KOFFER, WIL RYS

IMG_9214 />

Op pad na Skukuza met haar rys-tas

Middag uit Melkbos

Met Melkbos se gewilde kerkbasaar ophande (ek het nog geleer “ophande” is een woord) tref die omvang en verskeidenheid van die kostafels by die basaar hierdie lekkerbek opnuut.

Daar is groot koeke, klein koekies, vetkoeke en pannekoeke. (Wees gerus, dames, ek gaan nie die ou grappie afstof van die leraar se faux pas oor wie wie uitgestof het nie).

Daar is ook beskuit, pasteie, koesisters, poeding, kerrie en rys, braaivleis en sosaties, potjiekos, rou vleis en wors … soms vars groente uit die tuin.

By elke tafel staan ‘n span mense reg. Dikwels is dit dieselle ou gesigte jaar na jaar. Een keer ‘n grootkoekvrou, altyd ‘n grootkoevrou as’t ware.

Tokkie is al jare ingetrek by kerrie en rys. As ons wintermaande in Sabiepark is, kook sy op haar beskeie twee plaatjies rys vir die eerste span met die oog op die Skukuza-halfmarathon, altyd die eerste Saterdag van Augustus. Die Skukuzagemeente sorg vir die kerrie en rys.

Vanjaar moes sy dertig koppies rys kook. Al manier wat sy die vrag rys by die bestemming in die Skukuza-personeeldorp kon kry, was ‘n koffer op wiele. Dit het aanleiding gegee tot die grappie van haar rys-tas (letterlik).

Ons was pas terug op Melkbos toe die oproep van Letricia van Niekerk kom. “Tokkie, sal jy weer kom help?” Ek dink dis nou ook die derde keer dat sy hier op “rys” gaan – nes by Skukuza.

Toe sy vroer jare nog rondbweeg het tussen die basaartafels, het ek die volgende kerkbasaar-versie geskryf (dis in “Polisie, polisie, ons reënboog is geroof”): My vrou is in die poeding/laas jaar was sy in koek/wonder waarin ek haar nog/by ‘n kerkbasaar moet soek.

My bron van inspirasie is duidelik: My nooi is in ‘n nartjie ….. Dankie D.J. Opperman.

Vandat sy ‘n kerrie-en-rys-meisie geword het, hoef ek natuurlik nie meer van produk tot produk te soek nie. Ek hou verby die poedings, koek en wat nog reguit kerrie en rys toe met my R25 in my hand.

Vir die nuwe situasie het ek weer by Opperman gaan leen vir ‘n nuwe versie:

Een vrou is in ‘n nartjie
‘n Ander in anys,
My eie vrou is tuis
in kerrie en in rys.

Jammer, diegene wat die ou versietjie al op Facebook gesien het. Onthou in elk geval: Melkbos se basaar is op Vrydag 25 Oktober.

Sien julle by die kerrie en rys! Dis immers vir ‘n goeie saak. (hvd)

NUUS OF NIE NUUS NIE?

More uit Melkbos

’n Kritiese skrywe op hierdie blog oor die stil-stil afskeid van Naspers onder ‘n swaar wolk van me. Lisa Albrecht, op haar dag eerste vroulike redakteur van Rapport, het destyds ‘n stortvloed weerstand uitgelok – veral uit die geledere van die huidige geslag joernaliste.

My argument was dat die koerante (en tydskrifte en TV) me. Albrecht opgebou het tot ‘n media-persoonlikheid. Toe sy skielik ophou om een te wees, was hulle aan hul lesers verskuldig om te sê hoekom dan. Vir my was dit moreel bevraagtekenbaar om ter wille van onduidelike redes haar skielike val van die troon onder ‘n mat in te vee.

”Sy is nie nuus nie. Weet Tant San op Worcester wie Lisa Albrecht is?” wou een redakteur by my weet. Maar weet Tant San wie is “Ameen Singh” (nie die regte naam nie)? was my onbeantwoorde weervraag. Want ook in Afrikaanse koerante is iemand met ‘n soortgelyke naam en van se teëspoed by ‘n klein Natalse radiostasie tog in daardie tyd as nuuswaardig genoeg geag om berigte oor te publiseer.

Die lang aanloop tot wat ek vandag op die hart het, is om my kaarte op die tafel te sit. Ek erken dat die Lisa Albrecht-episode my nogal laat wonder het oor my periodieke inklinasie om as 72-jarige oud-joernalis van ‘n generasie of twee gelede uitsprake oor die doen en late van die huidige besluitnemers te lewer. Omdat die ouderdom groter vreedsaamheid in die meeste onstuimige harte bring, het ek, trouens, so half en half besluit om my voortaan nie net uit die weer te hou nie, maar ook uit koerante se hantering van nuus.

Of dit wys is om vandag van daardie eie nuwe riglyn af te wyk, is ‘n vraag. Die joernalistieke bloed bruis egter nog. Die ou man voel al geruime tyd gedronge om hardop te wonder hoekom die gesamentlike bekroning van die Naspers-maatskappysekretaris, Gillian Kisbey-Green, en die swart baanbreker-joernalis joernalis Mathathu Tsedu met 2013 se Weberprys nie die Afrikaanse dagblaaie gehaal het nie. Die Weberprys is Naspers se hoogste eerbewys, en ‘n gesogte erkenning van voortreflikheid van 1984 af toe adv. D.P. De Villiers die eerste ontvanger was. Ná hom was daar groot geeste soos Piet Cillié, Ton Vosloo, Willem Wepener, om net drie te noem.

Kort tevore is Adriaan Basson (32) as nuwe redakteur van die dagblad Beeld aangestel. In Die Burger (en ook Volksblad, verneem ek) is oor die aanstelling niks gerep nie. Ek sou reken dat ten minste die man se jeugdige ouderdom – net ouer as 30! – sy aanstelling as ‘n nuusbrokkie sou laat kwalifiseer. Dit is immers ‘n rekord in die Pers. Die briljante Piet Cillié was 37 toe die redakteurskap van Die Burger in 1954 aan hom toevertrou is. Sy rekord het langer as ‘n halfeeu gestaan.

Sou die verswyging van top-bekronings en top-aanstellings wees omdat Media24 se koerante hul nuusnorme verander het? Klaarblyklik is dit nie die geval nie. Vanoggend gee Die Burger dan ruim publisiteit aan die bekroning van mense onder wie joernaliste – nie eens van Media24 nie – deur die sagtevrugtebedryf vir hul berigte oor daardie bedryf. Die bekronings is klaarblyklik verdienstelik, en ‘n mens gun dit die pryswenners dat koerante met die verspreiding van die nuus as’t ware vir hulle die kersie op die koek sit.

Hoe kry jy dan die kluitjie by die oor? Sou die stilte oor die Weber-pryswenners en Beeld se nuwe redakteur maar net ‘n aanval van beskeidenhed wees oor die maatskappy se eie mense? Is dit eenvoudig vrot nuusoordeel? As dit net misgevat is, ontstaan verdere vrae. Hoekom is die ommissie nie dadelik intern raakgesien en reggestel nie – tesame met ‘n paar agterente wat vuurwarm geskop is? As dit nie intern raakgesien is nie, beteken dit dat kontroles nie meer is wat dit was nie?

Vrae, vrae, vrae …..

(Naskrif: Wie sou by SABC2 verantwoordelikheid dra vir die samestelling van TV-nuusbulletins? Soos die Bismarck du Plessis-storie deur die TV-Nuus misgevat is, is ‘n sonde. In daardie opsig het die koerante hul elektroniese mededingers gelukkig deeglik ore aangesit.)

(hvd)